BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Konflik. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Konflik. Wys alle plasings

Donderdag 25 Julie 2024

ERNSTIG - DIS 'N HALSMISDAAD

 IN GOD SE KONINKRYK!




Baie mense loop met ‘n skewe idee rond – dis die idee dat God in die Ou Testament baie heilig en streng was, maar in die Nuwe Testament vandat Jesus gekom het, is God nie so streng en heilig nie, God is nou net liefde; so ons hoef nou nie meer so erg heilig te wees nie.  En verder, so word geredeneer...Paulus stel dit mos duidelik dat ons nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade – so ons hoef die opdragte in die Bybel nie meer so ernstig op te vat nie, want Jesus sal mos maar net verstaan as ek nie vrede wil maak met my buurman nie, Jesus sal verstaan as ek maar so af en toe vir ’n  ander vrou loer en die kat in die donker knyp... (veral by geleenthede soos die Visfees, Wildsfees of agter die skuur na die onskuldige boeredans...)

Maar wat sê Jesus self? In die Bergrede (Matteus 5-7) vertel Jesus aan mense hoe om toegang te verkry tot die Koninkryk van God. Die grondbeginsels het Hy nou reeds neergelê in die Saligsprekinge (5:3-12) Die basiese lering daarin is – “Julle moet besef julle kwalifiseer nie vir die Koninkryk nie...treur daaroor! Julle het ’n groter geregtigheid, rein harte nodig wat net Jesus vir julle kan gee. Alles draai om Jesus en julle sal weet julle behoort aan Hom as die mense julle vervolg en beledig ter wille van Hom! Nou werk Jesus die praktiese implikasies van die saligsprekinge verder uit.

Jesus het dit reeds duidelik gestel dat ’n groter geregtigheid as die van die Fariseërs vereis word om in te gaan in die Koninkryk. (20) 

"Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie."

Wat bedoel Jesus? Iets meer as net wetsgehoorsaamheid i.t.v. die Ou Verbond is nodig vir die nuwe bedeling van die Koninkryk. Die fariseers het nog net gebly by die letter van die Ou Verbond m.a.w. hulle was tevrede dat as ek nie iemand doodgemaak het nie, dan was ek gehoorsaam aan die sesde gebod – “Jy mag nie moord pleeg nie” of as ek darem nou nog nie fisies egbreuk of owerspel gepleeg het nie, dan was ek gelukkig darem nie skuldig aan die sewende gevod van “Jy mag nie egbreuk pleeg” nie. So as ek by die tegniese reëls van die tien gebooie en ander wette gehou het, was ek eintlik oraait en  het God van my gehou.

Jesus gooi nou die appelkar om en skok almal.  Hy stel nou sy leringe teenoor die Wet van Moses. Die Fariseërs se gebooie was nog net die gebooie van die Ou Verbond - Jesus  bring die  Nuwe Verbond tot stand en die standaarde daarvan gaan verder as die wet van Moses. Hy verwerp dit nie, Hy gaan net verder en dieper!  Jesus stel ’n duidelike kontras...“Julle het gehoor...... maar ek sê vir julle” (Terloops - Jesus sê : “Julle het gehoor” , want onthou die meerderheid van die skare wat hier na Jesus luister, het nie die wet gelees nie, maar dit gehoor het in die voorlesings in die sinagoges.)

Kom ons kyk nou na Matteus 5:21-26 :

 “Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. 

“En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.

“Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.

Die eerste voorbeeld van Jesus se hoër standaard kry ons in sy hantering van die sesde gebod “Jy mag nie moord pleeg nie” Hierdie gebod impliseer dus duidelik dat ’n moordenaar skuldig staan. Die wet het iemand wat moord pleeg onontkombaar en regmatig tot veroordeling en straf verdoem.

Nou kom Jesus – “Ek sê vir julle.” Jesus stel sy uitspraak op die selfde vlak as God se uitspraak in die sesde gebod. (Hy kan dit doen want as die nuwe Moses, ja groter as Moses, as die Seun van God, het Hy Goddelike volmag!) Op skokkende wyse verklaar Jesus elkeen skuldig wat boos optree teenoor sy broer. In hierdie konteks gaan dit oor elke mede Israeliet. Jesus praat met die skare uit Israel. In ons konteks gaan dit in die eerste plek oor onmin tussen gemeentelede – die volk van God in die Nuwe Verbond. 

Jesus lê sy vinger op alle konflik, kwaaivriendskap, onmin, aggressie, beledigings en  woede.  Woede as sodanig is nie deur die wet van Moses veroordeel nie, maar volgens Jesus se hoër standaard is sulke woede ’n ernstige oortreding. Moord het in die Ou Testament doodstraf verdien, Jesus verklaar onregverdige woede tot ’n halsmisdaad in die Koninkryk van God. Die beledigings “Raka” (nikswerd/gek, "jou stupid") en “dwaas” moet nie te sterk teenoor mekaar afgespeel word nie (die betekenis is maar min of meer gelykwaardig) – dis waarskynlik gekies vir woordvariasie.  

Die punt is - Volgens Jesus  is ’n  slegte beledigende woord teenoor jou broer al ’n  saak vir die hoogste regbank en verdien dit ’n  vonnis wat verder gaan as die hoogste straf op aarde naamlik die helse vuur . Gehenna verwys na die stinkende en smeulende ashoop in die Himnon dal wat ‘n kragtige en afgryslike metafoor vir die hel is.

Deur die erns van broederlike onmin so sterk te stel beklemtoon Jesus maar net weer wat Hy reeds in die Saligsprekinge gesê het oor die sagmoediges en die vredemakers! 



 WAT NOU?

Besef ek en jy die erns van Jesus se lering hier? En wat gaan ons hieraan doen? Jesus gaan nou voort en gee ’n positiewe opdrag wat voortvloei uit hierdie besondere hoë standaard van die Koninkryk waar dit gaan oor menseverhoudings. Dis so ’n ernstige saak - wel, “Gaan versoen jou met jou broer!” Dis ‘n Goddelike opdrag! God duld nie ’n bose gesindheid teenoor mekaar nie! Die oplossing is : spoedige versoening! Versoening weeg vir God so swaar, dis selfs belangriker as ’n offer! Hierdie moes ’n skokkende uitspraak gewees het vir ’n skare wat  gewoond was aan offers en geweldig onder die indruk was van die heiligheid en gewigtigheid van ’n offer. Die gedagte dat ’n offerhandeling eers onderbreek moet word om met ’n broer te gaan versoen sou na heiligskennis/lastering  klink. Jesus wil hulle dus goed laat verstaan, dat om onversoen te bly met ’n broer in God se oë nog ’n groter heiligskennis/lastering, ’n groter euwel is! Kon Jesus dit nog ernstiger gestel het? Gaan ons hoor wat Hy vir ons wil sê?

Nog ‘n keer beklemtoon Jesus die dringende noodsaaklikheid van onderlinge versoening in die praktiese beeld van 25-26. Die noodsaaklikheid van versoening word beskryf in die lig van dreigende straf. Wees goedgesind, welwillend, maak vrede, word weer vriendelik teenoor jou teenstander, opponent. Doen dit haastig sonder versuim (net soos in die voorbeeld van iemand wat gaan offer). Jesus verduidelik die saak met ’n alledaagse praktiese beeld van teenstanders wat op pad is na ’n regter om tussen hulle te beslis. Die punt is - ’n Spoedige tydige skikking is in jou belang! Onversoendheid laat ’n mens vir ewig skuldig staan voor God!

Versoening met mekaar is nie ’n ekstra of ’n luukse nie. Dis ’n allernoodsaaklikheid.  

Daar is geen toegang tot die Vader sonder versoening met die broer nie!

Donderdag 10 Julie 2014

LEEF IN VREDE

- omdat die God van vrede my Vader is.

Vrede is seker een van die skaarste artikels wat daar is. Daar’s ‘n groter gebrek aan vrede as aan kos of enigiets anders op aarde. Niemand kan hierteen stry nie. Die afwesigheid van vrede is sigbaar (en hoorbaar) elke dag, maar nog meer dikwels is dit ’n stille onderstroming - daar is net ’n skyn van vrede in baie situasies en op baie gesigte - onder kook dit van woede, onmin en onvrede. Hierdie hartseer toestand heers vanaf die sondeval... Die heel eerste gesin beleef ’n moord. (Rapport en Huisgenoot sou toe al ‘n bestaan kon maak uit geweldsensasie...) Ons leef in ’n wêreld waar daar geen harmonie is nie. Rusie, afguns, stryd, gemene wedywering, miskenning, benadeling, vertrapping, hartseer, verskeurdheid is deel van die mens se alledaagse bestaan. Haat, onmin en geweld kom voor tussen huweliksmaats, gesinslede, kollegas, volke en nasies! (En ja... ook binne in gemeentes...) Elke nuusbulletin bevestig hierdie afgryslike feit. Byna elke slaapkamer ook... Onvrede en onmin is die kenmerk van ’n wêreld sonder God. ’n Mensdom wat vervreemd is van God en op sy eie aankarring. Die wêreld met sy gebrek aan vrede is die uiterste teenpool van God se Koninkryk. God se Koninkryk is ’n Koninkryk van vrede en harmonie. 

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9) is dus ’n baie diep betekenisvolle uitspraak. Vrede is ’n fundamentele saak in die Koninkryk van God. 

Slegs vredemakers sal toegang hê tot die Koninkryk, want slegs vredemakers kan waarlik kinders van God genoem word.

Wie en wat is ’n vredemaker? Die klem val nie hierop dat God wil hê ons moet klein diplomaatjies wees wat orals tussen mense bemiddel nie. So hoe moet ons die term vredemaker verstaan? Die term vredemaker kry vir ons betekenis in die lig van die tweede helfte – “hulle sal kinders van God genoem word”. God is die God van vrede, God self is die groot vredemaker. Wat beteken dit? Ons lees hiervan direk in Kolossense 1:19,20 “God het besluit om met sy volle wese in Hom (Jesus) te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” God het deur die bloed van Jesus vrede gemaak met ons as sondaars. Deur Sy Seun in ons plek te straf het God versoening bewerk tussen Hom en ons. Ons sondes is regverdiglik gestraf, so die lug tussen ons en God is gesuiwer. Die gevolg van die sterwe van Jesus is dat God nie meer ons vyand is nie maar ons vriend. Nie meer ’n bedreiging nie, maar ’n skuiling. Ons staan nie meer in ’n misdadiger-Regter verhouding nie, maar ’n kind-Vader verhouding. 

EK KAN VREDE EN VERGIFNIS SKENK OMDAT (EN NET OMDAT) EK DIT ONTVANG HET!

Hierdie Saligspreking fokus ons aandag dus weereens op die Here Jesus self. God het Hom gestuur om vrede te maak - dit is reeds by sy geboorte aangekondig. “Vrede op aarde!” Jesus self het die vrede tussen ons as skuldiges met God bewerk. Wat Jesus vir my gedoen het moet ek uitleef. Teenoor alle mense, selfs ook my vyande. (dit sou insluit die taxibestuurder, "spietkop", politieke opponent, rugbyteenstander... almal wat my ontstig of benadeel) Vrede maak beteken dus eerstens dat mens met jou eie vyande vrede maak en alle stryd teen hulle opskort. Wat God dus vir ons gedoen het (vrede gemaak met ons) verwag Hy dat ons ook met ons vyande sal doen.

PRAKTIESE KWESSIES

  • Hoe kan ek ’n vredemaker in praktyk wees? Ek moet eers my eie behoefte aan vrede raak sien! Het jy al besef jy is van nature ‘n vyand van God en het daarom sy vergiffnis en vrede nodig? Slegs deur geloof in Jesus en sy bewerking van vrede aan die kruis. Jesus het die vrede volledig bewerk (daar’s geen uitstaande boetes wat ek nog moet betaal nie), ek moet net in dankbaarheid en blydskap aanvaar dat die boete wat Hy betaal het genoegsaam was. Vrede met God word deur die geloof verkry en geensins deur enige prestasie nie. (Romeine 5:1) Vrede met God is ’n voorvereiste om prakties as vredemaker te kan leef.
  • Die kind van God, wat vrede het met God, kan nie anders as om ‘n vredemaker te wees nie, want sy Vader is dan die God van vrede. ( hulle sal kinders van God genoem word) Hoe lyk vrede maak in die praktyk? Die kind van God haat onmin, disharmonie, geweld, gebroke menseverhoudings nie net omdat dit lyding veroorsaak is nie, maar omdat dit in stryd met God se wil en karakter is. Daarom doen hy alles in sy vermoë om vrede te bevorder - deur ander hulle kwaad nie toe te reken nie, deur ander se misstappe oor te sien of as dit nodig is dit uit te praat, deur rusie te vermy, selfs as dit nodig is onreg te ly, die minste te wees, stil te bly. (Laasgenoemde is baie doeltreffend om die meerderheid van potensiële konflikte te ontlont! - probeer dit)

Die ding van vrede maak is beslis rof en seer, maar ons kan nie anders nie!

  • Natuurlik, ons moet geen illusie hê nie om ’n vredemaker te wees in hierdie wêreld waar geen vrede en geregtigheid is nie, is ’n ontsagwekkende taak, wat geweldige eise stel. Dit kom neer ons moet die beginsels van die Koninkryk uitleef in ’n omgewing en tussen mense wat niks omgee vir God en sy beginsels nie. dit gaan baie kos, dit gaan ons seermaak! Jesus spel vorentoe die praktiese konsekwensies van hierdie beginsel uit in Matteus 5:39-44 “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie." "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,” Sjoe, dis meer as ‘n mond vol!*  Mag die Gees die implikasies hiervan in elkeen se situasie vir ons duidelik maak... Dit behels o.a.’n vaste beginsel besluit om aan almal goed te doen - ook die wat my haat en misbruik, en om heeltemal af te sien van die wêreldse beginsel van vergelding. “Maar,” is die vraag - “gaan ek nie geweldig skade ly en seerkry nie?” Ja, jy gaan! God se kinders is inderdaad weerlose lammers onder wolwe maar onthou ons vrede is te danke aan die Een Lam wat vir ons geslag is. En alles skade gely het ter wille van ons...
  • Die saak van vredemaak is juis iets wat in werking kom wanneer daar verskil van opinie is, onreg gepleeg word en vergelding oorweeg word. Dis in sulke situasies dat ons graag verskonings uitdink om nie Jesus se opdrag te gehoorsaam nie, maar juis in sulke omstandighede moet ons wys dat ons kinders van God is, mense wat heeltemal anders dink en anders opereer as die wêreld...
  • Nodeloos om te sê - Hierdie gesindheid van vredemaker wees is belaglik in die oë van die wêreld. Dit lyk soos roekelose selfvernietiging. Maar nou ja al die Saligsprekinge lyk onsinnig vir die wêreld, trouens die hele evangelie van die gekruisigde is ’n dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God. (1 Korintiërs 1:18)

NIE OPSIONEEL NIE, MAAR PRIORITEIT!

Vrede met alle mense is ’n prioriteit vir elke kind van God. “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12:8) Dit behoort so te wees omdat elke kind van God per definisie iemand is wat vrede ontvang het deur die vergifnis wat daar in Jesus is. ’n Kind van God kan nie iets anders wees as ’n vredemaker, vrede soeker, vrede liefhebber nie. 

EN DAARDIE BITTERHEID?

Ons sal die negatiewe ook moet stel - wie houtgerus kan voort leef in onmin, haat, konflik met sy medemens kan nie ’n kind van God genoem word nie. Die vertroeteling van jare se bitterheid wys net een ding : JY SELF HET NOG NIE VREDE MET GOD NIE! Wie onmin liefhet kan nie deel wees van God se Koninkryk nie, want God is ’n God van vrede.

*Natuurlik het ons hier te doen met 'n KONINKRYKSBEGINSEL wat mens laat duisel! Ons moenie hier verstrengel raak in letterlike detail nie. Die punt wat Jesus wil tuisbring is baie duidelik : God se kinders moet in situasies van onreg, op 'n onverwagte (bykans kreatiewe?) manier reageer, omdat die genade wat ons ontvang het, ons aanspoor om ander (ons vyande) deur liefde te oorwin, eerder as om die wêreld se opsie van vergelding en wraak na te volg. Ons reageer dus nie volgens ons "regte" nie, maar volgens 'n radikale andersheid van liefde! Daarin lê geweldige getuieniskrag!

Destyds het die Romeinse soldate wat Palestina beset het, die mag gehad om inwoners te dwing om hulle te help. (Dink aan die geval van Simon van Cirene wat gedwing is om die kruis te dra.) Dink nou wat sou die reaksie wees, as 'n gehate Romeinse soldaat jou gedwing het om 'n swaar pak goed vir een myl te dra en dan sê jy vir hom : "Kom ek dra dit sommer vir jou nog 'n myl!" Hierdie soldaat sou moes besef dat jy aan 'n groter Koninkryk as hy behoort en 'n groter Heerser as hy dien! So bring jy binne 'n situasie van onreg, eer aan God! Ongelooflik!(Sien Sinclair B. Ferguson se THE SERMON ON THE MOUNT)

Woensdag 13 Junie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (11)


- Armageddon en konflik. 

Armageddon roep skrikwekkende beelde op : ‘n bloedige veldslag iewers in die Midde Ooste, ‘n Derde Wêreld Oorlog, wapens van massavernietiging of gaan daar dalk eerder perderuiters wees? ... en "drones"?

Maar is die beskrywing van Armageddon in Openbaring regtig bedoel as soort van futuristiese koerantberig geskryf deur 'n oorlogskorrespondent? Sou so iets hoegenaamd troos vir die eerste Christene kon bied?

Wat is die boodskap wat Johannes met die beskrywing van Armageddon aan sy eerste lesers (en ook aan ons) wou oordra? Hoe pas dit in by die deurlopende temas in Openbaring? Openbaring soos reeds gesien in hierdie studie gaan oor die troosvolle boodskap dat die Oorwinning van Jesus Christus 'n seker vaste waarheid is, wat deur geen teenstand en vervolging of bedreiging ongedaan gemaak kan word nie. Hier word nog 'n belangrike aspek daarvan onderstreep:

Oorwinning kom nie sonder konflik nie!

Konflik is deel van die Christen se alledaagse  belewenis. (Jyself as kind van God  sou dit beslis al agtergekom het...konflik met die ou sondige natuur, die wêreld se verleidinge, Satan se aanvegtinge, teenstand van Bose magte...) Jesus laat by ons geen onsekerheid oor die werklikheid van konflik en swaarkry in die kind van God se lewe nie.  Hy sê in Johannes 16:33: 

“Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou goeie moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

STRYD IS ONVERMYDELIK DEEL VAN EGTE CHRISTENSKAP

Hierdie konflik van die Christen is nie iets vreemds nie, maar deel van ’n groter prentjie van konflik. Vir die Christene van die eerste eeu, maar ook vir miljoene ander dwarsdeur die geskiedenis was hierdie konflik so werklik, dat hulle besittings en hulle lewens bedreig is. Konflik was en is onvermydelik! Hoe pas hierdie konflik in by die groot slag van Armageddon in Openbaring 16:12-16?

Kom ons kyk eers net na die oorsprong van die konflik: Satan en die sonde het ‘n aanslag gemaak op God se skepping! God laat egter  nie toe dat Satan sy wêreld steel nie. Deurdat die mens geswig het voor Satan se slim praatjies, het die Satan ’n reg en toegang gekry tot die wêreld - dit het sy domein geword. Maar, God het as’t ware Satan se domein binnegeval. Dit lei tot gedurige konflik, soos reeds voorsien in Genesis 3:15! Hierdie konflik bereik ‘n klimaks met die koms en werk van Jesus Christus.  Elke verlossingsdaad van God deur Jesus is ’n bestraffing van Satan.  Daarom lê die evangelies so klem op Jesus se oorwinning oor Bose geeste! Dis ’n aanduiding van die oorwinningsaspek van Jesus se Messiaanse missie. Die beslissende deel van die konflik was die lewe en sterwe en opstanding van Jesus Christus.  Oorwinning is namens en vir ons behaal. Die bose magte se houvas op ons is gebreek! Die konflik het egter nie gestop nie. Jesus se konflik en stryd met die bose word gereflekteer in die lewe en bestaan van die kerk. Konflik is ’n element in al drie fassette van ons verlossing : Vryspraak, Heiligmaking en Verheerliking!
~ Ons vryspraak het deur konflik gekom. Toe Jesus die beskuldigende magte wat ons aanklae en teister ontwapen het.(Kol 2:14,15)
~ Die lewe van God se kind is ’n worstelstryd teen versoekings en aanslae teen die sonde en bose magte. Efesiërs 6:10ev. Wie vryspraak ontvang het is outomaties op die pad van heiligmaking wat konflik behels... Satan los jou nie rustig uit om heilig vir die Here te leef nie!
~ Ons finale verheerliking (vervolmaking) sal eers ’n werklikheid word wanneer die Satan in die poel van vuur gegooi word. (Openb 20:10)

Dwarsdeur Openbaring word hierdie konflik tussen God en Satan (waarby die kerk betrokke is) uitgebeeld, op verskeie maniere : die perderuiters in hfst 6, die trompette in hfst 8-9, die oorlog in hfst 12 :7-9, 17 (Lees) , die bakke vol van die toorn van God (hfst 16) Die sesde bak van wraak maak die pad oop vir ’n groot konflik naamlik die slag van Armageddon. Die sewende bak is ’n voorspel tot die vernietiging van Babilon. Babilon is die simbool van afgodery en afvalligheid.. Sien “MAAK OOP BY OPENBARING (10) ’n Hoogtepunt word bereik met die beskrywing van die Ruiter op die wit perd, Jesus . Openbaring 19:11-13, 19-21. (Lees) Al hierdie stryd en oorloë beeld die konflik uit tussen God en die Satan en sy handlangers.

Wat, waar en wanneer  is Armageddon dan? Kom ons kyk net eers na die agtergrond van die naam. Armageddon sou kon terugslaan op har-Mageddon. Dit beteken berg van Megiddo. Dit kan ook verwys na ir-Mageddon dws stad van Megiddo. Op die ou end maak die spesifieke etimologiese oorsprong nie soveel saak nie. Megiddo is ’n baie strategiese valleitjie (daar is nie juis veel van ‘n berg nie) in die noorde van Palestina en word waarskynlik gebruik as ’n simbool van stryd omdat verskeie veldslae in die geskiedenis daar plaasgevind het.   Dis duidelik simbolies bedoel, want in elk geval dui die profesieë in die Ou Testament  immers  Jerusalem aan as die toneel van die groot finale slag tussen God en sy vyande. (Sag 12:3, Sag 14:2-3) Armageddon gaan  beslis nie oor ’n letterlike plek vir ’n eenmalig letterlike veldslag nie!  Dit gaan oor die totale stryd en konflik tussen God en die Bose. Die mens en sy heersers is in opstand teen God, aangehits deur die bose geeste (paddas) van Satan. As ons Megiddo en oorlog bymekaarbring, bied Rigters 5:19-21 ’n interessante agtergrond! (Lees) Dit gaan hier oor die oorlog teen die konings van Kanaän wat God se volk onderdruk het. Daar is ook ander konnotasies van stryd en oorlog aan hierdie plek byv 2 Konings 23:29. Hierdie pleknaam word gebruik as simboliese agtergrond en aanduiding van God se finale oorhand oor die Bose!  Dis heeltemal in lyn met Johannes se gebruik om historiese en geografiese gegewens uit die Ou Testament aan te wend in in te kleë om aspekte van sy boodskap van stryd en oorwinning op ‘n beeldryke manier oor te dra. Ons het ‘n vorige keer reeds gesien hoe hy dit met die begrip Babilon/Babel (simbool van verleiding en vervolging) gedoen het.

Wanneer vind Armageddon plaas? Die antwoord is aan die einde, op die groot Dag van die Here! (Op 16:14) Maar onthou weer die omvattende betekenis van die Dag van die Here!  Al hierdie konflikte wat in Openbaring beskryf word is deel van die Dag van die Here. Ons kan dit nie kronologies rangskik nie. Die groot  Dag van die Here waarvan die OT praat word vanuit verskeie hoeke belig in Openbaring. Dis iets van die verlede  (Jesus het gesterf en opgestaan), dit is die daaglikse stryd van ons heiligmaking, dis die finale vernietiging van Satan en alle Godloënaars by die wederkoms.  Johannes gebruik ’n mengsel van historiese en geografiese gegewens (byv die Eufraatrivier wat voorheen van groot strategiese belang was en ‘n natuurlike grens of beskering gevorm het)  en kleë dit simbolies in om die aanslag teen God en sy kerk dramaties te teken! (Du Rand)
Armageddon het plaasgevind en is besig om plaas te vind en sal nog plaasvind. Elke konfrontasie is Armageddon! Dis iets van die verlede, maar dit gaan aan in die verkondiging van die evangelie wat die Koninkryk naderbring, dis die toekoms wanneer Jesus weer kom! Armageddon is Golgota (Goldsworthy), Armageddon is elke stukkie oorwinning wat die verkondiging van die evangelie behaal. En wat van ’n moontlike wêreldwye en mensvernietigende Derde Wêreld Oorlog? Dit sou  ook deel wees van Armageddon waar God toelaat dat die opstandige mens homself vernietig as deel van God se oordele, net soos God dit bewerk het dat bose mense Jesus gekruisig het, waardeur die Bose homself eintlik vernietig het. Weereens, wat dit nie sê nie, is die spesifieke geografiese plek waar so ’n oorlog sou kon woed nie!

Die konflik van elke kind van God (ja, ook in jou eie hart of eie huis) is deel van ’n groter konflik : Die konflik van Jesus aan die kruis, die voortgaande konflik waartydens die Gees in ons werk sodat ons  heiliger kan word en die stryd wat daarmee gepaard gaan. Die konflik gaan finaal opgelos word by die wederkoms, wanneer al God se vyande finaal vernietig word! God oorwin, maar dit gebeur nie sonder stryd en konflik nie! Ons moet dus nie verbaas word of moedeloos word as gevolg van konflik nie! Dit is die boodskap van versterking en troos wat vir ons vandag nog net so relevant is as vir die Christene van die vroeë kerk! Dis die troos, kind van God, wat ek en jy elke dag nodig het...want ons beleef mos stryd en konflik!