BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dwase denke. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dwase denke. Wys alle plasings

Vrydag 20 April 2018

SWAPE EN SOTTE SAL SINK!

Sonder wysheid wag ellende! Wat is wysheid en waar pas dit in? Het jy wysheid? Soos jy sal weet is daar verskillende literatuursoorte in die Bybel, onder andere...geskiedkundige boeke, profetiese boeke, briewe aan gemeentes en persone ens. Daar is ook wysheidsboeke. Ons dink veral hier aan boeke in die Ou Testament soos Spreuke, Prediker, Job en sekere Psalms. Waar pas hierdie wysheidsboeke in? Net so vinnig : Die geskiedkundige boeke vertel vir ons van God se groot reddingsdade. (Dink byvoorbeeld aan Eksodus en Josua) Dit handel oor God wat sy volk uit Egipte uit die slawerny bevry het en vir hulle na ‘n nuwe vrugbare land gebring het. Maar nou moes hierdie volk weet hoe om gelukkig en gehoorsaam in die nuwe land, hulle erfenis te leef. En hiervoor is wysheid nodig. 


Dit handel oor die vraag oor hoe om die alledaagse lewe met sy probleme, versoekings, slaggate en uitdagings te verstaan en regverdig te leef. Hoe om sin te maak van die lewe en sinvol te leef as God se mense. Om God se wil in die praktyk toe te pas, om die regte keuses te maak. 

DIE VROU WAT ROEP 


Aan die begin van Spreuke word ons bekendgestel met die grondbeginsels van die wysheid. Wysheid word hier vanaf Spreuke 1:20 gepersonifieer (uitgebeeld) as ‘n vrou. 


20.Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, 

21.sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: 

22. "Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ‘n afkeer hê van kennis? 

23.As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. (Spreuke 1:20-23) 

BAIE ERNSTIG! 

Sy roep hardop uit, gee ‘n waarskuwing, maar maak ook ‘n belofte. (22,23) Wat my getref het is die bytende en verwytende aspek van die wysheid. “Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,” (25,26) Dit klink so half vreemd. Pas so ‘n skerp verwytende toon by die Bybel? Is dit nie leedvermakerig nie? (Schadenfreude is die pragtig beskrywende Duitse woord) Ek dink nie Spreuke wil sê dat die wysheid ongeskik, ongevoelig of onbeskof is nie. Spreuke onderstreep net die erns van die saak. Dodelike erns! Dade het gevolge. Dwase dade het skrikwekkende en vernietigende gevolge. 

Dwaasheid lei tot ‘n ramp! 
Slegte keuses bring swaarkry. 
Sonder wysheid wag ellende. 
Swape en sotte sal sink! 

Klink rof nê? Ons leef in ‘n tyd waarin niemand gewaarsku wil word nie, niemand wil enige voorskrifte hoor nie. “Moenie vir my preek nie, ek is vry om te maak soos ek wil, ek is mos my eie baas” of “Moenie vir my sê ek mag nie rook nie, wie wil nou met pienk longe doodgaan?” en baie keer : “Wat is verkeerd met saamwoon voor die huwelik, watter verskil maak ‘n stukkie papier?” 

Wysheidslering is ongewild en bots teen die tydsgees. Alle gesag en norm word bevraagteken... ouers, onderwysers, kerk, die Bybel se gesag, ja God se gesag word geminag en sy norme weggesmyt. Daar mag nie gewaarsku of raad gegee word nie. En as daar skrikwekkende gevolge is, dan moet ons tog net simpatiek wees en moet ons mooi soetsappige trooswoordjies rig wat niemand in elk geval glo nie... 

Ons het die perspektief van ‘n boek soos Spreuke ontsettend baie nodig! Daar is ‘n dringende behoefte aan Spreuke se lering oor wysheid. En meer spesifiek die beginsels wat daaragter sit. En baie belangrik, ons moet natuurlik weet hoe om dit te verstaan en toe te pas binne die konteks van die Nuwe Testament. 

TWEE BELANGRIKE HOEKPENNE 

Waaroor gaan die wysheid in Spreuke? Net twee algemene vertrekpunte. 

1.Die kernbeginsel van wysheid is om God te ken. “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (1:7) Wysheid het dus niks te maak met intelligensie nie, maar met onderwerping aan God se gesag. Die voorwaarde vir wysheid is nie ‘n hoë IK nie, maar ‘n groot respek vir God! Wysheid gaan dus ook reeds in die Ou Testament nie net oor ‘n klomp losstaande reëls en regulasies nie. Dit gaan oor liefde vir God. Wie God ken en liefhet en respekteer sal erns maak met God se ordes en voorskrifte. En onthou, God se norme, wette en waardes was nooit bedoel om ons vreugde te steel of die lewe vaal en vervelig te maak nie. God se wysheid gaan oor ons welsyn! Dis vir ons beswil en tot ons voordeel! 

2.Wat jy met die wysheid maak het gevolge. Ons keuses het gevolge! Die verontagsaming van wysheid het skrikwekkende uitkomste. Wie die raad van die wysheid verwerp oor sake soos owerspel, luiheid, bedrog en dronkenskap...sal ly onder die bittere nagevolge. Vat nou byvoorbeeld : “Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank.” (Spreuke 23:29,30) Die anderkant is net so waar. Gehoorsaamheid aan die wysheid het positiewe gevolge. “"Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie." (32,33) 

MEER AS REËLS : DIE ALWYSE EEN 

In die Nuwe Testament kry ons ‘n baie dieper en verrassende perspektief op die wysheid. Wysheid is meer as reëls, wysheid is ‘n Persoon. JESUS! Wysheid is in Jesus te vind, maar meer nog, Hyself is die wysheid! Jesus sinspeel daarop in Lukas 11:31. “Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!” Jesus is die groot Wyse, groter as Salomo! Dit word baie duidelik gestel in 1 Korintiërs 1:30. “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” Jesus is die bron van alle wysheid wat ons nodig het. In Hom is al die wysheid te vinde! “Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind." (Kolossense 2:2,3) Hy is genoegsaam, Hy kan ons nooit verveel nie en ook nooit teleurstel nie. Daar is geen ander geheime resep tot Godgegewe lewensvreugde as Hyself nie! 

Hoe raak Jesus as die beliggaming van alle wysheid ons dan nou prakties? Om Jesus te ken en as Here te erken is om toe te laat dat Hy ons daaglikse keuses en leefstyl beïnvloed. Baie belangrik : Die wysheid gaan nie bloot oor ‘n lang lys moets en moenies nie, dit behels nie bloot ‘n klomp koue kliniese reëls nie. Dit behels verhoudingswysheid. Dit gaan oor gehoorsaamheid aan my Verlosser wat my oneindig liefhet sy lewe vir my gegee het. Dit gaan oor dankbaarheid. Dit gaan daaroor dat ek Hom wil eer en gelukkig maak en eerste stel in my besluite. Alle etiese besluite moet ek oorweeg vanuit die oogpunt van Jesus as my Verlosser en Koning! Die vraag is dus nie, is daar ‘n teks wat dit of dat verbied nie. Die vraag is wat doen dit wat ek wil besluit aan die beeld van Jesus in my lewe, hoe raak dit my liefde vir Hom, is dit hoe ek my lojaliteit aan Hom as Koning gaan bewys? Waarmee is jy tans in jou lewe besig? Wat sê jou keuses, jou stokperdjies, jou manier van besigheid doen van jou verhouding met Jesus as die WYSHEID van God? 

Om Jesus as wysheid te gehoorsaam en te vertrou is om die lewe te hê. Dis die beginsels wat Hy uitspel onder andere in die bekende Bergrede. Jesus verduidelik die gevolge van gehoorsaam sowel as ongehoorsaamheid aan Hom op treffende wyse met die beeld van die twee huise. Sonder Jesus is jy ‘n dwaas en sal vir ewigheid ‘n dwaas wees en jou hele bestaan sal ineenstort. Met Jesus is jy ‘n wyse, die wyse man wie se huis op die Rots gebou is en wat in al die storms van die lewe sal staande bly. Ewig staande sal bly, ook in die eindoordeel! 

Wanneer ons Jesus self sien as die volle vervulling en beliggaming van wysheid maak Spreuke 8:34-36 so wonderlik sin: "Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood." 

Om Jesus te verwerp is om die wysheid te verwerp, dis ‘n keuse vir die dood. Om jouself aan Hom te onderwerp, is om wysheid te kies dis ‘n keuse vir die lewe!


Wysheid is om 'n sambreel gereed te hê, wanneer die reën kom!

Maandag 06 November 2017

HARVEY WEINSTEIN

en die Nuwe Jerusalem! 

Paulus praat met die kinders van God (hulle is geseënd en uitverkore in Christus, begenadig en gered deur die geloof alleen)* op ‘n baie kragtige manier in Efesiërs 4:17-24**  en moedig hulle aan om heeltemal te breek met hulle ou heidense leefstyl. 

HEIDENSE LEEFSTYL

Wat is hierdie heidense leefstyl? Dis belangrik om raak te sien, dis nie net die leefstyl van die Moslems, Hindoes of geverfde kannibale daar doer nie, dis die hele wêreldsisteem waarin ons leef en wat ons elke dag rondom ons sien. As mens na hierdie beskrywing kyk, kon jy net sowel dink Paulus was ‘n middag op die Internet en hy het so bietjie op Instagram en YouTube rondgekuier. 

Hoe lyk en klink die heidense leefstyl volgens Paulus?

“hulle gedagtes lei tot niks” Een van die hoofkenmerke van die heidense leefstyl is verdorwe sinnelose dwase denke. In die geroesemoes en lawaai van die goddelose wêreld met sy filosofie, idees en ideologie, sy hedonisme, materialisme, feminisme, liberalisme, ateïsme (noem maar op...) is daar geen blywende oplossings nie, geen ware rus en geen ewige heerlike bestemming nie. Dis ‘n ydele soeke na ‘n altyd ontwykende utopie, ‘n hersenskim van geluk wat nêrens te vinde is nie. Dis ‘n gejaag na ‘n haas wat nie eers bestaan nie. Soos ‘n hamster wat hom verbeel hy gaan iewers kom maar al die tyd op sy eie wieletjie in die rondte hardloop. Dis ‘n vretende verlange na die pot goud aan die punt van die reënboog, wat maar altyd net buite bereik bly. ‘n Tevergeefse vertroue op helde met wankelrige voete en ‘n swerm onkundige kiesers wat agter hulle aanstrompel... Die Obamas, Trumps, Macrons…maar nie een van hulle weet in watter rigting die Lewe te vind is nie! 

“verduisterde verstand...onkunde” Die heidendom verstaan niks van ‘n heilige lewe in gemeenskap met God nie, weet nie wat in die Woord staan nie. Die heiden verstaan nie waarvandaan hy kom, wat sy doel op die oomblik is en waarheen hy op pad is nie. Onkundig, maar ook verhard. Die heiden het immuun geraak teen God se waarskuwings. Veragters van sy liefde, verbitter teen sy gebooie en vertrappers van sy verlossingsgenade.

Die heidene het “afgestomp” geraak – vir my een van die duidelikste kenmerke van die samelewing. Ongevoelig, skaamteloos, onsensitief. Sonde is nie eers meer ‘n skande nie – dis die hoof sappige nuus op die voorblaaie : “ons bly saam, hoereer saam, lieg saam, steel saam en voel nie eers skaam of skuldig daaroor nie. Selfs as ons uitgevang word is daar geen hartgrondige berou nie, in plaas van belydenis en bekering gaan ons net vir ‘n bietjie terapie!” Dis die losbandige leefstyl van Hollywood en Harvey Weinstein** en sy kan wurms, waaroor almal nou “Oe!” en “A!”, maar dis waarvan mense eintlik regtig hou, want hulle betaal om hierdie vuil water dag vir dag uit hulle morsige TV skerms op te slurp. Inderdaad ‘n “onversadigbare drang” na “losbandigheid!”

Die boosheid gaan al verder, daar word steeds nuwe vorme van losbandigheid wellus en haat uitgedink. Daar kom telkens nuwe skandale van bedrog na vore… en dis nie net Zuma wat skuldig is nie!

Hierdie heidense leefstyl staan in skrille kontras met die waardes en voorbeeld van Jesus. (20) Die opdrag wat Paulus gee is kort en kragtig (en baie ongewild!). Hou op, breek met…

NUWE DENKE WORD BENODIG

Waar begin dit? Innerlik by ons gees en gedagtes. “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1,2) Moenie meer dat Instagram, Hollywood en die Huisgenoot jou gedagtes en waardes bepaal nie! Moenie nabootsers word van die sepiehelde nie! Moenie gelykvormig word aan die grillerige glansganse van aan ons tyd nie. Gaan eerlik terug na God en sy Woord. Leef nuut volgens die lewe waartoe God julle geroep het. God se bedoeling is dat ons beelddraers van Hom moet wees. Ons weet God se beeld is in ons geskend. Dis verwronge en vuil. Ons weet nie eers hoe ons meer veronderstel was om te wees nie. Gelukkig kan ons weer weet hoe God se beeld in ons moet lyk. Jesus. Hy is die Beeld van die onsienlike God. Positief – om weer God se beeld te vertoon moet ons volgens die opdragte en voorbeeld van Jesus leef! En Hy maak dit moontlik deur die Heilige Gees wat in ons woon! 

GEEN PLEK VIR DIE HEIDENSE LEEFSTYL IN DIE NUWE JERUSALEM NIE

Hoe ernstig is Paulus met hierdie waarskuwing? Ons het mos ‘n manier om die Bybelse waarskuwings af te skud en te versag. “Ag, ou Paulus is ‘n asyngesig rabbynse Jood.” As ons egter in Openbaring 21 na die beskrywing van die Nuwe Jerusalem kyk besef ons hoe reg is Paulus. Die Nuwe Jerusalem is in Openbaring beide ‘n plek, maar dis ook mense. Dit staan in kontras met Babilon. Babilon word uitgebeeld as ‘n onrein prostituut en die Nuwe Jerusalem as die rein bruid. ‘n Groter kontras kan jy nie kry nie. Babilon is die plek van die onreines, maar die Nuwe Jerusalem (kliek) by uitstek die plek van die reines. Hulle word verlig deur die heerlikheid van God en die Lam is hulle lamp. (23) Die onreines se eindbestemming is die poel van vuur. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood." (8) Hulle mag nie in die Nuwe Jerusalem kom nie. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (27) Daar is geen plek vir die heidense leefstyl in die Nuwe Jerusalem nie! Dis verdoemend duidelik!

GENADE VIR DIE DORSTIGES!

Vreeslike woorde, maar wag, ook hier in Openbaring word die deur oopgehou vir die wat wil bekeer. Genade onbeskryflik groot! “Verder sê Hy vir my: "Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6,7) “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Vir die wat die uitnodiging aanvaar is daar eendag plek in die Nuwe Jerusalem, maar nou ook reeds plek aan die Nagmaalstafel. Die Nagmaalstafel is nie die plek vir goeie mense nie, maar vir dorstiges m.a.w. diegene wat hulle nood en behoefte aan Jesus besef! En Jesus stel niemand teleur nie, want die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde!***

*Sien Efesiërs 1:3-14, 2:8-10

**In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word;

lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiers 4:17-24)

***Natuurlik is Weinstein en dergelikes se optrede laakbaar, barbaars en afkeurenswaardig, maar al hierdie aktrises wat nou so kla is uiters naïef. Hulle onkunde is tiperend van die heidendom. Wat verwag hulle van ‘n bedryf wat losbandigheid, wellus en geweld as vermaak aanbied? ‘n Mens kan nie vuur in jou klere dra en dink jy gaan nooit brand nie!

**** 1 Johannes 1:7