BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 13 Oktober 2015

OTJIWARONGO STAAN OP VIR DIE WAARHEID!

BESLUIT

DIE KERKRAAD VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK OTJIWARONGO HET OP ‘N BUITENGEWONE VERGADERING GEHOU OP DIE 13DE OKTOBER 2015 DIE VOLGENDE BESLUIT GENEEM:
                                                                                                                

ONS STANDPUNT TEENOOR DIT WAT DIE PAS-AFGELOPE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERKVERBAND BESLUIT HET OOR SELFDE-GESLAG-VERHOUDINGS (Bewoording met vergunning aan die NG Kerk Moreletapark).


1.      Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg.  Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
2.      Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
3.      Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
4.      Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder)  in ons gemeente  dien nie.
5.                Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.
                                                                                                                
WAT ONS NOU PRAKTIES TE DOEN STAAN.


1.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verbreek onmiddelik alle bande met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.

2.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo behou voorlopig kerkverbandelike verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië. Die eersvolgende sinode van die Nederduitse Gereformeede kerkverband in Namibië sal bepaal of die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo haar verbintenis met die NG Kerkverband in Namibië sal handhaaf al dan nie.

(Nota: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo betreur die feit dat die afgevaardigdes van die NG Kerkverband in Namibië die landswette van Namibië moes voorhou as rede waarom nie akkoord gegaan kan word met die besluite van die Algemene Sinode nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo sou verkies dat enkel en alleen op suiwer Bybelse beginsels gestaan sou word wanneer die NG Kerkverband in Namibië se betrokkendheid by die AS se besluit, oorweeg word.)

3.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo staak met onmiddelike effek alle finansiële bydraes aan die Algemene Sinode. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo gaan wel huidiglik voort met sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië met die duidelike en pertinente voorwaarde dat geen deel van hierdie bydra aan die Algemene Sinodale Verband oorbetaal mag word nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo vra dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië via sy sinodale kantoor asseblief aan ons die versekering sal gee dat geen so ‘n oorbetaling aan die Algemene Sinode gedoen sal word nie. Indien die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië dit nie moontlik vind om aan die NG Kerk Otjiwarongo se versoek te voldoen nie, sal die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verplig wees om voorlopig sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië te staak tot tyd en wyl die NG Kerkverband in Namibië se standpunt betreffende selfde-geslag-verhoudings bekend is. In so ‘n geval sal die NG Kerk Otjiwarongo die betrokke betalings in ‘n aparte rekening deponeer, en indien die NG Kerkverband in Namibië dan wel uiteindelik aandui dat sy die weg van God se Woord gaan volg betreffende selfde-geslag-verhoudings, sal die teruggehoude gelde dan volledig aan die NG Kerkverband in Namibië oorbetaal word (So ‘n besluit deur die NG Kerkverband in Namibië sal vanselfsprekend beteken dat die NG Kerkverband in Namibië haarself losmaak van die Algemene Sinodale verband in SA). Indien die NG Kerkverband in Namibië egter sou besluit om in die spore van die Algemene Sinode te volg, is dit vanselfsprekend dat die NG Kerk Otjiwarongo ook sy bande met die NG Kerkverband in Namibië sal verbreek.


Nota:                    Daar moet baie sorgvuldig in gedagte gehou word dat volgens die basiese beginsels van die Skrif en die gereformeerde kerkreg is die plaaslike kerk (gemeente) volwaardige kerk. Christus is die enigste Hoof en Hy regeer sy kerk deur sy Woord, Gees en die ampte. Die kerkverband kom voort wanneer twee of meer plaaslike kerke op ‘n bepaalde beginsel-grondslag met mekaar in verband tree. Daardie beginsel-grondslag word in die kerkorde omskryf. Die kerkverband hanteer dan ook alleenlik daardie sake wat van gemeenskaplike belang is en wat nie sinvol deur die plaaslike kerk alleen gehanteer kan word nie. Dit is verder ook belangrik om altyd in gedagte te hou dat daar binne die gereformeerde kerkreg en verstaan van kerkwees geen sprake is van hierargie nie. Die ring is nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad nie, en die sinode is ook nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad en die ring nie. Die ring is wel ‘n meerdere vergadering as die kerkraad, en die sinode is ‘n meerdere vergadering as die kerkraad en die ring. Dit beteken dat op ‘n ringvergadering is daar meerdere ervaring en kennis van die Skrif teenwoordig as op ‘n kerkraad en eweneens so op die sinode as op ‘n kerkraad en ‘n ringsvergadering. Wanneer ‘n ring en/of ‘n sinode egter kennelik en duidelik wegbeweeg van die Skrif af (soos wat nou gebeur het met die Algemene Sinode) dan verloor daardie vergadering onmiddelik en logies sy status as meerdere vergadering, en het die kerkraad (plaaslike Kerk) die reg om sy posisie betreffende die betrokke meerdere vergadering in heroorweging te neem. Ons is immers daartoe verbind om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Hand. 4: 19 en Hand. 5: 29).


[Omatako - sinoniem met Otjiwarongo]

Lees ook : Waarom is dit belangrik om standpunt in te neem? Kliek op SKANDE

En lees ook : DANKIE DOPPERS!

14 opmerkings:

  1. Fantasties! Mag vele gemeentes die voorbeeld van Otjiwarongo volg

    AntwoordVee uit
  2. Bravo Otjiwarongo!!!!! Hou aan met die goeie besluit.

    AntwoordVee uit
  3. Die waarhied sal seevier. Ek is bly en respekteer dat jul die waarde van die woord, bo die waarde van erkenning plaas. Ek ondersteun jul besluit. Mag God die Vader jul versterk vir Sy eer, vir Sy glorie, vir Sy koninkryk deur sy kosbare Seun, ons redder, Jesus Christus ons Heer en saligmaker.

    AntwoordVee uit
  4. Dankbaar vir jul standpunt. Hou vas aan die gesonde leer!

    AntwoordVee uit
  5. Dis wonderlik dat julle so standpunt inneem...julle dra my hoogste agting en respek.Ek hoop meer gemeentes breek met die AG

    AntwoordVee uit
  6. Fantastiese nuus! Laat die lig skyn en nog vele gemeentes oor die hele Namibie en Suid Afrika julle voorbeeld volg. God is met julle want julle is getrou aan Sy Woord.

    AntwoordVee uit
  7. Dankie Otjiwarongo vir 'n duidelike standpuntiname! Mag die Here ons help om opreg soos die duiwe en versigtig soos die slange te wees...
    Tsumeb neem DV Sondag 'n besluit op 'n buitengewone Kerkraadsvergadering.

    AntwoordVee uit
  8. Ons moet die Here dank dat Hy nog met ons bemoeienis maak en dat daar nog mense is wat bereid is om op te staan vir die geloof. Vir my nog altyd onverstaanbaar die 3 suster kerke. Moet 'n mens nie oorweging skenk om die 3 nou in een Kerk bymekaar te bring nie. In hierdie tyd waarin ons vandag staan raak dit al moeiliker om met die druk wat op die mens uitgeoefen word. Sal ons nou wag vir die Hervormers se aanslag en dan vir die aanslag op die Doppers. Elke keer is daar weer 'n klompie skape wat moet rond skarrel om weer 'n huis te kry waar ons met ons Here en Saligmaker kan ontmoet. Die aanslag sal kom, dis net 'n kwessie van tyd. Terwyl daar nou roeringe is, is dit mos beter om al die eensgesindes in die geloof bymekaar te bring, mense wat vas kan staan in die geloof. Wat bereid is om op te staan vir die Here en wat reg is. Hoop om goeie nuus te hoor van Tsumeb se kant af ook. Sterkte vir jou Ds Johannes en die Kerkraad.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Wag net broer wag net! Dit kom...

      Vee uit
    2. Ek hoop ander getroue NGK..kers sal nou afstig van die NGKSA,en n nuwe kerk begin...n evangelies getroue kerk waar God se woord waaragtig nog "solo scriptura" is...dalk iets soos die Evangelies Nederduits Gereformeerde Kerk...of iets in dier voegge...was ek n predikant in die NGKSA,soi ek dit beslis wou doen...

      Vee uit
  9. Ek het weer gedink oor die saak. Moet daar nou dadelik so drasties opgetree word? Ek is nou nie deel van die NGK nie, maar ek gaan altyd NGK toe. Die kerk en strukture behoort aan die gemeentes. Hoekom moet ons dit alles prysgee vir 'n paar ongelowiges. Kan daar nie 'n referendum afgedwing word waar alle gemeentes dus oorgaan tot stemming om dus nou so 'n bepaling te kan maak van wat die algemene gevoel van die kerk is nie. So kan daar mos op grond van die uitslag tot aksie oorgegaan word. As die stemming teen die besluite van die AS is, kan daar mos 'n mosie van wantroue ingedien en deur gevoer word. Dus moet hulle 'n ander plek gaan soek. As dit dan vir die besluitneming is, weet 'n mens waar jy staan. Dan kan die opsie van afstigting oorweeg word. 'n Mens moet maar ook geduldig wees om die Here toe te laat om die pad aan te wys. Hy is mos immers die Hoof van die Kerk. Ek weet hoe almal voel, maar tog voel ek dat ons Hom eers moet raadpleeg en toelaat om op so 'n manier aan ons die pad aan te wys. Hy is mos immers die Almagtige God by Wie daar niks onmoontlik is nie, selfs nie eens om die harte van mense te beheer om te stem volgens Sy wil nie. So sal Hy mos vir ons deur die uitslag aan ons oordra wat Hy wil he ons moet doen.

    AntwoordVee uit
  10. Kyk op hierdie webblad onder dwaallinge van die 2015 Sinode- die homo saak is maar een van hulle! Absoluut skrikwekkend dat die duiwel ons net op een punt laat fokus! Dr. Ben du Toit se waarskuwing aan die ware kerk al in 2011- is ons aan die slap gevang? Beslis. Klik op onderste "link".

    http://hierstaanek.com/artikels/

    AntwoordVee uit
  11. Volgens koerantberig vandag het die hele ring van Heilbron die AS se besluit verwerp en is besig om die beswaarproses te begin. Volgens die berig blyk dit dat ten minste 5 gemeentes in 5 verskillende ringe met opgaaf van redes beswaar maak voor die AS daarna sal kyk.

    AntwoordVee uit
  12. Daar loop gerugte rond dat bostaande dokument van Otjiwarongo slegs 'n gespreksdokumet sou wees wat as prikkeling vir 'n bespreking sou moes dien. Wel, ek kan maar net plegtig verklaar dat ek die oorspronklike ondertekende kerkraadsbesluit met my eie oë gesien het...

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.