BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ingrendeling. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ingrendeling. Wys alle plasings

Woensdag 22 April 2020

BELOFTE IN BENOUDHEID

- Die Wuhanvirus wys dalk of ons regtig glo! 


Glo ek en jy regtig God se beloftes? Ek dink ons word deur ons huidige moeilike omstandighede getoets, spesifiek ook wat betref God se beloftes van finansiële versorging en materiële bystand. Sommige verloor hulle werk in hierdie tyd van paniekerige regeringsoptrede, ander se inkomste is drasties gesny... Glo jy wat hierdie moeilikheid in die gesig staar, die wonderlike belofte in Hebreërs 13:5? Dis waar God self belowe: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." Jy sal sien dit word in ‘n finansiële konteks gesê! 

WYER KONTEKS 

Geen belofte staan natuurlik in isolasie nie. Kom ons kyk dus net eers na die groter konteks van die Hebreër brief. Mens sou kon sê dat die brief/preek aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike en benoude tye. Daar was die gevaar van afvalligheid, van afdwaling en moedeloosheid. Gelowiges wat die handdoek wou ingooi. Daar was mense met die spreekwoordelike “slap hande en lam knieë”. Dit was moontlik die gevolg van ook fisiese swaarkry. Party is van hulle goed beroof en dit lyk ook asof sommige van hulle in die tronk gegooi is. 

Die sentrale boodskap van die Hebreërbrief skrywer aan hierdie Christene was : HOU VAS AAN GOD SE BELOFTE OOR JESUS DIE VOLMAAKTE HOËPRIESTER. Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (Hebreërs 1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, die tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy is die Middelaar van die Nuwe Verbond – ‘n beter verbond met beter beloftes! Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Hyselfs is die nuwe lewende Weg! Ons kan weet Hy het medelye met ons, ons kan deur Hom met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

“Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” 

(Hebreërs 4:14-16) 

ONMIDDELIKE KONTEKS 

Hier aan die einde van die brief vind in hfst. 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake, OPDRAGTE wat eintlik verskeie aspekte van ons lewe as gelowiges dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye: 


Beoefen broederliefde. Dis so kosbaar in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat hierdie uitmergelende tye van inperking en frustrasie jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… (vgl. 1 Johannes 3:16ev) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar! 

Bewys gasvryheid. In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang! 

Betoon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. Sien vriende, weereens, die fokus moet nie op onsself wees nie, maar op ander en hulle nood! 


Bewaar en respekteer die heiligheid van die huwelik. Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Egskeidings kom al hoe meer voor. Internet pornografie is ‘n groter versoeking as ooit. Huishoudelike geweld word algemeen. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik ontugtiges (pornous) en egbrekers (moigous). Dit gaan dus oor meer as net owerspel of egbreuk in die eng tegniese betekenis, maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Dis iets wat die meeste mense (selfs binne die kerk) hulle weinig aan steur. 

Bekeer jou van gierigheid. Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. Paniek en selfsug neem so maklik oor! MAAR LUISTER NOU! Juis hier vind ons hierdie heerlike belofte van God se nabyheid en bystand binne die raamwerk van geldsake. Belangrik - die belofte kom saam met ‘n duidelike waarskuwing en opdrag. 

Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Jesus se waarskuwing word in ander woorde herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) 

Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. TEL JOU SEËNINGE, DOEN DIT SOMMER NOU! Dink bietjie... Onthou ‘n slag... Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. Nooit, ooit in die steek laat nie! 

DIE HERE IS MY HELPER! 

En wat is die heerlike gevolg as ek kies om hierdie belofte van God se versorging en bystand te glo? ‘n Triomfantelike sekerheid en vreesloosheid! Vers 6 - “Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" 

Ja, moeilike tye is inderdaad nooit maklik of lekker nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind heilig wees en in dankbaarheid lewe sonder vrees! Die geheim is : GLO GOD SE BELOFTES! Maak erns met die beloftes en die hele konteks waarbinne dit staan! Gaan kyk weer met nuwe oë na God se beloftes en vind so vrede! 

NASKRIF Ek wil net sommer van hierdie geleentheid gebruik maak en aan alle broers en susters wat ook deur hulle gawes God se werk ondersteun en spesifiek ook ‘n helpende hand uitreik na diegene wat behoeftig is, Paulus se woorde aan die Christene in Filippi toebid : “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19) AMEN

Saterdag 28 Maart 2020

PRIORITEIT TYDENS ‘N PANDEMIE


- Jesus praat prontuit! 




Ons leer nou ‘n nuwe woordeskat wat ‘n paar weke gelede nog net vaagweg op die horison was – "pandemie, koronavirus, Covid-19, inperking, ingrendeling, afsondering…bykans apokaliptiese tonele van dood en chaos!" (en eindelose samesweringsteorieë) 

En dit laat mens sommer oor baie dinge dink...



HET JY AL GEWONDER? SAL DAAR MIN MENSE GERED WORD OF BAIE? 

Wat van my familie, vriende, werksmense... of daardie groot getalle wat tans in Italië, Spanje, Iran... sterf aan Covid-19? Hoeveel van hulle is gered en nou by die Here? Hoeveel van hulle gaan die ewigheid en in heerlikheid by God deurbring? Hoeveel nie? En jy dink : "Miskien baie... die genade is immers groot! Miskien min... Die pad wat na die lewe lei is tog immers die smal pad..." 

Jesus self gee ‘n belangrike perspektief op hierdie dringend belangrike vrae in LUKAS 13:22-30. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie sleutelvraag direk vir Jesus te vra : “Here, is dié wat gered word maar min?” (23) 

Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die verbondsvolk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! – onder baie van ons mense heers ‘n soortgelyke wanopvatting. (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering – die boom wat nie vrugte gedra het nie in die voorafgaande gedeelte in Lukas sou mense dalk ook verder hieroor kon laat wonder het.) 

VERRASSENDE ANTWOORD 

Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord. Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24a) en ‘n waarskuwing. (Vers 24b) 

UITDAGING. 

“Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat JY wel sal ingaan! Daar het jy dit! En tog, iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou? Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Nee, Jesus onderstreep maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat regtig met hulle hele hart daarna verlang en dit aangryp!

Verder ook het genade ingrypende gevolge in ons lewens. Genade wek by ons ‘n nuwe koers en ‘n nuwe passie. Genade spoor ons aan tot aksie! Genade beteken nie dat ek op die sitkamermat voor die TV kan lê en redeneer :”Ag, wat dis die Here se werk om my te red, ek sal aangaan en my lewe geniet soos ek wil!” Redding is vir diegene wat daarna smag. Die wat honger en dors na geregtigheid. God se soewereine genade bestaan juis daarin dat dit ons tot ontsag vir God en aktiewe werksaamheid bring en inspireer! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13) 

Jesus wil dus sê : 

Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU! 

Hoekom, nou? Hoekom behoort egte genade by ons ‘n dringende erns te wek? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry) 

Span al julle kragte in beteken dus : Gryp ten volle die genade aan terwyl die geleentheid daar is. En dis NOU… 

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? 

Kom ons wees prakties - As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal: 

~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. Dis die groot genademiddel! Iemand wat Sondae laat slaap... is nie juis baie ernstig oor genade nie! 

~ek gebruik maak van die gawe van gebed. "Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!" (Romeine 10:13)

~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart? 

~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n besliste struikelblok vir vergifnis! 

~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Geld en sakebelange, pret en plesier kan maar eers ‘n bietjie wag! 

~ wanneer ek genade ontvang het, volhard in die goeie wedloop en as ek geval het weer opstaan! 

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. Hy brei uit op die waarskuwing met : “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (27, 28) Baie mense leef onder ‘n vals illusie van sekerheid en saligheid. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. 

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uiteindelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word, want hulle het die genadegeskenk aangegryp! 

'N LAASTE EEN GAAN IN!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Die misdadiger aan die kruis...“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry ‘n heerlike waarborg : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk! 

Ons eerste prioriteit ook in hierdie tyd van die Covid-19 pandemie is nie bloot om gesond te probeer bly nie, maar om gereed te wees vir die koninkryk! 

Siekte of nie siekte nie, virus of nie virus nie – een ding is belangrik! Om aan my getroue Verlosser Jesus Christus te behoort. Maak gebruik van die genade in Jesus, NOU!