BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket NG Kerk Tsumeb. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket NG Kerk Tsumeb. Wys alle plasings

Dinsdag 14 September 2021

NG Kerk Tsumeb doleer!


Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op sy vergadering van 13 September 2021 eenparig besluit om te doleer deur middel van die onderstaande verklaring:

NG Kerk Tsumeb doleer.

Die NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer (treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend). Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)


Ons mag nie meer stilbly nie.

Om te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die vervalle toestand van God se kerk is te vinde by  Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie, want :

Ons het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer.  (Johannes 14:15)

Ons as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)

Ons besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)

Ons vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp. (Matteus 10:28)

Ons mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met die tydsgees.  (Matteus 10:32,33)

Ons sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek. (Romeine 1:18-32)

Ons verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)

Ons leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)

Waaroor treur ons?

Ons treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging  en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat.  Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word.

Ons treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme aangespreek word.)

Ons treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS. 

Ons treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en getuienis oor die verval in ons kerk  kan begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN dit onderteken het.)

Die doel van ons treur.

Met ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van Christus ter wille van die eer van God.

Deur ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld word.

Ons wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.

Ons wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.

Deur ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die waarheid en die eer van God.

Ten slotte

Ons besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin. Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op te roep nie.

Dolering is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet kyk.

Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021

Voorsitter : Herman Fuls

Skriba : Ria Struwig              

Leraar : Johannes de Koning

 

 

 

 

BYLAAG A VERKLARING 2019

 

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 

 

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 

· Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 

· Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 

· Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

 


Sondag 23 Junie 2019

GOD SORG VIR SY KERK

OOK DEURDAT ONS BUITE DIE “BOKS” BEGELEI WORD! 


Die Here sal sy kerk nooit in die steek laat nie. Dit het ons nou weer opnuut ondervind. Juis nou in ‘n tyd van afvalligheid, dwaalleer, valse teologie en ‘n tekort aan getroue Woordbedienaars. Op Sondagoggend 23 Junie 2019 is twee ouderling broers van die NGK Tsumeb, Andries Gous en Herman Fuls amptelik as gemeentebedienaars (met die reg tot Woord en sakramentsbediening onder die toesig van die kerkraad) deur dr. De Wet Strauss van die Kuratorium van die NGKN bevestig. Dit was ‘n heuglike en historiese geleentheid! Nuwe grense is oorgesteek. Dis leraars wat in die hart van die gemeente gegroei en hulle roeping ontvang het. Hulle het binne 'n gemeentekonteks as dienende ouderlinge hulle opleiding ontvang deur ander persone wat in die praktyk van die bediening staan. Ons beleef hierin iets van die besondere leiding van die Heilige Gees waarvan Jesus self gepraat het in Johannes 16. De Wet het hierdie hoofstuk gebruik om op ‘n onderhoudende manier die Woord aan die woord te laat kom en ook op sy eie vars wyse van dinge doen die hele kerkraad en gemeente te betrek. Die twee broers het op die kansel self hulle legitimasie eed onderteken. Die hele kerkraad was betrokke by die handoplegging. In werklikheid is ons hele kerkverband, die NGKN betrokke, want dis nie iets wat ons in Tsumeb bloot op eie houtjie aangepak het nie. Aan God alleen die eer! 




Andries deel iets van die pad wat die Here deur middel van sy kerk met hom geloop het: 

“In Julie van 2012 verplaas die maatskappy vir wie ek werk my na hulle Tsumeb operasies. 

Ons skakel in by die Tsumeb gemeente van 2013 af nadat my familie ook by my aangesluit. Ds. Johannes de Koning besoek ons aan huis en kort daarna ontvang ons huisbesoek van die ouderling verantwoordelik vir die wyk. 

Roelf van Wyk het as ouderling sommer kom koffie drink en het begin gesels oor die bediening onder die San mense en die Wildevy gemeente. Hy prikkel my belangstelling soveel so dat ek daaraan begin dink om betrokke te raak by die San bediening. 

Op die 13de Julie 2014 tydens die oggenddiens hoor ek dat ds. Johannes de Koning iets vertel van die Tsumeb gemeente se betrokkenheid by die Wildevy gemeente op Tsintsabis en ek besluit dat dit sommer die geleentheid is om met hom te gaan praat, en om betrokke te raak. 

Daardie aand gaan woon ek die eerste keer in Tsumeb die aand Bybelstudie geleentheid by en ek gesels met ds. Johannes oor die San bediening en dadelik nooi hy my om die daaropvolgende Woensdag saam met hom te gaan wanneer hy ’n Bybelstudie geleentheid by die Tsintsabis gemeente gaan lei. Dit raak daarna ‘n gereelde instelling om elke tweede Woensdag saam met hom uit te gaan Tsintsabis toe. 

My betrokkenheid by Tsintsabis het dus begin nadat twee broers my bewus gemaak het van die werk en die Heilige Gees my aangemoedig het om my hand op te steek om betrokke te raak. Soos met alles in die koninkryk moes hierdie twee broers die hout aandra deur te getuig en uit te nooi totdat daar genoeg hout was vir die Heilige Gees om die vuur aan die brand te steek binne-in my. 

In die tussentyd oortuig een van die ouderlinge van Wildevy gemeente by name Karl Ganseb my om saam met hom die Woord te begin bring onder gemeenskappe binne die Wildevy gemeente se bedienings area wat nie bereik word deur ds. Josef Gevers op Tsintsabis nie. 

Die bediening saam met Karl groei oor die volgende paar jaar tot 4 bedieningspunte waar die Woord gebring word aan om en by 100 kinders en 120 volwassenes op ’n gereelde basis. 

Die een ding lei tot die ander en ek word saam met Roelf van Wyk afgevaardig om Tsumeb gemeente by DEGNOS se jaarvergadering te gaan verteenwoordig in 2015. Tydens my betrokkenheid by DEGNOS kom ek al meer onder die besef hoe belangrik die rol van toerusting van gemeenteleiers is. Ek kom al meer onder die indruk dat ons die vermenigvuldigings effek ( 1-2-4-8-16-32-64-128-256....ens) benodig as ons regtig effektief diensbaar in die koninkryk wil wees en dit kan slegs behaal word indien daar genoegsame gelowiges toegerus word om verantwoordelik diensbaar te wees in elke gemeente. Dieselfde beginsel geld binne-in gemeentes, waar dit onmoontlik is vir die predikant om alleen die gemeente te versorg as die res van die gemeente nie betrokke is by die versorging van die liggaam nie. 

Ek kom in hierdie tyd agter dat daar min dinge so gevaarlik is soos om mense los te laat om te preek wat nie goeie lering (toerusting) ontvang het nie. Ek sien immers daagliks saam met Karl wat die impak van verkeerde lering is onder die San mense en watse groot verwarring dit veroorsaak. Die situasie lyk ook nie veel beter onder die mense in my direkte omgewing nie. 

Iewers tydens die baie gesprekke van DEGNOS raak ek bewus dat ons as NG Kerk Namibië met ‘n groot probleem sit in die vorm van gemeentes wat nie meer voltydse professionele predikante kan bekostig nie, asook die gebrek aan Namibiese burgers wat opgelei is as predikante. Verder dra die ouer wordende predikantekorps in Namibië ook by tot ‘n krisis wat net wag om te gebeur. Ook sien ek al meer dat daar so ‘n groot braakland bestaan waar mense nie die Woord hoor nie en nie altyd toegang het tot plekke van aanbidding nie. Niemand kan dit beter stel as on Here Jesus self nie, soos opgeteken in Matteus 9:37: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min” 

Die besef sink in dat daar ’n groot nood is vir opgeleide bedienaars van die Woord, nie net in kleiner plattelandse gemeentes nie, maar ook in die bedienings areas rondom gemeentes, die gebiede wat braak lê waar daar geploeg en gesaai moet word. 

Iewers in die gange kom ek te hore van die versoek dat ds. Hendrik van Zyl van DEGNOS moet begin met lidmaatbemagtigingsopleiding in Otavi vir die Otavi gemeente juis as gevolg van die bedienings situasie daar waar nie meer ’n voltydse leraar beskikbaar is nie. Hierdie opleiding is dieselfde opleiding as wat die inheemse predikante van die Wildevy, Tsumkwe en Luhebu-Noord gemeentes ondergaan het. 

Na ‘n gesprek met Hendrik waar hy aandui dat dit goed sal wees as Tsumeb ook inskakel, word die uitnodiging gerig aan die gemeentelede van Tsumeb. 

Op die 11de Februarie 2017 meld ons aan saam met lede van Otavi en Grootfontein aan saam met ons lektore, di. Hendrik van Zyl, Dirk de Vos, Lucas van Vuuren en mev. Jeanette Lubbe, wat ons die volgende 30 maande toerus om meer bruikbare instrumente in die hand van die Here te wees. 

Tesame met die amptelike opleiding is daar ook konstante interaksie met ds. Johannes de Koning wat as mentor aktief betrokke is op ’n informele basis met die slyp van my denke en help met die ontwikkeling van my bedienings vaardighede en die groei van my eie teologiese begrip. 

Ons doen onder die vaandel van DEGNOS die Gemeentebou, Prediking en Pastorale sorg programme wat deur DEGNOS ontwikkel is in samewerking met die Departement van Kontekstuele Teologie van die Universiteit van Pretoria, sowel as die Veritas College se vier fondasie modules wat soos volg opgedeel is: Module 1 Uitleg en Vermaning : Paulus se briewe, Module 2 Narratiewe literatuur – Pentateug en Ou-Testamentiese Geskiedkundige boeke, Module 3 Poësie, Wysheidsliteratuur en profete en Module 4 Die Sinoptiese evangelies, Johannes, Handelinge en Openbaring. 

Die klaskamer opleiding was baie belangrik maar sonder die mentorskap van die vier dosente(Hendrik, Dirk, Lucas en Jeanette) en Johannes sou dit nie moontlik gewees het om ’n goed toegeruste bedienaar van die Woord te word nie. Hulle bydra tot my groei en ontwikkeling was van onskatbare waarde en ek dank die Here vir hulle betrokkenheid in my lewe. 

Hierdie is die begin van ’n opwindende en baie interessante nuwe veld in die bedienings beursie van die NG Kerk en dit is met groot opgewondenheid dat ons uitsien na die pad vorentoe.” 

Ons ander ouderling bedienaar, Herman Fuls beskryf sy pad so: 

“Ek het op 'n stadium in my lewe baie ver van die Here afgedwaal. Dit was grotendeels omdat ek nie betrokke was by 'n groep gelowiges / kerk van die Here nie. Die Here was my baie genadig en het my kom red uit 'n diep verlorenheid. Ek het op 'n harde manier uitgevind wat die waarde van kerkwees is en wat die implikasies is as mens nie deel raak van Christus se 'liggaam' hier op aarde nie. Dis inderdaad net baie gevaarlik om 'n 'randfiguur' te wees en nie voluit betrokke te wees en te leef vir Christus nie. God het my geplaas in 'n klein, wonderlike dorpie - Rosh Pinah. Daar het ek die stryd beleef van 'n gemeente wat geworstel het om 'n voltydse leraar te beroep en te kan bekostig. Vir jare het die NG Kerk Lüderitz (bestaande uit Lüderitz, Rosh Pinah en Aus) deur fases gegaan waar daar een maal 'n maand 'n leraar was wat die Woord kon verkondig en vir lang tye (soms ‘n jaar of twee) waartydens daar glad nie 'n leraar was nie. Die gemeente was aangewese op die kerkraad en gelowiges om eredienste te lei en na gelowiges om te sien. Daar het ek bewus geraak van my eie tekorte (en van gelowiges in die algemeen) om in sulke omstandighede te kan volhard. (Christus was goed en het in daardie moeilike omstandighede die gemeente versorg). Die Here het my en my gesin gelei na Tsumeb. Ons het ons pas in Tsumeb gevestig toe die geleentheid opduik om opleiding te ontvang wat ek met beide hande aangegryp het. Alle lof aan ons Skepper! Ek stap nog 'n pad saam met God om te sien en hoor waar en hoe Hy my wil gebruik vir Sy werk hier. Ek besef vandag dat daar baie gemeentes en gelowiges in Namibië is onder dieselfde omstandighede. Hierdie is 'n geleentheid om ons kerkrade op te lei en toe te rus vir diens aan Christus. Ek nooi ander gelowiges en kerkraadslede uit, wat die roepstem van God gehoor het, om verder toegerus te word vir diens in Sy Koninkryk en na God se kudde om te sien.” 

Die Here Jesus het beloof dat die Gees ons sal lei. Inderdaad het ons hier op Tsumeb sy leiding in hierdie tyd op besondere manier ervaar en ons sien nederig, dankbaar en afhanklik uit na die pad verder wat Hy met ons gaan stap!  Ja, ons weet ons moet nog so baie leer. Daar is soveel dinge waarmee ons sukkel. En tog, wat ‘n voorreg om deel te wees van die liggaam van Jesus! Mag God ons almal maar in besonder hierdie broers bewaar van die Bose sodat daar groot vrug op hulle arbeid mag wees tot eer van God!


De Wet Strauss, Andries Gous, Herman Fuls, Johannes de Koning (Foto's -  Ida Irvine)

Maandag 19 Februarie 2018

‘N JONGMENS SE PAD MET GOD

DIE FONDASIE , VORMING , VOLHARDING EN VERANTWOORDELIKHEID IN ‘N JONGMENS SE LEWE! 


Dis die lewende God wat sondaars red. Ook jong sondaars. Hý doen dit! Hy maak hulle vas aan Jesus Christus en voeg hulle by sy kerk. Hiervoor gebruik Hy natuurlik sy genademiddele en metodes soos Hy wil! Wat ‘n heerlike wete! Wat ‘n groot rede tot lof en dank! 

Juis ook vir ons wat wonder: “Wat gaan van ons kinders word? Gaan hulle die Here ken, gaan hulle volhard op die pad van die Here? Die aantrekkingskragte van die wêreld is so groot, die Satan so slinks en die pad na die lewe is smal!” 

Timoteus was ‘n jongman wat die Here gedien het. Dis interessant as mens bietjie vra : “Hoe het hy die Here leer ken? Watter mense het God in sy lewe gebruik?  En hoe?Wat was sy fondasie? Wat van sy eie verantwoordelikheid?” Ons gaan veral kyk na 2 Timoteus 3:13-17 maar ook bietjie verder rondloer in die twee briewe wat Paulus persoonlik aan die jongman Timoteus geskryf het en net so ‘n paar sake wat daarin voorkom uitlig. Kom ons noem dit, die deurslaggewende faktore in die lewe van ‘n Christen jongmens. 

"Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." (2 Timoteus 3:14-17) 

Die fondasie van die Skrif – Timoteus het van kleins af die Bybel geken. (In sy geval natuurlik die Ou Testament) Dit het vir hom die basiese kennis gegee wat hy moes hê. Die kennis het in sy geval tot geloof gelei en so kry hy deel aan die verlossing. Die belangrikheid van kennis oor die Bybelse waarhede kan nie oorbeklemtoon word nie. Huisgodsdiens! Gebrekkige kennis lei tot ondergang en verlorenheid. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6 OAV) Terloops, dit gaan nie hier oor persoonlik geopenbaarde kennis nie, dit gaan oor kennis van God se Woord (wet), met ander woorde die Skrif! 

Kennis van die Skrif lei tot geloof in Jesus en dus tot verlossing, maar dit gaan ook verder. 

Die Skrif wys ook vir ons hoe ons as verlostes moet lewe! 

Die Skrif het groot waarde, sê Paulus. Deur die Skrif, ken ons die waarheid, dis ons wapen teen dwalinge en valse lering, dit wys ons hoe ons dinge wat in ons denke en dade verkeerd is reg moet maak. Die Woord dui die koers aan hoe om positief ‘n lewe te leef waarvan God hou. Die kennis van die Bybel rus ons toe om die goeie werke wat God van sy kinders te vra te doen. 

Die Skrif is onontbeerlik vir redding en lewe as geredde! 

Baie mense ontken dit vandag en weet gevolglik weinig van die Woord. (Hulle kan die Blou Bulle se spelers opnoem, maar weet nie eens of Jesaja in die Ou of Nuwe Testament is nie!) ‘n Algemene redenasie is: “Ons het nie die Bybel nodig nie, want die Heilige Gees praat sommer direk met ons.” Dis ‘n groot dwaling. Die Gees en die Woord gaan saam. Daar is niks wat jy as ‘n feit oor God en Jesus en die ewigheid kan weet, as jy dit nie vanuit die Skrif weet nie. Daar is net een maatstaf en norm waaraan ons as God se kinders als kan toets en dis die Woord. Die Woord het die voorrang, self bo engele! Ja, regtig! Galasiërs 1:8 leer ons : “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” Geen droom, engel, visioen of bonatuurlike belewenis staan bo die Skrif nie! Paulus wil die jongman Timoteus opnuut net weer vasmaak aan die geskrewe Woord. Bly by die Skrif, Timoteus! Sola Scriptura is nie iets wat deur die reformatore uitgedink is nie, dit was al Paulus se raad en opdrag aan Timoteus. 

Die rol van ander mense. God het ander mense gebruik, juis om vir Timoteus die Woord te leer. Wie was hulle in Timoteus se geval? Sy ma en ouma! Hulle was ware gelowiges. Die mense in sy eie huis. “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (2 Tim 1:5) Later het Paulus self ‘n groot rol in Timoteus se lewe gespeel. Hy noem Timoteus “ my kind in die geloof”. Elke kind van God kan mense opnoem wat ‘n groot rol in sy of haar lewe gespeel het. Moenie hulle raad en lering en voorbeeld sommer weggooi nie. Kyk na hulle pad. Natuurlik is niemand volmaak nie. Maar onthou en respekteer die lering en voorbeeld van hulle wat die pad al verder as jy gestap het. 

Paulus wys Timoteus ook op sy eie verantwoordelikheid. Jy kan nie net op ander se insette staatmaak nie. Elke jongmens kom op ‘n punt van beslissing. Ek self moet nou keuses maak! Ek self moet my persoonlike vertroue in Jesus die gekruisigde plaas. Ek self moet nou volhard en die stryd stry! Kyk na nog ‘n paar verantwoordelikhede wat Paulus uitlig: 

1 Tim 6:20. “Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die "kennis", soos dit verkeerdelik genoem word." Bewaar dit wat jy ontvang het. Pasop vir allerhande los praatjies en kamtige kennis. Moenie als glo wat jy hoor en sien (veral nie) op sosiale media nie! Instagram is nie die standaard van die Koninkryk nie!

2 Timoteus 1:13,14. “Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.” Weer die noodsaak van bewaring. Dit wat jy geleer het is goed, bewaar dit deur die Heilige Gees. Dit verg moed en aksie van jou kant af, jong Christen! 


2 Timoteus 2:22. "Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.” Vlug vir wat verkeerd is. Gebruik jou voete! Bly weg van die partytjies, vriende en vermaak waar God nie geëer word nie. Maar positief, streef na die regte dinge saam met ander kinders van God! Kies jou vriende baie versigting! Hou aan geestelik groei! 


1 Timoteus 6:12 “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het”. Ja, God self is ons Redder, maar jy het die verantwoordelikheid om al jou kragte in te span en te volhard. God het jou geroep Timoteus, God het jou geroep... en jy het jou geloof openlik bely! Nou begin die harde werk en die vasbyt eers regtig! Dis met hierdie boodskap van Paulus waarmee ek julle as ons nuwe lidmate wil verwelkom en ook uitstuur!


Agter (v.l.n.r.): Eleanor Steenkamp, Johan Muller, Charlie Voigts, Mornè Button.
Voor (v.l.n.r.) : Lezanne Britz, Danielle Bartlett.

BAIE WELKOM JULLE!

Maandag 25 September 2017

"Viskriklik"

Vis lag hier "viskriklik" lekker vir sy eie demonstrasie van hoe sy tone lyk...



Ons het egter oor baie ernstige dinge gesels tydens ons kategesekamp by Ohange, onder andere die komplekse saak van verhoudings tussen tieners. Die boodskap is duidelik opgesom : Moenie as jy eendag voor die kansel gaan staan soos 'n gekoude "chappie" wees nie. Deur 'n klomp ander gekou en gesuig... Nee, wees eerder 'n "square" - 'n vars vierkantige "chappie"  wat nog deur niemand gekou is nie!

Baie dankie aan Vis (Albert) en Eben van die AEB wat kosbare lering en persoonlike getuienis met ons gedeel het!

Sondag is ons kamp afgesluit met 'n erediens op Tsumeb waar die Here se Woord ons uitgedaag het om teen die groep vir Jesus te kies... Kliek op GROEPDSDRUK.

Vrydag 01 April 2016

BROOD en brood

- God se gawes word uitgedeel op Tsintsabis!

Die NG Kerk Tsumeb het ‘n bedrywige Paasnaweek agter die rug. Behalwe ons gewone Vrydagoggend Nagmaal en Opstandingsdiens Sondag (hierdie preek is waargeneem deur ds. Janré van Jaarsveld van die Doppers) was ons die hele naweek betrokke by ‘n Paaskonferensie op Tsintsabis (so 60 km noord van Tsumeb) in samewerking met ds. Josef Gevers en sy span van Wildevy gemeente en Africa Outreach.

Franz Bense van Africa Outreach saam met sy vrou Brenda het ons kom besoek en met behulp van prente vir ons “VASTE FONDASIES - Skepping tot Christus” kom aanbied. Dis die hele Bybelse storielyn wat uitloop en fokus op die heerlike genoegsame werk van Jesus om ons redding te bewerk. Die vertrekpunt is die gedeelte in Lukas 24 waar die opgestane Jesus sy dissipels terugverwys na die Ou Testament toe Hy gesê het : "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is. Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (Lukas 24:44,45) 

Ja, die evangelie begin alreeds in Genesis en word tot vervulling gebring deur Jesus se kruis en opstanding! Voor die naweek het Franz die program ook op drie weeksaande in ons gemeente self aangebied en dit het voorwaar weer iets van die wonder van die evangelie laat kliek...

Op Tsintsabis is ‘n tent opgeslaan reg teenaan die kerkgeboutjie. ‘n Bekende Duitse boer in die omgewing, Reinhard Friederich het die tent beskikbaar gestel. Die prente is dan buite teen die muur vasgesit in volgorde om die hele storielyn maklik volgbaar te maak. Mense van Oerwoud en Bravo is ook aangery om die geleentheid te kon bywoon. Franz as Nataller het sy vuurdoop met die Afrikaans goed geslaag – hy moes eenvoudig maar net. Vanuit die Afrikaans is daar na Damara/Nama (die taal wat die Hei//om gebruik) sowel as !Kung (vir die Boesmans vanuit die Kavango gebied) getolk. Die kinders is ook nie vergeet nie en is onder andere deur Trudie en Emka bedien. In die aand is daar groepies gemaak om die waarhede van die dag verder te bespreek.

Die fokus van die hele byeenkoms was natuurlik, Jesus self, die BROOD van die lewe, maar mense van vlees en bloed het ook gewone brood nodig. Dis waar Tsumeb se gemeentelede so wonderlik hulle gewig ingegooi het, deur reëlings tref, skenkings, verskaffing van vervoer en self kom krom staan by die swart potte. (Dankie aan Andries Gous wat voorgevat het, maar ook aan ieder en elk wat meer as julle deel gedoen het) Onder ‘n groot Maroelaboom is die kos gemaak en daar was genoeg vir almal, selfs ‘n honger hond of twee kon ook ietsie vir die maag opraap. Daar was sop, brötchens, aartappels, maalvleis en wat nog, maar die lekkerste was seker Saterdagaand se koedoe braaivleis!

Dit was vir ons almal wat betrokke was ‘n wonderlike ervaring om op ‘n praktiese manier goed te doen aan die geringstes van die geringes. Ons het egter nie net gegee nie, maar ook so baie ontvang. Ons harte is ook verbly deur die prysenswaardige samewerking van Wildevy se mense. Ons bede is dat die Woord vrug sal dra in baie harte. Daar is ook die realistiese hoop dat verdere geleenthede vir getuienis sal voortvloei uit dit wat die naweek gebeur het.





Frans gooi die Afrikaans! En dan weerklink die Woord verder in Damara/Nama en !Kung.



Onder die maroelaboom moes ons letterlik bontstaan, want, dis nou die tyd wat die maroelas begin val... amper soos 'n bombardement!









Ook klein Natanie het gehelp om aartappels in die pot te gooi!














Bravo se mense sing vir ons.

Woensdag 02 Maart 2016

LEWENDE WATER OP TSINTSABIS!

Ek het vandag (Woensdagmiddag) saam met die Tsintsabiswyk van Wildevy  vir die Here dankie gesê vir die groot present van water. 'n Boorgat is gesink, 'n sonpomp geïnstalleer, 'n stelasie opgerig en pype aangelê sodat daar nou water is by ons kerk. Natuurlik het die Here hierdie geskenk deur die bemiddeling en harde werk van mense aan ons gegee. Baie dankie aan ons gemeentelede Andries Gous, Roelf van Wyk en Piet Erasmus wat by die praktiese oprigting betrokke was en ook aan almal wat dit finansieel moontlik gemaak het. (Ongelukkig is Andries deur werksverpligtinge verhinder om vandag saam te gaan)

Dit was heerlik om die geleentheid van vandag te benut om die Woord uit Johannes 7:37 en 38 te bring : "Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!  Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." Ons vier twee "waters" - die boorgat se water wat God ons gegee het, maar veral ook die lewende water wat Jesus vir sonde dors mense gee. Verniet!



Ons is baie dankbaar vir die water, want ons beplan 'n Paaskonferensie op Tsintsabis (25-28 Maart) saam met Africa Outreach. Bid asseblief vir die geleentheid en stel jouself ook beskikbaar om te help as die Here dit op jou hart lê!

Vrydag 05 Februarie 2016

DIE GROOT HONGER VAN DIE MENSEHART

- ‘n verlange na die genadeglorie van God!


“Laat my tog u heerlikheid sien.” Hierdie teks is geskrywe in die voorportaal van ons kerkgebou hier op Tsumeb. Dis nie toevallig daar nie, dis eintlik ‘n samevatting van die rede hoekom ons hier is! Kom ons kyk bietjie...

Moses rig ‘n passievolle versoek tot God in Eksodus 33:18. (OAV) “Laat my tog u heerlikheid sien.” Wat ‘n gewigtige smeekroep! Voordat ons kyk na hoe God hom geantwoord het moet ons eers na die konteks en agtergrond vra van Moses se woorde. In Eksodus 32 lees ons van die volk Israel se sondige opstand teen God, toe hulle die goue kalf aanbid het. Dit het die toorn van God laat ontvlam soos ons lees in 32:9,10. “Verder het die Here vir Moses gesê: "Ek het gesien dat dit ‘n opstandige volk is hierdie. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ‘n groot nasie maak." 

Moses pleit egter om genade by God en God vernietig nie die volk nie, al straf Hy hulle baie swaar. God gaan dan voort met sy plan om die volk na die beloofde land te lei, maar Hy sal dit deur ‘n engel doen. “Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde." (32:34) God wil nie meer saam met hulle trek nie, want Hy weet Hy sal hulle vernietig omdat hulle so moedswillig en hardkoppig is. “Julle is so ‘n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen." (33:3) Moses pleit egter by die Here om self saam te gaan. “Toe het Moses vir Hom gesê: "As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie." (33:15) En God staan die versoek toe! “Die Here het vir Moses geantwoord: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam." (33:17)

Dis teen hierdie agtergrond wat Moses vra om die heerlikheid van God te sien. (vers 18) Dis asof Hy die versekering en gerustelling wou verkry in die openbaring van God se heerlike karakter dat God vir Hom en die volk genadig sal wees! Dis asof hy vra, “Here wys my tog regtig wie U is sodat ek daarop kan vertrou dat U ons genadig sal wees en nie sal vernietig nie, al verdien ons om vernietig te word!” Toe antwoord die Here hom...

“Maar die Here sê: "Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.
Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie."
Die Here het verder gesê: "Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan.
As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ‘n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is.
Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie."
(Eksodus 33: 19-21)

Twee sake kom duidelik na vore:

God se heerlikheid gaan oor genade. God se heerlikheid is 'n genadige heerlikheid! God koppel sy Naam aan genade! Vers 19! In die volgende hoofstuk word dit bevestig. “Die Here het in ‘n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam "die Here" uitgeroep.
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.
Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag."
Moses het toe vinnig gebuig in eerbied
en gesê: "As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom."
(Eksodus 34:5-9)

God se genade beteken dat Hy vergifnis skenk aan skuldige mense en hulle 'n erfdeel gee. Aan mense wat dit nie verdien nie, soos hierdie hardkoppige volk. Dis werklike genade, Hy gee dit soos Hy besluit, dis op geen menslike verdienste of prestasie gegrond nie! Maar moenie kanse met God probeer vat nie, vergifnis is nie ‘n ligtelike saak nie. Moenie sy genade as swakheid opvat nie! Moenie dwaas wees soos sommige en dink dis "ons voorreg om te sondig en God se plig om te vergewe" nie!

God se genade is nie vanselfsprekend nie, dis 'n voorreg wat met diep ontsag en eerbiedige dankbaarheid ontvang moet word!

God het sy heerlikheid net ten dele aan Moses geopenbaar. Moses sien God net van agter af. God voldoen aan Moses se versoek, maar op beperkte skaal.

ONS SIEN 'N GROTER HEERLIKHEID AS MOSES!

Die goeie nuus vir onder die bedeling van die Nuwe Verbond is dat God nou deur Jesus sy heerlikheid aan ons ten volle bekend gemaak het. Om dit te verstaan moet ons blaai na Johannes 1:14-18. 

 “14. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. 15. Johannes getuig van Hom en roep uit: "Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar." 16.Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18.Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak."


Sien jy die raakpunte met die Eksodusgebeure is uiters opvallend? Dit lees trouens soos ‘n opvolg kommentaar oor die gedeelte wat ons in Eksodus gelees het! Dit gaan oor Jesus, die Woord, wat mens geword het. God maak Homself nou sigbaar vir mense! Ons het die voorreg om sy heerlikheid te sien. 

Jesus self is die finale volle antwoord op Moses se versoek! 

Hoe lyk hierdie heerlikheid wat Hy vertoon? Wat is die aard van God se heerlikheid? Vol genade en waarheid! (14) Dis twee wye begrippe wat handel oor God se barmhartigheid, guns, verbondsliefde, getrouheid, waaragtigheid. Dis ‘n duidelike terugverwysing na die gebeure in Eksodus 33-34* Spesifiek na 34:6 waar hierdie twee elemente beklemtoon word. Die punt is, die heerlikheid van God wat aan Moses geopenbaar is, word nou ten volle in Jesus sigbaar vir elkeen wat waarlik glo... En deur Jesus word ons lewens persoonlik aangeraak deur God se heerlikheid, want ons ONTVANG genade op genade! (16) Dis nie maar net iets waarvan ons teoreties moet kennis neem nie, die sondaar smaak hierdie genade as ons vergifnis en vryspraak in Jesus verkry! Meer nog, God is nie suinig met hierdie genade nie, dit kom uit sy oorvloed! Die res van die Johannes evangelie gee vir ons praktiese voorbeelde van hierdie oorvloed...die Samaritaanse vrou, die vermeerdering van die boord, die blinde man, die gelykenis van die Goeie Herder (Johannes 10:10 "lewe in oorvloed"), Petrus se herstel na sy groot val... God se openbaring aan Moses wat die wet ingesluit het was net ‘n tydelike voorlopige fase. Die volle openbaring van God se heerlikheid en genadige karakter beleef ons nou in Jesus. Daarom word ook die kontras tussen Jesus en Moses hier deur Johannes uitgelig. (17) Die genade van Jesus is die genade van die Nuwe Verbond!

Moses se verlangende begeerte en dringende behoefte is eintlik elke mens se begeerte. Dit verwoord die diepste nood en versugting van elke mens. Die groot honger en hunkering van elke hart. Ons is geskape met hierdie behoefte na God se heerlikheid. Ons wil vervulling en gerusstelling vind in God se heerlikheid en karakter! Ons smag na iets groter as net ‘n bestaan van eet en drink, grootword, trou, kinders kry... Ons is trouens geskape om God se heerlikheid te bewonder, gemaak om ons te verlustig en te verbly in die asemrowende en ontsagwekkende majesteit van God. Dis die hunkering van elke mens, al is alle mense nie noodwendig daarvan bewus nie. Wanneer die Heilige Gees in die mens werk, dan eers besef ons ons nood, ons sonde en die leegheid van ‘n lewe sonder God. Ons besef al die plaasvervangers van geld en plesier kan my nie bevredig nie, maar neem my net verder weg van God. En dan kom hierdie versugting op in ons harte: “Here, laat my tog U heerlikheid sien! ‘n Heerlikheid wat my nie sal vernietig nie, maar sal vergewe en herstel.”

En nou antwoord God ons deur Jesus. So lyk my heerlikheid, vol troue waaragtige genade! Niemand het God ooit gesien nie, selfs nie Moses nie. Maar nou kan ek en jy wat Jesus aangeneem het God se heerlikheid “sien”, want God se eie Seun Jesus Christus het Hom aan ons bekend gemaak, verklaar!

Het jy ‘n honger en dors na God se heerlikheid? Voel jy ‘n behoefte aan genade? Kom kry dit in Jesus! Hy nooi jou uit! “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37) Dis natuurlik nie net ’n eenmalige ervaring nie. Nee, elke dag saam met Jesus word ons iets meer bewus van God se heerlikheid. En tot in ewigheid sal ons ons in hierdie heerlikheid verbly en Hom daarvoor bewonder! AMEN

*So sien Carson dit in sy "The Gospel According to John"


Sondag 18 Oktober 2015

TSUMEB BESLUIT OOK

Hier is die besluit van die kerkraad  van die NGK TSUMEB wat geneem is in reaksie op die Algemene Sinode se besluite rondom homoseksualiteit wat soveel onmin veroorsaak.

VERKLARING  RAKENDE DIE BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

1.     Ons die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb distansieer onsself in die sterkste moontlike taal van die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudings.

2.     Ons verwerp die gesag en besluite van die Algemene Sinode in soverre dit bots met die Woord van God, want ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense.

3.     Ons betreur die teologiese verwarring en morele verval in die NG Kerk en haar teologiese fakulteite wat die groeibodem is van onbybelse besluite en praktyke soos hierdie.

4.     Ons doen ‘n baie ernstige beroep op die Ring van die Noorde en die Namibiese Sinode om ‘n ondubbelsinnige Bybelse standpunt in te neem rakende die hele kwessie van selfdegeslagverhoudings.

5.     Ons herbevestig ons standpunt oor selfdegeslagverhoudings soos wat ons dit reeds in ons ope brief aan die Namibiese afgevaardigdes na die Algemene Sinode geformuleer het. (Sien Bylaag A)







Bylaag A

OPE BRIEF AAN NAMIBIESE AFGEVAARDIGDES NA DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NGK 2015.
1.Die Kerkraad van die NG Kerk Tsumeb is bewus daarvan dat die omstrede kwessie van selfdegeslagverhoudings by die komende sitting van die Algemene Sinode onder bespreking sal kom. Ons het veral ook met verbystering en skok kennis geneem van Beskrywingspunt B15 wat volgens ons radikaal van alle Skrifnorme afwyk en nie eens op ‘n sinodale agenda hoort nie. Indien genoemde beskrywingspunt aanvaar sou word, voorsien ons skrikwekkende gevolge vir die kerk.
2.Die kerkraad wil dit graag onder die aandag van ons Namibiese afgevaardigdes bring dat hierdie aangeleentheid vir ons ‘n saak van baie groot erns is. Daarom wil ons die onderstaande as nederige getuienis lewer oor hoe ons die saak van homoseksualiteit in die lig van die Skrif (probeer) verstaan:

WAT LEER DIE BYBEL OOR HOMOSEKSUALITEIT EN ONS OPTREDE TEENOOR DIESULKES?

Kom ons kyk na ‘n paar duidelike Bybelse merkers wat ons koers behoort te bepaal in die hantering van en ons houding teenoor homoseksualiteit en almal wat daardeur geraak word:

Die kind van God moet alle mense liefhê. God verwag duidelik van ons om ons naaste, wat alle soorte sondaars insluit lief te hê soos ons self. Dis sommer ‘n baie radikale liefde, dit sluit ook ons vyande in. Dis tog duidelik dat ons ons voorvaderaanbidder of Hindoe of Moslem bure moet liefhê en met ordentlikheid behandel, al verwerp ons hulle afgodery en valse godsdiens as ‘n gruwel. Hoe anders gaan ons aan hulle die evangelie van God se genade en vergifnis oordra? Presies dieselfde geld ook vir ons homoseksuele naaste. Vriendskap en liefde hoef mos nie noodwendig goedkeuring van hulle dade te beteken nie? Laat ons dit onomwonde duidelik stel, daar is geen plek in die kerk van Jesus Christus vir kwetsende taal of “gaybashing” nie! (Haatspraak teen gays soos veral in Amerika bedryf byvoorbeeld deur die Westboro Baptist Church is 'n tragedie en doen die beeld van die evangelie oneindig baie skade aan.)

Homoseksuele dade opsigself laat nie mense hel toe gaan nie, net so min as wat heteroseksuele dade vir my ‘n plek in die hemel verseker. “Gaan gays hel toe?” is ‘n vraag met ‘n valse vertrekpunt. Mense gaan nie hel toe oor een of ander spesifieke sonde nie, maar omdat hulle die enigste weg tot God, Jesus Christus verwerp. Mense word ook nie gered deur een of anders sonde nie te doen nie, maar omdat hulle Jesus as hulle Middelaar en Hoëpriester ken. Hierdie is ‘n noodsaaklike klem om ‘n gesonde perspektief te vind. So maklik kan iemand skouers optrek en hooghartig sê : “Gelukkig is ek nie ‘n homo nie, gelukkig is ek nie ‘n dronklap nie...” Dis nie die saak nie, die vraag is altyd primêr : “Het jy die Seun van God?” Wie Hom nie het nie, het nie die lewe nie... (1 Johannes 5:12) Maar juis HY nooi sondaars, ja alle sondaars om by Hom rus te vind. (Matteus 11:28) Dit sal die vertrekpunt moet wees in ons getuienis teenoor ons homoseksuele naaste, soos trouens ook teenoor alle ander mense!

Homoseksuele aangetrokkenheid (oriëntasie) is deel van die gebrokenheid van ‘n gevalle mensdom en ‘n skepping wat deur sonde geskend en gevolglik aan verganklikheid onderworpe is. Romeine 8 is hieroor baie duidelik. In hierdie skepping werk nie als soos dit moet nie. Ons het te make met ‘n stukkende mensheid en ‘n versteurde verganklike skepping weens God se straf op die sonde van die mens. Die direkte oorsake van homoseksualiteit kan moontlik baie kompleks wees: dalk geneties(?), gesinsomstandighede, molestering, groepsdruk, verkeerde keuses vroeg in jou lewe, die aantrekkingskrag van ‘n alternatiewe leefstyl... Beteken dit nou dat ons homoseksuele gedrag as normaal of reg moet tipeer? Die feit dat ’n bepaalde gedrag moontlik fisies-genetiese oorsake sou kon hê, maak dit nog nie reg nie. Sommige mense is geneties meer geneig tot verslawing – dit maak alkohol of dwelmmisbruik nog nie reg nie. Sommige mense mag fisies meer geneig wees tot onaktiwiteit – dit verhef luiheid nie tot ‘n deug nie. ‘n Lae drumpel van frustrasie of ‘n siekte toestand soos diabetes mag bydra tot woede uitbarstings – dit beteken nie dat ons padwoede en geweld mag goedpraat nie. Sommige se natuurlike seksuele drange weens (hoë?) hormoonvlakke is sterker as ander s’n en mag ‘n bydraende faktor wees in owerspel, pornografie verslawing of poligamie. Dit beteken tog nie, dat ons hierdie dinge nie meer sonde mag noem nie. Gemolesteerde kinders word dikwels self molesteerders, maar moet ons nou pedofilie probeer regverdig? Vetsug is ‘n gekompliseerde toestand waarin genetiese, omgewings en emosionele faktore beslis ‘n rol speel. Dit beteken nie dat mens nie daarteen kan veg en dit oorwin nie! Die punt is, alle mense ly op een of ander wyse onder die sonde gebrokenheid in hierdie wêreld. Maar deur die genade van God in Jesus kan ons ten spyte van hierdie gebrokenheid teen sonde kies en ons positief beywer vir ‘n heilige lewe volgens God se wil.

Homoseksuele gedrag en dade is nie alleenlik sonde nie, maar ook ‘n besondere simptoom van die wesentlike sonde om God se heerskappy en heerlikheid te ontken. Die feit dat daar komplekse oorsake en baie faktore betrokke mag wees, verander niks aan hierdie feit nie. Drie redes kan daarvoor aangevoer word: 

  - Die Bybel sê dis sonde. Alle pogings om met slim jakkalsdraaie Bybelse gegewens iets anders te laat sê, as wat dit sê, misluk. Die betrokke tekste is oorbekend... ‘n Homoseksuele verbintenis is sondig en kan nooit ‘n huwelik genoem of kerklik gesanksioneer word nie.

  - Die Bybel maak dit duidelik dat God se wil vir die uitlewing van die mens se seksualiteit, die instelling van die huwelik is. Dis ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou. In die lig hiervan is buitehuwelikse en voorhuwelikse seks (saamblyery), egskeiding, owerspel, homoseksuele gedrag en alle vorme van seksuele losbandigheid sonde... al word dit met watter mooi name of edelmoedige motiewe gekamoefleer!

  - Romeine 1:18ev gee vir ons ‘n besondere perspektief oor die saak van homoseksualiteit. Dis onmiskenbaar opvallend dat die onnatuurlike verbintenisse tussen lede van dieselfde geslag hier vir besondere aandag uitgesonder word. Ja, al die ander sondes word ook verderaan genoem, maar homoseksuele verbintenisse kry beslis prominensie. Hoekom? Dit lyk asof Paulus sê dat die misplaaste eerbetoon van die mens om homself as skepsel te eer in plaas van die Skepper, daartoe aanleiding gee dat God die mens as straf oorgee aan ‘n verwronge misplaaste liefde – ‘n gerigtheid teen die natuur in op die (self) eie geslag in plaas van die teenoorgestelde geslag! Asof God wil sê : “Julle in julle rebelsheid draai alles verkeerd om, nou sal julle die konsekwensies daarvan op ‘n soortgelyke manier in julle diepste menswees, in julle seksualiteit ervaar.” Die verskynsel van homoseksualiteit is opsigself God se oordeel oor die rebelse menslike ras wat nagelaat het om Hom as God te vereer!

Homoseksuele moet opgeroep word tot geloof en bekering soos alle ander sondaars. Dit sluit aan wat reg aan die begin gesê is. Sondaars moet nie weg gewens of gehaat word nie, maar met liefde en erns tot bekering geroep word. (As die kerk nou homoseksuele verbintenisse gaan goedpraat of selfs wil, ontneem ons hulle in ‘n sin die voorreg van bekering.)

Homoseksuele hoef nie te wanhoop nie, daar is ook vir hulle soos vir alle sondaars wat hulle tot Jesus bekeer, vergifnis en verlossing. Die Woord is duidelik hieroor in Korintiërs 6:9-11. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Die implikasie is mos baie duidelik God is in staat om alle tipe sondaars te red, ook homoseksuele. Hulle WAS so...

Dis moontlik dat ‘n kind van God nog steeds ‘n stryd hê teen ‘n homoseksuele aangetrokkenheid.  Die duidelike onderskeid tussen vryspraak en heiligmaking moet altyd vasgehou word. Vryspraak (regverdiging) is ‘n eenmalige kwytskelding van skuld wat die sondaar onmiddellik en volledig ontvang as hy hom op Christus se soenverdienste werp. Heiligmaking is ‘n lewenslange stryd van die kind van God teen sonde en versoeking en sal eers finaal iets van die verlede wees, wanneer die kind van God verheerlik word by die wederkoms. Enige kind van God kan deur enige sonde (ook sondes van ‘n homoseksuele aard) versoek word en selfs ook val, maar moet opstaan en die stryd weer voortsit!

Die kerk van Jesus het ‘n besondere liefdesplig om haar lidmate wat in ‘n stryd teen sonde en twyfel gewikkel is by te staan; dit sluit mense in wat met homoseksuele versoekings worstel. In die stryd teen sonde en versoeking moet ons mekaar help, aanmoedig en mekaar se laste dra. ”Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself." (Galasiërs 6:1-3)

Die kerk van Jesus kan ‘n selibate leefstyl aan gebrokenes op hierdie terrein voorhou as ‘n heerlike manier om Christus se liefde te ervaar en toewyding aan Hom aan die wêreld te demonstreer! Dit blyk dat nie alle homoseksuele wat gered word, so herstel van selfde geslag aangetrokkenheid dat hulle ‘n huwelik kan sluit nie! Dit beteken nie dat hulle tweedeklas Christene hoef te wees nie. Die ongetroude staat is nie iets negatief volgens die Bybel nie. Dit kan die geleentheid skep vir ‘n standaard van diens en toewyding wat vir getroudes nie altyd moontlik is nie!

Die kerk van Jesus het ook ‘n plig om die heiligheid van die kerk tot eer van God te beskerm. Die Bybel aanvaar dit as vanselfsprekend dat ook die lidmate van die kerk steeds onvolmaakte mense is en in sonde kan val. Waar daar onberoulik in sonde volhard word, het die kerk egter ‘n liefdesplig om te vermaan en indien nodig verder te gaan deur afsnyding. Die motief bly die redding van die sondaar en die eer van God. As die kerk weens papbroekigheid, die soeke na mense eer, wêreldgelykvormigheid en die vrees vir vervolging (soos deur die goddelose media) terugdeins van hierdie plig, word die heil van die sondaar en die eer van God nie gedien nie! Op die ou end wen die kerk buitendien geen aansien deur ‘n pamperlang beleid nie, maar word nog meer ‘n voorwerp van bespotting omdat ons te bang is om die Woord waarin ons beweer ons glo, uit te voer!

‘n Lamsakkige kerk dwing geen respek af nie! So ‘n kerk verloor sy Bybelgetroue lidmate, terwyl sy in elk geval nooit genoeg aan die eise van die gay agenda kan voldoen nie! ONS MOET DIE WAARHEID MET LIEFDE VERKONDIG! So sal God verheerlik en sondaars gered word!

3.Ten slotte wil ons as kerkraad baie ernstig by ons Namibiese afgevaardigdes pleit om ‘n duidelik Bybelse standpunt in te neem, terwyl ons julle die wysheid en seën van die Here toewens.

Die Kerkraad
NG Kerk Tsumeb