BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 15 Julie 2019

WALGING, AFGRYSE...

EN ONTSTELTENIS!

Van erg na erger... Elke slag 'n bietjie verder en brutaler! DIE KERKBODE berig met groot fanfare oor die bevestiging van prop. Dietmann, 'n homoseksueeel wat onlangs met 'n man getroud is wat nou in die NG Kerk Stellenberg bevestig is as tentmakerleraar! En bid jou aan, met die oog op meditatiewe dienste!

Wat erger kan nog met ons kerkverband gebeur? Wanneer is genoeg, genoeg? Hoe moet Bybelgetroue leraars, lidmate en gemeentes protes aanteken? Moet ons maar oppak en aanbeweeg? Waarheen? Wanneer kom daar 'n punt dat die uittarting van God te ver gegaan het? Sodom het nie eens die Skrif gehad nie...

Dit raak my alles baie persoonlik en ingrypend. Ek is baie gelukkig in die NGK Tsumeb, ek is lief vir hierdie kudde, veral vir diegene wat elke Sondag met verlange na die Woord kom luister... Ons beleef goeie dinge in die gemeente. Maar my kerkverband maak dit vir my al moeiliker... bitterlik moeilik!

Ja, ek weet ons as plaaslike gemeente is ecclesia completa! Dankie daarvoor! Maar die NG etiket het 'n smet geword! Die NG verband 'n intense verleentheid!

Daarom as eerste stap wil ek my persoonlike walging, afgryse en ontsteltenis uitspreek oor hierdie optrede van NGK Stellenberg se kerkraad!

Maar wat verder? Dalk 'n persoonlike ontrekking aan alle NGK strukture? Vroeë aftrede? 'n Permanente staat van dolering?  Dis so kompleks... HELP my en BID vir my, vir ons, vir almal wat alhoewel diep bewus van ons eie gebrokenheid, tog dit ernstig bedoel met Jesus en Sy kerk... En ja, kan ander leraars wat vir die waarheid  staan ook maar 'n bietjie hulle stem laat hoor!

Luister maar net weer na die onfeilbare Woord! Romeine 1:22-27 is seker duidelik?

"Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe (hulle is nou op die kansel!) en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. "


As jy 'n sterk maag het, kan jy maar kliek op AFGRYSE!

As jy weer bly wil word oor God se krag kan jy kliek op GENADE  (Wonderlike eerlike getuienis van 'n voormalige Lesbiese postmodernis se ontdekking van God se genade!)

Vir die Tsumeb NG kerk se amptelik standpunt oor hierdie sake kliek op STANDPUNT


[foto - DIE KERKBODE]


Sondag 14 Julie 2019

EK BENODIG ‘N WONDERWERK...


[‘n Perspektief op wonderwerke vanuit Jesus se lydensgeskiedenis] 


“Ek benodig nou dringend ‘n wonderwerk…” Hoe dikwels het hierdie gedagte al by mens opgekom! So graag begeer ons ‘n mediese, finansiële of ander tipe wonder om net dinge ‘n bietjie makliker te maak of van ‘n ernstige krisis ontslae te raak. 

Jesus KAN wonderwerke doen! Hy het en Hy kan nog steeds. Jesus het sonder twyfel aangrypende en merkwaardige wonderwerke gedoen… Blindes kon weer sien, dowes kon weer hoor, lammes kon weer loop! Selfs dooies word opgewek! Lasarus was al vier dae in die graf... Geen natuurwet was (en is) vir Jesus onoorkomentlik nie! Hy maak wyn van water, loop op die see, maak ‘n storm stil… En tog hier ( in Lukas hoofstuk 22 en 23) tydens sy verhoor en kruisiging op Golgota lyk dit asof Jesus self ‘n wonderwerk nodig het. Dringend nodig het (om sy lewe te red!) en Hy doen niks, net mooi niks! Of dalk doen Hy juis iets? Hier is baie geleenthede vir wonderwerke en dit lyk asof Hy als net so laat verbygaan… 

Kom blaai saam : 

22:63,64 “Hulle het Hom geblinddoek en gesê: "Jy is mos ‘n profeet! Sê wie het jou geslaan!" En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.” Jesus word uitgelok om te profeteer wie Hom geslaan het. Hy kon dit natuurlik maklik doen. Jesus is mos alwetend! Dink aan Natanael (onder die vyeboom), Saggeus (bo in die vyeboom)... Die evangelies vertel dikwels hoe Jesus geweet het wat in harte van sy dissipels en sy vyande aangaan… 

23:8,9 “Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ‘n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie”. 

Die goddelose Herodes begeer ‘n wonderwerk. Bid jou aan! Sy motiewe is natuurlik alles behalwe suiwer. Jesus laat Homself egter nie misbruik nie! Jesus doen nie wonderwerke om ongelowiges te vermaak of skeptici te oortuig nie! 

23:33-39 “Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is." 

Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself." 

Daar was ook ‘n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die Jode." 

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!" 

Hier word die druk op Jesus om ‘n wonderwerk te doen baie groot- die leiers van die volk, die soldate en selfs een van die kwaaddoeners, ‘n medegekruisigde! Jesus word uitgedaag om Sy identiteit as Messias te bewys! Jesus kon so maklik van die kruis afkom, maar Hy doen dit nie, want Hy het Homself onderwerp aan die wil van sy Vader! (Dink aan sy gebedsoorgawe aan God se wil in Getsemane.) Sy Vader se wil kom eerste. Bo sy gerief, bo sy belange, bo sy eie reputasie! Jesus weier om toe te gee aan die versoeking om wonderwerke te doen om Homself te red of belangrik te maak. Net soos Hy geweier het om vir Homself brood in die woestyn uit klippe te maak toe die Satan Hom versoek het. Hy kon dit doen, maar dit sou beteken dat Hy die plan van Sy Vader sou verlaat. Dié plan was die pad van lyding, die kruisweg! 

Jesus kies nooit die kortpad van ‘n kitswonderwerk nie, maar die lang pad van gehoorsaamheid aan die plan van Sy Vader! 

Maar Jesus doen wel wonderwerke tot eer van sy Vader. En ons gaan dit nou sien... Die redding van ‘n veroordeelde misdadiger! 

23:40-43 “Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 
In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie." 
Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom." 
Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees." 

Hoe heerlik! REDDING van sonde, Satan, dood en hel! Dis die wonderwerk waarsonder ons nie kan nie. Gelukkig, dis juis die wonder wat Jesus graag, vryelik aan sondaars skenk uit genade! Deur persoonlike geloof in Hom. Stel jou die toneel voor. Hierdie man met waarskynlik weinig kennis en sy laaste bietjie asem en kwynende liggaamskrag, roep Jesus se Naam aan!... ‘n Vuil sondaar op sy laaste, roep desperaat na Jesus en hy word genadiglik verhoor! Dis die wonder wat Hy ook vir jou wil doen. Vandag! Roep Hom aan soos hierdie man! Vertrou Hom. Moenie omgee wat ander spot of sê nie! Stel jou hoop op die GEKRUISIGDE! 

En kort hierna gebeur daar ‘n teken met ‘n groter betekenis as al die genesings en wonders wat Jesus tot dusver gedoen het! (23:45) Die voorhangsel skeur – sondaars het vrye toegang tot God! Jesus se offer maak die pad na God oop! 

Die grootste magsdaad van God :

GOLGOTA EN DIE LEË GRAF

Die kruis en die opstanding drie dae hierna is die fokuspunt van God se wonderdade. Dis parallel met die eksodusgebeure. Dis die eksodus van die Nuwe Verbond.* God wat Homself so swak maak in Jesus deur as mens aan ‘n skandpaal te sterf. Die Almagtige Skepper wat toelaat dat sy klein skepseltjies Hom doodmartel aan ‘n stuk hout! God bewerk ‘n aangrypende wonder juis deur die lyding van sy Seun. Dis moontlik alleenlik omdat Jesus God se wil bo die tydelike voordeel of gerief van ‘n wonderwerk gestel het! Vir ewig sal ons Jesus dankbaar wees omdat Hy nie geswig het vir die versoekings van selfgesentreerde wonders nie, maar gehoorsaam die lydensbeker gedrink het wat Sy Vader vir Hom geskink het! 

TER OPSOMMING 

Pasop vir hierdie obsessie met wonderwerke wat daar tans heers. Om ‘n wonderwerk te begeer is geen noodwendige aanduiding van vroomheid of ‘n ware soeke na God nie! (Onthou maar net weer Herodes.) Terloops, daarom is die Prosperity Gospel so gewild. Alle mense soek immers die gerief wat mediese en finansiële wonders kan meebring! 

God kan inderdaad enige wonderwerk doen. Die belangrikste wat Hy doen is om sondaar harte te verander, van vyande van God tot aanbidders van God! En dis die wonder wat elke sondaar die nodigste het. Dis moontlik omdat die pad na God oopgemaak is deur Jesus, juis omdat Hy nie vir Homself gerief en veiligheid gesoek het deur ‘n wonderwerk nie, maar die wil van die Vader eerste gestel het. 

God se wil is ALTYD belangriker as wonderwerke! 

En net vinnig. Wat is God se wil dan vir jou en my? 

Twee sake staan sentraal. 

Johannes 6:28,29 “Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." 

Persoonlike geloofsvertroue in Jesus! Dis wat God nou van jou vra as sondaar. Dis prioriteit en nie een of ander wonder om jou lewe gemakliker te maak nie! 

1 Tessalonisense 4:3 “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.”  HEILIGHEID! Dis wat God se plan vir jou is as jy reeds sy kind is. Sy passie vir jou is om heiliger te word, meer soos Jesus en nie enigiets anders nie! 

Kry ‘n passie vir God se wil en ja op hierdie pad sal jy inderdaad wonders beleef!


*Trouens in Lukas 9:31 gebruik Lukas die woord exodoV (eksodus/uitgang) as verwysing na die kruisiging.



[So ietsie persoonlik. Ek het bostaande gepreek nou die afgelope Sondag in Owamboland in Verre Noord gemeente. Ek het Saterdag die 13de verjaar daarbo. Dit het my weer ver laat terugdink. Een en vyftig jaar gelede het ek my vyfde verjaarsdag ook daar in Wamboland gevier. Ek onthou nog my twee plastiek diere wat ek as persent gekry het. Dit was 'n ander Wamboland as vandag... tweespoorpaadjies, bosse en sand. Weinig winkels en lewensmiddele. Ma het vir ons vetkoek gebak. By die vriendelike Owambo's het ons hoenders en eiers gekry.  Dit was nog voor die vyandelikhede volskaals begin het. Ons het met die Landrover en karavaan rondbeweeg van plek tot plek. By een plek was die kinders nie juis witmense gewoond nie en het onder die tent se seile vir ons geloer... Ek het daar 'n klein knopkierietjie persent gekry wat ek vandag nog het. Hier is ek en my suster Maria.]

Saterdag 06 Julie 2019

WAAR IS GOD?

[God besoek sy volk…] 


Waar is God? Waar was God?” Mense is so lief om sinies, skepties en selfs half uitdagend hierdie vraag te vra. “Kyk vir Auschwitz!* Kyk oral… die onreg en swaarkry, my eie probleme en smarte… waar is God? Kyk, die sonde en verlorenheid van die wêreld! Die stukkende huwelike, gebroke huise, verwaarloosde kinders… Is God miskien ver, onbetrokke? Gee Hy om wat met sy skepping gebeur? Gee Hy om vir mense? Dink Hy aan ons, sien Hy ons raak?” 

Een van die duidelike temas in Lukas is dat God nie ver is nie, maar inderdaad sy volk BESOEK het. Wat leer Lukas oor God se besoek? Ons gaan na drie Skrifgedeeltes kyk. In al drie kry ons ‘n vorm van dieselfde Griekse woord, episkeptomai. (besoek) 

OU TESTAMENT 

God wat sy volk “besoek” is ‘n begrip wat natuurlik reeds uit die Ou Testament kom en dui op Goddelike ingrype. En let op! Dit kan redding sowel as oordeel inhou! 

Psalm 106:4 "Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,"  

Eksodus 20:5 “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;” 

3 GEDEELTES IN LUKAS : 

LOFSANG VAN SAGARIA (Lukas 1:67-79) God het sy volk besoek deur Jesus Christus en so verlossing gebring. Sagaria se lofsang :“Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,” (68) God besoek sy volk deur ‘n sterk Verlosser te stuur. Hierdie Verlosser kom uit die huis van Dawid. (1:69) Hy is in Betlehem die stad van Dawid gebore. Johannes was sy voorloper wat die pad vir Hom reggemaak het. Hierdie verlosser is Jesus en sy koms is die vervulling van die verbond wat God met Abram gesluit het. (1:72) God stuur nie ‘n plaasvervanger of net ‘n afgevaardigde nie. God besoek ons self; God self het mens geword! 

Die besoek van God deur Jesus is ‘n genadebesoek wat verlossing en vergifnis bewerk. 

Dit behels ‘n hele nuwe begin soos Jesus self in die sinagoge van Nasaret aangekondig het toe Hy uit die boekrol van die profeet Jesaja gelees het. “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” (Lukas 4:18-19.) ‘n Tydperk van heerlike herstel en vernuwing soos wat die Ou Testamentiese Jubeljaar ten doel gehad het. 

OPWEKKING VAN DIE SEUN VAN DIE WEDUWEE VAN NAIN (Lukas 7:11-17) Hierdie besoek van God behels die oorwinning oor die grootste vyand van die mens, die dood! Die dood is die groot verskrikking, die finale vyand. Vir alle vyande en probleme het die mens planne, maar as dit by die dood kom staan ons magteloos. Hier in Lukas 7 gebeur ‘n dramatiese ding. Jesus bring ‘n begrafnisstoet tot stilstand. Hy sê, daardeur : “STOP, moenie hierdie man begrawe nie, dis nie die einde nie, ek maak ‘n verskil, ek stuit nie vir die dood nie!” Net Jesus kan dit doen! ‘n Mens meng nie sommer in met ‘n begrafnis nie. 

Geen Boeddha, Mohammed, Amerikaanse TV evangelis of toordokter kan die dood aanvat nie! Jesus kan! 

Hy bevry ‘n jongman uit die kloue van die dood! Met Goddelike gesag gee Hy ‘n opdrag aan ‘n lyk en die lyk reageer. Dis ‘n bonatuurlike Goddelike daad en daarom besef die mense: “Nou het ons met God te doen!” “En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.” (Lukas 7:16 OAV) 

JESUS HUIL OOR JERUSALEM Lukas 19:41-44 God se genadebesoek het by die meeste mense verbygegaan en die oordeel oor hulle afgebring. Jesus verwyt Jerusalem op ‘n passievolle manier. Die Seun van God huil terwyl Hy hierdie woorde sê! Dis met trane dat Jesus ‘n oordeel uitspreek : “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (Lukas 19:44 ) Jerusalem se mense was blind vir en onaangeraak deur die genadegeleentheid wat God hulle gebied het! Hulle het die oordeel oor hulleself gebring – dit het letterlik so gebeur in 70 nC. ‘n Voorsmaak van die hel! 

God het die wêreld besoek in Jesus Christus. 

God het Jerusalem besoek deur Jesus met sy boodskap van genade en verlossing. God het ons, hier op Tsumeb kom besoek. Hy het jou kom besoek… Hy kan nie nog nader en nog duideliker na ons toe kom nie. Die kruis is die groot baken van die besoek. Die heerlikheid van die besoek is bevestig deur die OPSTANDING! God se besoek gaan vandag nog steeds voort. Jesus is steeds deur sy Gees teenwoordig. Hy is steeds die bevryder van sonde , satan, dood en hel. Hy maak wel gebruik van Geesvervulde mense om hierdie boodskap uit te dra. 

Die groot vraag is: Hoe reageer jy op hierdie besoek? Jy kan nie neutraal staan nie! Of jy is positief en reageer deur geloof en bekering of jy werp God se besoek deur onbekeerdheid. God se besoek is ‘n onvergelyklike voorreg en genade, maar ons moet pasop, dis ook ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid. Deur nie te bekeer nie slaan ek die deur in God se gesig toe! Jesus het gehuil oor Jerusalem. Huil Hy dalk vandag oor JOU?

(Terloops, God is via Jesus diep emosioneel by die mens betrokke. Hy is nie koud, klinies en afsydig nie. Jesus se hart word geraak deur die lot van die weduwee wat haar seun verloor het. Net so word sy hart geraak deur Jerusalem se verhardheid wat sou uitloop op 'n verskriklike oordeel!)

Wie die genadedeur toeslaan kan God se besoek op ‘n ander manier, SY OORDEEL verwag! 

*Dis so maklik om in tye van rampe en nood te vra : Waar is God? Ja, God was ook in Auschwitz, in sy toorn. Hy gee aan die goddelose laksmanne ruimte om die boosheid van ‘n samelewing te demonstreer wat van God afvallig geword het en teruggekeer het na die ou Germaanse gode. ‘n Voorsmaak van die hel! Gevolge van genadeverwerping! (soos 70 nC) Die boosheid en wreedheid van die mens is juis die gevolg van mense wat God nie as God erken nie. Die wrange ironie is - Dieselfde mense wat God blameer vir Auschwitz, vir droogte, vir ongelukke en siektes is juis dikwels ook die mense wat nie wil hê dat God naby moet wees in hulle lewens nie. Die geskiedenis bewys dit. Dis juis die einste mense in Europa wat God verwyt het vir Auschwitz en die wreedheid van die oorlog wat miljoene geëis het, wat gekies het om aborsieklinieke te bou wat al baie meer lewens as Nazi kampe vernietig het! Dis juis die mense ook in ons dag wat kies om God se reëls vir die huwelik te verbreek en Hom nie naby hulle wil hê nie, wat die hardste kla oor God wat nie iets doen aan plaasmoorde, ongelukke of siektes nie. Hulle wil juis nie hê God moet by wees as hulle ongetroud saambly, skelm besigheid doen en lieg en bedrieg nie. Sien “Klank en Weerklank”, C. Trimp, p106

Maandag 01 Julie 2019

GELOOFSKRISIS

- MAAK DIT NOG SIN OM GOD TE DIEN? 



Ons hoor hier in MALEAGI 3:14 - 4:3 van ‘n groot krisis by gelowiges. Hoor hoe kla God se mense in selfbejammering : “Dit is nutteloos om God te dien.” (14) Dis ‘n beskuldiging dat dit geen sin maak of waarde het om God te dien nie. Klink dit bekend? Kinders van God ervaar vandag nog steeds ook hierdie krisis. Juis in hierdie tye van ellende, droogte en ekonomiese agteruitgang. Ons voel ook partykeer so, ons vra ook die vraag al is dit dalk nie hardop nie. Dit was ’n algemene probleem van destyds (sien Psalm 73) Maar ook nou. Ons voel verontreg, selfs dalk bietjie verneuk. “Die Here maak nie mooi met my nie, dit lyk asof Hy nie raaksien wat ek doen nie, dit lyk asof Hy onregverdig is. Het Hy dalk vergeet van my opofferings, my gebede, my bydraes...?” 

HET GOD MY VERGEET?

Het jy al so gevoel? (Wees maar eerlik met jouself) Wanneer gebeur dit veral dat ons hierdie vrae vra? Veral as ons onsself met ander vergelyk! Dit was presies hierdie mense se houding. “Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!" (15) Jy wonder en worstel met : “Here ek dien U, maar ek is siek en daardie goddelose ou is blakend gesond, Here ek dien U, ek sukkel om kop bo water te hou en daardie goddelose ou ry die kruin van sukses. Here, ek dien u maar kyk net die rampe en ellendes wat oor my rol, en die goddelose fladder sorgeloos van plesier na plesier! Here ek probeer goed wees vir my vrou, maar sy bly afsydig teenoor my!” 

So maklik kom ons dan tot ’n vermetele en verregaande gevolgtrekking: “Ag, nee wat, dit is nie die moeite werd om God te dien nie, dit maak nie sin nie....” 

GOD ANTWOORD : DIE GEDENKBOEK

God reageer op die vermetele gedagtes van die gelowiges. (16) Ja, dis vermetel om teen God in opstand te kom en die waarde om Hom te dien te bevraagteken. Maar tog, dis so wonderlik, Hy antwoord sy kinders, Hy verskree of verwyt nie, Hy gee ’n rustige antwoord. Hy verseker hulle, Hy weet presies wat aangaan. Daar is ’n Gedenkboek met ons name voor sy aangesig. (16b) Hy neem kennis van almal wat aan Hom behoort. Die Here ken dié wat Syne is! Die Here gee ag op die wat eerbied vir sy Naam het. En dis die kernwaarheid wat ons moet raaksien : eerbied vir Sy Naam! Dit wil sê sy Persoon. (Dis ’n belangrike tema in die boek Maleagi) 

Ons moenie God dien omdat Hy iets vir ons doen nie! Ons is immers sy dienaars, Hy is nie ons dienaar nie! Ons dien God omdat ons eerbied het, heilige ontsag, respek vir Hom omdat Hy die ontsagwekkende, heerlike groot God is - die skepper van die Heelal. Die Volmaakte, die Heerlike, die Almagtige! Voor Hom sal elke knie buig en elke tong erken dat Hy die Here is! 

Ons dien God omdat HY GOD IS! 

Omdat die hele skepping aan Hom behoort. Omdat Hy sy liefde aan ons deur Jesus reeds bewys het! 

Ja, beslis wil God ook hê ons moet weet Hy gee om vir en Hy weet van ons : God is nie onkundig, passief, magteloos of onregverdig nie. 

God gaan ingryp en dan sal daar ’n duidelike verskil wees tussen die gereddes en die ongelowiges. (op sleutelmomente in die geskiedenis het Hy dit wel al gedoen en het Hy Sy strawwe sigbaar gemaak... byv. die sondvloed, tydens die tien plae in Egipte ens.) Wees maar verseker daar wag ’n dag van afrekening oor die opstandiges! (4:1) “Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.” 

DIE DAG VAN DIE HERE! 

Wat word bedoel met die Dag van die Here? Dis ’n algemene begrip in die Ou Testament. Dis die simbool van Goddelike ingrype, van wraak en afrekening. Byvoorbeeld : 

“Huil, want die dag van die Here is naby; dit bring verwoesting, dit kom van die Almagtige af.” (Jesaja 13:6) 

“Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom.” (Joël 2:31) 

Maar die dag van die Here is vir God se mense juis ook ‘n dag van redding! 

“Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers. Julle sal die goddeloses vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige." (4:2,3) 

Dit word als vervul in Jesus. Die dag van die Here verwys na die oordeel sowel as die redding wat aanbreek in Jesus. Dis ’n omvattende aanduiding van die draaipunt in die geskiedenis wat met Jesus se koms ’n werklikheid geword het. Dit gaan nie net oor die wederkoms nie, maar die totale ingryping van God in die laaste dae, wat wel die wederkoms insluit. Dis die tyd waarin ons nou reeds leef! Dis nie net ’n enkele moment nie, maar ’n hele tydperk, ‘n periode van beslissing en skeiding. In ’n sekere sin is dit nou reeds aan die gang. Waar die evangelie verkondig word gebeur dit reeds. Waar die evangelie verkondig word spel dit oordeel vir diegene wat dit verwerp, maar heerlike redding en genade vir elkeen wat Jesus aanvaar. Maar die Dag van die Here sluit ook in die finale oordeel tydens die wederkoms, wanneer daar ewige finale skeiding sal kom. 

Praktiese implikasies vir julle wat God ken: 

· Dien die Here sonder om jouself met andere te vergelyk! Kyk na die Here en nie na ander mense nie. Stap die pad saam met die Here - die spesifieke unieke paadjie wat Hy vir jou bedoel het. (Met al die bulte en opdraandes) Afgunstigheid op ander steel jou blydskap, en verswak jou geloof. 

· Ons moet ons motiewe ondersoek waarom ons God dien. Ons moet God dien omdat ons eerbied vir Sy Naam, sy persoon het. Hoe gebeur dit? Waar sien ons sy heerlikheid wat eerbied, ontsag maar ook dankbaarheid by ons wek? As ons die opofferende liefde, die heerlikheid, die skoonheid, die voortreflikheid van Jesus Christus raaksien! Hy, Jesus is die beeld van die ontsagwekkende heerlike God! (Kol 1:15-20) Trouens, Sy Naam is die enigste Naam deur wie ons gered kan word. (Handelinge 4:12) 

· Om die Here te verwyt en te wantrou is verregaande vermetelheid. Ons moet ons bekeer van hierdie verkeerde gedagtes. Dis ’n baie ernstige sonde! Ons glo so maklik verkeerde dinge oor God, ons betwyfel sy wysheid en besluite, sy regverdigheid, goedheid, getrouheid! Ons is wantrouig oor sy liefde! ((Dit ten spyte van Getsemane en die kruis!) Bely jou verkeerde gedagtes oor God - Hy sal vergewe! 

· Moenie verkeerde verwagtings hê oor wat Jesus nou kom doen nie. Hy beloof nie nou in hierdie wêreld voorspoed sukses en gerief nie. Hy gee nêrens waarborge dat ons nie onreg, onregverdigheid of swaarkry sal beleef nie. Hy belowe wel vergifnis, verlossing van sondebande, vrede, ’n ewige erfenis! 

· Vind jou vreugde nou reeds in die feit dat God goed en regverdig is. Dis ’n feit al sien ons dit nie. Die GEDENKBOEK! Alles is in God se boek opgeskryf, niks ontgaan sy alsiende oë nie! Wees jy maar net rustig! Reg en geregtigheid sal geskied! 

· Vertrou op God se beloftes van verlossing. Dit word beskryf as redding, genesing en vryheid. Jou hele menswees word geraak. Hierdie beloftes het reeds waar geword in Jesus en sal volkome waar word by die wederkoms. 

· Vertrou God se Sy oordele aan Hom toe. God stel sy oordele uit juis om mense kans te gee om te bekeer! “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte (oor die wederkoms) uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Petrus 3:9) Maar God slaap nie, God se uitstel beteken nie afstel nie - daar kom ’n besliste finale oordeel. Dit gaan wees soos ’n oond, geen ontsnapping gaan moontlik wees nie! As jy nie aan God behoort nie, bekeer jou NOU! 

Die belangrikste : 

Dit maak beslis sin om God te ken en te dien deur Jesus Christus. Dis voorwaar al wat sin maak in hierdie deurmekaar wêreld. 

Wat anders maak sin? Wie anders bied ewige sekuriteit? Om God te ken is al wat sin maak, want die mens is verganklik, alles wat ons besit is verganklik en gaan verby! Alle mense is onbetroubaar en hulle beloftes bedrieglik. Wie anders as God en net God is waarlik opreg, eerlik, betroubaar? Dis die moeite werd om God te dien deur Sy Seun Jesus, nou en vir die ewigheid. DIEN JY HOM? 

*Maleagi 3:13 Julle het vermetele dinge oor My kwytgeraak, sê die Here. Maar julle vra: "Wat het ons oor U gesê?" 

14 Julle het gesê: "Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom, die Here die Almagtige? 

15 Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!" 

16 Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is ‘n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. 

17 Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk. 

18 Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie. 

Maleagi 4:1 Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie. 

2 Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers. 

3 Julle sal die goddeloses vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

(foto - Duncan en Ida Irvine)