BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Keuse. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Keuse. Wys alle plasings

Vrydag 10 Mei 2019

RUT : RAMP TOT TRIOMF

Rut is ‘n aangrypende liefdesverhaal. Min liefdesverhale begin egter op ‘n droewiger noot. (Lees gerus nou eers Rut hoofstuk 1) Dit begin met gebrek, droogte en dood! Dit lyk asof als wat vir hierdie familie verkeerd kan loop wel verkeerd loop. Jy ken dalk ook sulke tye... 

En dis nie net droogte en dood nie, maar so tussen die lyne is hier nog ook ‘n ander tragedie. Moenie vergeet nie, die twee seuns wat nou gesterf het, was getroud met Moabiete! Dit was duidelik teen God se wil. “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” (Deut 23:3) 

NAOMI WORD MARA 

Kyk bietjie na die verhaal uit Naomi se oogpunt. Sonder man, sonder seuns, sonder ‘n toekoms…Wanneer als so verkeerd loop, gooi dit jou lewe onderstebo en dan gebeur daar dikwels, seker die ergste wat met ‘n mens kan gebeur – wantroue oor God se liefde! In geen onduidelike taal nie, verwyt Naomi vir God! Hoor haar pyn:

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai." (1:13) 

“Hierop het Naomi vir hulle gesê: "Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 
My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring." (1:20,21) 

Hartseer en stukkend! Haar lewe was vol en nou is dit leeg! Sy is so stukkend dit tas haar hele identiteit aan – Sy wil nou Mara genoem word en nie meer Naomi nie. Die kontras tussen die twee name is baie groot. Naomi beteken, “lieflik, aangenaam”. Mara beteken “bitter”. 

GODDELIKE INGRYPE;MENSLIKE KEUSES! 

Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Dit eindig nie by bitterheid en depressie nie. Die Here doen wonderlike dinge in hierdie uitsiglose hopelose situasie. Maar belangrik : In hierdie wonderlike dinge wat God doen is mense en hulle keuses betrokke. 

Twee belangrike keuses is opvallend. Rut se keuse om saam met Naomi te gaan. Dis nie net ‘n stukkie medemenslikheid nie, dis eintlik ‘n radikale bekering. Sy was ‘n heiden Moabiet, maar sy bekeer haar tot die lewende God. “Maar Rut het geantwoord: "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (1:16-17) Hierdie keuse van Rut, wat nie ‘n maklike keuse was nie, het verreikende gevolge gehad. Heerlike gevolge wat sy nooit sou kon besef nie. 

Maar daar is ook Boas se keuse. Boas was ‘n verlangse familielid, ‘n welvarende man en Rut het gaan koringare optel op sy lande. En om die lang storie kort te maak (want dit het nie sommer als vanself gebeur nie), het Boas besluit om homself oor Naomi te ontferm en haar losser te word (volgens destyds se gebruike) en met haar te trou! 

Dit alles loop uit op ‘n heerlike einde. Ons lees:

“Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 

Die vrouens sê toe vir Naomi: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 
en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring." 
Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. 
Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: "‘n Seun is vir Naomi gebore." Obed was die voorvader van Dawid.” (4:13-17) 

Wat ‘n geweldige kontras met die begin van die verhaal. Van ‘n doodloopstraat na ‘n belofteryke toekomspad. Van ‘n dodelys, na ‘n geslagsregister. In die begin hoor ons ‘n bitter verwytklag teen God uit Naomi se mond, hier hoor ons lofsange aan die Here uit die mond van ‘n klomp vroue! 

God se werke en menslike keuses is in verweef met mekaar. Ja, dis uiteindelik God wat ‘n ramp verander in ‘n triomf – en tog maak Hy gebruik van menslike keuses. Menslike keuses is belangrik! Jou keuses het gevolge! Dink weer aan Rut se keuse om die ware God te dien en die afgode te los. Dink aan Boas se keuse om hom oor hierdie arm meisie te ontferm. Dit het heerlike gevolge gehad! 

Is jou keuse op die oomblik die regte keuse in die lig van God se Woord? 

En onthou die belangrikste keuse ooit – ‘n keuse vir Jesus! Dis ‘n eenmalige keuse, maar ook ‘n voortdurende keuse! Hoe kies jy nou? 

KLEIN SKARNIERE 

Iemand stel dit so : “Groot deure draai op klein skarniere!” Een regte keuse, hoe gering dit ook al mag blyk, het reuse positiewe gevolge vir jou en vir baie ander mense. Baie groter as wat jy dalk sou besef. In jou ellende en hartseer. Daarom - kies reg, kies volgens wat God wil. Kies volgens die Woord! Doen die regte ding, doen wat jy weet jy moet nou doen, al lyk dit hoe onbelangrik of nederig. As Rut nie bereid was om die nederige werk te gaan doen om te gaan are op tel op die lande nie, sou sy nooit by Boas uitgekom het nie! 

Doen jy net dit wat jy kan en moet, God sal die res doen! 


GOD SE GROTER PLAN : DUBBELE PLUS!

Die boek Rut is ‘n boodskap van hoop in tye van swaarkry en ellende. Gebrek, droogte en dood en ja, ook mislukking en sonde is nie die einde nie! Ook jou ellende en hartseer wat jy nou beleef is nie die einde nie! Hartseer omstandighede en gebeure het nie die laaste sê in ons lewens nie. God verander ‘n minus in ‘n plus. Maar God se plan is ook groter as wat ons as mense kan besef en verstaan. Hoe so? Die verhaal van Rut is natuurlik baie meer as ‘n liefdesverhaal tussen twee mense. Dis baie meer as ‘n mooi einde van "hulle het lank en gelukkig gelewe..."  Dis die liefdesverhaal van God vir sondaars. Dis uiteindelik verhaal van God se Seun, want hierdie geslagsregister aan die einde van die boek koppel die bekeerde Moabiet, Rut aan Jesus, via die voorvader Dawid. Rut word ‘n groot-groot oumagrootjie van Jesus! (Sy sou dit in haar leeftyd nooit kon droom of raai nie) Matteus noem ook spesifiek haar naam in sy geslagsregister van Jesus aan die begin van sy evangelie! (Matt 1:5) Die noodsituasie van ‘n gewone Israelitiese familie word deur God in ‘n seën vir ‘n hele volk (Dawid), maar meer nog in ‘n seën vir die wêreld omskep. (Jesus) God het ‘n minus in ‘n plus verander en uiteindelik in ‘n dubbele plus!* 

God ken jou persoonlike detailomstandighede en gryp genadiglik in, maar God sien ook die groter prentjie van Sy RAADSPLANNE wat ek en jy nie nou verstaan nie. Dis ‘n heerlike troos!

*W.S.Prinsloo, Die boek Rut

Vrydag 20 April 2018

SWAPE EN SOTTE SAL SINK!

Sonder wysheid wag ellende! Wat is wysheid en waar pas dit in? Het jy wysheid? Soos jy sal weet is daar verskillende literatuursoorte in die Bybel, onder andere...geskiedkundige boeke, profetiese boeke, briewe aan gemeentes en persone ens. Daar is ook wysheidsboeke. Ons dink veral hier aan boeke in die Ou Testament soos Spreuke, Prediker, Job en sekere Psalms. Waar pas hierdie wysheidsboeke in? Net so vinnig : Die geskiedkundige boeke vertel vir ons van God se groot reddingsdade. (Dink byvoorbeeld aan Eksodus en Josua) Dit handel oor God wat sy volk uit Egipte uit die slawerny bevry het en vir hulle na ‘n nuwe vrugbare land gebring het. Maar nou moes hierdie volk weet hoe om gelukkig en gehoorsaam in die nuwe land, hulle erfenis te leef. En hiervoor is wysheid nodig. 


Dit handel oor die vraag oor hoe om die alledaagse lewe met sy probleme, versoekings, slaggate en uitdagings te verstaan en regverdig te leef. Hoe om sin te maak van die lewe en sinvol te leef as God se mense. Om God se wil in die praktyk toe te pas, om die regte keuses te maak. 

DIE VROU WAT ROEP 


Aan die begin van Spreuke word ons bekendgestel met die grondbeginsels van die wysheid. Wysheid word hier vanaf Spreuke 1:20 gepersonifieer (uitgebeeld) as ‘n vrou. 


20.Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, 

21.sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: 

22. "Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ‘n afkeer hê van kennis? 

23.As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. (Spreuke 1:20-23) 

BAIE ERNSTIG! 

Sy roep hardop uit, gee ‘n waarskuwing, maar maak ook ‘n belofte. (22,23) Wat my getref het is die bytende en verwytende aspek van die wysheid. “Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,” (25,26) Dit klink so half vreemd. Pas so ‘n skerp verwytende toon by die Bybel? Is dit nie leedvermakerig nie? (Schadenfreude is die pragtig beskrywende Duitse woord) Ek dink nie Spreuke wil sê dat die wysheid ongeskik, ongevoelig of onbeskof is nie. Spreuke onderstreep net die erns van die saak. Dodelike erns! Dade het gevolge. Dwase dade het skrikwekkende en vernietigende gevolge. 

Dwaasheid lei tot ‘n ramp! 
Slegte keuses bring swaarkry. 
Sonder wysheid wag ellende. 
Swape en sotte sal sink! 

Klink rof nê? Ons leef in ‘n tyd waarin niemand gewaarsku wil word nie, niemand wil enige voorskrifte hoor nie. “Moenie vir my preek nie, ek is vry om te maak soos ek wil, ek is mos my eie baas” of “Moenie vir my sê ek mag nie rook nie, wie wil nou met pienk longe doodgaan?” en baie keer : “Wat is verkeerd met saamwoon voor die huwelik, watter verskil maak ‘n stukkie papier?” 

Wysheidslering is ongewild en bots teen die tydsgees. Alle gesag en norm word bevraagteken... ouers, onderwysers, kerk, die Bybel se gesag, ja God se gesag word geminag en sy norme weggesmyt. Daar mag nie gewaarsku of raad gegee word nie. En as daar skrikwekkende gevolge is, dan moet ons tog net simpatiek wees en moet ons mooi soetsappige trooswoordjies rig wat niemand in elk geval glo nie... 

Ons het die perspektief van ‘n boek soos Spreuke ontsettend baie nodig! Daar is ‘n dringende behoefte aan Spreuke se lering oor wysheid. En meer spesifiek die beginsels wat daaragter sit. En baie belangrik, ons moet natuurlik weet hoe om dit te verstaan en toe te pas binne die konteks van die Nuwe Testament. 

TWEE BELANGRIKE HOEKPENNE 

Waaroor gaan die wysheid in Spreuke? Net twee algemene vertrekpunte. 

1.Die kernbeginsel van wysheid is om God te ken. “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (1:7) Wysheid het dus niks te maak met intelligensie nie, maar met onderwerping aan God se gesag. Die voorwaarde vir wysheid is nie ‘n hoë IK nie, maar ‘n groot respek vir God! Wysheid gaan dus ook reeds in die Ou Testament nie net oor ‘n klomp losstaande reëls en regulasies nie. Dit gaan oor liefde vir God. Wie God ken en liefhet en respekteer sal erns maak met God se ordes en voorskrifte. En onthou, God se norme, wette en waardes was nooit bedoel om ons vreugde te steel of die lewe vaal en vervelig te maak nie. God se wysheid gaan oor ons welsyn! Dis vir ons beswil en tot ons voordeel! 

2.Wat jy met die wysheid maak het gevolge. Ons keuses het gevolge! Die verontagsaming van wysheid het skrikwekkende uitkomste. Wie die raad van die wysheid verwerp oor sake soos owerspel, luiheid, bedrog en dronkenskap...sal ly onder die bittere nagevolge. Vat nou byvoorbeeld : “Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank.” (Spreuke 23:29,30) Die anderkant is net so waar. Gehoorsaamheid aan die wysheid het positiewe gevolge. “"Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie." (32,33) 

MEER AS REËLS : DIE ALWYSE EEN 

In die Nuwe Testament kry ons ‘n baie dieper en verrassende perspektief op die wysheid. Wysheid is meer as reëls, wysheid is ‘n Persoon. JESUS! Wysheid is in Jesus te vind, maar meer nog, Hyself is die wysheid! Jesus sinspeel daarop in Lukas 11:31. “Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!” Jesus is die groot Wyse, groter as Salomo! Dit word baie duidelik gestel in 1 Korintiërs 1:30. “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” Jesus is die bron van alle wysheid wat ons nodig het. In Hom is al die wysheid te vinde! “Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind." (Kolossense 2:2,3) Hy is genoegsaam, Hy kan ons nooit verveel nie en ook nooit teleurstel nie. Daar is geen ander geheime resep tot Godgegewe lewensvreugde as Hyself nie! 

Hoe raak Jesus as die beliggaming van alle wysheid ons dan nou prakties? Om Jesus te ken en as Here te erken is om toe te laat dat Hy ons daaglikse keuses en leefstyl beïnvloed. Baie belangrik : Die wysheid gaan nie bloot oor ‘n lang lys moets en moenies nie, dit behels nie bloot ‘n klomp koue kliniese reëls nie. Dit behels verhoudingswysheid. Dit gaan oor gehoorsaamheid aan my Verlosser wat my oneindig liefhet sy lewe vir my gegee het. Dit gaan oor dankbaarheid. Dit gaan daaroor dat ek Hom wil eer en gelukkig maak en eerste stel in my besluite. Alle etiese besluite moet ek oorweeg vanuit die oogpunt van Jesus as my Verlosser en Koning! Die vraag is dus nie, is daar ‘n teks wat dit of dat verbied nie. Die vraag is wat doen dit wat ek wil besluit aan die beeld van Jesus in my lewe, hoe raak dit my liefde vir Hom, is dit hoe ek my lojaliteit aan Hom as Koning gaan bewys? Waarmee is jy tans in jou lewe besig? Wat sê jou keuses, jou stokperdjies, jou manier van besigheid doen van jou verhouding met Jesus as die WYSHEID van God? 

Om Jesus as wysheid te gehoorsaam en te vertrou is om die lewe te hê. Dis die beginsels wat Hy uitspel onder andere in die bekende Bergrede. Jesus verduidelik die gevolge van gehoorsaam sowel as ongehoorsaamheid aan Hom op treffende wyse met die beeld van die twee huise. Sonder Jesus is jy ‘n dwaas en sal vir ewigheid ‘n dwaas wees en jou hele bestaan sal ineenstort. Met Jesus is jy ‘n wyse, die wyse man wie se huis op die Rots gebou is en wat in al die storms van die lewe sal staande bly. Ewig staande sal bly, ook in die eindoordeel! 

Wanneer ons Jesus self sien as die volle vervulling en beliggaming van wysheid maak Spreuke 8:34-36 so wonderlik sin: "Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood." 

Om Jesus te verwerp is om die wysheid te verwerp, dis ‘n keuse vir die dood. Om jouself aan Hom te onderwerp, is om wysheid te kies dis ‘n keuse vir die lewe!


Wysheid is om 'n sambreel gereed te hê, wanneer die reën kom!

Donderdag 27 Oktober 2016

"Pa, seën my tog ook!"

- die smartkreet van ‘n jongman wat ‘n verkeerde keuse gemaak het.


Besondere kosbare en gesogte erfstukke word van geslag na geslag oorgedra en is dikwels onberekenbaar waardevol. ‘n Ou geweer deur ‘n voorsaat gebruik op die slagveld, ‘n oorspronklike skildery of vaste eiendom soos ‘n plaas... Vandag gaan dit oor iemand wat ‘n ontsaglik kosbare erfporsie vir altyd misgeloop het.

Ons ken darem seker almal die geskiedenis van Jakob en Esau. Jakob het hom vermom en is deur die ou blinde Isak op sy sterfbed geseën. Kort daarna het Esau van die jagveld by sy pa Isak gekom om geseën te word, maar moes hoor dat Isak reeds sy seën uitgedeel, en dit aan Jakob! 

Dan lees ons :

“Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: ‘Pa, seën my tog ook!’" (Gen 27:34) 

Hartverskeurende woorde! Hoor hoe kreun hy dit uit : “Pa, seën my tog ook!” Dis die smartkreet van ‘n stukkende en wanhopige jongman. Dis seker van die hartseerste woorde en mees tragiese gebeure in die Bybel. Esau het die seën as eersgeborene van sy pa misgeloop en niks kon dit ooit verander nie. Esau het iets ontsettend kosbaar gemis, en hy kon dit nooit weer kry nie. Esau se spyt was vir ewig te laat!

EERSGEBOORTEREG

Wat was so kosbaar aan die eersgeboortereg en aan hierdie seën? Hoekom was dit so belangrik? Om die betekenis van hierdie gebeurtenis reg te verstaan moet ons terug gaan na Esau se oupa - Abram. Ons weet God het Abram geroep en het heerlike beloftes aan hom gemaak en hom geseën. Abram het dus besondere gunste van God geniet, God was hom besonder genadig. God was goed vir Abram. Hierdie verbond en die seëninge wat God aan Abram beloof het was nie net vir hom bedoel nie maar ook sy nageslag. Mens kan amper sê dit was familiebesit. Die beloftes en seëninge van God is dus van geslag tot geslag oorgedra. Anders gestel, die beloftes en seëninge van God was die belangrikste erfstuk.

Nou wie is die grootste/hoof erfgenaam? Wel, volgens destyds se gebruike, die eersgeborene. Ons weet tog die eersgeborene was die belangrikste erfgenaam, mens kan sê die opvolger van sy pa. Om die seën van jou pa as eersgeborene te ontvang was dus nie maar net ‘n klomp leë woorde of ‘n sinnelose ritueel nie. Nee, dit gaan ten diepste oor ‘n Goddelike seën. Dis tog in elk geval net God alleen wat die mag het om mense te seën of aan die anderkant te vervloek. Dit gaan oor meer as maar net materiële goedere. Dit het in die familielyn van Abram, ‘n besonder sterk geestelike verbondskonnotasie. In Hebreërs 12:16,17 word dit baie duidelik dat hierdie seën nie maar net oor ‘n aardse saak gegaan het nie. “Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.”

U sien daar was ‘n besliste geestelike dimensie aan die minagting van die eersgeboortereg verbonde gewees. Dis duidelik dat die seën wat die eersgeborene ontvang ‘n oneindig kosbare besitting was. Esau het nou hierdie kosbare seën gemis - dis waarom hy nou in wanhoop uitroep : “Pa, seën my tog ook!”

As mens nou so vinnig op die oppervlakte lees wil mens Esau eintlik jammer kry. "Arme man, kyk hoe is hy ingeloop." Ons weet mos wat het gebeur. Hoe die skelm Jakob en sy Ma ‘n plan gemaak het om die blinde ou Isak te bedrieg. (met die bokvelletjies om sy hande en nek) Maar as mens nou mooi gaan lees, kom mens agter dat dit sy eie skuld was. Die sleutel vir die verstaan van hierdie gebeure kry ons in Genesis 25:34. OAV - “Esau het sy eersgeboortereg verag”. NAB – “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.”

‘N FOUTIEWE WAARDEBEPALING LEI TOT VERKEERDE KEUSES

Esau het eintlik nie meer ‘n reg gehad op die seën van sy pa nie, hierdie Goddelike seën wat van sy oupa Abram af gekom het. Ons weet mos wat gebeur het. Hy het eendag moeg en honger van die veld af gekom en die geslepe Jakob het Esau se eersgeboortereg by hom gekoop. Hy het sy eersgeboortereg verkoop vir ‘n pot lensiesop. Hy het dus self die eersgeboortereg en die kosbare erfenis wat daarmee saam gegaan het verruil vir ‘n pot sop! Vir die tydelike genot van kos, vir die tydelike bevrediging van sy behoeftes het hy sy eersgeboortereg verkoop. Dit kom maar eintlik daarop neer dat hy so min gedink het van die Goddelike seën dat hy dit vir sop verruil het. Hy het ‘n tydelike verbygaande ding van meer kosbaar en belangrik geag as die ewige seën van God. Minagting van die eersgeboortereg het neergekom op die minagting van Goddelike seën en daarom is dit ‘n geskikte voorbeeld om as waarskuwing te dien dat ons nie God se verlossingsgenade moet minag nie. (dis soos die Hebreërs skrywer dit gebruik) 

Die groot saak om raak te sien : Daar was fout met Esau se waardebepaling en daarom het hy ‘n verkeerde keuse gemaak toe hy die geur van lensiesop kry. 

Die lekker geur van die lensiesop het vir hom meer getel as die eersgeboortereg en die seën wat daarmee saam gegaan het. So Esau was eintlik self verantwoordelik dat hy die seën gemis het, Jakob het maar eintlik net gevat wat hom toegekom het. Jakob was mos nou eintlik die eersgeborene - hy het die reg daartoe gekoop.

Dit bring ons nou eintlik by die tema :

Die minagting van God se beloftes veroorsaak dat ons die verkeerde keuses maak en so God se seëninge misloop!

Ons keuses in die lewe is die direkte gevolg van ons waardebepalings. Eenvoudig gesê - ons kies vir dit wat ons dink die meeste waarde het. As my vriende se opinie in my oë vir my meer waarde het as God se beloftes dan kies ek my vriende bo God. As die plesier van die wêreld vir my meer tel as die offer van Jesus dan kies ek die wêreld.

God maak heerlike beloftes aan jou! "Ek wil jou God wees, jou genadig wees en jou skuld weg neem. Ek wil jou red van jou sonde van die oordeel en die ewige hel. Ek wil jou nuut maak. Ek wil jou Vader wees. Ek wil vir jou rus gee, die ewige lewe en die hemelse erfenis." Hy bevestig en onderstreep sy beloftes met die teken van die doop! En tog kies soveel gedooptes iets ander bo God en sy seëninge!

Het jy al hierdie beloftes verkry, jou eie gemaak? Jy vra hoe? Wel, God se beloftes realiseer in jou lewe die oomblik as jy as sondaar jou tot Jesus bekeer en jou vertroue op Hom stel. Deur Jesus kry ons deel aan al God se wonderlike beloftes. Hoe waardevol is God se beloftes vir jou? Het jy dit al aangegryp? Of beskou jy ander dinge, ander genietinge, ander verhoudinge, ander ambisies as belangriker? 

Die punt is dit : 

God se beloftes stel ons voor ‘n keuse. 

Jy kan ook die seën van God verkry as eersgeborene. Miskien sê jy :"Maar ek is tog nie ‘n eersgeborene nie!" Wel, deur Jesus Christus as Verlosser aan te neem word ons eersgeborenes. Hebreërs 12:23 praat van die “vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is.” Wie is hulle? Hierdie eersgeborenes is almal wat aan Jesus behoort en wat so deel gekry het aan God se ewige seën.

Dis ‘n heerlike waarheid : ons wat sondaars en rebelle teen God is, ons word as eersgeborenes aanvaar deur God wanneer ons tot geloof in Jesus kom.

Is hierdie eersgeboortereg vir jou belangrik? Hierdie eersgeboortereg wat jy verkry as jy Jesus Christus as Here aanvaar? Net soos Esau moet jy ook kies tussen die eersgeboortereg en die lensiesop. Jy sal weet wat is die lensiesop in jou lewe. Jy weet watse dinge vir jou so ‘n aantrekkingskrag het dat dit belangriker as Jesus word... Wat is vir jou meer waardevol as Jesus, wat is vir jou belangriker as die heerlike beloftes van God ......is dit dalk ‘n boesemsonde, ‘n sondige verhouding, vrees vir wat mense gaan sê as jy Jesus volg, bitterheid, weiering om iemand te vergewe, gierige najaging van geld.....?

Wat van jou? Wat dink jy van God se beloftes? Het jy dit al ernstig opgeneem en hoog gewaardeer deur Jesus as Here aan te neem?

Vrydag 27 Februarie 2015

VERTROUE OP DIE WOORD

- SLUIT ‘N NUWE TOEKOMS OOP!

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een enkele vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Petrus moes dus baie mismoedig gewees het,... maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

GOD PRAAT

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal wat ons vind in LUKAS 5:1-11. Reg aan die begin hoor ons dat die skare vorentoe beur om God se Woord te hoor. (1) Ja, Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) Hy kry ‘n duidelike bevel : “Vaar uit na die diep water...” Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. 

Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit - "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite, vrese en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. [God het 'n baie groter plan vir Petrus gehad as bloot materiële welvaart. Kyk, as Petrus hulle elke dag met elke vangs hulle skuite kon volmaak, sou hulle lekker kon leef en dalk luukse villas daar langs die see kon bou... maar nee, Jesus was besig om Homself aan Petrus te openbaar en hom vir 'n nuwe toekoms voor te berei, wat alles behalwe rykdom en gerief sou behels...] Daar gebeur ‘n groter wonder in Petrus hart as in die skuit. “Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens." (8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Die belofte van Esegiël 36:31 word waar in sy lewe.* (Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want van nature is ons mos baie oulik en goed in ons eie oë!) Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop en 'n nuwe toekoms van bruikbaarheid in God se diens. En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. 

Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (Dink aan Abram se keuse om God se belofte te glo oor ‘n nageslag al was hy en Sara oud en oor die muur!).

Geliefde, hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie, maak nie saak wat die duiwel vir my fluister nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons... En God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie...

GOD SE BELOFTES IS GROTER AS ONS MISLUKKINGS! 

* Dis deel van die uitwerking van die beloofde Nuwe Verbond - “Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal ‘n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.”





Donderdag 15 Januarie 2015

GOD SE WIL VIR MY

- is baie duidelik!

“Wat is God se wil vir my lewe? Wat is sy planne vir my toekoms?” Dis ‘n vraag wat mense dikwels vra, veral dalk hier aan die begin van ‘n jaar. Ons vra dit gewoonlik in verband met dinge soos : “Watter werk moet ek aanvaar, moet ek op ‘n ander plek gaan woon, met wie moet ek trou, waar moet ek gaan studeer...?” By sommige is daar groot nuuskierigheid oor God se wil (eintlik meer oor die toekoms) en hulle gebruik allerhande kunsmatige metodes – Hulle kyk waar die Bybel oopval en gryp sommer die eerste teks as ‘n aanduiding van God se wil... Hulle kyk gedurig uit vir tekens en visioene... Aan die anderkant is baie mense weer bevrees oor God se wil.... “Sê nou maar die Here stuur my na ‘n plek wat vir my heel onaanvaarbaar is, sê nou maar God gee my ‘n opdrag waarvoor ek glad nie kans sien nie?” (Dis natuurlik 'n ongegronde dwase vrees, want hoe sou die Persoon wat jou die meeste liefhet in die ganse heelal iets slegs vir jou beoog?)

DIE BASIESE BEGIN...

Kom ons vergeet eers van alle metodes en vrese en kyk eenvoudig na wat God se Woord vir ons sê. Anders gestel kom ons kyk eers na die basiese Bybelse vertrekpunt rondom die saak van God se wil. 1 Tessalonisense hoofstuk 4 is ‘n goeie beginpunt. “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.” (3) Jy sien, God se wil is volgens die Bybel nie ‘n vreeslike geheim wat deur allerhande metodes ontdek moet word nie! Dit word tog hier duidelik en eenvoudig gestel... Nou sal iemand sê : “Wag ‘n bietjie, dis nie wat ek wil hoor nie, ek wil weet of ek daardie aanloklike werksaanbod moet aanvaar?” Ek dink dis waar ons die groot fout maak, ons ignoreer God se basiese opdrag aan sy kinders en juis daarom tas ons so in die donker rond wat ander besluite betref. Begin by die begin. As jy reeds ‘n kind van God is, is God se basiese wil in die eerste plek dat jy in heiligheid moet leef. (As jy twyfel oor kindskap moet jy na Jesus kom dat Hy jou red, dis dan die belangrikste saak vir jou op God se agenda. Vergeet eers van alle ander dinge.) 

God se wil vir sy kerk (sy kinders) is HEILIGMAKING. Dis in lyn met ons basiese belydenis oor die wese van die kerk : “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!” Heiligheid is die basies wil van God en opdrag aan sy kerk. “Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:16)

REINHEID

Paulus maak die wil van God baie prakties : “Weerhou julle van onsedelikheid.” Dit was destyds uiters aktueel en vandag nog meer so. Dit gaan hier oor alle vorme* van seksuele onreinheid – in woorde, gedagtes, dade... Alle uitlokking (kliek – SNEEUWITJIE), losbandigheid, saambly (kliek – ONDER MY DAK?), egbreuk en alle vorme van perversiteit (Kliek – GAY?). Dis juis op hierdie terrein waar die vroeë Christene radikaal anders geleef het as die omliggende massas mense. Hulle het uitgestaan vanweë hulle nuwe lewenswyse op seksuele gebied. Al die onreinheid wat vandag so aanvaarbaar geword het, was ook reeds deel van die heidense Romeine samelewing. Paulus beklemtoon die erns van hierdie saak. “Die Here straf al sulke dinge.” (6) Paulus maak dit ook duidelik dat dit nie hier oor sy eie voorskrifte of puriteinse gevoelens gaan nie, maar oor God se opdragte! “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (8) 

BROEDERLIEFDE

Die ander aspek van God se wil wat hy onderstreep is die broederliefde. Dis so vanselfsprekend dat hy sê dis eintlik nie nodig om daaroor te skryf nie. Hy moedig net die Christene aan om nog meer daarop te fokus. “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.” (9,10)

As jy erns wil maak met God se wil, as jy regtig wil weet hoe om te leef, maak erns met die opdragte wat hier gegee word. Dis asof Paulus wil sê : “As hierdie dinge in plek is, moenie verder bekommerd wees nie, gaan net rustig aan met jou lewe en doen jou werk wat jy nou het goed.” (sien vers 11) 

KEUSES?

God se wil vir sy kinders is nie iets vreemds of ‘n geheim wat deur sekere formules ontdek moet word nie. Sy wil is dat jy moet fokus op heiligheid. Los als wat sy Woord verbied en fokus positief op liefde vir jou medegelowiges soos die Woord beveel. As hierdie dinge in plek is, sal jy ook weet watter keuses om te maak t.o.v. beroep, studies, huwelik ens. As hierdie basiese beginsels van heiligmaking afwesig is, soek jy tevergeefs na God se leiding in spesifieke sake.

As ek in een of ander buite egtelike verhouding, enige vorm van onsedelikheid, bitterheid, onvergewensgesindheid... leef, mors ek my asem om te vra dat God my sal lei wat die toekoms en sekere keuses betref!

Kom ons vat dit saam : As jy die basiese wil van God naamlik ‘n heilige lewe nastreef, dan gaan detail besluite oor werk en huwelik en studies... amper outomaties kom. Hoe heiliger jy lewe hoe makliker sal jy die regte besluite neem, want jou begeertes en jou denkprosesse sal al meer in ooreenstemming met God se Woord wees. God se Woord (nie net enkele tekste nie), maar die beginsels van die Woord sal ‘n blywende stem in jou binneste word wat jou daagliks sal lei...

“en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” (Jesaja 30:21)

Vir nog verdere praktiese wenke oor die verstaan van God se wil rakende keuses wat ons moet maak, kliek op JI Packer.



[God se koers en wil vir ons is die pad van heiligmaking.]

*Die Griekse woord "porneia" is 'n baie omvattende term.

Woensdag 05 Februarie 2014

DIS MOS VIR ‘N GOEIE DOEL!

- morele pragmatisme of gehoorsaamheid aan God se Woord?

Volgens watter beginsels neem die gemiddelde mens (maar dikwels ook die Christen en kerk as geheel) deesdae besluite? Vra ons nog wat God se Woord sê, of kyk ons eerder na wat gerieflik en voordelig vir onsself is?

Die aangrypende gebeure in 1 Samuel 15 wat fokus op koning Saul se ongehoorsaamheid roep ons om weer ‘n bietjie oor hierdie aspek van besluitneming en alledaagse keuses te dink.

God gee ‘n opdrag, maar koning Saul maak sy eie slim plan...

Sondag 09 Junie 2013

GOD SE VERBONDSTROU

staan onwrikbaar vas, maar vra van jou ‘n keuse!

Hoe kan ek seker wees die Here het my vergewe? Hoe kan ek daagliks sonder vrees leef en weet dat God vir my sal sorg?  Hoe kan ek moed hou te midde van swaarkry en vervolging? Hoe kan ek in die aangesig van die dood, op die drumpel van die ewigheid, vrede beleef en weet dat God my as sy kind aangeneem het?

Ek kan net vrede en sekerheid beleef as ek ten volle oortuig is dat God getrou is aan sy beloftes! Maar hoe weet ek dat God altyd sy beloftes hou? Die antwoord kry ons in die verbond.  (God se kontrak) Die vraag is dan : Was God deur die eeue getrou aan sy verbondsbeloftes? Wat sê die feite? Dis tog maar feite wat tel. In die alledaagse lewe het ons dit mos al baie teëgekom- mense maak pragtige beloftes, maar niks gebeur nie.  

Wat van God, doen Hy sy beloftes gestand?

Kom ons kyk na die getuienis van die geskiedenis. Vir ongeveer vier honderd jaar is die nageslag van Abram nou al in Egipte.  Baie ellende en miskien baie vrae. Wat het geword van God se beloftes? Van ‘n eie land?  Het God vergeet, is Hy dalk magteloos? Dis net swaarkry en ellende. Dit gaan al erger. God se volk roep tot Hom. Dan lees ons:

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan.
God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

Hoor mooi : “God het...aan sy verbond gedink” Dit beteken nie dat God vir ‘n tyd van sy verbond vergeet het nie – God kan nie vergeet nie – dis maar menslike taal om te sê, God het besluit om te reageer op sy verbondsbeloftes. God het besluit dis nou die tyd om op te tree soos Hy beloof het aan Abram.

In die volgende hoofstuk sien ons wat God se aksie behels. (eintlik het God lankal al begin met die voorbereiding, met Moses in die mandjie...die opvoeding in die Egiptiese paleis...) Maar nou word dinge tot ‘n spits gedryf, God openbaar Homself aan Moses in die brandende bos en roep hom om die volk uit Egipte te lei. (Eks 3:1-10) Let veral op vers 6. “Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Dit kom daarop neer, Ek is die God wat met hulle ‘n verbond gesluit het, en Ek gaan nou die volk red omdat Ek getrou is aan my verbond! (nie omdat die Israeliete so oulik was nie!)

Ons ken die geskiedenis verder. God het getrou gebly aan sy verbond en die volk uit Egipte verlos deur Moses. Oppad na die land Kanaän het God sy verbond met Israel by die berg Sinaï vernuwe en die wet vir hulle gegee. Maar ons ken ongelukkig ook die hartseer geskiedenis van wat met Israel gebeur het in die beloofde land. Hulle het oor jare en jare ontrou geword aan God se verbond, totdat God gesê het : “Genoeg is genoeg!” Hulle is verdryf uit hulle land in ballingskap in Babilonië. Maar was dit die einde van als? Gelukkig nie. Die volk was ontrou, maar God kan nooit ontrou wees nie. God se liefde maak dat Hy nie moed opgee nie. Deur die profete het God ‘n nuwe verbond belowe. ‘n Beter verbond. In die plek van die ongehoorsame mens sou Hyself ‘n betroubare mens as verbondsvenoot stuur, Jesus Christus.

Die getrouheid van God aan sy verbondsbeloftes bereik ‘n hoogtepunt met die koms van Jesus, as Hy gebore word uit die maagd Maria. Kom ons luister na haar loflied nadat sy deur die Heilige Gees swanger geword het. (Lukas 1:46-55)  Hoor wat sê sy in 1:54,55 – “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." Weereens, dit gaan oor die getrouheid van God aan sy verbond...eeue en eeue nadat Hy die verbondsbeloftes aan Abram gemaak het.

Die geskiedenis gee dus ‘n duidelike uitspraak : 

God doen wat Hy beloof in sy Verbond. 

God se Verbondstrou staan onwrikbaar vas. Dis die vaste fondasie van ons hoop en sekerheid. Nie ons  wispelturige gevoelens of wisselende emosies nie, maar God se vaste verbondsbeloftes!

Glo jy God se beloftes? Dis baie maklik om vas te stel. Het jy jou al tot Jesus Christus bekeer en tot geloof in Hom gekom? Het jy al jou rug gedraai op die sonde en die genade aangegryp? Jesus, die Gekruisigde Verlosser is die hoogtepunt en vervulling van God se verbondsbeloftes, in Hom is al die genadebewyse van God gekonsentreer. Hyself is God se volledige Verbondspakket!  Jy kan Hom persoonlik vertrou, want God kan nie lieg nie. Romeine 10:11 sê : “Niemand wat in Hom glo sal teleurgestel word nie” en 13 “elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word”

God se verbondsbeloftes dwing mens tot ‘n keuse.  Dit deel alle mense in twee kampe.

As ek dit glo en my tot Jesus bekeer is dit die fondasie van sekerheid en blydskap, want ek weet God doen wat Hy beloof.

As ek my nie bekeer nie, is God se getrouheid aan sy woord juis die bevestiging van ‘n ewige verdoemenis. In Hebreërs 2:3 vra die skrywer : “hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het?” Ja, as ek Jesus verwerp (selfs deur Hom net te ignoreer) bly daar geen ander verwagting oor as ewige smart nie.

As God mos die waarheid praat wanneer Hy redding beloof, beteken dit ook dat Hy die waarheid praat as Hy ewige straf beloof. 

God se onkreukbare integriteit sny immers na twee kante toe! Verlossing maar ook oordeel.


Mag ons almal betyds positief reageer op God se getrouheid, op sy heerlike waar beloftes... Omhels Jesus Christus in sy volle genadeheerlikheid!


Greg en Anja Williams met klein Lincoln. 

Sondag 15 Julie 2012

SOEWEREINE STEM WAT TOT LEWE ROEP


- lyke moet luister!

Ons kan nie gered word as God nie eerste in ons lewens ingryp nie en tog is dit ons verantwoordelikheid om te reageer!

Ons God is die lewende God wat wonders doen. Hy word reeds in die Ou Testament genoem : “ ‘n Bewerker van wonderdade” (Eksodus 15:11) In die Nuwe Testament het Jesus God se almagtige wonderwerkende krag op dramatiese wyse gedemonstreer.  Kyk nou net weer wat gebeur hier in Johannes hoofstuk 11! Jesus roep ‘n dooie mens wat al vier dae in ‘n graf is! En dan reageer die dooie! ‘n Mens kan eintlik sê dat hier ‘n dubbele wonder gebeur. Eerstens dat ‘n dooie kan hoor en tweedens dat hy kan herleef. 

In die Johannes  evangelie het wonderwerke ‘n baie duidelike doel. Dit word gebruik om sekere heerlike geestelike waarhede te onderstreep. Hy verkies dan ook  om die woord “tekens” te gebruik as hy van Jesus se wonders praat. Jesus se wonders was nie blote vertonings van krag ter wille van vermaak of aandag trek  nie, maar tekens wat gewys het op dieper geestelike waarhede wat net met die oë van geloof gesien kon word.  Dink maar aan die wonder by die vermeerdering van die brood. Dit wil vir ons sê : Jesus self is die Brood van die lewe, met ander woorde  die allernoodsaaklike geestelike voedsel wat ons as mense nodig het. Ons kan nie leef sonder Jesus nie!

Waaroor gaan die opwekking van Lasarus? Hoekom vertel Johannes hierdie gebeurtenis in sulke detail? Natuurlik het ons hier ‘n voorbeeld van Jesus se egte liefde en omgee vir mense. Telkens oorweldig sy emosies Hom by Lasarus se graf. Dis ook ‘n bewys van Jesus se Goddelike gesag en tydsberekening. Sy “laatkom” is presies betyds! Verder is die opwekking van Lasarus  ‘n duidelike voorspel tot ‘n groter wonderwerk , die opwekking van Jesus self kort hierna uit die graf. (Lasarus is begrawe in 'n rotsgraf met 'n klip voor die opening nes Jesus) Dis dan ook ‘n teken dat ons wat aan Jesus behoort liggaamlik sal opstaan.

Maar Lasarus se opwekking vertel ons ook nog iets meer wat vir ons hier en nou baie belangrik is.  Dis ‘n duidelike teken van die wonderwerkende krag van Jesus om sondaars wat dood is in hulle sondes geestelik lewend te maak. Ons kry reeds ‘n verwysing hierna in Johannes  5:25

“Ek verseker julle : Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van die God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor sal gee, sal lewe.”  

(Mens kan amper sê dat ons hier ‘n leidraad kry om Johannes 11 te verstaan) Hier gaan dit nie bloot oor die fisieke opstanding nie, maar sondaars wat uit die dood na die lewe oorgaan. Sondaars wat nie meer veroordeel word nie, maar die ewige lewe deelagtig word. Rebelle wat kinders van God word. So verstaan is die opwekking van Lasarus ‘n magtige demonstrasie van hoe Jesus met sondaars werk en die lewe aan ons skenk.  Dis hierdie waarheid wat Jesus reeds vooraf aan Marta wil oordra : 

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook...” (Vers 25) 

Kom ons kyk naderby na twee aspekte van Jesus se lewendmakende werk:

~ Lasarus se toestand. Een woord : morsdood! Magteloos morsdood!  Reeds 4 dae dood....hy  kan nie meer lewe nie; hy  wil nie meer lewe nie. Dis so ‘n raak beskrywing van elke sondaar se toestand. Ons in ons natuurlike toestand  kan nie God ken en sy opdragte uitvoer nie. Maar ons wil ook nie. Ons is geestelik dood weens ons misdade. (Efesiërs 2:1)  Romeine 3:9ev stel die mens se diepverdorwe magtelose toestand baie eerlik en treffend. (lees) Niemand wil of kan God ken nie!  Dis die harde feite oor elke sondaar. As God nie ingryp en ons roep nie, sal daar by ons geen beweging tot lewe en verandering kom nie!

~ Jesus se krag en werkswyse as Verlosser.  Kyk na Jesus se soewereine genadige  krag (Lasarus is dood en kan niks verdien en geen bydra lewer  nie. Hy kan nie eens vra : “Help my” nie.)   Kyk na Jesus se gesagvolle krag. ‘n Dooie moet luister. Jesus wek ‘n lyk tot  lewe!
Hoe gaan Jesus te werk? Hy doen oënskynlik ‘n dwase ding, Hy volg  ‘n onlogiese werkswyse.  Hy roep ‘n dooie. Hoe nou? Hy gebruik woorde, Hy gee ‘n opdrag! Dit lyk vir ons vreemd. Dit klink amper snaaks.  Lyke kan mos nie luister nie! Dooies kan tog nie hoor en reageer nie!  Tog is dit God se manier. Dis wat die profeet  Esegiël gesien het toe hy die opdrag gekry het om te profeteer oor die doodsbeendere in die vallei. (Esegiël 37) Hierdie wonder gebeur vandag nog, waar God se Woord in waarheid verkondig word. God  roep mense deur die evangelie   en wanneer hulle die boodskap van Jesus hoor gebeur daar in harte ‘n dubbele wonder om te kan hoor en om lewend te word. Ons sien in Jesus se werk die gebalanseerde werskswyse van God. Alles begin by God. Hy doen die wonder. Hy ruk ‘n sondaar soos ‘n brandende hout uit die vuur. Maar ons sien ook die mens se verantwoordelikheid. Ons moet reageer. God se wonders maak ons nooit passief nie. God betrek ons verstand, wil en emosie. Die Dordtse Leerreëls (een van ons belydenisskrifte) stel dit baie duidelik : 
“Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit terselfdertyd lieflik en kragtig.” (DL3&4.16) 
In eenvoudige Afrikaans beteken dit : jy moet ‘n wilsbesluit neem. Ja, dis God wat hierdie dooie wil van jou lewend maak, maar dis jou verantwoordelikheid om ‘n  keuse te  maak as Jesus jou roep. Dis God wat ‘n wonder doen, maar jy moet gehoorsaam! Hy doen juis ‘n wonder wat jou instaatstel om te gehoorsaam.
Jesus praat met Lasarus.  Dit was nie nodig nie, maar dis hoe Hy werk. Hy gebruik die Woord as middel tot die wonder. God doen wonders deur middele, ons noem dit genademiddele. Die belangrikste genademiddel is God se Woord. Daar waar die Woord in waarheid en in die krag van die Heilige Gees  verkondig word doen God wonders in mense. Die DL beklemtoon ook hierdie feit: 
 “Die almagtige werking van God ... sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom uitoefen ‘n nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word.” (DL3&4.17) 
Dit wil vir ons sê : Kom luister na die Woord. Dis ‘n opdrag.  Dis hoe God ‘n wonder in ons doen. Dis ‘n genademiddel tot verlossing. (Bestudeer Romeine 10:13-17) Deur die Woord en die werk van die Heilige Gees word reddende geloof in ons harte gewek.

Die redding van ‘n sondaar is gelykstaande aan die opwekking van ‘n dooie! 

Dis net so ‘n verbysterend heerlike wonderwerk! Is jy al lewend gemaak?  Ja?  Dank God! Dis alles onverdiende genade. Nee? Wel, jy hoor die Woord nou! Reageer. Kom na Jesus, Hy nooi jou. Waarom wag?

DL = Dordtse Leerreëls

Woensdag 01 Februarie 2012

BLY OF GLY? DIE CHRISTEN EN EMIGRASIE

- gelowig nagedink vanuit die Skrif oor ‘n sensitiewe saak.

Die Woord van God is die riglyn vir God se kinders in alle sake wat ons raak. Ook wat betref die baie aktuele (en dikwels emosionele) kwessie van emigrasie. Dis nie so ’n ligte en eenvoudige saak nie. Vinnige maklike antwoorde is daar beslis nie.

Laat ek eers duidelik sê: Ek is ontsettend gelukkig waar ek nou op Tsumeb in Namibië woon, en op hierdie oomblik kan ek aan geen ander plek ter wêreld dink waar ek eerder sou wou gaan bly al sou ek ’n keuse gehad het nie. Maar natuurlik, ’n liefhebber van geskiedenis soos ek weet dat lands en wêreldsomstandighede oornag kan verander... Net God ken die toekoms...

Soos met baie ander lewensvrae gee die Bybel nie vir ons oor hierdie saak ’n pasklaar antwoord in ’n enkele teks nie. God behandel ons as volwasse kinders en ons moet self vanuit die beginsels in die Skrif onder die leiding van die Heilige Gees besluite neem. Kom ons kyk nugter na ’n paar sodanige Bybelse beginsels:

1. Al God se kinders behoort aan sy een unieke uitverkore volk. (1 Petrus 1:1; 2:10) Almal wat aan Jesus Christus behoort is nou kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Dit impliseer ’n verbintenis en lojaliteit wat die belangrikheid van alle ander verbintenisse relativeer. Ek is dus eerstens ’n Christen voordat ek ’n Afrikaner, Duitser of Herero is.

2. Hierdie een volk van God is verspreid oor die wêreld heen. Hulle word aangetref in alle lande en kulture (1 Petrus 1:1; Jakobus 1:1) Dis ’n gegewe en die Bybel gee ook nêrens opdrag dat Christene moet saamtrek op een of meer plekke nie. Daar is ook nie plekke op aarde wat heiliger is as ander plekke nie! Jerusalem is niks heiliger as Pretoria, Windhoek of Perth nie!

3. Alle Christene in alle lande moet weet (en sal beleef) dat ons in hierdie wêreld vreemdelinge en bywoners is. (1 Petrus 1:1;2:11) Dit het verskeie implikasies : Ons is oppadwees mense, op reis na ons finale permanente tuiste. Of ons omstandighede nou betreklik gerieflik of dalk onseker en gevaarlik is, kinders van God is soos Abram, mense wat verlang na die stad met vaste fondamente waarvan God self die ontwerper en bouer is! ( Hebreërs 11:10) Ons status as vreemdelinge beteken ook dat ons swaarkry en verwerping sal ervaar, ongeag die plek waar ons woon. Ons sal noodwendig in konflik wees met die sondige aard van die kultuur waarin ons ons bevind, omdat ons Koninkrykswaardes en ambisies het. (Sien : MAAK OOP BY OPENBARING (3) )

4. Die belangrikste is nie waar ons bly nie, maar hoe ons lewe! Vir alle Christene orals, geld die opdrag om heilig d.w.s. afgesonder vir die Here te leef! (1 Petrus 1:16) Hierdie heiligheid beteken egter nie dat ons eenkant handegevou moet staan en die booshede en onbekwaamhede van ons gemeenskappe moet kritiseer nie. Ons moet ten volle betrokke wees in die samelewings waarin ons ons tans bevind! Jeremia 29 wat ’n brief bevat aan die Joodse bannelinge in die verre Babilonië is besonder insiggewend. Kyk veral na vers 4 tot 7. Wat ’n geweldig positiewe benadering!

5. Die soewereine God gebruik ook emigrasie (soos ander gebeure in die geskiedenis) om sy Woord te versprei. Hiervan kry ons die klassieke voorbeeld in Handelinge 8:2,4. En natuurlik moet ons nooit vergeet nie : die Afrikanervolk self is gebou uit emigrante! Emigrasie is dus beslis nie inherent iets boos of verkeerd nie! Die hatige manier waarop sommige Afrikaners ons volksgenote in die buiteland veroordeel, is beslis nie Christelik nie. Aan die anderkant, diegene in die buiteland, moet ook nie Afrikaners wat voel dat hulle ’n Godgegewe roeping in Afrika het, probeer demoraliseer deur altyd net die negatiewe gebeure op ons kontinent uit te lig nie. Alle Christene se roeping word mos nie noodwendig op dieselfde plek uitgeleef nie.

6. Alle Christene (nie net dié wat emigreer nie) moet altyd hulle harte en motiewe ondersoek. Hoe vry is ons van selfsug en materialisme? Maar daar is ook ander motiewe wat nie pas by diegene wat bely dat God ons Almagtige Vader is nie. Paniekerige vrees en swartgallige pessimisme lyk volgens die Skrif ook nie vir my na dryfvere wat kinders van God se besluite moet beïnvloed nie. Aan die ander kant is beide die materiële en geestelike versorging van ons kinders, ’n Godgegewe ouerlike plig en verantwoordelikheid, wat beslis in die keuses van waar ons bly ’n rol sal speel. Maar selfs dit is ook relatief. As die veiligheid van sy kinders vir die Finse pioniersendeling in Owamboland, Martti Rautanen die hoofprioriteit was, sou daar nooit ’n kerk geplant gewees het nie. Net drie van hulle nege kinders het volwassenheid bereik! Rautanen het juis vanuit Finland na die gevaarlike malaria wêreld geëmigreer ter wille van God se Koninkryk!

Die belofte van Jesus in Johannes 12:25 word te maklik in ons eeu van gerief en gemaksug vergeet!

7. Ons geestelike band met God se een volk op aarde beteken nie die uitkansellering van ander aardse verbande soos huwelik, gesin en etniese bande nie. (Die nuwe lojaliteit aan Christus en sy kerk is wel die eerste prioriteit - sien punt 1) Dit beteken myns insiens wel dat ’n mens die gevolge vir huwelik, gesin, wyer familie en ook volk sensitief in berekening moet bring in ’n besluit oor emigrasie. In sekere gevalle sou dit ’n versterkende motief wees om te emigreer, in ander gevalle sou dit dalk lei tot ’n herbesinning.

8. God se kinders kan groot vrede en vreugde put uit die feit van Sy soewereine bestuur van ons lewens. Voorspoed en teëspoed, lewe en dood is alleen in God se hande! Ons glo nie soos die wêreldling in noodlot of toeval nie, ons weet ook dat selfs die foute en verkeerde keuses wat ons maak, nie die einde van ons bruikbaarheid beteken nie. God se soewereiniteit oorheers alles! Wanneer ons onseker is kan ons altyd nog bid : “Vader, laat U wil geskied!” Dit moet ons ook daarvan weerhou om ander wat volgens ons verkeerde besluite geneem het te veroordeel of te beswadder.


Bogenoemde lyk my na ’n paar belangrike Bybelse riglyne waarna mens nugter moet kyk indien emigrasie oorweeg word. Natuurlik maak dit my as trotse Afrikaner hartseer om my volksgenote oor die see te sien verdwyn, want ek weet dat die verlies van volksidentiteit op die lange duur onvermydelik is! En vir die voortbestaan van ons pragtige taal is dit ’n doodsteek! Maar as Christen moet ek verder kyk na die groter prentjie en dit is dat alle instellings op aarde tydelik is, ook tale, nasies en volke kom en gaan soos God dit beskik. Net God se Koninkryk is permanent en onwankelbaar! Dis vir hierdie ewige Koninkryk waarvoor ons ons moet beywer... orals en altyd!


Geniet vandag God se teenwoordigheid oral oor die wêreld heen!