BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Godgesentreerde Aanbidding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Godgesentreerde Aanbidding. Wys alle plasings

Vrydag 02 Maart 2018

DIE GEHEIM AGTER DIE DEUR…

WAT ‘N HEERLIKE VERSKIL MAAK AAN ONS VRESE EN ‘N NUWE VISIE OPEN… 


Waarom red God sondaars? Waarom maak God deur Jesus se bloed vrede met mense wat eens sy vyande was? Anders gestel wat moet ons as geredde mense se fokus wees? Nou, maar ook tot in alle ewigheid? Ons het soveel stryd, soveel moeilikheid, soveel dinge wat ons tyd in beslag neem en soveel goed wat ons benoud en bang maak. (Soos daai geluide van Ramaphosa om grond sonder vergoeding af te vat...) Waarop moet ons konsentreer? Waar pas ons in die groot prentjie? Wat is regtig belangrik? My behoeftes, pyne of begeertes of dalk iets groter? 

Kom ons oordink die hooftema : Die hoofdoel van die ganse skepping is aanbidding van Hom wat op die troon is! 

Hierdie fundamenteel belangrike saak is so heerlik duidelik uit Openbaring hoofstukke 4 en 5! Ons gaan net so oorsigtelik daarna loer. Openbaring is in elk geval soos ‘n skildery! Ons hoef nie te veel ons koppe te breek oor elke stukkie detail nie! Dis die geheelbeeld wat ons aanraak en in vervoering en bewondering bring. Ja, tot aanbidding aanspoor! 

Twee belangrike aaneenvloeiende temas is hier ter sprake : God wat op die troon is en die aanbidding (worship) van God. 

GOD IS OP DIE TROON 

Johannes kry ‘n kykie op die hemelse Goddelike werklikheid. Hier sien ons die ware toedrag van sake. ‘n Deur word oopgemaak en dan sien hy iets onbegryplik en onbeskryflik heerlik. “Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: 

"Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur." 
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 
Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.” (4:1-3) 

Ons wat Openbaring lees word saamgenooi om ook te kyk en ons te verwonder. So wat sien ons deur die oop deur? Die troon van die heelal. Die setel van regering, van mag en gesag, die plek van alle besluite en beslissings. En wie sit op hierdie troon? GOD! Lees saam verder – 4:4,5,6,9,10; 5:1,6,7,11,13 

Dis ‘n kernwaarheid en deurlopende tema in Openbaring. Waarom? Onthou die mense vir wie Openbaring aanvanklik geskryf is, was Christene wat baie swaar gekry het. Verdruk en vervolg, doodgemaak. Dit skep by mense vrees en onsekerheid. Wat gaan met ons gebeur? Het die duiwel en sy bose handlangers al die mag? Gebeur als maar volgens ‘n donkere noodlot? Hoekom gebeur soveel slegte dinge met ons? Is daar enige sin en doel in als? Het God ons nog lief? Is God nog in beheer? Die deurlopende motief van God op sy troon wil duidelik sê : God en God alleen is in beheer! Nie goddelose mense, nie goddelose regerings en tiranne nie, nie die Satan self beheer en bepaal die toekoms nie, maar net God en God alleen. Hy sit op sy troon en heers oor die heelal en die geskiedenis! Maar meer as dit, Hy is in beheer van jou persoonlike omstandighede en toekoms. Laat elkeen dit weet - God is op die troon – ook terwyl jy swaarkry, siek is, alleen voel, benoudheid ervaar… God is op die troon, juig daaroor! 

As jy begin wankel en moedeloos word, kyk deur die oop deur van Openbaring 4! 

AANBIDDING 

Die tweede groot tema is aanbidding. Dis opvallend belangrik. Dit ontwikkel tot ‘n absolute klimaks. Juis omdat God en God alleen op die troon is, maak dit volkome sin om Hom alleen te aanbid. Kyk bietjie wie aanbid God op sy troon: 

Die lewende wesens. (4:8) Die beeldspraak van die lewende wesens kom uit Esegiël en Jesaja. Die vier wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle sien alles raak (die oë) en hulle is oral (vlerke). Hulle observeer die grootheid van God. Dit reflekteer ook God se alwetendheid en alomteenwoordigheid. 

Die 24 ouderlinge. (4:10-1) Hulle is verteenwoordigend van die hele gemeenskap van gelowiges. Die 12 Ou Testamentiese stamme van Israel plus die 12 Nuwe Testamentiese apostels. Saam verteenwoordig hulle die kerk/volk van God van alle eeue! 

Albei groepe. (5:8-9) Let op die gebede van die gelowiges wat nou op aarde swaarkry is ‘n lieflike geur (soos wierook) in die hemel! 

Die menigte van engele. (5:11-12) Die inhoud van hulle aanbidding is lof aan die Lam! 

Dan die klimaks! Die ganse skepping! “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid." (5:13) Die hele skepping is gefokus op God! Niks en niemand is wonderliker, heerliker, meer fassinerend en belangriker as Hy nie! 

SKEPPER EN VERLOSSER!

Net nog iets baie opvallend en belangrik! God word aanbid as Skepper in hoofstuk 4. "Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep." (4:11) Ons moenie vergeet om God te prys vir die oneindig wonderlike skepping wat Hy gemaak het nie! Kyk net rondom jou...en loof Hom! 

God word aanbid as Verlosser in hoofstuk 5. Hier word God geprys as die Een wat deur Jesus, die Lam mense gered en bevry en losgekoop het. “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."* (5:9,10) 

Die hele skepping draai om een saak : die aanbidding van God! 

Ons moet bevry word van ons selfgesentreerdheid en individualisme en inval by en meedoen aan hierdie groot saak. Die aanbidding van God! Soos die aarde om die son draai, draai die ganse skepping rondom die heerlikheid van God! Als het ‘n groter doel! Kyk na die groter prentjie, die prentjie van God op die troon wat aanbid word. Moenie net vaskyk teen die onreg en boosheid van die wêreld nie. Moenie jou blindstaar teen korrupsie en tiranne nie. Moenie vasval in jou klein, persoonlike wêreldjie en agenda en bekommernisse nie. Kyk na die groter prentjie. Sien die groter werklikheid agter die skerms. Ja ons vrese en ellendes en pyne en hartsere is erg, maar as kinders van God, losgekoop deur die bloed van die Lam kan ons verby dit kyk en ons harte en stemme voeg by die aanbidding van God! 

Laat ons fokus op God – God as Skepper, God as Verlosser! AANBID HOM! En mag ons so bevry word van beide vrees en selfbeheptheid! 

*Vergelyk die treffende ooreenkoms met Eksodus 19:4-6, waar dit gaan oor God se doel met die redding van sy volk Israel. Hierdie waarheid word dan deur Petrus in 1 Petrus 2:9-10 op die Nuwe Testamentiese kerk van toepassing gemaak.En nou vind ons dit weer in Openbaring!


Eer Hom as Skepper...


Eer Hom as Verlosser...


Vrydag 24 Julie 2015

SO LYK DIT IN DIE HEMEL

Gaan jy saam juig en is jy alreeds besig?

Hoe lyk die hemel? Daar is soveel idees oor die hemel. Allerhande mense beweer deesdae om in die hemel te gewees het. (Kliek op SONEL) Daar word ook roekelose en wilde aannames gemaak van wie hemel toe sou gaan en wat hulle daar sou maak. ‘n Mens verstom jou oor die uitlatings wat op begrafnisse gemaak word oor wie nou almal in die hemel rondjaag op motorfietse of daar vir ‘n span rugby of krieket speel... Dis net so bisar soos die Moslems se idee van ‘n hemel met maagde wat die wellus van jihadi’s moet bevredig...



GOD IS DIE FOKUS!

Hoe lyk die hemel? Op die ou end het ons net een betroubare bron, en dis God se Woord. Kyk gerus na twee Bybelse beskrywings van die hemel (se heerlikheid) in Openbaring 4:1-11 en JESAJA 6:1-7. Die ooreenkoms tussen Openbaring en Jesaja is merkwaardig en opvallend. Dis duidelik, die hemel is die plek waar God in sy volle majesteit volmaak geëer, bewonder en geloof word. God is in die sentrum! Hyself is die fokus! (Terloops, alle teologie en godsdiens waar Hy nie in die middelpunt is nie, is mensgemaak en vals.) 

Anders gestel, die hemel is die plek waar daar ‘n ewige volmaakte permanente erediens gehou word!


Natuurlik, ken ons nie al die detail van die hemelse bestel nie, maar die essensie daarvan word saamgevat in die konsep van 'n erediens!

Die vraag vandag is : Is ek en jy gereed vir hierdie ewige erediens? Baie mense is ooglopend nie gereed nie, want hulle stel nie eers nou belang in die erediens nie, dis nie vir hulle lekker nie en hulle sal beslis nie eendag daar inpas nie! So baie sien God bloot as ‘n helper (Hy moet spring as ons in die moeilikheid is of hartseer beleef), maar daar is min ywer om Hom te bewonder, te aanbid en sy wil te gehoorsaam.

Uit Jesaja 6 blyk dit drie dinge is nodig om voluit, nou en vir ewig saam deel te neem aan die hemelse erediensvieringe! Besef wie God is, besef hoe groot my sonde is, ontvang vergifnis!

BESEF WIE GOD IS. God het Homself aan Jesaja gewys en toe besef hy eers wie God regtig is. Net terloops – daar word melding gemaak van die “sterfjaar van Ussia” - dis ’n krisis tyd, die Here gebruik dikwels een of ander krisis om mens se oë te open. Jesaja sien die grootheid en heerlikheid van God raak! Liewers, God openbaar Homself aan die profeet. Wat ’n ontsagwekkende gesig! God op ’n baie hoë troon! Heerser van die heelal. Ten volle in beheer, absoluut soewerein! (dis ‘n feit wat deurgaans ook in die boek Openbaring beklemtoon word) Kyk, luister... Sien en hoor saam met Jesaja.. “Heilig, heilig, heilig…” Voel die kosyne rammel; ruik die rook. Angswekkend, verstommend heerlik en groots! Een saak is duidelik : Jesaja moes eers besef wie God is. Nie maar van hoorsê nie, nie bloot wat tradisie hom geleer het nie, maar werklik van aangesig tot aangesig. Dis moontlik om vir jare vaagweg te besef daar is ‘n God, maar op ‘n dag openbaar Hy Homself deur sy Woord en Gees aan jou! Dis wat ons die nodigste het.... ons moet besef wie God is, ons moet besef Hy is groot, ons moet besef HY IS GOD, HY IS HEILIG!

BESEF SONDE. Toe Jesaja besef wie God is, toe gebeur daar nog iets. Sy geestelike oë gaan oop, hy sien sy eie sonde raak. In die lig van God se heiligheid sien hy sy eie onreinheid. Dis asof die helder lig van God se heiligheid en heerlikheid deur sy siel skyn en elke stukkie onreinheid ontbloot. Hy roep uit: “Dis klaar met my, ek is verlore!” Wat gaan ons nie alles sien as hierdie lig deur ons skyn nie.... ? Sulke donker swart kolle van selfsug, haat, onreinheid...valsheid. Die vuil vlekke van hardvogtigheid, liefdeloosheid , jaloesie... Dit bring ’n wanhopigheid in Jesaja. “Dis klaar met my! Hierdie gesig bring hom tot ’n erkentenis van sy toestand van totale verdorwenheid. “Elke woord....” Nie net ’n paar klein foutjies nie! Lippe word beklemtoon... Sy bedoeling is moontlik ook hier dat hy vanweë sy onrein lippe nie kan deelneem aan die lofsange van die serafs om God te besing nie! Sonde verhinder ons om God te eer. Sy onrein lippe is ’n hindernis om te doen wat hy eintlik moet doen. 

Ons sonde keer ons om God te eer en te geniet! En dis dan juis waarvoor God ons gemaak het. Sonde verhoed ons om deel te neem aan die ewige erediens! Dis wat ons uit die hemel hou!

As die Heilige Gees met mens werk dan slaan dit jou plat en laat jou sprakeloos. Alle slimmigheid en verskonings verdwyn en al wat oorbly is om ‘n belydenis van sonde uit te stotter. Jy kan nie draaie loop met God nie. Nog iets. Jesaja sien die sonde rondom hom raak! As die Heilige Gees in ’n mens werk, kan jy nie meer dink alles in die gemeenskap is maar reg nie; jou oë gaan oop vir die afskuwelikheid van sonde. Nie net jou eie sonde nie, maar die sonde rondom jou word ’n pyn. 

ONTVANG VERGIFNIS. Nou gebeur daar iets dramaties met die gebroke sondebewuste Jesaja. God bewerk die versoening. (Op die altaar, dis waar die offers gebring is) Met ‘n gloeiende kool van die altaar word sy lippe aangeraak. Hy kry die versekering dat sy sondes versoen is, die versekering dat hy vergewe is. As jy vandag besef wie God is, en bewus word van jou eie sonde en onwaardigheid - dan is daar ook Goeie nuus vir jou : Op ’n altaar 2000 jaar gelede, is daar ’n volmaakte Offer gebring. ‘n Genoegsame offer, eens en vir altyd. (Hebr 10:14) Daar het ’n Lam gesterf - die Lam van God... op die altaar van die kruis. Die versoening is bewerk! Die oomblik as ek in erkentenis en berou my tot Jesus wend, dan ontvang ek die versoening persoonlik! ’n Bewende Jesaja sien die skrikwekkende heiligheid van God, hy besef sy sonde - en die wonder gebeur, hy word nie vernietig of weggestoot nie... hy ontvang vergifnis.

God vernietig nie ’n gebroke berouvolle sondaar nie. God red hom! Dawid sê : “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God!” (Psalm 51:19) Terloops, daar is eintlik net een ding wat tussen ’n mens en verlossing kan staan, dis hoogmoed! ’n Trots wat nie wil buig nie! Niks kan keer dat God jou vergewe nie, nie ’n donker verlede nie, nie die aakligheid van al ons sondes nie, nie die getal oortredings nie, maar as ek hoogmoedig is en my sonde nie wil erken nie, dan gaan ek die genade misloop. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5) Jesaja verneder homself voor God en hy hoor die wonderlikste woorde wat enige sondaar op aarde kan hoor : “Jou oortredinge is vergewe, jou sonde is versoen.” (Vers 7) Dis die woorde wat Jesus op aarde ook telkens vir gebroke sondaars wat na Hom gekom gesê het... die verlamde man, die sondares wat Sy voete gewas het...

Het jy vergifnis ontvang op grond van Jesus se genoegsame offer? Dan kan jy deelneem aan die ewige erediens waar God geloof word. Dit begin nou reeds. Kom neem gerus elke Sondag deel...


[Felsenkirche]

Vrydag 04 Mei 2012

"U"-DRAAI IN DIE BINNEKAMER

- rewolusie teen die “Eie Ek”

Die Onse Vader is oorbekend, maar ek wil jou uitdaag om weer ‘n slag eerlik hierna te kyk...en meer nog, dit opreg te bid voor die aangesig van God! Dis ‘n stuk Goddelike dinamiet wat alle mensgerigte godsdiens en selfsug aan flarde skiet! Wie dit opreg bid beleef ‘n rewolusie in sy hart, want dit onttroon die “Eie Ek” So maak ek  ‘n opregte oorgawe aan God my Verlosser. Hierdie is nie maar ‘n mooi rympie wat ons denkloos kan voortbabbel nie, dis ‘n lewensveranderde gebed. Dit trek ‘n duidelike streep tussen selfgerigte menslike godsdiens en ware Godgesentreerde aanbidding! Wie dus die Onse Vader opreg kan bid is besig met ware aanbidding. Wie wegskram van die Onse Vader se implikasies beweeg in die rigting van vals aanbidding. Ons gaan nou net stilstaan by die eerste drie bedes (Matteus 6:9,10) en spesifiek by die betekenis en die implikasies van die kort voornaamwoord “U”. 

Dis die fokus: Nie ek nie, maar U! 

Nie my Naam nie, maar U Naam! Nie my koninkryk nie, maar U koninkryk!  Nie meer my wil nie, maar U wil!  Dit kom neer op ‘n “U draai” - weg van mensgesentreerdheid na Godgesentreerdheid! Kom ons kyk na ‘n paar praktiese implikasies:

Die erkenning van die voorrang van Sy Naam, Sy koninkryk, Sy wil. God se Naam, koninkryk en wil kom eerste. Dis die belangrikste! Sien ons die prioritet van God se Naam, m.a.w. sy reputasie  en eer raak? Esegiël 36:20-23 wys hoe belangrik dit vir God is. (lees) Besef ons dat die koms van God se koninkryk belangriker is as enige ander saak, ambisie of projek? God se koninkryk is die wenperd!   Wie sy hoop op iets anders stel gaan verloor. Net God se koninkryk het werklike waarde, alle menslike aspirasies en prestasies gaan verkrummel. (Dink maar aan die beeld wat Nebukadneser in sy droom gesien het) Tel God se koninkryk vir jou meer as jou sportprestasies, rykdom en persoonlike belange? Glo ons dat God se wil die hoogste en volmaakste uitdrukking is van wat goed is?  Net God se wil is perfek. God se wil  en geen mens se opinie nie, ook nie die meerderheid se opinie nie, is die enigste norm in die heelal. Wat die res van die mensdom en sy modes sê dra geen gewig nie! Ware heiligheid word gemeet aan onderwerping aan God se wil. Hiervan is Jesus se gebed in Getsemane die uiterste voorbeeld : “...nogtans nie my wil nie, maar U wil.”

Die prysgawe en afstand doen van my naam, my koninkrykie en my sondige wil. Dit gaan in die Onse Vader oor ‘n  keuse teen myself, en vir God. Vir God se eer, vir God se koninkryk, vir God se wil. Dit sal elke ander  keuse beïnvloed wat ek maak. “Hoe raak dit hierdie ding wat ek wil doen, hierdie vriendskap, hierdie planne... ?” Wie eerlik die Onse Vader bid, ondergaan dus ‘n pynlike bekering, ‘n doodmaak van die self, maar ek beleef juis ook ‘n wonderlike bevryding - ek hoef nie meer angstig te wees oor my naam en reputasie en my eer nie, ek hoef nie meer met hand en tand te veg vir my ou klein koninkrykie (dit kan my gemeente, my plaas, my besigheid, my ego...wees) en sy belange nie, my wil hoef nie te gebeur nie, want God se wil is beter... ja, beter ook vir my, want Hy is ‘n liefdevolle Vader! ‘n Heerlike stuk gemoedsrus, ‘n vind van vrede in die volmaaktheid van God!

Die beskikbaarstelling van myself. My gebede is nie eerlik as ek dit nie self my vir die vervulling daarvan bewyer  nie. Ek moet myself beskikbaar stel vir die heiliging van God se Naam. Hoe? Deur so te leef dat almal sal sien dat God die belangrikste persoon is in my lewe. Deur so op te tree dat mense sal dink en sê : “Wat ‘n wonderlike God dien hy.” My keuses - selfs in klein sake soos kleredrag en ontspanning - moet wys dat God se waardes swaarder vir my weeg as menslike standaarde en opinies. Ek moet myself beskikbaar stel vir die koms van sy koninkryk. Ek onderwerp myself aan sy koningskap, maar moet ook prakties daarvoor werk. Deur getuienis met woorde en dade. Ek moet myself beskikbaar stel vir die bevordering van sy wil. Ek moet vra dat Hy my so deur sy Heilige Gees sal regeer dat ek dit wat God wil hê sal doen en sal liefhê. Dit beteken praktiese gehoorsaamheid aan sy Woord, al bots dit met my wil en gevoelens. “Here, ek voel nie meer lief vir hierdie vrou van my nie, maar ek sal haar liefhê, want dis U opdrag en wil! Here, ek voel nie lus om daardie ou wat my so sleg behandel het te vergewe nie, maar ek sal dit doen, want dit is wat U wil van my vra...”

Dis seker al teen hierdie tyd vir elkeen van ons duidelik. Die sondige mens kan en wil nie uit sy eie uit die Onse Vader bid nie. Ons harte is van nature net ingestel op ons eie belang, eie eer, eie gerief en op ‘n mensgemaakte plesiergerigte godsdiens. (Soos wat Israel rondom die Goue Kalf beoefen het) Hierdie gebed wys ons dus op die noodsaak van die wedergeboorte! Net as ek ‘n nuwe hart met ‘n nuwe visie ontvang het, kan ek my vereenselwig met die Onse Vader en dit opreg bid.

Hierdie eerste drie bedes het ten slotte nog die volgende praktiese nut :

‘n Toets vir die toestand van ons harte. Dis ‘n skeidsregter wat oordeel oor my diepste motiewe terwyl ek met God se dinge besig is. Dit wys uit of ek my al werklik  bekeer het van die afgode (veral die selfgod) tot die lewende God! Dit ontbloot die gruwelikste selfsug wat insluip in ons vroomste woorde en dade!

‘n Teenmiddel teen sondige hoogmoed wat hardnekkig en voortdurend in ons harte wortel skiet.. Elke keer as ek hierdie gebed opreg bid, is dit as’t ware ‘n nuwe bekering, om my opnuut in nederigheid  te onderwerp aan God en word hierdie onkruid uitgetrek.

‘n Troos dat God die dinge waarvoor Hy wil hê dat ons bid definitief sal laatgebeur op die bestemde tyd. God sal hierdie gebed nie onbeantwoord laat nie. Al lyk die wêreld nou hoe goddeloos en chaoties, ons kan rustig weet : God se Naam sal geheilig word. Ja, elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is! God se Koningsheerskappy sal finaal heerlik sigbaar word en elke vyand sal die onderspit delf  en in die poel van vuur gewerp word. God se wil sal geskied. Elkeen van God se raadsplanne sal tot in die fynste besonderhede tot op die letter toe uitgevoer word en niemand sal dit kan dwarsboom nie.

Calvyn sluit sy bespreking van die eerste drie bedes van die Onse Vader af met ‘n klomp goue waarhede, wat mens tot diep nadenke stem:

"Wanneer ons dit bid, moet ons God se heerlikheid alleen voor oë hou, onsself nie in aanmerking neem of enige voordeel vir onsself in gedagte hê nie. Hoewel daaruit groot voordeel na ons toe kom, moet ons dit nogtans nie hier vra nie. Hoewel al hierdie dinge egter nietemin op die bestemde tyd moet gebeur, ten spyte van ons gedagtes, ons wense en ons gebede, moet ons nogtans daarvoor bid en vra. En dit is vir ons ook van groot belang om so te getuig en te bely dat ons diensknegte en kinders van God is en ons sover dit in ons vermoë is, vir hierdie eer te beywer wat ons aan Hom as ons Here en Vader verskuldig is, en ons waarlik ten volle daaraan oor te gee. Mense wat derhalwe nie met so ‘n gesindheid en met so ‘n ywer ter bevordering van God se heerlikheid bid dat God se Naam geheilig mag word, dat sy koninkryk mag kom en dat sy wil mag geskied nie, moet nie as sy kinders en diensknegte beskou word nie." (Inst.3.20.43)

Kom ons bid die Onse Vader in nederige onderwerping, maar ook met ‘n helder sekerheid en blydskap!