BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 15 November 2013

“HY IS NOU OP ‘N BAIE BETER PLEK...”

- verskoon my, maar ek het my bedenkinge.


Onlangs lees ek weer hierdie woorde in ‘n bekende Suid-Afrikaanse koerant, in reaksie op die dood van ‘n jongman wat onder tragiese omstandighede gesterf het...
Dat die erfenis wat God vir sy kinders bedoel het, beslis as “‘n beter plek” beskryf kan word, wil ek nie betwis nie. Paulus verklaar immers duidelik : “...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste...” Wat my ongemaklik laat voel is as dominees, pastore en vriende by begrafnisse sommer goedkoop sentimentele uitsprake maak wat geen gronde het nie. Die begrafnisgangers (van wie baie, so op die oog af selde indien ooit die binnekant van ‘n kerk sien) word so maklik getroos met “So-en-so is nou op ‘n baie beter plek.” Tevrede en gerus gestel deur hierdie valse trooswoorde, gaan hulle voort om in losbandigheid sonder God en sy gebod aan te hou leef... Hulle het mos nou die boodskap gekry : Jy kan ‘n lewe leef wat nie die geringste spoor van Bybelse Christenskap nagelaat het nie, jy kan maar roekeloos gewees het, seksueel losbandig en noem maar op... maar ag wat alles is nou vergete, want hy/sy is mos op ‘n “beter plek”. Maak nie saak hoe skurf en sedeloos iemand geleef het nie, hierdie “kenners” verwys almal nog steeds na die hemel. God is mos ‘n God van liefde, en almal is mos maar sy kinders...

Is dit onkunde oor God se Woord of is dit maar gedwonge ordentlikheid of is dit sentiment gedrewe ydele troos? Dink die ouens wat hierdie uitsprake maak regtig dat alle mense ongeag hoe bandeloos en sonder Christus ‘n hemelse toekoms het?

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek dink beslis nie ons moet ooit gestorwe mense in ons uitsprake of begrafnispreke na die “hel” verwys nie. (selfs al sou mens diepe bekommernis oor ‘n bepaalde persoon in die opsig ervaar) Ek dink wel ons moet ons weerhou van goedkoop sentimentele trooswoordjies en eerder die volle waarheid van die Woord aan alle mense en by alle geleenthede bring. Die Bybelse boodskap is duidelik. Nie alle mense word gered nie. Trouens dis slegs die minderheid op die smal pad wat die lewe as erfenis kry. Nie eers alle kerkmense word gered nie. Van die tien maagde was vyf dwaas en word uiteindelik buitegesluit!

Valse “visioene” en uitsprake kan vir mense dalk tydelike troos bring, maar nie God se oordele afweer nie. In Klaagliedere kry mens die indruk dat die ellende van die ballingskap, God se volk gespaar kon gebly het, as die profete eerlik oor sonde en die eis tot bekering was! “Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.” (Klaagliedere 2:14) Wat ‘n skreiende aanklag!

Die finale oordeel kom God alleen toe, Hy in sy alwyse regverdigheid sal besluit oor elke mense se finale bestemming. Dis (gelukkig) nooit ons werk nie. Ons taak is wel om sondaars te waarsku en na Jesus uit te nooi terwyl daar nog tyd is. Hierin moet ons Bybels eerlik, nederig ernstig en liefdevol opreg wees.


Hierdie grafte in die woestyn by Noordoewer herinner mens daaraan om gereeed te wees. Na die graf is daar nie 'n tweede kans nie! Hebreërs 9:27 is tog duidelik :"‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel."

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.