BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Pandemie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Pandemie. Wys alle plasings

Donderdag 16 April 2020

WAAR IS GOD

in hierdie pandemie? 


[‘n oproep tot realisme en eerlikheid] 

Daar is baie troosboodskappe in hierdie tyd van Covid-19 en dis reg. Vir God se kinders is daar ‘n heerlike evangeliese troos te midde van hierdie verskriklike pandemie. Maar ek mis iets, ek mis in die meeste van die boodskappe die volle Bybelse perspektief oor pandemies, ellendes en rampe! Ons moet pasop vir valse en vinnige troos. Vir goedkoop #Prayfor… wie ook al! Ons moet ook eerlik met die wêreld wees wat betref die oorsprong van hierdie pandemie (Ek praat nou nie van Chinese markte of laboratoriums, vlermuise of ietermagôs nie, maar die diepere oorsprong!) 

Is alle ellendes maar net toevallige natuurverskynsels of die noodlot van die geskiedenis? 

Die perspektief uit Openbaring hoofstuk 16 (die uitgooi van die bakke op aarde) is : NEE! God is intens betrokke by hierdie dinge! “Toe het ek uit die tempel ‘n harde stem vir die sewe engele hoor sê: "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met DIE TOORN VAN GOD, op die aarde uit!” (1) LW. Gód se toorn. (nie die duiwel s’n nie) Maar nou wonder jy miskien, hoe pas dit nou in by die boodskap van Openbaring? 

TROOSBOEK

Ons weet tog dat Openbaring juis geskryf is as ‘n troosboek en aanmoediging vir Christene wat swaargekry het. Die hoofboodskap van Openbaring is dat God op die troon is. Hy is in beheer en almal wat verlos is deur die bloed van die Lam hoef nie te vrees nie, die koninkryk is vir hulle bestem. Hulle sal die oorwinning behaal omdat Jesus dit reeds behaal het. 

GOD RED ÉN OORDEEL 

Nou waar pas hierdie OORDELE wat uitgebeeld word deur die bakke dan in? Daar is duidelike patrone in die heilsgeskiedenis – hoe God se redding op aarde ontvou. Oordeel is altyd die keersy van redding. God oordeel sy vyande, juis as Hy sy mense red. Dink aan : Sondvloed. Verwoesting van Sodom en Gomorra. Redding uit Egipte Die oordeel van die tien plae. Terloops as ons kyk na die oordele van die bakke wat uitgegooi word is daar ‘n baie sterk ooreenkoms met die plae waarmee Egipte getref is. Swere, water in bloed verander, duisternis, onreine geeste soos paddas, hael...) Juis in God se oordele kom sy regverdigheid ook na vore! God red sy kinders deur sy groot genade, regverdigheid en liefde. God se toorn oor die sonde is die anderkant van sy regverdigheid en heiligheid. Juis omdat God regverdig is, oordeel Hy sonde. Juis omdat Hy liefde is, haat Hy wat verkeerd is! 

Al God se oordele is voorfilms, vooruitskouings op sy finale oordeel, wanneer sy vyande in die poel van vuur gewerp sal word. 

Rampe, ellendes, oorloë en epidemies op aarde is nie toevallige of neutrale gebeurtenisse nie. Dis waarskuwings van God en roepstemme tot bekering! 

SEËLS, BASUINE EN BAKKE 

Hierdie is nie die eerste keer in Openbaring waar daar oor God se oordele op aarde gepraat word nie. Die oordele van die breek van die seëls en die blaas van die trompette (basuine). Die groterwordende skaal van oordele is opvallend ; met die breek van die seëls word ‘n kwart van die aarde getref, met die blaas van die trompette ‘n derde, met die uitgooi van die bakke word die hele aarde getref. ‘n Al sterker opbou tot die eindoordeel word so geskets! 

Die eerste vier bakke gaan oor natuurrampe op land, see, varswaterbronne en in die hemelruim (die son). Natuurlik moet ons nou pasop om oorhaastig spesifieke rampe en ellendes en ongelukke te etiketteer as oordele oor spesifieke mense. Wat ons wel kan sê is dat God nie veraf en onbetrokke van Sy skepping af staan nie. Sy toorn oor die goddeloosheid van die mens het ‘n effek op aarde! God het die mag oor als wat gebeur op aarde. “Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het.” (9) 

Hierdie is nie nou die tyd en plek vir ‘n diepte bespreking van al die oordele in Openbaring 16 nie. Laat ons net kyk na twee opvallende sake : 

God is regverdig in sy oordele. Ons kry so tussen in die beskrywing van die plae ‘n lofrede op God se regverdigheid. "Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: "U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien." Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: "Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele." (16:5-7.) Die wêreld se perspektief is dat God onregverdig is. (Mens hoor dikwels as daar ‘n ramp of ongeluk gebeur dat mense God verwyt, maar dis dieselfde mense wat altyd nog leef asof God nie bestaan nie.) Een ding kan ons weet vanuit die hemelse perspektief, God is altyd goed en regverdig en sy oordele is ook altyd regverdig! God is ook regverdig as Hy ‘n pandemie op aarde loslaat! 

Die goddeloses is hardkoppig en weier bekering. “...En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie... En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (16:9,11) Dis die verstommende aspek dat God nog steeds geleentheid gee vir bekering, maar mense verwerp dit. Selfs tot aan die einde word God gelaster. (21) Net soos die Farao van destyds is hulle harte verhard! Dis wat ons in die praktyk sien – droogtes, vloede, rampe en pandemies lei nie noodwendig tot bekering nie! Die mens hou aan om God te ignoreer, te belaster en uit te tart met sy goddelose dade! (Dit wat God in Sy Woord gruwels noem word deur die wêreld aangeprys en aangemoedig!) 

Ons kan nie presies God se werkinge hier op aarde verstaan nie. Wat ons wel weet is dat God red én oordeel. Hy is nou reeds besig en Hy sal dit finaal doen as die goddeloses in die poel van vuur gewerp word en die regverdiges in die ewige koninkryk sal ingaan. Dis die boodskap van die hele Skrif* en dis wat Openbaar maar net in prentjies en simbole vir ons sê! 

Kom ons loof God juis ook in hierdie tye! Hy is ‘n regverdige God. Kom ons volhard in geloof en heiligmaking! God is ons Verlosser! 



*Byvoorbeeld dit wat ons in 2 Petrus 2:6-10 lees is ‘n goeie verduideliking van die betekenis van Openbaring 16.

  ” Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. 

En tog het Hy vir Lot gered, ‘n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. 

Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed. 

Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. 

Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.” 


Woensdag 01 April 2020

PSALM 91 - PANDEMIEPSALM?

- JA, IN JESUS IS JY ONAANTASBAAR VEILIG! (Wat presies behels dit?)*



“Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.” (Psalm 91:5,6)

Psalm 91 is een van die wonderlikste Psalms wat daar is! Ongelukkig tel dit ook onder een van die mees misbruikte Skrifgedeeltes. Dit word buite die geheelkonteks van die Bybel aangehaal en soos ‘n towerspreuk of gelukbringer (amulet) as ‘n eenvoudige kitskuur verkwansel. So sou mense in die pandemiese omstandighede van vandag maklik bogenoemde verse aanhaal as ‘n bewys dat Christene nie deur die nuwe koronavirus getref sal word nie. Is dit waar en verantwoordelik om so iets te beweer? Gaan Christene van die Covid-19 virus gevrywaar word? NEE!

DIE DUIWEL KEN DIE BYBEL

Baie interessant, die duiwel self ken Psalm 91 baie goed en het juis ‘n aanhaling uit hierdie psalm misbruik om Jesus te versoek en van sy God beplande doel en missie te laat afwyk. “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. (Matteus 4:5,6) Sy aanhaling kom natuurlik uit Psalm 91:11,12.

Maar nou moet ons net pasop vir ‘n ander groot gevaar – ons moenie die heerlike Psalm 91 ignoreer of weggooi omdat die duiwel en dwaalleraars dit misbruik nie! In hierdie psalm vind ons ‘n verkwikkende troos en grondige waarborg vir elke kind van God! Kom ons maak erns met die betekenis hiervan. Kom ons kyk eerlik hoe dit in die Bybelse geheelboodskap inpas. In die storielyn of openbaringsontwikkeling van die Bybel het Psalm 91 drie kontekste of ander gestel drie agtergronde:

1. Psalm 91 doen ‘n beroep op die volk Israel om tot God terug te keer en die verbondsvloek oor hulleself af te weer. 

Hierdie psalm haak aan by die vloeke en seëninge van die verbond soos opgeteken in Deuteronomium Die direkte agtergrond en konteks van Psalm 91 is dus die Mosaïese verbond. (wat ons vanuit NT perspektief die Ou Verbond noem)

In die Ou Verbond val die klem op die fisieke welsyn en welvaart van die volk Israel in die beloofde land, Kanaän. Die opsies was duidelik - As hulle God se verbond hou sal hulle fisies geseënd wees. (Deut. 28:1-14) Maar as hulle die verbondsbepalings nie nakom nie, sal allerhande fisiese ellendes hulle tref. Spesifiek ook peste en plae! “Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.” (Deut. 2:21) Hier in Psalm 91 hoor ons dus die omgekeerde boodskap van hoop en bevryding byv. vers 3 “Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.” en vers 10 “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;”


Psalm 91 bring dus hoop, spesifiek vir die bannelinge wat hierdie verbondsvloek aan hulle lyf gevoel het. Hier vind hulle dus ‘n boodskap van bevryding en herstel. Hier is ‘n belofte dat die verbondsvloek tot ‘n end sou kom en dat God weer vir Israel onder sy vlerke, onder sy beskerming sou neem. Weereens, dit eggo baie duidelik die taal van Deuteronomium. Vergelyk Deut. 32:11,12 “Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie.” Met vers 4 (OAV) “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.” Telkens hoor mens die versekering dat God die toevlug of skuilplek is vir sy volk. (2,4,9). Dit herinner sterk aan die uitspraak in Deut. 32:37. “Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode? Waar is die rots waar hulle gaan skuil het,..."



Die belofte in vers 7 “Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand; na jou sal dit nie aankom nie.” toon ‘n opvallende (omgekeerde) ooreenkoms met Deut. 32:30 “Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!”

In hierdie konteks gesien is Psalm 91 ‘n bekeringspsalm!

2. Psalm 91 is in Jesus vervul. 

Psalm 91 het op ‘n unieke manier op Jesus betrekking. Jesus is die ware opregte Israeliet sonder enige bedrog of ongehoorsaamheid. Hy en Hy alleen kom die verbondsbepalings volmaak na. Hy staan in ‘n volmaakte verhouding met Sy Vader en doen volkome die wil van die Vader. Jesus self het bevestig dat die Psalms oor Hom praat.** Prakties kom dit daarop neer: 

As daar ooit enigiemand was wat sou kon sê Psalm 91 se beloftes is op my van toepassing, dan was dit Jesus! 


Wie het ooit meer op God die Vader vertrou as Jesus (2) en wie het God ooit meer liefgehad as Jesus? (14) Dis juis waarom Satan se versoeking wanneer hy Psalm 91:11,12 gebruik so uiters geslepe en subtiel is! Hy weet dis van toepassing op Jesus! Maar hy misbruik dit om Jesus van die God bepaalde lydensweg af te verlei. Satan wil hê Jesus moet tydelike gerief, beskerming en voordele kies bo God se plan en opdrag vir Hom! Jesus moes mos juis ly om die Nuwe verbond tot stand te bring. Die Satan wys vir Jesus ‘n kortpad na heerlikheid – “Word ‘n wonderwerker wat van engele gebruik maak! Beskerm jouself met bonatuurlike magte!” Dis die duiwel se advies. Jesus weerstaan dit. Jesus kies om God se pad te loop – die moeilike pad na heerlikheid, die kruisweg!

Nodeloos om te sê – die duiwel mislei baie mense vandag nog met Psalm 91. Hy bied dit aan as ‘n maklike oplossing teen alle lyding en ellende. ‘n Kitsoplossing vir al ons probleme en sorge! Weerstaan hom soos Jesus hom weerstaan het! Aanvaar dat swaarkry, gevare en ellende deel is van die stukkende wereld waarin ons nou woon en moenie jou laat mislei met allerhande goedkoop reseppies nie. God beloof nie dat ons gevrywaar sal word van elke ellende, diefstal, pes of virus tydens ons aardse bestaan nie, maar Hy beloof ons iets baie heerliker! (Dit beteken prakties dat ook Christene maatreëls sal moet tref om hulleself te beskerm teen die virus, maar sonder die paniek en angs van die wêreld.)

Dit bring ons by die derde konteks van Psalm 91.

3. Psalm 91 is ‘n heerlike en kragtige versekering en sekuriteit vir diegene wat deel is van die Nuwe Verbond.

Psalm 91 het steeds vir ons betekenis, maar nie meer in die konteks van die Ou Verbond nie, maar die Nuwe Verbond wat Jesus tot stand gebring het. 


Die Nuwe Verbond het immers die Ou Verbond met sy bepalings vervang! Na Jesus se koms en voltooide werk leef ons nie meer binne die raamwerk van die Ou Verbond nie. In die Nuwe Verbond gaan dit oor baie meer as ‘n fisiese land Kanaän en fisiese seëninge! Dit gaan oor die ewige verblyf in die hemelse Kanaän met hemelse, ewige seëninge. (Wat inderdaad ook insluit die uiteindelike verlossing van die liggaam en die einde van alle smart, siekte en dood!) Dis waarin die kind van God nou deel het. Hoor hier - “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Efesiërs 1:3) Hierdie Nuwe verbond is ‘n beter verbond met beter beloftes! Dit word bevestig deur Hebreërs 8:6 –“Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Vgl. ook Hebr 7:22) 

ONS TROOS!

So wat is die troos van Psalm 91 vir ons? In Jesus is ons veilig en kan niks en iemand nie – nie gevare, nie vyande, nie armoede en benoudheid, nie peste of virusse ons van ons ewige verlossing beroof nie! God beloof aan almal wat aan Jesus behoort ewige heerlikheid en onsterflikheid en dis derduisende maal heerliker beloftes as die beloftes van die Ou Verbond!

Die samevatting en klimaks van Psalm 91 se heerlike boodskap kry ons in vers 16. “Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” (OAV – letterlik vertaal) Hierdie beloftes is van toepassing op jou as jy aan Jesus behoort! 

God se ewige volledige verlossing in Jesus is onwankelbaar, onaantasbaar vas en seker! Ons ewige heerlikheid en verlossing word gewaarborg. 

Niks kan enige skade aandoen aan God se liefde vir ons en ons ewige erfenis nie. (Vergelyk Romeine 8:31-39) Covid-19 en selfs die dood hou geen bedreiging vir ons in nie, want dood is nie meer die einde nie, maar slegs die ingang in na ‘n ewige onsterflike heerlikheid by God! Psalm 91 word heerlik waar in die opstandingsoorwinning wat Jesus behaal het oor die dood en die opwekking van ons liggame.*** Dis beter as enige belofte van die Ou Verbond!

NASKRIF

Die hele Ou Testament moet verstaan word in die lig van Jesus en die Nuwe Verbond - dit geld vir al die wette, offers, instellings (sabbat, besnydenis, tempel...) en natuurlik ook die Psalms! Psalm 91 is geen uitsondering nie!


AANTEKENINGE

*Met erkenning aan Wyatt Graham se artikel “Does Psalm 91 Promise to Protect Us from Pandemics?” 

**Lukas 24:44 “Daarna sê Hy (Jesus) vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."

***As dit vir jou onduidelik is, gaan lees gerus weer die triomfantelike 1 Korintiërs hoofstuk 15!

 



Dinsdag 31 Maart 2020

EK GLO

- Kom bely saam met my die vaste waarhede ten midde van pandemie en dood!

Soos die vierkantklip staan die waarhede van die Woord rotsvas in alle omstandighede en tye!

Loer by :

https://www.youtube.com/watch?v=U-_un96m6fE



Saterdag 28 Maart 2020

PRIORITEIT TYDENS ‘N PANDEMIE


- Jesus praat prontuit! 




Ons leer nou ‘n nuwe woordeskat wat ‘n paar weke gelede nog net vaagweg op die horison was – "pandemie, koronavirus, Covid-19, inperking, ingrendeling, afsondering…bykans apokaliptiese tonele van dood en chaos!" (en eindelose samesweringsteorieë) 

En dit laat mens sommer oor baie dinge dink...



HET JY AL GEWONDER? SAL DAAR MIN MENSE GERED WORD OF BAIE? 

Wat van my familie, vriende, werksmense... of daardie groot getalle wat tans in Italië, Spanje, Iran... sterf aan Covid-19? Hoeveel van hulle is gered en nou by die Here? Hoeveel van hulle gaan die ewigheid en in heerlikheid by God deurbring? Hoeveel nie? En jy dink : "Miskien baie... die genade is immers groot! Miskien min... Die pad wat na die lewe lei is tog immers die smal pad..." 

Jesus self gee ‘n belangrike perspektief op hierdie dringend belangrike vrae in LUKAS 13:22-30. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie sleutelvraag direk vir Jesus te vra : “Here, is dié wat gered word maar min?” (23) 

Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die verbondsvolk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! – onder baie van ons mense heers ‘n soortgelyke wanopvatting. (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering – die boom wat nie vrugte gedra het nie in die voorafgaande gedeelte in Lukas sou mense dalk ook verder hieroor kon laat wonder het.) 

VERRASSENDE ANTWOORD 

Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord. Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24a) en ‘n waarskuwing. (Vers 24b) 

UITDAGING. 

“Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat JY wel sal ingaan! Daar het jy dit! En tog, iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou? Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Nee, Jesus onderstreep maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat regtig met hulle hele hart daarna verlang en dit aangryp!

Verder ook het genade ingrypende gevolge in ons lewens. Genade wek by ons ‘n nuwe koers en ‘n nuwe passie. Genade spoor ons aan tot aksie! Genade beteken nie dat ek op die sitkamermat voor die TV kan lê en redeneer :”Ag, wat dis die Here se werk om my te red, ek sal aangaan en my lewe geniet soos ek wil!” Redding is vir diegene wat daarna smag. Die wat honger en dors na geregtigheid. God se soewereine genade bestaan juis daarin dat dit ons tot ontsag vir God en aktiewe werksaamheid bring en inspireer! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13) 

Jesus wil dus sê : 

Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU! 

Hoekom, nou? Hoekom behoort egte genade by ons ‘n dringende erns te wek? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry) 

Span al julle kragte in beteken dus : Gryp ten volle die genade aan terwyl die geleentheid daar is. En dis NOU… 

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? 

Kom ons wees prakties - As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal: 

~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. Dis die groot genademiddel! Iemand wat Sondae laat slaap... is nie juis baie ernstig oor genade nie! 

~ek gebruik maak van die gawe van gebed. "Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!" (Romeine 10:13)

~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart? 

~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n besliste struikelblok vir vergifnis! 

~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Geld en sakebelange, pret en plesier kan maar eers ‘n bietjie wag! 

~ wanneer ek genade ontvang het, volhard in die goeie wedloop en as ek geval het weer opstaan! 

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. Hy brei uit op die waarskuwing met : “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” (27, 28) Baie mense leef onder ‘n vals illusie van sekerheid en saligheid. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. 

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uiteindelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word, want hulle het die genadegeskenk aangegryp! 

'N LAASTE EEN GAAN IN!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Die misdadiger aan die kruis...“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry ‘n heerlike waarborg : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk! 

Ons eerste prioriteit ook in hierdie tyd van die Covid-19 pandemie is nie bloot om gesond te probeer bly nie, maar om gereed te wees vir die koninkryk! 

Siekte of nie siekte nie, virus of nie virus nie – een ding is belangrik! Om aan my getroue Verlosser Jesus Christus te behoort. Maak gebruik van die genade in Jesus, NOU!