BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Alles net genade. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Alles net genade. Wys alle plasings

Saterdag 02 April 2016

BLY OP DIE BRUG!

- Waardeer en respekteer die grootste geskenk van God.

Genade vir helverdiende sondaars! Dis God se grootste geskenk aan ons. Die hele Bybel is ‘n dramatiese verhaal van God se genade. Dit klink alreeds helder in die tuin van Eden as die Here God in liefde na die sondegevalle mens uitreik en roep: “Adam waar is jy?” Ons sien dit in die velklere wat God vir die mens gemaak het om hulle uit te help na hulle powere poging om hulle naaktheid met vyeblare te bedek. Ons sien dit as God vir Noag en sy familie spaar. Ons hoor dit duidelik as God die afgodsdienaar Abram roep en heerlike beloftes maak aan hom maak. Ons sien dit as God Moses stuur om die slawevolk Israel uit Egipte te lei...die bloed van die paaslam aan die deurkosyne...manna, kwartels, water uit die rots... Natuurlik sien ons dit die heel duidelikste as God die finale Verlosser Jesus Christus stuur om ons straf in ons plek volledig aan die kruis te dra sodat elkeen wat in Hom glo kwytgeskel kan wees van sondeskuld en die ewige lewe kan geniet. God se genade vernietig sonde, Satan, dood en hel!


Genade bring vergifnis. Genade bring herstel. Genade bring veral eer aan God want dit wys God se rykdom van genade en dat Hy daarvoor maar net ewig geprys kan word. Dis dus verstaanbaar dat die duiwel nie baie gelukkig is oor genade nie. Genade bevry ons uit sy greep van verslawing en skuldgevoelens en hy hou nie daarvan dat ons gelukkig is en God loof en prys nie. Daarom het die duiwel ‘n dubbele taktiek om te probeer keer dat ons die genadegeskenk waardeer en aanvaar. Anders gesê, die duiwel vertel twee groot leuens oor genade om ons van die volle genadeseën te probeer beroof:

1.Hy probeer ons wysmaak dat God se genade nie genoeg is nie. Hy wil dus hê dat ons genade moet geringskat. Hoe so? Dis die wese van die probleem wat Paulus in die Galasiese gemeente moes aanspreek. Daar was Judaïseerders wat die mense geleer het dat die genade wat ons deur geloof in Jesus ontvang nie genoeg is nie. Hulle het mense probeer wysmaak dat die genade deur sekere wetsvoorskrifte aangevul moes word. Hulle het vir die mense geleer dat hulle besny moet word en sekere Joodse feeste moes vier. Paulus het sy kommer in geen onduidelik taal hieroor uitgespreek nie. “Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.” (Gal 4:8-11) 

En daarom het Paulus vroeg reeds in die brief bevestig dat die genade wat ons kry deur in Jesus te glo heeltemal genoegsaam is, en dat om die genoegsaamheid daarvan te betwyfel eintlik op die verwerping van genade neerkom. “Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.” (Gal 2:21) Soveel mense leef daagliks in vrees, twyfel of skuldgevoelens omdat hulle nie regtig glo dat Jesus se genade vir ons (my) genoeg is nie! Hulle sal sê, ja ek glo in Jesus, maar ek het seker nie genoeg gehuil oor my sondes nie, ek voel nie reg nie, ek twyfel want ek kry party reëls nie reg nie, ek wonder of ek God se kind is want ek het nog nooit in tale gepraat nie, ek is bang ek is nie gered nie, want sê nou maar die name wat ek vir God en Jesus gebruik is nie reg nie... O, en daardie een verskriklike sonde wat ek nie kan vergeet nie... Sulke mense moet duidelik hoor: 

God se genade deur Jesus is genoeg! Moenie iets (hoe vroom ook al) as aanvulling by God se genade gebruik nie.  Moenie twyfel dat God se genade die grootste sonde uitwis nie!

2.Maar daar is ook ‘n ander leuen wat die Satan ons vertel om ons van genade te probeer beroof. Dis weer die anderste uiterste. Hy wil ons laat glo dat genade beteken dat ons maar lustig en houtgerus kan aangaan met sonde. Dit kom neer op ‘n minagting en misbruik van genade. Hy wil ons laat verstaan dat die vryheid wat genade bring, ‘n vryheid is om ons sondige luste te laat seëvier. Paulus waarsku ook duidelik hierteen. “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie....Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie." (Gal 5:13-16, 19-21) 

Moenie kanse vat met genade nie. Moenie God se genade misbruik as ‘n verskoning om lustig aan te hou met sondig nie. 

Hierdie misbruik van genade is so oud soos die kerk self en 'n ernstige dwaling, wat deur valse leraars gepropageer word. (Kliek op Judas 3-4) Dit gaan hier oor mense wat redeneer : “Ag, wat God is mos genadig, ag Jesus het mos vir sondes gesterf, laat ek maak soos ek wil!” As jy so redeneer is jy in vir ‘n aaklige verrassing. Jy staan onder God se oordeel. Nie omdat God se genade te klein of te beperk is nie, maar omdat jou houding wys dat jy nog nooit sy genade aanvaar het nie. Want die kind van God wat sy genade aanvaar het, besef sy genade het die bloed en lyding van Jesus gekos, dis kosbaar, daarom kan ek dit nie misbruik nie, en wanneer ek dit wel doen sal ek diep berou hê daaroor.

Neem kennis van die duiwel se dubbele aanval op God se genadeboodskap:
Hy gaan jou wysmaak dis nie genoeg nie, sodat jy genade sal geringskat en wanhopig en vol twyfel raak en self die genade probeer aanvul deur wettisisme. 
Of hy gaan jou probeer vertel dat genade beteken dat jy hoegenaamd nie meer oor sonde bekommerd hoef te wees nie (minagting van genade), dat jy rustig met jou ou lewe kan aangaan en dat heiligmaking iets onnodig is. 
Geringskatting van genade lei tot twyfel, hardvogtigheid en wettisisme. 
Misbruik of minagting van genade, skep 'n valse sekerheid en valse gerustheid loop uit op 'n onheilige lewe van losbandigheid. Beide benaderings is dodelik gevaarlik en bring God se oordeel oor ons. 

Genade is soos ‘n stewige brug wat na God lei. 
Dis inderdaad 'n baie sterk brug wat die "gewig" van die grootste sondaar veilig kan dra, al was hy ook skuldig aan lastering, moord, owerspel....



Aan weerskante van die brug (bo-aansig) is twee gevaarlike afgronde. Die een afgrond is die geringskatting van genade (wettisisme) die ander is minagting/misbruik van genade (losbandigheid).

Hoe bly ek op die brug? Aanvaar die genade van God as ‘n volkome genoegsaam, glo dat Jesus die volle boete vir jou sonde betaal het. Ja, ook daardie een sonde wat jou so teister en jou lewe geskend het. En leef dan ‘n dankbare lewe in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees! Roei alles uit wat die Gees vir jou deur die Woord wys wat nie reg is nie! (Gal 5:16) Jy sal baie goed weet wat hoort nie meer in jou lewe nie. En as jy inderdaad weggedwaal of geval het, roep God se genade jou weer terug en tel jou weer op...

Kom ons juig oor die genade en dank God met liefde en gehoorsaamheid!


Donderdag 02 Oktober 2014

Dis unfair!

- die dilemma van die dikbek siniese Christen : “Hoekom behandel die Here my dan so onregverdig?”


“Dis ‘unfair!’ Kyk hoe hard werk ek vir die Here, maar Hy gee nie vir my plaas reën nie! Kyk hoe hard probeer ek om heilig te leef, maar dan sukkel ek so met my onhebbelike kinders. Ek doen my beste vir die kerk, en dan breek my kar, juis op pad na die wyks of selbyeenkoms... Dis juis dan nou my vrou wat met ‘n ongeneeslike kwaal gediagnoseer is. Kyk, daardie broer van my is ‘n sukkelende Christen, maar die Here gebruik en seën hom uit sy sokkies! Sien die Here dan nie raak wat ek vir Hom doen nie, maar kyk net daardie ou, hoe goed gaan dit met hom...en kyk na my... Nou is die Here darem onbillik. ”


Vergelykings met ander Christene en ‘n gevolglike gevoel van verontregting, is ‘n algemene rede vir ‘n vaal en ongelukkige Christenskap. Die oorsaak hiervan lê baie diep. Jesus hanteer hierdie saak in die gelykenis van die werkers in die wingerd. Lees Matteus 20:1-16 (dis belangrik om die Bybel voor jou oop te hê)


ARBEIDSONREG?


Hier gaan darem nou ‘n vreeslike onreg aan (immers so wil dit voorkom)- iemand wat net een uur gewerk het kry dieselfde loon as iemand wat die hele dag gesweet het. Die swoegers en die laatkommers word op gelyke voet behandel. Presies dieselfde loon vir die wat nat gesweet en uitgeput is as vir diegene wat skaars opgewarm het. Dit kan mos nie? Is dit nie ’n onregverdige arbeidspraktyk nie? Jesus wil tog nie vir ons leer om ons arbeiders onregverdig te behandel nie of hoe? Wat wil Hy dan sê?


UITSTEL?

Party mense maak dalk ‘n gevaarlike afleiding uit hierdie gelykenis. Hulle redeneer : “Kyk ek kan maar wag tot op die laaste voor ek tot bekering kom, ek kan maar uitstel....” Nee, dis baie duidelik Jesus sal nie so iets leer nie. Ja, dis wel so dat party mense eers op hulle sterfbed tot bekering kom... ons weet almal van die misdadiger aan die kruis. Maar die Bybel waarsku ons teen uitstel. J. C. Ryle het dit so gestel : “Few are saved on their deathbeds - one thief on the cross was saved that none should despair, but only one that none should presume”

Hierdie gelykenis het hoegenaamd niks met uitgestelde bekering te make nie.


Maar wat wil Jesus dan nou wel leer deur hierdie gelykenis?



Die konteks gee vir ons ’n belangrike leidraad. In die voorafgaande hoofstuk lees ons van die Rykjongman. Soos ons weet was hierdie man begerig om die ewige lewe te hê, maar nie bereid om afstand te doen van sy rykdom om Jesus te kan volg nie.....Dit het Jesus laat opmerk dat dit moeilik is vir ’n ryk man om in die Koninkryk in te gaan. In reaksie op dit alles reageer toe Petrus so : "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?" (Matt 19:27). Dis asof hy wil sê : “Kyk Here, ons is darem nie soos hierdie ryk man nie, kyk ons het darem alles prysgegee om U te volg. Ons is darem beter, ons is darem oulik, ons verdien darem seker ietsie spesiaals of hoe? Sien u dit darem raak, Here?” Jesus antwoord Petrus dan en inderdaad sê hy vir die dissipels wat hulle sal kry. “En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.” (Vers 29!) Ja, inderdaad dit wat die Ryk jongman gesoek het (die ewige lewe vgl. 19:16) sal hierdie dissipels wat alles prysgee vir hulle geloof , ontvang.



PASOP VIR : “EK IS MOS DAREM SPESIAAL OF HOE?”



Maar Jesus het nog nie klaar gereageer nie. Hy het ’n vals nooit, ’n onsuiwer klankie in Petrus se denkwyse opgetel. Petrus verraai onkunde oor ’n belangrike Koninkryksbeginsel. Daar het ’n stukkie selfgeregtigheid, self staatmaak op eie opoffering in Petrus se woorde deurgeskemer en daarom maak Jesus hierdie eienaardige opmerking in vers 30. “Maar baie wat eerste is sal laaste wees, en wat laaste is eerste.” Dis baie duidelik die dissipels wat alles opgeoffer het om Jesus te volg, is “eerstes”; die Ryk jongman bly agter, hy word ’n “laaste” op die pad van die Koninkryk. Dis ’n duidelike waarskuwing aan Jesus se dissipels om nie op hulle eie volgelingskap te vertrou en staat te maak nie. Hulle moet besef die ingaan in die ewige lewe hang uitsluitlik af van God en sy genade, die God by wie alle dinge moontlik is! So hierdie gelykenis is ’n rugsteun en onderbou van Jesus se uitspraak in vers 30. (Die hele tema van “laastes en eerstes” is ingeweef in die verhaal self - 8b, 10, 12, 14 en in 16 kry ons ’n basiese herhaling van 19:30) eintlike ’n stukkie kommentaar van Jesus op Petrus se stelling wat daarop neerkom dat hy dink dat hulle wat Jesus volg darem bietjie spesiaal is. Dit laat ons nou al raaksien waarop die gelykenis afstuur : in die Koninkryk behoort niemand te dink hulle is spesiaal nie, behoort niemand aanspraak te maak op regte nie, want alles is genade!



MOENIE DIE BASIESE BEGINSEL VAN GENADE VERGEET NIE!



Dis duidelik die eerstes, die wat Jesus volg, met ander woorde, die dissipels word hier aangespreek. Die klem in die gelykenis val nie op die laatkommers nie, maar juis op die wat van die begin af gewerk het, die eerstes. Hulle was ongelukkig omdat hulle dieselfde betaling as die laatkommers gekry het. So in hierdie gelykenis word die eerstes uitgesonder vir kritiek en word hulle aangespreek oor hulle ontevredenheid. 



Opvallend as mens na die verhaal self kyk, is dat die loonuitbetaling by die laastes begin. So bewerk die werkgewer doelbewus dat die ouens wat heeldag gewerk het, getuie kan wees van sy goedheid teenoor die laatkommers. In hierdie gebeure staan die ruimhartigheid van die Eienaar voorop. Dis duidelik dat dit nie vir die Eienaar oor werkprestasie gaan nie, maar die deurslaggewende vir hom is sy begeerte om vir al die arbeiders ’n lewensonderhoud te voorsien! Ja, selfs die persoon wat maar net die laaste ou uurtjie gewerk het, ontvang ’n volle dagloon. En hier kom die probleem vir die eerstes in. Hulle neem aanstoot oor hierdie ruimhartigheid. In hulle denke is daar geen ruimte vir hierdie ekstra ontferming van die Eienaar nie.



Hierdie manier van dink by die eerstes is ’n gevaarlike slaggat waarin ons ook maklik kan trap. Kom ons trek hierdie denkwyse van die eerstes bietjie in praktiese terme deur na ons. Wat het verkeerd geloop in hulle denke, hoe het dit gekom dat hulle begin kla het en ontevrede was, wat het hulle nie reg verstaan nie wat tot hierdie ongelukkigheid aanleiding gegee het?



~ Hulle begin te veel bewus raak van wat en hoeveel hulle doen. “Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon.” (Vers 10) Hulle het begin sommetjies maak oor hulle werk vir die eienaar. Begin onderlangs boekhou. Begin vergelykings maak: Kyk hoe hard werk ons, hoe lank werk ons.....ons verdien meer. Hulle vergeet die beginsel wat in 1 Korintiërs 4:7 onderstreep word : “Wat maak jou so belangrik en wat besit jy wat jy nie ontvang het nie”



~ Hulle begin kla. “Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla “ (Vers 11) Kla is maar net die uiterlike verskynsel van iets wat lankal in die hart broei. Boekhou lei tot vergelyking, wat weer lei tot ontevredenheid, wat lei tot selfbejammering en uiteindelik openlike murmurering. (Terloops - onvergenoegdheid, die gewoonte om te kla is ’n gruwelike sonde in God se oë - Numeri 11:1-3, 1 Korintiërs 10:10 (OAV) Filippense 2:14!)



~ Hulle begin jaloers raak op die ander werkers en hulle verag. “en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’” (Vers 12) Hoor die bytende verwyt - “hierdie laastes” Ten onregte! (hulle het niks verkeerd gedoen nie) Jaloesie is ’n kanker in die kerk van die Here. Hoekom word hy gekies, bedank, uitgesonder, geseën of bevorder terwyl ek soveel opgeoffer het?



~ Die ergste fout wat hierdie eerstes gemaak het is hulle gevoel en insinuasie dat die Eienaar onregverdig was. (Luister bietjie, hulle is sommer onbeskof en onbeleef teen Eienaar - die aanspreekvorm Meneer ontbreek - vers 12) Die Eienaar bly beheers en spreek die woordvoerder ordentlik aan, “Vriend”. (eintlik kon hulle weggejaag het) “Ek doen niemand onreg aan nie, ek benadeel niemand nie.” Die feit is - die Eienaar het presies die regte loon betaal waarvoor hy hulle in diens geneem het, waarop hy en hulle ooreengekom het. Die Eienaar was hoegenaamd nie oneerlik nie, hy het ook nie sy woord gebreek nie. Die eerstes het gekry wat hulle beloof is en die laastes het gekry omdat die Eienaar dit vir hulle wou gee. Hy kan tog met sy besittings doen wat Hy wil! So waarop kom dit neer, wat is regtig die wortel oorsaak van die eerstes se ongelukkigheid (onthou : hulle is mos nie benadeel nie) Hulle is ongelukkig en jaloers omdat die Eienaar goed is! Skokkend , maar dis so! Die Eienaar sien hierdie verkeerde gesindheid raak –“ Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’ (15b) Hoe maklik gebeur dit : God se goedheid en genade vir ander maak my dikbek. Here kyk wat kry Hy, ek offer baie meer op, ek loop die pad al langer, ek is meer toegewyd, ek verdien mos beter behandeling... Baie gevaarlik : Ek skep vir myself ’n wanbeeld van God, ek begin sy goedheid wantrou, my liefde vir God verkoel ...en dit alles omdat ek nie die beginsel van genade verstaan nie, omdat ek nie die wydheid van God se goedheid besef nie! Dis presies wat die profeet Jona oorgekom het toe hy dikbek was omdat God die goddelose stad Nineve nie gestraf het nie!



Die tragiese toestand waarin hierdie eerstes verval het is ’n ernstige waarskuwing vir ons. Juis ons wat opofferings maak, die Here wil dien, toegewyd wil leef kan maklik in hierdie denkpatroon verval...ek verdien darem bietjie beter behandeling, ek is darem spesiaal, ek wil darem bietjie erkenning kry, ek loop die pad mos al lank ek wil darem bietjie resultate en dividende op my geestelike beleggings sien...



Die gelykenis sluit af met dieselfde waarskuwende slotsom as 19:30. “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” Waarom sal party eerstes op die ou end laastes word? Daar is wel diegene wat hulle vroeg laat roep het, vroeg gehoorsaam geword het aan die evangelie, maar hulle word uiteindelik “Laastes” omdat hulle aan andere die genade misgun! Hulle kom in opstand teen God se genade vir ander sondaars en so bevraagteken hulle God se goedheid. (Soos die oudste seun in Lukas 15!)



Miskien is hierdie sondige en onkundige denkwyse reeds deel van jou sisteem. Dit maak dat jy ongelukkig voel, dat jy ongeduldig is met die res van die gemeente en op die ou end versteur dit jou verhouding met God self. Dit maak jou « Christenskap » suur. Dit kan veroorsaak dat jy teen God draai en ’n “laaste” word! Pasop!



Hoe moet mens hierdie sondige denkwyse oorkom?



~ Verander jou gedagte oor die Koninkryk van God. Moenie aan die Koninkryk dink in terme van winste of regte nie. Alles is genade en goedheid. As God se soewereine genade nie in jou lewe ingegryp het nie was jy vandag nog op pad hel toe.

~ Moenie verval in ’n werke vir loon gesindheid nie. Ja, God gee loon, maar dis genadeloon want eintlik is al loon wat ons verdien, die ewige straf. Moenie onderhandel (bargain) met God nie!

~ Moenie vergeet nie - God is soewerein! Hy kan met sy gawes maak wat Hy wil. Moenie God se optrede bevraagteken nie- Hy is altyd regverdig en altyd goed!

~ Moenie begin rekord of boekhou van jou goeie dade of jou heiligheid nie. Al doen jy baie en al vorder jy ver in heiligmaking - dis nog steeds net God se genade wat jou daartoe in staat stel en nie jou eie prestasie of vermoëns nie. Jy het niks om op te roem nie. 

~ Moenie ongeduldig raak met swakker gelowiges nie. God stap wel ’n pad met hulle. Onthou jy is net so afhanklik van God se genade soos hulle.



Positief - hoe kan ek hierdie verkeerde gesindheid oorwin? Hoe kry ek die vreugde van Christenskap weer terug?

~ Bely hierdie verkeerde gesindheid – “Here U was my genadig en nou wil ek U voorskryf of kritiseer. Hoe kan ek so blind wees vir U goedheid? Vergewe my bose gedagtes!”

~ Vra jouself af - wat verdien ek regtig? Besef dan : Niks! Alles, ja my hele Christen lewe is alles van begin tot end een groot stuk genade. “Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.” 1 Korintiërs 15:10! 



Raak weer opgewonde oor God se genade in jou lewe! So word jou vreugde herstel!

Mag sy kalmte heers in ons lewens!



Erkenning : Martyn-Lloyd Jones se “CHRISTIAN DEPRESSION” en kommentaar van Jakob van Bruggen.