BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 28 Junie 2017

“PA, BEGRAWE MY OP DIE RUGBYVELD”

- die onverantwoordelikheid van Namibiese skolesport!

[Hierdie paar gedagtes het lankal reeds begin groei in my hart en op die rekenaar, maar ek het tot nou toe gehuiwer om dit te plaas, tot vanoggend toe ’n bekommerde pa sy hart met my gedeel het...]

Slaan my, skop my, skiet my, nes jy wil, maar die waarheid moet gesê word. As ‘n onderwyser-afrigter laat deurskemer dat hy eintlik nie heeltemal so bly is as ‘n span van hom na ‘n eindronde deurdring nie. As jy hoor hoe ‘n skolespan op een dag op Okahandja én Outjo moet speel. As getroue katkisante weens sportverpligtinge dit net nie kan maak om op ‘n Sondag betyds en vars in die klas te wees nie. As ‘n enkelouer by jou kla oor die geweldige klomp geld wat dit kos om die kinders te laat deelneem... As daar naweek vir naweek ‘n dolle gejaag oor die Namibiese vlaktes en op gevaarlike taxi roetes plaasvind om kinders van noord en suid, oos en wes vir wedstryde aan te karwei... As die uiteenlopende sportbedrywighede oor naweke selfs verwydering binne in ‘n huisgesin bring, want een kind speel op hierdie dorp en ‘n ander een op ‘n ander plek... As daar weinig plek is vir geestelike en kulturele bedrywighede in die week, want sportoefeninge word nou al vir drie middae in die week gereël, dan begin jy vermoed dat dinge op sportgebied hand uit geruk het. Daar is byna nie meer iets soos ‘n rustige naweek wanneer ‘n gesin iets op hulle eie kan doen nie! Om ‘n kerkbasaar of gemeentefunksie te reël, waar ons kosbare kinders ook saam kan wees het haas onmoontlik geword. Dit word geskuif ter wille van skolesport na ‘n ander naweek om maar net weer uit te vind dat die ander naweek ook geokkupeer is.

Iewers is iets nie pluis nie, of is dit normaal en reg dat kinders met beserings gedruk word om maar deel te neem? Is dit reg dat die geestelike opvoeding van ons kinders altyd tweede viool moet speel? Is dit gewens dat ons kinders (en ouers) te moeg is om op Sondae in die erediens te wees?

Ek hoor iemand teenkap : “Sport was nog altyd vir ons Suidwesters baie belangrik, ook in die ou dae.” Ja, ek stem saam, maar dit word vandag baie meer oordryf. (en natuurlik was als wat in die “ou dae” gebeur het ook nie noodwendig altyd reg nie) Een rede vir die sportontploffing is natuurlik al die ekstra byeenkomste, want ons privaatskole moet ekstra fondse insamel. En mens het begrip daarvoor. En die onderwysers (wie se gesinslewe ook ontwrig word) se harde werk moet waardeer word. Maar is die prys in lewenskwaliteit en gesinstyd en Godstyd wat ingeboet word om by die sportkalender by te hou nie dalk net te hoog nie?

Is ek nou teen sport en veral skolesport? Baie beslis nie. Sport is baie belangrik vir ’n gesonde liggaam, en ons weet almal mos ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Laat ek dit kategories stel : ‘n Gebalanseerde sportprogram gerugsteun deur goeie morele beginsels is van groot waarde vir die vorming van kinders na liggaam en gees. Niemand betwyfel dit nie. Maar alles wat TE is (behalwe te voet, te perd en tevrede), is gevaarlik! En ons is nou reeds heeltemal TE ver binne die gevaarsone van oordrywing en verafgoding van sport...

Hierdie eensydige klem op sport laat my weer dink aan die hartseer verhaal van die seun wat in die beeskraal begrawe wou word... (so op my manier vertel) Dit het blykbaar iewers op ‘n plaas in Suid-Afrika gebeur. Pa was ‘n uitstekende Afrikanerbeesteler. Sy hele bestaan en lewensdoel het gedraai rondom die teel en versorging van sy spog rooi Afrikanerbeeste. Pa het vir sy seun als van beeste geleer, maar nagelaat om die evangelie aan hom oor te dra. Toe word seun siek en lê sterwend en sonder hoop vir die ewigheid in die opstal. Sy pa het hom nooit voorberei op hierdie laaste groot reis nie. Daar was vir niks anders tyd as Afrikanerbeeste nie... Nie tyd vir aandag, vir luister, vir liefde en vir die Woord nie. Die seun se laaste woorde het die tragedie van sy lewe en sterwe pynlik akkuraat opgesom: “Pa, begrawe my maar in die beeskraal!”

PASOP!

Pasop vir eensydigheid in ons kinders se opvoeding. Hulle weet als van rugby en netbal en hokkie, maar baie is totaal onkundig oor die Woord van God.

Pasop vir die onmenslike groot druk op kinders, diegene wat in sport presteer sowel as die ongelukkiges wat nie die span haal nie. 

Pasop vir ouers wat hulle eie (sport)ideale wil uitleef in hulle kinders, dikwels ten koste van hulle kinders.

Pasop as skole sport as ‘n advertensiemedium, werwingsaksie, geldinsamelingsprojek en beeldbou-poging gebruik op so ‘n manier dat dit lei tot benadeling van ander fasette van ons kinders se vorming.

Pasop as kinders se persoonlike gesondheid in gevaar gestel word, omdat hulle moet speel ten spyte van beserings of omdat te jong kinders in spanne ingedruk word en dus met groter en sterker kinders moet kompeteer.

Pasop dat oorvol sportprogramme in die week en naweek ons nie van kosbare gesinstyd en kerktyd beroof nie. Tyd wat nooit weer ingehaal kan word nie...

Pasop dat die manier van sportbeoefening en motivering nie lei tot ‘n onbybelse (kliek) SPOG EN GROOTPRAAT kultuur nie!

Pasop dat ons soveel energie en tyd aan sport bestee sodat ons die belangrikste in die lewe verwaarloos en ons kinders uiteindelik ‘n uitsiglose ewigheid moet binnegaan... Dat ons dalk eendag, by wyse van spreke moet hoor : “Begrawe my op die rugbyveld” of “Begrawe my onder die netbalbaan...”

Pasop dat sport nie die eintlike “god” in ons lewens word nie! Wie of wat aanbid ons regtig? Nie mooi woorde (spangebedjies) en vroom leuses nie, maar sigbare lojaliteit aan Jesus en Sy kerk sal uitsluitsel gee oor hierdie vraag...

Dis seker onrealisties om te verwag dat alle ouers die gevaar van eensydige Christuslose (of gebrekkige)  opvoeding moet kan insien, maar verbondsouers mag beslis nie in die lig van hulle doopbelofte toesien dat hulle kinders op die Molog altaar van oordrewe skolesport geoffer word nie!

Dit sal seker onmoontlik wees vir ouers en onderwysers wat self nooit hulle voete in enige kerk sit nie om ons angs oor verlore gemeentetyd te verstaan, maar vir die wat honger en dors na die Woord en die gemeenskap van die gelowiges het die sportoordrywing pynlike gevolge. Kinders van God alleenlik sal instemmend kan begryp wat Paulus aan Timoteus skryf : "Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms." (1 Timoteus 4:8)

Ons kan baie mooi verskonings en verduidelikings aanvoer om God, sy gemeente en ons huisgesinne af te skeep ter wille van sport, maar in die lig van Jesus se radikale liefdesoffer klink dit hol en leeg... Mag ons genade vind om volgens ons gewetens te handel in dankbaarheid oor hierdie groot liefde!



Lees ook : FOUT MET RUGBY?

Vrydag 23 Junie 2017

“Ons is die beste...”

- Ekskuus wat het van nederigheid geword?

Grootpraat, spog en “brag” het algemene praktyk geword. Dis ‘n sonde wat so stil-stil sosiaal aanvaarbaar geword het. Dis sommer deesdae ‘n inherente deel van die skolekultuur en die Facebook styl (hoe meer “likes” ek kan inoes hoe beter voel ek) en die selfbeeld era en die “celebrity” agenda. Dis in en cool om met jouself te spog en jouself te adverteer! Prestasies of geld. Spiere, gesig of lyf...

Wel God in sy Woord dink heel anders oor die saak. Spreuke 27:2 stel dit baie duidelik. “Laat dit aan ‘n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit ‘n ander se mond kom, nie uit joune nie.” 

Grootpraat is by alle mense onvanpas, maar veral vir ‘n kind van God. Hoekom?

Grootpraat loën die feit dat ons net ontvangers is. Ontvangers van genade, gawes en persente. Oor persente kan mens bly wees, maar nie grootpraat en “afshow” nie, want jy het dit nie verdien nie en nie daarvoor gewerk nie. Dink weer hieroor : “Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korintiërs 4:7)

Grootpraat is ‘n simptoom van hoogmoed en dit maak dat God ons vyand is. “"God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade." (Jakobus 4:6)

Grootpraat misken ons afhanklikheid van God en is daarom sonde. Die grootprater insinueer dat hyself in beheer is en self sy talente en toekoms beheer. Dit word so treffend gestel in Jakobus 4:13-17. 

“Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak."
Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen."
Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.”

GROOTPRAAT IS NIE ‘N DEUG NIE, MAAR ‘N SKANDE EN SONDE!

Grootpraat is teen die liefde. Dis niks anders as ‘n vorm van liefdeloosheid nie. 1 Kor. 13:4 “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.” Jy maak ander mense seer met grootpraat. Grootpraat is maar eintlik ‘n subtiele manier om op ander te trap, om jouself bietjie bokant ander te verhef, of om ‘n ander se swakhede en minderwaardigheid te onderstreep.

Grootpraat gaan teen die essensie van die evangelie in. Ons as God se kinders het juis niks om oor te roem nie, want ons is uit genade alleen gered. Jesus het ons redding aan die kruis verdien en verwerf. Ons pogings, prestasie, verdienste, agtergrond, voorkoms of afkoms speel geen rol nie. Daarom roem Paulus alleenlik op die kruis! “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Galasiërs 6:14) Kan jy jou indink dat daar in die hemel enige grootpratery in enige vorm sal wees? Nee. Dit pas daarom reeds op aarde nie by God se kinders nie. In die hemel sal daar net dankbaarheid wees vir die genade. Dankbaarheid vir vergifnis. Dankbaarheid vir die kruisdood. Alle lof en eer en roem sal aan die Lam gebring word wat ons met sy bloed gekoop het.

Is alle komplimente en pryse en erkenning dan verkeerd? Nee, ons teks is mos duidelik. (Spreuke 27:2) Nee, laat ander mense jou prys en nie jyself nie! As jy die beste is, is dit nie verkeerd nie, maar laat ander mense dit dan raaksien en sê, nie jyself nie! As ander jou prys of gelukwens is dit ook nie verkeerd om hulle daarvoor te bedank nie. Maar nog belangriker : Laat dit veral aan God oor om jou te beoordeel en te prys, want mense se komplimente is dikwels ook vals... “Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.” (1 Kor. 4:3-5) Pasop maar gerus ook vir vleiery. Vleiery, heuning om die mond smeer is ‘n boetie van grootpraat. Leef voor die aangesig van God. Laat God jou eer, laat God jou beloon en prys soos en wanneer Hy besluit. (2 Kor. 10:18.) “Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.” Moenie komplimente najaag nie, moenie vir die skare speel nie. Laat ons leef voor die aangesig van God. Hy sal pryse en pluimpies uitdeel soos Hy wil.

Pasop vir subtiele grootpraat. Dis nou wanneer jy al jou hoedanighede en prestasies uitstal en ewe vroom byvoeg “Ag, ek wil net vir die Here dankie sê...!” Of mens hoor : "Jy weet, die Here seën my nou so, ek het onlangs my vyfde plaas gekoop...” Party mense se getuienisse van redding word op so ‘n manier aangebied dat dit eintlik neerkom op grootpraat eerder as ‘n getuienis tot God se eer! “Jong, ek het elke week ‘n ander meisie gehad, ek kon ‘n motor in 17 sekondes steel, ek was die man onder die manne... voordat die Here my siel gered het!” Op wie is die fokus nou eintlik?

Grootpraat skreeu teen genade. Grootpraat is ‘n miskenning van God. Grootpraat en selfverheffing roep die oordele van God op. Grootpraat weerspreek die lewe en boodskap van Jesus! Jesus het nooit gesê, “Salig is die wat spog!” nie, maar : “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”

NEDERIGE DANKBAARHEID PAS BY ELKE KIND VAN GOD!

Kan jy vandag eerlik sê: “Ek is ‘n sondaar, maar God was my deur Jesus genadig, uit genade het Hy my vergeef, uit genade het Hy my sy kind gemaak, uit genade sal ek volhard en die hemelse wenstreep behaal, maar ook uit genade skenk Hy my elke dag krag, gesondheid en voedsel soos Hy wil!"?
...Dan sal jy weet daar is geen plek vir grootpraat in jou lewe nie, maar net nederige dankbaarheid...

Vrydag 16 Junie 2017

OFFER JOUSELF!

DIE ENIGSTE LOGIESE DANKBARE REAKSIE OP GENADE 


Die opdrag in ROMEINE 12:1,2 aan die kind van God is baie duidelik : OFFER JOUSELF! Sjoe! Offer is nou nie juis ‘n term wat ons met ons lewensideale in verband bring nie. Offer jouself is nou nie juis nie een van die gewilde temas van al hierdie motiveringsprekers en “lifecoaches” nie, maar dis inderdaad die Bybelse ideaal en doelwit vir God se kinders. Om geoffer te word klink nie juis na ‘n lekker ding nie. Dink aan wat met ‘n offerdier gebeur – hulpeloos vasgebind op ’n altaar, keel afgesny en verbrand. Implikasie vir my en jou is duidelik  - ‘n Prysgawe van jouself... van jou manier van bestaan, dink en doen!

Radikaal, byna onwerklik. Is dit regtig wat God van ons vra? Hoe moet ons dit verstaan? Vir die agtergrond van hierdie opdrag moet ons eers weer teruggaan na die eerste helfte van die Romeine brief. Onthou Paulus doen hierdie beroep “op grond van die ontferming van God.” Van watse ontferming praat hy? Dit wat hy reeds bespreek het. 

Kom ons kyk net na twee voorbeelde : 

 “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus". (Romeine 3:23,24) 

"So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: "Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word.
Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie." (Romeine 4:7-8) 

Verbysterende genade! Uiteindelik eindig die eerste helfte van die Romeine brief in ‘n doksologie (lofprysing) in Romeine 11:33-36. “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! "Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?" Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”

Dis duielik, Paulus bars uit in verwondering en aanbidding voor God. Waarom? Hy word oorweldig deur die asemrowende, verstommende genade en goedheid van God wat hy beskryf het in die eerste deel van sy brief. Wat behels dit alles? God skenk vir ons as rebelse sondaars in Jesus Christus volledige vryspraak en vergifnis uit genade, vrede met God, kindskap, ‘n ewige erfenis saam met Jesus. Hy gee die heerlike belofte van sy standhoudende liefde. (niks kan ons van hierdie liefde skei nie) Dis alles onverdiende guns en genade!

Die opdrag om jouself te offer maak net sin teen hierdie dramatiese agtergrondsfeit van die genade van God. 

Anders gesê, hierdie opdrag kom eksklusief net na mense wat God se genade reeds gesmaak het. In effek sê Paulus, omdat dit als waar is, omdat God julle so radikaal genadig was, is daar net een redelike reaksie, net een soort sinvolle godsdiens : GEE JOUSELF AS OFFER AAN GOD! Hier het ons die ideaal en ambisie van die begenadigdes!

Wat behels hierdie offer van jouself prakties? Dit gaan oor die beskikbaarstelling en toewyding van jou hele menswees aan God. Letterlik word die woord “liggame” hier gebruik.* Toewyding is nie net ‘n geestelike saak nie, dit gaan oor konkreet prakties anders leef en anders doen. Paulus het eintlik reeds hierdie saak in Romeine 6:13 aangeroer.

In vers 2 word dit nou vir ons prakties verder ingevul wat dit beteken om jouself volkome aan God te offer of dan nou toe te wy. Dit word eers negatief en dan positief gestel.

Negatief. “moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie” Wees anders en doen anders! Breek met die ou gedragspatrone, die gewoontes, die leefstyl van die sondige sosiale en kulturele sisteem waarin julle julself bevind. Die wêreld rondom ons het ‘n siening oor geld, oor mag , oor populariteit (in wees), oor sukses, oor seksualiteit, oor sekuriteit, oor vergelding... wat teen God se Woord en opdragte indruis. Die wêreld se siening is (en dit word in elke fliek wat jy kyk en byna elke liedjie wat jy luister gepropageer...) kry soveel geld as moontlik...trap op ander, doen wat jy wil...slaap rond... jaag na plesier... Ons wat genade ontvang het moet teen hierdie sienings en leefstyl kies. Ons moet daarmee breek. Dis ‘n baie ernstige saak, as ons kyk wat die apostel Johannes hieroor gesê het. “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge- alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld.En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) 

Die wêreld se sienings en propaganda maak elke dag ‘n appèl op ons, dit nooi ons en roep ons om deel te wees, maar dis waar die offer van jouself inkom. Breek daarmee, kies daarteen, dink en doen anders...

Positief. “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” Hier sien ons pragtig wat praktiese heiligmaking in ‘n Christen se lewe behels. Dis ‘n voortdurende proses van denkverandering. God se kinders word opgeroep tot ’n proses van konstante gedagte vernuwing. Ons denke moet “gerewire” word! Of anders gestel, jy moet toelaat dat God jou “mind change” Dit gaan daaroor dat ons prakties in elke lewenssituasie en keuse ons sal onderwerp aan God se wil. Ons dink en doen nie meer soos voorheen nie. Die wil van God en nie die metodes, modes of menings van die wêreld nie, moet ons lewens reguleer. Die wil van God is nie ‘n geheim nie, ons hoef nie te wag vir ‘n stem of engel nie, dis wat God in sy Woord leer. Die kind van God onderwerp homself aan ‘n voortdurende leerproses om volmaak gehoorsaam te wees aan die Here. So ‘n kind van God het ‘n honger na die Woord, so ‘n kind van God het ‘n opregte begeerte om te verander en die Here te gehoorsaam, al kos dit wat... Dit raak vir jou absoluut belangrik dat God moet hou van jou keuses en besluite.

Is jy ‘n begenadigde? Het jy besef dat jy ‘n rebel en verlore sondaar was, maar dat God jou heeltemal vergewe het en as sy kind aangeneem het? Dan is daar net een logiese reaksie van dankbaarheid... Gee jouself as ‘n lewende offer aan God!

*τα σωματα υμων

Donderdag 15 Junie 2017

16 Junie en die Kaapstad stasie

Die tragiese gebeure van 16 Junie 1976 is nog vars in baie mense se geheue. (Môre gaan dit weer herdenk word met netjiese polities korrekte toesprake...) Tien duisend swart hoërskoolleerlinge marsjeer aanvanklik vreedsaam deur Soweto se strate in protes… Ongelukkig het dit nie vreedsaam gebly nie, maar ontplof in ‘n orgie van geweld, brandstigting, plundery en moord. Dis geskiedenis. Die probleem is, hierdie geweld gaan vandag nog steeds voort… Die Afrika kind het nog steeds geen rus en vrede nie. Die Afrika kind is nog steeds op die verwoestingspad. Afrika kinders vernietig hulle eie toekoms.


Vroeër vandeesweek is mens weer hieraan herinner.

RSG berig : "Pendelaars wat ontevrede was oor ernstige vertragings met Metrorail se treine, het groot skade op die Kaapstadse stasie aangerig toe hulle 'n trein aan die brand gesteek en geboue beskadig het. 'n Woordvoerder van die Kaapstadse brandweer, Theo Layne, sê vier brandweerwaens is na die toneel gestuur om die brand te blus en die polisie is ontplooi. Niemand is in die voorval beseer nie. Metrorail het bevestig dat honderde ontevrede pendelaars amok gemaak en winkels by die stasie geplunder en beskadig het. Die vertragings is blykbaar veroorsaak deur probleme met die kragtoevoer. Metrorail sê hoewel hulle begrip het vir die pendelaars, kan niks dié optrede regverdig nie. Metrorail gaan beeldmateriaal van kringtelevisiekameras bestudeer om aanklagte van saakbeskadiging teen die skuldiges te lê.” 

Agt treinwaens is beskadig wat Metrorail se reeds beperkte vermoë nog verder beperk. En wie gaan die meeste daaronder ly? Die kinders van Afrika!

Dis nou die bekende patroon in Suid-Afrika. As iets nie volgens hulle sin verloop nie, brand hulle hulle eie treine, skole, munisipale geboue en polisiestasies af. Venda, Lichtenburg, Kaapstad... In 1976 was daar griewe. Niemand ontken dit nie. Die griewe het tot ‘n mate simpatie gewek, want daar was nie destyds ‘n demokratiese bestel waarin almal kon deel nie. Maar nou in 2017 het almal stemreg en tog het die metode om griewe te lug onveranderd gebly. Brandstigting en barbarisme. Geweld en vernietiging. Chaos en anargie. En meer subtiel maar met nog erger gevolge... korrupsie, nepotisme, staatskaping....

Soos in 1976 is daar beslis nog steeds probleme met die owerhede, bestuuurspraktyke, dienslewering... Die verskil is net, die owerhede van vandag is wettig verkose owerhede, wat self deur die brandstigters en plunderaars via die stembus aangestel is. Dit laat mens besef, die groot probleem is nie die probleme nie, maar die mense met die probleme. Wanneer gaan die Afrika kind leer om probleme op nugtere konstruktiewe manier te hanteer? Wanneer gaan die besef deurdring dat geen land of volksgroep homself nog ryk geplunder, gestaak, afgebrand of gemarsjeer het nie? Verbetering van omstandighede kom slegs deur harde werk, mededeelsaamheid en respek.

Die probleem met die Afrika kind is groter as die probleme met infrastruktuur en ekonomiese agterstande. Dis ‘n gesindheidsprobleem, ‘n inherente geweldskultuur, ‘n houding van minagting van gesag, ‘n gebrek aan respek vir eiendom en lewe, ‘n hartsprobleem. Ten diepste ‘n sondeprobleem! 16 Junie kan dus baie nuttig aangewend word as ‘n dag van verootmoediging, ‘n geleentheid om tot bekering op te roep. Bekering tot God, wat ook sal lei tot respek vir die naaste, sy lewe en sy eiendom. En natuurlik ‘n ag slaan op die wyse woorde van Paulus : “Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: ‘As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.’" (2 Tessalonisense 3:10)

Vrydag 02 Junie 2017

WIND,VUUR,TALE…

- die Heilige Gees as die Groot Gawe van die Nuwe Verbond!



Ou Israel was ’n groot mislukking in hulle toewyding aan God.... Ons ken mos die geskiedenis. Gedurig het hulle afgedwaal na die afgode. Ander kere het hulle wel uiterlik die offers en wette nagekom, maar innerlik was hulle ver van God af. Die Ou Verbond het “misluk”. Dit lei later tot die oordeel van die ballingskap. Tog was dit nie die einde van alles nie. Die profete voorspel die totstandkoming van ‘n Nuwe Verbond. Jesus kom dan in die volheid van die tyd en beseël die Nuwe Verbond met sy bloed!



Jesus se sterwe , opstanding en hemelvaart is egter nie die finale heilsgebeurtenis nie. Jesus beloof die koms van die Heilige Gees! Hier in die tyd van Pinkster is dit weereens belangrik om te besef : die koms en werk van die Gees staan sentraal in die Nuwe Verbond. Hieroor is ‘n gedeelte soos Esegiël 36:25-27 baie duidelik: “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” In die profeet Jesaja word die metafoor van ‘n vrugteboord in ‘n woestyn gebruik om die oorvloedige werk van die Gees mee aan te dui... “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn 'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.” (Jesaja 32:15)

PINKSTERDAG

Hierdie beloftes en baie ander is vervul op Pinksterdag (‘n oesfees!). Ons lees daarvan in Handelinge 2. In sy Pinksterdagpreek verwys Petrus na die profesie van Joël wat ook ‘n wye omvattende werking van die Gees voorspel het. Die Heilige Gees is dus die groot gawe van die Nuwe Verbond. Dis die Heilige Gees wat die verskil maak binne die konteks van die Nuwe Verbond. Opvallend is die drie waarneembare tekens waarmee die koms van die Gees gepaard gegaan het. Hierdie drie tekens kan ons aanvaar was nie maar toevallig nie. Die wortels en betekenis daarvan is reeds in die Ou Testament te vinde.

Die tekens :

~Rukwind

~Tonge van vuur

~Talewonder

Dit gaan nie hier oor die elemente as sodanig as iets wat ons moet probeer na-aap nie. Van belang is die heilshistoriese betekenis. Hoe pas dit in en wat is die betekenis van hierdie tekens in die ontplooiing van God se verlossingsplan? Maar ook wat is die praktiese implikasies daarvan vir ons? Wat sê die tekens oor die werk van die Heilige Gees vandag? En baie persoonlik, ondervind jy die werk van die Heilige Gees?

WIND. Wind en Gees het ‘n duidelike konneksie met mekaar. (Dis dieselfde woord in Grieks  - πνεῦμα) Dis uiters gepas dat die uitstorting van die Heilige Gees met ‘n sterk wind gepaard gaan. Hier in Handelinge 2:2 is ook ‘n ander konnotasie. Die woord vir wind wat hier gebruik word is πνοὴ* Dis dieselfde woord wat in die LXX (Griekse vertaling van die Ou Testament) asem van die lewe is wat God in Adam geblaas het. (Genesis 2:7) Dis die Gees, die asem van God wat lewe gee. Die Heilige Gees bring lewe, Hy skep nuwe lewe. Weet verseker as die Heilige Gees nie in jou werk nie, sal jy geestelike dood bly. Daar sal geen ware sondebesef wees nie. Nog minder sal jy die heerlikheid van Jesus raaksien en in Hom glo. Die funksie van die Gees word reeds deur die profete van die Ou Testament voorspel. Die lewend gewende krag van die Gees is baie sterk op die voorgrond in die visioen van die profeet Esegiël oor die vallei van doodsbeendere. “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE." (Esegiël 37:14) Hierdie herlewing van die doodsbeendere was niks anders as ‘n herskepping nie. Die geluid van die wind op Pinksterdag was dus ‘n teken van die koms van die Gees van God wat geestelike dooies lewend sou maak. Mense wat totaal dood is in hulle misdade, geestelike lyke word lewend gemaak deur die wedergeboorte! Hierdie wind was as’t ware die asem van God wat hy in die nuwe verloste mensheid sou blaas. Dit was die begin van God se herskepping. Die Gees maak mense nuut. Kan jy hiervan getuig in jou eie lewe?

DIE GEES HERSKEP EN HERSTEL ONS AS BEELDDRAERS VAN GOD!

VUURTONGE. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Ons kan aan verskeie voorbeelde uit die Ou Testament dink. God se heilige teenwoordigheid die berg Sinaï is aangedui deur weerlig. Die vuur en wolk oor die tent van samekoms het die heilige heerlikheid van God sigbaar gemaak in die midde van die volk Israel. In die heerlike bedeling van die laaste dae is elke gelowige nou ‘n tabernakel/tempel van God se teenwoordigheid. Dit het geweldige implikasies...!

Vuur simboliseer ook die verterende heiligheid van God. Sy heiligheid brand alles weg wat vuil, onrein en boos is. Die Heilige Gees in ons lewens lei tot ‘n reinigingsproses waar ons skoongemaak word. Die Heilige Gees gee lewe, maar daar is ook ‘n gevaarlike angswekkende kant van die Heilig Gees se werking. Hy is so heilig en suiwer dat alle kompromieë met sonde en valsheid ondenkbaar en onhoudbaar word in sy teenwoordigheid. 

Die vuurtonge het ook ‘n derde konnotasie. Lukas gebruik nie die woord “vlamme” nie , maar “tonge”. Waarskynlik doelbewus. Die Heilige Gees bring ons tot getuienis. Hy roer ons hart en spraak aan om te vertel van die wonderdade van God.

DIE GEES HEILIG ONS EN BEKRAGTIG ONS TOT GETUIENIS!

DIE TALEWONDER. Hierdie was nie bloot ekstatiese klanke nie, maar werklike tale sodat die skare wat in Jerusalem bymekaar was die boodskap van Jesus in hulle eie moedertaal kon aanhoor. Hierdie hoorders was mense wat bande met die Judaïsme gehad het. Hulle dien hier as verteenwoordigers van die verskillende volkere waaronder hulle gewoon het in hulle verstrooiing. Aan watter Ou Testamentiese gebeurtenis laat tale jou dink? Natuurlik aan Babel! Wat gebeur nou hier? Die taalverwarring by Babel word nou omgekeer. Die talewonder verteenwoordig presies die teenoorgestelde van wat destyds by Babel gebeur het. Daar het die verskil in taal mense verdeel, nou word almal verenig in die hoor van God se Woord. Die evangelie in die krag van die Gees bring ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe eenheid tot stand! Die gevolg van die taalverwarring as straf op die mens se arrogansie, hoogmoed en ongehoorsaamheid, was verstrooiing. Met Pinkster word hierdie oordeel omgekeer en kom God se omvattende genade na vore; mense word nou bymekaargemaak vanuit elke nasie onder die hemel - nie om ‘n monument tot eie eer op te rig nie maar om as verlostes tot eer van God te leef. Die groot oes tot God se eer word nou ingesamel...

SONDE EN DIE OORDELE DAAROOR BRING VERDEELDHEID, DIE GEES BRING DEUR DIE EVANGELIE ‘N NUWE MENSHEID EN NUWE EENHEID TOT STAND! 

OOK VIR MY!
Dis ‘n feit die Heilige Gees het gekom, maar ervaar jy Sy werking as ‘n werklikheid? Nie die tekens nie, maar die werklikheid wat daardeur gesimboliseer word. Nuwe lewe, heiligheid, krag om te getuig? Onthou die Heilige Gees is tot ons beskikking kragtens die Nuwe Verbond wat Jesus deur sy bloed beseël het! Ons hoef nie weer te misluk soos oud Israel nie. God is nie suinig met sy Gees nie! Wonder jy miskien of die heerlike verlossing deur Jesus en die gepaardgaande werking van die Gees ook vir jou bedoel is? Wel, hoor die duidelike boodskap van Petrus op Pinksterdag binne die konteks van die belofte van God in die laaste dae (die bedeling van die Gees) : “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:21) Die HERE is die Here Jesus, want die Heilige Gees is immers die Gees van Jesus (Handelinge 16:7 NAV) en dis die Heilige Gees wat ons beweeg tot die aanroep van sy Naam!

Hierdie belofte is ook vir jou!

*Genesis 2:7 in LXX 


καὶ ἔπλασεν ὁ θεὸς τὸν ἄνθρωπον χοῦν ἀπὸ τῆς γῆς καὶ ἐνεφύσησεν εἰς τὸ πρόσωπον αὐτοῦ πνοὴν ζωῆς καὶ ἐγένετο ὁ ἄνθρωπος εἰς ψυχὴν ζῶσαν

Handelinge 2:2 

καὶ ἐγένετο ἄφνω ἐκ τοῦ οὐρανοῦ ἦχος ὥσπερ φερομένης πνοῆς βιαίας καὶ ἐπλήρωσεν ὅλον τὸν οἶκον οὗ ἦσαν καθήμενοι

Donderdag 01 Junie 2017

GELOOF SOOS ‘N MÔREWOLKIE

- DIE TRAGEDIE VAN KORTSTONDIGE OPWELLINGS EN DIE GEVAAR VAN VERBYGAANDE GELOOF


In die profeet Hosea hoor ons God se verwyt : “Julle liefde is soos ‘n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou.” Dis ‘n beeld wat ons in ‘n droë land soos ons s’n baie goed verstaan. Party oggende is daar die pragtigste belowendste wolke, maar na ‘n rukkie is hulle weg en brand die son maar weer net so fel soos altyd... Net so is die vogtigheid van dou ook maar van korte duur...

Eeue later in JOHANNES 2:23-25* lees ons die volgende skokkende woorde met betrekking tot Jesus se bediening : "En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo (πιστεύω) , omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen. Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou (πιστεύω) nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is." 

Tydens die Paasfees was Jesus besig om te preek en mense gesond te maak. Jesus se woorde en wonderwerke het ‘n groot impak op die skare gehad. Op die oog af was dit 'n baie suksesvolle uitreik. Jesus se naam was op almal se lippe! Baie het tot 'geloof' gekom. Mens kan aanvaar daar was groot opwinding, bewondering oor Jesus se mag en heel moontlik trane van dankbaarheid en meelewing. In ons taal sou mense dalk kon sê : “Maar dis mos herlewing! Dis wonderlike nuus! Hier gebeur iets!”

Aangrypend en wonderlik, maar ongelukkig gooi vers 24 koue water op hierdie heerlike warm wonderlike nuus. Van Jesus word gesê dat Hy Hom aan hulle nie toevertrou het nie. "Toevertrou" is dieselfde Griekse woord (πιστεύω) en word weer gebruik. Daar staan wel dat die skare geglo (πιστεύω) het.....maar Jesus aanvaar nie die egtheid van hul geloof nie. 

Als wat soos geloof lyk is nie geloof nie. Als wat blink is nie goud nie! 

Hul geloof kan as wondergeloof of skyngeloof of tydelike geloof beskryf word. Sulke geloof lê vlak in die emosies en verdwyn na 'n tyd. Omdat dit net 'n emosionele ervaring is en nie 'n hartsverandering nie, bluf dit baie mense. Jesus kan egter nie geflous word nie, want Hy weet wat binne die mens aangaan. Jesus kyk dwarsdeur die skyn en die opwinding en die mooi woorde...

Die probleem met hierdie mense in Johannes 2 se geloof en liefde is ‘n ou probleem! En dis vandag nog ‘n probleem! Dit was reeds in die tyd van die Ou Testament so. Dikwels was Israel se liefde en toewyding was ook net tydelike en verbygaande van aard. In Hosea 6:1-3 kry ons ‘n boetelied.

"Kom ons gaan terug na die Here, want Hy het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hy het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind.

Hy sal ons na twee dae ‘n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef.

Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik."

GOD SIEN DEUR DIE SKYN

Jy kan maar sê dis ‘n toewydingsgebed, ‘n bekeringsgebed. Pragtige waarhede, aangrypende woorde! Dit klink so mooi en vroom, so diep gelowig. Maar wag ‘n bietjie, wat is God se reaksie op hierdie boetelied? Hy is glad nie beïndruk nie. 

“Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos ‘n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou.

Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig, want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.” (Hosea 6:4-6) 

God kyk dwarsdeur hulle en sien dat hulle toewyding net ‘n tydelike opwelling en emosie is. Hulle toewyding is maar net uiterlik. Hulle kastige liefde is kortstondig en onbetroubaar. As die son opkom verdwyn die morewolkies en verdamp die dou baie gou. Hierdie mooi toewydingswoorde van Israel flous Hom nie en Hy waarsku hulle dat Hy hulle nog steeds gaan straf.

Pasop vir tydelike indrukke, tydelike bekering, tydelike toewyding, tydelike berou, tydelike emosies! Pasop vir uiterlike en kunsmatige veranderings. Ons moet hierteen gewaarsku... Almal wat ‘n lekker ervaring gehad het, wat opgewonde van mannekampe af terugkom of by 'n groot Angus Buchan saamtrek was, is nie noodwendig waarlik gered nie... Jy het dalk iets wonderliks beleef, maar wat het daarvan geword? Moenie stop en stilstaan by ‘n wonderlike gevoel en ‘n paar trane nie! Gaan tot by die kern. Ploeg 'n braakland! Laat God jou hart ondersoek en nuutmaak! Weet dat ‘n paar uiterlike aanpassings nie genoeg is nie. God soek ‘n hartsverandering. Hy sê in Hosea 6:6, Hy wil eerder liefde hê as offers. Eerder toewyding as brandoffers. ‘n Hele nuwe lewenshouding. Nou wat gebeur hier? Het God sy volk afgeskryf?  Staan die deur nou toe vir hulle (en vir ons)?Nee!! 

Dit gaan op die ou end juis oor God se liefde wat sy kinders terugroep! (Hosea 11:8) “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”

God het sondaars REGTIG LIEF! 

As ons dit maar wil raaksien... Daarom roep HY weer opnuut vir jou en my... “Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.” (Hosea 12:7) Wat beteken hierdie opdrag vir ons in Nuwe Testamentiese konteks?

WARE GELOOF

Ware geloof is nie net ‘n lekker gevoel nie. Ware geloof is nie ‘n tydelike opwinding nie. Ware geloof is ‘n voortdurende afhanklike kyk na die Gekruisigde Jesus! Onthou, net na Joh 2 kom Jesus in Joh 3 en verduidelik die wedergeboorte is die soewereine werk van die Heilige Gees, maar die opdrag kom tot ons : “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:14,15) Die oproep gaan oor vertroue op Jesus om jou van alle sonde te reinig. 

Hoe lyk egte Christenskap dan nou teenoor tydelike opwellings en oppervlakkige veranderings? Ons ken mos die antwoord : Sonde, verlossing en dankbaarheid is die elemente van ware egte Christenskap. Egte geloof maak erns met die aakligheid van sonde, maak erns met die genoegsaamheid van Jesus as Verlosser, maak erns met ‘n opregte dankbaarheidslewe van gehoorsaamheid! En in hierdie dankbaarheid moet ons volhard! “Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.” (Markus 13:13)

Het jy regtig die saak met God uitgemaak of is jy tevrede met net tydelike indrukke?

*Erkenning aan my broer Denzil Dick wat hierdie kwessie onder my aandag gebring het. Van hierdie gedagtes kry ek by hom.