BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Beloftes van God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Beloftes van God. Wys alle plasings

Sondag 01 Desember 2019

VRIEND VAN GOD?

God nooi jou na ‘n ware vriendskap met Hom – “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” 


Ons het nie lank terug nie, gekyk na die feit dat die bemoediging en standvastigheid van God se Woord vir ons HOOP gee. (Kliek HOOP) As jy sonder hoop is, is dit tyd om erns te maak met God se Woord! Dis waar van die hele Woord, maar dis in besonder waar van God se direkte beloftes. God is ‘n God wat beloftes maak. Heerlike beloftes. En dis nie sommer lukrake en onsekere beloftes nie. Hy maak sy beloftes duidelik en vas in die vorm van ‘n verbond, ‘n kontrak en Hy bevestig dit met sigbare tekens. (Doop en Nagmaal) 

Daar is sulke wonderlike beloftes! Beloftes oor vergifnis, oor kindskap (om seker te wees van my kindskap van God), oor gebedsverhoring, oor God se Vaderlike versorging, oor die feit dat Hy ons sal laat volhard, sy bewaring tot aan die einde, die ewige erfenis... Nou, mense hou oor die algemeen van hierdie beloftes. Hulle whatsapp dit graag vir mekaar met mooi prentjies daarby. Ons kry ook boksies met belofte kaartjies. Dan trek jy vir jou een vir die dag... Maar daar is een ding wat ons dikwels vergeet. God se beloftes het duidelike voorwaardes. Ons sien dit reeds in die verbond met Abram. “Ek sal vir jou ‘n God wees. Jy moet vir my ‘n volk wees. Ons moet hierdie voorwaardes ernstig opneem.” 

As ons nie God se opdragte ernstig opneem nie, lei dit tot frustrasie en as daar ‘n klomp opgekropte frustrasie binne in ons is dan raak ons jaloers en gewelddadig. In Jakobus 4 lees ons hiervan. Allerhande vegterye ontstaan – binne die huwelik, gesin, gemeente... Ons baklei en pleeg selfs “moord” – al is dit met ons tong of gesindhede. “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?” (1) 

Jakobus 4:1-10 het vir ons heelwat te sê oor God se BELOFTES EN VOORWAARDES gekoppel aan daardie beloftes. 

Hier in Jakobus sien ons weereens hoe voorwaardes, opdragte en beloftes ineengeweef is. Ons kan hulle nie losmaak van mekaar nie. Hier word indirek na ‘n hele paar beloftes verwys, maar ook na die mislukking van hierdie beloftes omdat ons die voorwaardes nie ernstig opneem nie. Ek gaan ‘n paar beloftes afsonderlik noem, maar natuurlik dis ineengestrengel, dit oorvleuel en kan nie losgemaak word van mekaar nie. 

Die beloftes oor gebedsverhoring. “Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (2,3) Op talle en talle plekke in die Skrif word ons beloof dat God gebede sal beantwoord. En tog is dit juis dié groot area van teleurstelling vir baie gelowiges. In die eerste plek word ons natuurlik teleurgestel, want ons bid nie juis veel nie. (Daardie rympie wat jy half aan die slaap saans prewel voor jy uitgeput in die bed neerval, tel nie juis as bid nie...) Die voorwaarde vir gebedsverhoring is tog gebed! Maar verder word ons wat wel bid ook teleurgestel. Hoekom? Ons bid met die verkeerde motiewe. Jakobus noem dit by die naam. “Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (3) Die belofte van gebedsverhoring kom saam met die opdrag en voorwaarde om God se eer, God se Koninkryk en God se wil eerste te stel! 

Gebed gaan saam met oorgawe en onderwerping aan God se wil. 

Gebed is nie ‘n tellermasjien waar ek die knoppies druk en vir God bevele gee nie. Gebed veronderstel onderwerping aan God en dis waarop Jakobus verder nou ingaan. 

Die beloftes oor vriendskap met God. “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” (4) In ‘n sin gaan al God se beloftes daaroor dat Hy ons Vriend wil wees. Hy wil in ‘n intense verhouding met ons staan. Maar weereens is daar ‘n voorwaarde. Ek kan nie vriende wil probeer wees met die goddelose wêreld en die beginsels van die wêreld en dink God gaan my vriend wees nie. Jakobus stel dit baie kras. Prakties kom dit neer op : “Jy het ‘n keuse, as jy leef volgens die modes en beginsels en denkwyse van Hollywood en die Huisgenoot – as jy dink en lyk en praat soos daai mense, vergeet maar van God se vriendskap, Hy het jou vyand geword!” 

Die beloftes van genade. “Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade." (6) Hoe nodig het ons elkeen juis dit nie? (God stel immers hoë standaarde wat ons telkens in faal) Genade is vir die wat hulleself verneder. Vir geestelike bedelaars! (Onthou Lukas 18 – die tollenaar se gebed) God help nie hoogmoediges nie, inteendeel Hy stry self teen hulle! Aan die anderkant - vir gebrokenes en ootmoediges het Hy altyd tyd en genade – lees maar Dawid se rou en smeekgebed in Psalm 51 na sy vreeslike sonde! 

Die beloftes van oorwinning oor die Satan. “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” (7) Christene word aangeval en versoek en geteister deur die duiwel. So hierdie is ‘n wonderlike belofte dat hy sal wegvlug as ons hom teenstaan. Maar hoe doen ons dit? Onderwerping aan God! Raak gehoorsaam aan God. Maak erns met sy opdragte. Begin doen wat die Woord sê. Weet beslis - As jy aanhou haat, aanhou steel, aanhou met jou onsedelike verhouding, aanhou met jou pornografiese gewoontes, onderwerp jy jouself mos nie aan God nie. Dan gaan jy nooit die duiwel oorwin nie. Hy sal vir jou lag! 

Begin erns maak met die uitroei van sonde en beleef hoe vat die duiwel die hasepad!

Die beloftes van Goddelike aanvaarding, nabyheid en teenwoordigheid. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (8-10) Dis die kersie op die koek! As ons na God kom sal Hy na ons kom. As ons tot Hom nader sal Hy ons nooit wegwys nie. Maar wat is die voorwaardes? Radikale selfondersoek en optrede teen sonde. Kies daarteen, laat dit staan, huil daaroor, buig in nederigheid voor die Here! “Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sonde aan te gaan… Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dis iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af. Buig baie laag voor die Here. God sal jou optel waar jy in nederigheid en oorgawe voor Hom buig…” (Die BOODSKAP) Ja, almal wil graag dat God hulle - “optel, herstel, seën” – maar is jy bereid om voor Hom te buig, sy gesag te erken, Hom te gehoorsaam – dis die voorwaardes! Dis hierdie voorwaardes waaroor die goedvoel “prosperity” predikers swyg! 

Geloof in God en sy beloftes behels ook gehoorsame aksie! Die gemaksugtige en eiewillige mens is nie juis daarvoor lus nie! 

God bedoel sy beloftes. Maak jy erns daarmee?

Die bewys dat Hy al sy beloftes hou is Jesus self – sy koms as mens, sy lyding, kruis en opstanding! God se beloftes is goed en genadig. God se beloftes is heerlik en spreek elke nood en behoefte aan wat ons kan hê. Maar ons moet God ernstig opvat. Hy bedoel ook die voorwaardes! Berou, bekering, bereid om te buig voor sy gesag!

Vrydag 22 November 2019

KRY WEER HOOP!


En dis belangrik, want hoop lei tot lof en lof bring eer aan God!

Kinders van God is mense van hoop! Ja, natuurlik ook geloof (geloof in Jesus) en liefde (liefde vir God en mekaar) maar  nou is dit ontsettend belangrik om  HOOP te hê!

Dis onontbeerlik noodsaaklik om hoop te hê. Sonder hoop kan mens nie aanhou nie. Vat nou maar ’n langafstand atleet. As hy hoop verloor, dan stop hy nou-nou…  ‘n Student wat hoop verloor, skop gou-gou op... As jy hoop met jou huwelik verloor, is egskeiding voor die deur...

Kinders van God het ’n vaste hoop nodig om te volhard. Ons het hoop nodig om die Christelike wedloop te voltooi en by ons ewige bestemming aan te kom. Maar nog belangriker, dis ook net as ons HOOP het dat ons vreugdevolle lofprysende kinders van God sal wees! 

Die probleem -  dis nie aldag  so maklik om hoop te hê nie. Daar is baie dinge wat ons ontmoedig, wat wanhoop wek, wat ons knieë lam maak.

Die Christelike hoop is nie iets vaag, mogge-troffe en onseker nie. (“Ag ek hoop maar vir die beste” nie.) Nee, dis ‘n vaste blye verwagting en sekerheid gegrond op God se beloftes.

Hoe werk hoop nou in die praktyk? Kom kyk: Hoekom het ons hoop nodig? Hoe kry ons hoop? Wat is die heerlike gevolg van hoop?

HOEKOM IS HOOP NODIG? Ons word dikwels moedeloos en radeloos op die pad van geloof. Daar is ’n  hele paar dinge waarmee ons gekonfronteer word, wat ons moedeloos maak en al die wind uit ons seile haal sodat ons maklik koersloos ronddobber:

Sonde en skuld. Dis soos ’n berg. Moedeloos. Hoe kon ek weer hierdie sonde doen? Ek voel so sleg. Ek wil maar die Here se pad los… Ek het al soveel keer geval... Ons word weens ons eie afdwalings gevange gehou deur die reus Wanhoop in die kasteel van Vertwyfeling! Dis 'n donker uitsiglose plek van desperaatheid en selfverwyt!

Teleurstellings. Mense, spesifiek ander Christene stel my teleur.  Daardie rebelse kind van my... Valse beloftes, ydele verwagtings. Doopbeloftes, lidmaatsbeloftes, verlowingsbeloftes, huweliksbeloftes word verbreek.

Omstandighede. Droogte! Siekte. Finansies. Werkloosheid. Korrupte regerings...

Verganklikheid. Niemand kan vir die skaduwee van die verganklikheid en dood vlug nie. Meedoënloos tik die sekondes , minute, ure van ons lewens af... Tyd staan nie vir ’n oomblik stil nie. Die swaard van verganklikheid hang oor ons elkeen. Ons harte rebelleer daarteen, dis so hartseer, dat alles moet vergaan, dat almal uiteindelik oud word en sterwe...  Is alles dan tevergeefs?

HOE KRY EK WEER HOOP? Hier in ROMEINE 15:1-6 sê Paulus vir ons hoe ons vol hoop kan wees.
Let veral op vers 4:
 
 “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”

Die Skrif gee ons standvastigheid en bemoediging. 

Dit maak ons weer vol hoop!  Die hele Skrif – “alles wat vooraf opgeteken is.” God self is die bron van standvastigheid en bemoediging. Hoe dra Hy dit oor aan ons? Deur Sy Woord! Die Skrif gee ons hoop en net die Skrif gee ons hoop! (Dis die sleutel wat die diep donker kelders in die Kasteel van Vertwyfeling kan oopsluit...*) Alle hoop wat nie op die Woord gebou is nie is wankelbaar, onvas en onseker en dit gaan jou beslis teleurstel. Pasop maar vir jou eie gevoelens en vir ander mense se praatjies. Net God se Woord is absoluut waar, want God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie! “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” (Numeri 23:19) 

God se beloftes is waar! 

Die hoogtepunt van sy beloftes is Jesus Christus self. In Hom is ons vergewe, aangeneem as kinders en het ons ewige sekuriteit. God is in alle omstandighede by ons en NIKS kan ons van sy liefde skei nie! Ons is meer as oorwinnaars, bemindes van die Vader en deelgenote aan ‘n onbeskryflik heerlik ewige erfenis! Hierdie is als feite van die Woord! Wie dit hoor en glo, kry HOOP!

VALSE HOOP

Mense wat nie hulle hoop op die Woord van God stel nie, stel gewoonlik hulle hoop op twee ander faktore:

~ Hulle stel hulle hoop op die rykdom. My besittings en my belange verskaf vir my sekuriteit. Dis baie dwaas en riskant!  “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” (1 Timoteus 6:17) Mense verkies die onsekere hoop op rykdom bo die hoop op God en sy beloftes. Ja, dis so - kyk hoeveel tyd bestee hulle aan die najaag van rykdom en hoe min tyd om God se beloftes te bestudeer. Rykdom en alle aardse bates is onseker! 

Gaan vra die voormalige Zimbabwiese grondbaronne en tabakprinse! Kyk hoe verteer die droogte, misdaad en  korrupsie eens welvarende mense se rykdom...


~ Baie stel hulle hoop op mense. Ek moet net sorg dat ek die regte ouens ken en die regte ouens aan my kant het.
Ek sal my beginsels prysgee solank ek net die sterkes, belangrikes en rykes nie aanstoot gee nie. Die Bybel waarsku duidelik hierteen.  “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.” (Psalm 146:3,4)

WAT IS DIE GEVOLG VAN SKRIFGEFUNDEERDE HOOP? 

Daar is heerlike gevolge en byvoordele as ons hoop weer deur die Skrif aangevuur word. Saam met standvastigheid, bemoediging en hoop wat van God kom, is daar eensgesindheid. (hierdie onselfsugtige eensgesindheid is eintlik die hoofgedagte van Paulus in hierdie paragraaf wat by vers 1 begin) Christene wat saam hierdie hoop deel, verdra ander, dink nie net aan hulleself nie, bou die ander positief op en dit bring ons by eendragtige lof!  (Paulus en Silas sing saam lofliedere in die tronk!) Hier sien ons eintlik ‘n wonderlike ding! Ware hoop wat gebou is op die Skrif, bevry mens nie net van vrees en swartgalligheid nie, maar bevry mens van selfgesentreerdheid en selfsug! Dink maar mooi – ‘n mens sonder hoop is ‘n bang en  selfsugtige mens en kan nie rede insien om God te loof nie! 

‘n Mens met hoop is vry om sy medegelowige te dien en lief te hê , is vry om God te aanbid en te loof!

As ons erns gaan maak met die Woord (en die erediens waar Woord en lof op mekaar volg) is daar heerlike gevolge. Hoop. Volharding. Eensgesindheid. ‘n Lewe van lof aan God en dis die belangrikste van als!


*As jy nog nie het nie moet jy beslis die klassieke Christen allegorie van John Bunyan, “Die Pelgrim se Reis na die Ewigheid” lees!





Saterdag 08 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (2)

- BESEF WAT HET GOD GEDOEN! 



Een van die grootste foute wat ‘n twyfelende Christen maak as dit by die kwessie van sekerheid kom is om by jouself te begin. Dit lei tot n gedurige wroeging en wankelrigheid : “Was MY besluit, MY bekering eg genoeg, is MY geloof opreg genoeg, is EK heilig genoeg, voel EK goed genoeg...? Niks anders as ‘n gedurige, bykans sieklike introspeksie nie. Redding word deur diesulkes gesien as ‘n groot werk wat ekself moet doen en ek weet nooit of ek dit heeltemal reg of goed genoeg gedoen het nie. Dis natuurlik ‘n doodloopstraat... Dis ‘n resep vir permanente onsekerheid! 



So hoe kry ons sekerheid? Wel, waar begin Petrus? (Hy praat met mense wat reeds Christene is.) Hy begin by die Bron van ons verlossing. Hy verwys ons na wat GOD GEDOEN HET! Dis waar ons elkeen moet begin... 

"Simeon Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so 'n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: 
Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! 
Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, 
waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is."  ( 2 Petrus 1:1-4) 

ONTVANGERS 

'n Kind van God is in die eerste plek 'n ontvanger. Hoor ons dit! Ontvangers, mense wat so gelukkig was om 'n geskenk te kry. En dis deur God so beskik, God wat regverdig is! Dit skakel onmiddelik alle verdienste alle roem uit. Ons is Begunstigdes, begenadigdes, bevoorregtes! God begenadig nie sondaars wat effens beter is as anders sondaars nie. God begenadig soos Hy wil en wie Hy wil. Daarom kan Petrus sê dat sy lesers en ook ons dieselfde kosbare geloof ontvang het as wat die apostels ontvang het. Onverdienstelike ontvangers! Ja, natuurlik ons moet ook doeners wees, ons sal noodwendig doeners word, dit word later aan in die sterkste moontlike taal gesê , maar ons moet eers baie duidelik hoor ons het alles ontvang, alles, alles wat nodig is. 

ALLES! Wat is die alles? Wel, dis alles wat ons nodig het om kinders van God te wees en as kinders van God te leef. Alles! Ja, alles! Glo jy dit? Jy sê : “Ek voel so swak, nietig, my geloof is so klein...Geld hierdie waarheid van 1:3 ook vir my? Ja!                                                                                                     

Dink bietjie aan 'n reuse kremetartboom!

Hierdie boom was eens ‘n klein plantjie wat net ontkiem en sy kop bo die grond uitgesteek het. 


As ’n kremetart saadjie ontkiem het daardie plantjie via sy moederplant al die genetiese materiaal ontvang wat nodig is om ook ’n reuse kremetart te word. Niks DNA hoef bygveoeg te word nie. Ja, daar lê nog baie groei voor, baie gevare en terugslae, veldbrande, droogtes...maar alles is reeds in daardie plantjie aanwesig. 

Kinders van God het alles reeds ontvang. Alles! Wat is die bron van die alles? God self! Goddelike krag. Die krag waardeur die heelal tot stand geroep het en in stand gehou word. Die krag wat sigbaar geword het met Jesus se opwekking uit die dood. Jy wat kind van God is deur die geloof in Jesus, het reeds ’n Goddelike kragtige ingrype beleef. Jy moet dit glo. Jy moet dit gedurig besef. 

KENNIS VAN JESUS 

Wat behels hierdie geskenk, hierdie "ontvang" in die praktyk? Hoe en wanneer gebeur dit? Vers 3b "deur die kennis van Hom wat ons geroep het.” Kennis van Jesus. Dit gebeur wanneer ons Jesus leer ken. Kennis van wie Hy is en wat Hy gedoen het! 


Kennis van Jesus maak iets aan 'n mens. Hier wys Petrus op ‘n tweeledige gevolg

Ons kry deel aan die goddelike natuur, d.w.s. ons word kinders van God. ( Dit bedoel nie dat ons klein godjies word nie. Hy sê maar net in ander woorde wat Joh 1:12 sê. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” LW – dis ‘n daad van God! “uit God gebore” 
Daarmee saam draai ons ons rug op die verdorwenheid van hierdie wêreld wat in opstand is teen God. Ware Kennis van Jesus laat my nooit toe om ongesteurd in die gemors voort te ploeter nie. 

Dis duidelik hierdie kennis van Jesus meer behels as om maar net 'n paar Sondagskooltoetse deur te kom, dit behels 'n openbaring van Jesus aan ons. Ek bedoel nie dat jy ‘n visioen van Jesus sal sien nie, maar bloot dat ’n mens geestelik sal sien en glo dat Jesus vir my verlossing vir eens en altyd aan die kruis bewerk het. My sondes was op Hom gelaai en my sondes is dus klaar by die kruis gestraf... Jesus ondergaan die straf en ek is vry. Dit behels ‘n besef van die betekenis en waarde van Jesus se werk, ook vir my. Dit gebeur alleenlik deurdat God my oë daarvoor oopmaak. Die boodskap van die KOPERSLANG! Aan die kruis is als gedoen wat nodig is vir my verlossing, ek kan net glo en kyk! Kind van God, om te kom tot kennis van Jesus is 'n radikale ingryping van God, dit beteken daar het 'n wonder binne in jou gebeur, jy sien iets (Iemand) raak wat ander mense nie raaksien nie al sit hulle in die kerk. Daar het reeds iets wonderliks met jou gebeur. 

Twyfel jy nog? Kyk dan nou gelowig na die kruis en besef jy het deur Jesus klaar alles ontvang wat nodig is! 

GOD SE BELOFTES 

Hier kom ons nou by die basis en fondasie van sekerheid! Deur die kennis van Jesus word die kosbare beloftes van die evangelie myne. Reddende geloof is geloof gegrond op die beloftes van God, wat o.g.v. Jesus se verdienste nou myne is. Die beloftes is nou nie meer net oorbekende droë Bybelversies nie , maar kosbare beloftes wat ek aan my hart druk, wat lewe in my binneste. (As jy kind van God word, kry die Bybel mos lewe) Beloftes van Kindskap, volkome vergifnis, van die Heilige Gees, oorwinning oor die Bose, van finale oorwinning en volharding. Al hierdie beloftes is joune deurdat jy Jesus ken of meer korrek dat hy homself deur jou laat ken. Kind van God jy het iets wat ander nie het nie. Daar is radikale verskille tussen jou en die onbekeerde. 
Onsekere, moedelose en wankelrige kind van God. Hou op wag vir ‘n gevoel of wonderwerk. Hou op wag daar moet iets groots met jou gebeur, een of ander ervaring moet jou te beurt val of dat een of ander teks of teken jou tref. Nee, God wil jou laat besef, jy het alles ontvang wat nodig is om as nuwe mens te leef! Hy skenk dit via eenvoudige vertroue op Jesus. (Goeie raad. Pasop om ander mense se subjektiewe ervarings jou norm te maak. Dis die gevaar van die verkeerde gebruik van Christen biografieë. God werk uniek met elke mens.) Ons plig is om kinderlik die beloftes en waarheidsstellings in Gods Woord, binne konteks te glo. Dis juis Petrus se doel om sy lesers (ons) aan hierdie heerlike waarhede te herinner, hy dink dis nodig, inderdaad nodig. Vers 12! 

Eers as ons besef wat God gedoen het, kan ons nou vra wat ons te doen staan. Daarby gaan Petrus nou kom in die volgende verse... Kliek op Maak Vas; Maak seker (3)

Woensdag 20 Maart 2019

ROEP MY AAN IN DIE DAG VAN BENOUDHEID!


‘N HEERLIKE BELOFTE AAN GOD SE GETROUE GUNSGENOTE 



“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer." (Psalm 50:15) 



Wat ‘n wonderlike belofte! Beleef ons nie juis nou dae van benoudheid nie? Dis droogte,  nee, RAMPDROOGTE (tans ongekend erg hier in Namibië), dis siekte, dis onheile en bekommernisse (ESKOM?) en wie weet wat alles wat ons kwel en bedreig... Ja, ook die benoudheid oor onbekeerde eggenotes, kinders...

Kom ons kyk mooi na hierdie wonderlike versekering. Kyk na die konteks. Psalm 50 (maak gerus jou Bybel hier oop) was waarskynlik deel van ’n seremonie van verbondshernuwing. (Sien die verwysings na “verbond” in verse 5,16) Dit was nodig, nie omdat Gód sy verbond vergeet nie, maar omdat mense hulle verantwoordelikheid binne die verbond vergeet. Dis natuurlik ook so vandag. Daarom die belangrikheid van die Woord en sakramente... Dit herinner ons telkens aan God se verbondsgetrouheid. Dit gee ons geleentheid om onsself opnuut aan Hom toe te wy. 

Die psalm val uiteen in drie dele

Oproep tot aanbidding. (1-6) In die Hebreeus begin hierdie psalm met ’n kragtige opeenstapeling van Godsname : El, Elohim, JHWH! Die hele wêreld, hemel en aarde en spesifiek sy gunsgenote, die wat aan Hom getrou is word opgeroep tot aanbidding! Dit bly altyd die hoofsaak : God moet aanbid word. Hiervoor het Hy ons gemaak en gered. God self is in die middelpunt! Sy heerlikheid, nie ons behoeftes nie! Sy AGENDA nie ons s'n nie!

Die ware betekenis van die offers. (7-15) Israel moet nou luister! Die Here spreek hulle verkeerde verstaan van offers aan. In essensie kom dit daarop neer – Julle moet besef God het geen offers nodig nie, want als behoort in elk geval aan Hom. God is nie honger of arm nie. Hy het óns nie nodig nie, ons het Hom nodig. In die verhouding met God gaan dit nie daaroor dat ons iets vir Hom moet doen omdat Hy een of ander behoefte het nie, maar die essensie van die offerdiens gaan oor dankbaarheid en dat ons getrou sal bly aan ons geloftes teenoor Hom! Binne die konteks van die verbond staan Hy in ’n verhouding met ons. En juis binne hierdie verhouding, as dit ’n gesonde verhouding is, kan ons Hom aanroep in ons nood en benoudheid en sal ons sy uitredding ervaar. (15) 

Die ware betekenis van die wet. (16-23) Hierdie woorde word nou gerig tot die goddeloses tussen die verbondsmense! Dis hulle wat God se wet ken, maar dit nie gehoorsaam nie. Voor die seremonie van verbondsvernuwing moet almal hulle harte ondersoek. Drie sake word uitgelig as voorbeelde van ontrou teenoor God se gebooie. Die agste, sewende en negende gebod! (18-20) Nou moet daar mooi geluister word. Diefstal, huweliksontrou, leuens en skinder! Jy doen dalk nie self hierdie dinge nie, maar jy geniet dit saam. (Is dit nie maar wat gebeur as jy so vasgenael voor die sepies sit nie? Wat gaan oorbly van jou sepie as sonde nie met kleur en geur uitgebeeld word nie?) Dis die probleem in die kerk. Sonde is nie meer so erg nie! Die punt is net : Sonde is erg vir God! Hy gaan jou tot verantwoording roep! “"Moet Ek stil bly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!” (21) 

Die groot bedreiging vir die kerk van Jesus is nie die droogte of ESKOM nie, maar die feit dat mense nie meer rekening hou met God nie! 

As jy steel en egbreuk pleeg en skinder (of geniet as andere dit doen) is dit ’n simptoom van iets dieper – jy vat nie meer God en sy wil ernstig op nie! Om God se gebooie te vergeet is gelykstaande om Homself te vergeet! “Julle moet luister na hierdie waarskuwing, julle wat nie met God rekening hou nie, anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red.” (22) Dis ’n baie ernstige saak om God weg te laat uit jou lewe! God sal jou verskeur! 

Agter hierdie waarskuwing lê die metafoor van God as ’n vreesaanjaende leeu wat verskeur. Hosea 5:14- “Ek is soos ‘n leeu teenoor Efraim, soos ‘n roofdier teenoor Juda. Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.” Vers 23 herbeklemtoon weer vers 14. 

"Die mens wat My eer, is die een wat lof as ‘n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red." (23) 

“Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.” (14) 


Dankbaarheid en gehoorsaamheid is die pad waarop gebedsverhoring en God se redding ervaar word! 

As ons nie God se uitsprake oor sonde ernstig opneem nie, kan ons beslis ook nie aanspraak maak op sy beloftes nie!


Terug by vers 15. Kyk bietjie nader na hierdie heerlike en bekende belofte. Hierdie belofte is natuurlik bedoel soos ons gesien het vir diegene wat God se verbond ernstig opneem. As jy Jesus aanvaar het, is jy nou deel die Nuwe Verbond. As ek die verlossing deur sy kruisdood gesmaak het, het ek juis nog groter rede om dankbaar te wees en my geloftes aan Hom te hou. (Terloops, hoe ernstig is jy nog oor jou doop, belydenisaflegging, huweliksbeloftes?) Onthou, nie net die “voordele” van die Nuwe Verbond nie, maar ook die verantwoordelikhede is baie groter nie! In hierdie belofte staan twee sake uit: 

God sal ons UITHELP en ons sal Hom EER! 

Kom ons begin by laasgenoemde. Ons weet tog dat die groot doel van die Skepping is die eer en verheerliking van God. God het alles gemaak tot Sy eer. Hy wil hê dat Sy heerlikheid en majesteit erken, bewonder en vertel sal word. God se eie eer is die hoogste doel waarna Hy streef, want omdat Hyself die hoogste goed is in die heelal kan daar geen hoër ideaal as dit bestaan nie. 

En tog beloof hierdie groot God om ons te help in tye van benoudheid. Hoe pas ons welsyn, geluk en blydskap dan nou in by sy eer? Dis baie belangrik om te besef is dat ons blydskap nie bots met hierdie strewe van God tot Sy eer nie. God se passie vir Sy eer is ten diepste nie skadelik vir ons geluk as mense nie. (Dit mag wel so lyk vir die sonde gevalle mens) Hoekom sê ons so? God word juis geëer deur die blydskap van Sy skepsele wat Hom met vreugde aanbid en bewonder. ’n Pa word geëer en is gelukkig juis as sy kinders gelukkig is!

 “God is most glorified in us when we are most satisfied in Him” (John Piper) 

God word geëer juis wanneer ons ons geluk, vrede en uitkoms in Hom vind! Ten diepste is hierdie twee sake nie teenstrydige doelwitte nie, maar een doelwit. Dit word baie duidelik sigbaar in die werking van gebed. 

Wat gebeur wanneer ons volgens God se wil bid en so verhoor word en bly is? Ons kry die hulp en die Gewer kry die eer! Dis waarom gebed so onmisbaar belangrik is. Gebed het dus te make met hierdie twee sake : ons blydskap deurdat ons hulp van God ontvang en God se eer en heerlikheid. Omdat ons deur gebed Hom dank en erken as Gewer. Kom ons toets dit aan die lering van die Nuwe Testament. Hierdie waarheid word baie duidelik deur Jesus in Johannes 14:13 en 16:24 bevestig : 

“Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” 

“Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” 

God se belofte hier in Psalm 50:15 is steeds waar! Onthou net die hele konteks. Hierdie belofte is nie vir die wat in sonde volhard nie. Hierdie belofte is ook beslis nie 'n kitsreseppie om my probleme op te los nie. Dit funksioneer alleenlik binne ‘n dankbaarheidsverhouding met God in die konteks van die Nuwe Verbond waarvan Jesus die Middelaar is. Dis 'n kragtige hulpmiddel binne die raamwerk van God se agenda, naamlik die eer van Sy Naam! Hierdie verhouding binne die nuwe verbond is moontlik gemaak deur Sy kruis en opstanding. Elkeen wat in gehoorsame dankbaarheid teenoor Jesus leef kan hierdie belofte glo en toepas! Hy sal jou gebed beantwoord en jou uitred, help en antwoord op ‘n manier wat eer sal bring aan sy Naam! 

Kantaantekening. Weereens wat ’n verskriklike ding is biddeloosheid! Ons sny ons eie blydskap af, nog erger ons ontneem God van Sy eer. Deur nie te bid nie misluk ons in God se skeppingsdoel met ons. Positief gesê, wat ‘n heerlike middel is gebed! Deur gebed beantwoord ons aan God se skeppingsdoel. Gebedsverhoring bring vreugde en as ons bly is word God geëer. Gebed is inderdaad die vernaamste deel van ons dankbaarheid! * 

*Heidelbergse Kategismus , Sondag 45, Vraag 116



Vrydag 25 Januarie 2019

WAAROM KRY EK NOU SO SWAAR?

- Jy word dalk voorberei om ander te troos! 


Troos en bemoediging is dit wat ons elkeen nodig het. Om die eenvoudige rede dat ons stukkende mense is wat in ‘n stukkende wêreld leef. Ons aardse bestaan word gekenmerk en aangetas deur sonde, swaarkry, siekte en ons is ook almal onderworpe aan sterflikheid. Ons het reeds uit Jesaja gesien, die enigste ware troos is dit wat God ons gee deur Jesus Christus. (Kliek op TROOSBOEK) Nou gaan ons ‘n stappie verder : Hoe kan ons ander met hierdie evangeliese troos bemoedig en vertroos? 

Paulus praat aangrypend en ook baie prakties hieroor in 2 Korintiërs 1:3-11. Terloops Jesaja se gedeelte oor die Goddelike troos is heel waarskynlik in sy agterkop as hy hier skryf. 

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,...” (2 Korintiërs 1:3,4 NAB) 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” (2 Korintiërs 1:3,4 OAV) 

Die konteks waarin Paulus van hierdie troos praat is baie interessant . Die 2 Korintiërs brief is eintlik ‘n taamlik kwaai brief vol baie ernstige waarskuwings. Tog is dit Paulus se diepste begeerte dat die troos van God wat hyself self van God ontvang het die gemeentelede sal bemoedig in hulle stryd en omstandighede. Hierdie gedeelte is vir elkeen wat Jesus ken ‘n kragtige aansporing en uitdaging om betrokke te raak by die vertroosting van medegelowiges! 

Hoe lyk vertroosters of bemoedigers wat Goddelike troos aan ander moet bring? 

Ware vertroosters het self troos gevind by God. (3,4) Goddelike troos is vir Paulus nie maar net ‘n stuk mooi teorie nie. Hy het dit persoonlik, proefondervindelik beleef en nou kan hy ander troos. Voor jy ander wil troos, toets eers jou eie fondasies! Is jy al getroos deur die evangelie? Anders gestel -Is Jesus self jou fondasie en hoop? Ondervind jy vertroosting vanuit die feite van sy kruis en opstanding, sy naderende wederkoms en sy daaglikse teenwoordigheid deur die Heilige Gees? 

Ware vertroosters wag en hoop geduldig op God se tyd saam met diegene vir wie hulle bemoedig. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.” (10) Ook Jesaja het dit duidelik gemaak dat God self iets nuuts gaan doen, Hy gaan uitkoms bring. Hy doen dit op sy tyd wat die beste tyd is. 

Ons durf nie goedkoop troos of onrealistiese raad te gee nie. 

Ons sê nie vir mense, “ag, dis nie so erg nie” (want dit is erg), “die tyd sal als genees nie” (want dit gebeur nie altyd nie). Ons smokkel nie met mense se koppe dat “alles beter gaan word nie” (want dit gebeur nie altyd nie) Maar wat sê ons dan wel? Dat God ‘n nuwe begin gemaak het deur Jesus Christus. Dat Hy in Jesus ons skuld weggevat het deur sy kruisdood en opstanding en dat ons weet daar gaan ‘n nuwe hemel en aarde kom waar daar nie meer onreg, sonde en dood sal wees nie! In die tussentyd moet ons geduldig wag totdat Hy self ‘n antwoord sal gee op die dringende en dikwels onuitgesproke vrae in ons harte van : “Hoe lank nog Here?, Wanneer gaan daar 'n einde kom aan my smart?, Wanneer gaan reg en geregtigheid geskied?” (soos die martelare in Openbaring) Ja, ons weet dat dit God dikwels behaag om nou reeds hier op aarde wonderlike uitkomste en uitredding te gee, soos Hy wil en goed dink. Ons wag saam met ons lydende broers en susters geduldig daarop. Maar ons weet dat die groot finale troos eers by die wederkoms sal aanbreek en ons herinner mekaar daaraan om geduldig te volhard tot op daardie tyd. Ons wat troos en bemoediging bring word self beproef net soos die mense vir wie ons bemoedig. Ons moet dus langs ons broers en susters gaan sit en geduldig saam die lyding wat oor ons kom verduur terwyl ons mekaar herinner aan God se beloftes. Dis die beloftes van God vir wie niks onmoontlik is nie. Dit gaan oor vertroue op God wat selfs die dooies opwek! “Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.”(9) Dit bring mens by die volgende kenmerk van ‘n trooster. 

Ware vertroosters vertroos mense uit die Woord van God. Onthou wat ons in Jesaja gehoor het - “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:8) In ‘n stukkende en vals en gedurig veranderende wêreld is die enigste vastigheid, God se onfeilbare Woord, sy onbreekbare beloftes! Hier is net ‘n woord van waarskuwing nodig. 

Pasop om te vinnig na ‘n regklinkende teks te gryp en vir ‘n stukkende mens te vertel: “Hier is jou antwoord!” 

 ‘n Te vinnige pleistertjie. Dit gaan nie hieroor dat ons net ‘n lys van tekste ken vir elke situasie wat mag opduik nie. Dit gaan eerder daaroor dat ons denke en begrip oor ‘n lang tyd gevorm is deur voortdurende omgang met die Woord sodat ons met nederige insig en sagmoedige wysheid goeie raad kan gee. Vertroosting vanuit die hele Bybelse geskiedenis en God se plan met ‘n gebroke wêreld. 

Ware vertroosters vertroos andere as mense wat self weerloos en gewond is. Paulus is baie eerlik hier oor sy eie lyding en hoe dit hom tot wanhoop gedryf het. “Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is.” (8,9) Die bekende Anglikaanse teoloog NT Wright* sê dit wat Paulus hier beskryf is in ons taal “a nervous breakdown” ‘n Senu-ineenstorting! Paulus erken dat die swaarkry vir hom heeltemal te veel geword het. Hy ontbloot homself eintlik hier voor die lesers. Die een wat troos is self een wat swak is. Hy sluit hier op ‘n dieper manier aan by die boodskap van Jesaja 40-55. Die kern van daardie profesie is die Lydende Kneg van God, Jesus wat namens ons gely het. Hy het swak en broos geword ter wille van ons. Jesus het heeltemal een geword met die stukkende en skuldige mens. Dit het daarop neergekom dat Jesus Homself ten volle in ons as sondaars se plek geplaas het, Hy het Homself met ons geïdentifiseer. Dink net : Hy gaan staan in die ry van sondaars om deur Johannes gedoop te word... Hy het ons sonde en daarom ook ons pyn en ons lyding op Homself geneem. As ons ware troos aan ander wil bring sal ons iets van hierdie gesindheid van Jesus moet betoon. Ons moet nie net raad gee vanaf ‘n veilige afstand nie, maar langs die gewonde persoon as mede gewonde gaan sit en saam huil as stukkende mense!  En, baie mooi te luister! En onthou dis nie net ons wat ander help nie, ander help ons ook. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid.” (10,11) Gebed speel ‘n sleutelrol! 

Om saam te vat : Troos en bemoediging gebeur saam daar waar mense wat self Goddelike troos ondervind het, eerlik met mekaar is oor ons gebrokenheid, waar ons op grond van die beloftes van God se Woord mekaar aanmoedig om volhardend te op Hom vertrou en waar ons vir mekaar bid! 

Ontvang God se troos en gaan deel dit uit! Skep moed uit die feit dat Hy die swaarkry en lyding wat jy tans ondervind gebruik as voorbereiding vir jou taak as trooster!


*Ek gee graag erkenning aan die teoloog NT Wright vir die gedagtes en insigte in hierdie stuk.  Kliek HIER vir sy volledige preek.

Vrydag 18 Januarie 2019

TROOS, TROOS!

- God gee die enigste ware troos wat ons nodig het. 


“Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes."  Jesaja 40:1 (OAV) 

Watter heerlike woorde! Troos, die uitkoms is hier!

Ons is almal mense wat troos en bemoediging nodig het. Ons is stukkende mense in ‘n stukkende wêreld. Sonde, siekte, swaarkry...die sterflikheid wat soos 'n swaard oor ons koppe hang! Hier word troos juis vir ons aangekondig. En as ons troos ontvang het, het ek en jy die opdrag om aan ander troos en bemoediging te bring. (meer daaroor volgende week) Jesaja hoofstukke 40-55 is ‘n besondere troosboek. Hierdie gedeelte, 40:1-11 is die inleiding – die temas wat hier aangeroer word, word vorentoe verder uitgewerk in die res van die hoofstukke. 

Agtergrond en konteks. Die volk Israel sit in ballingskap in verre Babilonië. Dis ‘n hartseer ellendige situasie. Ver van hulle land en mense. Jerusalem is ‘n puinhoop. Die tempel is afgebreek. ‘n Verwoeste stad, verwoeste lewens, uitsiglose toekoms! (Dis dalk hoe jy nou voel?) Maar juis in hierdie situasie kom God met ‘n aangrypende en verreikende troosboodskap! Hoor mooi! 

Hierdie troos is iets konkreets. God se troos is iets baie meer as net medelye betoon, meer as net mooi woordjies of ‘n whatsapp met ‘n prentjie van blomme, gesiggies of vissies! Dis nie leë trooswoordjies soos : “Ag, dis nie so erg nie! Ag, jy sal een van die dae beter voel” nie. Dis die vaste versekering dat God ‘n einde aan die ballingskap sou maak en dat daar vir God se volk ‘n nuwe begin gaan kom. Dit gaan ‘n nuwe eksodus/bevryding wees. Daar gaan ‘n nuwe pad deur die woestyn gemaak word. (3) Letterlik ook in die sin dat net soos daar ‘n woestyn was tussen Egipte en Kanaän, daar ook ‘n woestyn was tussen Babel en die land. As God is troos is dit meer as net woorde. Dis ‘n nuwe begin! 

Hierdie troos is vir mense wat erg gesondig het. Die volk het juis weens sonde en God se oordele daaroor in soveel ellende beland. Hy het gestraf. Maar nou bring God uitkoms. Die straf is nou verby! (2) Die troosboek maak dit verder duidelik dat God self iets aan die sondeprobleem gedoen het. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (44:22) Goddelike troos vind plaas wanneer ons sondeprobleem aangespreek word, want dis juis die kern van al ons probleme! God het die vergifnis bewerk en daarom vra Hy bekering in reaksie daarop. In die res van die hoofstukke is daar duidelike oproepe tot bekering. Sonder bekering kan jy nie troos en vrede verwag nie. “Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.” (48:22) “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (55:7) Onthou net : Troos en vergifnis is nie goedkeuring van sonde nie. Dink maar aan Jesus se hantering van die owerspelige vrou in Johannes 8. Hy veroordeel haar nie. Hy skenk vryspraak en kwytskelding, maar met ‘n duidelike opdrag om nie verder te sondig nie! 

Hierdie troos is vir verganklike mense. In hierdie gedeelte hoor ons ‘n moedelose skeptiese stem. Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: die gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. (6,7) Hier hoor ons twyfel. Hoe kan hierdie wonderlike beloftes waar word, ons is so nietig? Maar hoor die heerlike versekering… “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (8) Die mens is nietig maar God se Woord, God se beloftes staan onvernietigbaar, onveranderlik vas tot in ewigheid! God se Woord is effektief! Dit waarborg resultate! “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (55:10,11) 

Hierdie troos is ‘n Godgewerkte en Godgewaarborgde troos. Dis God self wat ingryp omdat Hy getrou is aan sy Verbond “Vir my volk sê” (1) is ‘n sinspeling op die verbond. Dit word later eksplisiet gesê. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.” (Jes 42:6a) God bewerk en waarborg die verlossing, want Hy is die almagtige! (5) As God besluit om iets te doen kan niemand dit keer nie! “Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. Ook hierna is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.” (43:11-13) 

Hierdie troos is ‘n evangeliese troos, die troos in Jesus! Dit gaan ooglopend oor veel meer as die einde van die fisiese ballingskap. Dit gaan oor die bevryding wat Jesus sou bring. Daar is baie aanduidings hiervan in hierdie hoofstukke self. Die belofte van die wegbereider in Jesaja 40:3,4 is deur die koms van Johannes die Doper vervul. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: "Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit." (Matteus 3:1-3) Die sentrale figuur in Jesaja 40-55 is die Lydende Kneg van die Here, Jesus Christus. Die kern van hierdie troos kry ons so pragtig beskryf in 53:5,6. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” Jesus se plaasvervangende sterwe. Hy wat sy lewe vir sy skape gegee het. Jesus self is die Goeie Herder, wat juis ook vir die swakkes omgee en hulle versorg. 

"Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie." (11) 

Die enigste ware troos is die troos wat Jesus se kruisiging en opstanding vir ons bring! Dis die troos van die evangelie wat sê : Jou enorme skuld is klaar betaal, Ek het jou skande en verleentheid uitgewis! Ek maak ‘n nuwe begin met jou! Hierdie troos is so oneindig ryk! Dis meer as net vergifnis. 

Ons Verlosser sê ook : 

Ek gee jou krag! “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” (40:29-30) 

Jy hoef nie bang te wees nie. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (41:10) 

Ek sal jou nooit vergeet nie. “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie." (49:15) 

Ek is nie meer vir jou kwaad nie. “Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.” (54:7,8) 

BELANGRIKE VRAAG 

Wat kos die troos? Hoe kry ekself dit? Die antwoord is duidelik : Kom, kom kry die troos en versadiging alles verniet! “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (55:1) Dis ‘n uitnodiging wat in die geloof aangeneem moet word. Dis ‘n uitnodiging van Jesus self. (vgl. Matteus 11:28-30) 

KOM KRY DIE TROOS,NOU!

Hierdie Goddelike troos moet in ons gebroke wêreld verkondig word. Ons moet dit self glo en hierdie troos ook aan ander bedien. (9) 

Ek wil jou graag aanmoedig. Doen jouself ‘n reuse guns en gaan lees biddend Jesaja hoofstukke 40-55! 

*Jesaja 40:1-11 (NAB) 

. 1 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 

· 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. 

· 3 Iemand roep: "Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! 

· 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte. 

· 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê." 

· 6 Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: 

· 7 gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. 

· 8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. 

· 9 Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: "Julle God is hier! 

· 10 Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. 

· 11 Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

"...strome op die droë grond" (Jesaja 40:3)

Donderdag 08 November 2018

AS DIE BEURSIE LEEGRAAK…

- God het heerlike beloftes gemaak oor geldsake, maar ons moet sy opdragte hieroor natuurlik net so ernstig opneem! 

[Pasop vir die rosyntjiebrood sindroom as ons die Bybel oor geldsake ondersoek. Moenie die Woord hoor soos stout kinders ‘n rosyntjie brood eet nie…. Hulle eet net die lekker rosyntjies en los die res van die brood...] 

DIS MOEILIKE TYE 

Dis geen geheim nie, moeilike finansiële tye is op ons! En die ergste is nog op pad! Die gevolge van die geldmorsmanewales van die korrupte Zuma en die plundering van sy Gupta vriende het ons hier in Namibië ook ingehaal. Natuurlik is nie als hulle skuld nie. Plaaslike spandabelrigheid en korrupsie het ook by ons ‘n verdere spoor van ekonomiese verwoesting nagelaat. Dit gaan nog knyp... 

Die goeie nuus is dat die Woord baie oor geldsake te sê het.

Ons moet  net gehoorsaam luister! Een so ‘n gedeelte vind ons hier aan die einde van Hebreërs. 

Maak gerus self die Bybel oop by Hebreërs 13:1-6. Ons kry hier ‘n hele paar etiese kwessies wat aangespreek word. Praktiese opdragte oor die konkrete uitlewe van Christenskap. Broederliefde, gasvryheid, medelye, reinheid en tevredenheid. As ons regtig die troos wil ervaar van God se beloftes oor finansies moet ons ook erns maak met wat Hy oor hierdie ander sake te sê… Anders gesê, hierdie belofte oor finansiële versorging waarna ons gaan kyk, gaan my niks baat solank ek nie my broers liefhet nie, solank ek weier om gasvry te wees, as ek hardvogtig is, solank ek nie die huwelik respekteer nie en so lank ek deur gierigheid oorheers word nie…

(Wie van ons is nie skuldig nie? Gelukkig vertel hierdie skrywer in die voorafgaande hoofstukke juis va ons Hoëpriester Jesus se volmaakte offer wat ons volkome reinig...)

Kom ons kyk wat sê hierdie gedeelte oor finansies: 

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." 
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" (Hebreërs 13:5,6) 

Hier kry ons ‘n OPDRAG, ‘n BELOFTE en die heerlike EFFEK VAN DIE BELOFTE. 

1.OPDRAG 

Wat beteken, "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het."? Wat is die implikasies op die grond? Paar praktiese opmerkings: 

Leef in onderwerping aan God se soewereine beskikking. Aanvaar geduldig en nederig dit wat God oor jou pad bring. Wees dankbaar vir wat God jou gee. God is in beheer van als, ook jou finansies. Ook wat jy nou beleef ten opsigte van finansies is nie toevallig nie. Hy is besig met jou...

Leef in verantwoordelikheid met wat jy het en pas jou leefstyl daarby aan. Wees eerlik met jouself : "Wat kan ek bekostig en wat het ek regtig nodig? Hoe wil God hê ek moet my geld en tyd en kragte spandeer? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om te gaan uiteet? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om DSTV aan te hou? (Het ek daai sepies nodig in my lewe?) Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om lag-lag N$1000 op te rook as daar nie geld is vir basiese behoeftes nie? Is die malle gejaag agter sportbyeenkomste aan terwyl ek nie my skulde kan betaal nie, verantwoordelik?" Verantwoordelike rentmeesterskap – als wat ek het kom van God af, ek moet dit verantwoordelik bestuur soos wat Hy daarvan sal hou… Niks is regtig my eie nie, God leen dit vir my om te gebruik in belang van sy eer en koninkryk.. 

Leef met ‘n gesindheid van vergenoegdheid. (Filippense 4:11,12) “…ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê…” (DVL) Maak ‘n punt daarvan om God opreg te dank vir elke goeie gawe! Geniet die klein kosbare dinge wat God ons gee… vars oggendlug, vriendskap, vrede in die huis, die wonderlike skepping rondom ons. (Daar is vreugde in eenvoud!) Laat ons tafelgebede opreg wees… 

Leef volgens ‘n ewige waardebepaling. Het jy skatte in die hemel? Met ander woorde, ken jy Jesus en bedink jy die dinge wat daarbo is? Leef jy heilig, besigmet goeie werke? Hoe beoordeel jy sukses? Is dit net karre, huise en vakansies wat jou opgewonde maak, of is jy opgewonde oor Jesus en die Woord en die ewige teenwoordigheid van God? Onthou Jesus se woorde in Lukas 12:15. “Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." 

Leef vry van die verslawende liefde vir geld. Dis vir jou eie beswil. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timoteus 6:10) Die gierige mens is nooit ‘n gelukkige mens nie. Sy hart is altyd met angs vervul. Geldgierigheid is net so ‘n sterk verslawing soos alkohol of nikotien verslawing. Vra die Here Jesus om jou te bevry... 

Leef vrygewig! "Hoe nou? Ek kry dan self swaar", wil jy beswaar maak. Maar hoor die opdrag tot mededeelsaamheid. Gee aan ander wat minder as jy het! Jesus het ‘n duidelike radikale belofte hieroor gemaak. (Sekerlik gaan dit oor gaan oor meer as geldsake, oor barmhartigheid in die wyse sin van die woord “Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word." (Lukas 6:38) Hierdie beginsel van Jesus word nogal kragtig geïllustreer deur ‘n ondervinding van Martin de Lange wat saam met sy gesin as sendelinge in Turkye gewerk het. Toe hulle moes terugkom na SA het hulle bereken dat hulle so R200,000.00 nodig sou hê vir die verhuising. Na ‘n paar weke het hulle daarin geslaag om so R10,000.00 bymekaar te maak nie eens genoeg vir vliegkaartjies nie. Sekerlik in ‘n half moedelose toetstand het Martin saggies gebid en vir die Here gevra : “Wat is ek veronderstel om te doen met net R10,000.00?” Die verbasende opdrag wat sy maag laat draai het kom toe : “Gee dit weg!” Hulle was gehoorsaam en het die bedrag aan ‘n ander sendeling gegee wat dit baie nodig gehad het, en ja... die Here het voorsien in al hulle kostes!* Hoor wat Jesus sê, konsentreer op gee en nie op ontvang nie! Paulus verwys hierna in sy gesprek met die ouderlinge van Efese. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang." (Handelinge 20:35) 

Laat God jou denke oor geldsake verander en begin sy opdragte hieroor gehoorsaam!

2.BELOFTE 

Hierdie vergenoegdheid en tevredenheid waartoe ons opgeroep word, is nie gebou op roekelose ongeergdheid en onverantwoordelikheid nie. Dis nie sommer net ‘n ongeërgde “Don’t worry be happy” houding nie! Dit kom voort uit ‘n doelbewuste nugter intelligente vertroue op God se belofte. En watter heerlike en kosbare belofte is dit nie! Nimmer as nooit ooit! (vyf negatiewe in die Grieks) Sterker kon die skrywer dit sekerlik nie gestel het nie. Daarom vriend : Maak ‘n keuse om God te vertrou! 

3. EFFEK 

Wat is die gevolg van vertroue op God se beloftes? Vreeslose geloofsdapperheid! Wie hierdie belofte van God vir homself toe-eien kan gelowig vreesloos sy vertroue uitspreek in die woorde van die psalmis : “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (Psalm 118:6) 

Finansiële bekommernisse skep vrees, en van hierdie vrees word ons bevry deur God se beloftes soos klein kindertjies te glo! 



SWAARKRY IS ‘N KOSBARE LEERSKOOL VAN GENADE EN VERTROUE! 

Finansiële swaarkry tye is nie lekker tye nie. Vir die kind van God is dit egter ‘n waardevolle leerskool. Dis ‘n skool waar ons leer wat is nederigheid, tevredenheid, afhanklikheid en vertroue. Hierdie vakke kan nie op ‘n ander manier geleer word nie. Laat ons nie klae oor ons swaarkry nie, maar dit sien as ‘n geleentheid om God ons Vader op ‘n nuwe dieper manier te leer ken! Kom ons stort ons harte voor Hom uit…. Filippense 4:6! God verhoor in detail die gebed vir ons praktiese behoeftes.


Ek wil ‘n aangrypende voorbeeld hiervan met jou deel wat plaasgevind het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Ouma Hamman (Anna Elizabeth Retief) was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die kampkommandant het goedgunstiglik besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur. Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit sal die beste wees as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met moeite het hulle die bestanddele vir die beskuitbakkery bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in oorlogskaarste, in die konsentrasiekamp, te bekom, was nie so eenvoudig nie! Ouma Hamman vertel dit so: 

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan."

Voorwaar Goddelike detail op die tyd gebedsverhoring! 

God kan enige tyd en enige plek ons gebede verhoor. Selfs ook in 'n konsentrasiekamp!

*Martin de Lange, Op die rand van die Paradys, p 163,164