BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 01 Oktober 2014

WAARSÊERS EN WATERWYSERS

- Wie ken die toekoms en verborge dinge?


Die mens het ‘n groot passie om die onbekende toekoms en verborge dinge te wete te kom. Wat gaan gebeur, met wie gaan ek trou, wag daar vir my geluk, waar gaan ek hierdie of daardie skat vind...? Dink maar hoe gewild is alle vorme van waarsêery soos sterre voorspel, sogenaamde kontak met gestorwenes (kliek op DIE ANDER KANT), handpalms lees, toordokters en fortuinvertellers…Die grondrede vir hierdie nuuskierigheid is vrees. Vrees vir die toekoms, vrees vir die onbekende. Die hoofrede vir hierdie vrees is weer omdat die mens nie God as sy liefdevolle en versorgende Vader ken nie. In die boek Handelinge kry ons ook te make met die euwel van waarsêery. Kom ons kyk net eers na die agtergrond. Handelinge is ’n opwindende boek wat die verspreiding van die evangelie en die groei van die kerk na Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees beskryf. Onstuitbaar het die Woord van God voortgegaan...

Natuurlik was die Satan nie hiermee tevrede nie. Die duiwel hou immers nie daarvan dat mense gered en bevry word nie. So ons lees ook dikwels van die teenstand en aanslae van die bose teen die verspreiding van die evangelie. Teenstand in die vorm van vervolging, misleiding, maar ook deur direkte agente soos mense wat onder beheer van bose magte was. Tog is dit duidelik dat die krag van God telkens triomfeer oor die bose. Dis een van die temas in Handelinge : Keer op keer moet die magte van die duisternis wyk voor die mag van die lewende Jesus!

Die dramatiese bevryding van ‘n besete slawemeisie in HANDELINGE 16:16-21 is ‘n aangrypende voorbeeld van Jesus se triomferende mag, maar juis ook sy liefde vir diep gevalle sondaars. ’n Paar belangrike feite kom na vore.

~ Hierdie meisie was ’n waarsegster. Sy kon verborge dinge sien of weet. Hoe het sy dit reggekry? Sy het ’n waarsêersgees gehad. ’n Bose gees m.a.w. ‘n demoon! Nadat Paulus die bose gees uitgedryf het, kon sy dit nie meer doen nie. Geen vorm van waarsêery is maar net ’n natuurlike aanvoeling of gawe nie! Partykeer skryf mense hierdie magte aan God toe, maar dit kom van die Satan. ’n Goeie voorbeeld in Handelinge self is die geval van Simon die towenaar.....Hand 8:9,10 (Lees) Mense in okkultiese duisternis gee dikwels voor dat hulle ’n gawe van God het... dis ’n leuen uit die hel! Diegene wat met enige vorm van waarsêery te doen het, heul met die duiwel. Dis dus nie ‘n vorm van vermaak of maar net bloot ‘n grap nie! Dis ‘n sonde waarvan ons moet wegvlug.

~ Sy het vir haar eienaars baie geld ingebring. Hoekom? Daar is ’n groot aanvraag vir waarsêery! In alle kulture! (Dis nie net primitiewe mense wat hulle tot toordokters wend nie, maar ook gesofistikeerde Westerlinge spandeer miljoene om vals profete en New Age guru’s te raadpleeg.) Mense wil graag die verborge dinge weet! Ook in ons dag.... Daarom is daar baie geld in alle vorme van waarsêery! Waar baie geld betrokke is kan jy maar ‘n rot ruik; die oorsprong is verdag. Daarteenoor is God se evangeliegawes is altyd verniet!

~ Waarsêers het die vermoë om werklik soms die waarheid te praat. (natuurlik in soverre God dit toelaat) Hier kry ons ’n treffende voorbeeld. Luister wat roep die besete meisie uit: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word."(Vers 17) Dis ongetwyfeld so ’n mooi en waar boodskap! Dis belangrik om hiervan kennis te neem. Die feit dat hierdie vrou die waarheid gepraat het, beteken nie dat haar kennis van God af kom nie. Inteendeel haar kennis het direk van Satan gekom. Mense is so geneig om te sê : Dit werk dan - hierdie persoon het raak voorspel, regtig water aanwys* so... dit moet ’n gawe van God wees. Dis ’n onlogiese manier van redeneer. Die bose het werklike mag - al is dit beperk. 

Paulus laat hom nie vlei of flous nie. Hy weet hierdie vrou is onder die mag van Satan, daarom duld hy nie haar waarsêery nie (al sê sy sulke mooi en waar dinge) en dryf hy die gees uit.

Die  heerlike boodskap is dat die groot en genadige krag van Jesus triomfeer oor die bose en sy magte. 

Hierdie meisie word bevry. Toe slaan die bose terug en Paulus en Silas word in die tronk gestop. Maar niks kan die werk van God keer nie... Paulus en Silas sing liedere tot eer van God in die tronk. Ons ken die verdere geskiedenis ... die tronkbewaarder kom tot bekering! Satan se plan boemerang! (Terloops, dit is natuurlik ook ‘n duidelike bewys dat die Satan nie werklik in die toekoms kan sien nie, want hy beheer nie die toekoms nie! God alleen is almagtig, God alleen bepaal die toekoms en daarom ken ook net Hy die toekoms! Tevergeefs bestudeer mense Nostradamus of Siener van Rensburg se kriptiese uitsprake. Net God self weet wat Hy wil en gaan doen.)

Towery, bose magte en waarsêery is werklikhede... Jesus kan mens egter daarvan bevry. Sy mag is sterker as die duiwel se kettings van slawerny. God kan jou hierdie sondes vergewe as jy jou tot Hom bekeer, dit bely en laat staan! Vernietig alles wat met hierdie bose praktyke te doen het! (Vgl. Handelinge 19:18-20)


En jy? Gaan jy na waarsêers luister of na God se Gesalfde? 

Reeds in die Ou Testament het God dit gestel dat daar net een wettige alternatief is vir al hierdie soort mense se bedrog en dit is om na God se Woord te luister. Luister hoe stel Moses dit in Deuteronomium 18:9-15. 

"Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie.

Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ‘n besweerder by jou wees nie en ook nie ‘n towenaar of iemand wat voortekens lees of ‘n goëlaar

of ‘n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie.

Die Here het ‘n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.

Jy moet opreg wees voor die Here jou God.

Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.

Die Here jou God sal ‘n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam.”

Hierdie “Profeet” wat in die vooruitsig gestel word is Jesus self! (Vgl. Hand 3:17-23) Die enigste teenvoeter vir waarsêery, die enigste opsie vir die Christen is om na Jesus te luister en Hom te gehoorsaam. Hier word dus ‘n baie belangrike kontras gestel tussen Jesus en enige vorm van waarsêery! Jy kan nie na altwee luister nie. Wel, ek weet na Wie ek gaan luister...

Wie die liefde van God deur Jesus Christus ontdek het, het geen behoefte meer aan waarsêers en fortuinvertellers nie!

*Waterwys deur byv. stokkies (‘n wiggelroede) is ‘n vorm van waarsêery. Daarom werk die stokkies ook net met sekere mense. Dis ‘n ou toorkuns wat vanaf Europa saam met ons voorouers gekom het. Hierdie okkultiese gawe word soms ook van geslag tot geslag in families oorgedra. Veelseggend is die feit dat dit in Engels “waterwitching” genoem word.

Om water deur ‘n hidroloog te laat soek is natuurlik iets heel anders. Dit gaan oor die toepassing van wetenskaplike beginsels en daarmee is niks fout nie.


6 opmerkings:

  1. Johannes, baie dankie vir hierdie bespreking. dit is so waar wat jy se. Dit is egter n onderwerp wat vemy word, want dit trap op so baie mense se tone. Ek heg hier so n ekstra stukkie aan. Jammer weer vir die Engels.

    Twelve Forbidden Practices

    1. Enchantments (Towery) -- practice of magical arts (Ex. 7:11,22; 8:7,18; Lev. 19:26; Dt. 18:10; 2Chr. 33:6; 2Ki. 17:17; 21:6; Isa. 47:9,12; Jer. 27:9; Dan. 1:20)

    2. Witchcraft (Heksery, Toordokter) -- practice of dealing with evil spirits (Ex. 22:18; Dt. 18:10; 1Sam. 15:23; 2Chr. 33:6; 2Ki. 9:22; Mic. 5:12; Nah. 3:4; Gal. 5:19-21)

    3. Sorcery -- same as witchcraft (Ex. 7:11; Isa. 47:9,12; 57:3; Jer. 27:9; Dan. 2:2; Mal. 3:5; Acts 8:9-11; 13:6-8; Rev. 9:21; 18:23; 21:8; 22:15)

    4. Soothsaying -- same as witchcraft (Isa. 2:6; Dan. 2:27; 4:7; 5:7,11; Mic. 5:12)

    5. Divination (Fortuinverteller) -- the art of mystic insight or fortunetelling (Num. 22:7; 23:23; Dt. 18:10-14; 2Ki. 17:17; 1Sam. 6:2; Jer. 14:14; 27:9; 29:8; Ezek. 12:24; 13:6-7,23; 21:22-29; 22:28; Mic. 3:7; Zech. 10:2; Acts 16:16)

    6. Wizardry -- same as witchcraft. A wizard is a male and a witch is a female who practices witchcraft. Both were to be destroyed in Israel (Ex. 22:18; Lev. 19:31; 20:6,27; Dt. 18:11; 1Sam. 28:3,9; 2Ki. 21:6; 23:24; 2Chr. 33:6; Isa. 19:3)

    7. Necromancy -- divination by means of pretended communication with the dead (Dt. 18:11; Isa. 8:19; 1Sam. 28; 1Chr. 10:13)

    8. Magic (Toorkuns) -- any pretended supernatural art or practice (Gen. 41:8,24; Ex. 7:11,22; 8:7,18-19; 9:11; Dan. 1:20; 2:2,10,27; 4:7,9; 5:11; Acts 19:19)

    9. Charm (Gelukbringer)(Towery) -- to put a spell upon (same as enchantment, Dt. 18:11; Isa. 19:3)

    10. Prognostication (Soos Sterrewiggelaars) -- to foretell by indications, omens, signs, etc. (Isa. 47:13)

    11. Observing times -- same as prognostication (Lev. 19:26; Dt. 18:10; 2Ki. 21:6; 2Chr. 33:6)

    12. Astrology and star gazing (Sterrewiggelaar) -- divination by stars (Isa. 47:13; Jer. 10:2; Dan. 1:20; 2:2,10; 4:7; 5:7-15)

    Die Woord spreek hom baie baie sterk hieroor uit.
    Baie Afrikaners maak gebruik van hierdie praktyke en lees graag “Die sterre voorspel”.
    Hierdie is ook nie n baie populere onderwerp nie.
    All the above practices were and still are carried on in connection with demons, called familiar spirits. All who forsook God and sought help from these demons were to be destroyed (Lev. 19:31; 20:6; Dt. 18:11; 1Sam. 28; 2Ki. 21:6; 23:24; 1Chr. 10:13; 2Chr. 33:6; Isa. 8:19; 19:3; 29:4. See 1Tim. 4:1-8; 2Th. 2:8-12; Mt. 24:24; Rev. 13; 16:13-16; 19:20).

    Seen
    Boeta

    AntwoordVee uit
  2. Goeie dag. Ek soek iets waar dit in die bybel bevestig dat waterwys verkeerd is asb

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Rian, baie dankie vir jou navraag. As jy bedoel dat jy 'n enkele Bybelteks soek wat direk daaroor praat, weet ek nie van so 'n teks nie. Die Bybel is nie 'n ensiklopedie van verskillende sondes nie. Daar is ook byvoorbeeld nie direkte tekste wat sê dat die rook van dagga of lotto speel verkeerd is nie... In die Woord kry ons sekere beginsels oor etiese sake en ons moet dan in die lig daarvan in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees besluite neem. Ek dink dis baie duidelik dat iets soos waterwys wat geen wetenskaplike basis het nie, duidelik onder die noemer van waarsêery (bo-natuurlike kennis) val en daarom verkeerd is vir 'n Christen. Ek lees ook nie in die Woord dat dit as 'n gawe van God gesien moet word nie. Ek is wel bewus daarvan dat daar opregte mense is wat hiervan met my sou kon sou kon verskil. Veral aangesien dit so 'n ou gebruik is. Alles wat oud is, is natuurlik nie noodwendig reg nie.

      Ek dink ek sou wou volstaan by wat ek in die kort artikel geskryf het.

      Vriendelike groete
      Johannes

      Vee uit
  3. Dis 'n moeilike vraag waarvoor ons as beperkte mense seker nooit hier op aarde 'n volledige antwoord sal kan gee nie. God het in sy alwysheid bepaal dat die satan 'n sekere ruimte sou kry (wat die mens natuurlik aan hom gegee het), maar dat Hy deur Jesus op Golgota verslaan sou word via die pad van lyding! Dis die pad wat sou wys dat God waarlik goed is en wat die meeste eer aan Hom sou bring. God dwing ook nie die mens om Hom bo Satan te kies nie, maar gebruik 'n sagte mag om die mens te oortuig.

    AntwoordVee uit
  4. Goeie naand..nou is my vraag wie is nou eintlik die een wat ek moet vertrou ..die atehis wat n argeoloog is en water aanwys met n masjien..of die geredde man wat op God vertrou om vir hom te help met sy stokkies om water aan te wys??

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie vir jou kommentaar. Die groot vraag is net of 'n ware geredde persoon wat aan God se Woord gehoorsaam is homself hoegenaamd met towery en waarsêery sal ophou? Die Bybel verbied hiedie goed. Die punt is nie dat dit OK is om 'n ateïs te wees nie, maar om niks te doen wat teen God se Woord is nie. Groete

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.