BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verdrukking. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verdrukking. Wys alle plasings

Vrydag 10 Februarie 2023

Vier goeie redes om ALTYD vol HOOP te wees! (2)

 [Ons is besig met die opwindende en troosvolle boodskap uit 2 Korintiërs hoofstukke 4 en 5]


Jy sou al agtergekom het - om 'n kind van God te wees, beteken nie dat ek skielik 'n superwese sonder swakheid en probleme geword het nie. Inteendeel. En tog is die kind van God uniek, iemand met wie 'n bonatuurlike wonder gebeur het! Hoe moet ons hierdie teenstrydigheid verstaan? Paulus verduidelik dit met die raak metafoor van die kleipot in 2 Korintiërs 4 vers 7! Dis so vol troos en belofte!





Luister na die volledig troosvolle boodskap op YouTube . Kliek op SKAT IN KLEIPOTTE

Maandag 23 April 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (9)

- die lofliedere gee ‘n Christusperspektief

Ons het verlede keer gekyk  na die funksie van die Ou Testamentiese apokaliptiese beelde. (Diere, koppe, horings ens.)  Hulle gee nie detail antwoorde op die vraag : Wanneer sal als gebeur? nie. Hulle volg ook nie 'n kronologiese volgorde nie. Hulle antwoord is net : Aan die einde of anders gesê op die Dag van die Here!  Onthou weer die dissipels se vraag in Handelinge 1:6. “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord (vers 7,8) oor die Heilige Gees en hulle getuienistaak, wys daarop dat God se Koninkryk gevestig word in die laaste dae nl. die tyd tussen sy eerste koms en sy wederkoms! (Dit sluit NOU in!) Die Dag van die Here kom o.a. tot vervulling in en deur die kerk soos en wanneer ons die evangelie verkondig! Getuienis is nou ons groot taak!

Die dissipels se fout (en baie van ons s’n vandag) was om die herstel van die Koninkryk of die dag van die Here as een dramatiese gebeurtenis te sien en te verwag. (En tussendeur al ons spekulasies, ons getuienistaak te verwaarloos)

Die basiese inhoud van die Dag van die Here is die Jesusgebeure, m.a.w. die evangelie van die kruis en die opstanding! Die einde het aangebreek in Jesus : die geslagte Lam wat gely het, Hyself het die groot verdrukking deurgegaan, Hy behaal die oorwinning, die groot slag teen Satan is gewen aan die kruis, deur sy kruis en opstanding bind hy die Satan ens. Hierdie Jesus gebeure het vir ons die ewige erfenis van die Koninkryk verwerf!
Jesus doen dit deur lyding (LAM), maar Hy is reeds die oorwinnaar (LEEU)! Ons as die verlostes, die kerk van Jesus deel in hierdie dubbele karakter. Die kerk word geroep tot lyding (ons kan dit nie vryspring nie), maar is terselfdertyd oorwinnaars! Ons finale verheerliking sal egter eers plaasvind by die finale verheerliking van Jesus  by die wederkoms!

Ons probleem in praktyk is dat ons menslike beperkte perspektief veroorsaak dat ons lyding wat ons nou verduur, die heerlikheid wat reeds ons s’n is, laat verdof. Weens ons swaarkry is ons geneig om die heerlikheid wat aan ons behoort mis te kyk en daarvan te vergeet. Dis juis hierdie  probleem en misverstand wat Openbaring wil regstel.

Die evangelie feite is die oorheersende feite in Openbaring! Jesus en sy oorwinning is die groot gebeurtenis van die verlede, hede en toekoms! Dis waar die klem moet val en wat ons moet laat koershou. Kom ons kyk net weer hoe bied Johannes dit aan reeds in die inleiding in
Openbaring 1:5-7

Verlede tyd : (5,6) Jesus het ons bevry, verlos en ons ’n Koninkryk van priesters gemaak.
Hede : Jesus is NOU die Heerser oor al die konings van die aarde! Hy is NOU die beskermer van die gemeentes. (16,20) Hy het NOU alle mag oor lewe en dood! Die hele boodskap van Openbaring is ook van toepassing op die NOU! 
Toekoms : Hy kom sigbaar in die toekoms! (7)

Belangrik : Die feit dat Jesus NOU regeer beteken dat HY reeds die oorwinning behaal het oor sy vyande (Satan) deur die kruis en opstanding! Dis nie iets wat nog moet gebeur nie. (Die Satan hoef nie nog gebind te word nie, Hy is alreeds gebind!)

Hierdie fokus op Jesus as die Oorwinnaar word ingebring  tussen die apokaliptiese beelde wat uit die Ou Testament  kom. Dit word gedoen deur kort-kort  himniese gedeeltes (met ander woorde deur lofliedere en ook gebede) in te voeg tussen die beelde van diere, koppe, skale, ruiters  ens!  Juis om ons te laat verstaan dat ons die Ou Testamentiese profesieë en beeldspraak  moet interpreteer in die lig van die Jesus gebeure, die evangelie! Die Jesus gebeure is die vervulling van die Ou Testamentiese beelde!

Kyk saam na  Openbaring 5:9-10, 12. Let op die gebeurtenis van die verlede, naamlik die sterwe van Jesus skep die realiteit van die Koninkryk van priesters. “Hulle sal regeer” lê in die toekoms maar hierdie toekoms is nie in die verre toekoms alleen nie, maar ’n voortgaande reëling vanaf die tyd van verlossing! Ons as verlostes is ALREEDS sy Koninkryk van priesters (vgl. 1:6; 5:10) Openbaring bevestig net dit wat Paulus in Romeine 8:30 sê oor ons verlossing wat ’n vaste feit is! (Lees) 

Kyk na ’n ander lofgedeelte. In Openbaring 11 (maak jou Bybel gerus hier oop) kry ons die gedeelte oor die twee getuies wat doodgemaak is. (Twee is ’n getal wat op getuies dui - “in die mond van twee of drie getuies staan iets vas”) Kyk na Vers 9, 11- "drie en ’n half dae" - selfde as "42 maande" en "1260 dae" - drie en ’n half is simbolies ’n tyd van verdrukking. (Hierdie simboliek gryp terug op die  verskriklike verdrukking van drie en ‘n half jaar wat Israel beleef het onder die tiranie van Antiochus Epifanus in die 2de eeu vC. Dis ‘n tegniek wat die skrywer telkens gebruik om ‘n gebeurtenis of  term van die verlede as ‘n simbool te gebruik om ‘n bepaalde gedagte of nuanse oor te dra. Kom ek probeer dit verduidelik:  In ons geskiedenis was Bloedrivier ‘n geweldige slag wat nog steeds emosies gaande maak en bepaalde gebeure oproep. Almal weet darem van Bloedrivier! Ons gebruik nog steeds die term “Bloedrivier” om ‘n groot geveg of stryd aan te dui. Na ‘n besonder taai geweldadige rugbywedstryd sou ons vandag nog kon sê : “Sjoe, dit was ‘n regte Bloedrivier op daai veld! So dra ons ‘n emosionele konnotasie oor, iets van die intensiteit van die wedstryd, maar ons bedoel beslis nie dit was letterlik ‘n militêre veldtog nie.)  Die twee getuies simboliseer die getuigende kerk wat  onder druk en aanval van die bose verkeer, maar ten spyte van  terugslae oorwinnend is! Hierdie perspektief word dan gegee deur die stemme in die hemel wat heerskappy van Jesus bevestig. (11:15) Dit word aangevul deur die woorde van die 24 ouderlinge. (11:17-18) ’n Pragtige parallel van hfst 11 kry ons in Romeine 8:36,37 (Lees) Oorwinning te midde van swaarkry en selfs die dood!

Net terloops. Hierdie groot verdrukking van drie en 'n halwe jaar is nie 'n tyd wat nog iewers moet kom nie! Dis die belewing van verdrukking wat alle kinders van God in alle eeue moes verduur. Hoeveel kinders van God moes al op brandstapels en deur ander allerwreedste maniere sterf - hoe moet 'n verdrukking wat nog groter is as dit dan lyk? Of wat van die lyding van God se kinders in Noord-Korea? Kan Openbaring hulle troos as dit ons wil vertel dat daar iewers 'n groot verdrukking moet kom. Nee, hulle is reeds in die groot verdrukking en Openbaring verseker hulle en ons, dat God dit net tot op 'n punt sal toelaat!

Maar ten spyte van die werklikheid van verdrukking, vind ons hier 'n heerlike vertroostende boodskap vir elke getuie:

Kind van God, jy is onsterflik, onaantasbaar en onoorwinlik totdat God sou besluit dat jou getuienistaak op aarde afgehandel is! Getuig dus vrymoedig sonder vrees!

In Openbaring 15:1-5 kry ons die lied van die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld. Dit word genoem die lied van Moses. Dit word so genoem na aanleiding van die lied wat die Israeliete gesing het in Eksodus 15 nadat God hulle deur die Rooisee verlos het uit die hand van die Egiptenaars. (Weereens, Johannes vat ’n Ou Testamentiese tema en ontwikkel dit verder) Daar is min letterlike ooreenkomste in die lied behalwe met Eksodus 15:11. Die groot ooreenkoms lê in die perspektief op verlossing!   Die lied van Moses herdenk die magtige verlossingsdaad van God met die Uittog/Eksodus! Dis ’n gebeurtenis wat vooruitgesien het op die nuwe eksodus, die verlossingsdaad deur Jesus aan die kruis toe Hy ons uit die slawerny van sonde bevry het. Die groot dade waarvan die verlostes nou sing in Openbaring is die evangelie gebeurtenisse. (die kruis en opstanding van Jesus) Dit is die Dag van die Here wat aangebreek het in die Persoon en werk van Jesus. Israel het God se verlossingsdade aanskou en sing ’n lied, ons as gelowiges reageer ook met ’n loflied op die evangelie dade van verlossing in Jesus Christus.

SING JY SAAM OOR JESUS SE VERLOSSINGSDADE?

* Sien  Graeme Goldsworthy : The Gospel in Revelation

Vrydag 30 Maart 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (8)

- skrikbeelde van diere, koppe, horings...

(Om hierdie studie te benut moet jy 'n oop Bybel voor jou hê)

Waar kom die snaakse beelde van diere, koppe, horings ens. in Openbaring vandaan? Wat wil dit vir ons sê? (As ons weet wat die oorsprong en die oorspronklike kotenks daarvan is, gaan ons dit makliker verstaan)

Kom ontdek self. Lees eers Openbaring 13:1-3,8 en dan ’n stukkie uit die openingsvisioen (Openbaring 1:7,13) en vergelyk dit dan met Daniël 7:1-14 (In Daniël 7:13 staan daar letterlik “Die Seun van ’n mens” Sien OAV)*

Opvallende ooreenkomste nê? (Diere, wolke, Seun van ’n mens)

Die oorsigtelike betekenis van die diere in Daniël (en Openbaring) is duidelik : Dit simboliseer goddelose nasies en hulle magstrukture.

’n Menslike figuur kom dan met die wolke van die hemel (7:13) en die mag van die diere word weggeneem en aan Hom oorhandig. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy. (7:14)

Die sentrale boodskap is helder verstaanbaar : God gaan die goddelose magstrukture van hierdie bose wêreld vernietig! Of dit nou wrede leiers, bose regerings of geheime geldmagorganisasies is... God gaan hulle uitwis deur ’n menslike figuur!

Jesus die Seun van die mens is die OORWINNAAR!

Ons hoop is op Hom!

Openbaring wil presies dieselfde sê as Daniël met die gebruik van hierdie beelde. Jesus vernietig alle teenstand teen God se Koninkryk. Om verder in detail te bespiegel of hierdie dier(e) na Amerika of Rusland, Obama of Putin (ja, hy is blykbaar een van die dae weer aan bewind) verwys, is sinneloos en dit lei net tot subjektiewe wensdenkery! (En eindelose stryery) Elkeen kleur dit in soos wat dit hom pas! Die probleem om spesifieke name van mense of lande aan bepaalde beelde te koppel, is baie duidelik : Elke paar jaar, moet jy erken (as jy eerlik en mans genoeg is) dat jou vorige interpretasie verkeerd was!

Het hierdie beelde dan iets konkreets vir ons vandag te sê? Natuurlik! Dis wel aktueel, maar vir alle Christene van alle tye ... vir Christene in die tyd van Hitler wat swaargekry het onder hom sou dit reg wees om hieruit vertroosting te put, maar net so vir Christene wat vandag verdruk word in Noord Korea of verhonger in Zimbabwe of vervolg word in Iran!

Ja, hierdie goddelose strukture en figure het groot mag en groot invloed. Selfs die mag om wondere te doen en baie mense te mislei.... mens dink sommer aan Hitler se blykbaar bonatuurlike vermoëns om die massas te manipuleer! (13:13,14) Dit was so, is so en sal nog in groter mate in die toekoms gebeur! In die finale Antichris sal dit ‘n topput bereik. Wees gereed!

Maar .....Hierdie goddelose strukture gaan nie vir altyd bly voortbestaan nie, maar vernietig word deur die Seun van die mens wat sal kom met groot krag en heerlikheid. (Markus 13:26) Weereens die klem op Jesus en die evangelie gebeure! Alle mag behoort aan Jesus! (Matteus 28:18!)

Johannes gebruik dus Ou Testamentiese taal en beelde om die voleinding van die geskiedenis te beskryf.

Vir nog voorbeelde van Johannes se gebruik van apokaliptiese beelde, lees en vergelyk : Esegiël 1 en Openbaring 4:6-8 (die lewende wesens wat die almagsheerlikheid van God uitbeeld); Sagaria 1:7-17 en die vier perde in Openb 6:1-8 (simboliseer menslike ontaarding en selfvernietiging)**

Wat is die oorkoepelende funksie van hierdie apokaliptiese beelde? Vanuit verskeie hoeke gebruik Johannes hierdie bekende beelde om woordprentjies te teken van die Dag van die Here! Dis die tyd van konflik, maar ook van Goddelike oorwinning en wraak! Dit gaan oor ’n beligting vanuit verskillende hoeke en het niks met kronologiese volgorde te maak nie. Hierdie oorweldigende beelde laat ons verstaan dat geen enkele beskrywing reg kan laat geskied aan die geweldige omvattende aksie van God as Hy die kosmiese rebellie onderdruk, sy vyande uitwis en sy verlostes red nie! Dis net te groot vir woorde en beskrywing! Ontsagwekkend en verbysterend in die uiterste sin!

Die goeie nuus vir die verdrukte gelowiges in hierdie oorgangstyd is dat die wraak van God geen bedreiging inhou vir die verlostes nie! Hoekom nie? Die wraak van God het reeds neergekom op die LAM wat geslag is in ons plek! Wie aan Jesus behoort gaan dus God se wraak vryspring!

Sien die scenario in die geheel : ruiters, trompette, ongehoorde vernietiging, bakke van wraak wat uitgegooi word, wrede diere en valse profete wat oorwin word... alles is deel van die Dag van die Here! Te midde van dit alles is die gelowiges verseël (7:3,4).... absoluut veilig teen God se wraak! As ons vasval in tydroosters of in detail tegniese ontleding van huidige geskiedenis gebeure mis ons die doel.

’n Laaste vraag : Wanneer gebeur hierdie dinge, hierdie stryd en hierdie oorwinning? Die antwoord is : op die Dag van die Here! Dit gebeur nou reeds voor ons oë en sal ’n klimaks bereik met die wederkoms van Jesus.

Loof God vir sy ewige Koninkryk waarvan elke kind van God reeds deel kan wees! God se Koninkryk is ewig. Alle ander “konings” en hulle ryke....Napoleon, Hitler, Stalin, Saddam... Mussolini, Mugabe en.... ja, Malema is net tydelik en kortstondig!

* OAV = Ou Afrikaanse Vertaling 1933/53

** Du Rand p270 Volgens hom verwys die vier perde na vals propaganda, oorloë, hongersnood en dood

Vir die studie in geheel word hoofsaaklik gesteun op Graeme Goldswothy se "Gospel in Revelation"



Dinsdag 07 Februarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (4)

- Die groot VRAAG en die heerlike ANTWOORD!

(Maak gerus oop by Openbaring hoofstuk 7)

Almal stem saam dat ons antwoorde moet soek in die Bybel. Maar wat is die kernvraag? Ons moet seker maak dat die vraag wat ons vra ook die belangrikste vraag is en dit ons nie ons eie vrae (wat God dalk nie as belangrik beskou) op die Bybel afdruk nie. Dis regtig nie God se bedoeling om ons nuuskierighede oor Iran se kernprogram, China se weermagsterkte of Amerika se nuutste helikopters te bevredig nie!

Die KERNVRAAG wat God se Woord stel is : Hoe kan die onheilige sondaar aanvaarding vind by die heilige God?* Die antwoord daarop is die EVANGELIE : Op grond van Jesus se sterwe en opstanding! Deur Jesus se kruisdood het Hy die straf gedra en die opstanding het bewys dat God die straf as genoegsaam aanvaar het...

Ongelukkig is die meeste mense bekommerd oor die vraag: Hoe kan ek nou ’n gemaklike lewe op aarde en eendag ’n gemaklike lewe in die hemel hê? Dis waar die baie valse interpretasies van die Bybel hulle oorsprong het. (Soos byvoorbeeld die welvaartsteologie/prosperity gospel)

Die evangelie as antwoord op hierdie KERNVRAAG is ook die kernboodskap van Openbaring!

Openbaring gaan oor die evangelie!

Openbaring 7:13,14 definieer vir ons hoe mense gered word. (evangelie)

LW - hulle kom uit die verdrukking. Ons het verlede keer gesien verdrukking was ’n basiese bestanddeel van egte Christenskap. Dit verwys dus nie net na ’n sekere groepie Christene in ’n tyd wat nog moet kom nie... Onthou die oorspronklike lesers (lidmate van die 7 gemeentes) het die verdrukking alreeds eerstehands ervaar.

Wat maak hulle anders? Hoe is hulle gered? Hulle klere is gewas in die bloed van die Lam! Dit beteken :

Hulle is vrygespreek (geregverdig) en aanvaar deur God op grond van Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis!

Die ou waarheid van Jesaja 53:5,6 word herbevestig! Vgl. ook 1 Joh 1:7; Hebr 10:19,22. Geregverdig, beteken dat ons in Jesus net so aanvaarbaar is voor God as Jesus self toe die stem uit die hemel gesê het : "Dis my Geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het!" (Matt 3:7) Omdat Jesus die volle boete aan die kruis betaal het, staan elkeen wat in Hom glo, sonder skuld voor God!

Openbaring 7:1-8 gaan oor die verseëldes van God wat die wraak van God gaan vryspring. God se mense wat sy oordele gaan misloop en veilig gaan wees. Johannes sê nie dat God se kinders verdrukking gaan vryspring nie, maar dat God se kinders veilig gaan wees teen die finale “verdrukking” van God se oordele en wraak.

Belangrik : die twee groepe mense in Openbaring 7 is nie verskillende mense nie, maar dieselfde mense (God se kinders) vanuit verskillende hoeke gesien!

Die twee groepe is die 144 000 en die groot menigte

~ Die 144 000 (12x12x10x10x10) Dis baie duidelik ’n simboliese getal! Die 12 stamme van Israel m.a.w die gelowiges van die Ou Bedeling en die 12 Apostels as verteenwoordigers van God se volk in die Nuwe Testament maal 10 tot die mag drie. Tien is die volheidsgetal. Hierdie groep is nie etniese Israel nie, maar die volle getal van God se kinders wat veilig is teen die finale oordele en wraak van God! Nie een van God se kinders wat bedoel is vir die Koninkryk gaan kortkom nie! “The kingdom of God will not lack one member that belongs to its perfection” ** Elke plek wat Jesus gaan voorberei het (Joh 14) gaan gevul wees! God het sy uitverkore kinders se name reeds voor die skepping in die boek van die lewe geskryf! (Openb 13:8 vgl. Ef 1:4) Nie een van hulle sal kort nie!

~ Die groot menigte. Die tweede prentjie komplementeer die eerste. Die groot menigte lê die klem op die wydheid van die kerk uit alle volke en nasies! (Vers 9) Die kerk is universeel!

Die eerste prentjie lê die klem op die vaste getal, die feit dat nie een sal ontbreek nie! Die kerk word hier geteken as die strydende kerk op aarde. In stryd, maar veilig!

Die tweede prentjie - sê vir ons God se kinders bestaan uit ’n ryke verskeidenheid van mense! Die kerk word hier geteken as die seëvierende kerk in die hemel!

Die waarheid oor die ware kerk van Jesus moet ons troos en bly maak in alle omstandighede.

Ons is veilig. Ons gaan wel deur verdrukking, maar ons heerlike ewige bestemming staan vas. Ons is veilig teen die oordele van God. Ons ewige bestemming is oneindig seker en oneindig heerlik. Jesus se kruis en opstanding is die waarborg daarvan! Die bloed van die Lam maak die verskil! Volgende keer meer hieroor.

 

* Goldsworthy p191

** ibid p192



Maandag 30 Januarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (3)

- Vreesloos Volhard in Verdrukking!

Verdrukking en Volharding is deurlopende temas in Openbaring. Dit word al reg aan die begin deur Johannes aangeroer. (1:9)

"Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding."

As ons dit raaksien sal ons dadelik besef, Openbaring leer nie daar is iets soos ’n bepaalde tyd van groot verdrukking, iewers eendag nie... watter troos sou dit inhou vir die eerste lesers van Openbaring wat reeds die ergste denkbaarste verdrukking aan hulle eie lyf gevoel het? (Onthou in die eerste eeu is mense vir die leeus gegooi, as lewende fakkels gebruik, en op allerhande maniere verdruk. Kan daar erger verdrukking wees as dit?) ’n Bewys dat gemeentelede van die kerke aan wie die briewe geskryf is, selfs met hulle lewens moes betaal vir hulle Christenskap kry ons in Openb 2:13 (Antipas - die getroue getuie) Dit lyk dat daar so ’n noue verband tussen getuie wees en vervolging was, dat die woord vir getuie "martus" later die woord vir martelaar geword het.

Troos in verdrukking. Openbaring is ’n troosboek en bemoediging vir Christene in verdrukking - hou dit in die agterkop as jy by die betekenis van sekere gedeeltes wil uitkom! Ons interpretasie moet inpas by die groot tema van troos en aanmoediging.

Ons moet verstaan dat verdrukking ’n inherente deel was van die alledaagse bestaan van die Christen in die eerste twee eeue. Dis baie duidelik uit die res van die Nuwe Testament. Kyk maar na Jesus se eie woorde in Matteus 5:10,11, Lukas 6:20-26, Johannes 16:33. Kyk ook na Handelinge 14:22 ; 2 Timoteus 3:12 en die hele 1 Petrus brief!

VERDRUKKING IS ‘N HUIDIGE WERKLIKHEID VIR ELKE KIND VAN GOD! DIS ONLOSMAAKLIK VERBIND AAN EGTE CHRISTENSKAP!

Die paradoks van die Lam (lyding) en Leeu (oorwinning) in Jesus word ook gevind in die volgelinge van Jesus! (sien die vorige studie)
Johannes dring nie by sy lesers aan om verdrukking te probeer vryspring nie (nêrens nie), maar moedig hulle aan om te volhard en so die finale seën en heerlikheid te ontvang. Byv. Openb 2:8-11 (Lees) Daar word ook nêrens in  Openbaring daarop gesinspeel  dat sommige Christene die verdrukking sal kan ontvlug deur ’n sogenaamde wegraping nie!

Die gedagte van ’n WEGRAPING kry ons nie in Openbaring nie!

 

Waarom ly ’n kind van God? Antwoord : Hy is nou deel van die Koninkryk van God, wat ander norme en waardes het as die koninkryk van Satan! Hy pas nie meer in hierdie bedeling nie! Bekering neem ons nie weg uit die wêreld nie, maar plaas ons in ’n staat van konflik met die wêreld! Die Christen se lyding is in 'n sin 'n voortsetting van Christus se lyding in hierdie wêreld! Soos Christus verwerp is word ons ook verwerp en uitgestoot.

Die Christen bevind homself in ’n oorgangsfase en ’n paradoks : Kind van God, maar nog steeds ’n sondaar! ’n Erfgenaam van die nuwe bedeling, maar nog steeds ’n inwoner van die huidige bedeling. Hy besit die ewige lewe, maar is nou nog steeds onderworpe aan siekte en dood tot Jesus kom!

Die ALREEDS en die NOG NIE! Kinders van God is alreeds burgers van ’n nuwe Koninkryk, alreeds volkome vrygespreek, maar nog nie in heerlikheid nie, nog nie volmaak en sonder sonde en stryd en verdrukking nie.

Die oorwinning van Christus is ’n werklikheid, want Hy het die wêreld oorwin. Maar totdat Hy kom sal ons verdrukking hê!

Kyk weer na 1:9. Kinders van God is dus mense wat saam met Johannes, omdat ons aan Jesus behoort, deel het aan die verdrukking, deel het aan die Koninkryk en daarom sal en moet volhard. Om die kinders van God hierin aan te moedig , beskryf Johannes die Visioen van die Verheerlikte Oorwinnaar Christus in Openbaring 1:10-20 (Lees en sien dit!....kyk en kyk..) Glo en wees getroos!

Die oorwegende indruk wat ons uit hierdie beskrywing van Christus kry is die van Almagtige Majesteit, Koninklike Heerskappy en Mag! Die groot boodskap wat elke verdrukte kind van God moet hoor is : Moenie bang wees nie! (Vers 17)

Hoekom nie? Die verdrukte Christene moet weet, selfs al word hulle doodgemaak, is Jesus die Een wat alle sê en mag het oor lewe en dood!

Jesus ons Verlosser het alle mag, daarom kan ons Vreesloos Volhard in Verdrukking!