BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Rentmeesterskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Rentmeesterskap. Wys alle plasings

Donderdag 08 November 2018

AS DIE BEURSIE LEEGRAAK…

- God het heerlike beloftes gemaak oor geldsake, maar ons moet sy opdragte hieroor natuurlik net so ernstig opneem! 

[Pasop vir die rosyntjiebrood sindroom as ons die Bybel oor geldsake ondersoek. Moenie die Woord hoor soos stout kinders ‘n rosyntjie brood eet nie…. Hulle eet net die lekker rosyntjies en los die res van die brood...] 

DIS MOEILIKE TYE 

Dis geen geheim nie, moeilike finansiële tye is op ons! En die ergste is nog op pad! Die gevolge van die geldmorsmanewales van die korrupte Zuma en die plundering van sy Gupta vriende het ons hier in Namibië ook ingehaal. Natuurlik is nie als hulle skuld nie. Plaaslike spandabelrigheid en korrupsie het ook by ons ‘n verdere spoor van ekonomiese verwoesting nagelaat. Dit gaan nog knyp... 

Die goeie nuus is dat die Woord baie oor geldsake te sê het.

Ons moet  net gehoorsaam luister! Een so ‘n gedeelte vind ons hier aan die einde van Hebreërs. 

Maak gerus self die Bybel oop by Hebreërs 13:1-6. Ons kry hier ‘n hele paar etiese kwessies wat aangespreek word. Praktiese opdragte oor die konkrete uitlewe van Christenskap. Broederliefde, gasvryheid, medelye, reinheid en tevredenheid. As ons regtig die troos wil ervaar van God se beloftes oor finansies moet ons ook erns maak met wat Hy oor hierdie ander sake te sê… Anders gesê, hierdie belofte oor finansiële versorging waarna ons gaan kyk, gaan my niks baat solank ek nie my broers liefhet nie, solank ek weier om gasvry te wees, as ek hardvogtig is, solank ek nie die huwelik respekteer nie en so lank ek deur gierigheid oorheers word nie…

(Wie van ons is nie skuldig nie? Gelukkig vertel hierdie skrywer in die voorafgaande hoofstukke juis va ons Hoëpriester Jesus se volmaakte offer wat ons volkome reinig...)

Kom ons kyk wat sê hierdie gedeelte oor finansies: 

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." 
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" (Hebreërs 13:5,6) 

Hier kry ons ‘n OPDRAG, ‘n BELOFTE en die heerlike EFFEK VAN DIE BELOFTE. 

1.OPDRAG 

Wat beteken, "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het."? Wat is die implikasies op die grond? Paar praktiese opmerkings: 

Leef in onderwerping aan God se soewereine beskikking. Aanvaar geduldig en nederig dit wat God oor jou pad bring. Wees dankbaar vir wat God jou gee. God is in beheer van als, ook jou finansies. Ook wat jy nou beleef ten opsigte van finansies is nie toevallig nie. Hy is besig met jou...

Leef in verantwoordelikheid met wat jy het en pas jou leefstyl daarby aan. Wees eerlik met jouself : "Wat kan ek bekostig en wat het ek regtig nodig? Hoe wil God hê ek moet my geld en tyd en kragte spandeer? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om te gaan uiteet? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om DSTV aan te hou? (Het ek daai sepies nodig in my lewe?) Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om lag-lag N$1000 op te rook as daar nie geld is vir basiese behoeftes nie? Is die malle gejaag agter sportbyeenkomste aan terwyl ek nie my skulde kan betaal nie, verantwoordelik?" Verantwoordelike rentmeesterskap – als wat ek het kom van God af, ek moet dit verantwoordelik bestuur soos wat Hy daarvan sal hou… Niks is regtig my eie nie, God leen dit vir my om te gebruik in belang van sy eer en koninkryk.. 

Leef met ‘n gesindheid van vergenoegdheid. (Filippense 4:11,12) “…ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê…” (DVL) Maak ‘n punt daarvan om God opreg te dank vir elke goeie gawe! Geniet die klein kosbare dinge wat God ons gee… vars oggendlug, vriendskap, vrede in die huis, die wonderlike skepping rondom ons. (Daar is vreugde in eenvoud!) Laat ons tafelgebede opreg wees… 

Leef volgens ‘n ewige waardebepaling. Het jy skatte in die hemel? Met ander woorde, ken jy Jesus en bedink jy die dinge wat daarbo is? Leef jy heilig, besigmet goeie werke? Hoe beoordeel jy sukses? Is dit net karre, huise en vakansies wat jou opgewonde maak, of is jy opgewonde oor Jesus en die Woord en die ewige teenwoordigheid van God? Onthou Jesus se woorde in Lukas 12:15. “Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." 

Leef vry van die verslawende liefde vir geld. Dis vir jou eie beswil. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timoteus 6:10) Die gierige mens is nooit ‘n gelukkige mens nie. Sy hart is altyd met angs vervul. Geldgierigheid is net so ‘n sterk verslawing soos alkohol of nikotien verslawing. Vra die Here Jesus om jou te bevry... 

Leef vrygewig! "Hoe nou? Ek kry dan self swaar", wil jy beswaar maak. Maar hoor die opdrag tot mededeelsaamheid. Gee aan ander wat minder as jy het! Jesus het ‘n duidelike radikale belofte hieroor gemaak. (Sekerlik gaan dit oor gaan oor meer as geldsake, oor barmhartigheid in die wyse sin van die woord “Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word." (Lukas 6:38) Hierdie beginsel van Jesus word nogal kragtig geïllustreer deur ‘n ondervinding van Martin de Lange wat saam met sy gesin as sendelinge in Turkye gewerk het. Toe hulle moes terugkom na SA het hulle bereken dat hulle so R200,000.00 nodig sou hê vir die verhuising. Na ‘n paar weke het hulle daarin geslaag om so R10,000.00 bymekaar te maak nie eens genoeg vir vliegkaartjies nie. Sekerlik in ‘n half moedelose toetstand het Martin saggies gebid en vir die Here gevra : “Wat is ek veronderstel om te doen met net R10,000.00?” Die verbasende opdrag wat sy maag laat draai het kom toe : “Gee dit weg!” Hulle was gehoorsaam en het die bedrag aan ‘n ander sendeling gegee wat dit baie nodig gehad het, en ja... die Here het voorsien in al hulle kostes!* Hoor wat Jesus sê, konsentreer op gee en nie op ontvang nie! Paulus verwys hierna in sy gesprek met die ouderlinge van Efese. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang." (Handelinge 20:35) 

Laat God jou denke oor geldsake verander en begin sy opdragte hieroor gehoorsaam!

2.BELOFTE 

Hierdie vergenoegdheid en tevredenheid waartoe ons opgeroep word, is nie gebou op roekelose ongeergdheid en onverantwoordelikheid nie. Dis nie sommer net ‘n ongeërgde “Don’t worry be happy” houding nie! Dit kom voort uit ‘n doelbewuste nugter intelligente vertroue op God se belofte. En watter heerlike en kosbare belofte is dit nie! Nimmer as nooit ooit! (vyf negatiewe in die Grieks) Sterker kon die skrywer dit sekerlik nie gestel het nie. Daarom vriend : Maak ‘n keuse om God te vertrou! 

3. EFFEK 

Wat is die gevolg van vertroue op God se beloftes? Vreeslose geloofsdapperheid! Wie hierdie belofte van God vir homself toe-eien kan gelowig vreesloos sy vertroue uitspreek in die woorde van die psalmis : “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (Psalm 118:6) 

Finansiële bekommernisse skep vrees, en van hierdie vrees word ons bevry deur God se beloftes soos klein kindertjies te glo! 



SWAARKRY IS ‘N KOSBARE LEERSKOOL VAN GENADE EN VERTROUE! 

Finansiële swaarkry tye is nie lekker tye nie. Vir die kind van God is dit egter ‘n waardevolle leerskool. Dis ‘n skool waar ons leer wat is nederigheid, tevredenheid, afhanklikheid en vertroue. Hierdie vakke kan nie op ‘n ander manier geleer word nie. Laat ons nie klae oor ons swaarkry nie, maar dit sien as ‘n geleentheid om God ons Vader op ‘n nuwe dieper manier te leer ken! Kom ons stort ons harte voor Hom uit…. Filippense 4:6! God verhoor in detail die gebed vir ons praktiese behoeftes.


Ek wil ‘n aangrypende voorbeeld hiervan met jou deel wat plaasgevind het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Ouma Hamman (Anna Elizabeth Retief) was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die kampkommandant het goedgunstiglik besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur. Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit sal die beste wees as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met moeite het hulle die bestanddele vir die beskuitbakkery bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in oorlogskaarste, in die konsentrasiekamp, te bekom, was nie so eenvoudig nie! Ouma Hamman vertel dit so: 

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan."

Voorwaar Goddelike detail op die tyd gebedsverhoring! 

God kan enige tyd en enige plek ons gebede verhoor. Selfs ook in 'n konsentrasiekamp!

*Martin de Lange, Op die rand van die Paradys, p 163,164

Vrydag 03 Augustus 2018

RENTMEESTERSKAP

- Leef met vreugde voluit en verantwoordelik! 



Is geld en goed gevaarlik? Ons het al gekyk na die dwaasheid van hebsug (Kliek op DWAAS), maar nou moet ons positief vra, wat nou? Miskien is jy bekommerd oor jou selfgesentreerde en geldgedrewe leefstyl en wil jy graag leef soos God wil hê. Nou wonder jy : “Wat moet ek maak met geld en besittings, maar ook al my ander bates soos gesondheid, verstand en geleenthede? Hoe moet ek my plaas benut of my besigheid bestuur? En veral tyd wat seker die kosbaarste bate is, hoe moet ek dit aanwend?” Die gelykenis van die TIEN MUNTSTUKKE in Lukas 19:11-27 is fundamenteel belangrik om reg te lewe as kind van God. 

ONS TYD OP HIERDIE AARDE 

Die agtergrond van die gelykenis is baie belangrik. “Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.” (11) Die dissipels het gedink die Koninkryk van God gaan sommer nou dadelik aanbreek in Jerusalem. Hierdie gelykenis maak dit duidelik dat daar nog ’n tydsverloop sal wees tot by die finale koms van die Koninkryk eers by Jesus se wederkoms. Kinders van God gaan nie dadelik hemel toe nie... Die nuwe hemel en nuwe aarde lê nog in die toekoms. Nou wag daar eers werk vir ons... 

Die gelykenis sê vir ons hoe ons hierdie tyd moet benut tot by die wederkoms. 

Hierdie tyd op aarde voor die wederkoms is baie belangrik, ons moet dit reg gebruik. Ons sal rekenskap hieroor gee. As jy ‘n kind van God geword het, het jy ‘n baie spesifiek taak en roeping hier en nou op aarde. Hierdie taak en roeping kan mens saamvat met die term RENTMEESTERSKAP. Hierdie begrip word mooi in die gelykenis duidelik gemaak! 

Sommige mense is teen Jesus se koningskap gekant, die onbekeerdes. Dis hulle wat die koningskap van Jesus doelbewus verwerp! “Sy landgenote het hom egter gehaat en ‘n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.” (14) Hulle sal by die wederkoms gestraf word. “En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!" (27) Ons moet sommer nou al besef - Die regte gebruik van geld en alle ander bates begin by bekering tot Christus. Die regte leef van die lewe begin wanneer ek regtig Jesus se koningskap aanvaar! As ek Jesus as my Verlosserkoning aanvaar word ek vertrou en bemagtig met sekere gawes en goedere. Terloops : Het jy al voor Hom gebuig? 

Die klem van dié gelykenis lê egter op die geleenthede en verpligtinge van die diensknegte van Jesus (God se kinders) in hierdie tyd voor die wederkoms. Elke kind van God word as ’n rentmeester aangestel. “Hy het gesê: "‘n Man van adellike afkoms het na ‘n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 
Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’ (12,13) 

Dit beteken prakties dat die Here geleenthede, mense, werk, bates ens. aan jou spesifiek toevertrou het tot by sy wederkoms en dan sal jy rekenskap moet gee van wat jy hiermee gedoen het. 

BESITTINGS 

Terloops ons besit niks nie! (Hoor ons mooi?) Dis ‘n totale illusie as jy dink iets is regtig joune! 

God is die enigste Besitter in die heelal. 

Alles wat ons het is net vir ons geleen. Dit behoort aan God, Hy gee dit soos Hy wil en Hy kan dit vat wanneer Hy wil. Toets dit maar – jy het geen waarborg dat jy more oggend eiendom, gesondheid of verstand gaan hê nie! Ook nie eens vrou of kinders nie! Ons het nie besittings nie, maar wel verantwoordelikhede! As rentmeesters van dit wat aan ons toevertrou is moet ons verantwoording doen aan die Eienaar. 

Dink ‘n slag ernstig oor die verantwoordelikhede wat God aan jou gegee het in jou posisie as : kind van God in ’n gemeente (heel eerste moet ek God met my alles eer en liefhê, maar ook my broers en susters), man van ’n vrou, pa/ma van kinders, bestuurder van eiendom, geld, bates, ‘n werkgewer/werknemer. En moenie vergeet nie, elke kind van God is geroep as dissipelmaker! In jou kring en jou omgewing. Wees eerlik, praat jy met mense oor Jesus?

Wend jy jou geld, kragte, tyd en geleenthede aan op 'n manier wat wys dat jy God en jou naaste liefhet, of gaan alles oor jou eie gerief en roem?

Onthou al hierdie posisies of gawes is net deur God aan jou tydelik geleen, dis nie regtig joune nie, dis soos die muntstukke wat aan die diensknegte toevertrou word om iets mee te doen. 

Alles wat ons het (of is) moet benut, bestuur en versorg word in belang van God en sy Koninkryk! 

Doen ek dit? Dink ’n bietjie na. Van ons word inisiatief gevra op grond van ons liefde vir ons Here en Verlosser. Die tyd wat ek nou nog op aarde het moet tot die Here se eer en voordeel gebruik word. Dit was die probleem met die ryk dwaas in Lukas 12. Sy entrepreneurskap was nie die probleem nie, sy selfgesentreerdheid was sy sonde. Hy het vir homself geleef, want hy het God nie geken nie! 

BELONING 

Vir die wat hulle geleenthede benut het en hulle verantwoordelikhede nagekom het wag daar heerlike lof en beloning. 

“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 
Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’ 
Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is ‘n goeie slaaf. Omdat jy in ‘n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’ 
"Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ 
Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’ 
(15-19) 

Interessant! Die koning het nie hulle winste juis nodig gehad nie, Hy het net hulle getrouheid en liefde getoets! Hy het hulle ‘n geleentheid gegee om die vreugde van betrokkenheid by sy koninkryk te ervaar! 

DIE GEVAAR AN PASSIWITEIT 

Vir die ontroue dienskneg wag daar ’n vreeslike lot. 

"Nog ‘n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in ‘n doek gebêre. 
Ek was bang vir u, want u is ‘n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’ 
Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is ‘n slegte slaaf! As jy geweet het ek is ‘n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’ 
Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’ (20-24) Vergelyk ook Matteus 25:29,30.* Ontrouheid in rentmeesterskap is ‘n ernstige saak. Dis afvalligheid, dis ongehoorsaamheid, rebellie, sonde! Dit wek God se wraak op! 

Opvallend : die ontroue dienskneg het nie juis iets verkeerds gedoen nie, hy het net niks gedoen nie! Pasop dat al jou Godgegewe kanse en verantwoordelikhede by jou verbygaan en jy doen net niks daaraan nie. (Anders gestel – wat moet ‘n mens doen om veroordeel te staan? Niks !) Hou maar net aan om vir jouself te leef ! 

Interessant : vrees was die oorsaak dat die nuttelose dienskneg niks gedoen het nie! (21) Dis ’n valse selfsugtige vrees, dis skynvroomheid, want wie werklik ontsag vir die Here het sal juis waag en inisiatief neem om dinge aan te pak. Dis juis die feit van genade wat my bevry van vrees, sodat ek (al is ek bewus van my swakheid) ten volle kan leef, gee en werk in diens aan God. Die volledige vergifnis en vryspraak wat ons as sondaars kry die oomblik wanneer ek my volkome vertroue op Jesus alleen stel, skep vir my die ruimte om voluit vir my Verlosser te leef in al die geleenthede wat hy my bied. Die geleenthede en kanse wat ek kry as lidmaat, in huwelik en gesinsverband, as eienaar en bestuurder van bates, as medemens in die algemeen. 

Kind van God, daar is werk om te doen! Jy het iets beter en belangrikers om aan te werk as net jou eie aftreeplanne!

Onthou jy het ‘n roeping! Dis elke kind van God se roeping : WEES GETROU IN JOU RENTMEESTERSKAP! 

*Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 
En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners." (Matteus 25:29,30)


Het jy al so 'n enkele laaaang wors gesien!

Donderdag 18 September 2014

GOUD, DIAMANTE EN RENOSTERHORINGS

- Ja , maar dis nog niks...

Al die wêreld se goud, diamante en ook renosterhorings behoort aan Hom! Inderdaad, maar Hy het nog baie meer! God is die rykste Persoon in die ganse heelal. Hy besit meer as enigiemand anders. Meer nog, Hy besit almal en alles wat enigiets besit. As jy iets skep dan behoort dit mos aan jou. En God het alles geskape - insluitend ons! “Hy het ons gemaak en ons is Syne” (Psalm 100:3) Daar is maar eintlik net een werklike eienaar in die heelal, God self! (As die dwase mense wat so oor erfporsies stry of oor pensioene en beleggings wroeg maar net dit kon besef!) God is alleeneienaar; ons ander is net trustees. Nóg onsself nóg dit wat ons besit behoort regtig aan ons. Ons is slegs rentmeesters. Tydelike kortstondige rentmeesters. Alles is in trust aan ons gegee om te gebruik en te bestuur in belang van die groot Eienaar. In hierdie sin is alle sonde eintlik diefstal en verduistering van God se eiendom. Ja, kom ons dink sommer ‘n bietjie hieroor... God het jou ‘n liggaam gegee en as jy daardie liggaam deur nikotien verwoes of vir losbandigheid misbruik is jy besig om God se eiendom te beskadig! God het jou ‘n huisgesin gegee en as jy hulle afskeep om meer geld te maak is dit God se eiendom wat jy verwaarloos en jy sal verantwoording moet doen..


Die opvallende in die Nuwe Testament is dat God se rykdom hoofsaaklik nie beskryf word in terme van wat Hy geskep het en besit nie, maar in terme van die heerlikheid wat Hy het vanaf alle ewigheid. By herhaling lees ons van “die rykdom van sy heerlikheid” of “sy rykdom in heerlikheid.” (Efesiërs 3:16; Filippense 4:19 ens.) As God net ryk sou wees omdat Hy alles gemaak het en besit, dan sou Hy arm gewees het voor die skepping. Dit sou op sy beurt dan weer beteken het dat God uit nood geskep het en in ’n sin van sy skepping afhanklik is. Maar dis uiteraard nie te rym met die prentjie wat ons van God in die Bybel vind nie. God het nie geskep om welvaart te verkry nie, nee, Hy het geskep om sy rykdom te toon te stel, naamlik die rykdom van sy heerlikheid vir die genot van sy volk. (Efesiërs 1:6,12,14)

OORVLOEDIG RYK IN GENADE

Meer spesifiek, die fokus van die Nuwe Testament is dat die hoogtepunt van die rykdom van God se heerlikheid, die rykdom van sy barmhartigheid of genade is. Die heerlikheid van God wat Jesus vir ons kom wys het is mos “vol van genade en waarheid!” (Kliek op JESUS WYS VIR ONS GOD) Dit is iets wat die wêreld maar min van dink : “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Sê dit vir jou niks?” ( Romeine 2:4) Hierdie genade van God is natuurlik nie iets nuuts nie. Dit word alreeds in die Ou Testament beklemtoon! (Miga 7:18,19) Hy skep en red sy mense juis om “bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van ontferming, die mense wat hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het.” (Romeine 9:23) Of om dit anders te stel, Hy skep en red sy mense sodat Hy die rykdom van sy genade kan ten toon stel en daarvoor bewonder kan word! 

Juis omdat God absoluut heilig en regverdig is en sonde met ‘n passie haat is dit die toppunt van sy heerlikheid om genade te betoon. Ons verdien oordeel en hel. Tog bewys God genade. So besef ons sy ware karakter!

GOD IS GENADIG! DIS EEN VAN SY BESONDERE ATTRIBUTE WAT JESUS AAN ONS KOM OPENBAAR HET!

En dis juis vir hierdie rede hoekom Jesus Christus in die wêreld gekom het. Jesus self is die vleesgeworde sigbare gestalte van God se genade. Jesus is genade in aksie. Hy kom om te red.“God het nie Sy Seun in die wêreld gestuur om die wêreld te oordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered sou word.” (Johannes 3:17) 

Die demonstrasie van die heerlikheid van God se genade is die doelwit van Christus se koms! 

Dit word reeds treffend beklemtoon in die geboorteverhale. In die Lofsang van Maria en in Sagaria se profetiese lied by die geboorte van Johannes die Doper, is die rede wat vir Jesus se koms gegee word, “sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink” (Lukas 1:54) en weens die “innige barmhartigheid van ons God” (Lukas 1:78). 

DIE PRYS

Die barmhartigheid en genade wat Jesus prakties kom wys het is absoluut gratis. Dit beteken nie daar was geen koste nie. Jesus het hierdie prys betaal met die koste van sy eie lewe. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van ons misdade, volgens die rykdom van sy genade.” (Efesiërs1:7) Tot in alle ewigheid sal die verlostes lof bring aan God vir hierdie rykdom van genade... 


Jesus het gekom om die weelde van God se genade te demonstreer, daarom was sy hele lewe op aarde ’n oorvloedige uitstorting van genade op alle soorte mense. Hy keer as’t ware skottels en skottels vol genade op mense om... Elke soort menslike behoefte en pyn is deur Jesus tydens sy paar jaar op aarde aangeraak. Hy het genade bewys aan siekes, melaatses, lammes, bedelaars, honger skares, maar ook aan sondaars, tollenaars, duiwelbesetenes! Tot aan die einde van sy lewe het Jesus God se genade gedemonstreer – dink maar aan die rower aan die kruis! Jy kan maar amper sê, Hy gebruik sy laaste bietjie krag en asem om genade uit te deel. 

Het jy al die rykdom van God se genade eerstehands beleef? Het dit jou al tot bekering aangemoedig? "God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?" (Romeine 2:4) Aanbid en dank jy Hom vir sy oorvloedige genade en oorlopende ruim vergifnis? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? Nog nie? Wel dis vandag weereens beskikbaar... Weereens, hierdie goedheid en genade wil jou tot bekering uitnooi!

                                                   (foto - internet)

[met erkenning aan John Piper se "SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST"]

Dinsdag 30 April 2013

BESINNING IN BOESMANLAND

- oor rentmeesterskap. 



‘n Groep manne was bevoorreg om die afgelope naweek in die natuurskoon van Boesmanland uit die Bybel na te dink oor ons verantwoordelikheid voor God. Elke kind van God sal eendag verslag doen oor wat ek met my geleenthede, gawes, bates, ja met my lewe as geheel gedoen het. In hierdie tyd terwyl ons nog op aarde is, word daar van ons verwag om vrug te dra tot eer van God en nie vir onsself te leef nie.

Behalwe vir ‘n paar klein voorvalletjies het ons Vrydag almal Tsumkwe veilig bereik. Roelf se sleepwaentjie het dit egter net-net gemaak – dit was so ‘n amperse wonderwerk dat die ding se bakwerk nie heeltemal van die onderstel afgespring het nie. Die doel hiervan sou ons eers later besef.

KOM KYK EN BELEEF SAAM MET ONS:



Daar is ook manne wie se vaardighede meer insluit as net 4x4 ry! Mooi oom Pieter!
(vir die ouens wat laas in julle "army dae" op Tsumkwe was, ja jy sien reg, daar is nou ook al 'n stuk teerpad in die dorp!)

Saterdag is ons die bosse in. Oom Ollie se merke was orals te sien. Maar waar was hy? Vir Hennie het dit nogals ‘n ernstige kwessie geword soos ons gevorder het al dieper die bosse in... 


Baie groter as olifante is natuurlik die reuse ou kremetartbome.

  Die bekende holboom toon ongelukkig tekens van agteruitgang. Dit herinner ons maar net dat niks op aarde vir altyd is nie. Aan alles en almal kom daar ‘n einde... 



Manus Naude, Johannes de Koning  Pieter Pretorius, Ryno Mans, Deon Louw, Eddie van der Merwe, Pieter-Jan Schoonbee, Hennie  en Hentie Kruger, Buys Steenkamp, Roelf van Tonder, Johan (met die kruk) en Sakkie Steenkamp, Pieter Jooste. (Andre Neethling  het die foto geneem)



Sakkie soek 'n wyer visie...









Hierdie watergat is duidelik die olifante se drinkplek. Vir Eddie is dit darem ‘n geleentheid om ‘n lemoen te eet. 







Andre verduidelik iets. Buys probeer sin maak van die gedenkplate?




Nou raak die onsigbare olifante erg ongeskik. Hulle aktiwiteite het ‘n versperring in die pad veroorsaak en ‘n ompaadjie moet gemaak word. Hennie swaai die byl... 







Deon en Pieter hou die situasie dop... 







Tyd vir ‘n lekker noenontbyt onder ‘n groot hardekool. 

Pieter, Ryno,   en Manus.


‘n Groepie vriendelike Boesmans doer in die bos bied ons die geleentheid om iets van die Here se liefde in die vorm van mieliemeel met hulle te deel. Pieter Jooste gee ook sommer raad oor patatsplant. Hierdie ouma was deel van die groep.



Oppad deur die bos....

Ons bereik die Ahaberge. Ja, reg gehoor, hierdie plat heuweltjies in die konteks van ‘n vlakte vol Kalaharisand is berge! 





Pragtige herfskleure by die Ahaberge.









Die tergende vraag van : “Waar is Oom Ollie?” word amper op rampspoedige wyse beantwoord.” Roelf word darem genadiglik ‘n botsing met die meneer gespaar, maar dit kon maklik anders gewees het. (dan was hy minus ‘n waentjie en bakkie...)



Saterdgaand kon ons weer lekker saamsing met behulp van Eddie se begeleiding en heerlik rondom die Woord vergader. Daar is nie meer diesel beskikbaar nie, so die Here wysig dus ons planne vir Sondag en ons besluit om nie verder rond te ry nie. 

Na Sondag se byeenkoms gaan besoek ons vir Louise Steyn. Sy kry ‘n goeie klompie voorraad en sommer ook Roelf se afgetrede waentjiebak as ‘n pakplek! Toevallig...?


Louise by haar blyplek.








Nogmaals 'n groot dankie aan Roelf van Tonder vir al die reëlings en moeite en sommer almal wat saam was! Ons moet beslis weer so maak...

As jy nou nie hierdie keer kon saamkom nie, kan jy darem nog so ietsie ervaar van waarmee ons besig was. Kom maak oop jou Bybel en kyk bietjie saam met ons manne na die uitdagende gelykenis van Jesus in Lukas 19:11-27. Dit bring ons by die vraag : WAT MAAK EK MET MY LEWE? 

1. Die agtergrond in vers 11 is belangrik. Die dissipels het gedink die Koninkryk van God gaan sommer nou dadelik aanbreek in Jerusalem. Hierdie gelykenis gee ’n duidelike antwoord, dat daar nog ’n tydsverloop sal wees tot by die finale koms van die Koninkryk eers by Jesus se wederkoms. Die gelykenis sê vir ons hoe ons hierdie tyd moet benut tot by die wederkoms. Hierdie tyd op aarde voor die wederkoms is baie belangrik, ons moet dit reg gebruik. Ons sal rekenskap hieroor moet gee. 

2. Vers 14. Sommige mense is teen Jesus se koningskap gekant (die onbekeerdes) en hulle sal by die wederkoms gestraf word. Sien vers 27. Terloops : Het jy al persoonlik Jesus se koningskap oor jou lewe aanvaar? 

3. Die klem van dié gelykenis lê egter op die geleenthede en vrugdra van die diensknegte van Jesus (God se kinders) in hierdie tyd voor die wederkoms. Elke kind van God (ook jy as man) word as ’n rentmeester aangestel. Dit beteken dat die Here geleenthede, mense, werk, bates ens. aan jou spesifiek toevertrou het tot by sy wederkoms en dan sal jy rekenskap moet gee wat jy hiermee gedoen het. 

4. Dink oor die verantwoordelikhede wat God aan jou gegee het in jou posisie as (gee praktiese voorbeelde wat hierdie verantwoordelikheid behels): 
~ kind van God in ’n gemeente(heel eerste moet ek God met my alles eer en liefhê)............................................ 
~ man van ’n vrou..................................................
~ pa van kinders....................................................
~“besitter/bestuurder” van eiendom, geld ens.......
~ werkgewer/werknemer.....................................................

5. Onthou al hierdie posisies, gawes of geleenthede is net deur God aan jou tydelik geleen, dis nie regtig joune nie, dis soos die muntstukke wat aan die diensknegte toevertrou word om iets mee te doen. Alles wat ons het (of is) moet bestuur en versorg word in belang van God en sy Koninkryk ......hetsy my plek as gemeentelid, my geld, vrou, kinders.... Doen ek dit? Dink ’n bietjie na. Van ons word inisiatief gevra op grond van ons liefde vir ons Here en Verlosser. Die tyd wat ek nou nog op aarde het moet tot die Here se voordeel gebruik word. 

6. Vir die wat hulle geleenthede benut het en hulle verantwoordelikhede nagekom het wag daar heerlike lof en beloning. (Vers 15-19) Die koning het nie hulle winste juis nodig gehad nie, Hy het net hulle getrouheid en liefde getoets! 

7. Vir die ontroue dienskneg wag daar ’n vreeslike lot. (Vers 20-24) Vergelyk ook Matteus 25 :30. 

8. Opvallend : die ontroue dienskneg het nie juis iets verkeerds gedoen nie, hy het net niks gedoen nie! Pasop dat al jou Godgegewe kanse en verantwoordelikhede by jou verbygaan en jy doen net niks daaraan nie. 

9. In hierdie tyd voor die wederkoms moet ons besig wees met dit wat God oor ons pad gebring het. Hy gee nie vir elkeen dieselfde geleenthede of gawes of verantwoordelikhede nie. Dit maak nie saak nie. Ek hoef myself dus ook nie met ander kinders van God te vergelyk nie. Wat wel belangrik is, is dat ek dit wat Hy voor my deur lê voluit sal doen. Interessant : vrees was die oorsaak dat die nuttelose dienskneg niks gedoen het nie! (Vers 21) Dis ’n valse selfsugtige vrees, want wie werklik ontsag vir die Here het sal juis waag en inisiatief neem om dinge aan te pak. 

10. Dis juis die feit van genade wat my bevry van vrees, sodat ek (al is ek bewus van my swakheid) ten volle kan leef, gee en werk in diens aan God. Die volledige vergifnis en vryspraak wat ons as sondaars kry die oomblik wanneer ek my volkome vertroue op Jesus alleen stel, skep vir my die ruimte om voluit vir my Verlosser te leef in al die geleenthede wat hy my bied as lidmaat, in huwelik en gesinsverband, as eienaar en bestuurder van bates, as medemens in die algemeen.


Bid vir Tsumkwe se Boesmans. Oor die wonderlike werk wat God al in die verlede hier gedoen het - kliek op BOESMANS TOT BEKERING