BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 Julie 2018

VENSTERS IN DIE HEMEL?

JA, GOD SPESIALISEER IN DIE ONMOONTLIKE! 


HAGLIKE TOESTANDE! 

Dit was ‘n situasie van absolute ellende! Ons lees hiervan in 2 Konings 6 en 7. ‘n Skrikwekkende toestand in Samaria die hoofstad van ddie Noordryk! Hiperinflasie! Zimbabwe styl! “Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër. Daar het ‘n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van ‘n donkie naderhand byna ‘n kilogram silwer gekos het en ‘n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram. (6:24-25) [Dis nie seker of die skeppie duiwemis letterlik bedoel is en of dit ‘n bynaam vir een of ander minderwaardige kosbrousel was nie.] 

KANNIBALISME!

Die gevolge van die beleg was meer as net hongersnood. Dit was ‘n desperate toestand! 
“Toe die koning van Israel ‘n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het ‘n vrou uitgeroep: "Help my asseblief, U Majesteit!" 
Hy het geantwoord: "As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?" 
Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: "Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’ 
Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!" (26-29) Ondenkbaar afgryslike gevolge! 

ONGELOOF EN BLAAMVERSKUIWING

Hoe reageer die koning? “Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy ‘n roukleed onder sy ander klere aanhet. 
Hy het uitgeroep: "Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly." (30—31) Hy tree op soos ‘n swakkeling! In plaas van ‘n positiewe voorstel, in plaas van tot God bid, wil hy sy frustrasie op die onskuldige Elisa uithaal. Asof die hele penarie nou Eisa se skuld was...

EN GOD SE MAN? 

Wat maak Elisa? Elisa, die man van God, hy bly kalm en maak ‘n geloofsuitspraak. Nie sommer uit sy eie uit nie. God het met hom gepraat en 'n belofte gemaak! “Maar Elisa sê: "Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal ‘n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria." (7:1) Kos gaan weer volop en goedkoop wees! Dit kom daarop neer dat Elisa geglo het dat God die onmoontlike sou doen. In ‘n dag se tyd sou die hongersnood en lyding verby wees! Kom ons lees nou verder wat gebeur het…. (Lees 2 Konings 7:2-20) 

HOE REAGEER HULLE? 

Ons sien hoe verskillende mense op verskillende maniere in ‘n tyd van ernstige krisis reageer: 

Party raak so desperaat dat hulle hulle nugtere denke en menslikheid verloor. Hierdie vroue het kannibale geword! (In die moeilike sosio ekonomiese omstandighede wat ons nou beleef, kan ons verwag om dit ook te sien – selfsug, hardheid, ongevoeligheid, wreedheid…ja, selfs vorme van "kannibalisme" waar mense mekaar vernietig...) 

Sommige blameer ander, soek ‘n sondebok! Hy wil nou Elisa se kop laat afkap! (31) Nog erger,  die koning het sy begrip van God verloor, hy verwyt God. “Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: "Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!" (33) Hy pak die skuld op andere. Ons hoor dit so dikwels: “Waar was God? Hoe kon God sulke dinge toelaat!” So dikwels het God geen plek in mense se lewens en lewensbeskouing nie, maar as daar 'n krisis kom dan kry Hy skielik die skuld vvir alles...

Andere gaan nog verder en val in die diep put van ongeloof en spotterny. Hoor die koning se adjudant… “Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: "Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën." Elisa het geantwoord: "Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie." (7:2) 

Maar...Die gelowige soos Elisa glo in God wat spesialiseer in die onmoontlike! Hy kyk verby die sigbare omstandighede en sien ‘n almagtige God raak!  Hy bevind homself ook vasgekeer in hierdie gedoemde stad, maar hy glo in God se beloftes!

VIR DIE ALMAGTIGE GOD IS NIKS ONMOONTLIK NIE! HY KAN DIE HARDSTE SONDAAR RED! 

Geloof gaan oor God wat die onmoontlike doen. Juis ook as dit oor reddende geloof gaan. Dit raak ons direk as sondaars! Die verlossing van ‘n sondaar is menslik gesproke die grootste onmoontlikheid wat daar is. Die grootste wonderwerk denkbaar is as God ‘n rebelse sondaar, ‘n slaaf van die duiwel, genadig is, vergewe en bevry! 

Kom ons spring gou na die Nuwe Testament... Paulus gebruik Abraham as voorbeeld van reddende geloof in Romeine 4. Ook Abram het in die onmoontlike geglo, net omdat God dit beloof het! 

“Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: "So sal jou nageslag wees." 
Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 
Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 
Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 
Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.”  (Romeine 4:18-22) 

Ons word uitgedaag om in God te glo. God wat die onmoontlike gedoen het om Jesus uit die dood op te wek! 

Ons word uitgedaag om die onmoontlike te glo dat Jesus se sterwe genoeg was vir my oneindige groot sondeskuld! Miskien word jy vandag gekonfronteer deur al jou sonde en mislukkings van die verlede, 'n verlore toestand. Als lyk so hopeloos. Jy het soveel kerek probeer en soveel krer gefaal...  Glo in God wat die onmoontlike doen. Hy het dit reeds aan die kruis gedoen deur Jesus waar jou skuld uitgewis is! Dis afgehandel! Die volle skuld is betaal!

God doen die onmoontlike! Dis reeds aan die kruis gedoen! Hierdie boodskap is goeie nuus waaroor ons nie mag stilbly nie! Die melaatses is ‘n aangrypende voorbeeld!* 

Elisa se verhaal word vir ons geskryf, om ons te help glo. Ook Abraham se verhaal word spesifiek vir ons geskryf om ons te bring by geloof! 

“Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 
Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 
Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” (Romeine 4:22 - 25) 

Glo, stel jou vertrou op God wat die onmoontlike doen! Sien en proe vanoggend hier by die Nagmaal dat Hy die onmoontlike vir jou gedoen het deur die kruis en opstanding van Jesus! 


* Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: "Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan? 

As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!" 

Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie! 

Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en ‘n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: "Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val." 

in die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug. 

Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in ‘n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle ‘n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. 

Hulle sê toe vir mekaar: "Ons maak nie reg nie. Vandag is ‘n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning." 




Andrew Breytenbach (snr.) en Andrew Breytenbach (jnr.) by 'n ou platesspeler waarmee daar musiek gemaak is tydens ons Dankfeesete! Oom Andrew wat tans op Usakos woon is deel van die geskiedenis van die gemeente. Hy het jare gelede die elektriese bedrading van die kategese klaskamers gedoen. Andrew (jnr.) is tans die leierdiaken van die gemeente.

Maandag 16 Julie 2018

“SEERGEKRY IN DIE KERK”


- "Ek het nog die Here lief, maar wil niks met die kerk te doen hê nie!"



Dis een van die mees algemeenste opmerkings wat mens hoor as die kerk ter sprake kom. "Die kerk het my teleurgestel, seergemaak, ingedoen… daarom dien ek nou maar die Here op my eie." 


As jy seergekry het in die kerk wil ek jou bemoedig deur sommer dadelik te sê, jy is nie die eerste en enigste een met hierdie hartseer en ongelukkige ervaring nie. Maar ek wil jou ook graag help om nie by hierdie punt te bly vassteek nie. Ek wil by jou pleit om God se wil te soek en te gehoorsaam as dit by die kerk kom. Want God het in sy Woord so baie oor die kerk te sê... Ons lees in 1 Timoteus 3:14,15 die volgende : 

“Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. 
Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” 

Sommer hier met die eerste oogopslag sien mens twee baie belangrike sake: 

  • Die kerk is God se kerk, sy huisgesin. Dis nie sommer ‘n losse vereniging, klub of "private boomkerk" nie, maar ‘n ordelike gestruktureerde eenheid waar daar ouderlinge en diakens is! (sien die voorafgaande instruksies rakende ouderlinge en diakens in hoofstuk 3) 
  • Die kerk het ‘n onmisbaar belangrike rol : Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Saam met ander gelowiges (ook van alle eeue) verstaan ons die waarheid, want nie een enkele individu het die volle waarheid in pag nie.

Kom ons dink bietjie saam oor die onderwerp van die kerk en seerkry en hoor wat die Here in hierdie omstandighede vir sy kinders wil sê. 

Eers gaan ek jou nog verder skok met die volgende stelling: 

Elkeen wat voluit betrokke is by ‘n plaaslike kerk van Jesus Christus gaan een of ander tyd seerkry.*

Natuurlik kan dit baie wissel in intensiteit. Dit kan enigiets wees van geringe teleurstellings en irritasies tot grondige verskille, hewige botsings en gevegte wat diep wonde en letsels veroorsaak. 

Waarom gebeur dit so algemeen dat mense binne ‘n kerkopset verwond word? 

‘n Kerk wat regtig funksioneer is soos ‘n huisgesin of familie. Ons hoor dit weer in wat Paulus hier vir Timoteus sê. Ons beweeg na aan mekaar, ons het inspraak in mekaar se lewens en dis wonderlik, maar hoe nader mense aan mekaar leef hoe groter is die potensiaal dat verskille in wrywing en konflik kan ontaard. Dit klink dalk vir sommige ongevoelig, maar “seerkry” is ‘n risiko wat altyd in ‘n kerk aanwesig sal wees soos dit altyd ‘n risiko in ‘n gewone huisgesin of huwelik is. 

Seerkry is deel van kerkwees, maar hoe moet ons daaroor dink en hoe moet ons dit hanteer? 

Drie perspektiewe kan baie help: 

ONTHOU WIE DIE KERK SE LIDMATE IS. 

Die kerk word met wonderlike metafore beskryf. Behalwe huisgesin word sy onder andere ook genoem die gebou van God (1 Petrus 2:5), die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12:12), maar die heerlikste beeld is seker dat die kerk, die bruid is van Jesus Christus, die hemelse Bruidegom! (Openbaring 19:7–8) Al te dikwels voel ons daar is nogal ‘n groot kontras tussen hierdie heerlike beskrywings van die kerk en dit wat ons van dag tot dag ervaar. Hoekom? Die kerk bestaan uit mense! Hoe maklik vergeet ons hierdie ooglopende waarheid. Die sigbare kerk sal daarom altyd ook skynheiliges huisves...

Jesus het 'n kring van twaalf dissipels gehad en een van hulle was 'n duiwel! 'n Volmaakte kerk waarin almal toegewyd en heilig is, is 'n illusie.

Natuurlik is die kerk veronderstel om uit bekeerdes te bestaan. Mense wat genade ontvang het, maar onthou, ook diesulkes is steeds mense wat gebroke is en daarom sondig, beperkte insigte en vermoëns het en gedurig verander. Dit verklaar so baie van die hartseer dinge wat in ‘n kerk gebeur. En moenie vergeet nie, ek en jy wat seergekry het is ook mense, mense met hierdie einste foute en beperkings. Ons moet ook sensitief wees vir ons eie foute en sondes. Die sonde van selfbejammering, die sonde van ‘n onleerbare gees en eiesinnigheid, die sonde van weiering om gesag te aanvaar, die sonde van verbittering en onvergewensgesindheid is nogal algemeen by mense wat seergekry het in die kerk. En partykeer is dit juis hierdie sondes wat aanvanklik tot die seerkry aanleiding gegee het! Sien dit ook maar net raak! Mag dit tog bietjie begrip en genade vir ons medelidmate en kerkleiers by ons opwek! 

ONTHOU WIE DIE KERK SE VYAND IS. 

Die groot vyand van die kerk is nie daardie ou wat jou so irriteer nie, ook nie die man wat Sondae voor jou sit en jou ‘n klomp geld skuld nie. Die vyand van die kerk is die groot aanklaer, leuenaar en mensemoordenaar, Satan! Die duiwel is ook jou groot vyand (nie die ou wat langs jou in die kerkbank sit en van jou geskinder het nie), hy is Jesus se vyand, hy is God se vyand! Die Satan haat God en dis juis op die kerk waar hy sy groot woede uithaal omdat die kerk so kosbaar is vir God en omdat die kerk God se instrument is om die waarheid te bewaar en die wêreld te bereik! Die Satan weet sy doppie is geklink, maar dis juis daarom dat hy alles uithaal om soveel moontlik skade aan te rig aan die bruid van Jesus. Hy weet sy tyd is min.**  Hy gebruik elke vuil en lafhartige taktiek in en buite die boek. 

Pasop dat jy nie vir die verkeerde mense kwaad word nie, die eintlike vyand is die duiwel! Pasop dat jy nie deur te skinder en deur jou bitterheid self ‘n instrument in die hande van die duiwel word nie! Deur die kerk te los en af te kraak bevorder jy die agenda van die duiwel en nie die wil van God nie! 

ONTHOU VERAL WIE DIE KERK SE KONING IS! 

Die kerk is God se huisgesin. Die kerk is Jesus se kerk. Elke plaaslike gemeente, hoe gebroke ook al waar Christus bely word is Jesus se kerk. Sy eiendom wat Hy deur sy bloed gekoop het. Pasop dus maar wat jy van die kerk te vertel het... Jesus is die koning, maar ook die bruidegom van die kerk. Ons toewyding aan die bruid (kerk) sê geweldig baie oor ons toewyding aan die Bruidegom! Hoe waardevoller die Bruidegom vir jou word, hoe waardevoller sal die kerk vir jou wees! 

Natuurlik is dit ‘n hartseer feit dat die bruid dikwels nog vuil en bevlek is en min van die heerlikheid en karakter van die Bruidegom vertoon. Dit moet ons nie laat tou opgooi nie, maar ons juis aanspoor om te bid en te werk vir die genesing, heiligmaking en gereedmaking van die bruid! Jesus sal eendag sy bruid volmaak en vlekkeloos maak. Ja, daardie swartgallige medegelowige wat jou so irriteer sal ook eendag volmaak wees! Onthou dit maar. Daardie irriterende medegelowige is egter nou reeds jou broer of suster aan wie jy liefde moet bewys.. Jesus het vir hulle ook gesterf, ja hulle wat jou nou seergemaak het! Jesus het hom en haar lief!

Deur die kerk te beledig, te vermy, af te kraak of te ignoreer maak jy Jesus seer! 

Ja, jy is dalk heeltemal eerlik as jy sê dat die kerk het jou seergemaak, maar hoor ook hierdie eerlike waarheid – jou houding veroorsaak pyn vir Jesus. Dis ‘n sonde, dis ‘n sonde waarvan jy moet bekeer! Jy is op ‘n gevaarlike pad! Wat jy aan die kerk doen, doen jy aan Jesus! Dit moes Paulus duidelik hoor op pad na Damaskus... 

 “Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?" "Wie is U, Here?" vra hy toe. "Ek is Jesus," antwoord Hy. "Dit is vir My wat jy vervolg. (Handelinge 9:4,5) 

Paulus het die kerk vervolg, maar Jesus ervaar dit as vervolging van Homself! Nadat Paulus tot bekering gekom het, het hy nie net ‘n liefde vir Jesus gekry nie, maar ook ‘n liefde vir Jesus se kerk. “O, ja maar die kerk was baie goed en suiwer in daardie dae...,” sê jy vir jouself. 

Ekskuus, maar jy maak ‘n fout. Gaan lees maar die Nuwe Testament en let op al die probleme waarmee die gemeentes te kampe gehad het. Die briewe aan hierdie gemeentes is deels juis geskryf om hierdie kwellings aan te spreek: dwaling (Kolossense), wettisisme (Galasiërs), tweespalt, onenigheid, onsedelikheid, wanorde rondom die gawes amp (1&2 Korintiërs), konflik en selfsugtige ambisies (Filippense). Daar sou nog baie voorbeelde genoem kon word...

Juis die onvolmaaktheid van die kerk het aanleiding gegee tot die meeste van die Nuwe Testamentiese geskrifte! 

Los die verskonings en wees gehoorsaam...

Kerklose Christenskap is nie iets wat ons in die Nuwe Testament kry nie...

Nee, jy het geen verskoning nie. Wees lief vir Jesus, wees lief vir sy bruid en liggaam, die kerk en spesifiek die plaaslike kerk waar Hy jou geplaas het! 

Moenie ophou om Jesus lief te hê nie! Dis nie Hy wat jou in die steek gelaat het of seergemaak het nie. Hy het nog nooit enige mens onregverdig behandel nie. Sy liefde vir jou het nog niks verander nie, dis nog net so groot soos die dag toe sy liefde vir jou Hom na die kruis laat stap het! 

Moenie die kerk afskryf en ‘n weersin in kerkwees ontwikkel nie! Die kerk is groter as die bepaalde gemeente waar jy seergekry het, die kerk is die liggaam van Jesus dwarsoor die hele wêreld heen. Die kerk is meer as daardie mense wat jou gekwes het. Jesus se kerk soos reeds gesien, het baie foute. Die gemeente van Laodicea het Hom so ontstel dat dit Hom naar gemaak het (Openbaring 3), maar Hy nooi altyd weer sy kerk om terug te keer na ‘n lewende verhouding met Homself! 

Moenie nalaat om die gemeente se byeenkomste by te woon nie! (Hebreërs 10:2) Dis die Here se opdrag, dis in jou belang, maar dis ook ter wille van jou broers en susters.

Wees positief en lewer ‘n bydrae! Deur gebed en betrokkenheid. Deur te vergewe, verskille uit te praat, deur jou aan gesag te onderwerp, deur in alles die belang van Jesus se bruid te bevorder en nie jou eie begeertes voorop te stel nie!



*  Sien artikel van Kirstin Tabb Ek het ruim van sy insigte gebruik gemaak.

**Openbaring 12



Dit was so lekker toe Christiaan Meyer en Andries Niemann by ons op Tsumeb kom kuier het. Jongmanne wat kinders was tydens ons Antipas dae in Vereeniging. Hier saam met Natanie en Marisja by Tierkloof.

Sondag 01 Julie 2018

SKEP GENOEG

EN SKEP MET BLYDSKAP UIT DIE FONTEINE VAN REDDING! 



Ons luister na die lofsange van die verlostes in Jesaja 12. Dis hulle vir wie die Here eers kwaad was en gestraf het, maar nou verlossing gebring het. (Kliek – NIE MEER KWAAD) Hulle is sondes uitgewis aan die kruis. Verlos deur die takkie wat sou uitspruit uit die stomp van Isai, Jesus Christus.* 


Daar is 3 aspekte waarna ons kan kyk in hierdie lofsange : Vertroue, Blydskap, Dankbare lofprysing. Ons het reeds gekyk na vertroue. Vertroue is 'n doelbewuste stap wat ek met my denke neem om my volkome op God se beloftes te verlaat. Ons kan dit doen, ons moet dit doen, want God se karakter is volkome betroubaar. Waar God vertrou word vlug angs en vrees. Ons wat vertrou op Jesus hoef nie meer die dood, straf of aardse omstandighede te vrees nie. 

OORVLOED! 

As ek God vertrou en my vrese verdwyn, kom daar 'n nuwe emosie en aktiwiteit in my lewe. Blydskap en dankbare lofprysing. (Let wel emosie en gevoel is deel van proefondervindelike godsdiens, maar dis 'n gevolg van vertroue en geloof, nie andersom nie. Ek vertrou God nie omdat ek lekker voel nie, ek vertrou hom ongeag my gevoelens of omstandighede.) 

Hierdie reaksie word met 'n pragtige metafoor uitgebeeld in vers 3. “fonteine van redding” Dis baie treffend vir mense wat gewoond is aan 'n dor land. (soos ons Suidwesters!) Ons weet water is lewe! 'n Fontein is dus 'n wonderlike ding, dis 'n bron van lewe. Dit spel volhoubaarheid, oorvloed, meer as genoeg! 

Genoegsame en oorvloedige verlossingsgenade. 

Almal kan skep, skep met blydskap soveel as wat nodig is. Dit laat mens dink aan Johannes 1:16 waar ons lees: "Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang." Dis die oorvloed wat Jesus bring.  O, geliefdes, laat ons God se beloftes vertrou en skep en bly wees! Waarom wil jy nog daar eenkant staan en doodgaan van sondedors? Kom skep! Maak nie saak hoe groot jou sonde, skuld en skande is nie... Dit maak nie saak hoe lank die ry mislukkings is nie...  Dis Jesus self wat jou nooi: “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Johannes 7:37) 

BLYDSKAP 

Elkeen wat lewende water kom skep, wat deel kry aan die oorvloedige vergifnis en verlossing, word bly! Blydskap! Blydskap is nie 'n randsaak of ekstra is in ons praktiese Christenskap nie. Dis 'n onmisbare deel en inherente bestanddeel van die verlossing wat God skenk. Ons hoor dit reeds in die engele se aankondiging van die geboorte van Jesus, "ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap." Dis deel van Jesus se wens vir sy dissipels in sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17:13. "sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê" Volgens Paulus is vreugde een van die basiese kenmerke van die wat deel is van God se koninkryk. “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” (Romeine 14:17) So kan ons aangaan. Ook die geskiedenis bevestig dit - waar God kragtig werk soos in tye van herlewing, is daar intense blydskap, dikwels eers intense smart oor sonde en dan die oorvloedige blydskap. (Kliek - SOUTPANSBERG) Dis duidelik dat blydskap en vreugde deel van God se oorspronklike bedoeling vir die mens was. Sonde het dit verwoes; verlossing het dit herstel. Verlostes is bedoel en veronderstel om bly te wees. Die besef dat God vir my kwaad was, maar nie meer is nie, omdat Hy my vergewe het moet tog 'n reaksie van blydskap tot gevolg hê. Terloops, dis miskien die rede hoekom baie sogenaamde godsdienstige mense so min blydskap ervaar. Hulle het nog nooit sondelas gevoel, die toorn van God raakgesien en die straf van die heilige God gevrees nie en dan die verligting van vergifnis ervaar nie. 

Verlostes het rede om bly te wees, die enigstes wat regtig rede het. 

Hierdie blydskap is meer as net oppervlakkige glimlaggies, dis die onvernietigbare blydskap van Jesus ten spyte van omstandighede! (Kliek – ONVERNIETIGBARE VREUGDE

AANBIDDING, LOFPRYSING EN GETUIENIS 

Saam met blydskap gaan dankbare aanbidding en lofprysing. 

“Op dié dag sal julle uitroep: "Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is. 
Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend. 
Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!" (4-6) 

Hoor, dit behels sing, jubel en juig. Nie net sommer omdat dit lekker is nie, maar tot eer van die Here. Hierdie lofprysing het 'n getuieniskarakter hê. Die volke, ja die wêreld daarbuite sal geraak word. So in ons situasie sal dit beteken dat hierdie lofprysing en dank meer moet behels as net lekker sanggeleentheid. Dit gaan oor die oorvertel en praktiese demonstrasie van God se verlossingsdade. Die lof handel oor SY dade, die groot dinge wat HY gedoen het. Enige kind van God kan en moet meedoen aan hierdie lofuitinge. Los die verskonings om stil te bly!** 

Daar is drie redes in hierdie gedeeltes waaroor ons moet jubel en juig. Anders gestel, die inhoud van ons lofbetuigings handel oor drie sake: 

- die groot dinge wat God gedoen het (5) 

- God se karakter - Hy is groot, Sy Naam is groot! 

- God is by ons, in ons midde. (6) 

Laasgenoemde is eintlik die kersie op die koek. Wat 'n heerlike waarheid. Wat sou al God se wonderlike eienskappe ons gebaat het as Hy ver en verwyderd van ons sou wees? God is by ons - Hy is nie meer kwaad nie, die muur van skeiding is afgebreek. Die belofte van Jesaja 7:14 van Immanuel (God met ons) het waar geword! Jesus het gekom en onder ons kom woon. Hy woon op hierdie oomblik in ons deur sy Gees en eendag sal Hy permanent en volmaak vir altyd tussen ons wees. “Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: "Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3) Dit lyk asof hierdie gedeelte profeties kyk na Jesus se eerste koms, die verlossing wat hy gebring het, die verlossing en ons reaksie daarop soos ons dit nou ervaar, maar ook verby dit alles na die ewigheid en ons finale verlossing. Die verlostes gaan vir ewig bly wees, besig met dankbare aanbidding en lofprysing. 

SING JY SAAM?

Is jy deel van die skare verlostes in Jesaja 12 en kan jy saamsing? Is jy deel van die skare wat kan sê : "U was ook vir my kwaad...." , wat kan sê : “Ek vertrou en is nie meer bang nie" ? 

Indien : 

JA - Wel vertrou nog meer, wees meer dankbaar, prys, getuig meer... Jy het rede! 

NEE - Kom na Immanuel, na Jesus die Spruit uit die stomp van Isai. Kom skep, stel jou vertroue in Hom. Hy vergewe, Hy versadig en verfris! Voeg dan ook jou loflied by die verlostes van Sion! 

*Jesaja 11:1,2 “‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.” Isai was natuurlik die vader van Dawid en uit die nageslag van Dawid, is Jesus, die Seun van Dawid gebore. 

** Die verskoning is dikwels – “ek weet nie hoe om te praat nie, ek moet seker eers ‘n evangelisasiekursus loop.” Kind van God, jy het hoegenaamd nie eers 'n evangelisasie kursus nodig om te begin getuig nie. (Daarmee beweer ek nie dat dit nie nuttig en sinvol kan wees nie.) Inteendeel as iemand agterkom jy vertel vir hom iets waarin jy afgerig is op 'n kursus-, dan klink dit dalk nie meer so baie eg nie. Jy loop tog nie eers 'n kursus om te kan vertel van 'n wonderlike vakansie nie? Nee, jy borrel net oor van jou wonderlike wedervaringe!



 STROME!
(Die Molopo kom af, 2009)