BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sonde -realiteit. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sonde -realiteit. Wys alle plasings

Vrydag 13 Oktober 2017

HEFNER EN HATTINGH

Hugh Hefner en Ryk Hattingh, twee banierdraers van wellus, dekadensie en die objektivering van vroue is onlangs oorlede. Hefner was al afgeleef en lank in die tand, maar die onverwagse dood van Hattingh so kort na die bekendstelling van sy jongste publikasie, HUILBOEK het die literêre wêreld in Suid-Afrika taamlik onkant gevang en erg geskok! 



Wanneer ons nadink oor die onderwerp van die mens se TOTALE EN AFGRYSLIKE VERDORWENHEID, dink ons dalk onwillekeurig uitsluitlik aan hierdie tipe ouens, maar dit mag ‘n groot fout wees... Hoe so?

Ons het onlangs die belangrike tema bespreek : “Wat ‘n groot, heerlike verlossing!” (kliek) Die heerlike verlossing wat Jesus gebring het. Tog is min mense opgewonde daaroor. Weet jy hoekom? Die meeste mense redeneer : “Ek is darem nie so sleg nie, ek is eintlik goed genoeg vir die hemel. Ek is darem nie so sleg nie. Kyk, ek is beslis nie ‘n Hefner of Hattingh nie.... Ek is darem nie so sleg nie, as Sannie dit gaan maak hemel toe behoort ek ook… Ja, ek is ‘n sondaar, ek sal nie stry nie, maar darem nie die ergste wat daar is nie… Ja, ek maak dikwels foute, maar die Here sal maar verstaan…”

Hierdie tipe redenasies openbaar skokkende onkunde oor wat die Bybel leer oor die toestand van die mens. Hierdie argumente minag die belangrikheid en onmisbaarheid van Jesus se kruisoffer! Hoe so? As ek dink ek is eintlik maar goed genoeg, as ek dink ek is darem nie heeltemal so skuldig (soos sommige ander) nie, dan maak dit mos in effek Jesus se kruisdood onnodig of oorbodig.

DIE MENS SE TOESTAND

Wat is die realistiese werklikheid oor die mens se toestand? ROMEINE 3:9-18 gee ‘n baie duidelike beskrywing. Voor ons daarna kyk, net een belangrike vraag : Wie beskryf die mens se sonde dilemma hier? God self. Dis God se Woord. Dis die God van liefde. Hy sal nooit onnodig iets hard of onbillik sê nie. Hy is die God van ontferming, dis Hy wat uitgereik het na die gevalle Adam en Eva… Wat vandag nog sy hand na sondaars uitsteek. Hy is ook die God van Waarheid. Hy kan nooit lieg of vals wees nie. Hy smeer nie heuning om die mond of mislei ons tot ‘n valse gerustheid nie. As God dus praat oor die mens se werklike toetstand en nood, kan ons gerus maar luister…

Paulus het reeds in die begin van sy brief nadat hy die tema van die evangelie aangekondig het, eers gepraat oor die sondeskuld van die heidene en hoe dit die toorn van God ontlok. (Romeine 1:18ev) Maar daarna het hy ook aangetoon dat die Jode, al het hulle die wet, net sulke sondaars is. (Romeine 2) Nou vat hy alles mooi saam. Alle mense is in die mag van die sonde. Almal is totaal verdorwe.

Hy begin met die kategoriese stelling. “Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,” (10) Daar is geen uitsondering nie, niemand is regverdig nie. Anders gestel, almal is sondaars. Almal verdien God se oordeel. Nie-godsdienstige mense sowel as godsdienstige mense!

Nou gaan Paulus voort en spel in meer detail uit wat die sondige toestand van die mens behels. “daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.” (11) Niemand ken en verstaan God nie, niemand het ook ‘n begeerte om Hom te ken nie! Konkreet gestel, niemand wil eers tot bekering kom nie, niemand soek die waarheid nie. Geestelik blind en geestelik dood! Lyke, vrot lyke!

STINKENDE VROT VRUGTE!

Alle mense het afgedwaal en op die verkeerde pad beland, almal het ontaard – wild , korrup, nutteloos geword. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” (12) Soos ‘n vrug wat vrot geword het nou nutteloos is en nie meer geëet kan word nie. Ja, die sondaar is ‘n stinkende vrot vrug vol wurms net geskik vir die ewige ashoop van die hel! En dit geld ons almal, want Paulus beklemtoon en onderstreep weer – “Daar is nie een wat goed nie, selfs nie een nie.” Miskien vra jy – Maar hoe kan dit wees? Daar is tog baie mense wat goed – wat geld gee vir weeskinders en ou mense… In God se oë tel dit opsigself niks nie, want as ons Hom nie ken nie is alle sogenaamde goeie dade nutteloos en veragtelik vir Hom. “Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ‘n wind.” (Jesaja 64:6)

Nou raak Paulus nog meer konkreet en beskryf die verdorwenheid van die mens in terme van die woorde wat ons gebruik. “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange,hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” (13,14) Die mens se leuenagtige, bytende, aanvallende, galbrakende woorde bevestig die boosheid van sy hart!

Die verdorwe mens het ‘n verwoestende effek op sy medemens. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie,” (15-17) ‘n Spoor van verwoesting en ellende! (Dink aan die onlangse Orkane!!) Dis realiteit, ons sien dit. Binne in ‘n gemeenskap, binne in families, binne huisgesinne, binne huwelike!

DIE ERGSTE!

Die verdorwe men het geen vrees (ontsag) vir God nie. “ontsag vir God het hulle nie.” (18) Dis die aakligste kenmerk van die sondaar, die kern walglikheid van ons gevalle toestand. Daar is geen respek vir God nie. O, ja ons ken sy naam, maar Hy word as noodwiel gebruik en soos ‘n stuurjonge behandel. Afgryslik arrogant! Hy moet ons met die eksamen help, sorg dat die reën betyds kom en boonop nog help dat ons gunsteling sportspan presteer. Maar as dit kom by sake soos respek vir sy dag, bywoning van sy erediens en gehoorsaamheid aan sy voorskrifte vir die huwelik, liefde vir medemense en opdragte oor elke aspek van ons lewe, dan ignoreer ons Hom heeltemal. As die finansies knyp word Hy baie gou ingeroep – “Asseblief, Here U moet help!” Maar as dit goed gaan bly die bidure en eredienste leeg, die strande en rugbypawiljoene vol... 

WAAROM SO KRAS?

Paulus sê harde woorde oor die mens… Die rede? Hy wil beklemtoon dat ons God se genade evangelie regtig nodig het. Jesus is die onmisbare enigste weg! Daar is geen selfhelp oplossing nie, nie eens met behulp van God se wet (Tora) nie! Daar is net een oplossing en uitkoms! Let op -  “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” (23,24!) Vir die mens wat sy eie verdorwenheid besef het is hierdie woorde soos koue water in ‘n dorre woestyn! Het jy al besef jy het hierdie genade en vryspraak nodig en dit by Jesus kom kry?

Totale verdorwenheid gaan dieper as Hefner, Hattingh en Weinstein... dit gaan ook tot by my en jou!

TOTALE VERDORWENHEID RAAK ONS ALMAL!

ONS ALMAL HET DUS JESUS REGTIG NODIG!


Mag ons huil oor ons eie verdorwenheid en Jesus as enigste hoop vasgryp!

Sondag 06 April 2014

SPONG SE ONBYBELSE SPRONG

- oor sonde en verlossing.

Die evangelie van Jesus Christus maak net sin binne die raamwerk van Sonde, Verlossing en Dankbaarheid. Dis natuurlik die kernsamevatting van die inhoud van die Heidelbergse Kategismus, een van die sogenaamde Drie Formuliere van Enigheid wat deur alle NG predikante onderteken is. Op sy beurt is hierdie inhoud weer geskoei op die inhoud van die Romeine brief, wat die omvattendste en mees sistematiese oorsig van die evangelieboodskap in die Nuwe Testament is. 

Na Paulus se inleidende opmerkings oor die inhoud van die evangelie en die triomfantelike beskrywing daarvan as die krag van God (1:1-4;16,)* gaan hy voort om die erns van God se toorn oor SONDE en die feit dat sowel Jood as nie-Jood onder die regverdige oordeel van God staan, te beskryf. In hoofstuk 3 vers 20 kom hy dan tot die volgende konklusie - “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” Hierdie slegte nuus is egter ‘n noodsaaklike voorspel tot die verrassende aankondiging van God se VERLOSSING in die groot draaipunt van die Romeine brief in vers 21. “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie...” Hierop volg dan nou ‘n diepte beskrywing van die regverdiging deur die geloof, gegrond op die soenverdienste van Jesus se offer aan die kruis. Die feit dat ons die verlossing slegs deur die geloof ontvang, onderstreep die feit dat redding alles, alles net genade is. Op grond van hierdie genade word die verloste mens dan nou opgeroep tot ‘n lewe van radikale DANKBAARHEID in die laaste deel van die brief. Paulus stel dit so : “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (12:1,2) Die kind van God se lewe van gebed, toewyding, gehoorsaamheid en diensbaarheid val als onder die noemer van evangeliese dankbaarheid vir die genadige verlossing in Jesus Christus.

Hierdie boodskap van Paulus (en die res van die NT) loop vandag deur onder die spervuur van valse leraars wat die Skrif sowel as ons Reformatoriese belydenisskrifte wil ondermyn. Een van hierdie valse profete wat feitlik alle kernwaarhede van die Christelike geloof van alle eeue verwerp is John Shelby Spong, ‘n afgetrede Amerikaanse biskop van die Episkopaalse Kerk te Newark. Hy glo nie in die bestaan van sonde nie en gevolglik ook nie in verlossing deur die plaasvervangende sterwe van Jesus aan die kruis nie!

Oor sonde en verlossing het Spong die volgende te spoeg : "Original sin is irrelevant to the life of our world -- and anybody that keeps talking about sin and rescue and redemption doesn’t understand what’s going on.

The primary Christian myth – the way we have told the Jesus story for most of the years of our life – is based on the perfection of Creation, including human beings, and their fall from perfection. They can’t rescue themselves and need a divine rescuer; the rescuer comes, pays the price, and restores them to their status before they were fallen. That’s the way our hymns talk and that’s where we developed what I call our fetish with the blood of Jesus and his cleansing power. Protestants like to bathe in it. Catholics like to drink it. It’s interesting the way we’ve made that fetish work.

But when you look at Darwinian principles, there never was a perfect creation, so [there] could not have been a fall. You don’t need to be rescued from a fall that never happened (not even metaphorically) and you can’t be restored to a status you never possessed.

We’ve got to get out of what I call the rescue/savior/redeemer mentality and begin to see life not as fallen, but incomplete. And then you develop a Christology that helps people to become more whole, more complete, more human, more authentic -- and that’s where I think we can make a difference in the world today."

Dit klink soms of hierdie valse Christus met sy humanistiese ideale selfs ook van kansels in ons eie land verkondig word!?

Dit het seker tyd geword dat elkeen wat die Here Jesus liefhet duidelik moet standpunt inneem teen sulke geloofsvernietigende dwalings... Wie die bestaan van sonde bevraagteken, het ook nie meer Jesus as Verlosser nodig nie en glo bloot in Jesus as ‘n moreel goeie Jood van die eerste eeu. Dit behels ‘n ontkenning van Jesus as die unieke Seun van God en kom neer op lastering van die ergste graad, ‘n vertrapping van sy bloed...

*Romeine 1:1-4 “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”

Romeine 1:16 “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.”