BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Blywende blydskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Blywende blydskap. Wys alle plasings

Saterdag 19 Mei 2018

DIE ONVERNIETIGBARE VREUGDE VAN JESUS

- en Hy het bedoel dat ons in hierdie blydskap sal deel! 



Hoe belangrik is dit dat jou Verlosser nie sommer enigiemand nie, maar ‘n Verlosser vol vreugde moet wees? 


As ’n lewensredder jou uit ’n gevaarlike seestroom red en jou so ‘n wrede verdrinkingsdood spaar*, dan gee jy nie juis veel om of hy ‘n vreugdevolle of ‘n droefgeestige ou is nie. Dit maak tog nie saak wat sy gemoedstoestand is, terwyl jy weer jou familie op die strand omhels nie. Met die verlossing wat Jesus bewerk is dit egter anders gesteld. Jesus red ons nie vir ons familie nie, maar vir Homself. As Hy droefgeestig, depressief of neerslagtig sou wees, sou ons verlossing maar ’n droewige saak wees. Dit sou dan nie ’n heerlike verlossing wees nie. Christene sou ‘n klompie bedremmeldes met lang gesigte wees. 

Jesus self is ons groot beloning, niks minder nie. Verlossing is nie bloot net die vergifnis van sonde nie, maar in hoofsaak gemeenskap, saamwees met die lewende Jesus. Die ewige lewe is mos nie bloot ‘n lang lewe nie, maar om God en om sy Seun Jesus waarlik te ken! Innige gemeenskap! In Johannes 17:3 maak Jesus dit self baie duidelik : “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” As hierdie gemeenskap nie intens heerlik en volkome bevredigend is nie, dan het ons nie te doen met ’n groot verlossing nie. 

As Christus neerslagtig of vreugdeloos sou wees, dan sou die ewigheid een lang droewige sug en vervelige uitmergeling gewees het. 

Maar nou is dit juis wonderlik, die genade en heerlikheid van Jesus behels onder andere ook dat Hy altyd onvernietigbaar gelukkig is en sal wees. Sy genade, sy vrede, sy liefde sluit ook in dat Hy ons vreugde gee. Luister bietjie mooi na Jesus se woorde en drink dit in :“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11) 

Blydskap, volkome blydskap is Jesus se bedoeling vir ons wat aan Hom behoort! 

Dit sou nie volkome genade wees as Jesus bloot my blydskap sou vermeerder tot op die maksimum nie, en my dan so sou los in ’n blydskap wat nog ver benede sy vlak van blydskap is nie. Ons kapasiteit vir blydskap is mos beperk. So wat wonderlik is, is dat Jesus sy kapasiteit vir vreugde in my stort, sodat ek Hom kan geniet, met die vreugde van God. Dit is heerlikheid, dit is genade. Ons word nie net bly nie, nee, meer as dit, SY BLYDSKAP word deel van ons lewe! 

Daar is niks heerlik aan vreugdeloosheid en droefgeestigheid nie. Christus was daarom nooit droefgeestig en neerslagtig nie. Van ewigheid af was Hy die spieël van God se onpeilbare vreugde. Die Wysheid van God sê hierdie woorde in Spreuke 8:30 : “Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet.” Hierdie woorde gesien in die konteks van die hele Bybel, gaan oor Jesus, die ware Wysheid! (Kliek op WYSHEID) Die ewige Christus, was altyd in vreugde voor God. Hierdie feit van Jesus se oortreffende blydskap kom duidelik in die Nuwe Testament ter sprake. 

Kyk na twee voorbeelde: 

In Hebreërs 1:8-9 praat God met die Seun (nie met die engele nie) met hierdie verstommende woorde : “U troon, o God staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God , U onder groot vreugde tot koning gesalf bo u tydgenote.” Jesus is die gelukkigste wese in die heelal. Sy blydskap oortref al die engele blydskap in die hemel. (En ons weet die engele is baie gelukkig!) 

In Handelinge 2:25-31 interpreteer Petrus Psalm 16 as verwysend na Christus : “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel.....want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.....u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.” Die opgestane Jesus sal die somber skadu’s van die dood afskud en bly wees met die lig van God se blydskap. Die heerlikheid van Christus is sy oneindige, ewige onvernietigbare blydskap in die teenwoordigheid van God. 

EN SY LYDING? 

Maar wat dan van Jesus se smarte en lyding? Hoe pas dit in by sy vreugde? Net soos dit nie heerlikheid is om depressief te wees nie, is dit ook nie heerlik om ligsinnig oppervlakkig te wees nie. Die kortstondige joligheid op die dansvloer en die ononderdrukbare grondige blydskap wat mense selfs in ’n strafkamp kan ervaar is twee verskillende dinge. Die een is nietig tydelik, die ander diep triomfantelik. Kwaliteit blydskap, onvernietigbare vreugde! – dis die blydskap van Jesus! 

Vreugde is iets dieper as net die afwesigheid van hartseer. Daarom is dit nie ’n teenstrydigheid dat hierdie Man van onvernietigbare vreugde juis ook ’n “Man van lyding wat pyn geken het” was nie. (Jesaja 53:3) Self sê Jesus : “Ek voel doodsbenoud” (Matteus 26:38) Hierin lê ook ‘n stuk heerlikheid vir ons in opgesluit. Juis omdat Jesus hierdie hartseer en lyding moes deurgaan is Hy as ons Hoëpriester in staat om met ons medelye te hê. Hy was immers net soos ons getoets. (Hebreërs 4:14-15) Hy het die allervreeslikste versoekings beleef. Ook al die hartsere van menswees. Hy het gehuil saam met die wat gehuil het en was bly saam met dié wat bly was. Hy was honger, moeg, verlate, verraai, gegésel, gespot en gekruisig. Juis in hierdie konteks sien ons die onvernietigbare blydskap van Jesus! Sy blydskap was nie net ’n teoretiese saak nie, dit het bly staan in die harde werklikheid. Die hardste denkbare lyding. Deur die foltering van Getsemane en Golgota, is Jesus juis onderskraag deur hierdie onvernietigbare blydskap. “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins....” (Hebreërs 12:2) En wat was daardie alles onderhoudende blydskap? Dit was die vreugde om aanbid te word en eer te ontvang van hulle vir wie Hy gesterf het om sodat hulle kan deel in die vreugde van God. Die Goeie Herder verheug Hom oor een verlore skaap wat gevind word. Hoeveel te meer oor ontelbare leërmagte van verlostes! 

Is hier ’n les te leer oor hoe ons lyding moet verduur? Het jy al ooit raakgesien dat ons Jesus nie net moet navolg in sy lyding nie, maar ook in sy vreugde in lyding? Paulus stel dit so : “En julle het ons voorbeeld nagevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom.” (1 Tessalonisense 1:6) Dit was ’n vreugde in die Here te midde van vervolging wat in hierdie jong kerk sigbaar was. 

Hierdie is ’n Uitdaging vir ons! Sal ons lyding ter wille van die saak van Christus omhels? Nie vreugdeloosheid nie, maar lyding. Sal ons ag gee op die wekroep in Hebreërs 13:13 “Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het”? Wie deel in Jesus se lyding met vreugde, sal ewige vreugde sonder lyding beleef! 

EWIG BLY!

Elkeen wat reeds iets gesmaak het van die vreugde van Jesus, sal finaal eendag te hoor, “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf......Kom in en deel in my vreugde.” (Matteus 25:21) Dis ‘n aansporing vir ons. Ja, ons ewige tuiste is die stad van God en dis ’n stad van vreugde. En daardie vreugde is die onvernietigbare vreugde van Jesus Christus. 

Die Heilige Gees oortuig ons nou reeds van die vreugde van Jesus wat soveel meer is as die tydelike vreugde van die sonde en wêreld! Dis net as ek oortuig is van die vreugdevolle heerlikheid van Jesus dat ek die “lekkerte” van sonde die rug kan keer en Hom volg. Hierdie oortuiging laat elke ware kind van God volhard! 

*John Piper, Seeing and Savouring Jesus Christ. Hierdie is in wese ‘n weergawe van een van die hoofstukke in hierdie besondere boek.


"vreugde" - Hentiesbaai se noordduin

Maandag 18 Mei 2015

WAAROM IS JY NIE BLY NIE?

[ Die sprankelende en egte blydskap van hierdie KOPTIESE CHRISTENE in Egipte het my diep getref. Waarom is ons wat sê dat ons God se kinders is, so dikwels sonder blydskap? Wat mis ons?]


Kom ons kry net eers duidelikheid vir onsself : Dit is God se bedoeling dat sy kinders bly moet wees. Vol vreugde! Regtig? Is dit God se wil en plan vir ons reeds hier op aarde dat ons altyd bly moet wees? Is dit realisties moontlik? Hoe lyk hierdie blydskap? Wat bevorder hierdie blydskap? Wat bedreig dit?

Blydskap en Christenskap, vreugde en verlossing gaan saam. 

Kom ons kyk na ‘n paar redes waarom ons so kan sê:

Die Vader van die verlostes wil hê dat sy verloste kinders bly moet wees. Dis tog net logies dat ‘n pa wil hê dat sy kinders bly moet wees! Gelukkige kinders! Sou daar enige rede wees waarom God ongelukkige kinders sou wou hê? Hy wat dan ‘n volmaakte Vader is? So weet maar dat wat jy ook al beleef, God in beginsel wil hê dat sy kinders ware vreugde sal beleef.

Die aard van ons verlossing behoort blydskap by ons te wek. As jy die verlossing deur Jesus ontvang het is jy mos verlos van sonde, Satan, dood en hel. Jy was verlore, maar is gevind, jy was skuldig, maar is nou vry verklaar, jy was ‘n slaaf, maar is nou ‘n kind, jy was in die duisternis, maar nou sien jy die lig.... Dink tog net, as iemand uit ‘n dodesel vrygelaat word, as gyselaars bevry word... wat is die eerste mees spontane en natuurlike reaksie? Blydskap. Wat anders? In Handelinge 8:39 lees ons hoe die pas bekeerde Etiopiese amptenaar sy weg met blydskap voortgesit het.

Die einddoel van ons verlossing moet ons bly maak. Die verlostes kan uitsien na ‘n vaste ewige erfenis. Ons het nou ‘n verwagting en ‘n vaste hoop wat ander mense nie het nie. Dis tog ‘n spontane natuurlike reaksie... as jy hoor jy het ‘n prys gewen, as jy ‘n brief kry wat jou inlig dat jy onverwags ‘n plaas geërf het word jy bly! Petrus verwys na hierdie beginsel in 1 Petrus 1:8,9. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”

Die opdrag aan die verlostes is duidelik. “Wees altyddeur bly.” (1 Tessalonisense 5:16) Nie net hier nie, maar veral ook in die Filippense brief word dit herhaaldelik gestel : Fil. 3:1, 4:4 “Verbly julle in die Here...” God sal nie aan ons ‘n opdrag gee as dit nie realisties is of as Hy dit nie bedoel nie.

Die Gees wat die verlostes ontvang is die Heilige Gees en Hy gee blydskap. Anders gestel, blydskap is een van die vrugte van die Gees. Die Heilige Gees bewerk blydskap in diegene in wie Hy woon! “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” Romeine 14:17,18 Paulus sê dit in die konteks van mense wat wou stry oor watter kos Christene mag en eet en watter dae hulle as spesiaal moet beskou. Nou sê hy, moenie verstrengel raak in randsake nie, fokus op die basiese beginsels van die Koninkryk, naamlik geregtigheid, vrede en blydskap. Blydskap is ‘n fundamentele saak!

Ons Christenwees van begin tot einde, in totaliteit word gekenmerk en omring deur blydskap en dit veroorsaak blydskap. So is daar groot blydskap by die engele as ‘n sondaar hom bekeer. “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor ‘n sondaar wat hom bekeer.” (Lukas 15:10) Die laaste woord wat ons sal hoor voor ons ingaan na ons nuwe tuiste sal “vreugde” wees! “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’” (Mat 25:21)

God ons Vader is bly oor ons* en wil dat ons bly moet wees tot in alle ewigheid. Blywende blydskap is ‘n onmisbare bestanddeel van basiese Christenskap.

Sekere misverstande moet ons uit die weg ruim. BLYWENDE BYBELSE BLYDSKAP...

  • beteken nie dat ons nooit huil en treur nie. Kinders van God word immers opgeroep om te treur oor ons sonde. (Jakobus 4) Maar juis dit bewerk groter besef van vergifnis en daarom groter blydskap!
  • beteken nie dat ons nie beproewings en hartseer en moeilike tye beleef nie. Juis daarom is ons blydskap iets anders as gewone blydskap dis ‘n blydskap ten spyte van en te midde van slegte omstandighede
  • beteken nie dat ons 24 uur 7 dae ‘n week ‘n tandepaste glimlag vertoon nie, ons blydskap gaan dieper as dit, dis ‘n blydskap ook as ons treur en swaarkry. Ook onder trane is ons bly. Eers eendag by die wederkoms sal die trane finaal van ons oë afgevee word.
  • beteken nie dieselfde as ‘n oppervlakkige drankgedrewe wêreldse karnaval vrolikheid nie. Ons blydskap is fundamenteel anders en ons bly weg van hierdie soort valse blydskap wat die wêreldling na smag. So bid die psalmis : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4)
Is jy ‘n gelukkige kind van God vol blydskap? Hoekom is dit nie altyd so nie? Het jy hierdie blydskap gehad, maar dit verloor? Wat verhinder of steel ons blydskap? Dis tog duidelik dat God wil hê dat ons moet bly wees. Ons verlossing is nie iets om te verduur nie, maar om te vier! Ons gaan in die res van die reeks kyk na faktore wat die blydskap van God se kinders belemmer en hoe dit reggestel kan word.

*Sefanja 3:17




Saterdag 01 Februarie 2014

VERPLIG TOT VOORTDURENDE VREUGDE

– hoe om blydskap te bou en te behou! 

In 1 Tessalonisense 5:16-17 lees ons: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ja, kort en kragtig kom die opdrag na die kinders van God : “Wees altyd bly!” Dis ‘n opdrag – nie maar net ‘n stukkie goeie raad van ‘n motiveringspreker, onderwyser of predikant nie, maar ‘n bevel van God. Dis wat God van ons verwag...

Goed dis ‘n opdrag, maar hoe gaan ons dit regkry? Ja, bly is ons partykeer, maar ALTYD bly - is dit hoegenaamd realisties uitvoerbaar?

Vrydag 06 September 2013

BASIS VIR BLYWENDE BLYDSKAP

- my naam in die Boek van die Lewe.

Wat maak jou regtig bly?  Daar is seker baie dinge .... goeie vleispryse, oorvloedige reën, as almal in die huis gesond is, suksesse op skool, romanse....daardie matriekafskeidrok... Ons lees in Lukas 10:17-20 van ’n groep dissipels wat vol blydskap teruggekom het van ’n sendinguitreik. Jesus het 72 dissipels twee-twee uitgestuur om te preek, siekes gesond te maak en duiwels uit te dryf. Nou lyk dit of hulle sending baie suksesvol was en hulle gesag selfs deur demone erken is, en hulle was uiteraard baie bly. (17) En daar was niks verkeerd mee nie, maar dan herinner Jesus hulle net aan ’n nog groter rede vir blydskap. Dis asof Jesus ‘n bietjie koue water op hulle uitbundigheid gooi om hulle ‘n dieper vaster waarheid te leer. (20) “...maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is."

Daar is een groot uitstaande feit wat die groot praktiese  bron of rede van blydskap in ons lewens moet wees :  

MY NAAM IS IN DIE BOEK VAN DIE LEWE!

As jou naam in die hemel opgeskryf is, dan beteken dit God ken jou, Jesus is jou Verlosser en jy is vir seker ’n  erfgenaam van die  Ewige Lewe. Die Bybel praat van ’n  Boek van God waarin name opgeskryf is. Reeds in die Ou Testament. Moses verwys daarna, as hy pleit vir die volk. (Eksodus 32:32. Sien ook Daniël 12:1) Hierdie boek bevat die name van die diegene wat gered is! Dis dié een plek waar dit regtig saakmaak dat my naam daarin staan. In Openbaring word hierdie boek genoem, die boek van die lewe. In Openbaring 20:11-15 kry ons ’n baie duidelike beskrywing van hoe belangrik hierdie boek is en hoe noodsaaklik dit is dat jou naam daarin moet staan.  Stel jouself voor ’n ontelbare skare mense, almal wat geleef het.... vergader voor die groot Wit Troon van God;  dan word die boeke oopgemaak, die name word afgelees, dis tyd vir die finale afrekening ...

Toe het ek ‘n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie.
Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.
Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het.
Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel.
As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Daar is een blydskap wat alle ander blydskappe laat verdof en in die skaduwee stel. Dis die blydskap van elkeen wat weet, my naam is in die boek van die lewe. Daar is baie vreugdes wat ons beleef, ook goeie vreugdes, waarmee niks fout is nie, maar hulle sal alles verby gaan. Dis kortstondig van aard. Daar is een vreugde wat tot in alle ewigheid sal voortduur - as my naam in die boek van die lewe is. Hier op aarde verskyn jou naam op baie plekke : doop- en lidmaat registers, huweliksregisters, diplomas, grade, bekers, trofeë... dis goed en wel, maar verskyn jou naam in die boek van die lewe? In daardie groot dag sal al die inskrywings van min betekenis wees. Net een ding maak saak : is jou naam in God se boek? Alle die mooi woorde op grafstene en gedenkmure sal betekenisloos wees, net een ding tel punte : is my naam in God se boek?    

Moenie die risiko loop vir die grootste teleurstelling denkbaar nie!  

Maak seker! Selfs hier op aarde veroorsaak dit groot teleurstelling as jou naam nie op ’n lys is waar jy dit verwag nie. (die lys van matriekuitslae, ‘n vliegtuig se  passasierslys ens.) Kan jy jou indink aan die skrikwekkende verbystering en ontnugtering van baie op daardie groot laaste dag?

Daar is een blydskap wat alle hartsere klein laat lyk. As my naam in die boek van die lewe staan, is ek ’n ewige wenner, al verloor ek ook alles hier op aarde:  my besittings, my vriende, my gesin,  my aansien, ja selfs ook my lewe.  (dis nie iets wat mens sommer ligtelik moet sê nie, maar maak bietjie seker of jy dit regtig kan sê...) Om my naam in die boek van die lewe te hê is alles. Dit maak my ’n geseënde al moet ek ook onreg of pyn verduur.

Hierdie woorde van Jesus dra ’n dubbele boodskap. ’n Boodskap vir die onbekeerdes en ’n boodskap vir sy kinders!

~ Vir die onbekeerde sê dit: Al jou blydskap wat jy nou beleef is tydelik en tevergeefs. Jy is bly oor al jou geld - daar kom ’n dag wanneer dit geen waarde sal hê nie. Watter vreugde kan geld en eiendom my bring as ek in die hel brand? Jy is bly oor al jou mag en invloed en belangrikheid - watter verskil gaan dit maak as jy ’n ewigheid sonder God ingaan?

~ Vir God se kinders sê dit : Ons ware blydskap lê in die sekerheid en vastigheid van ons verlossing. Ons vergeet dit so maklik en dan lei dit daartoe dat ons depressief en neerslagtig raak. Laat ons weer mooi dink wat hier gebeur het. Die dissipels is opgewonde en bly omdat hulle suksesvol was in die Here se werk, hulle het gevoel dat hulle darem iets positief bereik het. Hulle gesag is immers selfs deur die bose erken. Jesus sê as’t ware, ja dis goed, maar onthou daar is ’n baie groter rede om bly te wees...

Jy sien, ook as kind van God is ons suksesse, ons prestasies, ons nuttigheid, ons emosies wisselvallig! As ons ons blydskap daarop bou, gaan ons blydskap ook wisselvallig wees. Daar is egter een standvastige onwankelbare rede vir blydskap - die vastigheid van ons verlossing deur die bloed van Jesus m.a.w. die feit dat my naam in die boek van die lewe opgeskryf is op grond van sy soenverdienste aan die kruis. Dit bly waar, al... is ek nie altyd so suksesvol nie, is my omstandighede nie so aangenaam nie, voel ek nie so nuttig nie. Ja, al is my eie emosies onstabiel en stormagtig kan dit nie my naam uit die boek van die lewe wegneem nie. Kind van God onthou dit! Waarop kom dit neer? Die feit van die sekerheid van ons verlossing deur Jesus  op grond van sy genoegsame offer, moet voortdurend die bron van ’n onuitspreeklike blydskap in ons lewens wees - in alle omstandighede!  Nou reeds! Luister hoe pragtig stel 1 Petrus 1:8-9 dit : Hom (Jesus) het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Kind van God, mag jy vandag en vorentoe volkome blydskap beleef (al is dit met ‘n traan in die oog), omdat jy weet dat jou naam onuitwisbaar in die boek van die lewe geskryf is!