BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket God se ordes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God se ordes. Wys alle plasings

Woensdag 21 Augustus 2019

BEDREIGDE SPESIE!


Nee, ek praat nie van die renoster nie! 


Ek verwys na die Christen Calvinistiese Afrikaner Man! Ekself is een van hulle. En dit kan gevaarlik raak net om te oorleef... 

In die heel eerste plek noem ek myself ‘n Christen. Moenie ’n fout maak nie, die naam Christen word al hoe meer gehaat. Spesifiek sogenaamde “fundamentalistiese” Christene wat die Woord van God as onfeilbare norm vir leer en lewe beskou en Jesus as die enigste Weg na die Vader bely. Christene wat euwels soos dronkenskap, saambly en die nuwe gier van homo dominees nie kan goedpraat nie! Ons word verag, beledig en afgeskryf as onverdraagsaam, eng, pretbederwers, verouderd en homofobies! Ons word vervolg deur regerings, volksgenote, eie familie en veral deur die “verligte” valse leraars binne die kerk! Christene word al hoe meer uitgedruk na die onverkwiklike plek heel onder aan die “voedselketting” en gesien as die gunsteling prooi van ateïste, menseregte aktiviste, liberale teoloë , gekrenkte joernaliste... 

Christene word wêreldwyd al hoe meer geteiken en bedreig en tog is ek dankbaar, nederig, “trots” om myself ‘n Christen te noem. Iemand wat soos Paulus alleenlik roem op die kruisgebeure waar Jesus die volle prys genoegsaam betaal het vir AL my sonde! 

Tweedens noem ek myself ’n Calvinistiese Christen. Ek sê doelbewus “tweedens” want die broers en susters met wie ek hartlike gemeenskap in Christus beoefen sluit ook diegene in wat hulleself nie as Calviniste sou beskryf nie. As Christene gehaat word deur die wêreld is dit natuurlik dubbeld die geval met Calvinistiese Christene. Ons erken dan dat die mens “totaal verdorwe” is, tot niks goeds in staat nie en volkome afhanklik van God se genade! Ons word verkeerd verstaan en ons sienings verdraai. (doelbewus of weens onkunde) Sommige mense beweer dat ons nie glo in bekering en wilsbesluite en evangelisasie nie. Dit terwyl die grootste evangeliste en bekeringspredikers van alle tye soos George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’cheyne , Martyn Lloyd-Jones... hierdie leer van Goddelike soewereiniteit onderskryf het. Ons word belaster, beledig en die skuld gegee vir als wat verkeerd geloop het in die teologie sowel as in die politiek (spesifiek ook hier in Suider Afrika) Ja, ons word geteiken en die skuld gegee vir als wat sleg is onder die son – van apartheid tot (dalk) klimaatsverandering!

Calvinisme is in baie kringe ’n vloekwoord en tog sal ek altyd ’n dankbare nederige Calvinis bly, omdat ek glo dat God soewerein is en dat Hy alleen alle eer waardig is. Inderdaad, uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge! (Romeine 11:33-36) Soli Deo Gloria! 

Die derde gevaarlike etiket wat om my nek hang is die van Afrikaner wees. Nee, ek is nie ’n super Afrikaner van Broederbond faam nie! (Ek het inderdaad  ’n renons in enige geheime organisasie) Ek glo ook nie Afrikaners is die uitverkore volk van God nie. Ek is diep bewus van foute wat Afrikaners en Afrikanerregerings gemaak het. En tog gaan ek nie my Afrikanerskap ontken of probeer wegsteek nie. Ek praat my taal met trots. Met behae neem ek kennis van die veelbewoë geskiedenis van die Hollandse baanbrekers, Franse Hugenote, Voortrekker pioniers, die Boerekrygers wat teen die magtige Britse Ryk geveg het, die kinder en vroue helde van die konsentrasiekampe en soveel ander eerbare Afrikaner manne en vroue. Ek kyk met verwondering terug op God se pad met hierdie volkie en hoe Hy ons ten spyte van ons misstappe en gebreke gebruik het om ’n seën vir Afrika te wees! Wie dit nie weet nie moet maar gerus die sendingeskiedenis gaan oplees! Bekende helde van die kruis soos Stephanus Hofmeyer, A.A. Louw, die talle lede van die Murray familie, Helena Hugo (te veel om te noem), maar ook die onbekende groot aantal boere, sakemanne, huisvroue en Afrikaners van elke denkbare beroep of stand wat met woord en daad die evangelie op ’n donker vasteland versprei het en dit nog steeds doen! Die woorde van ’n eenvoudige boer, ouderling W. Joubert van die plaas Uitkomst in die noorde van die destydse Duitswes aan ’n besoekende leraar in 1912 tref mens diep : “Ik is een zendingvriend omdat ik een Afrikaner is.” Hy het ‘n kerksaal vir sy Herero werkers gebou en die Woord aan hulle bedien! 

Ek bly dus opgewonde en dankbaar om myself ‘n Afrikaner te noem. Al is ons die muishondvolkie in baie se oë en al is ek deesdae diep ontsteld oor die skrikwekkende geestelike afvalligheid onder ons mense! God wat aan alle volke bestaan en ruimte gee vir solank Hy wil (Handelinge 17:26), het in sy alwysheid my deel gemaak van die Afrikanervolk en ek gaan daarom niemand om verskoning vra of skaam wees dat ek tot hierdie volksgroep behoort nie. En ek glo steeds dis ‘n voorreg om ‘n geroepe Christen Afrikaner te wees! 

En dan is ek boonop ook ’n man! Miskien glimlag jy nou, maar die man is ook deesdae in ’n wêreld wat behep is met regte en gelykheid ’n bedreigde spesie of dan ten minste ’n teiken van allerlei soorte aktiviste en ideologieë. Die unieke plek wat die Woord aan die man aanwys as hoof van die huis en as bekleer van die lerende amp in die kerk is onder skoot. Die rol en plek van die man word orals bevraagteken en verkleineer (selfs in die kerk) onder die dekmantel van geslagsgelykheid. Trouens dit gaan nog verder. Blykbaar het alle geslagsonderskeid vir die wêreld problematies geword. Daar is sommige wat sover gaan om kinders geslags neutraal groot te maak sodat elke kind later kan kies wie hy of sy of dit wil wees... Wanneer ek dus dankbaar teenoor die Here is vir my manwees is dit nie ’n chauvinistiese streep wat na vore kom nie (ek dink die vrou, veral as sy die Here ken is die mooiste deel van God se skepping), maar bloot ’n erkenning van en onderwerping aan God se ordes. God het die mens na sy beeld geskape en dit vind uitdrukking daarin dat God, man en vrou gemaak het. (Genesis 1:27) Ja, die sondeval het elke aspek van menswees (ook geslagtelikheid en geslagsrolle) aangetas, maar juis die omvattende verlossingswerk van Jesus motiveer ons om nooit die sondige gebrokenheid van hierdie lewe as normaal te aanvaar nie. Juis daarom volhard ons op die pad van lewensheiliging wat betref elke deel van ons menswees en dus ook manwees. Juis daarom kan ons aan gebroke mense die bevrydende en heelmakende evangelie verkondig... 

Ek bly dus dankbaar dat God my ’n man gemaak het, terwyl ek bely dat daar in Christus ’n nuwe eenheid tot stand gekom het wat alle verskille in kultuur, stand en geslag verreweg oortref! (Galasiërs 3:28) Hierdie eenheid hef egter nooit die verskille en verskillende rolle op nie. As man wil ek ook met nederige afhanklikheid van God die spesifieke verantwoordelikhede wat Hy aan my toevertrou het as eggenoot en gesinshoof ernstig opneem. 



NASKRIF 
 Miskien moet ek net nog byvoeg ek is ‘n VLEISETENDE 😄man, want dit lyk my nou na die nuutste dwaling – skep skuldgevoelens by mense wat vleis eet! Dis seker nie vreemd dat (kliek) DIE KERKBODE ook lustig meedoen aan hierdie aktiwiteit nie. 


Saterdag 01 Julie 2017

BILLIK EN TOT JOU BESWIL!

- God se gebooie is nie bedoel om ons te benadeel en ons vreugde te beperk nie. 



Wonder jy dalk : “Gaan ek die lekkerte van die lewe misloop as ek God se opdragte gehoorsaam? Ek is jonk, miskien moet ek eers uitstel om die Here te begin dien. Sy bevele maak my benoud en hou my vas. Is die lewe wat God vir my wil hê, ‘n vervelige, “boring” lewe?”


Dis ‘n feit, daar is opstand in baie mense se harte teen God se opdragte of ten minste dan ‘n wantroue teenoor God se wette. Daar’s ook al hoe meer ‘n openlike weerstand teen God se wette... dit wat God beveel ten opsigte van seksualiteit, eerlikheid, die noodsaak van vergifnis vir ander, onderwerping aan gesag... noem maar op! Die wêreld rebelleer al meer teen God se gebooie. Ons hoor : “Ag, God se wette is outyds, dit steel ons pret en plesier!” Ja, een rede vir hierdie minagting van God se opdragte is dat die duiwel ons wysmaak God ‘n tiran is wat ons nie lewensvreugde gun nie! Dis trouens die sluwe slenter waarmee hy Adam en Eva in ‘n wip gevang het! Satan wil ons laat glo dat God se gebooie en bepalings onbillik, onregverdig en nadelig is.

Dis natuurlik alles ‘n groot leuen! Moses gee vir ons in DEUTERONOMIUM 4 :1-10 ‘n baie belangrike perspektief op God se opdragte. (Hy berei die volk Israel voor vir hulle besitname van die beloofde land.) Dis duidelik : God se opdragte, voorskrifte, gebooie en bepalings vir sy mense is billik en juis tot hulle beswil! “Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?" (7,8) Jy kan dit maar toets. Noem een gebod van God wat onbillik of skadelik is. Noem een opdrag van God wat nadelig is vir die mens. Noem een voorskrif van God wat ten doel het om die mens ongelukkig maak. Daar is nie so iets nie! Die teendeel is waar- dis juis die ongehoorsaamheid aan God se opdragte wat lei tot oneindige hartseer en stukkende lewens! Hoeveel mense wens nou op hierdie oomblik : “Het ek maar na die Here se Woord geluister, dan het my lewe so anders verloop...” 

DIE LIEFDEVOLLE VERLOSSER!

Hoe moet ons God se gebooie verstaan? In watter lig moet ons dit beskou? Die groot probleem is dat mense God se wette en opdragte as ’n klomp koue losstaande reëls sien. Asof God sommer net skielik op ’n dag besluit het: “Ouens, ek wil die lewe vir julle moeilik maak, hier is ’n klomp moeilike reëls en ek kan nie wag dat een van julle oortree nie, dan kan ek julle straf.” Nee, duisend maal nee! Nou maar waar kom God se gebooie dan vandaan?

Moses verduidelik die konteks van God se gebooie hier in Deuteronomium 4 aan die volk Israel. Hy herinner hulle aan die verlossing uit Egipte. “Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit ...” (37) In effek : “Julle is mense wat God se liefde en verlossing en nabyheid ervaar het. Ons God wat ons verlos het is uniek, onvergelykbaar met enige ander afgod.” Die punt is - God se gebooie staan in die konteks van ’n verhouding, ’n liefdes verhouding! God het Israel verlos en bring hulle nou in ‘n nuwe land in en gee daarom opdragte en reëls oor hoe om gelukkig in die nuwe land te leef p ‘n manier wat aan Hom eer sal bring. Uit liefde verlos Hy mense en vir daardie mense gee Hy uit liefde sy opdragte wat billik is en tot hulle voordeel is. God maak reëls vir die mense wat Hy gered het. Die reëls is daarop gemik om sy eer te bevorder en om elke faset van ons lewe te beskerm. God se reëls en ordes is bedoel om ons lewens, ons huwelike, ons eiendom, ons naam, onsself en ons medemens te beskerm. Breek hierdie reëls dan sien en ervaar ons hoe word lewens, huwelike, eiendom, ja ‘n hele samelewing verniel en uiteindelik vernietig! Maak jou oë oop en jy sal dit sien...

Jesus gee ook aan die Nuwe Testamentiese kerk opdragte. Jesus gee sy bevele aan mense wat Hy uit die slawerny van sonde verlos het en weer heel gemaak het. En nou sê Hy vir ons : “As julle heel en gelukkig in my teenwoordigheid wil lewe en my wil eer moet julle my opdragte gehoorsaam.” 

Anders gestel,God sê : “Nou is julle my kinders, julle was slawe van Sonde en Satan, maar nou is julle my kinders, deel van my gelukkige gesin. Hier is die reëls vir ons huis.” God se reëls is nie die reëls van ‘n tiran of despoot nie, maar van ‘n liefdevolle Vader! 

Ons wys ons liefde vir Hom as Vader juis deur sy opdragte uit te voer!

Dit alles is billik en dis nie swaar nie! “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.” (1 Johannes 5:3,4)

[Voel jy eerlik nog steeds dat God se wette en bepalings onbillik en benouend is? Kom ek wees reguit met jou. Die fout is nie by God se wette nie, maar by jou hart. As Hy jou hart verander, sal jy insien dat sy gebooie ‘n vreugde is!]

Ek hoop ons gaan met nuwe oë na God se opdragte kyk! Na elkeen van sy opdragte, want elkeen is belangrik as ons Hom wil eer en gehoorsame vreugdevolle kinders van Hom wil wees! En baie belangrik! Dis ons heerlike voorreg en plig om hierdie opdragte van God by ons kinders en kleinkinders in te skerp!

"Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.
Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’" (Deuteronomium 4:9,10)

Kom ons luister na ‘n paar van sy opdragte aan sy verloste Nuwe Testamentiese volk, die kerk soos uitgespel in Romeine 13:8-14.

“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.

Al die gebooie: "Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie," of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."

Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.

Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.

Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.

Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie”.


En terloops : BAIE DANKIE AAN ALMAL WAT MEEGEWERK HET OM ONS DANKFEES VAN VERLEDE NAWEEK SO 'N SUKSES TE MAAK!

Ons eie "boemelaars" - Hannie van Wyk en Ria Struwig

Hierdie skoolhoof kan ook pannekoek bak! Petri van Wyk wys sy slag met die pan. Saam met hom is Charlotte du Preez, Jolindie Grobbelaar en Beaty Breytenbach.





Vleiswerk is spanwerk!


Martiens Boshoff bring sy kant.

Donderdag 28 Junie 2012

BILLIK EN TOT ONS BESWIL

- afwesige pa's is nie God se bedoeling nie!

Onlangs berig die dagblad BEELD : Die getal wit mans in Suid-Afrika wat kinders het, maar “afwesig” is omdat hulle nie in dieselfde huis as hul kinders woon nie, het van 13% tot 17% gestyg.

Dít blyk uit syfers wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) ingewin en ... in Pretoria op die jaarlikse konferensie oor kindermishandeling voorgelê is.

Lucy Holborn, navorsingsbestuurder van die SAIRV, het gesê die navorsing oor afwesige pa’s is een van die kommerwekkendste dele van hul studie oor gebroke gesinne.

Afwesige swart pa’s het van 46% tot 51% gestyg en afwesige bruin pa’s van 34% tot 39%, terwyl die afwesige Indiër-pa’s van 17% tot 13% afgeneem het.

Meisies wat sonder hul pa grootword, is meer geneig om ’n swak selfbeeld te hê en riskante seks te beoefen en om probleme in romantiese verhoudings te hê.

Seuns wat sonder ’n pa grootword, is meer geneig tot aggressiewe gedrag.

Sue Krawitz, voorsitter van die Nasionale Aannemingskoalisie en direkteur van die Impilo-kinderbeskermings-en-aannemingsdienste, het gesê net 33,5% van Suid-Afrikaanse kinders woon by albei ouers.

Hierdie skrikwekkende toestand is die direkte gevolg van die verwerping van God se voorskrifte en bepalings!

Kom ons verduidelik. God is ons Maker en Hy het die bekwaamheid en reg om die reëls van ons bestaan te maak. Hy het sekere ordes daar gestel. Sy ordes is goed en onontbeerlik vir ons welsyn en funksionering as mense tot sy eer. In Deuteronomium 4:8 sê Moses van God se wette en voorskrifte :

“Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?”

GOD SE BILLIKE BEPALINGS IS TOT ONS EIE BESWIL.

Ons verwerp dit tot ons eie skade en skande! Die ontwerper en vervaardiger van ‘n spesifieke  voertuig weet mos wat is die beste brandstof, olie, smeermiddels en gebruiksvoorskrifte vir daardie bepaalde model. Wie dit ignoreer sal ongetwyfeld skade ly. God as ons Ontwerper en Maker, weet wat is vir ons die beste. God het vir ons voorskrifte gegee oor al die verhoudings waarin ons staan : man en vrou,  ouers en kinders, werkgewers en werknemers... Dit was waar vir die Israeliete voor Christus se koms. Maar ook vir ons wat leef na Jesus se koms is daar voorskrifte en opdragte. In die Nuwe Verbond het Jesus self ons norm geword en alle verhoudings kom vernuwe. Die vryspraak wat God ons skenk deur geloof in Jesus moet gevolg word deur ‘n nuwe lewensstyl van heiligmaking. Dit vind op ‘n praktiese wyse neerslag in gehoorsaamheid aan die Nuwe Testamentiese voorskrifte wat die huwelik, gesin en werkplek raak.

Die verontagsamening van God se ordes het skrikwekkende gevolge! (dit word maar net weer bevestig deur die berig in BEELD) Verbrokkelde huwelike, verskeurde gesinne, verwarde kinders, arbeidsellende... Dis die gevolg van ‘n verwerping van God se ordes en die aanhang van afgode soos gierigheid en wellus. Materialisme en gierigheid eis duisende slagoffers. 
  • So baie pa’s jaag net na aardse besit en prestige en skeep die geestelike en emosionele versorging van hulle gesinne af.  So baie moeders laat  bediendes of dagmoeders hulle kinders grootmaak. Finansiële verpligtinge word as rede voorgehou. Dit is soms regtig die geval (en daarmee het mens baie simpatie), maar hoeveel keer gaan dit eintlik maar oor ‘n luukse lewensstyl, ‘n ekstra motor of ‘n vakansiehuis by die see? En so word ons kinders se geestelike welsyn geoffer aan Mammon... Is hierdie dinge dan vir ons belangriker as die kinders wat God aan ons geskenk het om vir Hom op te voed?
  • Die ander afgod wat verwoesting saai is wellus en onreinheid. Ons laat toe dat ons en ons kinders volgepomp word daarvan deur die TV, flieks en tydskrifte wat ons in ons huise toelaat. Losbandigheid bring verbreking in die lewens van ons grootmense en kinders! Die gevolge hiervan is huweliksontrou, egskeiding en gesinsverbrokkeling wat meer skade aanrig as alle plaasmoorde en padongelukke saam!


Dis tyd dat die kerk weer die moed sal hê om te sê wat die Bybel sê :

“Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.” 
(Maleagi 2:16)

Waarom voel God so ernstig oor hierdie saak? ‘n Gesonde huwelik is die basis van ‘n nageslag wat God eer! (Maleagi 2:15)

Die groot rede hoekom so baie agter hierdie afgode aanloop en dan die bittere vrugte van onder andere egskeiding en kinderverwaarlosing pluk,  is leegheid. Daar is ‘n vakuum in elke hart waar Jesus nie Koning is nie!  Die grootste oorsaak van ellende in ons gesins- en volkslewe is nie slegte regering of swak ekonomie nie, maar sondige harte wat weier om voor Jesus te buig en God se ordes as lewensreël te eerbiedig!