BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Wederkoms. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wederkoms. Wys alle plasings

Saterdag 26 Augustus 2023

BLY JY DALK TE LEKKER IN BABILON?

- Daar is geen toekoms in BABILON nie!

(Jy dink miskien dis lekker, maar dis GEVAARLIK!)


Waar woon jy en voel jy tuis? Waar behoort jy? Waar is dit lekker?  Ek bedoel nou nie Tsumeb, Windhoek of dalk die Kaap nie. Ek bedoel  Babilon of  die nuwe Jerusalem, die twee stede waarvan ons in Openbaring lees? (Kyk gerus by 
Openbaring 18:1-3;  21:1-3)

In Ou Testamentiese taal - Babel of Sion? Ja, want hierdie twee plekke het ‘n lang en onstuimige geskiedenis lank nog voor die tyd waarin Openbaring geskryf is en waaroor Openbaring skryf.

ABSOLUTE KONTRAS

Hierdie twee stede is ook op die uiterstes van die spektrum, onversoenbaar, “incompatible”. Dis die absolute “Tale of two cities” om nou maar Dickens se woorde te gebruik.  Dit verteenwoordig twee opponerende leefstyle, waardesisteme, koninkryke en eindbestemmings.  Dis duisternis teenoor lig. Leuen teenoor waarheid.  Geweld teenoor vrede. Onsedelike boosheid teenoor rein heiligheid. 

‘n Onrein losbandige prostituut teenoor ‘n rein maagdelike bruid.


DIE VERRE OORSPRONG

Kom ons gaan terug ver na die Ou Testament. Jerusalem is God se uitverkore stad. Ook bekend as, Sion. Hier is die troon van Dawid, die setel van God se heilige tempel, die sentrum van ware aanbidding. Jerusalem het egter gruwelik gesondig en God het die goddelose Babel gebruik om sy stad, sy mense te straf. Die volk Israel is in ballingskap na Babilonië weggevoer. Daar het hulle swaargekry en getreur. Die hartseer word so treffend verwoord in die bekende Psalm 137. (Onthou jy nog Boney M. se treffer "By the rivers of Babylon"?) 



Alles het so hopeloos en hartseer gelyk, maar God het sy volk en Jerusalem nie afgeskryf nie. God nie sy verbond vergeet nie. Deur die profete het Hy weer die einde van die ballingskap, die herstel van Jerusalem, die herbou van die tempel en die straf oor Babel aangekondig. 

God het nou vir sy volk deur die profete aangekondig dat Jerusalem se straf verby is. Jesaja 40:1,2 



God kondig ook die straf oor Babel aan. Kyk byvoorbeeld na Jesaja 47 waar die val van Babel aangekondig word. Jesaja 47:10-11




Saam met die oordeelsaankondiging oor Babel kom God se oproep om uit Babel pad te gee. Jesaja 48:20  God beveel sy mense :"Kom nou weg uit hierdie bose plek en sisteem, hierdie plek gaan nou vernietig word!"



Teenoor God se oordeelsaankondigings oor Babel verseker Hy sy eie volk, die stad Sion dat Hy hulle nooit sal vergeet nie. Jesaja 49:14-16  God gaan sy stad reinig en bevry  Jesaja 52:1-2   Hierdie nuus dat God inderdaad KONING is (ten volle in beheer van die geskiedenis is en alle mag het om sy volk se lot postief  te verander) is goeie nuus!  (Niks anders nie as EVANGELIE) Jesaja 52:7








Hierdie beloftes van God oor  sy volk se bevryding uit Babel en die herstel van Jerusalem is natuurlik letterlik vervul. God het in sy absolute soewereine almag, die heidense koning Kores gebruik om die volk weer terug te bring na Jerusalem en die stad en die verwoeste tempel weer te herbou. 

Maar daar het nog iets heerliker  gekom. Jesus, die Lydende Kneg van Jesaja 53 het finaal ‘n einde aan die ballingskap gebring. Hyself was die ware tempel en Hy herstel Jerusalem  - Hy maak ‘n rein bruid, sy kerk bymekaar wat in Openbaring die nuwe Jerusalem genoem word.

Die kontras tussen die onheilige Babel en God se nuwe herstelde Jerusalem word deur Paulus gebruik om die Christene in Korinte tot heiligheid aan te spoor. 2 Kor. 6:17,18 7:1 vgl. Jesaja 52:11   Die goeie nuus van die bevryding uit Babel is nou die Goeie Nuus van die evangelie, ons verlossing uit die verslawende ballingskap van die sonde en sy sisteme. Maar as ons hierdie Goeie Nuus glo, moet ons wegbreek van alle sonde en ongehoorsaamheid! Dis lewensbelangrik!




(Om na 'n boodskap oor bogenoemde teks te luister, kliek op KOM WEG DAAR!)

IN OPENBARING

Maar kom ons blaai nou na Openbaring. Hier word die kontras tussen Babel en die nuwe Jerusalem, Jesus se bruid op ‘n spits gedryf. Die parallel met die beloftes in Jesaja en die boodskap van Openbaring is so opvallend.  Babilon is die simbool van hierdie bose wêreld met sy wellus en gierigheid wat die ware kinders van God onderdruk. Die oordeel oor Babilon word hier in hoofstuk 18 uitvoerig beskryf…



Let op Openbaring 18:4 (vgl. Jesaja 48:20 en 52:11 waarna ons reeds gekyk het)


Hierdie beskrywings van haar sonde, uitspattige weelde, onsedelikheid en moord op God se kinders kom uit veral Jeremia en Jesaja. 



DIE REIN BRUID

Teenoor die losbandige prostituut Babilon met die uitspattige en uitlokkende houding en voorkoms staan die rein bruid van Jesus, die nuwe Jerusalem, die geheiligde volgelinge van Jesus. Openbaring 21:2; 9-11 Daar is nie plek om op al die eienskappe en heerlikheid van die nuwe Jerusalem in te gaan nie. Een saak wat so belangrik vir onms tyd is moet egter duidelik uitgewys word – vers 27!





Waar voel jy tuis? (Voel jy tuis by die Visfees, Wildsfees of watter fees ook al waar gehoer en rumoer word?) Jy kan nie ‘n burger van beide Babel en die nuwe Jerusalem wees nie. Jy kan nie ‘n ondersteuner van altwee bly nie… Jy kan nie hoer en bruid tegelyk wees nie!  Baie mense mislei hulleself… ons behoort mos aan die kerk, ons is mos gedoop en aangeneem…ons is mos deel van die Nuwe Jerusalem. Kom ons stel dit duidelik – God se Woord is baie reguit… as jy aangaan met valsheid en gruwels… as jy aangaan met jou onsedelikheid, jou dronkenskap, geweld, leuens, bedrog… vergeet van toegang tot die heilige stad.

Die waarheid van God se bedoeling is nie om ons weg te stoot nie, maar op te roep tot bekering. Laat staan jou sonde en bekeer jou tot Jesus. Dis die duidelike boodskap van die sewe briewe aan die gemeentes in dieselfde boek van Openbaring.(Kliek op Boodskap van die Heilige Gees) Die oproep tot bekering kom in Openbaring na kerkmense, mense wat binne in die kerk leef soos aanhangers van Babilon. Kom en laat jou klere gewas word in die bloed van die Lam!

Kyk op YouTube. Kliek op LEKKER IN BABEL?

Vrydag 21 Julie 2023

FEES VAN DIE AASVOËLS!

 - Uitgenooi na die Bruilofsfees of Aasvoëlfees?

Hoor bietjie!  ‘n Uitnodiging na die feesmaal van God! Dit klink opwindend...heerlik! (Maak gerus jou Bybel oop by Openbaring 19:17-21)  Maar wie word hier  genooi? Spesifiek nou in vers 17,18? 

"En ek het een engel in die son sien staan. Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat hoog in die lug rondvlieg, gesê: “Kom hierheen, trek saam na die groot feesmaal van God, om die vleis van die konings en die vleis van die chiliarge te eet, die vleis van magtiges en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal – vry mense sowel as slawe, geringes sowel as magtiges.” 


Dis ‘n uitnodiging aan die voëls, seker alle roofvoëls wat definitief aasvoëls sou insluit. Om die vleis van God se vyande te vreet. Dit klink baie kru, afgryslik en grusaam – en dis bedoel om so te wees. God praat reguit en ondubbelsinnig eerlik. Oor die heerlikheid wat wag op die heiliges, maar ook oor die ellende wat wag op die onheiliges.

In Openbaring kry ons baie skerp kontraste. Die Heilige Drie eenheid van God word gekontrasteer met die onheilige drie eenheid nl.  die Satan (draak), die antichris (dier) en die vals profeet. Teenoor die merk van die dier is die merk van God. (Dra jy God se merk? - Dis die belangrike vraag!) Die rein bruid van die Lam wat ook bekend is as die nuwe Jerusalem staan in skrille kontras met die onrein prostituut wat bekend is as Babilon. (Geen groter teenstelling is moontlik nie - maagdelike bruid teenoor losbandige hoer) God se kinders word uitgenooi na ‘n heerlike maaltyd, die bruilofsmaal van die Lam – maar daar is ook ‘n ander maaltyd – kom ons noem dit -die feesmaal van die aasvoëls! 



maar in skerp kontras staan die fees van die


Die getroue gelowiges sit aan by die bruilofsmaal, maar die goddeloses is self die grusame vleismaal. Bisarre ironie. Hulle is die genooides, maar hulleself gaan verslind word! Soos talle ander beelde in Openbaring wat uit die OT kom, kom hierdie beeld ook uit die Ou Testament naamlik Esegiël 39:17-20 (lees) 

Die vleisgereg wat deur die gulsige voëls verorber word is God se vyande… en hulle kom uit alle soorte en lae in die samelewing.

Hier is sprake van 'n groot geveg!

Vers 19 "En ek het gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs saamgetrek het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër."

Dit gaan hier oor die finale veldslag tussen Jesus en al die vyande van God. Die uitslag van hierdie slag is nie onseker nie, daarom die uitnodig aan die aasvoëls nog voor die geveg begin het. Die detail van die veldslag word glad nie bespreek nie, maar dis duidelik dat  Jesus, die Ruiter op die wit perd oorwin het! Ons lees reeds van Hom in 19:11. 



Daar is geen twyfel wie Hy is nie – 19:13 Hy is die Woord van God. (Vergelyk Johannes 1:1)  Die ewige Seun van God!



Die Satan se twee hoof handlangers, die dier (Antichris) en die vals profeet (simbool van alle misleidende vals godsdienste en die vals kerk) word lewend in die vuurpoel gegooi. 

Vers 20.  "Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi."

Die klem op die feit dat hulle lewend in die vuurpoel  gewerp word, benadruk die afgryslike  grusaamheid van God se oordeel en straf op hulle wat opstandig volhard met sonde!

VERSADIG GEVREET AAN DIE VLEIS VAN GOD SE VYANDE!

Die paragraaf het begin met die uitnodiging aan die roofvoëls en eindig met die roofvoëls. Vers 21.

"Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis."

Hulle het hulle dik gevreet aan die vleis van God se vyande! Die oordele van God is finaal en volledig! Volgens Joodse tradisie moes dooies so gou moontlik begrawe worde – hier word nie een van God se vyande begrawe nie – hulle sterf as totaal vervloektes! Dit pas in by die profetiese vloek wat ons in Jeremia 7:33 vind : “Die lyke van hierdie volk sal kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde, en niemand sal hulle verwilder nie.”



Nou wat is die boodskap vir ons vandag? 

Onthou net Openbaring praat in prentjies met ons, dis beeldspraak.

TROOS EN WAARSKUWING.  Openbaring is in die eerste plek geskryf om God se kinders wat swaarkry te bemoedig en te vertroos. Een van die kwelvrae van God se kinders op aarde is juis – "Kyk, hoe kom die goddeloses weg met als! Gee God dan nie meer om nie? Dit lyk vir ons of daar nie meer iets is soos geregtigheid en regverdigheid nie."   En nou is die troos dit –  daar sal beslis en volledig afgereken word met die vyande van God en sy kerk.

My broer en suster, jy wat ly onder die goddeloses van hierdie wêreld – weet net dat die Almagtige God geregtigheid sal laat geskied. Die wraak kom Hom toe en Hy sal dit uitvoer! Die dikgevrete aasvoëls is die sigbare bewys!

Klink God dalk nie hier bietjie te wreed en sadisties nie? Opstandige en ongelowige mense sal wel hieroor wonder. Ons moet na die volle prentjie van God in Openbaring kyk.  God is die heilige en liefdevolle God wat Sy Seun as Lam laat slag het om ons skuld te betaal en ons te red. Maar dis juis sy onkreukbare heiligheid en integriteit wat nooit sonde en onreg ongestraf sal laat bly nie. Hierdie God wil graag dat alle mense gered word – dis duidelik uit die talle oproepe tot bekering in die boek van Openbaring.  Dink aan die boodskap van die SEWE BRIEWE(kliek) Die onderliggende boodskap van bekering is deurgaans aanwesig. Maar telkens lees ons van die weiering om te bekeer byv. Openbaring 9:20-21. 

"Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle dus nie bekeer van hulle moorde, towery, onsedelikheid of stelery nie"

God het plae gestuur om mense te waarsku, maar selfs diegene wat die pla oorleef het, het net soos die Farao van voorheen, steeds geweier om hulle te bekeer!  

 As bekering verwerp word en die Lam se offer vertrap word, wag daar oordeel

Die mens wat hel toe gaan het doelbewus gekies om te gaan!  PUNT. God is 'n God van redding sowel as oordeel! Hierdie oordeelsaspek van God se handelinge word totaal verswyg deur die vals kerk met sy “queer teologie” sy mensverering en sy "goedvoelprediking"  

EN WAT VAN JOU?

Is jy deel van die groep opstandiges teen God?  Maak jy kompromie met die goddelose wêreld?  (Onthou net die merk van die dier gaan oor kompromie met die goddelose denke en dade van die opstandige wêreld.) Is jy ‘n aanhanger van die Satan se trawante soos die vals profeet? Wees gewaarsku:



Maar my vriend/vriendin... ek haas my om vir jou uit te nooi - die genadedeur staan vandag nog oop – Kom gryp die verlossing aan in Jesus en weet seker dat jy ‘n genooide is na die Bruilofsmaal van die Lam! Jy hoef nie 'n aasvoëlgereg te word nie! Jy kan feesvier saam met die LAM!

(Erkenning aan prof. Jan du Rand se Openbaring A-Z waaruit ek soms woordeliks aangehaal het)

Woensdag 13 September 2017

HARVEY, IRMA EN DIE BRANDERS…

Wat wil Jesus in sy profetiese rede vir ons sê?



“…angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe.” (Lukas 21:25)







Met Harvey, Irma, Maria en soveel ander vloede, aardbewings   (Meksiko) en rampe vars in die geheue dink mens onwillekeurig aan hierdie waarskuwende woorde van Jesus wat deel is van sy beroemde profetiese rede. (Sien Lukas 21:5ev) 

Wat wil Jesus vir ons nou sê, wat beteken hierdie dinge vir ons vandag? Ons moet myns insiens pasop vir twee slaggate as ons hierdie stuk lering van Jesus vandag oordink. Die een slaggat is om op ‘n simplistiese wyse gevolgtrekkings en berekenings te maak oor Jesus se wederkoms. Die tipe van uitlatings...“Jong, kyk hierdie klomp rampe, die wederkoms gaan beslis in 2017/18 plaasvind...” Die onlangse geskiedenis van die kerk lê besaai met die skelette van teleurstellings en mislukkings in die verband. Maar daar is ook ‘n ander slaggat - om Jesus se woorde maar net te ignoreer of te reduseer tot ‘n stuk geskiedenis wat net vir die dissipels van destyds belangrik was! Al Jesus se woorde is gesaghebbend en aktueel, nog meer so as dit nie net ‘n enkele teks is nie, maar ‘n uitvoerige stuk lering wat in drie evangelies voorkom!

NIE SO INGEWIKKELD!

Daar is min Skrifgedeeltes wat tot soveel uiteenlopende interpretasies aanleiding gegee het. Tog is die hoofboodskap eintlik baie duidelik en eenvoudig! (al sou mens bly verskil oor sommige van die detail)

Die agtergrond van Jesus se uitsprake is baie insiggewend. Die dissipels het ‘n onmiddellike koms van die koninkryk verwag!* Dinge gaan nou gebeur! Jesus het mos so pas triomfantelik as Koning, Jerusalem binnegery! (Lukas 19) 

VERWOESTING VAN JERUSALEM EN DIE WEDERKOMS

Jesus se hoofdoel met hierdie rede is om hulle verkeerde verwagtings reg te stel en hulle aandag te kanaliseer op wat belangrik is in hierdie tyd voor die finale koms van die koninkryk. Vir die korrekte verstaan van hierdie gedeelte is dit belangrik om raak te sien dat Jesus se woorde rofweg oor twee gebeurtenisse handel : Verwoesting van Jerusalem (wat gebeur het in 70 nC) en Sy wederkoms! Dis twee gebeurtenisse wat deur ‘n lang tydinterval geskei word, maar die dissipels en eerste Christene het dit natuurlik nie besef nie. So ‘n gemengde en verweefde tema is vir ons ‘n vreemde manier van praat, maar dit maak sin as mens iets verstaan van die manier waarop die Ou Testament en spesifiek die profete oor God se werkinge in die geskiedenis praat... Volgens hierdie manier van dink volg God se oordele en reddingsdade sekere patrone, want dis dieselfde God wat dwarsdeur die geskiedenis werk. Daarom byvoorbeeld word die verlossing uit Egipte, die eksodus ‘n model vir alle verlossingsdade van God, ja ook vir die verlossingswerk van Jesus! Ook in God se oordele is daar duidelike patrone sigbaar wat telkens weer herhaal word tot en met die finale oordeel.

Die eerste tema is dus die val van Jerusalem en verwoesting van die tempel. ‘n Gebeurtenis van ontsagwekkende ingrypende groot betekenis. Dit was God se oordeel oor Israel omdat hulle Jesus verwerp het. “Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." (Lukas 19:41-44) 

Jesus wil verder nog iets belangriks sê : Die oordeel oor Jerusalem gaan ‘n skrikwekkende en dramatiese gebeurtenis wees, maar onthou dis nog nie die end nie! Pasop vir verkeerde voortydige gevolgtrekkings! Die stad en die tempel gaan wel verwoes word, maar die kerk en haar getuienis gaan voort. Dit gaan vervolging meebring en dit gaan volharding en waaksaamheid vra. Dit opsigself sou vir die eerste dissipels ‘n vreemde gedagte wees. Hulle sou dink :”Ons is mos die mense van die Messias, die Christus, ons gaan triomfeer en oorwinnaars wees! Maar wat nou, nou hoor ons van vervolging en verdrukking, hoe werk dit?” Hier kom ons dan by die verdere en groot doel van Jesus se rede. Om sy volgelinge voor te berei en te bemoedig vir die moeilike tye wat kom. Sy fokus is eintlik gerig op die tyd van wag vir die finale koms van die koninkryk.

GEEN TYDSROOSTER NIE

Jesus voorsien nie ‘n kalender met datums nie, maar ‘n wye omvattende prentjie. Die wederkoms word in terme van kosmiese tekens beskryf – son, maan, sterre. Die see word ook in besonder genoem, want in die antieke wêreld en veral vir Israel het die see geweldig vrees ingeboesem. Dit gaan dus oor meer as net letterlike tekens, eerder ‘n beskrywing van die geweldige katastrofale, verbysterende en aardskuddende karakter van Jesus se koms. Dit gaan iets wees sonder weerga. Gewone taal is nie genoeg nie. Die impak is bonatuurlik en angswekkend groots. Iets van die angs en verslaendheid waarmee Harvey en Irma gepaard gegaan het... maar nog baie meer! Daarom is gebeure soos Harvey en Irma inderdaad 'n aanmaning ("reminder") en wekroep om gereed te wees vir die laaste angswekkende GROOT DAG!

Jesus beklemtoon ook die dringendheid, sekerheid en nabyheid van die gebeure.  Hierdie dinge is nie teorie, bangmaakstories of studeerkamerpraatjies nie, maar werklikheid! Vers 32. “Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur.” Natuurlik het dit betrekking op die val van Jerusalem wat in die leeftyd van daardie geslag gebeur het. Maar daarmee saam word die werklikheid van sy wederkoms ook onderstreep. Een moontlike manier om hierdie teks te verstaan is dat dit wil sê : “In hierdie geslag nog sal hierdie dinge beslis begin gebeur, die geskiedenis het in beweging gekom en is onvermydelik op pad na die finale oordeel en wederkoms!***

PASOP!

In die lig van die werklikheid van sy koms, kom Jesus met ‘n dringende waarskuwing en oproep! Dit bring ons by die klimaks van sy boodskap! "Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn." (34-36) 

Hoe uiters noodsaaklik vir die kerk van ons tyd om dit te hoor! 

Pasop, wees waaksaam, wees op julle hoede - veral vir twee dinge: Plesier en Bekommernis! 

Dit lei mens se aandag af, dit stomp mens af vir die werklikhede van die aanbreek van die koninkryk en gaan veroorsaak dat mense nie gereed gaan wees as Jesus kom nie! Want onthou niemand weet wanneer Hy gaan kom nie!**** Dis wat ons sien gebeur. Ons mense word meegesleur en geokkupeer deur so baie dinge... Daar is ‘n oorweldigende spyskaart van plesiere en oordadigheid! Daar is ‘n oordonderende las van bekommernisse en kwellings. Die gevolg is? Ons is altyd net té besig... met een of ander sport of vermaak...met ‘n eindelose gerondhardloop om finansiële sekuriteit te probeer verseker.

IN BIDDENDE AFWAGTING

Positief, is Jesus se opdrag – bid! Dis sy raad vir die eindtyd! 

Mense wat gereed wil wees vir Jesus se koms sal erns met gebed maak. Mense wat die wederkomsboodskap glo, gaan nie hulle lewe wy aan plesier, bekommernisse, berekenings (en stryery) nie , maar aan gebed!

Die kernboodskap en fokus van Jesus se profetiese woorde is baie duidelik : Nie berekenings nie, maar paraatheid. Nie ’n tydskema nie, maar ‘n benadrukking en onderstreping van die werklikheid van ‘n wêreldeinde, van ‘n oordeel, van ‘n dag van afrekening en beloning! Nie soseer ‘n toekomsprofesie nie, maar onderwys in Christelike gedrag tydens die tyd wat ons wag. Getrouheid in die interim tyd voor Sy koms! Hierdie getrouheid sal veral waaksaamheid en gebed behels!

VOETNOTAS

*Selfs na Jesus se opstanding het hulle nog steeds so ‘n onmiddellike verwagting van die koninkryk se koms gehad en Jesus moes hulle weer reghelp in hulle verkeerde verstaan van dinge. “Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld." (Handelinge 1:6-8)


** Psalm 46:2-4; 65:7; 89:9; 107:23-32 Sien die rol van kosmiese tekens in die Ou Testament in Jesaja 13:7-13; 24:18-20; 33:9; 34:1-15; Jeremia 4:23-26; Esegiël 32:7-8; Daniël 8:10; Joël 2:10, 30-31; 3:15; Amos 8:9; Nahum 1:4-5; Haggai 2:6, 21

*** Daar is natuurlik baie pogings om die term “hierdie geslag” op ‘n ander manier te verklaar, maar dis nie baie suksesvol nie. In die Nuwe Testament beteken “hierdie geslag” normaalweg die geslag van die skrywer of spreker. Die hoog aangeskrewe geleerde D.A. Carson stel dit so : “‘This generation’ . . . can only with the greatest difficulty be made to mean anything other than the generation living when Jesus spoke.” ‘n Interpretasie wat “hierdie geslag” so verstaan en ernstige oorweging behoort te geniet is as volg : It takes the verb γένηται as an ingressive aorist. The same verb is found in all three Synoptics and is translated “takes place” (Matt. 24:34; Mark 13:30; Luke 21:32). As an ingressive aorist it emphasizes the beginning of the action with the meaning “begin to take place.” All those things would begin in that generation and find their ultimate completion at the Second Advent. This fits with the idea of not being deceived by the events mentioned in Matthew 24:4-8. The Lord specifically referred to these as “the beginning of birth pangs” (v. 8). [Stanley D. Toussaint, BibSac 161:644 (Oct 2004) p. 483-86] Lukas 21:32 sou ook so vertaal kon word : “Amen/voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal beslis/glad nie tot ‘n einde kom voordat/totdat al hierdie dinge (begin) gebeur het nie.” My Gereformeerde broer Janré van Jaarsveld het met die vertaling gehelp.

**** Matteus 24:36 "Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” En die ironie is, ten spyte van hierdie duidelike uitspraak hou mense aan om die tyd te probeer bereken!


Vrydag 19 Februarie 2016

ALLES IS TOE NIE OK NIE!

- Moenie deel wees van die hartseer statistiek van die soutpilare nie!

Sommige verkondig ‘n nuwe “evangelie” – “Moenie stress nie, alles gaan OK wees!” “ ‘n Mens hoef nie te stress oor ‘n wederkoms of finale oordeel nie”, sê ‘n tipiese lekkerleef post modernistiese profeet van ons tyd. Jesus self skets vir ons egter ‘n heeltemal ander prentjie in LUKAS 17:26-35.* Volgens Hom sal baie nie gereed wees op die dag van oordeel en finale skeiding nie. Vir baie mense gaan dinge nie OK wees nie, vir ewig gaan dit nie OK wees nie!

Waarom gaan so baie mense die Koninkryk van God misloop? Waarom gaan so baie mense onverhoeds betrap word deur die oordeel van God? (Gaan hulle dalk die hemel mis omdat hulle nie die sogenaamde profesie van Haggee oor die bloedmane geglo het nie? NEE!) Die verrassende Bybelse antwoord, is dat niemand die hemel gaan misloop omdat hy te sleg was nie! Ja, jy het reg gehoor, niemand gaan verlore omdat hy te sleg was nie. “Hoe kan jy so sê?”, vra jy. Dis maklik om te bewys : In die hemel gaan daar voormalige moordenaars en egbrekers wees – Dawid om maar een voorbeeld te noem. Daar gaan voormalige skelms wees – jy sal beslis vir Saggeus daar kry. (Vgl. 1 Kor. 6:9-11)

GEEN REAKSIE OP GOD SE WAARSKUWINGS NIE!

Mense gaan die Koninkryk en die vrede van God misloop omdat hulle nooit tyd gehad het vir Jesus en sy boodskap nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nooit hulle behoefte aan genade besef het nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nie gereageer het op God se waarskuwings nie. Mense gaan die Koninkryk misloop, omdat hulle nooit tot ‘n daadwerklike keuse gekom het om Jesus se vergifnis te aanvaar nie, en onthou as jy Jesus nie aanvaar nie, verwerp jy Hom! (as jy hier lees en jouself  nog nooit aan Hom oorgegee het nie, is jy tot op hede besig om die Seun van God te minag en te verwerp!) 

Het jy al erns gemaak met God se waarskuwings en jou bekeer?

Kom ons stel dit anders, in ‘n algemene sin : Wat is die grootste gevaar wat bestaan? Die grootste gevaar is om nie die gevaar te besef nie! Die grootste gevaar is nie dat daar ‘n brand in jou huis uitbreek nie, maar om onbewus te wees daarvan en rustig te lê en slaap, terwyl die vlamme al nader kruip... Die grootste gevaar is nie die ernstige siekte nie, maar om onbewus te wees van die siekte wat besig is om jou liggaam op te vreet...

DIE GEWONE GANG VAN DIE LEWE...

Ons grootste gevaar is om so vasgevang in die gewone gang van sake te wees, sodat ons nie betyds aandag gee aan die waarskuwings en die genadeverkondiging in God se Woord nie! Opvallend in hierdie gedeelte - ‘n Mens hoef nie ‘n vreeslike openbare sonde te pleeg of in misdaad te verval om onder God se oordeel te beland nie Jy kan maar net rustig en selfgesentreerd met jou lewe aangaan...

Jesus praat hier baie ernstig oor die koms van die Koninkryk en die finale skeiding wat sal plaasvind. Hy waarsku dat dit skielik en onverwags sal wees. Mense sal maar “soos gewoonlik” nog met hulle lewens aangaan en dan kom die oordeel.

NOAG EN LOT

Om dit te onderstreep noem Hy twee voorbeelde uit die geskiedenis : Noag en die sondvloed, Lot en die verwoesting van Sodom. Hierdie twee tydperke gee vir ons insig in die wederkoms. Die gebeurtenis van die wederkoms sal soortgelyk wees. In beide gevalle het God die goddeloosheid van mense skielik gestraf. In beide gevalle was die oordeel van God baie onverwags. Die waters van die sondvloed het die mense verswelg voor hulle kon voorsorg tref, die vuur uit die hemel het die mense verteer voor daar tyd vir planne was! Die mense het maar met hulle gewone lewens aangegaan en hulle nie gesteur aan God se waarskuwings nie. Die verkeerde was nie dat hulle geëet en gedrink en getrou en gebou het, maar nie tyd gemaak het om hulle lewens voor God reg te stel nie! Hulle het nie geluister na Noag se verkondiging nie. (2 Petrus 2:5) Ook die mense van Sodom het ‘n regverdige in hulle midde gehad naamlik Lot. (2 Petrus 2:6-8) In beide gevalle het God se oordeel die selfversekerde massas verdelg, maar ook ‘n klein groepie gered. Noag en sy familie. Lot en sy twee dogters.

Wat was die verskil tussen die massas aan die eenkant en Noag en Lot aan die anderkant. Natuurlik genade! Maar hoe het dit prakties gewerk? Beide Noag en Lot het betyds gehoor gegee aan God se waarskuwings. Vir Noag het God gesê om ‘n ark te bou, vir Lot het God gewaarsku om te vlug!

STATISTIEK VAN DIE SOUTPILAAR!

My vriend/vriendin luister terwyl daar tyd is! Vlug terwyl daar kans is. Moenie huiwer nie! Vlug vir jou lewe, die ewigheid is op die spel. Jesus beklemtoon die belangrikheid van drastiese optrede met die dringende waarskuwing : "Onthou wat gebeur het met die vrou van Lot!"  Tragies. Sy het wel die opdrag om te vlug gehoorsaam, maar net halfhartig. Haar gerieflike huis en mooi meubels was vir haar belangriker as God se opdrag. Daar is belangrike dinge in jou lewe wat keer dat jy die belangrikste, die ewige lewe kan ontvang! Vlug weg van jou ou lewe en vlug na Jesus, ons enigste ware skuilplek teen die toorn van God. Dink aan die vrou van Lot is ook die spesiale boodskap wat ek aan ons nuwe lidmate wil gee. Julle bely dat julle gehoor gegee het aan God se waarskuwings, julle bely dat julle ‘n keuse gemaak het – Volhard in hierdie keuse! Dink aan die hartseer statistiek van die soutpilare. So baie jong mense het al voor die kansel gestaan en bely dat hulle omgedraai het van die verkeerde pad en nou Jesus wil volg, maar na ‘n ruk het hulle weer omgekyk en terugverlang na die ou lewe! Vandag is hulle lewelose soutpilare...hard en ongevoelig vir God se Woord, koud, leweloos en verlore!

Alles gaan nie OK wees nie! Sommige mense tussen ons gaan nie gereed wees nie! Sommige in ons eie huise , sommige wat saam met ons werk... maak seker dat jy een van diegene sal wees wat wel gereed is!

Maak betyds seker. Vlug betyds. Vlug na Jesus! En bly by jou keuse!


*"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
"Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.
Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word."

Woensdag 02 September 2015

BLOEDMAAN

- is die einde van alle dinge naby?



Gaan daar iets vreesliks gedurende die nag van 27/28 September 2015 (of kort daarna) gebeur met ‘n besondere maansverduistering, die vierde in ‘n reeks van sogenaamde bloedmane? Hieroor word wyd berig in sekere godsdienskringe en selfs in die sekulêre media. (Kliek op CNN)



Ons word vertel : “Astronome het die tekens opgemerk. Geskiedkundiges het die betekenis daarvan erken. In 2014 en 2015 is daar die fenomeen in die hemelruim van vier bloedmane wat gedurende Joodse feesdae plaasvind. Dit het nog net drie maal in die geskiedenis plaasgevind: 1493-94, 1949-50 en 1967-68. Elkeen van hierdie datums het ’n buitengewone betekenis vir die volk Israel gehad. Vanaf die ontdekking van die Nuwe Wêreld tot die skepping van moderne Israel, is hierdie jare waarin die vier bloedmane verskyn het, ware keerpunte in die geskiedenis.” (Dit klink na iemand wat graag 'n boek wil verkoop...)

Bewerings oor die betekenis van die sogenaamde bloedmane is nou aan die orde van die dag. Wat moet ‘n Bybelgetroue Christen hiervan dink? Net 'n paar perspektiewe:

DIE EINDE IS BESLIS NABY!

In 1 Petrus 4:7 lees ons : “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.” Die Bybel sê dus duidelik dat die einde van alles naby is! God se Woord is genoegsaam en finaal en ons moet dit ernstig opneem. (of die wêreld nou saamstem of nie)  Die sogenaamde tekens van die bloedmane voeg dus niks nuuts by tot ons kennis nie! Die einde is beslis naby, maar wat beteken dit nou presies? "Naby" is natuurlik ‘n relatiewe begrip. Is dit nou dae, maande, jare, dekades of eeue? Dit hang alles af van mens se perspektief op die geskiedenis. “Naby” in die sin wat Petrus en ander Bybelskrywers dit in verband bring met die wederkoms is myns insiens nie ‘n bepaalde stuk tyd wat gemeet kan word nie, maar eerder ‘n uitdrukking dat die wederkoms ‘n naderende, onverwagse werklikheid en ontsagwekkende realiteit is wat al ons aandag en voorbereiding en waaksaamheid vereis! Met ander woorde : Wees gereed! Die res van Petrus se woorde bevestig hierdie siening. Die nabyheid van die einde (hetsy dit my eie dood of die wederkoms is) moet ons aanspoor tot selfbeheersing en nugterheid, juis sodat ons kan bid! Die erns van die tye, as ons dit reg verstaan sal ons gedurig op ons knieë bring! En enigiets wat ons aandag aflei van gebed of gebedsversteuring veroorsaak moet ons ten alle koste vermy. Elkeen wat erns maak met die Bybelse lering oor die wederkoms kan uitgeken word, nie aan sy spraaksaamheid oor wederkomsteorieë of spekulasies nie, maar aan sy gebedspassie!

PASOP VIR NOG ‘N FOEFIE

Het ons nie al genoeg gehad van bangmaakstories en wolhaarprofesieë wat op niks uitgeloop het en net die Christendom se naam skade aangedoen het nie? (Dis net jammer dat hulle propageerders en aanhangers so stil-stil van die toneel verdwyn sonder om verskoning te vra vir hulle onsinnuge verkondiging van misleiding)

Onthou jy nog die planete wat in 1982 in lyn met mekaar sou beweeg en groot aardbewings en dergelike katastrofes sou veroorsaak? Niks het gebeur nie. In 1997 was dit weer die Hale-Bop komeet wat ‘n groot angstigheid en afwagting meegebring het. Weer niks. En toe die groot Y2K rekenaarkrisis wat die einde van die wêreld sou inlui in die veelbesproke jaar 2000. Dit sou kwansuis chaos veroorsaak en mense is aangeraai om noodvoorrade bymekaar te maak. Weereens, die jaar 2000 het stil gekom en gegaan, niks snaaks het gebeur nie. Meer onlangs was dit die paniek in 2012 rondom die sogenaamde Maja kalender en ander wederkomsvoorspellings wat alles op niks uitgeloop het. Al wat gebeur is dat ‘n hele paar mense elke slag heelwat geld maak met hulle verkoop van sogenaamde profetiese inligting aan liggelowige en onkundige Christene. Die uitbuiting van dwases!

WEES VERSIGTIG

Die bron van die nuutste bloedmaan bewerings is nie baie suiwer nie en dit moet mens maar klaar ‘n bietjie versigtig maak. Mark Biltz, van El Shaddai Ministries buite Washington in Amerika, wat die ontdekkings oor die bloedmane sou gemaak het se teologie toon ooreenkomste met die dwalinge van die Hebrew Roots Movement. (alhoewel hy ontken dat hy een van hulle is) John Haggee wat ‘n groot propageerder van die bloedmaan fenomeen is, se lering oor spesifiek Israel laat ook ernstige vrae ontstaan.

Daar is ook baie vrae oor spesifieke aspekte rondom die bloedmaan teorie as sodanig. Dis nogal ironies dat slegs een van die vier maansverduisterings sigbaar sal wees in die staat Israel. Dit maak nie regtig sin as dit 'n verskynsel van betekenis vir die land/volk Israel sou wees soos beweer word nie.

Die groot gevaar egter in al hierdie bewerings en die entoesiasme wat dit veroorsaak lê daarin dat dit mense opsweep en opgewonde maak oor allerhande dinge, maar nie juis aanspoor tot heiligheid en hulle opgewonde maak oor die evangelie nie. Wat maak jou werklik opgewonde? Is jy opgewonde waaroor die engele opgewonde is naamlik die evangelie? (1 Petrus 1:12)

LEES DIE BYBEL IN SY GEHEEL EN IN KONTEKS

Sons en maansverduisterings, duisternis as sodanig is tipiese beskrywings om iets van die geweldige intensiteit van God se oordele aan te toon (Vergelyk Eksodus 10:22; Esegiël 32:7-8) Die bekende profesie van Joël val ook in hierdie kategorie. Dit gaan oor Goddelike ingrype in terme van oordeel sowel as verlossing. Joël 2:31 lui: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.” Hierdie profesie van Joel word deur die apostel Petrus aangehaal tydens sy Pinksterdag preek en luister wat sê Petrus. “Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 
Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 
Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 
En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:14-21)

Petrus haal die Joel profesie in geheel aan en veronderstel dat dit vervulling gevind het in die gebeure op Pinksterdag. Dit onderstreep die waarheid, erns en eskatologiese betekenis van die gebeurtenis. Die profesie word nêrens aangewend as ‘n model waarvolgens sekere tydsberekening gedoen moet word nie. Ons leef beslis in die LAASTE DAE! Dis die tydperk van Jesus se eerste koms tot by sy wederkoms. Dis die tyd van geleentheid en redding, maar dis ook die tyd van God se oordele, wat reeds aan die gang is, maar ‘n hoogtepunt met die finale verskyning van Jesus sal bereik. Die laaste dae is dus die groot draaipunt van die geskiedenis met betrekking tot die koms van die Koninkryk van God! En dis nou, dis vandag... dis 'n tyd van beslissing!

Hierdie beeld uit die Joël profesie word ook Openbaring 6 aangetref as beskrywing van God se oordele en nie as ‘n berekeningsformule nie. "En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17) God se oordele koms beslis, wees gewaarsku! Dis die Bybelse waarskuwing aan die goddelose, maar terselfdertyd die troosboodskap aan die verdrukte kinders van God.

Nêrens in die Skrif word ons aangemoedig om die tyd van Jesus se wederkoms te bereken nie, maar wel om altyd gereed te wees!


Donderdag 06 November 2014

AL AQSA, DIE TEMPELBERG EN MARKUS 13

- JESUS SE PROFETIESE AANSPORING TOT PARAATHEID



Sal Israel ooit so ver gaan om een van Islam se heiligste plekke te verwoes en hulle eie Joodse tempel te herbou? Die onlangse gebeure by die Al Aqsa moskee en die tempelberg plaas opnuut die fokus op die rol van Jerusalem en die tempel in die eindtyd. Ongelukkig is dit ‘n rol wat deur baie verkeerd verstaan word en juis so misverstaan word dat dit die skerpkant van Jesus se duidelike profetiese boodskap in Markus 13 uitkanselleer of afstomp!


DIE TEMPEL

Dis duidelik dat Markus groot klem lê op Jesus se houding en boodskap ten opsigte van die tempel in Jerusalem. Na Jesus se intog in Jerusalem is sy stelling (Markus 11:11) baie opvallend en vol betekenis :  "En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië...” Jesus doen inspeksie van die tempel en dit lei tot sy oordeelshandelinge in die tempel, onderstreep deur die vervloeking van die vyeboom. Die boodskap (wat ook sterk deur die Johannes evangelie uitgelig word) is dat die Joodse tempel en tempelbedeling misluk het. JESUS SELF IS NOU GOD SE TEMPEL. In Hom beleef ons nou die heerlikheid van God. Hy gee ons toegang tot die ware aanbidding van God!

In antwoord op die dissipels se opmerking in Markus 13:1 maak Jesus dit verder baie duidelik dat die tempel totaal verwoes gaan word! “Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!” (Markus 13:2) Dis seker ook nie om dowe neute dat Markus meld dat Jesus “regoor die tempel” gaan sit het nie. (Markus 13:3) 

JESUS SELF IS ONS TEMPEL, ONS EWIGE HOËPRIESTER EN ONS ALGENOEGSAME OFFER!

(Israel en die Moslems se gewoel by Al Aqsa raak dus nie God se tempel nie!)


VOORTEKENS 

Jesus se verdere lering in Markus 13:4-23 gaan spesifiek oor wanneer “hierdie dinge” sou plaasvind. Jesus wil duidelik maak dat hierdie dinge in vers 4-23 voorlopige gebeure is wat nie verkeerd verstaan moet word asof die wederkoms al aangebreek het nie! Jesus se hoofpunt hier is om die dissipels te waarsku dat hulle nie ontstel moet word deur die voorlopige tekens nie en dit ook nie moet verstaan as die aanbreek van die wederkoms self nie! 

Moenie voorlopige tekens met wederkoms verwar nie! (as ons dit so verstaan is daar geen konflik met die “tekens” en die uitspraak van Jesus in vers 32 nie!) Die voortekens bepaal nie die tyd van die wederkoms nie, daar moet dus nie afleidings rondom die tyd van die wederkoms vanuit hulle gemaak word nie. Hierdie voortekens word in Markus 13:8 met geboortepyne (Grieks - wdin)) vergelyk. In die Ou Testament verwys “geboortepyne” herhaaldelik na Goddelike oordeel (byv. Jesaja 13:8, 26:17, Miga 4:9ev) Die klem wat gelê word op “begin” suggereer dat die tydperk voor die verskyning van die Messias lank kan wees. God se kinders moet voorbereid wees vir ‘n lang tyd van verdrukking.

VERVOLGING EN EVANGELISASIE

Jesus beklemtoon dat as die dissipels hoor van onrus en rampe, moet hulle nie ontstel word nie. Hulle mag ook nie toelaat dat hulle mislei word en hulle aandag van hulle werk afgelei word nie. Hulle hooftaak bly die verkondiging van die evangelie aan alle nasies! (Markus 13:10) Hierdie werk gaan tot strawwe vervolging aanleiding gee. Jesus berei sy dissipels voor vir vervolging, soortgelyk aan sy eie. (Let op die herhaling van die woord “oorlewer” in vers 9,11,12.) Jesus se oorlewering en lyding is die proto-tipe van dit wat sy volgelinge te wagte kan wees. “Almal sal julle haat. Maar onthou : Wie volhard tot die einde sal gered word!” (Markus 13:13) Jesus se hoofboodskap is : GAAN AAN, VOLHARD, DIS NOG NIE DIE EINDE NIE! 

Dink aan die groot troos van hierdie gedeelte vir vervolgde Christene (toe en nou). Ons vervolging is nie iets abnormaal of vreemd nie, Jesus het dit voorsien, en boonop : ons verduur dit wat Hy ter wille van ons verduur het!

VERVOLGING IS DIE VOORLAND VAN ELKE VRUGBARE GELOWIGE!

VLUG

In Markus 13:14-23 fokus Jesus baie spesifiek op die plaaslike situasie in Judea en Jerusalem wat sou uitloop op die groot verwoesting van die tempel in 70nC deur die Romeine. (Die geskiedskrywer Flavius Josephus het hieroor uitgewei en baie inligting nagelaat.)

Jesus gebruik terminologie uit die boek Daniel. (Daniël 9:27,11:31, 12:11) Hy waarsku dat die “gruwel van die verwoesting” naby is en dat die vlug vanaf Jerusalem en Judea noodsaaklik is. Hierdie uitdrukking in Daniel beskryf ‘n afstootlike gruwel wat so erg is dat die mense die tempel sal agterlaat. Hierdie profesie van Daniel is alreeds vervul in 168vC toe Antiochus Epifanus die tempel ontheilig het deur ‘n altaar vir Zeus daar op te rig, waarop varke geoffer is. Jesus se gebruik van die uitdrukking dui daarop dat iets soortgelyks sou gebeur en dat daar weer ‘n ontheiliging van die tempel sou plaasvind. (Die herhaling van geykte profetiese temas om nuwe situasies te beskryf, is algemeen in die Skrif. Dit kom gereeld in Openbaring voor.) Die presiese aard van die ontheiliging word nie aangedui nie.

Die hoofklem in hierdie gedeelte is die opdrag om te vlug. Dis die praktiese raad wat Jesus aan die mense gee van sy eie geslag/tydgenote.

Die opdrag om te vlug veronderstel ‘n krisistyd in die geskiedenis, maar nie die finale einde nie! In Openbaring word “vlug” juis as futiel en nutteloos beskryf! (Openb. 6:15-17) Hierdie gebeure is beslis nie op die wederkoms van Jesus van toepassing nie (dan hoef God se kinders hoegenaamd nie te vlug nie), maar op die historiese situasie van oorlog wat sou uitloop op die verwoesting van Jerusalem en die tempel.

Jesus se boodskap hier is : “Daar wag vreeslike dinge op julle, vlug betyds as julle kans kry, maar moenie julle laat mislei nie, dis nog nie die finale einde nie!”

Ons is nie direk deel van hierdie historiese gebeure nie. Dis lankal verby. In ons dag is dit egter ook so dat vals profete floreer in tye van rampe en onrus. Moenie jou deur hulle praatjies laat vang nie!

PASOP VIR VALS PROFETE WAT IN MOEILIKE TYE OP HULLE PROOI TOESAK!



WEDERKOMS

Vanaf vers 24 is daar ‘n duidelike wending in die rede van Jesus. Hy bespreek nou sy wederkoms.Teenoor die valse hoop wat baie mense sal mislei is die ware hoop op die koms van Jesus! Fokus op Jesus self en moenie julle deur hierdie tussentydse dinge van koers af laat bring nie!

Jesus gee hoegenaamd nie nou ‘n tydsaanduiding van wederkoms nie. Hy het die dinge wat in sy dissipels in die onmiddellike toekoms te wagte kan wees uitgelig en dit duidelik gemaak dat sy koms nie sal plaasvind voor hierdie voorlopige gebeure nie.

Om die onbeskryfbare omvang en effek, heerlikheid en katastrofale aard van die wederkoms te teken, gebruik Jesus (Markus 13:24-26) terminologie uit Joël 2:10, 3:15; Jesaja 13:10;34:4; Esegiël 32:7-8; Amos 8:9. Die inmekaarval van kosmiese strukture wys op God se radikale ingrype en gepaardgaande katastrofes in die geskiedenis. Die lot van die heelal en die mens is ineengevleg. Met die sondeval is die hele skepping aan nietigheid onderwerp, met die mens se finale verlossing sal die hele skepping weer bevry word! (Vergelyk Romeine 8)

In Markus 13:26-27 gaan als oor aksies van die Seun van die mens. HY kom. HY maak die uitverkorenes bymekaar deur die engele. SY triomf word beskryf in terme van die Seun van die mens, die misterieuse figuur in Daniel 7:13ev. Jesus beklemtoon hier wat Hy reeds vir sy dissipels geleer het. Hy word verneder en ly, maar Hy kom weer in heerlikheid! (Markus 8:31,38)

Jesus maak sy verstrooides deur die engele bymekaar. “En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.” (Markus 13:27) Die parallel met Deuteronomium 30:4 is uiters opvallend : “Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.” Jesus herinterpreteer Israel se verwagtinge! Die onderliggende waarheid is dieselfde maar daar is diepgaande verskille. Die fisiese tempel en Jerusalem was die versamelplek van die verstrooides van Israel. Die tempel gaan nou finaal verdwyn (onthou die verdroogde vyeboom), maar die gevolg is ‘n nuwe hergroepering rondom Jesus self, die ware tempel!

As die vyeboom begin bot is mens seker dat die somer kom en dat dit naby is. Die beeld van vyeboom wat bot beklemtoon beslistheid van die gebeure en die nabyheid daarvan. Maar onthou om te weet iets is naby beteken nog nie ons weet wanneer nie!

WAAKSAAM EN NOGMAALS WAAKSAAM!

Markus 13:30 is ‘n baie omstrede vers wat uiteenlopende verklarings tot gevolg gehad het. “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”

“Al hierdie dinge” verwys na “hierdie dinge” in vers 29. “Hierdie dinge” moet verstaan word in terme van die dissipels se vraag in vers 4 na aanleiding van Jesus se uitspraak oor die verwoesting van die tempel. “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?” “Hierdie geslag” verwys na die tydgenote van Jesus. Inderdaad is die verwoesting van Jerusalem binne die leeftyd van Jesus se geslag voltrek. Sluit “hierdie dinge” nie ook die wederkoms self in nie? Het Jesus dan nie ‘n fout gemaak nie? NEE, vers 30 word gerelativeer deur vers 32. “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.” Vers 30 en 32 moet saam in balans verstaan word. Vers 30 verwys dus streng gesproke na die verwoesting van die tempel en die ander voorlopige tekens en vers 32 na die wederkoms self. Dit maak absoluut sin as mens in gedagte hou dat Jesus se hoofdoel met hierdie rede van Hom, die aansporing tot paraatheid en waaksaamheid is. Hieroor kan niemand twyfel nie... al sou jy met van die detail uitleg verskil. Jesus se waarskuwings staan voorop: 

Vers 5 "En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie."

Vers 9 "Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis".

Vers 23 "Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê

En wanneer dit spesifiek gaan oor die tema van Jesus se wederkoms op ‘n ONBEKENDE tyd word die kwessie van waaksaamheid verder onderstreep :

Vers 33 "Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie."

Vers 35 "Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;"

Vers 37 "En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!"


BEREKENINGS EN BESPIEGELINGS

Dis tragies dat sommige (baie aktiewe) verklaarders Jesus se profetiese rede in Markus 13 juis gebruik om rondom tydsbepalings oor die wederkoms te bespiegel. Jesus se uitspraak rakende “hierdie geslag” is al min of meer as volg geïnterpreteer : Die vyeboom is ‘n simbool vir Israel. Israel het in 1948 ‘n onafhanklike staat geword. Binne daardie geslag sou die wederkoms plaasvind. ‘n Geslag in die Skrif is 40 jaar. Jesus se wederkoms sou in die laat tagtigerjare geskied. Natuurlik het dit nie gebeur nie en nou word daar gekyk na ‘n tydperk van 70 jaar, want ‘n leeftyd volgens die Bybel duur normaalweg 70 jaar!

Hierdie is ‘n voorbeeld van hoe mense die Skrif kan verkeerd interpreteer en juis teen die bedoelings van ‘n bepaalde Skrifgedeelte gaan. Jesus gaan uit sy pad om in Markus 13:32-37 te beklemtoon dat die tyd van die wederkoms ONBEKEND is. Die onbekendheid onderstreep juis die dringende noodsaaklikheid van waaksaamheid. Jesus sê dus : “Julle weet nie wanneer ek kom nie, jus daarom moet julle getrou op julle pos wees, besig met die werk (Vgl. Vers 34) wat julle gekry het!”

Let op die herhaling van “nie weet nie” :

Vers 32 “weet niemand nie”

Vers 33 “want julle weet nie”

Vers 35 ”want julle weet nie”

Die tyd van Jesus se koms is onbekend, die feit van sy koms is seker. Hierdie vooraftyd sal gekenmerk word deur vervolging, misleiding en rampe, maar dit moet ons nie ons fokus op volharding, waaksaamheid en die doen van ons werk laat verloor nie. 

REG VERSTAAN?

Wie verstaan Markus 13 dan nou reg? Die eenvoudige gelowige wat daagliks biddend en waaksaam besig is met die werk wat sy Verlosser hom gegee het en nie sy ore aan valse profete uitleen nie!

WAAK JY?

[Ons beleef groter wordende boosheid en afvalligheid. Die volgende uit 2 Timoteus het my juis vanoggend weer aangespreek- 
"Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:13-15)  Bly by die basiese waarhede van die WOORD!]

Vir 'n bespreking van Ou Testamentiese profesie, kliek op PADSKRAPERDRYWER?