BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 23 Augustus 2017

DOMINEE SOEKMAN

- ‘n bediening aan die “ander kant”


Helder klink die sang van Opuwa se koor in Otjiherero, Engels en Afrikaans. Gesigte wat straal van God se liefde. Ons is ‘n hele bonte verskeidenheid hier bymekaar in die nederige kerkgeboutjie van Kamanjab in die noordweste van ons pragtige land Namibië – Afrikaners, Himbas, Herero’s, maar ook Hai//om, Kxoe en !Xu. Die NGKN se Noordering het op Kamanjab vergader en op Sondag 20 Augustus 2017 kom ons bymekaar vir ‘n nagmaalsdiens. Dis egter meer as net ‘n gewone nagmaal, dis ook die geleentheid waartydens ds. Jacob Schoeman, een van die Kaokoland pioniers in die sendingwerk van die NGKN amptelik sy demissie ontvang, nadat hy reeds vroeër vanjaar afgetree het. Sy bedieningstyd het ook die gevaarlike jare van die Bosoorlog ingesluit.


[Ds. Schoeman het onder andere van hierdie "SPOOK" gebruik gemaak tydens die oorlog, want landmyne was 'n wesentlike gevaar.]

Ds. Schoeman (in Kaokoland ook soms genoem ds. Soekman) lewer ‘n besondere preek met die tema afkomstig uit Markus 4:35 waar Jesus vir sy dissipels sê : "Laat ons oorvaar na die ander kant.” Jesus het tot op hierdie stadium ‘n suksesvolle bediening in die Joodse gebied wes van die See van Galilea gehad, maar nou gaan Hy na die heidense gebied oos van die meer. Van hierdie kant na die ander kant… Aan die ander kant het heiden nasies gewoon wat met varke geboer het… Hierdie eerste besoek lewer nie veel op nie. Slegs een man word aangeraak, maar dis ‘n besondere bekeerling, die besetene van Gadara wat bevry is! Later keer Jesus weer terug na hierdie gebied en het sy bediening ‘n groot impak. (Markus 8) Ons word geroep om grense oor te steek na mense wat anders lyk en doen en dink as ons. Wanneer ons na die “anderkant” gaan is Jesus met ons! Ds. Schoeman vertel so tussen deur van hoe die Here hulle gelei en beskerm het, ja ook deur die tyd van die oorlog. Hy beklemtoon dat hyself nie veel gedoen het nie, maar eintlik maar net ‘n getuie was van dit wat God vermag het. ‘n Pragtige voorbeeld van uitreik na die “ander kant” was hulle toenadering tot die sinkretistiese Oruuano kerk, wat die voorvadergeeste en heilige vuur (okoruwo) akkommodeer. Toe die bekende Oruuano profeet Kanambunga (Katjovikuapa) tot sterwe kom is ds. Schoeman gevra om ‘n boodskap te lewer. Die Here het Deuteronomium 18 op sy hart gelê waaruit hy die bedroefde mense kon vertel dat die groot profeet wat deur God belowe is gekom het, Jesus Christus! Dit het daartoe gelei dat biskop Kamburona versoek het dat sy mense opleiding moes ontvang. Dit het toe gebeur by die Windhoek Teologiese Seminarie (waarby my vader ook betrokke was) en later NETS.

Ja, die vertelling oor Kaokoland en die werk daar raak my ook op ‘n persoonlike vlak. My vader, Johan de Koning was op ‘n tyd ‘n dosent by Orumana in Kaokoland nog voor ds. Schoeman se koms na hierdie gebied en het ook vir baie jare nou saam met hom gewerk. Dit het my later ook bygeval dat ds. Schoeman die preek gelewer het op Pa se “aftree” geleentheid te Meersig gemeente in Walvisbaai op 21 September 2003. As jong man kon ek ook iets beleef van ds. Schoeman se toewyding en omstandighede toe ek en van my studente vriende soos Charl van Niekerk, Sas Conradie, Pierre van der Merwe en Christo Heiberg saam met hom in Kaokoland gewerk het.

Dit was vir my lekker om op Kamanjab deel te wees van die NG Kerk. Onder andere was dit heerlik om van ds. Erik van Zyl, ds. Schoeman se opvolger te hoor van die wonders wat God tans nog in Kaokoland doen. Ek is lief vir hierdie NG Kerk, die kerk wat ten spyte van baie foute die ware evangelie van die verlossing van sondaars deur Jesus Christus verkondig het sodat ons weer op ‘n Sondagoggend op Kamanjab die vrug daarvan kon sien.

Dr. Jan Woest het vir ons tydens die ringsitting prontuit gesê : “Die NG Kerk is ernstig siek.” Ek stem heelhartig saam. Maar hierdie kerk kan weer gesond word as sy haar tot die Here bekeer en weer haar eerste liefde begin uitleef. Sy sal gesond word as sy weer die waarheid tot redding aanneem en die dwaling verwerp wat ongelukkig tans openlik geduld en selfs gepropageer word. Sy sal gesond word as sy ophou luister na mense, die humanistiese agenda en die postmodernistiese tydsgees van relativisme, maar eerder eerlik vra : “Wat wil God hê moet ons doen?” Sy sal herstel en vernuwing ondervind as ons ophou om filosofies oor God te praat en meer met Hom praat en onsself voor Hom verootmoedig. By God is alle dinge moontlik! Hy kan ons ook opnuut bekragtig met sy Gees om duskant en anderkant die Blye Boodskap uit te dra!


[NG Sendelinge in die ou Suidwes. Ds. Schoeman is voor heel links.]



[Ds. Jacob Schoeman op Kamanjab tydens die ontvangs van sy demissie.]


[Ek saam met twee Kaokoland veterane, di. Sarel Visser en Jason Ngambue.]


[Koorlede van Opuwa in Kamanjab se kerkgebou.]


[Op pad na Kamanjab op die Otavi-Outjo grondpad, haal my mede afgevaardigde van Tsumeb, Andries Gous eers iets uit om die innerlike mee te versterk.]

Dinsdag 01 Augustus 2017

AANDAG VIR DIE ANTICHRIS

- Hoe oorleef ek in ‘n tyd van massale afvalligheid?


KIES DIE WAARHEID BO WONDERS!

Ons leef in ‘n tyd van massale afvalligheid en afgryslike dwaling. Dwarsdeur die wêreld, maar helaas ook in ons eie land en kerk is daar al groter getalle mense wat basiese waarhede en waardes verwerp. Basiese waarhede soos wie Jesus is, sy uniekheid as enigste Middelaar, sy plaasvervangende kruisdood en sy liggaamlike opstanding word betwyfel en bevraagteken, selfs ook op ons teologiese fakulteite. Fundamentele etiese norme soos wat ‘n huwelik is word daagliks ondergrawe, nie slegs deur internasionale drukgroepe nie, maar in ons eie kerklike vergaderings...

Dit alles dui daarop dat as die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Eintlik wys dit dat vele alreeds voor die Antichris se propaganda geswig het, want die Bybel leer natuurlik dat daar nou reeds baie antichriste is. “Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar ‘n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.” (1 Johannes 2:18) Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Dit is nie iets wat nog kom nie, dit gebeur reeds elke dag voor ons oë! Die kernstrategie is misleiding. (Christene wat dink die Antichris, gaan sê : “Hi ouens, ek is die Antichris, kom hier dat ek vir julle ‘n 666 tjap op die voorkop kan gee,” is baie naïef en gaan beslis onkant gevang word!) 

Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingskrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse” van elke era in die geskiedenis? Wat maak mense kwesbaar en vatbaar vir hierdie misleiding?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, drie belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter vrot vleis agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Vergelyk ook 2 Tessalonisense 2:3. “Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.”

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! “Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders.” (9) En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”. Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke. Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel. Die vals profeet as simbool van alle anti-waarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.” (Vals profete soos TB Joshua het reeds bewys hoe maklik massas met hulle vals wonders mislei kan word.) Alle wonders is nie Goddelike wonders nie! (Dink aan die Egiptiese towenaars wat ook water in bloed kon verander en hulle kieries slange laat word het!) Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik is God die Almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog in staat om wonders te doen soos en wanneer Hy wil! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag definitief vuur uit die hemel sal kom, sal man en muis hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! “...met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.” (10)

Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het, naamlik die evangelie van Jesus Christus. Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer, geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Daarom ook Paulus se vermaning net ‘n entjie verder in vers 15. “Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ‘n brief was.” Hou vas aan die apostoliese waarheid, die waarheid wat ons vandag in die Nuwe Testament het!

Dink bietjie. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die VOLHEID in Jesus ontdek (die genoegsaamheid van sy sterwe én lewe), hoe minder sal ek val vir die valsheid van die Antichris en sy trawante.

Daar is ook ‘n DERDE REDE waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” (11) Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intelligente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? (Dink maar hoe mense val vir die Israelvisie, Hebrew Roots Movement, allerlei New Age propaganda truuks...) Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...” Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp! 

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? 

Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar!

Kies die Waarheid bo wonders! Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Joh 14:6) Diegene wat by Hom skuil is veilig!


Jy hoef nie te wonder of die briljante en omstrede Macron dalk die Antichris is nie... Jy moet wel seker maak dat jy die Waarheid ken en tot jou redding aanvaar het!

En ten slotte! Ons hoef nie een van die kastige "soekers na die waarheid" te wees nie. Die Waarheid is naby en by ons, dis Jesus self soos Hy Homself in die Woord deur die werking van die Heilige Gees openbaar! Kliek op SOEKERS