BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket NGK in Namibië. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket NGK in Namibië. Wys alle plasings

Saterdag 01 Februarie 2025

MAAK DIE MAAGDELIKE GEBOORTE REGTIG SAAK?

 


In ‘n onlangse woordewisseling tussen predikante van die NGK in Namibië op ‘n Whatsapp groep het hierdie saak weer ter sprake gekom. Daarom die belangrike vraag wat elke gelowige en spesifiek ook elke bedienaar van die Woord in selfondersoek moet vra : Glo ek in die maagdelike geboorte van Jesus ons Verlosser? Moet ek glo in Jesus se geboorte uit die maagd Maria, ‘n jong meisie wat nie geslagsgemeenskap gehad het nie? Ja, beslis! Dis deel van die kern belydenis van die historiese Christelike kerk van die vroegste tye af. Dit word immers duidelik verwoord in die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis (Twaalf Artikels)

“Ek glo in Jesus Christus sy eniggebore Seun, wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria...”

Nou waarom is hierdie ‘n ononderhandelbare deel van die Christelike belydenis?

Ons hoef nie hieroor te spekuleer nie, die Heidelbergse kategismus is glashelder oor hierdie leerstelling.

SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 35

Vraag: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?

Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly , die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het . So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid , in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde .

SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 36

Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

Kortliks kom dit daarop neer dat Jesus se verwekking sonder menslike toedoen en sy geboorte uit ‘n maagd die heerlike implikasie het, dat Hy waarlik God is, maar ook waarlik mens en tog sonder sonde. So kwalifiseer Jesus op unieke wyse om ons enigste Middelaar en volkome Redder te wees!

Net baie belangrik – natuurlik is Jesus se maagdelike geboorte nie gegrond op kerklike tradisie en belydenisse nie – dis die direkte lering van die Skrif.

Kom ons kyk net weer na ‘n uittreksel uit die aangrypende gebeure in Lukas 1 en 2. (Ons vind dit natuurlik ook in die Matteus geboorte geskiedenis waar dit vanuit die Ou Testament bevestig word) Die engel Gabriël kom na die niksvermoedende jongmeisie Maria en maak die aankondiging oor die geboorte van seun van die Allerhoogste God! Natuurlik is Maria totaal onkant gevang en verstom.

Lukas 1:34,35

34. Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?”

35. Die engel het haar geantwoord:

“Die Heilige Gees sal oor jou kom

en die krag van die Allerhoogste

sal jou oorskadu.

Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees;

Hy sal Seun van God genoem word.

Die verloofde meisie Maria weet genoeg van biologie om te besef dat sy nie swanger kan wees nie. (Daar was nog destyds meer respek vir die uniekheid van die huwelik as in vandag se houvrou/saambly kultuur)  Die engel gee vir haar die antwoord en oplossing van die raaisel.

Opvallend dat die heilige Drie – eenheid hier so treffend ter sprake kom. “Heilige Gees, krag van die Allerhoogste, Seun van God”

Dis skokkend dat sekere teoloë en predikante selfs binne die NGK nie meer hierdie waarheid glo nie.  Hulle afgryslike suggestie (deur woorde of deur implisering) is dat Maria maar ‘n “stout Joodse meisie” was wat oor die tou getrap het. Dis natuurlik ‘n baie ou aanval op Jesus self.  Hierdie denkwyse binne ‘n kerkverband wat nie meer aan die Skrif getrou is nie en onbeholpe voorkom as dit kom by sake soos geslag, huwelik en seksualiteit behoort ons nie te verbaas nie. Die oorsprong van hierdie betwyfeling van God se Woord is die Satan self. Die slang wat vir Eva aan God se Woord wou laat twyfel werk hard om mense selfs binne die kerk, die maagdelike geboorte en liggaamlike opstanding van Jesus te laat bevraagteken.

As iemand die maagdelike geboorte van Jesus verwerp, verwerp hy ook die uniekheid van Jesus as Seun van God – hoe so ‘n persoon dan nog kan beweer dat hy in die histories liggaamlike opstanding sou kon glo is moeilik te verduidelik. Dan kom die hele evangelie en ons verlossing in gedrang.

Bevraagtekening van kern Christelike leerstellings moet ons verontrus en verontwaardig maak. Dit kom neer op lastering teen die Heilige Maagd. Sy is ‘n besonder begenadigde, sy speel ‘n baie belangrike rol in ons geloofslewe soos die belofte van die engel aan haar dit bevestig het. (Terloops, dis nie om dowe neute dat die antieke kerk, Maria,  die Ark van die Nuwe Verbond (kliek) genoem het nie. Dis nie uit die duim gesuig nie, maar het ‘n sterk eksegetiese basis.) Maar dit gaan nog verder, wie Maria laster, laster ook haar Seun en verwerp die verlossing wat Hy vir sondaars gebring het!

Teoloë en predikante wat die maagdelike geboorte van Jesus verwerp, behoort die eerbare weg te volg en summier te bedank uit die kerk.

Maandag 21 Maart 2022

Leef selibaat!

 - uitdaging aan Christene in 'n seksmal wêreld.

By die sinode van die NGKN waartydens daar sterk standpunt teen die dwalinge van die Algemene Sinode van die NG Kerk ingeneem is, het daar ook 'n besonder positiewe en uitdagende dokument ter tafel gekom. Dis deur die sinode aanvaar as 'n werksdokument. Moet dit dus nie probeer lees as 'n afgeronde studiestuk nie, maar as 'n voorlopige poging om rigting te gee. Dit help tog nie dat ons net selfdegeslagverhoudings en promiskuïteit in die algemeen afkeur nie - ons moet ook 'n navolgingswaardige ideaal voorhou!

Hieronder vind jy die dokument soos aangebied deur Dr. De Wet Strauss :


1.    Om selibaat te leef – Bondige getuienis van die Ned Geref Kerk in Namibië

 

1.1   Die kerk glo die plaaslike geloofsgemeenskap is die geloofsfamilie en tuiste vir veral ook persone wat hulle nie bevind in ‘n huweliksverhouding nie en selibaatskap leef.

 

1.2   Die kerk is oortuig dat ‘n lewe van selibaatskap vervullend en die moeite werd is vir persone wat hulle nie bevind in ‘n huweliksverhouding nie en sodoende afstand doen van die voorreg van seksuele intimiteit.

 

1.3   Die kerk glo dat die Skrif beide die huwelik tussen man en vrou en die gawe van enkelingskap (selibaatskap) aanbied as gawes en voorregte, en dat Paulus homself voorhou as navolgingswaardige voorbeeld wanneer hy skryf: “Eintlik wens ek dat almal ongetroud kon bly soos ek. Maar ek weet dit is nie vir almal moontlik nie omdat God almal nie eenders gemaak het nie. Elkeen van ons het verskillende vermoëns van Hom gekry” (1 Kor 7:7 Die Boodskap).

 

1.4   Die kerk glo dat die Skrif nie ‘n bepaalde lewe ten opsigte van kameraadskap en seksuele intimiteit aan persone opdring nie, maar duidelik en prakties is wanneer Paulus skryf: “Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk… Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help” (1 Kor 7:32 + 35 Die Boodskap).

 

1.5   Die kerk het ‘n lang geskiedenis van betekenisvolle en inspirerende bydraes in die uitleef van die evangelie deur persone wat hulle nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het.   

 

1.6   Persone wat hulle nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het was van die begin af ‘n eerbare werklikheid in die kerk.

 

1.7   Die keuse om selibaat te leef, was in sekere stadiums van die kerk se geskiedenis - meer as ander - beskou as ‘n besondere uitdrukking van geloof wat getuig daarvan dat nie die biologiese familiebande nie - maar die geloofsgemeenskap van die kerk die enigste toekomstige en ewige waarborg van lewe bied.

 

1.8   Naas die apostel Paulus, is ook Jesus vir ons iemand wat in sy aardse lewe hom nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het, sodat ons Hom kan navolg “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Hebr 12:1-2 Afr 83).

 

1.9   Terwyl die kerk die evangeliese leefwyse van selibaatskap beklemtoon, wil die kerk nie ontken dat hierdie wyse van lewe sonder uitdaging en spanning is nie.

 

1.10         Met ‘n lewe van toewyding en selibaatskap getuig die kerk dat, alhoewel die seksuele intimiteit van die huwelik goed en besonders is, die toewyding aan ‘n lewe van geloof en navolging van Christus alles oortref in waarde en daarom vir sommige die moeite werd is om seksuele intimiteit prys te gee tydens hulle aardse lewe.

 

1.11         Die kerk moedig persone aan wat enkellopend is – veral ook persone wat mag aangetrokke voel tot ander van dieselfde geslag – die eerbare keuse te maak om ‘n geloofwaardige voorbeeld en inspirasie te wees wat betref ‘n lewe van selibaatskap.

 

1.12         Die kerk doen ‘n beroep op gemeentes en ander geloofsgemeenskappe om die Christelike gawe van selibaatskap te omhels, te vier en te fasiliteer in hulle onderskeie gemeenskappe.


My opmerkings :

Dis duidelik dat daar in ons protestantse kerke 'n gebrek is om die belangrikheid van selibaatskap as 'n werkbare en eerbare vrywillige alternatief aan gelowiges voor te hou. Nou wonder ek maar net - is dit nie onder andere omdat ons uit oorreaksie teen Rome, te min maak van die die Heilige Maagd Maria nie? Het ons haar nagedagtenis en voorbeeld nie erg afgeskeep nie?

Kliek vir 'n baie insiggewende artikel oor MARIA - ark van die nuwe verbond






Woensdag 08 Julie 2020

Avontuurlike kerkwees in Namibië

 – my beskeie bydrae tot ‘n aktuele gesprek. 


Wat ‘n heerlike voorreg om deel te wees van die kerk van Jesus Christus in Namibië. Deel van die heilige algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges! Ons het so ‘n pragtige land – van suid na noord, van oos na wes. ‘n Ryk natuurskoonheid en ‘n ryke kultuurverskeidenheid. 

‘n Ryk heroïese kerkgeskiedenis – dink aan die baanbreker van die NGKN, eerwaarde Leonard, maar ook soveel ander soos pioniers van ons eie kerk. Natuurlik ook baanbrekers van ander kerke en sendinggenootskappe : Schmelen, Hahn, Rautanen en vele ander wat hulle lewens opgeoffer het vir Jesus en sy kerk! ’n Land vol heerlike geleenthede vir die evangelie! En groot uitdagings! 

BEDREIGINGS

Die NGKN as deel van die uitdrukking van die liggaam van Christus besin tans weer oor ‘n roepingsgedrewe volhoubare kerkwees. So ‘n gesprek en kritiese selfondersoek is beslis nodig, want ons kan die bedreigings en uitdagings wat die kerk in die gesig staar nie ignoreer of wegwens nie: Toenemende sekularisasie van ons lidmate en gevolglike dalende lidmaatgetalle, totale gebrek aan kerklike dissipline (lidmate en ampsdraers leef in openbare sonde en geen haan kraai daaroor nie), teologiese liberalisme en etiese relativisme (elkeen glo soos hy wil en maak soos hy wil), finansiële verknorsing van baie gemeentes wat nou deur die korrupsie in ons land en die Covid-19 situasie vererger word. 

Die grootste bedreiging, die skrikwekkende GEVAAR is natuurlik as ons God se vyand word weens ons kompromie met sonde. 

“Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” (Jakobus 4:4) 

LUISTER NA DIE WOORD!

Wat staan ons te doen? Ek dink ons almal stem saam dat ons weer ernstig na God moet luister deur die Woord van God ter harte te neem. In die lig van die Woord sal ons ons dan voor God moet verootmoedig. Net Hy kan ons weer optel en op koers plaas! Weereens het Jakobus vir ons raad: 

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 
Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 
Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jakobus 4:8-10) 

In die konteks van Jakobus en die res van die Nuwe Testament is dit duidelik dat ons as kerk ons veral sal moet bekeer van sondes wat in ons geledere nes geskop het soos hoogmoed, materialisme, losbandigheid en wêreldgelykvormigheid. 

In plaas van kompromie met die sondige tydsgees moet ons weer sout en lig wees! 


TWEE OLIFANTE

As ons erns wil maak met God se opdrag tot bekering en vordering wil maak in ons gesprek en praktyk is daar in ons NGKN konteks tans twee OLIFANTE in die vertrek wat ons nie mag ignoreer nie. 

  • Die besluit van die AS2019 om selfdegeslagverbintenisse goed te keur en kerklik te seën! Ons mag nie iets seën wat God ‘n gruwel noem nie. Punt! 

  • Die liberale teologie van die teologiese fakulteite.(Pretoria, Stellenbosch en Bloemfontein) Ons moet eerlik wees met ons lidmate dat daar dosente is wat ons predikante oplei wat nie glo dat Jesus histories liggaamlik opgestaan het nie! 


Die rysmiere van kompromie met sonde het ons ondergrawe en belemmer ons voortgang en getuienis! 

VOORSTELLE

Ten slotte net ‘n paar praktiese voorstelle: 

1. Die NGKN moet breek met die AS totdat daar bekering en ‘n terugkeer na die Woord is. (Weereens baie dankie aan die 38 bedienaars van die Woord in Namibië wat hulle in die openbaar uitgespreek het teen die AS2019 selfdegeslag besluite!) Kliek - VERKLARING

2. Die NGKN moet haarself distansieer van alle liberale teologiese instellings en die opleidingsgeleenthede wat ons reeds in Namibië het verder uitbou en ondersteun. 

(Ons is in die bevoorregte posisie dat ons reeds die vrug kan sien van bedienaars van die Woord wat plaaslik opgelei is!) 

3. Die belangrikste - Die NGKN sal biddend haar sonde moet bely en God se aangesig moet soek. Kom ons wees almal eerlik – wat het nog van bidure oorgebly in die NGKN? Is gebed en smeking deel van ons kerklike leefwyse? (Of bid ons net so af en toe as daar weer ‘n droogte knel?) 

FINANSIES

En wat van die finansiële probleme? God beloof en die geskiedenis bewys dat God sy kerk in stand sal hou ook wat finansies betref as ons maar net in gehoorsaamheid God se werk op God se manier sal doen. Dit sal wel heel moontlik beteken dat ons nuut moet dink oor bedieningspatrone en minder materialisties moet leef, maar ons Vader sal in al sy kinders se daaglikse behoeftes voorsien! 

TRIOMF

Kom ons gaan voort met gehoorsaamheid aan vertroue op die lewende God! Glo in die triomf en die veilige bewaring van God se uitverkorenes!

"Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen." (Judas vers 24,25) 



Broer en suster, om God te gehoorsaam is nie altyd maklik nie maar dis inderdaad ‘n heerlike avontuur! Verfrissend soos ‘n stroom water in die Namib!

Sondag 23 Junie 2019

GOD SORG VIR SY KERK

OOK DEURDAT ONS BUITE DIE “BOKS” BEGELEI WORD! 


Die Here sal sy kerk nooit in die steek laat nie. Dit het ons nou weer opnuut ondervind. Juis nou in ‘n tyd van afvalligheid, dwaalleer, valse teologie en ‘n tekort aan getroue Woordbedienaars. Op Sondagoggend 23 Junie 2019 is twee ouderling broers van die NGK Tsumeb, Andries Gous en Herman Fuls amptelik as gemeentebedienaars (met die reg tot Woord en sakramentsbediening onder die toesig van die kerkraad) deur dr. De Wet Strauss van die Kuratorium van die NGKN bevestig. Dit was ‘n heuglike en historiese geleentheid! Nuwe grense is oorgesteek. Dis leraars wat in die hart van die gemeente gegroei en hulle roeping ontvang het. Hulle het binne 'n gemeentekonteks as dienende ouderlinge hulle opleiding ontvang deur ander persone wat in die praktyk van die bediening staan. Ons beleef hierin iets van die besondere leiding van die Heilige Gees waarvan Jesus self gepraat het in Johannes 16. De Wet het hierdie hoofstuk gebruik om op ‘n onderhoudende manier die Woord aan die woord te laat kom en ook op sy eie vars wyse van dinge doen die hele kerkraad en gemeente te betrek. Die twee broers het op die kansel self hulle legitimasie eed onderteken. Die hele kerkraad was betrokke by die handoplegging. In werklikheid is ons hele kerkverband, die NGKN betrokke, want dis nie iets wat ons in Tsumeb bloot op eie houtjie aangepak het nie. Aan God alleen die eer! 




Andries deel iets van die pad wat die Here deur middel van sy kerk met hom geloop het: 

“In Julie van 2012 verplaas die maatskappy vir wie ek werk my na hulle Tsumeb operasies. 

Ons skakel in by die Tsumeb gemeente van 2013 af nadat my familie ook by my aangesluit. Ds. Johannes de Koning besoek ons aan huis en kort daarna ontvang ons huisbesoek van die ouderling verantwoordelik vir die wyk. 

Roelf van Wyk het as ouderling sommer kom koffie drink en het begin gesels oor die bediening onder die San mense en die Wildevy gemeente. Hy prikkel my belangstelling soveel so dat ek daaraan begin dink om betrokke te raak by die San bediening. 

Op die 13de Julie 2014 tydens die oggenddiens hoor ek dat ds. Johannes de Koning iets vertel van die Tsumeb gemeente se betrokkenheid by die Wildevy gemeente op Tsintsabis en ek besluit dat dit sommer die geleentheid is om met hom te gaan praat, en om betrokke te raak. 

Daardie aand gaan woon ek die eerste keer in Tsumeb die aand Bybelstudie geleentheid by en ek gesels met ds. Johannes oor die San bediening en dadelik nooi hy my om die daaropvolgende Woensdag saam met hom te gaan wanneer hy ’n Bybelstudie geleentheid by die Tsintsabis gemeente gaan lei. Dit raak daarna ‘n gereelde instelling om elke tweede Woensdag saam met hom uit te gaan Tsintsabis toe. 

My betrokkenheid by Tsintsabis het dus begin nadat twee broers my bewus gemaak het van die werk en die Heilige Gees my aangemoedig het om my hand op te steek om betrokke te raak. Soos met alles in die koninkryk moes hierdie twee broers die hout aandra deur te getuig en uit te nooi totdat daar genoeg hout was vir die Heilige Gees om die vuur aan die brand te steek binne-in my. 

In die tussentyd oortuig een van die ouderlinge van Wildevy gemeente by name Karl Ganseb my om saam met hom die Woord te begin bring onder gemeenskappe binne die Wildevy gemeente se bedienings area wat nie bereik word deur ds. Josef Gevers op Tsintsabis nie. 

Die bediening saam met Karl groei oor die volgende paar jaar tot 4 bedieningspunte waar die Woord gebring word aan om en by 100 kinders en 120 volwassenes op ’n gereelde basis. 

Die een ding lei tot die ander en ek word saam met Roelf van Wyk afgevaardig om Tsumeb gemeente by DEGNOS se jaarvergadering te gaan verteenwoordig in 2015. Tydens my betrokkenheid by DEGNOS kom ek al meer onder die besef hoe belangrik die rol van toerusting van gemeenteleiers is. Ek kom al meer onder die indruk dat ons die vermenigvuldigings effek ( 1-2-4-8-16-32-64-128-256....ens) benodig as ons regtig effektief diensbaar in die koninkryk wil wees en dit kan slegs behaal word indien daar genoegsame gelowiges toegerus word om verantwoordelik diensbaar te wees in elke gemeente. Dieselfde beginsel geld binne-in gemeentes, waar dit onmoontlik is vir die predikant om alleen die gemeente te versorg as die res van die gemeente nie betrokke is by die versorging van die liggaam nie. 

Ek kom in hierdie tyd agter dat daar min dinge so gevaarlik is soos om mense los te laat om te preek wat nie goeie lering (toerusting) ontvang het nie. Ek sien immers daagliks saam met Karl wat die impak van verkeerde lering is onder die San mense en watse groot verwarring dit veroorsaak. Die situasie lyk ook nie veel beter onder die mense in my direkte omgewing nie. 

Iewers tydens die baie gesprekke van DEGNOS raak ek bewus dat ons as NG Kerk Namibië met ‘n groot probleem sit in die vorm van gemeentes wat nie meer voltydse professionele predikante kan bekostig nie, asook die gebrek aan Namibiese burgers wat opgelei is as predikante. Verder dra die ouer wordende predikantekorps in Namibië ook by tot ‘n krisis wat net wag om te gebeur. Ook sien ek al meer dat daar so ‘n groot braakland bestaan waar mense nie die Woord hoor nie en nie altyd toegang het tot plekke van aanbidding nie. Niemand kan dit beter stel as on Here Jesus self nie, soos opgeteken in Matteus 9:37: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min” 

Die besef sink in dat daar ’n groot nood is vir opgeleide bedienaars van die Woord, nie net in kleiner plattelandse gemeentes nie, maar ook in die bedienings areas rondom gemeentes, die gebiede wat braak lê waar daar geploeg en gesaai moet word. 

Iewers in die gange kom ek te hore van die versoek dat ds. Hendrik van Zyl van DEGNOS moet begin met lidmaatbemagtigingsopleiding in Otavi vir die Otavi gemeente juis as gevolg van die bedienings situasie daar waar nie meer ’n voltydse leraar beskikbaar is nie. Hierdie opleiding is dieselfde opleiding as wat die inheemse predikante van die Wildevy, Tsumkwe en Luhebu-Noord gemeentes ondergaan het. 

Na ‘n gesprek met Hendrik waar hy aandui dat dit goed sal wees as Tsumeb ook inskakel, word die uitnodiging gerig aan die gemeentelede van Tsumeb. 

Op die 11de Februarie 2017 meld ons aan saam met lede van Otavi en Grootfontein aan saam met ons lektore, di. Hendrik van Zyl, Dirk de Vos, Lucas van Vuuren en mev. Jeanette Lubbe, wat ons die volgende 30 maande toerus om meer bruikbare instrumente in die hand van die Here te wees. 

Tesame met die amptelike opleiding is daar ook konstante interaksie met ds. Johannes de Koning wat as mentor aktief betrokke is op ’n informele basis met die slyp van my denke en help met die ontwikkeling van my bedienings vaardighede en die groei van my eie teologiese begrip. 

Ons doen onder die vaandel van DEGNOS die Gemeentebou, Prediking en Pastorale sorg programme wat deur DEGNOS ontwikkel is in samewerking met die Departement van Kontekstuele Teologie van die Universiteit van Pretoria, sowel as die Veritas College se vier fondasie modules wat soos volg opgedeel is: Module 1 Uitleg en Vermaning : Paulus se briewe, Module 2 Narratiewe literatuur – Pentateug en Ou-Testamentiese Geskiedkundige boeke, Module 3 Poësie, Wysheidsliteratuur en profete en Module 4 Die Sinoptiese evangelies, Johannes, Handelinge en Openbaring. 

Die klaskamer opleiding was baie belangrik maar sonder die mentorskap van die vier dosente(Hendrik, Dirk, Lucas en Jeanette) en Johannes sou dit nie moontlik gewees het om ’n goed toegeruste bedienaar van die Woord te word nie. Hulle bydra tot my groei en ontwikkeling was van onskatbare waarde en ek dank die Here vir hulle betrokkenheid in my lewe. 

Hierdie is die begin van ’n opwindende en baie interessante nuwe veld in die bedienings beursie van die NG Kerk en dit is met groot opgewondenheid dat ons uitsien na die pad vorentoe.” 

Ons ander ouderling bedienaar, Herman Fuls beskryf sy pad so: 

“Ek het op 'n stadium in my lewe baie ver van die Here afgedwaal. Dit was grotendeels omdat ek nie betrokke was by 'n groep gelowiges / kerk van die Here nie. Die Here was my baie genadig en het my kom red uit 'n diep verlorenheid. Ek het op 'n harde manier uitgevind wat die waarde van kerkwees is en wat die implikasies is as mens nie deel raak van Christus se 'liggaam' hier op aarde nie. Dis inderdaad net baie gevaarlik om 'n 'randfiguur' te wees en nie voluit betrokke te wees en te leef vir Christus nie. God het my geplaas in 'n klein, wonderlike dorpie - Rosh Pinah. Daar het ek die stryd beleef van 'n gemeente wat geworstel het om 'n voltydse leraar te beroep en te kan bekostig. Vir jare het die NG Kerk Lüderitz (bestaande uit Lüderitz, Rosh Pinah en Aus) deur fases gegaan waar daar een maal 'n maand 'n leraar was wat die Woord kon verkondig en vir lang tye (soms ‘n jaar of twee) waartydens daar glad nie 'n leraar was nie. Die gemeente was aangewese op die kerkraad en gelowiges om eredienste te lei en na gelowiges om te sien. Daar het ek bewus geraak van my eie tekorte (en van gelowiges in die algemeen) om in sulke omstandighede te kan volhard. (Christus was goed en het in daardie moeilike omstandighede die gemeente versorg). Die Here het my en my gesin gelei na Tsumeb. Ons het ons pas in Tsumeb gevestig toe die geleentheid opduik om opleiding te ontvang wat ek met beide hande aangegryp het. Alle lof aan ons Skepper! Ek stap nog 'n pad saam met God om te sien en hoor waar en hoe Hy my wil gebruik vir Sy werk hier. Ek besef vandag dat daar baie gemeentes en gelowiges in Namibië is onder dieselfde omstandighede. Hierdie is 'n geleentheid om ons kerkrade op te lei en toe te rus vir diens aan Christus. Ek nooi ander gelowiges en kerkraadslede uit, wat die roepstem van God gehoor het, om verder toegerus te word vir diens in Sy Koninkryk en na God se kudde om te sien.” 

Die Here Jesus het beloof dat die Gees ons sal lei. Inderdaad het ons hier op Tsumeb sy leiding in hierdie tyd op besondere manier ervaar en ons sien nederig, dankbaar en afhanklik uit na die pad verder wat Hy met ons gaan stap!  Ja, ons weet ons moet nog so baie leer. Daar is soveel dinge waarmee ons sukkel. En tog, wat ‘n voorreg om deel te wees van die liggaam van Jesus! Mag God ons almal maar in besonder hierdie broers bewaar van die Bose sodat daar groot vrug op hulle arbeid mag wees tot eer van God!


De Wet Strauss, Andries Gous, Herman Fuls, Johannes de Koning (Foto's -  Ida Irvine)

Maandag 11 Maart 2019

EK HUIL OOR DIE NG KERK

[Dis onder hierdie opskrif dat ek verlede week ‘n brief van mevrou Louisa Louw uit die Kaap ontvang het. Ek het haar toestemming om ‘n uittreksel uit die brief te plaas. Sy is die weduwee van ds. Willem Louw wat ook vir ‘n aantal jare in Suidwes (Namibië) werksaam was onder andere by die Weskus Sending in Walvisbaai onder die Topnaars en ook as predikant van die NG Kerk Gochas. Ek plaas ‘n uittreksel van haar brief omdat dit so ‘n aangrypend raak verwoording is van die hartseer en worsteling van baie NG lidmate en voormalige NG lidmate.] 

Liewe Johannes, 

Ek lees gereeld jou blog en wou al meermale kommentaar gelewer het, maar my elektroniese vermoëns laat my in die steek! .... Maar dit daar gelaat. Ek skryf nou maar aan jou privaat-e-posadres. 

Ek kan net sê ek is hewig ontsteld oor die gebeure by Kraaifontein en nou die hooggeregshof se uitspraak. Ek is in my persoonlike Bybelstudie besig met Jeremia en ek sidder as ek sien waarmee Jeremia te kampe gehad het en die boodskappe wat God vir hom gegee het. Ek herken soveel van die situasies in sy tyd ook in ons tyd in SA – en elders. Ek sien dat God op ‘n stadium vir Jeremia verbied het om vir sy mense te bid. Ek weet net dat daar grense is en daar kan ‘n tyd kom dat genoeg genoeg is! Maar wat my die meeste ontstel, is dat so baie van ons goeie, lojale NG lidmate nie ‘n idee het wat aangaan nie en dit raak hulle nie. Apatie bring geestelike verlamming mee. 

Dan is daar lidmate wat wel ontsteld is en nie langer in die NG Kerk wil bly nie, maar waarheen moet hulle gaan? Die wat wel uit die kerk gaan, spat in alle rigtings. Oom Willem was al oor baie jare heen diep besorg oor die rigting wat die Kerk inslaan en ons het heelwat rondgeloop en gesoek na ‘n geestelike tuiste, want in .....gemeente waar ons was, het ons die afgelope jare al hoe meer geestelik ontuis gevoel. Oom Willem het briewe geskrywe, gesprekke gehad, maar hy en die leier-predikant het net by mekaar verbygepraat. Aan die begin van 2015 het hy gesê dat indien die sinode aan die einde van daardie jaar die besluit neem (wat hy toe wel geneem het), is hy uit die NG Kerk. Ek het gesê ek is saam met hom uit. Op 25 Junie 2015 het die Here hom toe kom haal en ek het na worsteling en baie trane in die loop van 2016 by .....gemeente bedank en aangesluit by een van die kerke van REACH; “Reformed Evangelical Anglican Church in South Africa”, ‘n kerk wat ek en oom Willem meermale besoek het. Ek sou in my lewe nooit kon droom dat ek by ‘n Engelse kerk sou aansluit nie, maar die evangelie wat ek daar hoor en die Here Jesus wat verkondig word, laat vir my baie dae nie eers meer die Engels hoor nie; die Skrif word so oopgebreek en God word verheerlik! Daar is baie Afrikaanse mense en ekself is in ‘n Afrikaanse omgeegroep. Ek kan eerlik sê dat ek geestelik tuisgekom het. 

Tog is daar diep in my hart nog ‘n liefde vir die NG Kerk wat ek geken het en my wortels lê daar. En ek bid nog vir die NG Kerk. Ek dank die Here vir die enkele gemeentes en predikante wat die Here en Sy Woord liefhet en ek bid dat hulle ook die moed aan die dag sal lê om te sê waar hulle staan. Ek wil vir jou en ander predikante soos jy bemoedig en bid dat julle sterk sal staan ter wille van Christus en Sy gemeente. Ek is veral belas vir die gewone lidmate wat soos skape sonder herders is. Hulle is baie verward en baie keer so oningelig. 

.............................. 

Seënwense vir jou en jou gesin, 

Tannie Louisa Louw



[Sendelinge in die destydse Suidwes. Ds. Willem Louw is in die voorste ry tweede links.]

Die hartseer, worsteling en verslaentheid van duisende NG lidmate word nie gehoor nie. (En dit terwyl DIE KERKBODE ‘n luide spreekbuis vir die gay aktiviste geword het!) Dit gaan natuurlik oor baie meer as oor die gay saak... Dit gaan oor ‘n kerkverband wat haar evangeliese koers verloor het... Oor teologie dosente wat nie meer aan die Bybel en die opstanding van Jesus glo nie... Oor kwynende getalle en leiers wat nie die moed het om profete te wees nie... En ja, ons is almal skuldig...


Ons treur saam met Jeremia. 

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,....” (Klaagliedere 2:11)

Vrydag 30 Oktober 2015

MODERAMEN VAN NAMIBIESE SINODE

het "selfstandig geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie."

Ek plaas die jongste skrywe vanaf die Namibiese moderamen hier onder:*

Van die moderamen, verkose voorgangers in die Namibiese kerkverband, aan die gemeentes van God in Namibië, wat in Christus Jesus geheilig is – geroepe heiliges: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Op 29 Oktober 2015 het ons in Windhoek vergader te midde van ernstige woelinge en dreigende skeuringe binne die NG-kerkverband dwarsdeur Suider-Afrika. Ons is daar deur Paulus se gebed vir die Romeine getroos en wil daarom ook hierdie troos aan julle deurgee daar waar julle is: Mag die God van volharding en bemoediging gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, soos Christus Jesus dit wil hê, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. (Rom 15:5,6)

                Ons skryf na aanleiding van die omstrede besluite oor selfdegeslagverhoudinge en antwoord graag op vrae wat ons gehoor het.

1.      Wat is die status van die Algemene Sinode se besluit in Namibië? Hoekom het ons eers gehoor net een punt is nie van toepassing nie, maar later die hele besluit is nie van toepassing hier nie?
Die besluit is in sy geheel nie hier te lande van toepassing nie omdat die Algemene Sinode dit (op voorstel van twee Namibiese afgevaardigdes) so besluit het.
Ongelukkig het die Algemene Sinode aanvanklik ’n foutiewe formulering van die besluit vrygestel. Daarin is gesê dat net die punt wat handel oor die burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie op Namibië van toepassing is nie. Toe die Namibiërs in die land teruggekom het na die sinode, het ds. Hendrik van Zyl dadelik op die fout gewys en hom daarvoor beywer om die korrekte formulering te kry.
Ons vra verskoning vir hierdie geharwar!

2.      Hoekom lyk dit of die moderatuur se verklaring van 21 Oktober mense etiketteer en in kampe jaag?
Uit verskeie oorde het ons gehoor dat ’n deel van die moderatuur se verklaring van 21 Oktober ongelukkigheid tot gevolg gehad het. Veral die laaste vergelyking in par 2 van die moderatuur se verklaring, nl. “...en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv. ’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)”  het aanstoot gegee. (Kliek op FELDMUIS vir my reaksie op hierdie stelling)
Ons erken dat die moderatuur se verklaring vatbaar was vir misverstand en vra onvoorwaardelik verskoning hiervoor. (Dankie!) Die bedoeling van die verklaring was om lidmate op die kontinuum tussen die ekstreme van die debatslyn te erken en nie om ’n verdeling te bewerk nie.

3.      Die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings geld nie hier nie. Waar staan ons dan nou in Namibië?
Ons het, benewens die feit dat die besluit nie hier van toepassing is nie, selfstandig geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie. Ons kies tans om met die besluit wat die Namibiese sinode in 2006 geneem het, die 2007-besluit van die Algemene Sinode sowel as die 2013-besluit van die Algemene Sinode te volstaan.
Ons onderneem egter om die gesprek oor hierdie sensitiewe saak voort te sit met die oog op standpuntinname tydens die Sinodevergadering in Maart 2016.
Teen hierdie agtergrond versoek ons beleef dat julle in die gemeente in nederige afhanklikheid voor die Here met die gesprek moet voortgaan. Dit gaan krities belangrik wees vir julle afgevaardigdes na die sinode volgende jaar.
Ons wil graag 5 bronne voorstel wat julle in hierdie gesprek kan gebruik as riglyne:
·         Namibië se besluit oor homoseksualiteit van 2006 – ons plak dit hier onder in;
·         Die Algemene Sinode se 2007- en 2013-besluite – ook dit is hier onder ingeplak;
·         ’n Studiestuk oor selfdegeslagverhoudings wat deur dr. Chris van Wyk (van die Oos-Kaap) opgestel is. Dit word as aanhangsel by hierdie epos aangeheg.
·         Die storie van die NG Kerk se reis met selfdegeslagverhoudings wat op die internet beskikbaar is by http://atlas.bybelmedia.org.za.

Liewe Geloofsgenote, onthou: ons is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk wat aan God behoort. Só tipeer Petrus die gelowiges in die diaspora (verstrooiing – 1 Pet. 2:9). Ons diepste anker lê daarin dat ons in Christus God se geliefde seuns en dogters is in wie Hy Hom verbly. Mag hierdie anker sterk genoeg wees om ons deur hierdie turbulente tyd in ons geskiedenis te dra!

Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal!

Di Pine Pienaar, Johannes Maritz, Hendrik van Zyl, Evert Strydom, Gerhard Liebenberg, Clem Marais, drr. André Olivier, Fourie vd Berg.
Oudll Fouché Brand, Recht vd Westhuizen, Jacques Coetzer, Pieter vd Westhuizen, Fanie Badenhorst.
LEDE VAN DIE MODERAMEN TEENWOORDIG OP DIE VERGADERING VAN 29 OKTOBER 2015

Die Namibiese sinode se 2006-besluit oor homoseksualiteit:
1.   Die kerk besef en erken dat daar in die Bybel eksplisiete vermelding is van ‘n verskeidenheid van seksuele optredes wat afwyk van en in teenstelling is tot die oorspronklike bedoeling van God met seksualiteit. Praktyke en optredes soos buite-egtelike geslagsverkeer, bloedskande, verkragting, egbreuk/huweliksontrou, prostitusie en egskeidings word onomwonde in die Bybel vermeld. Vreemd genoeg word hierdie optredes nie elkeen op presies dieselfde wyse in die Bybel beoordeel en/of afgewys nie. Die twee seksuele optredes wat in die Bybel op die skerpste wyse veroordeel word, is prostitusie en homoseksuele gedrag.
2.   Dat die sondige natuur van die mens se verwording en verval uiteraard ook (‘n mens wil byna sê, veral) in dade en optredes van seksuele aard na vore kom, maak nie die goddelike gegewe van menslike seksualiteit as sodanig sondig nie. Eerder   besef die kerk dat dit wat die Bybel vir ons oor die aard en gevolge van sonde leer, met konsekwente erns ook op praktyke wat in teenstelling tot die bedoeling van God met seksualiteit gepleeg word, van toepassing is. Sonde vernietig die mens se lewenspotensiaal en lei tot die ewige geestelike dood. Om met die gawe van ons seksualiteit om te gaan en dit uit te leef op ander maniere as wat God self daarvoor gewil het, is soos wat dit trouens die geval is met die ondoelmatige uitlewing van enige ander gawe wat die Skepper aan die mens toevertrou het, sonde in die oë van die Here.
3.   Die opvallende is dat nêrens in die Bybel eksplisiet inhoudelik berig word omtrent spesifieke dade en optredes van homoseksuele geslagsgemeenskap nie. Daar word slegs op indirekte wyse na sodanige optredes verwys of oor die neiging daartoe gepraat en dan wel in ernstige veroordelende taal en bedoeling.
4.   Op grond en na aanleiding van deeglike eksegetiese ondersoek en begronding is dit op geen manier vir die kerk in haar lesing en interpretasie van die Bybel moontlik om homoseksuele dade en praktyke van geslagsgemeenskap te aanvaar en te regverdig as dit ook binne die oorspronklike bedoeling van God met menslike seksualiteit verstaan en gehandhaaf kan word nie. Dit strook volgens die Bybel nie met God se oorspronklike bedoeling vir menslike seksualiteit nie.
5.   Die kerk kan nie anders nie as om die bestaande werklikheid van mense met ‘n homoseksuele oriëntasie te erken nie. Sommige navorsing vanuit die menswetenskappe wys onder meer daarop dat ‘n mens se seksuele oriëntasie, hetsy heteroseksueel of homoseksueel, so wesenlik deel is van die mens se identiteit en selfbewussyn dat dit net so min kan verander, ontgroei of afgelê kan word as wat ‘n mens se ras of geslag deur psigiese prosedures kan verander. Net soos wat daar baie ander werklikhede in die skepping is wat ons nie kan verklaar nie, kan ons ook nie ten spyte van baie navorsing en studie, afdoende verklaar of  verstaan hoekom dit is dat sommige mense se konstitusie so is nie. Die kerk getuig dat die Bybel in geen taal praat of leer oor die onverstaanbare werklikheid van hierdie soort oriëntasie by ‘n klein persentasie mense nie. In die Bybel word slegs deurlopend verwys na en gepraat oor die neiging tot die praktyk van homoseksuele geslagsgemeenskap tussen merendeels mans en soms ook vroue. Ons besef en aanvaar dat mense met sodanige natuurlike oriëntasie nie bloot afwykende, immorele of sondige keuses maak om op so ‘n manier te wees nie.
6.   Deur die erkenning van die werklikheid van ‘n menslik-onverklaarbare  homoseksuele oriëntasie by sommige  mense aanvaar die kerk die verantwoordelikheid om hierdie mense met ‘n pastorale gesindheid van sensitiwiteit en begrip te aanvaar en respekvol te behandel as ewemense voor die aangesig van die lewende God wat hulle geskep het. Mag die Gees van Christus sy gemeente tog daarvan bewaar om in ‘n gesindheid en houding van onverdraagsaamheid en geestelike hoogmoed veroordelend en verkleinerend teenoor enige mens van God se liefde op enige wyse te dink of op te tree. Waar sodanige gedrag of houding in die verlede of tans nog deur lede van die kerk teenoor mense van homoseksuele oriëntasie uitgeleef is, het die kerk skromelik in haar roeping tot genadige liefdesdiens in die Naam van Christus gefaal.
7.   Die kerk aanvaar en eerbiedig ook in goeie trou mense met ‘n homoseksuele oriëntasie se opregte belydenis van hulle egte saligmakende geloof in God Drie-enig as ‘n geloof wat alleen berus op die genadige soenverdienste van Jesus Christus, ons Here.
8.   In sy etiese lering handhaaf die kerk dat die Bybel duidelik is oor die goddelike gegewe van menslike seksualiteit. Ons verstaan dat seksualiteit primêr deur God geskep en bedoel is om die menslike geslag  te laat voortplant en te vermeerder  binne die raamwerk en ruimte van gesinne gegrond op ‘n onverbreekbare egverbintenis en trouverbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat mekaar liefhet. Dit is ook die ruimte waarbinne die mens vreugde vind in die belewing en beoefening van sy / haar seksualiteit, omdat die mens daarmee, ten spyte van die gebrokenheid en verval van die skepping, met die hulp van die Gees van Christus tog daarna streef om te probeer voldoen aan die  bedoeling en wil van God self. Immers deur die eeue heen het die kerk getuig dat die goddelik-bedoelde beoefening en uitlewing van die mens se seksualiteit in ‘n verhouding van trou, die een hoedanigheid van die mens is wat hom / haar op die mees lewensvervullende wyse in verhouding tot ‘n medemens bring. 
9.   Wanneer die kerk dus ‘n pastorale gesindheid en optrede van aanvaarding teenoor mense van homoseksuele oriëntasie handhaaf, kan die kerk nie anders nie as om hierdie mense te versoek om die verantwoordelikheid van die selibate lewe te aanvaar en hulle te weerhou van dade en praktyke van homoseksuele geslagsgemeenskap nie. Dit is nie die geval omdat die kerk daarmee in eie reg en terwille van selfhandhawing so kies nie, maar omdat die kerk gewoon nie anders kan nie as om te probeer om, sovêr dit binne haar begrip en vermoë is, getrou te bly aan haar verstaan van God se oorspronklike bedoeling met menslike seksualiteit soos die Bybel daaroor praat.
10. Daar is geen manier waarop die kerk lidmate van ‘n homoseksuele oriëntasie wat selibaat leef, wil verhinder of belemmer in die uitleef van hulle diens aan die Here nie.  Daarom aanvaar die Kerk dat hulle net so geskik en bekwaam is soos enige ander lidmaat om ampte in die gemeente te beklee.  Die lewe van selibaat wat die kerk van lidmate en medegelowiges van homoseksuele oriëntasie verwag, is dus nie bedoel om hulle te na te kom, te veroordeel of te verontreg nie.  Eerder word dit gebore uit ‘n eerlike en opregte poging om in ons menslike swakheid, niks anders te wil wees of na te streef as om Christus, ons Here, te ken en aan Hom gehoorsaam te wees uit dankbaarheid vir Sy onverdiende en onbegryplike genade in ons lewe nie.

Die Algemene Sinode se 2007-besluit oor homoseksualiteit:
1.   Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2.   Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3.   Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4.   Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou kan word.
5.   Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6.   Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7.   Die verlening van predikantsbevoegdheid is ‘n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ‘n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8.   Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.
Die Algemene Sinode verklaar dat die besluit van 8 punte insake homoseksualiteit as 'n eenheid aan die Algemene Sinode gestel is en dat hierdie besluit as 'n eenheid gelees en verstaan moet word.

Die Algemene Sinode se 2013-besluit oor homoseksualiteit:
Die Algemene Sinode
1 bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ʼn deeglike eksegetiese en teologiese studie;
2 gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ʼn studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie;
3 besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie;

4 verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

*Die feit dat ek hierdie volle verklaring so plaas beteken nie noodwendig dat ek als persoonlik daarin onderskryf nie. Dit is wel positief in die sin dat die moderamen duidelik nie die AS 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings onderskryf nie! Dit beteken volgens my beskeie interpretasie dat praktiserende homseksuele predikante nie in Namibië bevestig mag word nie! Hierdie saak se ontwikkeling in Namibië laat mens natuurlik met baie vrae, soos oor die rol en die integriteit van die Algemene Sinode. Byvoorbeeld, wat is die standaard van notulering van so 'n belangrike kerkvergadering soos die AS, hoe kan die AS dan nou verskillende legitimasie vereistes voorstaan binne dieselfde kerkverband? 'n Mens wonder ook oor hoekom sommige moderatuurslede van die Namibiese sinode die AS besluit in die openbaar so naarstigtelik verdedig het?