BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Anders wees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Anders wees. Wys alle plasings

Vrydag 17 Mei 2019

LUISTER NA LEVITIKUS


- WEES HEILIG! 



Levitikus is nou seker nie juis die gewildste Bybelboek onder Christene nie. Dis hoofsaaklik ‘n beskrywing van offers en wette. En ons weet tog ons hoef nie meer bloedoffers te bring nie, want Jesus self is die finale en genoegsame OFFER van die Nuwe Verbond. Nou wat van al die ander wette? Ons weet tog ook dat ons nie meer onder al hierdie detailwette byvoorbeeld die voedselwette staan nie, juis ook omdat ons nou in die bedeling van die Nuwe Verbond leef. (Kliek op KREEF



Maar het Levitikus dan nog enigsins vir ons ‘n boodskap? 


Ja, baie beslis! Wat is dié boodskap? 'n Boodskap wat die kerk nou nodiger het as ooit tevore...  “En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees.” (Levitikus 20:26) 

Kyk ook na Levitikus 11:45; 19:1,2. Soos ‘n refrein klink dit deurgaans-  "Wees heilig, want ek is heilig!"

En baie belangrik!  Hierdie beginsel word eksplisiet in die Nuwe Testament herhaal. “Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:15,16) 

TWAALF ARTIKELS

‘n Heilige kerk, ‘n heilige afgesonderde Godsvolk – dis ‘n kernwaarheid van die Christelike geloof! Dis immers wat ons gereeld bely in die Twaalf Artikels – “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!”

Ja,daar is twee uitstaande kenmerke van die kerk van Jesus – Eenheid. “algemeen”. God het net een kerk oor die hele wêreld, die kerk van alle tye, die kerk wat bestaan uit alle nasies volke en tale. Die ander opvallende en uitstaande kenmerk, eintlik die eerste een wat die Apostolicum uitlig, is die heiligheid van die kerk. Wat beteken dit en waarom is dit so belangrik? 

LIG IN 'N DONKER LAND

In Levitikus vertel die Here aan die volk wat Hy uit Egipte verlos het hoe hulle moet leef. Onthou God het sy volk uit Egipte verlos sodat Hy hulle God kan wees. Hy wil in ‘n innige verhouding met hulle staan. By Sinai vertel Hy aan hulle hoe dit werk... (Eksodus 19:4-6!) “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees....” 

Hierdie volk moes nou in die land Kanaän gaan woon. Die land Kanaän was vol heidene. Dit was ‘n gruwelike plek vol okkultisme en afgodery – mense het daar selfs hulle kinders aan die afgod Molek geoffer. Afgryslike onsedelikheid, tempel prostitusie, geweld en verwording... En nou sê God vir sy volk in hierdie konteks : “Julle moet anders leef as die goddelose mense rondom julle. Julle is spesiaal, julle is afgesonder vir my. Ek het julle eenkant gesit vir Myself!” Heilig beteken dus - rein, skoon, eenkant gesit, spesiaal afgesonder. “Wees anders as die verdorwe heidendom, want julle is my spesiale mense! Julle is my verteenwoordigers! Julle moet My eienskappe uitstal. Julle moet vir hierdie besoedelde en deurmekaar heidene wys hoe lyk die karakter van die ware God. Julle moet lig wees in die nagdonker duisternis. Ek is heilig, julle moet daarom ook heilig wees!” 

Ons word nou nog net so geroep om anders te wees as die wêreld rondom ons – Ons het ander standaarde as die wêreld. Ons moet God liefhê in ‘n wêreld wat God en sy ordes haat, ons moet God eer en eerste stel in ‘n wêreld wat geen ontsag meer vir God het nie, ons moet vergewe in ‘n wêreld wat vergelding en weerwraak soek, ons moet rein leef in ‘n wêreld wat sedeloos en losbandig leef, aan God getrou wees in 'n verdorwe kultuur wat homoseksualiteit verafgod! Ons moet nugter wees in ‘n wêreld waar mense dink dis snaaks en "cool” om dronk te wees, ons moet eerlik wees in ‘n wêreld wat vol bedrog en korrupsie is, ons moet nederig wees in ‘n wêreld wat altyd spog en brag en selfverheerliking nastreef… Samevattend, ons moet soos Jesus leef in ‘n wêreld wat Hom juis gekruisig het! GEVAARLIK! Hulle gaan ons wat heilig is, ook kruisig! (Vra vir Israel Folau. Terloops, dis darem jammer hy kon nie 'n afgevaardigde wees by die onlangse sinode van die NGK Weskaapland nie!) 

VIR ALMAL!

Hierdie heiligheid is inherent deel van Christenwees. Dis nie net ‘n opdrag vir sommige Christene nie, maar vir almal. 

Alle Christene word as heiliges aangespreek in die Nuwe Testament. (1 Korintiërs 1:2) “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:" (OAV) 
"Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here." (NAB) 

Alle Christene word dringend opgeroep tot heiligheid! (Hebreërs 12:14) “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Wanneer die kerk nie meer heilig is nie verloor sy haar getuieniskrag en maak ‘n bespotting van die evangelie! Inderdaad kan die kerk so onheilig raak dat selfs die goddelose wêreld daaroor geskok is!* 

Sonder heiligheid kan ons nie ons roeping vervul nie, sonder heiligheid kan ons nie getuies wees nie, nie bruikbaar wees nie. Sonder heiligheid sal ons nie blydskap en sekerheid beleef nie! Sonder heiligheid verloën jy Jesus wat jou juis losgekoop het om juis heilig en afgesonder vir Hom te wees. 

As jy hoegenaamd dankbaar is vir Jesus se kruisdood in jou plek, as jy vanoggend bely om aan die lewende God te glo en aan Jesus behoort, hoor en gehoorsaam hierdie opdrag : Wees HEILIG, WANT EK IS HEILIG! 

*Hierdie pynlike feit is nou weer op skokkende wyse aan die lig gebring deur die Pool, Tomasz Sekielski se skokkende dokumentêr : TELL NO ONE (2019)


Heiligheid beteken vir ons nie meer dat ons nie kameelvleis mag eet nie, maar wel dat ons soos Jesus moet leef volgens die beginsels van die Nuwe Verbond!



Donderdag 01 Desember 2016

KINDERS VAN DIE STALBABA...

...VREEMDELINGE IN HIERDIE WÊRELD, MAAR JUIS DAAROM HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND!



Lukas 2:7 - “Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” 


Die betekenis is duidelik, daar was (is) nie plek vir Jesus in ons "beskawing" nie, Hy is ‘n buitestaander, vreemdeling, bywoner...

...en Sy volgelinge?

1 Petrus 2:11,12 - “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” 

Die afleiding is baie logies. Jesus se volgelinge is dus kinders van ‘n Stalbaba, hierdie Uitgeworpene vir wie daar nie eers as pasgeborene ‘n plek was nie... Ware kinders van God is mense wat ANDERS is... Ons lojaliteit lê by ‘n ander Koning en ‘n ander Vaderland en ons het ‘n ander leefstyl. Daarom is ons ook maar verworpenes en buitestaanders...

Kinders van God is mense wat deur hulle persoonlike geloof in Jesus en sy kosbare bloed, verlos is van hulle ou sondige bestaan en leefwyse en daarom nou ‘n ander leefwyse en leefstyl het. Daar is ‘n reuse kontras en verskil tussen ons manier van dink en doen en die wêreld waarin ons onsself bevind. Hierdie waarheid het Petrus reeds aan die begin van sy brief beklemtoon waar hy die kinders van God as “vreemdelinge” aanspreek. (1:1) Hier stel hy dit nog sterker as hy die Christene pertinent “vreemdelinge en bywoners noem.” Die kontras tussen God se uitverkore kinders en die wêreld waarin ons tydelik woon is seker geen tyd van die jaar duideliker as gedurende die komende feesseisoen en vakansietyd nie! Dis hierdie tyd van die jaar waarin ons so maklik versoek word om vrye teuels gee aan die uitlewing van ons bose begeertes. Christene leef nie veilig in ’n kweekhuis nie maar in ’n rowwe vyandige goddelose wêreld . Ons leef nie afgesonderd eenkant nie, maar onder die kritiese oë van ons medemense. Die ouens “watch” jou as jy al gesê het dat jy ’n Christen is! Ons dryf ook nie bo die wolke nie maar binne die normale maatskaplike en sosiale strukture van ons omgewing. Hoe gaan ons dit regkry om positief anders te wees (met blydskap) in ‘n stukkende vyandige wêreld?

Die eerste stap tot ’n regte lewensstyl is - Onthou wie jy is. Kind van God, hierdie wêreld met hierdie sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Deur die WEDERGEBOORTE is jy ‘n burger van ‘n ander koninkryk, jy is ‘n onderdaan van ‘n ander Koning!

Ja, jy is ‘n onderdaan van Koning Jesus wat reeds van sy geboorte af ‘n uitgestotene en verworpene was. 

En daarom is dit normaal as almal in hierdie wêreld nie van jou gaan hou nie. Dis normaal as jy uitgestoot, beledig en vervolg word. Samuel Rutherford, die Skotse Godsman het dit so treffend gestel : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.”

Hou vas aan jou nuwe identiteit as burger van God se koninkryk. Herinner jouself daaraan. Kom ons wees prakties – die advertensiewese maak ‘n geweldige appèl op ons almal – natuurlik om soveel moontlik geld uit ons te kry. Die advertensies wil ons vertel hoe lyk ‘n suksesvolle man, hoe lyk ‘n mooi vrou, hoe lyk en doen ‘n gelukkige mens - jy moet baie geld hê, jy moet uitlokkende klere dra, jy moet grootpraat en jou prestasies op Facebook uitbasuin... Dis dan wanneer jy vir jouself moet sê : “My geluk en vrede vind ek op ‘n ander manier as wat die reklame wêreld my wil wysmaak. Hierdie advertensies het eintlik niks met my te doen nie, want ek behoort nie aan hierdie verbygaande koninkryk nie, maar aan die ewige koninkryk!” Hierdie wêreld en sy bates en plesiere gaan verby... (lees 1 Joh 2:15-17.)

Die tweede stap is - Onthou jou van slegte begeertes. Dit lyk my Petrus aanvaar dit as vanselfsprekend dat ons met slegte begeertes gekonfronteer gaan word. Die vraag is net hoe gaan ons dit hanteer? Die Bybelse raad is deurgaans :

Vermy, bly weg van wat verkeerd is. 

Bly weg van verkeerde gewoontes, dinge wat slegte begeertes in jou wek..... Maak werk daarvan : bedenklike tydskrifte, “songs”, TV, ja ook verkeerde vriende... “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (2 Timoteus 2:22) Die OAV stel dit sterker – “vlug”. Jesus self was baie radikaal in sy raad teen verkeerde begeertes. "As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word." (Matteus 18:8,9) Baie belangrik- ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag. Ons kan egter verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (1 Petrus 4: 4,5)

Die derde stap is - Hou jou lewenswandel skoon en doen goeie werke. Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe is ten diepste goed. Gaan uit jou pad uit om goed te doen aan ander! (Titus 3:8) Op die ou end moet mense dit insien en erken. Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Dis ‘n feit, daar is so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid...

 Vriendelike heiligheid, nie dikbek heiligheid nie. Vreugdevolle heiligheid, nie ‘n droewige heiligheid nie. Positiewe heiligheid, nie ‘n heeldag geklae oor die regering, die ekonomie en al die slegte mense nie! 

Wys met jou ‘n lewe ‘n positiewe alternatief vir die wêreld met sy skynvreugdes, die ydele gejaag na wins, die verstikkende selfbejammering en selfsug. Ons blye heiligheid moet uitgestal word. Dis in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik!” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word en God op die oordeelsdag verheerlik.

Opsommend :

1.Laat ons voortdurend bewus wees van wie ons is - vreemdelinge en bywoners. Ons pas nie hier nie, ons hoort nie hier nie! Maar ons is wel voluit betrokke omdat dit God se wil is dat ek en jy nou hier moet wees!

2.Christene se getuienis sal effektief wees wanneer hierdie getuienis nie net woorde wees nie, maar goeie dade wat sigbaar is. Wat sien mense, wat hoor mense nou op hierdie tyd in jou lewe? Wat gaan hulle in hierdie feestyd van ons sien? Sal dit hulle bring tot verheerliking van God of sal dit hulle nog verder afstoot van God ?

3.Ons wen nie mense vir die waarheid deur te konformeer nie, maar juis deur anders te wees in alle opsigte. Die kerk het net aantrekkingskrag solank ons anders as die wêreld is. Solank ons ‘n alternatief verkondig en uitleef!

GAAN LEEF NOU HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND AS 'N VOLGELING VAN DIE STALKIND!


Persoonlik - ons beoog om andere hierdie vakansie 'n draai te maak op Koppies in die Vrystaat waar ons 'n kort maar besondere tydjie in ons lewe kon deurbring... en ja, dis hoe Marisja en Jonette op 'n tyd gelyk het...



Maandag 01 Desember 2014

ANDERS!

-maar hoe anders? 


‘n Christen is iemand wat die goeie nuus gehoor het : “Jou sondes is uitgewis!” ‘n Christen is ook iemand wat gereageer het op die daaropvolgende uitnodiging : “Keer terug na my!” (Kliek op UITGEWIS) As die goeie nuus van Golgota my hart gegryp het en ek my bekeer het tot die Here kan ek nooit meer dieselfde wees nie. Die Christen is daarom in wese ANDERS! Die vraag is nou net hoe anders, in watter opsigte? Ons bly tog mos gewone mense, ons werk, ons trou, maak kinders groot, ons is landsburgers, ons het ook ontspanning nodig soos alle ander mense...

Petrus vertel ons...

“Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Petrus 2:11,12)

ONS STATUS OP AARDE IS DIE VAN VREEMDELINGE EN BYWONERS!

Hoe moet ons dan anders wees? Petrus beskryf ons andersheid baie treffend deur die woorde vreemdelinge en bywoners. Die term vreemdelinge het hy reeds in 1 Petrus 1:1 in sy aanhef aangeroer. “Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld,...” Die terme sê so baie - ’n vreemdeling en bywoner in ’n land neem voluit deel aan die lewe, maar hy is in wese anders en sy ware lojaliteit lê elders in sy eie vaderland! In alle opsigte verskil hy van die huidige tydelike kultuur en leefstyl - sy waardes, gewoontes, maniere, lojaliteite... selfs kleredrag vertoon ‘n ander invloed. Die punt wat Petrus baie duidelik wil stel is : Kinders van God mag nie konformeer nie, mag nie dieselfde gewoontes hê nie, dieselfde gedrag openbaar as wat in die huidige goddelose wêreld waar ons woon aan die orde van die dag is nie. 

Petrus is nie die enigste Bybelskrywer wat ons verhouding met die wêreld so beskryf nie. Ook die Hebreër skrywer in Hebreërs 11:10,13,14; 13:14 onderstreep hierdie waarheid. “...(Abram) het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is....Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland... ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

Ook Paulus beklemtoon dat ons burgerskap nie regtig hier gesetel is nie! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Filippense 3:20) 

Petrus lig vir ons drie sake uit met betrekking tot ons andersheid:

~ Die andersheid van die Christen lê dus eerste daarin dat ek my unieke eiesoortige identiteit sal besef. Dus : Onthou wie jy is. ‘n Tydelike vreemdeling en ‘n bywoner! Hierdie wêreld met sy sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Dis nie ons finale bestemming en ware lojaliteit nie. (Dis veral belangrik om jouself hieraan te herinner in tye wanneer dit baie goed gaan en jou besigheid net groei en groei. Besef dan – “ek gaan nie vir altyd hier wees nie, ek moet nie perspektief verloor nie”, maar ook in tye wanneer dit sleg gaan, wanneer die besigheid misluk of ek gediagnoseer word met ‘n ongeneeslike siekte... weet dan - “hierdie omstandigheid het nie die laaste sê nie, daar wag vir my ‘n ewige heerlikheid in my ware vaderland...”)

~ Tweedens bestaan ons andersheid daarin dat ons radikaal sal kies teen die slegte begeertes en waardes wat die mense en omgewing rondom ons beheers en bepaal. Verkeerde begeertes wat gestimuleer word deur alles wat ons rondom ons sien en beleef, hou ’n permanente bedreiging in vir die Christen. Die uitspattige leefstyl van die bure, die uitlokking tot losbandigheid op die tydskrifvoorblaaie, elke dag se neagtiewe nuus... Hierdie slegte begeertes was vroeër deel van Christene se lewens, dis nou agtergelaat, maar dit hou nog steeds gevaar in… Vermy dit, bly weg van wat verkeerd is, moenie toegee en swig nie. Tree aktief op en vrae jouself : Moet ek deur daardie tydskrifte op die winkelrak blaai, moet ek na daardie "songs" luister, is daardie sepie op TV bevorderlik vir rein gedagtes? Beteken dit ons moet kluisenaars of nonne word? Nee! Ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag.*  Hierin was Jesus vir ons ‘n radikale voorbeeld en rolmodel. “Die Here Jesus was nie ‘n kluisenaar nie...Hy het Hom nie prakties afgesny van die samelewing nie, maar tog was Hy innerlik vry en afgeskei van die wêreld. Hy was nie afgetrokke of afsydig nie... Om die waarheid te sê, Hy was in so ‘n mate deel van die alledaagse wêreld, dat die godsdienstige mense van sy tyd Hom as ‘n vraat en ‘n wynsuiper beskou het. Tog het ons Here nooit toegelaat dat iets inbreuk maak op die toewyding van sy geestelike krag nie.” (Oswald Chambers) Wees radikaal anders in jou optrede te midde van ander mense. 

Almal sal egter nie ingenome wees met jou nuwe gedrag nie! Ons kan verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (2 Petrus 4:4!) Juis die teenkanting en spot wat ons van die wêreld moet verduur is ‘n aanduiding dat ons op koers is na ons ewige Vaderland en nie hier hoort nie! Samuel Rutherford vat dit so raak : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.” 

~ Derdens moet ons andersheid gekenmerk word deur ‘n positiewe heilige andersheid. Dit gaan dus nie net oor dinge wat ons nie meer doen nie, maar veral oor dinge wat ons nou wel moet doen in ons omgewing waar ons tydelik leef! Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe maak ‘n positiewe verskil. Op die ou end moet mense dit insien en erken... en ja, dit kan selfs tot hulle bekering lei! Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. (Kliek op AGENDA IN HEIDENSE SAMELEWING) Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Daar is juis so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, eerlike besigheidsmanne, kwaliteit ambagsmanne, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid, tevrede mense, nederige kampioene, blymoedige pasiënte, eerlike belastingbetalers, gehoorsame landsburgers wat die gesag oor ons respekteer! “omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid,...” (1 Petrus 2:14) Hierdie sigbare leefstyl van anders wees is in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik.” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word, hulle bekeer en God op die oordeelsdag verheerlik. 

‘n Wegkruip lewensstyl is nie ‘n opsie vir die Christen nie! ‘n Wegwyser lewe (na ‘n beter alternatief) is ons plig!

Kom ons raak sommer lekker prakties : Ons dra klere nes alle mense, maar ons word nie oorheers en gedryf deur die goddelose kaalgat modegiere van hierdie wêreld nie. Ons versorg ons liggame, maar ons hoef dit nie voor wellustige oë op SKOONHEIDSKOMPETISIES en die strand uit te stal nie. Ons leef gesond en verantwoordelik, maar glo nie in ‘n heidense ideaal van “Forever Young” nie! Ons werk en doen besigheid soos ander mense, maar ons word nie verteer deur geldgierigheid nie. Ons geniet ons kos, maar is nie vrate wat leef om te eet nie! Ons pas ons eiendom op, maar ons blydskap word nie bepaal deur die hoeveelheid van ons besittings nie. Ons bly in huise soos ander mense, maar ons rig nie vir ons kastele op asof ons vir altyd hier gaan bly nie. Ons is burgers van ‘n bepaalde land en lede van ‘n bepaalde volk wat ons pligte nakom, maar ons verabsoluteer en romantiseer dit nie, want ons weet ons ware burgerskap is elders! Maar omdat ons ‘n vaste burgerskap en ‘n ewige sekuriteit het, kan ons juis ook nou vreugdevol, vriendelik, kreatief, entoesiasties, tevrede, sonder vrees en swaarmoedigheid hier en nou leef. 

Dis die aantrekkingskrag en effek van die evangelie – anders, ja, heilig anders, maar juis blymoedig anders!

* Van Houwelingen: “Bepalend voor het christelijk leven is niet de distantie tot de medemens zelf, maar tot het bedorven leven dat hij leidt”.




Saterdag 24 November 2012

GROOT GENADE

- het groot gevolge. 

Alles, alles net genade! Ons kan alleenlik deur God se genade die verlossing ontvang.  Ons ken  mos Efesiërs 2:8  wat leer: “Uit genade is julle gered...” Anders gesê : Daar is net een rede waarom sondaar mense gered word en vir ewig die hemelse heerlikheid kan deel en dis op grond van God se ryk genade. 

HEMELSE NAVORSING

Kom vat ‘n mikrofoon en gaan doen bietjie navorsing in die hemel...  Jy sal so ‘n kort mannetjie daar kry met die naam van Saggeus... Praat met hom. Jy sal hoor : “Ek was die grootste skelm en skurk. Ek het net vir geld geleef. Ek was ‘n afperser en bedrieëer. Maar toe roep Jesus my... dit was net genade, want ek was die slegste ou op die dorp. Toe kom Hy na my huis en ek ontvang genade en word ‘n nuwe mens.”  Miskien sal jy ook ‘n vrou daar raakloop, die Samaritaanse vrou vir wie Jesus die Lewende water by die put van Sigar gegee het. “Ja, ek was in ‘n ellendige toestand van sonde. Ek was al vyf keer getroud en op daardie stadium het ek sommer maar net saam met ‘n man gebly. Maar toe konfronteer Jesus my en ek ontvang genade, volkome vergifnis...” Jy moet beslis  met Petrus ‘n onderhoud voer : “Ek was die leier dissipel. Arrogant, vol van myself. Maar jy weet mos wat het gebeur, ek, juis ek van alle mense het drie keer in die openbaar Jesus verloën. Ek het die grootste van alle sondes gedoen. Maar weet jy wat, ek het weer genade ontvang, soveel so dat ek die opdrag gekry het om die Here se skape op te pas! Wondergenade!” Praat met  Paulus, die besetene van Gadara, Maria Magdalena, die tronkbewaarder van Filippi...  Ja, jy kan onderhoude voer met nog duisende en duisende ander... die basiese antwoord sal wees : “Ons is hier alleenlik weens God se onbeskryflike groot genade!”

RADIKALE GENADE

Hierdie genade van God is die kern van sy verbondsbeloftes wat eerste uitreik na die mens : “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet vir my ‘n kind wees.”  Dis die basis van God se verhouding met die mens, soos Hy dit alreeds aan Abraham uitgespel en beloof het.  Maar genade het nog 'n groter verrassing vir ons...

Kom kyk bietjie saam met my na die inhoud, maar veral die gevolge van genade soos dit vir ons verduidelik word in Titus 2:11-15. (Lees dit gerus saam met my in jou Bybel)  Die openbaring van God se genade bereik ‘n hoogtepunt van duidelikheid en heerlikheid as Jesus kom en aan die kruis sterf. “Hy het homself vir ons as offer gegee...” (Vers 14) Volgens die verbondseise moes ons gehoorsame kinders vir God gewees het, maar ons kon dit nie regkry nie. Ons sonde het ons laat wegdwaal van God en het God se straf oor ons gebring. Maar toe kom Jesus en vat die straf op Hom. Hy offer Homself vir ons. Dis uiterste genade! Iemand anders vat my verdiende straf in my plek! Romeine 3:23,24 stel die vryspraak uit genade op grond van Jesus se verlossingswerk so treffend! (lees) 

GENADE LEER ONS OM ANDERS TE WEES

Genade gaan oor vergifnis, regverdiging (justification), maar dit eindig nie daar  nie. Genade gaan verder. Genade voed ons op! (Vers 12) Genade  leer ons ‘n totaal nuwe lewensstyl en siening. Groot genade het ingrypend  groot gevolge in die lewens van die ontvangers daarvan! Dit word pragtig uitgespel deur Paulus in hierdie gedeelte. Kom ons kyk bietjie na die onmiskenbare gevolge van genade:

Genade leer ons om sekere dinge te los en agter te laat. Ons sê totsiens vir ‘n goddelose leefwyse, waar ek gemaak het soos ek wil. Ek onderwerp my aan God. Ek neem sy opdragte ernstig op! Ek neem ook my beloftes teenoor Hom ernstig op. My doopbelofte.  My lidmaatsbelofte. My huweliksbelofte. Genade maak dat God ‘n werklikheid in my lewe word. Ek het respek vir Hom, ek eer Hom! Genade maak dat ek my rug keer op my ou lewe wat ingerig was volgens wêreldse begeerlikhede. (1 Joh 2:15-17) My lewe draai nie meer net om die dinge wat ek kan sien nie. My lewe word nie meer beheer deur besittings, mag en plesier nie!

Genade leer ons ook positief ‘n nuwe leefstyl. Hierdie nuwe lewe is ‘n lewe van selfbeheersing. Ek doen nie meer dit wat by my opkom, dit wat my ou sondige natuur vir my voorskryf nie, dit wat ek voel ek wil doen nie... my lewe word nou beheer deur die Heilige Gees in ooreenstemming met God se Woord! Genade bring egtheid en opregtheid in my lewe. Ek is nie volmaak nie, maar ek het egte berou oor sonde, egte liefde vir die Here. Ek leef eerlik voor God en mense. Genade aktiveer ‘n mens se gewete, dit maak mens sensitief vir sonde, vir die stem van die Heilige Gees. Genade bewerk  positiewe vrugte van ‘n nuwe lewe. Dit laat ons dinge doen waarvan God hou. Nou reeds in hierdie stukkende teenswoordige wêreld. Ja, ek en jy wat genade ontvang het kan nou  lewe op ‘n manier wat eer aan God bring. Onthou Jesus het gekom sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om goeie werke te doen! (Vers 14)

Genade skep by ons ‘n toekomsverwagting. Genade gee vir ons ‘n visie wat die wêreld nie het nie. Die wêreld kyk net vas in die hier en nou. Die plesier wat ek nou kan kry, die geld wat ek nou gaan maak..., of aan die ander kant na al die ellendes, opstande, stakings, onrus...van nou!  Genade tel ons oë op om verby die sigbare te kyk.  Genade laat ons verder sien. Ons sien uit na die gelukkige dag wanneer Jesus in heerlikheid sal kom. Wanneer ons ons Verlosser sal sien en wanneer ons verlossing volkome afgehandel sal word. Hierdie toekomsvisie is juis ook weer ‘n sterk motivering om nou reeds heilig te leef. (1 Johannes 3:2,3)

Het God se genade al hierdie verskil in jou lewe gemaak? 

Is jy anders as voorheen?  Is jy besig om die ou dinge agter te laat? Is jy daagliks besig om ‘n nuwe leefstyl volgens God se Woord aan te leer? Het jy ‘n verwagting oor die toekoms saam met Jesus?

Miskien kom jy agter dat God se genade nog net ‘n mooi teorie vir jou is. God het sy genade aan jou beloof, maar jy het dit nog nooit doelbewus in Jesus aanvaar nie. Jy loop as’t ware  met ‘n getekende tjek in jou sak, maar jy het dit nog nooit getrek nie. Aanvaar die ryk oorvloedige genade van God vandag, sommer  nou en jy sal sien hoe dit jou tot ‘n nuwe lewe lei!


Genade is soos reën in die Kalahari. Dit maak 'n groot (groen) verskil. Op die foto is die klein kerkie op Wilzdale, naby die grenspos Mokopong ongeveer 90 km vanaf Bray.