Almal ken hom, dis immers hy wat seker meer as
enige ander persoon gedoen het om die asemrowende wonders in die natuur tot in
ons huise te bring. Dwarsoor die wêreld.
Sy unieke stemtoon, sy rustigheid, sy detail kennis wat op maklik
verteerbare manier aangebied word en die gepaardgaande uitstekende fotografie
het baie bewonderaars uit ‘n groot verskeidenheid van oorde gewen.
As Christene kan ons God dank vir die algemene
genade en wonderlike talente van insig en kommunikasie waarmee Attenborough
geseën is. Maar dis juis hier waar die hartseer probleem ook sigbaar word. Sir
David homself erken dit nie. Hy besef nie die goedheid van God in sy eie lewe
nie, hy is ook tragies blind vir die Skepper agter die wonderlike skepping wat hy so op ‘n
bekwame manier aan ons bekendstel.
Hier het ons nie net te maak met ‘n stuk
ongelukkige onkunde nie, maar met die wortel van alle sonde. Romeine 1:18ev
verduidelik dit baie mooi. God se werke as Skepper in die skepping is duidelik
waarneembaar. En tog weier mense om die Skepper te eer en verheerlik eerder die
skepsels. En weens hierdie vreeslike rebelsheid gee God self die mens se hart
oor aan bose dade en gesindhede.
Attenborough beskryf homself nie as ‘n ateïs
nie, maar eerder ‘n agnostikus. Hy besef tot ‘n mate Iemand moet agter als
wees, maar Hy aanvaar nie God se openbaring in sy Woord dat God die goeie
Skepper is nie. Een rede wat hy noem is die probleem van lyding. Hy meld van
die parasiet wat net kan bestaan as hy die oogbal van ‘n mens binnedring – en dit
veroorsaak natuurlik blindheid. Die vraag is hoe kon ‘n goeie liefdevolle God
so iets geskep het? Dis natuurlik hier waar Attenborough se geestelike blindheid
sterk na vore kom. As hy maar net Genesis wou lees, sou hy besef dat hierdie
aarde weens die mens se eie rebellie en opstand ‘n vervloekte aarde geword het, vol
ellende, smart, siekte en dood. Die goeie skepping is nie meer goed nie. Maar
dis juis ook hier waar God se kinders so anders hoopvol mag wees – die hele
skepping gaan nuut gemaak word! Jesus is die Herskepper! Romeine 8 beskryf dit op treffende manier. Ons
wat aan Jesus behoort en reeds vergifnis ontvang het, weet ook dat ons gebroke
sterflike liggame gaan verander om soos Jesus se verheerlikte liggaam (Filippense 3:21) te wees, maar dis nie al
nie – die hele skepping gaan vernuwe word en volmaak wees – geen siekte, pyn,
smart en dood nie! Mag iemand tog vir Attenborough hiervan vertel...

