BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Oordeel en Redding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Oordeel en Redding. Wys alle plasings

Donderdag 28 Julie 2016

HALFPAD HELP NIKS!

- bekommerd wees is nog nie veilig wees nie.

In Genesis 19 kry ons ‘n dramatiese reddingsverhaal. Redding teen die agtergrond van oordeel en verwoesting. Nogal ‘n spannende en aksiebelaaide reddingspoging. En weer gaan dit oor geloof. Geloof wat lei tot bekering en gehoorsaamheid.

Lot woon in Sodom. Dis ‘n probleem, want God het vas besluit om die goddelose Sodom en Gomorra met vuur te verdelg. Maar nou kom God in sy groot genade na Lot en sy familie en waarsku hulle oor die komende oordeel. (terloops dit was ‘n verhoring van Abram se vurige voorbidding. Vgl. Gen 18) Die boodskap van die engele is nie ‘n lekker boodskap nie, maar dis ‘n boodskap van redding en hoop. Om gered te word sou Lot en sy familie al hulle vriende en besittings moes agterlaat en vlug vir hulle lewe! Die opdrag was duidelik – vers 12! "Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit!”

God bied uitkoms, ‘n reddingsplan om die oordeel vry te spring, maar dit moes geglo en gehoorsaam word!

Die keuse was voor Lot en sy familie (insluitende sy skoonseuns) is om die boodskap te glo of nie. As hulle dit geglo het, sou hulle moes reageer in gehoorsaamheid en vlug. Lot se skoonseuns het hulle glad nie aan die boodskap gesteur nie. Vers 14. “Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: "Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg," maar hulle het gedink Lot maak ‘n grap.”Aan Lot en sy mense word die erns word weereens beklemtoon : “Vlug vir jou lewe!” Vers 17. Duidelik word dit beklemtoon – “moenie omkyk nie” Lot en sy vrou en digters vlug, maar helaas almal is nie gered nie. Lot se vrou kyk om... So naby , maar tog so ver... Vers 26 “Lot se vrou het omgekyk en sy het in ‘n soutpilaar verander.”

Sy word ‘n simbool van diegene wat die evangelie net halfpad aanvaar. En halfpad help niks. Dis tipies van mense wat net tydelike verbygaande geestelike indrukke het. Hulle woon miskien ‘n kamp by en die boodskappe tref hulle. Hulle raak bekommerd en bid saam met iemand, maar hulle kom nooit regtig by Jesus uit nie. Dis miskien iemand wat deur ‘n groot gesondheids of finansiële krisis gaan. Hy besef net die Here kan my help. Hy bid en kry verligting, maar daar is nooit ware bekering nie. As die krisis verby is, gaan hy weer aan met sy ou lewe. Dis ‘n jongmens in die finale jaar katkisasie klas wat ywerig sê : “Ja, ek wil ook die Here volg”, miskien onder druk van sy maats of ouers, maar gou-gou kom mens agter dit was net ‘n halfhartige besluit... Dit was halfpad en dit lei tot niks...

Hierdie verhaal illustreer die drie verskillende houdings wat mense het teenoor die dreigende oordeel van die hel, sowel as die heerlike genade aanbod van God. Daar is diegene wat die evangelie heeltemal verwerp en totaal ongevoelig is. (Lot se skoonseuns) Dan is daar diegene wat die evangelie aanvaar en dit lei tot bekering. (Lot en sy dogters) Maar daar is ook ‘n tragiese middelgroep, wat lyk asof hulle bekommerd is oor hulle geestelike lewe, wat lyk asof hulle wil glo, maar al hulle geestelike indrukke en belewenisse is maar net tydelik van aard. Hulle kom nooit tot redding nie. (Lot se vrou)

Die drie houdings van die mens teenoor die dreigende oordeel en die reddingsevangelie kan verduidelik word met die prentjie van ‘n man in ‘n lekkende boot wat besig is om te sink... Kry vir jou drie prentjies in jou kop:

In die eerste prentjie is ‘n man wat slaap. Die water stroom deur ‘n groot gat in die bodem en die boot is besig om te sink. Hy is onbewus van die dreigende gevaar en snork rustig voort, sonder enige vrees of bekommernis. So baie mense bevind hulleself in hierdie posisie. Hulle verkeer in ‘n diep geestelike slaap. Hulle is glad nie besorg oor hulle ewige toekoms nie, nee wat als is reg, ons is mos goeie mense, kerkmense...

In die tweede prentjie word die man in die lekkende bootjie wakker. Met ‘n skok besef hy dat hy besig is om te sink en ‘n wrede verdrinkingsdood in die gesig staar. Hy is benoud en beangs, Hy skreeu en roep om hulp. Desperaat probeer hy ‘n plan maak en water uit die boot skep... In ‘n sekere sin is hierdie man in ‘n beter posisie as in die vorige prentjie. Hy het wakker geword, hy besef sy gevaarlike posisie... maar hy is nog nie veilig nie. Hy is nog nie gered nie. Sy eie pogings,hoe goed ook al bedoel kan hom ook nie red nie... Daar is ‘n groep mense wat geestelik gesproke in dieselfde posisie verkeer Hulle het geestelik ontwaak, hulle raak bewus van hulle sonde, bewus van ‘n ewige oordeel, hulle is soekend na antwoorde, hulle begin meer gereeld kerk toe kom en Bybel lees, krampagtig probeer hulle verbeterings aanbring aan hulleself (water uitskep) maar hulle is nog nie gered nie. Die groot gevaar is dat hulle kan vrede maak met hulle gevaarlike posisie. Dit gebeur dikwels dat mense vir ‘n tyd bekommerd raak en na die Here soek, maar algaande skud hulle die bekommernis af en gaan maar voort met hul ou lewe totdat dit vir ewig te laat is.


Die derde prentjie is goeie nuus. Die beangste man in die sinkende boot het ‘n reddingsgordel gevind en dit aangetrek Hy is nou veilig! Jesus is die enigste reddingsgordel wat ons kan red van die waters en vloede van God se oordeel. Jesus red ons van die wraak en toorn van God. “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.” (Rom 5:8,9)
Is jy al veilig? Is Jesus deur die geloof al jou reddingsgordel? As jy nog net bekommerd is, is jy nog nie veilig nie! 

God het dit baie duidelik gemaak dat Hy weer hierdie goddelose wêreld gaan oordeel en verdelg. Anders gesê : Die verwoesting van Sodom en Gomorra is maar net ‘n voorsmaak van die eintlike oordeel wat op pad is. Hierdie aarde gaan verwoes word en al die goddeloses sal saam met die duiwel en sy engele in die poel van vuur gewerp word. Maar soos in die tyd van Lot is daar die goeie nuus, die evangelie van verlossing! 


Die evangelie van Jesus, sy offer aan die kruis sy opstanding! Glo jy hierdie boodskap en het jou geloof al tot ware en voortdurende bekering gelei? Is jy veilig by Jesus of het jy net met ‘n halwe hart geglo soos Lot se vrou? 

Halfpad help niks! Jy is eers veilig as jy by Jesus skuiling gevind het! Jy is eers veilig met die REDDINGSGORDEL aan!

Vrydag 10 Junie 2016

EN WAT VAN DIE HOUTKAPPERS?

Noag se ark gaan oor baie meer as tegniese detail rondom die gewoontes en hantering van diere…


Ons mag geen afgode maak nie. Ons moet die ware God en net Hom aanbid. Maar Wie en Hoe is die enigste ware God? Maak ons nie maar dikwels in ons gedagtes vir ons ‘n god wat by ons behoeftes, grille en giere pas nie, ‘n vals god? Die Bybel gaan oor die lewende ware God en sy dade. God wys vir ons wie Hy is uit sy dade.

In die verhaal van Noag gaan dit ook oor God. (Ons kyk hier net eers na Genesis 6) Dit gaan nie in die eerste plek oor die grootte van die ark, die hoeveelheid diere en hoe dit gebeur het dat die leeus nie die ander goed opgevreet het of hoe die olifante ingepas het of hoe Noag die houtkappers gekeer het om gate in die wande te pik nie! Dit gaan oor God wat ingryp in hierdie wêreld. 

God gryp in hierdie wêreld in deur oordeel en deur redding.

Hoekom oordeel en straf God? Hy is ‘n heilige God wat sonde en onreg en geweld nie kan duld nie. Hy kan nie aan Homself sy eie heiligheid en karakter ontrou wees nie. Hy oordeel, want die mense het dinge gedoen waarvan Hy nie hou nie. God is nie ‘n relativistiese post-modernis nie! “Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.” (11-12) Dit moet ons hard en duidelik hoor – daar is dinge waarvan God nie hou nie en daar is dinge waarvan Hy wel hou. Hy besluit wat reg en verkeerd is (Hy is immers die Skepper en Eienaar van als en almal) – nie die Huisgenoot of Hollywood nie en daarvolgens sal Hy oordeel. Sy straf is skrikwekkend, dis uitdelging. “Toe sê God vir Noag: "Ek het besluit om ‘n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.” (13) Die hele skepping! Wat met die mens gebeur as kroon van die skepping raak die hele skepping. Ons moenie God se oordele geringskat nie – dit het man, vrou, kind en suigeling getref! (Dink aan die TV beelde van die Tsunami van 2004!)

Maar, God gryp ook in deur redding. Reddende genade. En die hoofbeginsel is genade! “Maar Noag is deur die Here begenadig.” (8) Hoe werk God se redding? Hy gee ‘n oplossing om die oordeel vry te spring! Hy gee ‘n uitkoms. Hy bevestig dit met ‘n verbond. (18) God se redding staan vas, Hy beloof dit formeel. Hierdie redding kan aanvaar of verwerp word. In hierdie geval was God se plan die ark- binne die ark is daar lewe, buite die ark is die dood. God se plan moet geglo word, al maak dit nie sin nie. Noag glo en reageer. (Hebr 11:7) “Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is."  Geloof is nie net ‘n teoretiese wete nie, dit gaan oor tot aksie, dit behels ‘n verandering van gedagte, lei bekering, ‘n wilsbesluit, ‘n keuse om God se reddingsplan te gehoorsaam. As jy glo, klim jy in...

Dwarsdeur die geskiedenis sien ons hoe God se reddingsplan parallel saamloop met sy oordele. God oordeel Sodom en Gomorra, maar daar is ‘n reddingsplan vir Lot en sy familie. “Vlug betyds...” Die wat dit glo en gehoorsaam word gered, die wat dit aflag en verwerp word vernietig. God oordeel Egipte met die finale plaag, die dood van die eersgeborenes. Maar weereens, God voorsien ook ‘n uitkoms. “Slag ‘n lammetjie en smeer sy bloed aan die deur!” Die wat hierdie belofte glo (en die bloed aansmeer) word gespaar, die ander sterf. So is daar nog baie voorbeelde... God oordeel die volk Israel deur giftige slange te stuur, maar Hy gee ook ‘n uitweg, oplossing. Die koperslang... “Kyk en jy sal lewe!” Altyd maar weer, oordeel en redding...

Die klimaks van God se oordeel en redding kom bymekaar in een enkele gebeurtenis. Jesus Christus wat aan die kruis sterf. Jesus hang aan die kruis as ‘n vervloekte, ‘n veroordeelde. Maar Hy is onskuldig, Hy dra die sonde van die skuldiges, van ons. God se oordeel tref Hom voluit en dis waarom Hy uitroep : “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Maar Jesus is juis God se oplossing vir ons om die oordeel vry te spring. Wie in Hom skuil is veilig, wie Hom verwerp sal die oordeel self moet dra. Buite die ark is dood, binne die ark is lewe. Buite Jesus is dood, binne Jesus, die lewe. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

Ons moet seker maak dat ons die ware God aanbid. Hy is die God van oordeel en genade, heiligheid en barmhartigheid, geregtigheid en liefde, straf en redding! Hierdie eienskappe staan nie los van mekaar maak nie, ons het gesien hoe dit saamloop. Ons sien hoe dit tot volle betekenis kom by die kruis van Jesus.

Noag se vloed wys ook op die finale oordeel van hierdie wêreld deur vuur. Noag se ark wys ook op ons enigste hoop op redding, God se plan, Jesus Christus. Die finale oordeel kom, dis ‘n feit en net diegene wat in Jesus skuil sal veilige wees. Die ware God is die Vader van ons Here Jesus Christus wat deur sy Seun se kruisdood en opstanding vir ons ‘n oplossing ‘n uitweg voorsien het!

Is jy veilig in die ark? Glo jy God se oplossing is Jesus die Here? Het hierdie geloof gelei tot bekering, tot aksie, tot ‘n nuwe gehoorsaamheid? AMEN

[Ek weet nie hoeveel plek die ark gehad het en hoeveel diere daarin was nie, maar ek weet daar is plek vir jou by Jesus Christus - Hy het oorgenoeg veilige plek vir sondaars wat by Hom kom skuiling soek!]