BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verslawing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verslawing. Wys alle plasings

Donderdag 04 Januarie 2024

VERSLAAF (addicted)?

- HOE KAN EK VRY KOM?

Daar is baie raad en planne teen verslawing. Dis uiteraard 'n komplekse probleem en mens moet versigtig wees vir oorvereenvoudigings en goedkoop raad. Kinders van God kan vir alle lewenssituasies egter staatmaak op God se onfeilbare Woord. Die Bybel vertel ons HOE ons verslawing kan oorwin!

Ek wil jou verseker God se Woord is waar en kragtig en daarom kan jy wat regtig wil vry kom beslis HOOP hê!

 Die apostel Petrus skryf oor verslawing in die 2 Petrus brief in hoofstuk 2. Petrus waarsku hier teenteen die vals profete en leraars en dan raak hy die kwessie van verslawing aan... 

Vers 19 "mense (vals profete) wat aan hulle (ander Christene) vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. 'n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee."




 Die valse leraars beloof ‘n valse vryheid aan hierdie jong Christene – met die gedagte van “Ons leef nou in die genade daarom maak God se wette nie meer saak nie” – en hulle maak hierdie vals beloftes terwyl hulle self vasgevang en verslaaf is aan sonde. 

VERSLAWING  is ‘n aktuele saak wat ons almal raak!


So dikwels hoor ons, of ons sê dit vir onsself -“Ek kan nie hierdie ding los nie” – hierdie ding is dalk pornografie, buite egtelike verhoudings, dobbel,  die skadelike rookgewoonte, ooreet, videospeletjies, woede uitbarstings…of dalk ‘n verslawende, verlammende luiheid waarin jy vasgevang is... ‘n luiheid om te bid, kerk toe te kom, die Woord te lees.... (in ‘n sekere sin is ALLE sonde verslawend, gewoontevormend... hierdie boodskap is dus vir ons almal bedoel!)


Verslawing is om iets se slaaf te wees... Iets of iemand anders word jou BAAS! Verslawing is natuurlik in ‘n sin ‘n relatiewe term… met groot sekerheid sou mens kon sêniemand is absoluut verslaaf nie… Ek bedoel...as die gevolge wat op die spel is erg genoeg en seker genoeg is, sal jy nie sommer aan jou verslawende drang toegee nie… As jy byvoorbeeld voor die TV sit en net een kliek hoef te gee om na naaktheid of ‘n porno fliek te kyk, maar daar is ‘n ISIS terroris met ‘n mes teen jou keel… Hy sê :"Nou toe, as jy hierop kliek sny ek jou keel onmiddellik hier af!" Sal jy kliek? Of andersins, as jy jou vinger op die knoppie het en iemand kom in met ‘n vet beursie met een miljoen kontant en sê: “Jy kry dit nou as jy nie daardie knoppie druk nie.”, dan sal jy verbaas wees oor hoeveel selfbeheersing jy het om die verslawing te oorwin.* 

KAN NIE of WIL NIE?

Dit kom dus daarop neer dat ons nie die oordele oor  en negatiewe gevolge van verslawing aan sonde ernstig opneem nie of aan die anderkant nie die heerlike beloning wat vir ons wag as ons verslawing oorwin ernstig opvat nie. Ons moet versigtig wees om te sê : “Ek kan nie loskom nie” die eerlike oorsaak is dalk eerder “ek wil nie loskom nie!”

Petrus spreek juis hierdie twee sake aan – die ernstige gevolge van verslawing aan sonde aan die eenkant en die heerlike beloning as ons die sonde oorwin aan die anderkant. Hy kyk na die ernstige gevolge in vers 20-22    

Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus •Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak, en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin.  Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing:  “ 'n Hond keer terug na sy eie braaksel,”  en  “'n Sog was haarself deur te rol in die modder.”

Petrus gebruik ‘n baie grafiese beeld om die situasie van ‘n Christen wat hom weer laat oorwin deur een of ander sonde en verslawing uit te beeld – Die van 'n hond wat sy eie braaksel weer opvreet! Van 'n gewaste vark wat weer in die moddr gaan rol! Petrus waarsku ons baie duidelik teen die grusame en tragiese gevolge wat dit inhou om terug te val in ‘n lewe van ongehoorsaamheid en verslawing. So ‘n toestand van teruggevallenheid is erger as om nooit bekeerd te gewees het nie. 

Jesus rig ‘n soortgelyke waarskuwing in Lukas 11:24-26. Die bose gees wat uit die mens uitgegaan het, maar as die "huis" leeg bly, kom hy weer terug en bring sewe ander slegter geeste saam. Die einde is baie erger as die begin!

Besef die skrikwekkende ernstige gevolge as jy jou weer laat oorwin deur sonde... dan gaan jy twee keer dink.

Petrus spreek ook die saak van heerlike beloning aan vir die kinders van God wat volhard in heiligheid. Hy moedig positief God se kinders aan om onberispelik en vlekkeloos te leef juis omdat daar so ‘n heerlike prys vir ons wag – die onberekenbare heerlikheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde! 2 Petrus 3:10-13


Vers 13 "Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde, waar geregtigheid woon."




Broer en suster as jy oortuig is van God se oordele, die skrikwekkende gevolge van sonde en as jy oortuig is van God se beloning van heerlikheid, die volmaakte vreugde en vervulling van die nuwe hemel en aarde wat op God se kinders wag – sal jy versoeking en verslawing kan oorwin! 


GENOEG KRAG?

Miskien wil jy nog steeds beswaar maak – "Ja, ek weet hierdie dinge, maar my krag is te min! Dis nou maar so, ek is net te swak!" Kom ons maak net eers seker – Is jy regtig ‘n kind van God? Is jy besig met meer as net uiterlike godsdiens en het jy jou tot Jesus bekeer en stel jy jou vertroue alleen in sy volmaakte offer aan die kruis? Is jou hoop nie op jou eie prestasies nie, maar op sy volmaakte genoegsame kruisdood, op sy meriete? 

Indien dit die geval is, kan ek jou uit die Woord verseker jy het beslis reeds genoeg krag om alle sonde, versoeking en verslawing te oorwin! 

Kyk beslis na 2 Petrus1:3! 

"Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het."

En wat is die praktiese effek en gevolge van hierdie krag? Vers 4-7!  (GAAN LEES DIT) Jy wat waarlik aan Jesus behoort, het reeds die krag ontvang om by jou geloof allerhande praktiese vorme van Christelike groei te voeg. En let op – een van die opdragte is juis SELFBEHEERSING! 

Ons ontvang die opdrag tot selfbeheersing omdat God deur sy Heilige Gees aan elke kind van Hom reeds die krag daarvoor gegee het! God sal nooit onmoontlike opdragte aan sy kinders gee nie! Ons mag dus nie meer die verskoning gebruik van “Ek kan nie” – die eerlike rede is dalk “Ek wil nie”  Ons mag nie die verskoning gebruik van “Ek is te swak nie.” Die probleem is nie krag nie, maar hardkoppigheid en onwilligheid. Die godsman AW Tozer het gesê : “Elke kind van God is so heilig soos hy regtig wil wees.”  Kom ons wees net elkeen baie eerlik met onsself... En as jy eerlik is oor jou onwilligheid, pleit ek by jou – bedink die ernstige gevolge van jou sondige verslawing, en dink aan die heerlike beloning wat jy gaan misloop...


Kies teen jou verslawing, jy kan. Dit gaan nie maklik wees nie... dit gaan drastiese stappe verg. Dit gaan pynlik wees... Konkrete definitiewe aanpassings in jou leefstyl of daaglikse program mag nodig wees. Jy sal heel moontlik  fisies van party dinge ontslae moet raak, party afsprake moet kanselleer en party vriendskappe moet verbreek. Jesus het hierdie beginsel van radikale optrede baie grafies gestel...En as jou hand jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om vermink die lewe in te gaan as om met twee hande weg te gaan tot in Gehenna (hel), in die onblusbare vuur.”  (Markus 9:43)



Verslawing is soos om ‘n os in ‘n manga te wees – jy kan nie wegkom nie, jy is op pad na die slagpale van die eindoordeel. Mag jy deur die genade en krag van God betyds vrykom! Jesus kan en wil jou volkome vry maak!

Jesus beloof ons in Johannes 8:35 :

"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees."

Sterkte vir jou! En onthou daar is broers en susters wat graag saam met jou op hierdie pad sal stap... wat net so afhanklik van Jesus se genade is soos jy!



Is hy nog jou BAAS?


*Voorbeeld gekry by John Piper

 

Vrydag 01 Februarie 2013

WAARLIK VRY!

– die laaste sigaret.

[Ek is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat laasjaar oorlede is. Vir meer kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd uittreksels daaruit op hierdie webjoernaal te plaas.]

Na matriek het Johan de Koning  by die Tabakkoöperasie op Patensie in die Oos-Kaap gaan werk. Seker baie aangename werksomstandighede vir ‘n groot roker soos hy!  Sy  hoërskoolvriend, Eugene Toerien het hom egter vertel van werksgeleentheid in die Aartappelraad en so het hy in 1952 in Pretoria by dié te lande gekom. Spoedig sou dit baie duidelik word dat God dit so beskik  en ‘n besondere afspraak daar met hom gehad het.  So ‘n ontmoeting was baie nodig voordat God Johan sou kon gebruik vir sy lewenstaak as sendeling wat voorgelê het. Ja, hy het weliswaar ‘n goeie paadjie in Pretoria probeer bewandel. Hy was aktief betrokke by kerklike dinge as Sondagskoolonderwyser en diaken en was in Christelike kringe bekend as Christen, maar diep in sy hart was daar onsekerheid. Kragteloosheid. Dan was hy ook nog vasgevang in die rookgewoonte wat al op ‘n jong ouderdom begin  en hom meer as eenkeer in die moeilikheid laat beland het.  Maar al die moeilikheid, selfs ook nie ‘n pakslae met ‘n bandolier kon hom van die gewoonte bevry nie.  Johan het wel probeer om ‘n stryd teen die verslawing te voer en kon soms tot  5 maande uithou,  om dan maar net weer te begin en erger te rook .  Teen hierdie tyd het hy daagliks ‘n groot klomp Kommando sigarette en tussenin in nog pyp ook gerook.

Johan was besig met sy finale jaar CIS (Chartered Institute of Secretaries)  studies en die eksamen was voor die deur.  Dit was ‘n Donderdagaand. Terwyl hy besig was om sy werk deur te gaan, wat hy gemeen het dat hy goed ken, het iets vreemds gebeur. Dit was asof elke deel wat hy deurgaan eerder uitgewis word uit sy geheue. ‘n Bewustheid van sonde het oor hom gekom en hy het sy onreinheid besef. In sy nood vat Johan die Bybel. Dit  het oopgegaan by Romeine 7.  Hier lees hy onder andere in vers 19 “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, doen ek” Hy het besef, hy het geen krag tot oorwinning oor die sonde nie.

In hierdie toestand van radeloosheid het Johan besluit om na die konferensie op Kaalfontein,  die plaas van oom Lardus Erasmus te gaan. (Oom Hansie Kleynhans, ‘n vriend  en ook by die Aartappelraad werksaam het hom alreeds hierheen uitgenooi.  Johan het egter die studies as verskoning voorgehou.)  Vrydag oggend het hy op sy fiets geklim, werk toe gery en vir oom Hansie gaan sê: “Oom Hansie, ek ry saam.” Daar in oom Hansie se  kantoor by die Aartappelraad het hy nog ‘n laaste sigaret gerook, sonder om te besef dat dit die laaste sigaret in sy lewe sou wees!

By die konferensie was daar pragtige Christen mense en leiers soos  Prof. H.D.A. du Toit, Dr. O’Brien Geldenhuys, Ds. Bennie Buys, Ds. Gerhard Cruywagen, Oom Dries Steyn en nog ander.  Almal was vrolik en vriendelik.  Niemand kon sy innerlike stryd sien nie.  Met sy kennis van die jeug het Oom Dries Steyn dalk iets vermoed.  Op sy vraag: “Johan de Koning, ken jy die Groot Koning?” het Johan wel positief geantwoord en toe sê hy: “Ek sien jou April DV  by Winklespruit se CSV kamp.” 

Duidelik praat die Here met Johan uit die preek van Dr. Geldenhuys oor die oes wat groot is en die arbeiders  wat min  is uit Matt 9:35-39, en sluit af deur te sê: “Daar eenkant staan ‘n tent, as iemand voel die Here het met hom gepraat, gaan daarheen en praat met die Here.”

Gou was hy in die tent, maar twee dames was voor hom daar.  Hy  wou egter alleen wees met die Here.  Hulle drie het eers saam gebid en toe hulle uit is was sy gebed omtrent iets soos: “Here, ek wil krag hê om u te dien.” Hy het ook sonde bely en gesê, hy sal dinge gaan regmaak as hy by die huis kom.

Al het Johan nie presies  geweet wat hy vra nie, het die Here geweet wat Hy wou gee.  Daardie dag,  3 Oktober 1954 het die Heilige Gees besit geneem van sy lewe en het 2 Korintiërs 5:17 vir hom waar geword: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verby gegaan, kyk dit het alles nuut geword.”

Johan het borrelende vreugde beleef.  Mense kon dit raak sien.  Oom Hansie wat eintlik vroeër wou ry, vra  toe of  hy nie wil bly om ‘n getuienis te gee nie. Van iets soos ‘n getuienis het Johan min geweet, behalwe dat "sektes" getuig.  “Die Here het my geseën,” was min of meer wat  hy gesê het, tog het die mense op sy gesig gesien dit wat in woorde nie gesê is nie. Dit was die eerste van baie getuienisse wat sou volg.


Die volgende oggend op pad terug in die motor na Pretoria terwyl hy diep ingedagte al die gebeure weer sit en deurleef vra oom Hansie: “En toe, wanneer koop jy vir ons weer sigarette?”  Johan antwoord verbaas: “Haai Oom, dit is nou drie dae wat ek nie meer gerook het nie!” Nooit weer het hy gerook nie. Baie jare later sou hy nog steeds kon getuig dat Johannes 8:36 die waarheid is: 

“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”