BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 08 Maart 2019

OOMBLIK VAN WAARHEID!

Die NGKN (NG Kerk in Namibië) staan op ‘n kruispad! Gaan ons geloofsmoed aan die dag lê? Gaan ons God meer gehoorsaam wees as mense? 

[net 'n paar baie vinnige en voorlopige gedagtes]

WAT HET NOU GEBEUR? 

Net vinnig die agtergrond. In 2015 het die Algemene Sinode van die NGK skielik en onverwags ‘n uiters liberale besluit oor die homo kwessie geneem wat daarop sou neerkom dat praktiserende homoseksuele predikante kon word. Jy kan maar sê : “Die kerk is met die broek op die knieë gevang.” (geen woordspeling bedoel) Daar was onmiddellik hewige teenkanting teen hierdie goddelose besluit. Verskeie gemeentes (waaronder NGK Tsumeb, NGK Otjiwarongo ens.) het luidkeels beswaar gemaak. Daarna het ook verskeie streeksinodes hulle teen hierdie onaanvaarbare besluit uitgespreek. Ook die sinode van die NGK in Namibië het ‘n besluit geneem teen die inhoud van die Sinodebesluit van 2015. In 2016 is daar ‘n spesiale vergadering van die Algemene sinode byeen geroep waar die saak weer op die tafel gekom het. Hierdie sinode het toe die 2015 besluite de facto OMGEKEER! Die gay aktiviste in die NGK was egter nie tevrede nie en ‘n groep van hulle waaronder die bekende Laurie Gaum en ook teologie dosente van die univeriteit van Stellenbosch het toe ‘n hofsaak teen die NGK gemaak. 

Uitspraak is voorbehou en is toe vandag 8 Maart 2019 gelewer. Die hof het ten gunste van die aktiviste beslis. Hiervolgens is die sinode besluite van 2016 nou ongeldig en die goddelose besluite van 2015 weer geldig. Skokkend, afgryslik en tragies! *

Hierdie toedrag van sake bring ons by 'n belangrike kwessie...

KERK EN STAAT 

Die strydende kerk van Jesus Christus bestaan uit mense op aarde. As aardse bewoners is ons net soos ander mense aan landswette onderworpe. Hieroor is die Skrif baie duidelik.** Alle gesag, ook staatsgesag en regterlike gesag word afgelei van Goddelike gesag. Christene moet modelburgers wees in hulle goeie gedrag en gehoorsaamheid aan landswette en gesagstrukture. So versier ons die evangelie en maak dit aantreklik te midde van n goddelose wêreld. 

Alles werk egter nie altyd so eenvoudig nie. Die magte van die duisternis is immers nog steeds baie aktief op aarde. Dit gebeur dus ook dat daar gesagstrukture kan wees wat ons wil dwing om aan die evangelie en ons Koning, Jesus Christus ongehoorsaam te wees. In Handelinge kry ons juis so ‘n geval. Petrus en Johannes verskyn voor ‘n aardse gesagsliggaam, die Joodse Raad. Hierdie Raad verbied hulle om verder van Jesus te getuig. Wat was hulle reaksie? “Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Handelinge 4:19,20) 

Ware gelowiges is aan God meer gehoorsaam as aan die openbare mening of landswette wat teen God se Woord indruis!

Die kerk van Jesus in Suid-Afrika (en meer spesifiek die NGK) beleef toenemend ‘n situasie waar die grondwet en staat druk op ons gaan toepas om aan God ongehoorsaam te wees. Hierdie hofsaak is maar die begin. Die gay aktiviste gaan hulle aanslag beslis ook na ander kerkverbande uitbrei! 'n Baie gevaarlike presedent is geskep...

WAT STAAN DIE NG KERK NOU TE DOEN? 

Die NGK kan natuurlik appelleer. Op hierdie stadium weet ek nog nie of dit gaan gebeur nie. 

Die NGK kan by die uitspraak berus, maar dit sou beteken dat die NGK nie meer die koningsheerskappy van Jesus as oppergesag erken nie! 

Die NGK kan die uitspraak ignoreer en so verder hofsake en vervolging op die lyf loop. Het ons nog die moed daarvoor? Veral gesien teen die feit dat die kerkleiding verdeeld is oor die gaykwessie en gemeentes soos Parke gemeente in Kraaifontein hulle in elk geval nie daaraan gesteur het nie.

Alle predikante en lidmate van die NGK wat Jesus se oppergesag erken sou kon bedank! Wat sou dan die pad vorentoe wees...? Waarheen moet al die herderlose skape gaan?

Ons in Namibië is in ‘n unieke posisie! 

Die NGK in Namibië kan binne die riglyne van die kerkorde ons wettig afskei van die Algemene Sinode van die NGK. 


Dit is volgens my eie opinie die gepaste opsie in hierdie tydsgewrig. Die AS neem in elk geval lankal reeds besluite wat in stryd is met die Skrif en die teologiese instellings in Suid-Afrika waar leraars opgelei word is lankal reeds tot op die been verrot. Namibiese broers en susters, dis nou die tyd om wakker te word en vir die waarheid op te staan!

Intussen moet ons nou nie paniekerig raak nie. Dis veral belangrik om te onthou dat die plaaslike kerk, volledig kerk is. (ecclesia completa) Prakties vir ons beteken dit dat die NG Kerk Tsumeb volledig kerk is met sy eie kerkraad wat die gemeente onder heerskappy van Christus regeer deur middel van die Woord en Gees. NGK Tsumeb se standpunte oor die hele gay kwessie is baie duidelik. (Kliek op TSUMEB STANDPUNT)

*Regters Sulette Potterill, Joseph Raulinga en Daisy Molefe het geoordeel dat die kerk se 2016 besluit onwettig en ongeldig is. Die hof het besluit dat dit onbillik is om lede van die kerk uit te sluit  van alle regte en vryhede wat die kerk bied op grond van hulle seksuele oriëntasie.

**Romeine 13:1-5


Oomblik van waarheid vir die kerk in die Dorsland!

13 opmerkings:

  1. Inderdaad katarsis geloofsmoment!'n Joshua 1 Moment! Waagmoed, Geloof, Gehoorsaamheid en gefokus op God se Woord sal ons na 'n nuwe stuk geloofsgrond toe vat...OF Nie!Mag die Namibiese Kerk die geloofs-waagmoed toon en mag die SA kerk (NGK) en by name individuele gemeentes God vertrou vir die UITTOG na iets nuuts, want die NGKSA TOP STRUKTUUR dra uiteindelik die gevolg van sy eie humanistiese/pantiëtistiese likrake besluite onder die vaandel van die SEISOEN VAN LUISTER....Sela

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. So waar Albie. Daar is 'n seisoen van luister na die mens, maar geen luister meer na God se Woord nie!

      Vee uit
  2. Mag ek hierdie gedig met julle deel wat ek geskryf het in 2007 nalv my worsteling toe al met sekere bewegings in ons geliefde NGK.

    Fariseersgedaante: (21/07/07)

    Hoog-geleerd
    Wel ge-eerd
    Van ver gesien – ten aanskoue reg vir dien

    Wil jy weet – noem my DIE PROFEET
    Besig om te worstel – ek is jou APOSTEL
    Soek jy leiding – ons bring die Verleide TYDING

    Wit gepleister – hierdie is verkeerde luister!!
    Beskimp…. want wie is jy Koningskind?
    Fariseer – jy moet by my leer….
    Fariseersgedaante …jy bring net skaamte

    Dankie kerk, my gedaante bly jy versterk…
    Laat my hoor – dan sing ons saam die Koor…
    Geen oor vir die KONING – want Fariseer loop met die beloning…
    Fariseersgedaante iniseer ‘n nuwe klonig….
    Sonder keuse –
    ontvang ‘n nuwe belonig sonder DIE KONING

    Kerkmens- wat is jou grootste wens
    Asseblief, tog nie meer DIE WOORDGRENS….
    Verander tog my waarde
    Verslap die standaarde
    Mensdom bewoon tog ‘n veranderde aarde.

    Fariseers of miskien Sadusseers
    Vir eers…..
    Tjeers!!!!
    (Albie Steenkamp)

    AntwoordVee uit
  3. Ons moet eerstens vir die Here dankie sê vir ons Namibiese regering wat nog sterk staan. Tweedens moet ons op skrif, briewe en media ons dank uitspreek teenoor die regering wat nog t.o.v. aborsie, gay huwelike en dagga nog sterk staan. Dalk 'n afvaardiging na die president se kantoor om ons ondersteuning te wys. Ons moet GROOT gaan.
    Derdens moet ons ander nie-NG gemeentes betrek vir ondersteuning.
    Vierdens. Ons moet bid vir groot kalmte. Dalk kan hierdie saak veroorsaak dat Namibiërs van gereformeerde oorsprong bymekaar gaan staan en wegbreek as een kerkverband - iets soos die Namibiese Gereformeerde Kerk.

    AntwoordVee uit
  4. Dankie andermaal vir n goeie oorsig en beoordeling van die situasie.

    AntwoordVee uit
  5. Johannes,
    Ek wil in dieselfde gees van jou; net " 'n paar baie vinnige en voorlopige gedagtes" ook 'n paar opmerkings maak soos ek dinge nou verstaan.

    Die algemene sinode se beter besluit van 2016 is deur die hof, op grond van Suid - Afrikaanse wetgewing omvêr gewerp. Ek vermoed dat die hof selfs nie eers met 2015 se besluit tevrede sal wees nie, omdat dit individuele gemeentes toelaat om te "diskrimineer". Dit lyk vir my asof Suid - Afrika se godsdiensvryheid geen uitsluitings toelaat nie. 'n Persoon mag dus glad ne beperk word wat sy seksuele oriëntasie nie, nie eers in 'n belange groep soos die NG kerk nie.


    Die Kerk, en ek glo dit is nie net op die NG Kerk nie, word dus deur die staat verplig om sy godsdiens oortuigings ondergeskik te stel aan menseregte soos deur die staat gedefinieer.

    Dit maak vir my geen sin dat Namibië se sinode aan haar laat voorskryf deur 'n ander land se hof en wetgewing nie, en dink julle is bevoorreg om in die posisie te wees dat julle aan Namibië se wetgewing onderworpe is. Ook ek, dink dit sal beter vir Namibië wees om selfstandig te wees. Individuele gemeentes kan nie uit verband tree nie, sinodes wel.

    AntwoordVee uit
  6. Loof die Here vir die standpunt wat Namib se regering en kerke inneem. Inderdaad 'n oomblik van waarheid. Niemand sal nou meer "lou" kan wees oor hierdie aangeleentheid nie. Dit maak 'n kan wurms oop, wat ver en wyd gaan krioel. Hierdie saak kan as presedent dien vir 'n magdom ander geloofsake. Mag die Here ons genadig wees.

    AntwoordVee uit
  7. Dit is ter selfdertyd verblydend en hartseer dat die hof die NG-kerk en gelowiges in die algemeen moet lei oor moraliteit.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Gee bietjie meer duidelikheid? (verkieslik nie anoniem nie)

      Vee uit
    2. Die hof besef diskriminase is immoreel.

      Vee uit
    3. Dit wat jy "diskriminasie" noem is deel van die Bybel - Skape en bokke gaan van mekaar afgeskei word! Die Bybel maak onderskeid tussen reg en verkeerd, gelowiges en ongelowiges, veroordeeldes en vrygespreektes... lig en dusiternis! Die Woord waarsku ons juis om nie reg , verkeerd te noem en verkeerd, reg nie.

      Vee uit
    4. Anoniem jy is welkom om verder jou sienings te stel, maar nie as anoniem nie.

      Vee uit
  8. Waarom berig die kerkgeskiedenis van 'n protestantse reformasie daarbinne? Is dit nie vanweë die onskriftuurlike transformasie van die kerk wat tot valse Roomse Kerk getransformeer is nie? Waaraan het persone in die kerk soos 'n Martin Luther dié afwykings herken? Is ons dan nie ook lank reeds verby dié stadium van die herkenning van Skrifafwykings in die NG Kerk nie? Is die tyd dan nie lank reeds ryp vir protes oor dié transformasie en tyd vir kerklike reformasie nie? Luther het weggebreek van die valse Roomse Kerk. Waarom nie ook wegbreek van die getransformeerd valse NG Kerkleierskap nie? Beskik ons kerkleiers van vandag nog oor die geloof en waagmoed om dié kerklike leuen teen te gaan ten einde dié slang se kop te vermorsel? En by ons as lidmate? Heers daar nog 'n gees van protes teen die onskriftuurlike leuens wat deur sommige NG Kerkleiers verkondig word? Is ons in wese wel nog protestante in Christelike geloofskonteks?

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.