BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Avontuur. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Avontuur. Wys alle plasings

Dinsdag 12 Mei 2020

Paulus en matriek 2020

Ek weet jy is gefrustreerd, en miskien nog moedeloos, angstig en dalk selfs kwaad ook! Ek praat nou met jou wat in matriek is. 2020 Matriek! Maar hierdie emosies raak sekerlik nie net ons matrieks nie, maar alle leerders, onderwysers, ouers, kortom sommer ons hele skoolgemeenskap. So baie planne en so baie drome is nou gekortwiek en deurmekaar gekrap. 



Wat nou? Ek wil jou herinner aan die bekende gesegde :

 “Two men looked through the bars, one saw mud, the other one STARS.” 

Een so ‘n persoon wat letterlik agter tralies gesit het, maar die “sterre” helder raakgesien het was die apostel Paulus. Ons weet mos, sy passie was om rond te reis en die evangelie te verkondig. Hierdie Paulus sit nou vasgekeer tussen die mure van ‘n tronk! Wat nou? Is hy moedeloos, bedruk, passief en swartgallig? NEE! Hy benut die tyd en skryf in hierdie slegte situasie ‘n brief aan die gemeente van Filippi vanuit die gevangenis. En weet jy wat? Een van die groot deurlopende temas van hierdie brief is BLYDSKAP! Hoe so? 

Paulus sien die “sterre” raak van ‘n geleentheid wat God hom gegee het! Luister wat skryf hy : “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is.” (Filippense 1:12,13) 

Weens sy tronkstraf kry Paulus ‘n kans om aan mense wat andersins nooit die evangelie sou hoor nie, nou wel die Woord van God te verkondig! 

Paulus ervaar hoe God van die minus ‘n plus maak! 

Hoe kry Paulus dit reg om so die positiewe in sy slegte situasie raak te sien? Sy lewe het hoegenaamd nie om homself en sy prestasies gedraai nie, maar om Christus alleen! Paulus het oor niks anders gespog en geroem nie, as net Jesus Christus en sy genoegsaamheid! Sy kern lewenshouding vat hy soos volg saam : “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” (Filippense 1:21) Sy lewe draai om een groot passie, Jesus Christus en daarom al gebeur die ergste wat sou kon gebeur – die dood, is die dood vir hom ‘n wins – ‘n absolute voordeel, want dan is hy mos by sy Here! 

Paulus se bewustheid van Jesus as sy enigste bate het die praktiese effek van tevredenheid en vergenoegdheid in alle omstandighede! Ja, alle omstandighede! Ook tye van gebrek en benoudheid. Hy weet wat is oorvloed en hy weet wat is gebrek. Van beide situasies het hy praktiese ondervinding. Hy hanteer dit egter alles deur Jesus wat hom krag gee. (Sien Filippense 4:13) Die Christelike oorwinningslewe, beteken nie dat als volgens MY planne en MY verwagtings verloop nie, maar dat ek in alle omstandighede my fokus op Jesus behou en my berus in SY planne vir my lewe!

As Jesus sentraal in ons lewens staan en nie ons eie planne en roem nie, is die lewe ‘n vreugde en ervaar ons in alle omstandighede (ook NOU) vergenoegdheid, tevredenheid en blydskap en sommer groot AVONTUUR! (Al is daar inderdaad ook  trauma, trane en teleurstellings.) Maak nie saak wat gebeur nie. Ook as ‘n virus verwarring, ongerief en vrees saai! 

Die kind van God het altyd rede tot blydskap, ook as jy ‘n 2020 matriek is! 

En onthou, blydskap is nie maar net 'n opsie nie, dis 'n opdrag! Die Woord beveel elkeen van ons wat aan Jesus behoort : 

"WEES BLY IN DIE HERE!"

Dit was so lekker om saam met hierdie groep 2020 matrieks saam te kuier en uit die boek van Filippense te gesels. Agter van links na regs : Zaanri (Gimmies), Lieze (Gimmies), Heimo (OSS), Nick (Gimmies), Eugene (OSS), Monique (Etosha), Anri (Redimere), Jonette (Gimmies) en Anja (Gimmies).

Vrydag 09 Maart 2018

DIE AVONTUUR VAN WARE GEBED

- Bid met die fokus op Hom wat op die troon sit en beleef hoe die Gees werk en die Woord versprei! 


Verlede Sondag het ons ‘n kykie gekry in die hemelse troonsaal. Die setel van alle mag en gesag, die plek van alle beslissings en besluite wat die heelal en die geskiedenis raak, maar ook ons elkeen persoonlik. Ons het saam met die apostel Johannes gesien – GOD IS OP DIE TROON. Ons het gesien en gehoor dat die hele kerk van alle eeue, die engele en die ganse skepping gefokus is op een saak : die aanbidding van God! Die spilpunt waarom die heelal draai is nie menslike drome, belange en behoeftes nie, maar die eer van die oneindig heerlike en glansryke God! Daar is altyd rede om God te loof – as Skepper en as Verlosser. 


HOE BID ONS?

Maar hoe raak dit ons nou prakties? Hoe raak dit spesifiek ons gebedslewe? Maak dit ‘n verskil aan die inhoud van ons gebede? En dis terloops sommer ‘n goeie vraag : “Hoe lyk my en jou gebede? Pas dit in by die groter prentjie. Is ons gebede nie dikwels maar ‘n inkopielys of ‘n gesanik oor probleme en ellendes nie? Mis ons gebed nie al te dikwels die doel waarvoor gebed daar is nie?” Helaas dis inderdaad dikwels die geval. En dis seker die groot rede waarom gebed so ‘n frustrasie is en waarom gebede onbeantwoord bly, want God gaan nie toelaat dat ons Hom inspan vir die verwesentliking van ons eie selfsugtige ideale nie. Dis hierdie verkeerde fokus van gebed wat mense dan uiteindelik moedeloos en rebels maak, “Ag, nee wat gebed werk nie” en dan hou ons heeltemal op met bid. Natuurlik mag en moet ons ons eie behoeftes aan God bekend maak. Ons kry immers so ‘n opdrag in Filippense 4. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Fil. 4:6) Maar ons gebedslewe as geheel moet gefokus wees op die eer van God wat op die troon sit en nie op selfbelang en selfsug nie. 

Dis tog die duidelike strekking van die Onse Vader! Allereers gaan dit oor God se naam, God se koninkryk en God se wil en daarna oor ons behoeftes juis binne die konteks van die najaging van hierdie Godverheerlikende doelwitte! 

Van nature stel ons ons eie begeertes eerste! My geluk, my behoeftes, my veiligheid, my belange, my klein wêreldjie. Dis eers wanneer die Heilige Gees ‘n mens se hart waarlik verander via die wedergeboorte dit daar ‘n passie in ons harte begin groei vir God se koninkryk, God se plan, God se eer.

AVONTUUR!

Ware gebed wat gefokus is op God se eer is iets wonderliks! ‘n Reuse avontuur! God maak ons so deur ons gebede deel van sy plan om sy koninkryk te laat kom. Ons beweeg so saam met God se bedoeling en God se agenda! En hoe laat God sy koninkryk kom? Deur die verkondiging van die Woord en die werk van die Heilige Gees. En daarom is dit opvallend in Handelinge hoe Gebed, die Woord en die Heilige Gees saamgaan.

GEBED, WOORD EN GEES

Ons het dit treffend ‘n werklikheid word in Handelinge 13:1-3. 

“Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 
Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: "Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het." 
Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.” 

Wat gebeur hier? Die leiers van die gemeente kom bymekaar vir vas en gebed. Hulle dien op so ‘n wyse God. Dis binne so ‘n konteks van Godgefokusde gebed waar die Heilige Gees werk en leiding gee en ‘n nuwe koers aandui oor hoe die Woord van God kan versprei. Paulus en Barnabas word afgesonder om die Woord te verkondig. Dit loop dan uit op die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas. En dink aan al die heerlike gebeure en kragtige deurbrake tydens daardie reis... 

Dis natuurlik nie die eerste soortgelyke situasie in Handelinge waar die verband tussen God gesentreerde gebed en die Woord duidelik na vore kom nie. Ons vind ‘n soortgelyke samehang tussen gebed, die Heilige Gees en die Woord in Handelinge 4:23-31. Dit vind plaas na die dreigemente van die Joodse Raad teenoor Petrus en Johannes om die apostels te probeer stilmaak. Dan vertel hulle dit aan die ander. En wat doen hulle dan? Hulle bid. Maar kyk net die fokus van die gebed. Geen spoor van selfbelang, geen fokus op hulle vrese en veiligheidsituasie nie. Hulle loof God as Skepper. “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: "Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.” (24) Nadat hulle God as Skepper aanbid het, pleit hulle by God op grond van die beloftes in sy Woord.. En waaroor gaan hierdie pleitroep? “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.” (29) Merkwaardig! Dis ‘n Godgesentreerde gebed wat fokus op sy eer en die uitbreiding van sy koninkryk. Dit gaan oor die uitwerking van God se werk as Verlosser! En wat was die gevolg? “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (31) Hierdie gebed word positief verhoor. Weereens, gebed, die Heilige Gees en die Woord! 

Hoe lyk ons gebede? Hoe lyk my en jou gebede, ons gemeente s’n? Weerspieël ons gebede ‘n bewustheid van God op die troon? Wys ons gebede dat ons ‘n passie het dat sy Naam verheerlik sal word en sy koninkryk sal kom? Is ons gebede in lyn met God se plan om die Woord te laat verkondig? 

Is ons gebede ‘n lieflike geur van oorgawe aan sy wil of dra dit dalk die stank van selfsug? 

Image result for aardbol images
Kom ons aanbid Hom wat op die troon sit. Kom ons aanbid Hom as Skepper en Verlosser en pleit dat Hy ons die genade mag gee om sy Woord uit te dra. So word jy deel van ‘n Godgewilde avontuur! So kom Sy koninkryk op aarde!