BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Valse leraars. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Valse leraars. Wys alle plasings

Sondag 06 Oktober 2019

SATANSWERK

van die teologiese fakulteite!

Is dit te sterk gestel? Wel, wat anders kan mens die opleiding wat aan ons teologiese fakulteite (waaronder andere) ook NG studente vir die bediening studeer noem?

Ferdie Mulder vertel waar hierdie afval sterk begin stoom optel het, met spesifieke verwysing na die Teologiese Fakulteit van Pretoria. Dis natuurlik 'n proses van agteruitgang wat reeds in die tagtigerjare aan die gang was toe ekself nog daar 'n student was.

Luister self na Ferdie deur HIER te kliek!


Hoekom het dit sover gevorder sodat daar menslik gesproke geen hoop meer is vir die koers wat die Algemene Sinode en fakulteite vir die kerk aanwys nie?

Goeie evangeliese mense het bloot net stilgebly of hoogstens saggies beswaar gemaak...


Ferdie Mulder


Valse lering vernietig die geloof van sommige, maar vir God se kinders is daar Goeie Nuus binne in hierdie situasie!  Kliek op FONDAMENT

Donderdag 08 Augustus 2019

Jou WhatsApp status wys


Jy het nie VREDE nie... 



VREDE. DIS WAT DIE WÊRELD NIE VIR JOU KAN GEE NIE…. 



VREDE! Hoe lyk vrede? Spesifiek hoe lyk die vrede en vervulling en vreugde waarvan Jesus praat? Ek het dit nou die dag gesien…. Op Johannes Tampan se gesig, die Donderdag voor hy getrou het. Dis ‘n vrede en vreugde wat geld nie kan koop nie! Die vrede en vreugde van Jesus! (KLIEK) 


In JOHANNES 14:27 vertel Jesus ons: 

"Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” 

Alle mense smag na vrede. Maar waar kan ons dit kry? Jesus se punt is duidelik -die wêreld is magteloos om vir jou vrede te gee… 

Ten spyte van al die “apps”, aansprake, advertensies, beloftes en foefies kan die wêreld nie vir jou vrede gee nie! 

Politieke leiers kan nie - daarom word hulle almal iewers “gefire” (en dit sal ook geld vir beide Ramaphosa en Trump!)
Geld en besittings kan nie – kyk hoe baie rykes en beroemdes pleeg selfmoord of moet hulleself opkikker met dwelms en sterf uiteindelik aan een of ander oordosis!
Alkohol kan nie – die tragiese gebeure van ‘n jongman wat in sy braaksel verstik het na ‘n drinksessie in Stellenbosch is nog pynlik vars in die geheue. 
Seksuele losbandigheid en flirtasies kan nie – dit steel juis vrede, verwoes huwelike, maak harte seer.... Dit sien mens mos gereeld op sosiale media - vandag :  “jy is my alles/ ek kan nie sonder jou lewe nie/ my spark in the dark” en môre is jy die grootste vark onder die son! En dan is daar weer 'n nuwe liefde wat nou die "spark" moet wees en die vorige pyn moet laat verdof...

Terloops, die wanhopige aandagsoekende uitstallings van persoonlike sake op WhatsApp en Instagram skreeu uit : 

“Ek is eensaam, stukkend en sonder vrede!” 

Die wêreld kan inderdaad nie vrede gee nie. Veral ook nie die wêreld georiënteerde en wêreld gewilde vals profete wat vir jou wil vertel : “Alles is maak OK” terwyl jy in sonde voortleef nie! 

"Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! --terwyl daar geen vrede is nie. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE."(Jeremia 6:13-15) 

Die vals profete verseker mense : “Julle is eintlik OK, die Here hou van julle, God is aan ons kant…” Hulle wil nie die oortredings van die mense en God se oordeel daarop aankondig nie. Hulle verswyg dit omdat hulle gewild wil wees! Maar hulle skep ‘n valse vrede en valse gerustheid terwyl mense wankel op die rant van die hel! 

Net Jesus kan vrede gee. Dis die kernwaarheid hier in JOHANNES 14:27 

Hy gee vrede en Hy gee vir ons SY vrede. Hy wil dit vir jou NOU gee! Dis die vrede wat in Sy eie hart geheers het te midde van sy eie lyding en dood. Die vrede wat nie deur die geselslae, beledigings en dorings op sy kop gesteel kon word nie!   Die vrede wat Hom op die drumpel van die dood kon laat uitroep: “Vader in U hande gee ek my gees oor”. Dis juis sy dood wat hierdie vrede gekoop het. Dis ‘n unieke anderse vrede wat die wêreld nie kan gee nie, nie het nie en nie kan verstaan nie! Vandag nog nie! In Jesus se tyd was daar ‘n sogenaamde vrede, die Pax Romana – dit was die wêreld orde en vrede wat die Romeine deur hulle swaardmag bewerk het. Hulle het met geweld en verowering alle volke onderwerp en ‘n tipe vrede afgedwing. Die Jode in Jesus se tyd het dus ook gedink dat die Messias met die swaard die Romeine sal verdryf en so vrede vir hulle bring. Dis waarom hulle so teleurgesteld was in Jesus. 

Jesus se vrede is iets heel anders as politieke vrede. Dis iets heel anders as mensgemaakte vrede. Dis iets anders valse uitbasuin WhatsApp vrede. Dis iets anders as daai foto saam in omhelsing met die jongste liefde of die rugbytrofee wat volgende week weer ou nuus is.  Dis iets anders as die valse gerustheid wat die vals profete verkwansel. Dis iets heel anders as wat op die markte van die wêreld beskikbaar is… 

HOE LYK SY VREDE? WAT IS DIT? 

Dis vrede met God in die eerste plek. Soos Jesus in vrede geleef het met sy Vader en die wil van die Vader gedoen het. Deur sy dood het Hy die boosheid en onvrede van die sondige mens op Homself gevat en die straf daarvoor verduur sodat ons vrede met God kan kry deur die geloof. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1) 

Die vrede van Jesus is die vrede wat weet dat God nie meer vir my kwaad is nie, want die Lam van God is vir my geoffer. God hou niks meer teen my nie, meer nog Hy is deur Jesus my liefdevolle en versorgende Vader! 

Hierdie vrede is die vrede wat die inwonende Heilige Gees deur sy teenwoordigheid vir ons gee en ons rustig en kalm maak, want Hy is in ons. Sy teenwoordigheid is juis die kenmerk van die Messiaanse tyd waarin ons nou reeds leef en wat volmaak sal aanbreek by die wederkoms! En as dinge rof raak dan herinner die Heilige Gees ons weer aan Jesus se beloftes en word die vrede in my binneste weer herstel. (Joh 16:26)

Hierdie vrede is genoeg om vrees uit ons harte uit te verdryf. Vrees vir mense, vrees vir die dood en vrees vir die hel! Dis juis in die konteks van die dissipels wat bang was wat Jesus hierdie woorde gesê het. (vgl. Johannes 14:1) 

Hierdie vrede is dus groter as ons vrese en omstandighede, dit is eintlik ‘n onlogiese vrede wat heers in ons harte ten spyte van slegte omstandighede. Paulus praat daarvan in sy brief aan die Filippense. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Filippense 4:6,7) Praat ons nou van mooi teorie of Sondagpraatjies? Nee, hierdie vrede is 'n realiteit; Paulus het dit in die tronk ervaar en kon vanuit die tronk hierdie brief aan die gemeente van Filippi skryf om hulle te bemoedig!

Hierdie vrede kom saam met die pakket van liefde en vreugde wat Jesus gee. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:9,10,11) 

Hierdie vrede, die vrede wat Jesus gee is die omvattende TROOS waarvan die Heidelbergse Kategismus vraag 1 praat: 

My enigste troos in lewe en sterwe is dat ek aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort! 




Dinsdag 16 Oktober 2018

TAFELBERG GEMEENTE

SAL NÍÉ DIE KNIE VOOR BAÄL BUIG NIE! 

AL KOS DIT BLOED & TRANE! 

Post-moderne liberalistiese godsdiensfilosowe is doelgerig besig om die ware geloof in die NG Kerk - geskoei op die Skrif as onfeilbare Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid - af te breek en talle niksvermoedende lidmate besef nie hoe hulle geliefde kerk onder hulle neuse op sleeptou geneem word nie - die afgrond in. 'n Afgrond waar die Heilige Skrif afgegradeer word tot 'n feilbare menslike boek vol foute en teenstrydighede. 'n Boek van menslike woorde oor God. ‘n Boek van “belangrike antieke dokumente”. En nie meer God se onfeilbare openbaring aan die mens nie. Nou word diegene wat die historiese Christelike Geloof omhels en die Skrif - op voetspoor van Nederlandse Geloofsbelydenis Artt 3-7 - as God se Woord bely, as “fundamentaliste” en “godsdiensregses” afgemaak. Geen kerk kan op hierdie glybaan voortgaan en steeds ware kerk van Christus wees nie. 

MAAR TAFELBERG GEMEENTE SAL NÍÉ BUIG NIE ! 


Dr Chris Saayman - leraar












[Bostaande brief is aan die Kerkbode gestuur en word geplaas met toestemming van dr. Saayman. Mag die Here dr. Saayman sy kerkraad begenadig om aan te hou stry vir die waarheid van die evangelie! Diegene wat in die Kaap woon kan hulle gerus kontak en bemoedig!]

Donderdag 20 Oktober 2016

MOENIE KRAKE TOEVERF

met valse troosboodskappies nie!



Dink ‘n bietjie : ’n Muur wat ernstig gebars is en dreig om om te val... gaan dit help om so ’n wankelrige muur te verf? Nee, die mooi wit verf buite om gaan nie die skade wegneem nie. Die wit verf steek die skade net vir ’n tydjie weg, maar die barste en krake is nog steeds daar. Baie mense se godsdiens is so... agter die mooi positiewe woordjies is daar diep krake van sonde en ellende... Die muur is op die punt om te val...

In Esegiël 13:9-16 spreek God ’n oordeel uit teen die valse profete. 

"Ek tree op teen die profete wat gesigte sien wat nie daar was nie en wat leuens uitgee vir waarsêery. Hulle sal nie plek hê in die vertroulike byeenkoms van my volk nie, nie opgeskryf word in die boek van Israel nie en nie op die grondgebied van Israel kom nie. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.

"Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk ‘n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.

"Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde sal losbreek.

Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: ‘Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?’

"Daarom," so sê die Here my God, "laat Ek stormwinde losbreek in my gramskap, laat Ek stortreëns in my toorn, haelstene in my gramskap kom om alles te vernietig.

Ek breek die muur af wat julle so netjies afgewit het, Ek maak hom gelyk met die grond. Sy fondamente sal sigbaar word, hy sal val en julle sal in sy puin aan julle einde kom. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

Ek sal my gramskap laat uitwoed teen die muur en teen dié wat hom afgewit het en Ek sal vir julle sê: Daar is nie meer ‘n muur nie en dié wat hom afgewit het, die profete van Israel, is nie meer daar nie. Dit is hulle wat vir Jerusalem as profete opgetree het, vir die stad gesigte gesien het oor hoe goed dit sou gaan terwyl dit nie goed sou gaan nie." Dit is wat die Here my God gesê het.

Die vals profete het met mooi woorde en soetsappige boodskappe die volk mislei. Hulle het ’n positiewe boodskap gebring waarvan die mense natuurlik baie gehou het. Wat was die boodskap? “Dit sal goed gaan!” of in ons taal : “Als gaan OK wees!” (vers 10) Dit was ’n mooi boodskap (almal wil mos hoor dat dit sal goed gaan), maar dit was vals en het ’n valse gerustheid aan die mense gegee. Dit het mense aan die slaap gesus terwyl die naderende oordeel van God dreigend oor hulle gehang het.

NUTTELOOS EN MISLEIDEND

Hoekom was dit ’n vals boodskap? God se boodskap was juis dat Hy die volk gaan straf en hulle in ballingskap wegvoer! Dit was die werklike stand van sake, dis wat vir die volk gewag het, maar die valse profete het gesê : “Dit sal goed gaan!” Nou sê die Here hulle boodskap is net so nutteloos soos om ’n gebarste muur mooi af te wit (of te verf).

EN ONS?

Wat wil God hê dat ons moet hoor? Die boodskap van God wat Hy wil hê ons moet vandag hoor is die boodskap wat Jesus kom verkondig het : “Die Koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:14,15) In Jesus het die Koninkryk naby gekom, dis nou ’n werklikheid, die heerskappy van God word herstel. In die lig hiervan moet ons twee dinge doen: Bekering en geloof in die evangelie.

Bekering is om van gedagte te verander, dis om te besef ek het nog altyd verkeerd gedink en verkeerd gedoen. Ek het gemaak soos ek wil, ek moet nou maak soos God wil. Ek durf nie meer met my ou lewensstyl voortgaan nie. Ek was nog altyd my eie koning, ek moet nou voor Jesus buig as my koning. 

Geloof. Ons moet die evangelie glo. Dis die Goeie nuus oor Jesus. Dis regtig Goeie nuus vir stukkende sondaars soos ek en jy. Dis die Goeie nuus dat Hy gesterf en opgestaan het. Hy het gesterf - vir my eie sonde! Hy het my sondestraf gedra. Hy het my volle skuld uitgedelg! Hy het opgestaan uit die dood. God is tevrede dat Jesus my skuld betaal het. As ek hierdie boodskap met my hele hart glo, sal my lewe nooit weer dieselfde kan wees nie! Dit sal ‘n passie van dankbaarheid en liefde in my hart losmaak.

Die evangelie het ook ’n teensy, ’n anderkant. As ek die evangelie nie aanvaar nie, wag God se oordeel. As ek my nie bekeer nie en as ek nie die evangelie waarlik glo nie, gaan God se toorn en straf my tref. Hieroor is die Woord mos duidelik! Jesus self het mense in konkrete terme gewaarsku oor die gevolge van ‘n voortgaande lewe in sonde… Die vuur sal nie geblus word nie en die wurm sal nie sterf nie.

En dis hier waar die moderne vals profete presies dieselfde fout maak as hulle kollegas in Esegiël se tyd. Hulle sê : “Ag, nee wat, God sal niemand hel toe stuur nie. Moenie bekommerd wees nie! Dit sal goed gaan!” Party gaan selfs so ver om te sê daar bestaan nie iets soos ‘n hel nie! Hierdie moderne valse profete is baie gewild. Hulle is sulke lekker profete wat sover gaan om saam te vloek en te fuif... En dis wat baie mense verkies, want wie wil nou hoor ons is verkeerd, wie wil hoor van bekering en wie wil nou hoor van die oordeel? Mense wil graag net positiewe boodskappies in die kerk hoor en nie ontstig word nie. Paulus het al vir Timoteus hierteen gewaarsku : “want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend." (2 Tim 4:3,4) 

Geliefdes, mooiklinkende vals profete woordjies is soos wit verf op ’n gebarste muur. Dit lyk mooi maar help niks! Dit steek net die skade en gevaar weg. Aan die anderkant, God se Woord, wat die enigste waarheid is breek die gebarste mure eers af en bou dan nuwe standvastige mure! Ons moet eerlik wees met God se Woord! Ja, dis beslis nie altyd lekker nie, dit ontstel ons, dit maak ons seer, dit ontbloot ons vir wat ons is. Maar gelukkig God se Woord, die evangelie woord, die Goeie nuus van Jesus bring weer vergifnis, herstel en hoop! Vergifnis, hoop en herstel vir die wat bekeer en glo. 

God wil ons lewensmuur herbou, herstel en nuutmaak, nie net effens oorverf nie!

Kan jy Hom al met blydskap dankie sê vir die herstel en hoop wat Hy deur Jesus in jou lewe gebring het?


'n Murasie in Namakwaland.

Woensdag 15 Julie 2015

VER GEVORDER?

'n Koerantopskrif beduie vir ons dat die NG Kerk al ver gevorder het omdat 'n gay egpaar se kinders gedoop is.  Die leraar en gemeente "vorder" nie net met die nuwe siening van wat huwelik is nie, daar word ook "geworstel" met die manlike metafore oor God. Dit blyk dat ons nou ook 'n nuwe siening van God moet akkommodeer! Vordering is seker 'n goeie ding wat verwelkom moet word, maar alles hang af van die rigting waarin gevorder word. In hierdie geval blyk dit "vordering" weg van die Skrif te wees...  Lees maar self by VER GEVORDER en beoordeel dit vanuit die Woord.

Nee, liewe leraar/s, om mense te sus wat op die verkeerde pad is, is nie vordering nie en ook nie liefde nie!

In Maleagi spreek God vreeslike oordele oor die priesters uit. God is moeg vir hulle geknoei en ontrouheid... Een van die redes wat uitgelig word is die volgende:

"Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog: "Waarmee het ons Hom moeg gemaak?" Julle het dit gedoen toe julle gesê het: "Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle," of toe julle gevra het: "Waar is die God wat reg moet laat geskied?" (Maleagi 3:17)

Nee, God wil nie hê ons moet mense paai terwyl hulle op die verkeerde pad is nie, ons moet mense laat afsien van hulle sonde (Maleagi 3:6), terwyl ons waak om nie in dieselfde slaggate te val nie.

Dis nie leraars se taak om almal te laat goed voel of agter die meerderheid en gees van die tyd aan te praat nie, maar om God se volk, SY WIL te leer!

"‘n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat my wil is, want hy is ‘n boodskapper van die Here die Almagtige." (Maleagi 3:7)

Leraars wil nie meer iets verkeerd noem nie! Te hoflik en kruiperig! Netnou neem die mense aanstoot en weerhou hulle hulle bydraes...

Hoe voel God oor hierdie houding?

"Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie;..." (Esegiël 22:26)

Kom ons keer terug na God en sy Woord, dan sal ons ook met ware liefde die regte pad kan aanwys. Laat ons maar eerder erken, dat ons ver afgedwaal het. Laat ons vorder in die vrees van die Here!