BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Laaste Oordeel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Laaste Oordeel. Wys alle plasings

Woensdag 08 April 2020

IS JY VEILIG?


- ‘n kort Paasoordenking. 


Is jy veilig? Ek bedoel nie veilig teen ‘n virus, siekte, diefstal of finansiële skade nie… Ek wil weet of jy veilig is teen die oordele, wraak en toorn van God? Miskien dink jy dis dalk ‘n onsensitiewe of onverantwoordelike vraag. Jy wonder : “Moet mens dan nou bang wees vir God? Is God dan ook ‘n God van wraak?” 

Kom ek probeer verduidelik… Laat jou gedagtes teruggaan na Egipte, Moses, die tien plae… God het Egipte gestraf met die plae juis om die vryheid van sy volk te bewerk. Om die magteloosheid van die Egiptiese gode aan te toon. Die tiende plaag sou die vreeslikste wees… God sou elke huis in Egipte met die dood tref, sonder uitsondering… Maar God voorsien ook uitkoms, ‘n reddingsplan vir sy volk. Elke huis moes ‘n jaaroud ramlammetjie slag en die bloed aan die deurkosyne smeer. 

“Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ‘n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.” (Eksodus 12:13) 

Die saak was baie duidelik en eenvoudig, die paaslam sterf in die plek van die eersgeborene. Die paaslam se lewe word geneem sodat iemand anders kan bly leef! God se wraak gaan verby as Hy die bloed van die lam sien. 

Veiligheid het afgehang van een saak – DIE BLOED VAN DIE LAM aan die deur. Veiligheid is verseker deur GEHOORSAAMHEID aan GOD SE REDDINGSPLAN! 

God se oordele gaan hierdie wereld tref! 

Trouens, dis reeds in ‘n sin besig om te gebeur aardbewings, rampe, oorloë, pandemies... Die feit van God se heilige wraak is ook ‘n waarheid van die Nuwe Testament – God is toornig op die sondige wêreld. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18) God is kwaad oor alle miskenning van sy eer, goddeloosheid, skending van die huwelik (egbreuk en saamblyery), bandeloosheid, onreg, bedrog... 

Die huidige ellendes, oorloë, peste en pandemies is maar net ‘n klein voorsmakie van die finale oordeel en ewige straf.


Maar God het weereens in sy liefde en genade ‘n plan aangekondig om ons van hierdie oordeel te vrywaar. Om ons te bewaar en ons te red. 

God se reddingsplan is weer bloed. Die bloed van die volmaakte PAASLAM , Jesus Christus. 

Dit was immers nie toevallig dat Jesus tydens die Joodse Pasga (wat die gebeure van lank tevore in Egipte herdenk het) gekruisig is nie. Terwyl duisende Paaslammers geslag word, vloei die bloed van die volmaakte Paaslam, ons Verlosser Jesus Christus. Net die bloed van Jesus beveilig ons teen God se oordele! 

Jesus ondergaan die doodstraf in my plek. 


Jesus sterf sodat ek vir ewig veilig kan wees! “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God” (Efesiërs 1:7) 

Hierdie boodskap moet persoonlik aanvaar en geglo word, anders gaan die oordeel van God jou tref! Blote lidmaatskap van een of ander kerk is nie goed genoeg nie. 

Het jy al persoonlik jou vertroue op die gekruisigde en opgestane Jesus geplaas of maak jy dalk jou eie planne om die oordeel van God te probeer ontvlug? 

Niks anders kan ons beveilig teen God se regverdige wraak nie... nie ons ordentlike lewe, Bybelkennis, goeie voornemens, vriendelikheid of godsdienstigheid nie... net die kosbare bloed van ons volmaakte Paaslam! Net Jesus red ons van die komende oordeel. So skryf Paulus aan God se kinders in Tessalonika :“Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.” (1 Tess 1:9,10) 

Die grootste gevaar op hierdie oomblik is nie ‘n siekte, geldnood of ander ellendes nie, maar God se regverdige oordeel! Maar die mensdom besef dit nie...

Ek vra weer : Is jy veilig? 

Is die bloed van die Lam al aan jou deur?

(En terloops, dit het niks te make met hierdie nuwe gier om huise en selfs klaskamers sogenaamd “uit te salf nie”. Dit klink my baie na bygeloof. Daar is geen opdrag binne die Nuwe Verbond om so iets te doen nie. Ons word verlos deur die bloed van Jesus deur Hom te aanvaar as ons Verlosser, deur in Hom alleen te glo. Vgl. Johannes 1:12) 

As jou antwoord , “JA” is kom ons vier ons verlossing met die Nagmaal waardeur ons weer opnuut verseker word van die algenoegsaamheid van Jesus se kruisdood as ons redmiddel. Weens sy volmaakte offer en NET dit kan ek weet ek is VEILIG!

Om te luister kliek op PAASOORDENKING



Donderdag 11 Januarie 2018

’n Vaste Afspraak op God se Almanak

waaroor die “lifecoach” en motiveringspreker swyg!



(en sommige dominees en pastore ook)



Ons ken almal ’n almanak. Hier aan die begin van die jaar maak almal seker dat ons almanakke het. By wyse van spreke kan ons ook sê dat God ’n almanak het. Ons kan nie God se almanak sien nie. Ons ken byvoorbeeld nie ons eie persoonlike sterfdatum nie. Ons weet nie wanneer Jesus se wederkoms gaan plaasvind nie. Daar is wel vaste afsprake op God se almanak al ken ons nie die datums nie. Sommige van God se belangrike gebeure op sy almanak is reeds verby. Die skepping, die menswording van Jesus, die kruisiging en opstanding, Sy hemelvaart en die heerlike uitstorting van die Heilige Gees. Daar is wel nóg ’n groot gebeurtenis op God se almanak wat in die toekoms lê – die wederkoms en oordeel. Paulus praat ondubbelsinnig duidelik hieroor. Dis ’n vaste seker punt op God se program vir die toekoms. Ons almal is op pad na daardie afspraak. Dalk wonder jy :”Goed en wel, maar is dit relevant om daaroor te praat?” Wel Paulus het so gedink…

Kom ons kyk bietjie na Handelinge 17:16-34. Paulus bevind homself hier in die groot wêreldstad Athene. ‘n Sentrum van geleerdheid. Baie filosowe en 'n menigte van idees. Ook vol afgodsbeelde en verwarring. Hierdie mense ken nie vir Jesus nie, hulle weet niks van die evangelie nie. Tog is hulle baie godsdienstig. Nog kry Paulus die wonderlike geleentheid om op die beroemde Areopagusheuwel die evangelie te verkondig! Hy moet dit goed en wys benut... 

Areopagusheuwel vandag. (Foto  Wiki)

Paulus sluit aan by hulle kennis en omstandighede... Hy is nie lelik en veroordelend nie, eintlik baie strategies en taktvol. Hy begin by die “onbekende God”... Daar is net een God wat aan alles lewe en asem gee. Paulus praat ‘n taal wat hulle verstaan en haal sommer een van hulle digters ook aan. (28)

Dan kom Paulus by die klimaks van sy toespraak. 

""God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (30-31) 

Paulus verkondig die boodskap van bekering. Hoe dan anders? Dit was mos die duidelike opdrag van Jesus aan sy dissipels, kort voor sy hemelvaart. 

“Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (Lukas 24:46,47) 

God beveel mense deur sy diensknegte om hulle te bekeer. Wat is bekering? Om ’n keuse te maak! Om van gedagte te verander oor God en sy verlossingsplan deur Jesus. Om anders te dink en te doen. ‘n Bekering na God toe en weg van die afgode. Geloof en bekering gaan altyd saam. Om weg te draai van my verkeerde koers, om van gedagte te verander en op Jesus te vertrou. Terloops die boodskap van bekering en geloof was nie net die boodskap van Johannes die Doper* en die apostels nie, maar ook van Jesus self! 

“Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15)

Waarom is bekering so belangrik? Waarom doen Paulus die moeite om dit met hierdie vreemde Grieke te deel?

Daar is ’n oordeel wat kom. God gaan die wêreld oordeel volgens Sý standaard en norm. Sý wet! (Terloops, die opinie van Die Huisgenoot of Oprah Winfrey gaan nie tel nie!) God gaan mense tot verantwoording roep. Mense sal moet verduidelik. Hierdie waarheid vind post-moderne mense afstootlik, want ons redeneer mos : “Ek kan maak soos ek wil. Daar is nie reg en verkeerd nie, elkeen moet vir homself besluit.” Nee, die Bybel leer anders. “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” (Romeine 2:16) 

Die mens staan verantwoordelik voor God, want God is ons Maker. 

Of mense in God glo of nie- elke mens gaan verantwoording doen voor God van sy lewe hier op aarde. (Sien Openbaring 20:11-21)

Hierdie naderende oordeel op God se kalender is nie bangmaak stories nie. Die bewys dat God dit regtig gaan doen is die opstanding van Jesus uit die dood. Deur die opstanding het God onteenseglik onomstootlik bewys dat Jesus wel die Seun van God is. 

God gaan die wêreld oordeel. Deur ‘n Man. Jesus Christus. Daar’s baie verkeerde opvattings oor Jesus. Jesus is nie ‘n lewensafrigter of leefstylkonsultant om van ons suksesvolle en gemaklike mense te maak nie. Hy is ‘n Redder van sonde. ‘n Genadige Redder! Maar as Jesus weer kom, kom Hy oordeel. Dan is die genadetyd verby. Nou is Hy nog hier as die Redder van sondaars, maar as Hy weer kom, kom Hy nie as Redder nie, maar as Regter!

Wat ‘n geweldige boodskap van die apostel Paulus. So baie- selfs kerkmense glo nie hierdie boodskap van oordeel en bekering nie. Dis al afleiding wat mens kan maak, as mense houtgerus voortleef en op hulle ou paaie van sonde en onverskilligheid volhard. As daar vir als tyd is behalwe vir God se Woord…

Hierdie gedeelte is so belangrik as ons weer wil besef waaroor die eintlike boodskap van die Bybel gaan. Soos ons gesien het gaan Paulus baie slim, ordentlik en diplomaties te werk met sy gehoor. Maar hy bly eerlik. Hy praat oor dit wat waar en relevant is, oor die mens se basiese behoefte. Die noodsaak om betyds vrede met God te vind. Hy vertel NIE vir die Atheners hoe hulle suksesvolle, welaf en gesonde lewens kan kry nie. Nee, hy vertel hulle eerlik van God se naderende oordeel en hoe hulle gered kan word van daardie oordeel! Onverskrokke bring Paulus sy boodskap van waarheid aan die heidense en kritiese Atheners! 

Wat sou die reaksie wees? “Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." So het Paulus van hulle af weggegaan.‘n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.” (32-34) 

Die waarheidsevangelie bring altyd skeiding. Sommige verwerp dit en lag daaroor**, ander glo. Hier gebeur dit ook weer.

Die Bybelse metode van evangelie verkondiging sluit ook die waarskuwing oor die naderende oordeel in, as ons dit verswyg is ons oneerlik… Moenie die jaar ingaan as ‘n onbekeerde nie. Dit sou dwaas wees! Sorg dat jy die Man wat gaan oordeel, Jesus, ken, dan is jy veilig! AMEN!

*Sien hoe Johannes die Doper bekering baie prakties verduidelik. (Lukas 3:7-14)

**Uit hierdie gemengde reaksie is dit duidelik dat baie mense destyds ook nie in Jesus se opstanding kon glo nie. Geleerdes wat wil maak of geloof in die opstanding sommer net iets is wat algemeen in destyds se “primitiewe” kultuur was, maar slegs in ons tyd nie meer geglo kan word nie, praat dus nie die waarheid nie. Vir die ongelowiges van destyds was die opstanding ook iets belaglik. Om dieper op die sekerheid van die opstanding in te gaan kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE

Maandag 23 Junie 2014

“EK GLO IN MYSELF”

- het die evangelie iets te sê vir die selfgenoegsame en relatiwistiese post moderne mens? 

“Ek is my eie baas! Ek is ’n selfstandige mens, wat my eie besluite neem. Ek glo aan die slagspreuk - glo in jouself. Ek is die kaptein van my eie bestemming en toekoms! Ek het niks en niemand nodig nie. Die lewe word maar deur die noodlot bepaal en ek moet maar net die beste daarvan probeer maak. Ek bepaal my eie geluk...” Dis so ‘n algemene houding vandag... Maar wat sê mens vir sulkes? Kan ek die evangelie met hulle deel?

Maandag 26 Maart 2012

DIE VERBODE ONDERWERP

- waaroor Jesus egter dikwels gepraat het.

Die rubriekskrywer Annemarie van der Walt skryf ’n tyd gelede in BEELD : “Vir die eerste keer hoop ek daar ís ’n hel” Sy maak die stelling na aanleiding van die afskuwelike optrede van ’n pa en ma wat hulle eie dogtertjies vir seks verkoop het. Ek dink alle redelike mense deel Annemarie se weersin in hierdie gruweldade. Ek wonder net hoekom sy sê “hoop”? God se Woord is mos baie duidelik oor die bestaan van ’n hel! Maar ja, dit het bykans ’n verbode onderwerp geword om oor te praat, juis in ’n tyd waar daar nie eintlik meer taboes is nie. Ons mag blykbaar alles bespreek en bekyk, maar daar moet maar liewers geswyg word oor die hel. Dit pas nie in die post-modernistiese konteks van verdraagsaamheid en relatiwisme nie! Die rede vir die hedendaagse stilswye (ook van ons kansels) oor die hel is maklik om te verstaan. Dis uiters ongemaklik vir die arrogante sondaar om van Goddelike vergelding te hoor. Predikers wat dit waag om hierdie waarheid te verkondig, kan ook maar vergeet van gewildheid.

Of ons dit nou wil hoor of nie, die Bybel praat reguit en duidelik oor God se finale straf oor goddeloses wat die evangelie verwerp. Dis veral Jesus self wat nie geskroom het om baie eksplisiet oor die lot van die ongehoorsames te praat nie. Dit moet mens regtig laat dink. Wie het ’n groter deernis en liefde vir stukkende sondaars as Jesus? Daarom moet ons aanvaar, dis juis Jesus se opregte liefde vir mense wat maak dat Hy eerlik oor hierdie moeilike saak praat. Een so ’n voorbeeld vind ons in Lukas 16. Hier vertel Jesus die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Inderdaad is dit ’n gelykenis en kan ons nie elke onderdeel daarvan letterlik opneem nie (soos ’n letterlike kloof tussen hemel en hel), maar as daar nie ’n plek van smart en ’n ewige skeiding sou wees nie, verloor die gelykenis natuurlik sy hele punt. Beslis kan ons vanuit hierdie gedeelte (in samehang met die Skrifboodskap in geheel) ’n paar gevolgtrekkings maak rondom die dood en die mens se voortbestaan daarna.

1. Almal moet sterwe. (Behalwe dié wat by die wederkoms nog sal leef) Natuurlik weet alle mense dit; tog leef baie asof daar nie so ’n moontlikheid bestaan nie. Hulle leef en versamel rykdom asof hulle vir altyd hier sal wees. (Kyk net na die paleise wat sommiges bou!) Hier is dit baie duidelik : beide die ryk man en die arm Lasarus sterf op ’n dag! Die dood is die groot gelykmaker : koning of onderdaan, grondbaron of plaasarbeider, generaal of troep, held of skurk, die ouens wat in vliegtuie rondkerjakker sowel as die wat op krukke voortstrompel! ALMAL moet sterwe!

2. Daar is ’n lewe na die dood vir alle mense. Die mens hou nie net op bestaan nie. Jy is nie bloot ’n hond wat vrot nie. Daar is ’n bewustelike persoonlike voortbestaan. Ek en jy behou ons unieke identiteit. Die Ryk man bly die Ryk man, Lasarus bly Lasarus. Gert bly Gert, en Piet bly Piet... Die ryk man bly bewus van sy familie en wil Lasarus na hulle toe probeer stuur! (Opvallend, selfs na die dood behou die ryk man sy arrogansie en dink hy kan nog steeds vir Lasarus, “rondshunt”! Want, sien, in die hel is daar geen genade en ook geen bekering nie.) Geweldig om te dink : alle mense wat ooit op aarde geleef het, bestaan nog steeds! Ook dié van die verste verlede! ’n Duidelike bewys hiervoor vind ons op die Berg van Verheerliking (Matteus 17), waar Moses en Elia met Jesus gepraat het. Ja, jy sal hulle ook eendag ontmoet as jy by die Here is....

3. Daar kom ’n skeiding na die dood. Almal bestaan voort na hul dood, maar almal gaan nie na dieselfde plek nie!

Onmiddellik na die dood.... en ja, terwyl ons nog besig is met begrafnis hou (en ydele lofredes voordra) is die gestorwene reeds in ’n plek van smart of in ’n plek van heerlikheid en geluk! Elke mens kan net na een van twee bestemmings gaan : ’n bestemming van oneindige ellende en selfverwyt of ’n plek van onbeskryflike heerlikheid en vrede!

Jesus het van twee Griekse terme gebruik gemaak as Hy na die plek van straf na die dood verwys naamlik Hades en Gehenna. (Hy gebruik ook ander beskrywings soos byv. “buitenste duisternis”) Hier in Lukas 16 gebruik Hy “Hades”(doderyk) Dis duidelik, Jesus wend ’n woord wat vir sy hoorders bekend was aan as verwysend na die plek van smarte wat in kontras staan met die hemelse woning van heerlikheid waar God se kinders hulle sal bevind. Dis ’n plek van pyn en ellende. “Ek ly verskriklik in hierdie vuur”, sê die Ryk man.

Die meer algemene woord wat Jesus gebruik om na die bestemming van die ongelowiges te verwys is “Gehenna” Die woord het ’n interessante geskiedenis. Dit verwys na die vallei van Ben Hinnom, suidwes van die stad Jerusalem. In die tyd van die Ou Testament is afgodsoffers hier gebring en dis waar die goddelose koning Manasse sy seuns aan die afgode geoffer het. (Lees ook : KINDEROFFERS) Dit het uiteindellik die ashoop van Jerusalem geword, ’n stink smeulende plek. Karkasse van dooie diere en selfs lyke van kriminele is hier gelaat om te verrot en te verbrand. Inderdaad was dit ’n plek waar wurms bly knaag het en waar die vuur nooit geblus is nie.* Die verkorte naam van hierdie plek in Hebreeus was Ge-hinnom, waarvan die Griekse vertaling Gehenna is. Jesus gebruik dus bestaande en reeds bekende woorde om die konsep van ’n plek van finale ewige straf te verduidelik. In Afrikaans noem ons hierdie plek, hel. (Mense wat grootpraterig en slim wil klink, sê dat daar nie so ’n woord soos hel in die Griekse Nuwe Testament is nie, en daarom ook nie so ’n plek nie. Hulle verstaan regtig nie die basiese beginsels van taal nie. ’n Woord kry sy betekenis vanuit sy gebruik en konteks. Bestaande begrippe kan met nuwe inhoud bekleë word.)

4. Na die dood is daar geen tweede kans nie! (Vergelyk ook Hebreërs 9:27. En terloops reïnkarnasie is ‘n leuen, ’n skim wat Satan aan sotte verkwansel!) Daar is geen moontlikheid om jou bestemming te verander nie. Daar is ’n groot onoorbrugbare kloof tussen die twee bestemmings. Die groot prediker Spurgeon het dit so gestel : “Not even a drop of water could cross the bridgeless gulf.” Diegene wat in die hemel is, is veilig, onaantasbaar vir ewig. Maar net so, dié wat in die hel is, is sonder hoop...!

5. Ons lewe op aarde is bepalend vir ons bestemming. Hierdie lewe nou is deurslaggewend belangrik. Ons aardse paadjie is kort, maar dit het konsekwensies tot in alle ewigheid. Natuurlik, hierdie gelykenis beteken nie, alle ryk mense gaan hel toe en alle arm mense gaan hemel toe nie. Dit wys wel dat God weet wat op aarde gebeur en dat Hy alle onreg sal vergeld. Dis ’n heerlike troos vir al God se kinders wat ly en veronreg word! Dis ’n ernstige waarskuwing vir almal wat hulle nie aan God en sy geregtigheid steur nie. Niemand gaan wegkom met onreg nie, niemand kan God flous of omkoop nie. God se geregtigheid en vergelding word treffend uitgebeeld. Die rolle van die karakters word dramaties omgeswaai. Jesus teken die kontraste skrikwekkend skerp : As Lasarus sterf dra die engele hom weg na Abram. Terwyl hy geleef het moes hy uitgestoot buite voor die poort lê van een van Abram se sogenaamde kinders. Nou kry hy ’n ere ontvangs. Lasarus was buite, nou is hy binne. Die ryke wat als gehad het, is nou buite en in pyn. Lasarus is nou die bevoorregte; die ryke bedel nou ’n paar druppels water! PASOP! Daar wag ’n aaklige verrassing, as ons eendag sien wie gaan ingelaat word en wie gaan buite bly! Die man wat nie eers ’n krieseltjie wou oorlos vir ’n bedelaar nie, wil nou die vinger van ’n bedelaar aflek!** Dis opvallend : die ryk man ken die bedelaar se naam. Dis ’n verswarende omstandigheid! Hy het al die tyd presies geweet wie daar voor sy poort lê en vergaan van die ellende! ’n Skrikwekkende werklikheid onder ons aandag gebring. Wie kontak met die bedelaar wil maak, moet dit nou doen! Daarna is dit vir altyd te laat! Dis nou die kans om barmhartigheid te bewys! Dit bring ons by die laaste beginsel:

6. Tree betyds op! As jy gereed wil wees vir die dood, tree betyds op! Dis nou! Maak betyds voorsiening vir die ewigheid.

Betyds, Betyds, Betyds... anders is dit vir ewig te laat!

Daar is veral twee dinge waaraan ons betyds moet aandag gee volgens hierdie gelykenis:

~ Luister betyds na die Woord. Die ryk man se versoek om Lasarus na sy broers te stuur om hulle te waarsku word geweier. “Hulle het mos Moses en die profete!” Dis die Bybel van destyds! God het mos klaar duidelik in sy Woord gepraat. As jy nie daarna wil luister nie, is daar vir jou geen verskoning en geen hoop nie! As jy nie aan die Bybelse boodskap gehoor wil gee nie, sal geen wonderwerk jou in elke geval oortuig nie! Glo die Woord, die Woord is die waarheid! Maak ons erns met die Woord? Het jy jou al bekeer en die heerlike boodskap oor Jesus se kruis en opstanding geglo? Die Bybel sê mos duidelik wat ons moet doen om gered te word. “Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15)

~ Gee ook betyds aandag aan die bedelaar voor jou deur! Gebuik jou aardse besittings op die regte manier. Geldsake is ’n belangrike tema in Lukas 16. In die eerste gelykenis in Lukas 16 gaan dit ook hieroor en word dit duidelik gestel dat ons nie God én Mammon kan dien nie (vers 13) en net daarna word melding gemaak van die Fariseërs se geldgierigheid (vers 14). Hierdie gelykenis sê nie ek word outomaties gered as ek armes help nie. Barmhartigheid is egter wel ’n noodwendige gevolg van Christenskap! Christenskap en geldsake gaan saam! Barmhartigheid teenoor ander is ’n duidelike bewys dat ekself vergifnis en barmhartigheid by God ontvang het.

 
Is ek gereed vir die dood?


Nog ’n laaste vraag : Sal ’n God van liefde regtig mense tot die hel verdoem?

Ons eie filosofiese redenasies bepaal nie wat God kan en sal doen nie. God openbaar Homself in sy Woord en ons moet dit aanvaar. Nou is die Woord baie duidelik dat God toornig is oor sondaars wat weier om hulle te bekeer en hulle baie swaar oordeel. Ja, inderdaad is God baie genadig. God se genade loop egter in die Skrif parallel met sy oordele. Vat nou maar die Bybelse geskiedenis van voor af. God red Noag en sy familie (net 8 mense!), maar delg die res van die mensdom uit in die sondvloed.  God begenadig Lot en sy gesin, maar wis die goddelose stede van Sodom en Gemorra uit met vuur. God verlos sy volk Israel uit slawerny, maar teister die Egiptenare met skrikwekkende plae! Weens hulle afvalligheid moet Israel later egter self onder God se oordele deurloop soos tydens die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap en die profete kondig dan aan dat net ’n klein oorblyfsel gered sal word. Ook in die evangelie bedeling waarin ons nou leef, word beide God se genade en oordele ervaar. Vir sommige is die evangelie ’n lieflike lewensgeur, maar vir ander ’n stank van die dood! (2 Kor 2 :14-16) Dwarsdeur die geskiedenis van die mendom is God die Een wat red, sowel as oordeel! Dit is ’n voorspel tot die laaste oordeel wanneer die geseënde gelowiges die Koninkryk sal beërf en die vervloektes verdoem sal word tot die ewige vuur! (Matteus 25:34,41) Dis wat die Bybel ons leer. Wie van ons durf iets anders verkondig?

Persoonlik dink ek dat die kruisdood van Jesus dalk die duidelikste bewys van ’n hel is. Die feit dat God bereid was om sy Geliefde Seun tot die skandedood van die kruis te verdoem ter wille van sondaars is nie net ’n bewys van God se liefde nie, maar ook van die skrikwekkende plek waarvan daardie liefde ons juis wil red. Waarom moes Jesus die straf van Godverlatenheid (helse straf) ondergaan, as daar dan in elk geval nie ’n hel bestaan waar sondaars gestraf sou word nie? Die kruis van Jesus waar Hy elke gelowige se straf volledig gedra het, was nie net ’n gebaar van welwillendheid nie, maar is ’n eenmalige liefdesdaad wat ons verlos van sonde, Satan, dood... en ja, HEL!

God roep die mens tot verantwoording na sy dood. Daar is ’n plek van pyn soos die poel van vuur. (En terloops, dis nie ’n plek waar die duiwel met ’n drietandvurk in sy hand mense braai nie! Dis God se toorn wat die hel aan die brand steek en dis juis die plek waar die duiwel vir ewig gestraf gaan word volgens Openbaring)

Niemand sal die hel vryspring, bloot deur die ontstaan daarvan te ontken nie. Dis die Bybelse boodskap. Gelukkig is dit nou nog genadetyd. Die Verlosser, Jesus nooi jou uit! As jy meer wil lees oor hoe Hy ons verlos van sonde, Satan, dood en hel, lees gerus : “GOLIAT HET GEVAL!”

* Sien : “Whatever happened to hell?” deur John Blanchard

** Uit die kommentaar van Jakob van Bruggen is heelwat gedagtes oorgeneem

Woensdag 14 Desember 2011

LES UIT LEIPOLDT SE ELLENDE

SONDER ‘N ADVOKAAT?


Die bekende Afrikaanse skrywer en digter C. Louis Leipoldt het sendelinge as voorsate gehad, van beide vaders en moederskant. Sy eie pa, Christian Fredrich Leipoldt was vir ’n tyd lank ’n sendeling in Soematra, Indonesië. Later was hy die leraar van die NGK Clanwilliam. Die tragiese is dat hierdie pastoriekind blykbaar van vroeg af reeds sy rug op die Christelike geloof gekeer het. Hy was ’n wêreldreisiger wat beroemdes soos Joseph Lister en Florence Nightingale ontmoet het. Hier in Suid-Afrika maak hy kennis met Emily Hobhouse en ry perd saam met Cecil John Rhodes, maar volgens alle aanduidings het hy die belangrikste ontmoeting wat ’n mens moet hê, naamlik om Jesus as Here en Saligmaker (Advokaat!) te leer ken, gemis.



Die vraag is, wat het Leipoldt geglo? Volgens Kannemeyer (sy biograaf) het Leipoldt soms uitdagend verklaar dat hy ’n Boeddhis was. (dalk om sy mede Afrikaners te skok) Waarskynlik was hy nie ’n praktiserende Boeddhis nie, al het hy sy hele lewe lank ’n belangstelling in die Boeddhisme behou. Heel moontlik sou mens hom ’n agnostikus kon noem.



Op sy siekbed ’n tyd voor sy dood het hy na bewering ’n gesprek met mev. Dorothy O’Connor gehad wat mens ’n skrikwekkende insig in sy denke, maar ook in mense se onkunde oor die evangelie gee. Hy sou aan haar gesê het : “I believe in a Supreme Being, but I cannot accept Jesus Christ as God and because man has to adopt some mode of living, I’ve moulded my life on the teachings of Buddha” Mev. O’Connor, ’n Katoliek vertel die volgende: “I nursed him and it was during that time he said, “I am going to meet Jesus soon. What am I going to say to Him? What can I show for my life - nothing.” I assured him that Christ was kind and would take into consideration the kindness he had shown in educating boys. He brushed that aside, saying, “I did that for my own satisfaction.” The next day whilst I was watching him, he said, “I’ve been a very lonely and unhappy man - a misfit. If I had been given your faith thirty years ago, I would have gone to a Monastery and begged the Prior to take me in as a lay-brother. Now, dying, the Prior would bless me and all these horrible gremlins round my bed, that you can’t see but I can would not be persecuting me.” Hoe tragies dat hierdie dame blykbaar nie aan hom die evangelie kon verkondig nie, maar probeer het om hom terug te verwys na goeie werke en mense.



Volgens alle aanduidings het Leipoldt tot op die laaste ’n ongelowige spotter gebly. Kort voor sy einde het Markus Viljoen direk vir Leipoldt gevra of hy nie bang was om oor die laaste skeidslyn te gaan nie en wat hy van die dood verwag. Fluisterend het die antwoord gekom : “Ek dink dit is die end...Anderkant is niks.” Terwyl sy bene al besig was om koud te word, het hy sy laaste woorde gesê, smalend en feitlik sardonies : “Nou gaan ek na Jesus toe.” Leipoldt is op Saterdagnag 12 April 1947 die ewigheid in om voor die Regterstoel te verskyn... blykbaar sonder ‘n Advokaat! Skrikwekkend!



(Feite en aanhalings verkry uit LEIPOLDT van J.C. Kannemeyer)