BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Boeke. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Boeke. Wys alle plasings

Saterdag 05 Januarie 2013

PLAASARBEIDER MET 'N PASSIE

- Praying Johny 


Die Quarterly Meeting van die Primitive Methodist Connexion, gehou in Bridlington, 1823 moes ‘n belangrike besluit neem. Die evangelisasiewerk in die dorpie Filey, in die noorde van Engeland was in die weegskaal. Alle pogings om in hierdie goddelose dorpie ‘n impak met die evangelie te maak het misluk. Die inwoners het verhard en onverskillig gebly. Miskien het die tyd gekom om waardevolle werkers na ander gebiede wat meer ontvanklik was te verskuif.   

Praying Johny, oftewel John Oxtoby het na die argumente geluister. Sy hart vol medelye is diep geraak deur die moontlikheid dat hierdie dorp so aan ongeloof oorgelaat moes word. Toe sy opinie gevra is, het hy passievol gereageer : “What do I think? I think the Lord has a great work tot do at Filey, and if you will send me I will go and live upon potatoes and salt, and lie on a board if necesarry before it shall be given up.”

Oxtoby se aanbod is aanvaar, en hy het met sy karige besittinkies in ‘n sak die pad gevat na Filey toe. Toe een van sy vriende hom vra waarheen hy gaan het hy geantwoord : “To Filey, where the Lord is gannin to revive his work.” 

Toe Johny die dorpie in sig kry, het hy op sy knieë agter ‘n heining neergeval en by God begin pleit vir die plek. ‘n Paar uur later het ‘n meulenaar toevallig daar verby gegaan en vreemde geluide gehoor agter die heining. Dit het vir hom geklink soos twee persone wat  in ‘n argument betrokke was. Johny het soos Jakob van ouds met God geworstel totdat hy seker was dat God hom verhoor het. Terwyl hy van sy knieë opstaan het hy uitgeroep : “It is done Lord, it is done! Filey is taken! Filey is taken!” Dit was inderdaad die geval.  ‘n Herlewing het in Filey uitgebreek.

Wie was hierdie merkwaardige gebedstryder, John Oxtoby? Geen geleerde nie, maar ‘n eenvoudige plaasarbeider. Hy is gebore in 1767 op ‘n plaas by Little Givendale naby York. As ‘n kind van plaaswerkers het hy slegs basiese skoolopleiding ontvang. Vir baie jare het  Oxtoby ‘n lewe sonder kennis van God geleef, maar in 1804 het sy koers drasties verander. Deur die woorde van ‘n rondreisende Metodiste prediker is sy gewete aangespreek. So ontsteld was hy dat hy nie kon slaap of eet nie. Hy het tot God geroep vir genade. Hy het nie onmiddellik ‘n antwoord ontvang nie. Eers na ‘n langdurige stryd van etlike maande het hy die versekering van God se vergifnis deur Jesus Christus gekry. Nou  het sy begeerte om hierdie vreugde met familie en vriende te deel, geen perke geken nie. Sy pogings is met vyandskap en onverskilligheid begroet, maar het tog later begin vrugte afwerp weens sy volharding.

Die dramatiese verandering in Oxtoby kon ook nie misgekyk word deur die mense van die dorpie, Warter nie. Johny het elke huisie en gehuggie besoek. Aanvanklik is die deure dikwels in sy gesig toegeklap, maar gaandeweg het daar verandering gekom. Johny het opregte belangstelling in die huismense se nood en probleme getoon en altyd saam met hulle gebid. So het hy die bynaam, “Praying Johny” gekry. Die mense van Warter het spoedig ook verlang om hulle eie kerkgeboutjie te hê, en dit was Johny self wat ‘n geskikte stuk grond geskenk het sowel as ‘n bydra vir die oprigting van ‘n gebou. Vir die volgende 15 jaar het Praying Johny persoonlik evangelisasiewerk gedoen in die dorpies van Oos Yorkshire. Hy het in assosiasie gewerk met die Weslyaanse Metodiste, maar het steeds sy beroep as plaaswerker beoefen.

Op 52 jarige leeeftyd het Johny by die Primitive Methodists aangesluit. Dit was ‘n groep wat ontstaan het vanuit die werk van Hugh Bourne, William Clowes en Daniel Shubotham. Dit was  manne met ‘n passievolle geestelike energie. Op hierdie tydstip het die oorsponklike Metodiste baie van hulle eertydse vuur verloor en Bourne en sy vriende is uitgeskop uit die plaaslike Methodist Society weens hulle aandrang op evangelisasie metodes wat nie vir die Society aanvaarbaar was nie. In 1812 het hierdie manne en talle van die gelowiges wat die resultaat van hulle prediking was ‘n nuwe assosiasie gevorm. Hulle het die naam, Primitive Methodists gekies as ‘n uitdrukking van hulle begeerte om iets te herwin van die evangeliese ywer wat voorheen by die Wesley broers, George Whitefield en ander vroeëre Metodiste aanwesig was.

Benewens die gawe van gebed, het Praying Johny ook die verwante gawe van geloof gehad en baie verhale het die rondte gedoen van merkwaardige antwoorde wat hy op sy gebede ontvang het. Een so ‘n verhaal gaan oor ‘n meneer Stephenson van Hull wat in groot angs verkeer het oor ‘n  skip van hom wat nie op die verwagte tyd teruggekeer het nie. Verlies van die skip sou groot skade meebring, maar om als te vererger was sy eie seun ook aanboord van die skip. Hy het sy probleem met Johny gedeel, wat homself gewend het tot vas en gebed oor die saak. Na ‘n tyd het God aan Johny die innerlike sekerheid gegee dat als goed sou afloop en dat die vaartuig en almal aan boord veilig sou wees.  Johny het met die oog van geloof, die skip “gesien”. So seker was hy van sy saak dat hy vir Stephenson verseker het dat hy die skip sou herken as hy terugkeer sonder dat hy dit self ooit met sy fisiese oë gesien het. Weke het verbygegaan sonder enige nuus. Einde ten laaste het die skip teruggekeer. Stephenson het Johny laat haal en hom gevra of hy die skip sou kon uitwys tussen die honderde ander in die hawe. Johny het hulle deurgekyk en skielik uitgeroep : “That’s the ship which God had showed me while at prayer! I knew she would come home safely and that I would see her.”  Hy was reg!

John Oxtoby was ‘n gedetermineerde sielewenner. Sy joernaal gee duidelike bewyse van die genade en krag van God wat gepaard gegaan het met sy prediking en ‘n ryke oes van bekeerlinge tot eer van God opgelewer het.

Soos Johny geleef het, het hy ook gesterf. Hy wat naby Jesus geleef het, het  ook sy  Verlosser se teenwoordigheid in sy sterwe ervaar. Aan ‘n vriend het hy gesê Christus was “present and precious – wonderfully precious to my soul.” Vir ‘n ander vriend : “Tell them, all the former manifestations I have had are nothing compared with those I now feel.”  Tydens sy lewe het hy ‘n las vir siele gehad wat hom aangevuur het om in gebed in te tree.  Met sy laaste kragte het hy nog fluisterend gebid : “Lord, save souls : do not let them perish” Sy finale woorde was : “Glory, glory, glory.”  Op 19 Januarie 1830 het Praying Johny in die heerlikheid van sy Heer ingegaan! Hy is in Warter begrawe.

Sal hierdie nederige kneg van God se lewe ons nie tog ook aanspoor om hierdie jaar volhardend in gebed voor ons Verlosser te leef nie?

Verwerk uit “SINGING IN THE FIRE” van Faith Cook. Die boek bevat ook wonderlike verhale van minder bekende geloofshelde soos Edward Payson, Wang Ming-Dao, Thomas Hogg, William Bramwell, Allen Gardiner, die Saphir familie en andere.


Donderdag 16 Februarie 2012

BABALAAS BRITTE

- BENODIG BLYE BOODSKAP VAN BEVRYDING!

Die BBC dra die volgende berig op 15 Februarie:

David Cameron vows to tackle binge drinking scandal. Prime Minister David Cameron has called for bars, supermarkets and the drink industry in England to do more to help ensure responsible drinking.

Cameron bedoel dit seker goed. Die geskiedenis van sy eie land bewys egter dat die euwel van dronkenskap (en alle ander euwels) nie deur wetgewing, regerings of sosiale aksies opgelos kan word nie. Die probleem lê nie in strukture nie, maar in die mens se hart. En dis net God wat nuwe harte kan skenk! God verklaar so duidelik in Esegiël 36:26,27 :

“Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef...”


Radikale vernuwing van binne! Dis presies wat God in die Britse Eilande gedoen het tydens die 18de eeuse herlewing toe Hy die kragtige prediking van George Whitefield, John Wesley, Daniel Rowland en baie ander gebruik het om ’n nasie te skud. En ons moenie vergeet nie, die sukses van die evangelie het juis sigbaar geword in ’n nasie wat vasgevang was in die slawerny van dronkenskap. Die sogenaamde Gin Craze het Engeland beetgepak en die gevolge was skrikwekkend. Biskop Benson het gesê : “Gin has made the English people what they never were before - cruel and inhuman.” Hierdie vloedgolf van drankmisbruik het gevolg op die verbod in 1689 op die invoer van sterk drank. Mense het toe hulle eie drank gebrou en die aanvraag was so groot dat daar beweer word dat elke sesde huis in London 'n gin shop was!
Maar juis in hierdie donker omstandighede het die evangelie hard en helder weerklink. Skares van 20 000 en 30 000 het na George Whitefield kom luister! (Onthou daar was geen klankversterking nie!

Baie, baie mense se lewens is deur die eenvoudige evangelie boodskap van bevryding verander! Wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God! Mag Cameron en sy volk terugkeer na die Bybelse oplossing: die evangelie van Jesus Christus! Dis die krag van God tot redding vir elkeen wat glo! (Rom 1:16,17)

Gaan lees gerus oor die merkwaardige gebeure van die 18 de eeuse herlewing in Brittanje in die twee volume biografie van Arnold Dallimore : “GEORGE WHITEFIELD - The life and times of the great evangelist of the 18th  century revival”




Dinsdag 20 Desember 2011

BOEKE VAN BLYWENDE BETEKENIS (1)

God het dit so beskik dat boeke ’n groot rol in ons lewens sou speel. Natuurlik, is daar een Boek, die Bybel, wat uniek is. Dis ons enigste onfeilbare Bron waarin God homself aan ons bekend maak. Maar daar is ook baie ander boeke wat van groot nut en onskatbare waarde vir ons geestelike groei en volharding is. Uit 2 Timoteus 4:13 kan ons aflei dat selfs in Paulus die apostel se lewe, boeke ’n baie belangrike rol gespeel het. In my eie lewe was en is boeke ’n groot bron van inspirasie, insig en bemoediging. Ek wil graag ’n paar met jou deel en sterk aanbeveel.
Hoe dikwels het ek al nie D.Martyn Lloyd-Jones : The First Forty Years 1899-1939 nadergetrek vir bemoediging nie! Dis geskryf deur Iain H. Murray en vertel ons van hoe Lloyd-Jones, ’n belowende loopbaan in die mediese wêreld vaarwel geroep het, om sonder formele teologiese opleiding, die evangelie onder die werkersklas in Aberavon, Wallis te gaan verkondig. Hy het van geen truuks en foefies gebruik gemaak om mense te lok nie, maar hom slegs by die suiwer verkondging van die Woord gehou! Die gevolg was, merkwaardige bekerings van selfs die slegste sondaars! Daar is ook ’n tweede volume, D.Martyn Lloyd-Jones : The Fight Of Faith 1939-1981 wat konsentreer op sy bediening in Westminster Chapel in London en sy wêreldwye invloed onder evangeliese Christene.

Baie van Martyn Lloyd-Jones se preke en lesings is beskikbaar in boekvorm, maar een wat ek graag vir elke Christen wil aanbeveel is : Spiritual Depression : It’s Causes and Cure. Hier is werklik manna vir die siel van elkeen wat die stryd van die geloof stry!

’n Kosbare boekie wat God se plan van redding eenvoudig en treffend verduidelik is : God’s Way of Peace van Horatius Bonar. Dit wys die soeker en onseker Christen hoe om nie op jouself en jou eie swak geloof te fokus nie, maar op Jesus se afgehandelde en genoegsame werk aan die kruis!

Andrew Bonar (broer van Horatius) se biografie, oor sy vriend, The Life of Robert Murray M’Cheyne is meer as net ’n aangrypende verhaal van ’n groot Godsman, maar gee ook insig in diepgaande geestelike vraagstukke.

Die tydlose klassieke boek wat handel oor die begin van die Christelike lewe en die volharding in heiligmaking is natuurlik die beroemde John Bunyan se Pelgrim’s Progress. Dis ’n beskrywing van die Christen se prakiese alledaagse stryd in die vorm van ’n allegoriese avontuur verhaal! As jy net een ander boek behalwe die Bybel wil lees is hierdie beslis die een. Dis in baie tale, waaronder ook Afrikaans vertaal as die Pelgrims se Reis na die Ewigheid of ook Die Christen se Reis na die Ewigheid.



’n Boek van onskatbare waarde vir ’n geheeloorsig en “lugfoto” van die die Bybel se inhoud en samehang is, According to Plan van Graeme Goldsworthy. Sy, The Gospel in Revelation, sal jou ook met nuwe oë na Openbaring laat kyk.

Die beroemde prins van predikers, C.H. Spurgeon se preke raak net nooit oud nie. Baie versamelings van sy boodskappe is beskikbaar, maar een besonder vertroostende bundel is, Finding Peace in Life’s Storms.

Een van die kragtigste predikers van ons eie tyd is John Piper. Sy boekie, Seeing and Savoring Jesus Christ is ’n kosbare juweel, wat die heerlikheid van Jesus vir jou weer vars sal maak.


Lekker lees!