BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 Oktober 2013

TWYFELVRAE WAT PLA

- kan ek as redelike denkende mens nog in God en die Bybel glo? 

Die sondige mens is van nature ‘n twyfelaar en skepties oor God se Woord. Ons is kwesbaar vir Satan wat nog steeds kom met die vraag : "Het God regtig so gesê?" Daarom is die soewereine werk van die Heilige Gees onontbeerlik in die redding van enige sondaar. Die mens se besware teen die evangelie staan ook in noue verband met sy kulturele en intellektuele omgewing. In die konteks van ons Westerse Postmodernisme is daar baie onderliggende veronderstellings en idees wat dit vir mense nog moeiliker maak om die evangelie te glo. Dis ons plig om ernstig na hierdie besware te luister...

en dit eerlik te probeer beantwoord. Hier volg nou ’n paar van die algemeenstes: 


1.Beswaar : Hoe kan daar net een ware godsdiens wees? Wat van ander godsdienste? Is alle godsdienste nie maar ewe geldig nie? Lei alle paaie nie maar na Rome nie? In alle godsdienste vind ons tog opregte mense of hoe? 

Antwoord : So ’n redenasie veronderstel egter dat daar geen God is nie, of dat God bloot ’n onpersoonlike krag is wat nie omgee wat jy oor Hom glo of hoe jy Hom aanbid nie. As daar net een ware Skepper God is, dan is dit tog eintlik baie logies dat alle aanbidding aan Hom gebring moet word volgens Sy voorskrifte! God is God en dis Sy voorreg om die reëls te maak... of jy daarvan hou of nie! Die siening dat daar baie paaie na God is, kan ook nie bewys word nie. (Dis ook iets wat jy glo) Die idee dat alle godsdienste maar reg is klink baie inklusiwisties, maar dis in werklikheid ’n spesifiek Westerse idee wat uit die Verligting (Aufklärung) voortgekom het.

Vir baie dinge in die lewe is daar net een regte antwoord, en ek en jy moet maar daarby inval. So 1+1=2 en daar is nie ‘n ander regte antwoord nie! ‘n Verkeerde antwoord bly verkeerd al bedoel jy dit hoe goed en opreg. (jy het dit seker al agter gekom toe jy Wiskunde op skool gehad het) 

2. Beswaar : Hoe kan ’n God van liefde niks doen aan kwaad en lyding nie? Kyk al die bittere hartseer en lyding wat siekte, misdaad en oorlog veroorsaak! Hoekom kyk God net toe? As Hy iets daaraan kan doen, hoekom laat Hy dit dan toe? Kan Hy dit nie keer nie of wil Hy dit nie keer nie? God is dus kragteloos of liefdeloos. 

Antwoord : Ons weet inderdaad nie wat al die redes vir boosheid en lyding is nie. Miskien ook maar goed so. Wat ons wel weet is dat ons God nie (soos ander gode) onbetrokke is by lyding nie, maar in Jesus Christus mens geword het en aan die kruis saam as mens gely het en self onreg en pyn verduur het. 

As daar ’n God is wat groot genoeg is om lyding te keer, dan veronderstel dit juis ook dat God groot genoeg is om goeie redes te hê (wat ons nie kan verstaan nie) waarom Hy nie lyding wil keer nie. Wie is ek en jy met ons klein verstandjies en beperkte begrip om God hieroor te kritiseer? 

Die kwessie van God se betrokkenheid by wat met ons as mense gebeur, word dikwels op ’n inkonsekwente wyse deur mense bevraagteken. As dit goed gaan met mense en hulle in hulle sondige plesier voortleef, wonder hulle selde waarom God dit goedsmoeds toelaat of oorsien (dan is God nie eens in hulle gedagtes nie), maar die oomblik wanneer iets slegs hulle tref, word God nou skielik bygesleep en word gevra waarom Hy dit nie keer nie.

Miskien moet jy bietjie positief na God se heerlikheid en almag kyk, soos dit onder andere in sy skeppingswerke na vore kom - kliek op BLOMMELAND.

3. Beswaar : Christenskap lei tot etiese verknegting. Ons moet vry kan wees om ons eie morele keuses te maak. Daar is nie iets soos vaste waarheid en norme nie, alles is relatief. 

Antwoord : Is jy seker daar is nie reg en verkeerd nie? Is daar nie tog mense wat jy dink dinge doen wat verkeerd is nie? Wat van verkragting, kindermishandeling, oorlogsmisdade ens? Het jy dan nog nooit gedink dat Hitler, Stalin, Mugabe…of dan nou Malema dalk iets verkeerds gedoen het nie? As jy ook voel dis verkeerd, moet daar tog iewers ’n norm wees? Onthou net as jy beweer dat daar nie iets soos reg en verkeerd is nie, mag jy oor niks meer wat ander mense doen ooit kwaad wees nie. Moet dan nie kwaad wees as iemand roekeloos oor ‘n rooi lig in jou vasjaag nie... Waarom kan God nie norme hê nie? En moenie vergeet nie, die evangelie boodskap sê juis dat daar vergifnis is, vir die wat die norme oortree het. Dis die goeie nuus. Buitendien, die stelling dat alles relatief is vernietig homself, want is hierdie stelling dan nou die enigste iets wat nie relatief is nie? (Hierdie stelling moet dan mos ook relatief wees!) 

4. Beswaar : Die kerk en Christene (of ten minste mense wat hulleself so genoem het) het oor die eeue skrikwekkende foute gemaak (Dinge wat mense graag in die verband ophaal is die Kruistogte, apartheidsonregte, godsdiensoorloë…) en Christene is vandag nog dikwels onverdraagsame mense. Die rekord van Christene sit ons af van die Christelike boodskap

Antwoord : Die probleem met baie Christene en hulle optrede is juis hulle gebrek aan toewyding aan die boodskap van Jesus. Die oplossing vir al die onregte (wat ook deur Christene gepleeg is en word) is dus nie ’n afstand doen van die Bybelse boodskap nie, maar juis ’n diepere en eerliker toepassing daarvan. In die Bybel self word die sterkste kritiek uitgesonder vir God se volk wat nie Sy opdragte uitvoer nie. Die Bybel maak dit ook baie duidelik dat nie almal wat die Naam van die Here noem aan Hom behoort nie. (Matteus 7:21 ev.) Almal wat hulleself Christene noem was (en is) dus beslis nie Christene nie. Christene het jou heel moontlik teleurgestel, dis baie jammer, maar onthou dis nie ander Christene in wie ons glo en wat ons red nie, maar ons Volmaakte Verlosser, Jesus Christus! 

5. Beswaar : Die God van die Bybel is ’n kwaai toornige God wat wil wraak neem. Hoekom moes daar eers bloed vloei voor Hy ons kan vergewe? 

Antwoord : Ja, God haat sonde en sal dit wreek (of jy nou daarvan hou of nie), maar wat ons juis moet raaksien is dat Hy inderdaad nie ons bloed eis nie, maar sy eie aangebied het! Regverdigheid vereis straf, en dit weet ons almal diep in onsself. Is daar iemand wat sou meen dat Hitler of Idi Amin nie behoort gestraf te word nie? (Lees meer hieroor by DIE KINDERS MOENIE HOOR NIE!)

As ons diep veronreg is, vereis ons gevoel van regverdigheid, lyding om die oortreder te vergewe. As die oortreder nie gestraf word nie en die lyding word nie op hom uitgehaal nie, vat onsself in werklikheid die lyding. Dit is dus nie so vreemd dat voordat God ons kan vergewe, daar eers lyding moet wees nie. Die heerlikheid is dat God die lyding en straf op sy eie Seun laat neerkom het... die Onskuldige Lam van God!

6. Beswaar : Die Bybel is onbetroubaar. Is die evangelies nie maar net legendes of ’n klomp gekookte stories nie?

Antwoord : Wie die evangelies noukeurig bestudeer sal gou agterkom dat hulle nie legendes is nie. Waarom? 1) Hulle ontstaansdatums is te na aan die gebeure om legendes te wees. Indien dit onwaarhede sou bevat sou daar baie lewende persone wees wat die evangelies in diskrediet sou kon bring. In die Markus evangelie byvoorbeeld, vind ons sekere persone se name soos in die verwysing na Simon van Sirene waar spesifiek gemeld word dat hy die pa was van “Aleksander en Rufus”. Hierdie mense moes bekende persone in die oorspronklike leserteikengroep gewees het. Dis ‘n duidelike bewys dat ons hier met kontroleerbare historiese beriggewing te make het. Paulus se briewe is nog vroeër geskryf en dit ondersteun die evangelies. 2) Die inhoud van die evangelies is heeltemal te teenproduktief om gekookte stories te wees, maar getuig juis van egtheid en waarheid. Byvoorbeeld die feit dat die eerste getuies van die opstanding vroue was, sou juis ’n hindernis wees in die oë van eerste eeuse lesers (vroue is nie in daardie tyd as betroubare getuies geag nie). So die enigste rede waarom vroue as getuies genoem word, was omdat dit werklik so gebeur het. Dink ook aan die lafhartigheid van die dissipels en by name die leiersfiguur Petrus wat so duidelik beskryf word. Dit sou vir enige beweging ’n groot verleentheid gewees het. Niemand sou so iets uitgedink het as dit nie regtig gebeur het nie. Lees maar net die Nuwe Testament met ‘n oop gemoed en jy sal die egtheid, eerlikheid en nugterheid self aanvoel.

DIE HEILIGE GEES

Ek weet dat geen menslike redenasie jou ooit kan oortuig van die waarheid van die Woord en die liefdevolle verlossingsmag van Jesus nie. Dis (gelukkig) die werk van die Heilige Gees. Hy het dit al vir miljoene gedoen, waaronder die grootste skeptici en ateïste. Maar bogenoemde antwoorde sou dalk kon meehelp om jou te laat besef dat Christene ook denkende mense is, wat nie teen hulle beterwete in ‘n klomp onsinnighede glo nie!

(Erkenning aan Tim Keller van New York se apologetiek by wie ek geleen het)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.