(ook nie by ‘n begrafnis– of roudiens nie!)
In die aangesig van die dood droog ons slimmighede en stories op... Gelukkig het ons God se Woord vir ‘n tyd en geleentheid soos hierdie. Kom ons kyk saam na Hebreërs 9:27,28.
‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.
Die meeste mense glo nie meer die Bybel nie... Vriende, ek glo die Bybel – dis natuurlik nie ‘n prestasie nie maar ‘n genadegawe, ek glo dis God wat hier praat en dat sy woorde die verskil tussen lewe en dood, hemel en hel maak. Ek gaan net vier basiese feite uit die gelese gedeelte uitlig, vier feite wat die Woord hier leer, vier feite wat onomstootlik waar is...
DIE MENS IS BESTEM OM TE STERWE. (hiermee kan jy nie stry nie, selfs al is jy 'n ateïs) Die dood is die een ding wat niemand kan vryspring of ontwyk nie. Dit kom beslis. Meestal onverwags – dink maar aan die skrikwekkende gebeure onlangs in Nepal! Ons is bestem om eenmaal te sterwe. Beslis te sterwe, maar ook net een maal... Daar bestaan dus nie iets soos ‘n tweede kans, ‘n vagevuur of reïnkarnasie nie! En dus die hartseer, wat ek ook telkens sien en beleef, mense weet die dood is ‘n feit, maar die meeste is nie voorbereid daarvoor nie – daai ding van uitstel, jy weet...
NA DIE DOOD WAG DIE OORDEEL. Die dood is nie die einde van ons bewustelike bestaan nie. Na die dood kom daar ‘n oordeel. God maak onderskeid tussen mense. Die mens word tot verantwoording geroep. Daar kom ‘n skeiding – die skape word van die bokke geskei. Die een groep deel in die ewige heerlikheid saam met God, die ander groep word weggestuur na die ewige smart weg van God af.
In hierdie lewe sowel as in die ewigheid bestaan daar vir elke mens net twee opsies, twee moontlikhede. Die Bybel sê dit op baie maniere : Daar is ‘n smal pad na die lewe of ‘n breë pad na die verderf. (jy kan op hierdie oomblik net op een van die twee wees) Jou huis is op die rots gebou of op sand gebou. (nie op beide nie) Jy dien God of jy dien Mammon. (jy kan nie altwee dien nie) Daar is nie ‘n tussengroep nie. Daar is nie iets soos ‘n halwe Christen of ‘n half geredde nie! Net soos jy ook nie iets soos ‘n halwe bestuurderslisensie kry nie – jy het een of jy het nie een nie!
JESUS SE STERWE WAS GENOEGSAAM VIR ONS SONDE. Jesus se sterwe was ‘n offer vir ons sonde. Sy offer was genoeg om die sondes van baie mense (met ander woorde sy miljoene kinders) weg te neem. Die begrip “een maal” is hier baie belangrik. Dit beklemtoon die genoegsaamheid van Jesus se sterwe. Dit gaan immers hier in Hebreërs oor die voortreflikheid van die Nuwe Verbond bo die Ou Verbond. Jesus se eenmalige sterwe was genoegsaam in teenstelling met die oneindige en ontelbare bloed offers van die ou bedeling wat telkens herhaal moes word. Jesus se sterwe was genoeg vir die grootste en aakligste sondes en gruwelikste sondaars... genoeg vir Saggeus, die Samaritaanse vrou, Paulus, Petrus... Hulle is deur Jesus aangeraak en het deur Hom vergifnis en vryspraak gekry. As jy jou tot Jesus wend, maak nie saak wat agter jou lê nie, sal jy agter kom dis ook genoeg vir jou. Nog nooit het Jesus ‘n berouvolle sondaar weggejaag nie. (Johannes 6:37)
AS EK AAN JESUS BEHOORT KAN EK UTSIEN NA ‘N HEERLIKE FINALE VERLOSSING. As Jesus weer kom bring Hy die finale verlossing vir diegene wat Hom verwag. Dit sluit ook in die bevryding van ons liggame van verganklikheid! (Romeine 8:23, Filippense 3:21) Vir diegene wat in die geloof volhard bestaan daar 'n heerlike toekoms om na uit te sien! Maar diegene wat in hierdie toekoms wil deel, moet nou reeds na Jesus kom en sy genade aanvaar. Na die dood is daar nie ‘n tweede kans vir berou en bekering nie. Daarom, Jesus se wederkoms is nie goeie nuus vir almal nie, maar net vir die wat Hom verwag, wat uitsien na sy koms, wat weet hulle behoort aan Hom. Is jy aan Hom verbonde en leef jy in die verwagting van ‘n aangesig tot aangesig ontmoeting? Het jy al tot bekering gekom en Jesus as Verlosser aanvaa? Volhard jy in die geloof of het jy weggedwaal? Onthou, nie alle mense sal in die hemelse RUS ingaan nie! Hemelse rus word nie deur ‘n Christelike begrafnis, ingewikkelde rituele of ‘n spraaksame dominee se lofredes verseker nie, maar deur die genade van God wat ons deur geloof in Jesus as genoegsame Verlosser ontvang!
Vandag is ‘n baie belangrike en beslissende dag vir elkeen wat kan hoor.... luister na die waarskuwing van die Hebreër skrywer in hoofstuk 3:7-17.
Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.
Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.
Daarom het Ek ‘n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ‘n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’
Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie."
Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.
Maar solank daar nog ‘n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.
Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.
Daarom word daar gesê: "Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het."
Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie?
En van wie het God veertig jaar lank ‘n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie?
Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ‘n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie?
Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.
Glo jy hierdie Bybelse feite? Baie sê wel nog so, maar hulle lewens wys dat hulle hul glad nie meer aan God se Woord steur nie. Daar is geen lewende geloof, geen lewensverandering, geen honger en dors na God se Woord en sy geregtigheid nie.
Kom ons vat saam : Daar wag beslis ‘n oordeel na die dood. Daar is iets soos genade vir sondaars, omdat Jesus se offer genoegsaam was. Inderdaad, oorvloedige genade in die volste sin van die woord! Maar hierdie genade moet nou aanvaar word, anders mag dit te laat wees vir ewig!

