BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 12 Mei 2016

GOD IS DRIE-ENIG

- en Hy is as Drie-enige God betrokke by ons verlossing! 


Die lewende God openbaar Homself aan die mens as ‘n Drie-enige God - Vader, Seun en Heilige Gees! Dis seker die mees kern belydenis en waarheid van die Christelike geloof.* Dis nie bloot ‘n ingewikkelde mens uitgedinkte teorie nie, dis ‘n praktiese en heerlike werklikheid. Die Bybel in geheel (nie net enkele tekste nie) beskryf God  so en ons wat sy kinders is beleef dit so. Hierdie God as drie-enige God maak ‘n heerlike verskil in sy kinders, ‘n verskil wat sigbaar word in nuwe lewens. Ongelukkig bestaan daar dikwels groot onkunde oor die Drie-eenheid , mens hoor partykeer iemand bid : “Vader, dankie dat U vir ons aan die kruis gesterf het.” Dis nie soos die Bybel praat nie! (Die Vader het nie vir ons gesterf nie, die Seun het) God openbaar Homself nie net as Drie-enige God nie, Hy is betrokke by ons as Drie-enige God. As Drie-enige God kies Hy ons, roep ons, red ons, bewaar ons, heilig ons en uiteindelik gaan Hy ons verheerlik en vervolmaak . 

Die Almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees is by jou redding betrokke! Dit kom onder andere so duidelik in hierdie groetwoord van Petrus aan die begin van sy brief aan die verstrooide Christene na vore. 

"Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.
Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!" (1 Petrus 1:1,2)

Kind van God, jou redding is baie groter, vaster en heerliker as wat jy besef. Ons beperk ons siening van redding dikwels tot die aanneming van Jesus en natuurlik kry ons die duidelike opdrag om in Jesus te glo, Hom aan te neem, na Hom te kom (als sinonieme), en ja, dis ‘n kernmoment, maar ons verlossing is baie meer omvattend. Ons verlossing is niks minder as ‘n omvattende Goddelike ingryping nie! ‘n Magtige wonderwerk van die Drie-enige God. Daarom is ons verlossing vas en seker, ewige en heerlik! Ons geloof is trinitaries – dis ‘n geloof in die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ons moet dit nie verskraal nie! 

Hier in die Pinkstertyd gaan die klem val op die unieke en heerlike werk van die Heilige Gees, maar ter aanvang gaan ons net so oorsigtelik kyk na die rol van die Vader, Seun en Heilige Gees in ons redding:

Vader : Van ewigheid het Hy ons verlossing beplan en vir Hom mense uitgekies. Dit word juis so heerlik beklemtoon deur Petrus omdat die Christene vir wie hy skryf eers heidene was wat uitgesluit was van God se verbond en beloftes. Hy wil sê : “Ja, ook julle is uitgekies, julle wat eens ver was en glad nie deel van God se volk nie!” (Sien 1 Petrus 2:10) Dis duidelik, God die Vader het ons verlossing geïnsinieer, Hy het Jesus gestuur om ons verlossing te bewerk! Hy het ons van ewigheid af lief!

Heilige Gees : (Petrus noem Hom tweede, daarom behandel ek dit so.) Die NAV gebruik die woord “afgesonder”, letterlik staan daar “heiligmaking van die Gees”. Dit gaan hier waarskynlik (as mens na die konteks kyk) oor die aanvanklike werk van die Heilige Gees, die wonder van die wedergeboorte, die werk van die Heilige Gees wat tot ware bekering en egte geloof in Jesus lei. Dis die radikale gebeurtenis wat hierdie voormalige buitestanders daartoe gebring het om deel van God se uitverkore volk te word. (Daar is ook ‘n ander betekenis van die woord heiligmaking, wat verwys na die voortgaande proses van vernuwing, om al heiliger word in ‘n Christen se lewe – dis ook die werk van die Heilige Gees en ons sal daarby kom as ons praat oor wandel deur die Gees en vervulling met die Gees) Die hoofsaak is, die Heilige Gees maak die verlossingswerk van Jesus van toepassing op ons. Hoe? Hy oortuig ons van sonde, Hy maak ons gewete wakker, Hy laat ons ons nood besef, Hy openbaar Jesus aan ons, Hy wederbaar ons... sonder die ingrypende werk van die Heilige Gees kan niemand ‘n kind van God word nie.

Seun : Jesus Christus het deur sy bloed ons verlossing bewerk. Die kruisdood staan sentraal in Jesus se werk. Geen kruis, geen verlossing! Daar is my straf gedra, daar is my skuld betaal, daar is die oorwinning oor Satan en sy aanklagte verseker deurdat die skuldbewyse teen my uitgewis is! (Sien Kolossense 2:14) Jesus het die transaksie afgehandel en die Heilige Gees bring ons tot geloofsgehoorsaamheid om persoonlik voor Hom te buig in geloof en so deel te kry aan die vergifnis wat Hy deur sy offer bewerk het. 

EN ONS KINDERTJIES?

Wat ‘n heerlike troos, die lewende Drie-enige God is besig met ons, betrokke by ons – en nie net met volwassenes nie, maar ook reeds met klein kindertjies van gelowige ouers! Of dit nou vir ons sin maak of nie, dis die duidelike boodskap van die Bybel – “Want U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur." (Psalm 71:5,6) Geld dit wat in hierdie Psalm staan ook vir ons in die Nuwe Testament? Ja, beslis, want die Nuwe Testamentiese kerk word beveel om Psalms te sing!** Die Bybel sal ons mos nie beveel om iets te sing wat nie waar kan wees nie! God is inderdaad by magte om ook in klein kindertjies reeds binne hulle bevatlikheid en veral volgens sy soewereine genade te werk! 

Mag ons jong kindertjies ook die werk van die Heilige Gees beleef, om uiteindelik persoonlik tot geloof in Jesus te kom en so die Vader as hulle Vader te eer! Mag ons elkeen die sekerheid hê dat ek persoonlik deel is van God se uitverkore volk en mag ons Hom daarvoor dank met heilige lewens! Mag daar soos Petrus se wens sê : “Genade en vrede in oorvloed vir ons wees!”

*Groepe soos die Jehova Getuies wat hierdie belydenis verwerp staan dus heeltemal buite die Christelike geloof. Skrikwekkend blyk dit ook dat in sekere Hebrew Roots kringe die Drie-eenheid ook geminag word! (Kliek op MAANKYKERS)

** “...en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” (Efesiërs 5::19)




Woensdag 04 Mei 2016

HI, DIS HEMELVAART!

- “En ek was nog nooit regtig opgewonde daaroor nie”



Miskien sou dit jou eerlike opinie kon wees, maar ek vertrou dat dit nou vir altyd gaan verander…

HEMELVAART - ‘N GESKIEDENIS WAT ONS DIREK RAAK

Elke mens op aarde het ‘n persoonlike geskiedenis. ‘n Lewensloop met sekere hoofmomente, sleutelgebeure soos geboorte, huwelik, dood. Jesus is God wat mens geword het en as mens het Hy ook ‘n lewensgeskiedenis van wat hier op aarde met Hom gebeur het. Sy geskiedenis is baie menslik en doodgewoon, maar ook baie uniek en besonders. Baie belangrik, want sy geskiedenis, sy lewensloop raak ons direk. Trouens, Jesus se hele aardse bestaan en handel en wandel was ter wille van ons, tot ons (sy verlostes) se voordeel, nou en ewig!

Kom ons kyk so vinnig na sy geskiedenis, maar veral ook na die hemelvaart en hoe dit ons baie persoonlik raak:

Geboorte. Jesus het ‘n gewone geboorte gehad... maar tog ook uniek. Ons bely dat Hy uit ‘n maagd gebore is en deur die Heilige Gees verwek is. Hieruit volg logies : Jesus is waarlik God, maar ook waarlik mens. Hy beklee dus ‘n unieke posisie. Hy kan identifiseer met ons as mense, ons gevoelens, ons pyne tot selfs met die dood. Maar tog is Hy almagtig God, die Een wat ons waarlik kan red en ‘n Middelaar is tussen God en mens.

Wonderwerke en magtige dade. Die lys is te veel om te noem. Dit was nie skynwonders soos wat ons by vandag se kwaksalwers sien nie...blindes het gesien, lammes het geloop, dooies het weer lewend geword! Water het in wyn verander, op water het Hy geloop... Sy wonderwerke het gewys Hy het mag oor die natuur, mag oor siekte, mag oor demone en mag oor die dood! Hy is waarlik God!

Sterwe. Dis veral Jesus se sterwe wat baie uniek en kosbaar is. Hy sterwe aan ‘n houtkruis tydens Paasfees, as ons Paaslam wat die oordeel afweer!. Sy martelaarsdood is nie net nog ‘n tragedie nie (inderdaad het aie mense al aan kruise gesterf), maar ‘n doelbewuste selfoffering ter wille van ons sonde. Hy dra die vloek oor ons sonde en sterf dus as vervloekte aan ‘n hout, sodat ons die seën kan kry.

Begrafnis. Hy gaan deur hierdie vernedering, wat bewys Hy was werklik dood, dus het Hy werklik die volle straf gedra van ons sonde. Sy dood was nie maar net ‘n skyndood, simboliek, drama of opvoering nie.

Opstanding. Jesus staan na drie dae liggaamlik op en eet brood en vis voor die oë van sy dissipels. Hulle sien Hom, vat aan Hom, praat met Hom. Die opstanding het bewys dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy was. As daar nie ‘n opstanding was nie, was Jesus maar net nog een van die baie godsdienstige swendelaars. Maar Hy het opgestaan, dit wys dat God sy offer aanvaar het, dat ons sondeskuld inderdaad betaal is en dat ons ook eendag sal opstaan met verheerlikte liggame.

Hemelvaart. Ook hier het ons met ‘n werklike stuk geskiedenis te maak. Lees dit gerus in HANDELINGE 1:9-11. Let op - “terwyl hulle dit sien” - daar was dus ooggetuies! Jesus het liggaamlik opgevaar na die hemel ten aanskoue van ‘n klomp mense.

Hoe raak dit ons? Kan ons ook daaroor opgewonde raak soos oor sy geboorte, sterwe en opstanding? Watter praktiese nut en voordele hou dit vir ons in? Die Heidelbergse Kategismus Vraag 49 spel baie duidelik 3 redes uit:

1.Jesus doen vir ons voorspraak. Hy is ons persoonlike advokaat. Hy pleit vir ons. Luister na 1 Joh 2:1 – “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” en Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Glo jy dat Jesus vir jou pleit? Wat ‘n heerlike troos! Ons vra dikwels vir mense om vir ons voorbidding te doen en dit beteken vir ons baie. Maar nou hoor ons Jesus self doen vir ons voorbidding. Kan daar iets meer vertroostend wees? Wanneer jy platgeslaan is, moedeloos is, nie eers krag het om te bid nie, wanneer geen mens daar is om jou te ondersteun of moed in te praat nie, weet daar is Iemand wat vir jou pleit by die almagtige God! (en terloops, dis nie Maria of een of ander heilige nie, dis God se eie Seun) Sal God nie na sy Geliefde Seun luister nie? Verseker sal Hy... Onthou Jesus bid vir jou, as jy magteloos siek lê, as jy in ‘n donker krisis is en nie weet wat om te bid nie, wanneer jy deur versoeking geteister word en juis ook as jy in sonde geval het... Hou vas aan hierdie feit en skep weer moed!

HEMELVAART VERSEKER ONS VAN ‘N PLEITENDE JESUS! KIND VAN GOD, HY PLEIT VIR JOU! GAAN JY DALK NOU OPGEWONDE RAAK?

2.Die feit dat Jesus as mens met sy menslike liggaam en natuur opgeneem is in die hemel is ‘n waarborg, dat Hy ons ook as mense met nuwe liggame na Hom sal neem. “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie." (Joh 14:2) Ons gaan nie swewende spoke wees nie. Ons gaan na ‘n plek wat Jesus vir ons berei het. Ons gaan nuwe liggame kry, soortgelyk aan sy verheerlikte liggaam. Liggame sonder gebreke, sonder smet of sonde! “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21)

3.Na die hemelvaart het Hy Sy Gees gestuur om by ons te woon en dis ‘n groot voordeel. Jesus verseker sy dissipels : “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." (Joh 16:7) Dis die belofte wat op Pinksterdag letterlik waar geword het. Maar dis ‘n waarheid met blywende effek – die Heilige Gees is by elke kind van God en troos ons, leer ons, lei ons, bekragtig ons! Jesus het sy belofte gehou en daarom maak die Heilige Gees ‘n werklike verskil in elke kind van God se lewe.

JESUS IS NOU BY ONS DEUR DIE GEES!

Jesus se hemelvaart is dus net soos sy geboorte, sy wonders, sy kruisdood, sy opstanding goeie nuus vir ons. Goeie nuus om waarlik oor opgewonde te raak en dankbaar voor te wees! Hierdeur waarborg Hy ons redding deur sy voortdurend voorspraak. Hy waarborg ons liggaamlike voortbestaan en ewige heerlikheid by Hom. Hy waarborg dat Hy nou deur die Heilige Gees by ons is, want die Heilige Gees word genoem die Gees van Christus en die Gees van Jesus! Hemelvaart beteken eintlik ons brood is aan beide kante gebotter – Jesus is by die troon van die Vader waar Hy vir ons pleit, maar Jesus is ook deur die Heilige Gees nou by ons!

Sondag 01 Mei 2016

TE VEEL EET...

EN BAIE ANDER DINGE... - ALLES MAAK SAAK!

Ons het verlede Sondag gekyk na die heerlikheid van die HIERNAMAALS, maar nou weet ons tog, kinders van God gaan mos nie dadelik hemel toe die dag as hulle tot bekering kom nie. Nee, ons is wel besonder begenadigde mense, vergewe, vrygespreek deur God van alle skuld, maar ons is ook doodgewone mense, wat nog steeds op hierdie aarde woon. Nou kan ons vra, wat is die sin en betekenis van ons lewe hier op aarde?


Die antwoord is duidelik : Ons is geroep om in hierdie wêreld nou tot eer van God te leef. Dis ‘n praktiese saak. Dit kom daarop neer dat ons elke dag keuses moet maak : gaan ek dit of dat doen, moet ek so maak of nie so maak nie? 

DEUR MY KEUSES
BRING EK EER OF ONEER AAN GOD!

Die Christene in Korinte het natuurlik ook voor hierdie keuses te staan gekom. (Sien 1 Korintiërs 10:23-33) Korinte was ‘n heidense hawestad met baie versoekings, prostitute, afgode... Hoe sou die gelowiges al hierdie dinge hanteer?  Daar was ‘n groep onder die Christene wat geredeneer het : “Alles is geoorloof! Everything goes!  Als is maar reg (dit klink bekend nê?), ek is mos nou God se kind en ek is vry om te doen wat ek wil!"

Die spesifieke saak waaroor dit hier vir hulle gegaan het, was die kwessie of Christene van die afgodsoffers mog eet. Dis vleis wat vooraf aan die afgode toegewy is. Natuurlik het die Christene nou nie meer in die afgode geglo nie, maar wat nou van vleis wat eers aan die gode geoffer is? Kan dit my nou skade aandoen? Paulus gee raad en sê : As jy nie weet dis ‘n afgodsoffer nie, kan jy maar met vrymoedigheid enige vleis eet sonder om daaroor uit te vra. Eet maar daai skaaptjoppies! Dit kan jou opsigself geen skade aandoen nie. Die aarde en als daarop behoort aan die Here... Maar as iemand vir jou duidelik sê dis ‘n afgodsoffer, moet dit liewers nie eet nie. Hoekom nie? Dis nie dat dit jou kan skade aandoen nie, nee, maar moenie dit eet nie, ter wille van die een wat dit gesê het. Jy kan hom geestelik skade aandoen, want hy glo miskien nog in die afgode en dan maak jou optrede hom deurmekaar... 

Die beginsel is : As jy ‘n keuse moet maak oor reg of verkeerd, neem ook ander mense in ag, wat dalk ‘n swakker Christene is. Jy kan dalk niks oorkom nie, dis nie vir jou ‘n versoeking nie, maar moenie net aan jouself en jou belange dink nie. Paulus herhaal hierdie beginsel weer in vers 33 : “Maak soos ek, ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.”

Dink na oor die geestelike effek van jou keuses op ander mense. Bevorder dit hulle redding of heiligmaking? (hierdie beginsel is so belangrik waar dit kom by sake soos, watter partytjies ek bywoon, die gebruik van alkohol, die keuse van kleredrag, die besluit om SKOONHEIDSKOMPETISIES deel te neem...)

Hierdie beginsel is egter ‘n uitvloeisel van nog ‘n dieper groter beginsel in vers 31 en dis waarop ek wil hê dat ons sal fokus : “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”

Dit Christen moet nie gelei word deur sy eie belange en regte nie, maar al my besluite is ondergeskik aan die eer van God. Ek moet dus nie redeneer – “dis my reg om dit of dat te doen nie”, maar vra – “eer ek God deur hierdie besluit?” “Lewe tot eer van God” is een van die mooi frases wat ons almal ken, maar wat beteken dit en hoekom is dit so belangrik? Om God te eer is om God se belangrikheid en eerste prioriteit sigbaar te laat word. Om God te eer behels dat ek sy wil en sy reputasie bo my eie opinies en voorkeure te stel. Dit gaan ook oor die vraag : As mense my sien, gaan dit wat ek doen hulle positief of negatief van God en sy kerk laat praat. 

Kom ons vat ‘n eenvoudige ding soos te veel eet as ‘n voorbeeld ter illustrasie. As iemand my sien hoe ek my gulsig ooreet – kan ek redeneer – “dis my saak, dis mos my liggaam, as ek te vet wil word het dit niks met ‘n ander mens uit te waai nie”. Of ek kan myself eerlik vra, “pas vraatsigheid by ‘n kind van God, bevorder ek die beeld van God, gaan my eetgewoontes nie ander mense afskrik van die evangelie nie, rym my optrede met die optrede van Jesus?” Baie ander klein dingetjies val onder hierdie kategorie... dis belangrik om landswette te gehoorsaam, betyds wees vir afsprake, netjies geklee te wees... , want as ek dit nie doen nie stuur dit ‘n skewe beeld uit oor wie God is.

Lewe tot eer van God in alle omstandighede is belangrik omdat dit te make het met die essensie van ons bestaan.

God het ons gemaak met een groot doel naamlik om Hom te eer. Dis die sin en die uniekheid van menswees. Ons is die enigste wesens op aarde wat God doelbewus kan eer. (Hierin verskil ons van blomme, diere, sterre en planete...wat onbewustelik eer aan die Skepper bring!) Dis hoekom Satan sy aanslag op die mens fokus. Hy haat God en daarom mislei hy ons om God te onteer, so wil hy God skade aandoen. Elke detail van ons lewens maak dus saak. In elke stukkie alledaagse lewe, dade, woorde, gedagtes...kan ek God eer of kan ek oneer bring op sy naam. Die kind van God wat leef onder beheer van die Heilige Gees kan teen Satan kies en doelbewus besluit om God te eer. En natuurlik as ek God eer neem ek my medemens se belange ernstig op. God is tog ‘n God van liefde, nooit kan ek Hom eer deur liefdeloos, selfsugtig, selfgesentreerd of hoogmoedig op te tree nie!Kom ons kyk positief daarna. Die kind van God, NET die kind van God, het die opwindende voorreg om God te eer. Nie net in die erediens nie – natuurlik dis een van die belangrikste geleenthede, dis daarom uiters belangrik om hier te wees, maar elke dag in my alledaagse besluite by die huis, werk, skool, sportveld... Orals kry ek die kans om God te eer. (Ons lewe mag nie in geestelike en beestelike kompartemente opgedeel word nie!)

Ons moet elke dag baie praktiese keuses maak om God te eer. Vra jouself twee vrae, voordat jy besluit: 

1) Is ek in lyn met God se wil (sy Woord) deur hierdie keuse? 

2) Neem ek die geestelike welsyn en belange van ander in ag deur hierdie besluit? 

Gebruik hierdie week elke geleentheid om God te eer. Dit maak jou lewe sinvol en bring vreugde. As ek besef dat my lewe nie eer aan God bring nie, waar begin ek? Wel, die eerste en belangrikste manier om God te eer, is om Jesus as Here en Verlosser te aanvaar en voor sy gesag te buig! AMEN

Tierkloof in die herfs