BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 26 Oktober 2018

NIE ‘N SELFIE NIE,

MAAR ‘N LUGFOTO! 


Christenskap. Oor wie en wat gaan dit nou eintlik? Wat is die voordeel, die nut en die doel daarvan? As ons dit in terme van ‘n foto moes verduidelik, sou dit ‘n selfie, ‘n groepfoto of ‘n lugfoto wees? 

Kom ons tel dit sommer reg van die begin af - die Bybelse begrip van Christenskap, gaan nie oor ‘n selfie nie, maar oor ‘n lugfoto! Anders gesê dit gaan nie oor ‘n klein prentjie waar ekself die middelpunt en fokus is nie, maar oor ‘n groot prentjie, die groot prentjie van God se planne en God se eer! 

In ons dag is die versoeking baie groot om “selfie Christene” te wees. Die individualistiese selfie kultuur het oorgespoel na mense se verstaan van kerkwees en Christenwees. 

SELFIECHRISTENE. 

Hoe lyk en hoe klink hulle? Die selfiechristen sê : 

-Ek is seker van my saligheid en dis vir my genoeg. Al my planne en polisse is in plek, ook my polis teen die hel. Nou is ek veilig, nou kan ek rustig aangaan om vir myself die lewe so gerieflik as moontlik in te rig en as ek nou ongelukkig van my kosbare aardse besittings moet afskeid neem, gaan ek darem gelukkig hemel toe. 

-Die kerk is nie juis vir my nie, ek dien die Here op my manier, op my tyd en volgens my voorwaardes soos dit vir my gerieflik is. Niemand gaan my vertel wat om te doen nie. 

-Ek gaan nie kerk toe nie en ek raak nie betrokke nie, want daar is iemand in die kerk wat my geld skuld of lelik is met my. Ek word dus te na gekom en as ek dan te na gekom word speel ek nie meer saam nie! Ek gaan nie kerk toe nie, want dis nie lekker genoeg vir my nie... Die TV kerk by die huis is ‘n baie geriefliker opsie, want ek kan sommer met ‘n lekker koppie koffie in die hand myself op die rusbank uitstrek... O, ja ek gaan so af en toe na 'n Gospelfees, want dis aangename vermaak... 'n Toer na Israel klink ook vir my interessant!

-Die Here seën MY so baie. Hy seën MY besigheid, MY gesondheid, MY gesin..., Hy maak vir MY die lewe gerieflik en gemaklik. Trouens Hy is so goed vir MY ek kon nou al weer ‘n nuwe kar en nog ‘n stuk grond koop... Dis vir MY regtig voordelig om ‘n Christen te wees. Die Here maak MY ambisies waar. Hy is so goed vir MY, ek voel so spesiaal. Hy gaan MY help dat ek gou kan aftree en net dan die wêreld vol toer en golf speel…Ek is Sy witbroodjie... (Ja, Hy is so goed vir MY, ek vergeet heeltemal van die Christene in Sirië, Indië en in die plakkerskampe hier naby...)  Hierdie sienings is baie algemeen... dit word verkondig in die Christelike tydskrifte, die Christelike televisie..

Sendingwerk, opoffering, betrokke wees, mededeelsaamheid, lyding vir Christus, selfverloëning... dis vreemde begrippe vir die selfiechristen! 


Hierdie selfie Christenskap is baie gewild, maar is dit wat die Bybel leer? NEE! Hierdie sienings druis reël reguit in teen die gesindheid en perspektief wat Paulus hier uitstraal en verteenwoordig in Handelinge 20:17-38. Dis deel van sy roerende afskeidsboodskap aan die ouderlinge van Efese op pad na Jerusalem. Kom ons kyk bietjie daarna: 

Kom ons gaan eers net bietjie terug. Paulus het God nie gedien binne sy eie persoonlike raamwerk en individualistiese planne nie. Paulus het God gedien binne die konteks van die kerk. Hy het nie sy eie “St. Paul’s ministries” gehad nie. Sy hele bediening was kerk gebaseerd – hy is uitgestuur deur die gemeente van Antiochië op sy eerste sendingreis. (Handelinge 13:1-3)

Hy roep hier in Handelinge 20 die ouderlinge bymekaar van die gemeente in Efese wat hy gestig het. Paulus weet daar wag vir hom groot moeilikheid en lyding in Jerusalem. "En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag." (22,23) Maar dan sê hy hierdie aangrypende woorde vir die gemeente ouderlinge in vers 24 : "Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God." (DLV)

Hier vind ons die passie en leuse van 'n ware dissipel van die Gekruisigde Jesus!

Dis baie duidelik. Vir Paulus het Christenskap nie oor persoonlike gerief en gemak gegaan nie. Ook nie die uitlewing van ‘n persoonlike ambisie en lewensideaal nie. Dit het nie vir hom persoonlike voordele gebring nie, inteendeel... wel baie lyding en hartseer. Ja, sy bediening in en buite die kerk was nie altyd maklik nie. Hoor wat sê hy 2 Timoteus 2:8-10. “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” 

Paulus het nie geleef volgens sy eie drome en ambisies nie, maar volgens ‘n God opgelegde lewenstaak en bedieningsopdrag. Toe die Here kort na sy Damaskus ontmoeting die dissipel Ananias na Paulus gestuur het, het Hy vir Ananias gesê m.b.t. Paulus : "Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly." (Handelinge 9:15,16) Die kind van God stel nie meer sy eie agenda saam nie, God bepaal dit natuurlik elkeen volgens sy besluit en die gawes wat Hy ons gegee het! 

Paulus se doel was nie homself nie! Dit het gegaan oor die uitdra en uitleef van God se boodskap van genade. Dis die boodskap wat hom persoonlik aangegryp het. Hoekom? 

Hy was ‘n persoonlike ontvanger van genade! Sy sondes is uit genade vergewe. Maar sy Christenskap het nie daar geëindig nie. Hy het ‘n bediening en roeping uit genade ontvang. 

Hier begin mens dalk verstaan waar die wortel van die “selfie Christenskap” probleem is. Selfgesentreerde mense is mense wat heel waarskynlik nog nooit hulle behoefte aan genade besef het nie en dalk nog nooit deelgenote van Goddelike genade geword het nie. Christenskap gaan nie vir hulle oor dankbaarheid oor onverdiende genade nie, maar oor aanspraak maak op verbruikersvoordele... Die vraag is vir hulle is: “Watter nut en voordeel hou geloof in vir my?” Vir ‘n sondaar wat genade ontvang het, lyk alles egter anders. Ek besef ek verdien niks anders as die hel nie. Nou het ek genade ontvang en daardie genade lê ‘n dankbaarheidsplig op my om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat vir my genade gegee het. Ek moet dus by sy wense, wil en planne inval! 

Die essensie van Bybels gefundeerde Christenskap is nie selfvervulling nie,maar selfverloëning! 

Jesus self het immers gesê : “Neem jou kruis op” (kies die dood ter wille van my), nie “volg jou persoonlike ambisie na” nie! Nie my ambisie nie, maar God se opdrag is wat tel. Dit gaan oor God, want als is net Sy Genade! 

Christenskap is dus nie ‘n selfie nie. Tot ‘n mate is dit ‘n groep foto, want ek is saam met my broers en susters as gemeente op pad. Maar ook die groep is nog steeds nie die fokuspunt nie, nee Christenskap behels ‘n lugfoto – God se perspektief, God se wil, God se groot oorsigtelike plan, God se eer! 

Die vraag moet nie wees – Wat WEN ek nie, maar wat WIL God? Maar juis hierin lê ons groot beloning en vreugde! 



*Die NAB se vertaling is baie onbevredigend. Die DLV word ondersteun o.a. deur die OAV en die NIV. 

Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. (OAV) 

However, I consider my life worth nothing to me; my only aim is to finish the race and complete the task the Lord Jesus has given me—the task of testifying to the good news of God’s grace. (NIV)

Donderdag 18 Oktober 2018

“KRY ‘N LEWE!”

Wat bedoel jy? En wat bedoel Jesus? 



Ons het gesien Jesus self is God se finale profeet... (Kliek – Esegiël) Jesus het die waarheid onverdund en onbeskroomd (en met liefde!) aan ‘n stukkende mensdom gebring. Wat het Jesus oor geluk, geseëndheid, sukses, en saligheid gesê? Jy sien, almal het ons idees wat geluk, vervulling en sukses behels. Dikwels hoor mens hoe vir iemand gesê word : “Kry ‘n lewe!” Wat bedoel mense hiermee? Wees suksesvol? Kry rigting en geniet jou lewe? Maar wat word nou regtig daarmee bedoel? Elkeen het sy eie idees.... 



Jesus het geluk en lewensvervulling heeltemal geherdefinieer… Nee, dis te sag gestel. Jesus het roekeloos alle denke wat die wêreld oor geluk en sukses behels radikaal omgekeer! So grondig en ingrypend dat net iemand wat inderdaad weergebore is, nuut gemaak is, dit sal kan verstaan en waardeer. Nêrens seker duideliker as in Matteus 5-7 nie. Jesus word geteken as die nuwe Moses wat die berg bestyg en die grondwet of grondbeginsels van God se koninkryk afkondig. Kom ons kyk oorsigtelik na MATTEUS 5:3-12. Hierdie sogenaamde saligsprekinge is eintlik die opsomming en inleiding daarvan. En baie belangrik, jy sal agterkom, dis presies die teenoorgestelde van wat die gemiddelde mens dink lewensgeluk is. Jesus se siening oor sukses bots direk met die algemeen gangbare opvattings van ons dag...

Die wêreld sê : “Gelukkig is die wat selfversekerd is, goed voel oor hulleself en hulleself as wenners beskou en bemark.” (Dis terloops die raad wat jy by die lewensafrigters sal kry!)
Jesus sê : "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (“Salig is die wat arm van gees is..." OAV) Gelukkig is diegene wat weet dat hulle God nodig het. Gelukkig is die mense wat hulle geestelike bankrotskap besef! Juis aan hulle behoort die koninkryk van God.* Dramatiese waarheid! Die drumpelvereiste, die basiese vertrekpunt vir diegene wat die koninkryk wil beërwe is juis om te besef ek kwalifiseer nie, ek kan dit nie op my eie maak nie. Ek het Jesus Christus nodig! 

Die wêreld sê : “Glo in jouself!” 
Jesus sê : “Erken jou bankrotskap en afhanklikheid.” 

Die wêreld sê : Gelukkig is die wat altyd lag en positief is! 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” Verbysterend, kan dit wees? Wat bedoel Hy? Net diegene wat stukkend is en huil oor hulle eie sonde en gebrokenheid, net diegene wat huil oor die ramp van ‘n wêreld sonder God, sal vertroosting by God vind! Net hulle trane sal in die nuwe Jerusalem afgevee word! 

Die wêreld sê : Gelukkig is die vegters, wenners en ysters! Gelukkig is die ouens wat op ander kan trap met hulle spierkrag, geldmag en invloed. Die wat kan dreig, omkoop en afpers. 
Jesus sê : “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Dit gaan hier oor ‘n houding teenoor ander. Terloops dis juis die groot kenmerk wat Jesus van Homself uitlig... “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed." Matt 11:28,29. Hulle sal die nuwe aarde beërwe ... Net hulle sal ewige wins behaal! Radikaal anders as wat die wêreld dink... Die wenners is nie die Napoleons, Hitlers en Stalins nie, ook nie die bokskampioene en rugbylegendes nie, maar God se sagmoedige kinders wat dikwels deur ander vertrap word en die oordeel aan Hom oorlaat... 

Die wêreld sê : Gelukkig is die wat geluk najaag en duidelike doelwitte van sukses nastreef. 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is (geregtigheid OAV), want hulle sal versadig word.” Gelukkig is die wat ‘n passie het om te doen wat God wil hê! Hulle sal versadiging en vervulling vind. 

Die wêreld sê : “Kry ‘n lewe!” 
Jesus sê : “Soek geregtigheid!” 

Die wêreld sê : “Om gelukkig te wees moet jy op jou regte staan, hard wees, jy moet wraak neem en almal terugkry.” 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Besef wat jyself van God nodig het... genade en barmhartigheid en betoon dit aan ander! Niks is meer onvanpas by ‘n volgeling van Jesus as onbarmhartigheid en hardvogtigheid nie... ‘n Lewenswyse van genade teenoor ander is ‘n bewys van iemand wat self ‘n ontvanger van Goddelike genade is. Gelukkig is jy as jy so iemand is! 

Die wêreld sê : “Image is wat tel!” (Jy moet 'n kar ry wat jy eintlik nie kan bekostig nie en ja, gewone nommerplate is vir jou te alledaags, dit moet persoonlike nommerplate wees...!)
Jesus sê: “Die hart is wat tel, ‘n rein hart!” “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Die mens met ‘n rein hart kry die grootste beloning denkbaar, hy en net hy sal God sien. Hy sal die teenwoordigheid van God self beleef nou en tot in alle ewigheid! 

Die wêreld : Kyk na die IMAGE! 
Jesus : Kyk na die HART! 

Die wêreld sê : “Om gelukkig te wees moet jy jou teenstanders wen. Roei hulle uit! Wees slimmer en sterker as hulle!” 
Jesus sê: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Vredemakers beteken nie hier dat ons bemiddelaars of diplomate moet wees nie, maar dat ons in die eerste plek self vrede sal nastreef met almal. Ook met diegene wat met ons verskil. God is juis die Groot Vredemaker! Hy het juis Jesus gestuur om vrede tussen ons en Hom te maak. As ons vredemakers is, vertoon ons ons Vader se karakter, dan is ons waarlik sy kinders. 

Die wêreld sê : “Sorg dat jy populêr is en dat almal van jou hou. Wees ‘n manteldraaier, ‘n people’s pleaser!” Die wêreld se siening is hoe meer “likes” jy kan kry op Instagram hoe beter. 
Jesus sê: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” ("ter wille van geregtigheid" OAV) Hier kom die kontras tussen die wêreldse denke en Koninkryksdenke van Jesus die sterkste na vore. In Lukas 6:22,23 en 26 word dit nog meer drasties beklemtoon! “Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel. Hulle voorvaders het immers met die profete net so gemaak.” Maar “Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak."

Hier in vers 10 is die klimaks van die Saligsprekinge. Hierdie een kry die meeste klem en word daarom ook verder uitgewerk in vers 11 en 12. "Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg." Hier vind ons ook die geheime sleutel vir die regte verstaan van al die saligsprekinge. Wat is dit? “ter wille van My” Baie belangrik - Ek is nie geseënd as ek ongewild is weens my onvriendelikheid of moeilike humeur nie. Ek is geseënd as ek ongewild is weens my lojaliteit aan Jesus! Nou eers verstaan ons ook vers 6! Om te honger en te dors na geregtigheid, is om te honger en te dors na Jesus! Hy is ons geregtigheid! Net in Hom kry ek deel aan die koninkryk! Saligheid en geluk gaan oor ‘n lojale verbintenis aan Jesus! Hierdie verbintenis sal ‘n sigbare verskil in my lewenshouding maak wat deur die wêreld as belaglik en tragies beskou sal word! 

VERSNIPPER EN VERPLETTER!

Die saligsprekinge sny baie diep! Dit versnipper en verpletter ons huidige westerse lewensbeskouing! Dit daag ons uit om weer diep na te dink oor ons lewensdoel en verstaan van lewensgeluk! Die saligsprekinge is nie maar ‘n mooi klompie morele reëls nie. Dit gaan oor Jesus. Dit vra vir my en jou of ons navolgers is van die nederige, rein, sagmoedige Jesus. Is ons bereid om radikaal aan sy kant te kom staan en die veragting en vervolging van die wêreld te verduur soos Hy? Salig is diegene wat aan Sy kant is! Dis hulle en net hulle wat ‘n "lewe" gekry het! 

*Koninkryk van God is die hooftema. Daarom die inclusio. Dit word genoem by die eerste saligspreking in vers 3 en die laaste een by vers 10. Vers 10 is die laaste een en word net verder uitgebrei in vers 11 en 12.


Kleine Marula/Dikbas - naby Tsumeb

Dinsdag 16 Oktober 2018

TAFELBERG GEMEENTE

SAL NÍÉ DIE KNIE VOOR BAÄL BUIG NIE! 

AL KOS DIT BLOED & TRANE! 

Post-moderne liberalistiese godsdiensfilosowe is doelgerig besig om die ware geloof in die NG Kerk - geskoei op die Skrif as onfeilbare Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid - af te breek en talle niksvermoedende lidmate besef nie hoe hulle geliefde kerk onder hulle neuse op sleeptou geneem word nie - die afgrond in. 'n Afgrond waar die Heilige Skrif afgegradeer word tot 'n feilbare menslike boek vol foute en teenstrydighede. 'n Boek van menslike woorde oor God. ‘n Boek van “belangrike antieke dokumente”. En nie meer God se onfeilbare openbaring aan die mens nie. Nou word diegene wat die historiese Christelike Geloof omhels en die Skrif - op voetspoor van Nederlandse Geloofsbelydenis Artt 3-7 - as God se Woord bely, as “fundamentaliste” en “godsdiensregses” afgemaak. Geen kerk kan op hierdie glybaan voortgaan en steeds ware kerk van Christus wees nie. 

MAAR TAFELBERG GEMEENTE SAL NÍÉ BUIG NIE ! 


Dr Chris Saayman - leraar












[Bostaande brief is aan die Kerkbode gestuur en word geplaas met toestemming van dr. Saayman. Mag die Here dr. Saayman sy kerkraad begenadig om aan te hou stry vir die waarheid van die evangelie! Diegene wat in die Kaap woon kan hulle gerus kontak en bemoedig!]

Woensdag 10 Oktober 2018

ESEGIËL EN DIE SEISOEN VAN LUISTER


[Sekere teoloë en predikante in die NG Kerk verwys baie graag na die seisoen van menswaardigheid wat in die kerk afgekondig is. Dis onder andere ‘n seisoen van luister na die mens… Ek het ‘n ernstige vraag oor die eensydige beklemtoning en toepassing van hierdie beginsel, veral in die gay debat en goedpraat van dinge wat uitdruklik vir die Here 'n gruwel is. Vir ‘n gebalanseerde perspektief sal dit dalk baie gepas wees om te gaan kers opsteek by die roepingsgeskiedenis van die profeet Esegiël.] 



GEROEP AS WAG 

Esegiël ontvang ‘n roeping van God self. (Kyk gerus na Esegiël hoofstuk 2 en 3) Esegiël is deur God aangestel as ‘n wag vir die volk. 

Hierdie roeping is ‘n baie ernstige saak. Die taak van ‘n militêre wag was destyds om op die stadsmuur te staan en uit te kyk of ‘n vyand aankom. As daar dan gevaar op pad was moes hy op die basuin blaas om die mense te waarsku. (vgl. Eseg 33:1-6) Dit was uiteraard ‘n uiters verantwoordelike werk, dit kon die verskil tussen lewe en dood maak vir die mense in die stad! Nalatigheid aan die wag se kant kon natuurlik ook skrikwekkende gevolge vir homself inhou – teregstelling! 

Die taak wat Esegiël van God ontvang is eweneens om mense te waarsku. 

Dit het ‘n dubbele fokus gehad: 

Goddeloses moes gewaarsku word dat hulle onder God se oordele sou sterf as hulle hul nie bekeer nie. “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe--en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered." (3:18-19 OAV) 

Dis egter nie al nie! Regverdiges moet ook gewaarsku word om nie die regte weg te verlaat nie. "En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis." (3:20-21OAV) 

Net soos in die geval van ‘n militêre wag het die opdrag van God ook vir Esegiël persoonlik ernstige implikasies gehad. As Esegiël sy opdrag versuim, sal die skuldiges sterwe, maar God sal van hóm rekenskap eis! (18,20 OAV) “maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.” of “maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.” (NAV) 

Esegiël moes besef, hier word geen ruimte gelaat vir skouers optrek nie, vir luiheid en laksheid nie, vir mensevrees nie... dis ‘n Goddelike bevel en as hy ongehoorsaam is gaan dit bitter ernstige gevolge vir ander sowel as homself inhou. 

AL SIT JY OP SKERPIOENE! 

Aan die ander kant as Esegiël gehoorsaam is, sal hy sy eie lewe red, of die mense nou na hom wil luister of nie! Trouens, die Here het Esegiël duidelik voorberei vir die moontlikheid dat mense nie na sy boodskap van waarskuwing sal wil luister nie. "Dit is moedswillige en hardkoppige mense na wie toe Ek jou stuur. Jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie, want hulle is ‘n weerbarstige volk, maar hulle sal agterkom dat daar ‘n profeet tussen hulle is. En jy, mens, moenie vir hulle bang wees nie, ook nie vir wat hulle sê nie, al stuit jy op weerstand, op dorings, al sit jy op skerpioene. Moenie bang wees vir wat hulle sê nie, moenie vir hulle skrik nie. Hulle is ‘n weerbarstige volk." (2:4-6) 

(En is daar nie baie skerpioene in ons dag nie! ‘n Hele verskeidenheid van liberale teoloë, gay aktiviste en die bewakers van sogenaamde menseregte se angels is baie skerp...)


EET DIE BOEK! 

Wat ‘n geweldige taak, wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid! Gelukkig het God eers opleiding gegee. God self het die profeet voorberei. (2:9-3:4) Hy moes GOD se Woord sy eie maak! Dit word deur ‘n treffende metafoor uitgebeeld. “Die stem het vir my gesê: "Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel. Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet.” (3:1,2) 

Hy moes na GOD LUISTER! (Hy moes nie eers by die mense hoor wat hulle graag sou wou hoor nie!) God bepaal die profeet se boodskap, nie die mens se begeertes, behoeftes, voorkeure of “oriëntasie” nie! Oor die inhoud van Esegiël se boodskap kon daar geen onduidelikheid wees nie! “Toe sê Hy vir my: "Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê.” (3:4) 

Esegiël het ‘n intense seisoen van luister deurgemaak! Hy moes in die eerste plek na God luister! 

Esegiël het sy boodskap so by God gekry! Natuurlik het dit nie beteken dat Esegiël vervreemd en verwyderd was van sy gehoor nie. Hy het immers sewe dae tussen hulle gaan sit! (3:15) Sy boodskap het hy egter nie by die geleerdes en aktiviste van sy dag gekry nie, maar by GOD! 

DIE PROFETIESE TAAK VAN DIE NUWE TESTAMENTIESE KERK 



Wat is die implikasies van Esegiël se opdrag vir ons? Natuurlik het Esegiël in unieke tye en omstandighede opgetree, maar hier is duidelik ook tydlose beginsels wat na ons as Nuwe Testamentiese kerk deurgetrek kan word: 

Jesus self is God se finale profeet wat ons kom waarsku en opgeroep het tot bekering. Die amp van profeet is deur Jesus vervul en vervolmaak. So klink sy boodskap reeds helder aan die begin van sy bediening : “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15) Juis omdat Jesus sy profetiese taak met waarheid uitgevoer het en geen doekies omgedraai het nie, is Hy gehaat en verwerp! Hy verklaar : "Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is." (Johannes 7:7)

Ons wat aan Jesus behoort moet nou Jesus se profetiese amp voortsit na sy hemelvaart. “"Vrede vir julle!" sê Hy weer vir hulle. "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook." (Johannes 20:21) As gemeente gesamentlik maar ook as individue het ons die onontkombare profetiese roeping. Niemand, geen gemeente, geen gelowige durf hierdie Goddelike bevel ignoreer nie! Natuurlik gebruik Hy elkeen volgens sy eie gawes en persoonlikheid. 

Soos Esegiël moet ons nie ons eie boodskap of die samelewing se grille of giere verkondig nie, maar slegs God se Woord. By wyse van spreke; ons elkeen moet die boekrol eet! Ken jy die Woord? Die kerninhoud van die Woord is natuurlik Jesus Christus self. Ons hoofboodskap is dus : Bekeer jou tot die gekruisigde en opgestane Jesus en jy sal lewe, so nie sal jy sterwe! Jesus is hier om te red, maar pasop, moenie die duisternis so liefhê dat jy weier om na die Lig te kom nie! (Vgl. Johannes 3:17-21)* Ons profetiese roeping word gedefinieer deur die evangelie. Dis die Goeie Nuus van God se verlossingswerk deur Jesus, maar ons moet dit ook duidelik stel dat diegene wat die evangelie verwerp onder die toorn en wraak van God sal deurloop. 

Soos in die geval van Esegiël rus daar ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid op ons. Ons profetiese roeping het te make met die ewige bestemming en lot van die mense na wie die Here ons stuur! God stuur jou met ‘n duidelike doel na mense en wat hulle met daardie boodskap gaan maak, gaan hulle ewige toekoms bepaal. 

Soos Esegiël sal ons verantwoording moet doen oor die uitvoering van ons profetiese opdrag! Dit klink asof die apostel Paulus baie bewus was van die erns van sy opdrag en dat hy hierdie opdrag aan Esegiël in sy gedagte gehad het te hy afskeid geneem het van die ouderlinge van Efese… “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.” (Handelinge 20:26,27 OAV) 

Ons elkeen wat waarlik aan Jesus behoort het ‘n profetiese roeping om die evangelie na ander uit te dra en mense uit te nooi om voor Jesus te buig. Die keersy van die evangelie, God se toorn moet ook verkondig word! Ook binne die kerk rus die verpligting op ons om te vermaan tot getrouheid en heiligmaking. Wat ons met hierdie roeping maak het ingrypende gevolge, vir die mense na wie toe ons gaan, maar ook vir ons self!



* God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 

En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 

Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 

Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."




Vrydag 05 Oktober 2018

GOD KIES

Gelukkig nie soos ons sou kies nie! 

Verlede Sondag het ons gekyk na die aangrypende beskrywing van God se liefde in Hosea 11. Dink veral vers aan 8 : “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” Een van die katkisante het na die tyd in die klas toe ‘n baie slim en diep vraag gevra: “Hoekom het God vir Israel so lief? Hoekom vernietig Hy ander volke, maar nie vir Israel nie?” Anders gesê: “Hoekom is Israel so spesiaal, wat maak hulle nou juis so besonders?” 

Die antwoord kry ons onder andere baie duidelik in Deuteronomium 7. Een saak is duidelik : God self het Israel uitgekies. 

Nou is daar twee vrae wat ons kan vra:
1.Wat is God se doel met hierdie verkiesing? Waartoe? 
2. Wat is die grond, die rede waarom Hy juis Israel gekies het en nie ‘n ander volk nie? Waarom? 

WAARTOE? 

Die antwoord is baie duidelik in vers 6. “Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.” Hierdie volk moet afgesonder/heilig wees vir God. God het hulle spesiaal gekies om sy besondere eiendom te wees tussen al die volke van die wêreld. Dit was sy doel hoekom Hy hulle uit Egipte gered het. God het dit reeds vir hulle gesê by die berg Sinai waar die wet sou gee. “‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6) 

Hier in Deuteronomium word die volk nou net weer aan hierdie waarheid herinner, want hulle moet nou Kanaän binnegaan en Kanaän was vol van nasies wat die allervreeslikste afgodery en gruwels bedryf het! Nou wil God hulle as’t ware net weer herinner : Onthou wie julle is, julle is spesiaal afgesonder vir my, hou julle rein, moet niks met die gruwelike praktyke van die Kanaäniete te doen hê nie! Daarom die ernstige waarskuwings in vers 3-5. “Jy mag nie met hulle ondertrou nie: jou dogter mag jy nie aan een van hulle seuns gee nie en vir jou seun mag jy nie een van hulle dogters as vrou vat nie,want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen jou ontvlam en Hy sal jou gou uitdelg. "Maar wat jy met die nasies moet doen, is dit: breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, kap hulle gewyde pale in stukkies en verbrand hulle afgodsbeelde.” (Terloops hierdie opdragte het niks met ras te doen nie, maar als met heiligheid!) 

WAAROM? 

Waarom het God nou juis Israel gekies? Vers 7. “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.” God het Israel uitgekies net omdat Hy wou en Hy hulle liefgehad het! Israel het geen spesiale prestasies of eienskappe gehad wat hulle aantreklik gemaak of vir spesiale behandeling laat kwalifiseer het nie. Dink maar aan die bekende antieke volke : Die Sumeriërs met hulle ou beskawing en skryfkuns, die Egiptenare met hulle bouwerk en piramides,  later die Grieke met hulle filosofie en wysheid, nog later die Romeine met hulle beskawing en militêre suksesse... En Israel? Wat het hulle bereik? ‘n Klein nomadiese stammetjie van veeherders wat toe in Egipte beland en slawe geword het vir 400 jaar! Dis duidelik : God kies nie soos mense kies nie. 

God kies nie volgens prestasie of menslike maatstawwe nie. God kies nie “die cream vir die team” nie!

EN NOU? 

Moet die Goddelike uitverkiesing vir Israel agteroor laat sit en laat redeneer : “Gelukkig die Here, het ons lief, so ons kan maar leef soos ons wil!” NEE! “"Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam, maar Hy straf elkeen wat Hom haat, Hy bring hom om, Hy laat nie na om elkeen wat Hom haat, te straf nie. Daarom moet jy die gebod, die voorskrifte en die bepalings wat ek jou vandag gegee het, gehoorsaam deur daarvolgens te lewe.” (Deut 7:9-11) 

Die liefde en uitverkiesing van God moet as aansporing dien tot heiligheid en gehoorsaamheid! 

Hoe raak dit alles nou vir ons? Eers moet ons vra : Wie is vandag se uitverkore volk? Dis nog steeds Israel. Maar wie is nou Israel? Almal wat aan Jesus Christus behoort! Galasiërs 3:7 is baie duidelik : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” Jode en nie-Jode wat aan Jesus glo is nou deel van God se uitverkore volk. 

Wat is die doel van ons uitverkiesing? Nog steeds om spesiaal, heilige en afgesonder te wees vir God! Luister bietjie hier : “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees." (Efesiërs 1:3-5) 

Hoe kies God in ons dag? Hy kies nog steeds nie volgens prestasie, afkoms of belangrikheid nie! Paulus herinner die Christene in Korinte daaraan. 

 “Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 
En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.(1 Korintiërs 1:26-29) 

Kom ons sê dit weer. God kies dus nie noodwendig die goeies, mooi, sterkes, rykes, belangrikes, slimmes... nie! Hy kies volgens sy genade! Hy kies sondaars... alle soorte sondaars : dronkaards, diewe, egbrekers, homoseksuele, pedofiele, plaasmoordenaars en selfs skynheilige kerkmense! Hy kies diesulkes om nou heiliges te wees! (Kliek - Getuienis van ‘n homoseksuele pedofiel

Die leer van die Goddelike uitverkiesing onderstreep net dat ons redding heeltemal uit genade is, sonder enige verdienste van ons kant af. Daarom, alle eer aan HOM!   Wat ‘n groot troos! Want as Christenskap oor prestasie gegaan het, wie sou ‘n kans gestaan het? Dan was daar geen goeie nuus in die Bybel vir sondaars nie. 

Die waarheid van die Goddelike guns en uitverkiesing is nie ‘n stuk studeerkamer teorie nie. Dit behoort nie die onderwerp van lang debatte te wees nie, maar die stimulus tot toewyding. Dit maak ‘n verskil in die lewens van die uitverkorenes. Die leer van Goddelike uitverkiesing uit genade alleen moet dien as kragtige aansporing om heilig te leef! Is dit duidelik uit jou gewoontes, taalgebruik, leefstyl, ontspanning en toewyding dat jy ‘n afgesonderde uitverkorene van God is? Wys jou vergifnis aan ander en jou liefde vir die Here dat jy dankbaar is vir sy onverdiende guns oor jou lewe?

IS JY REGTIG DANKBAAR EN OPGEWONDE OOR GOD SE ONVERDIENDE GUNS? 



Donderdag 04 Oktober 2018

HAATSPRAAK?

Dis blykbaar waarvan jy nou in Suid-Afrika aangekla kan word as jy Bybelse standpunte in die openbaar handhaaf! 

Dr. Chris van Wyk van die NG Gemeente Somerstrand, is deur 'n bekende gay aktivis, (proponent!) Hennie Pienaar by die Menseregte Kommissie aangekla na aanleiding van 'n opmerking op sosiale media waar Chris gesuggereer het dat homoseksuele gedrag net so verkeerd is soos pedofilie en bestialiteit.  Sy punt is dat as jy selfdegslagverhoudings in die kerk as reg aanvaar, waar gaan jy die streep trek? Dan is als mos aanvaarbaar? Dit was in reaksie op die moderator van die NG Kerk se standpunt dat alle seksuele oriëntasie 'n gawe van God is...

Nou blaas en raas elke gay aktivis vir 'n vale! En DIE KERKBODE van Neels Jackson is maar te gewillig om die spreekbuis te wees!

Kom ons bid vir Chris in hierdie moeilike tyd!

Hierdie vervolging van Christene moet vir ons nie as 'n verrassing kom nie, dis heeltemal in lyn met Prof. Nadia Marais van Stellenbosch se siening wat glo dat mense wat selfdegeslagverhoudings op grond van die Woord veroordeel, skuldig is aan die kriminele oortreding van geweld!

KAN GOD GAYS VERANDER?


- Merkwaardige getuienis! 



Die vervolging van God se kinders deur homoseksuele aktiviste raak al hoe meer ‘n werklike bedreiging...(Ek het alreeds vantevore na hierdie tendens verwys -  kliek NADIA) Proponent Hennie Pienaar bekende gay aktivis het Dr. Chris van Wyk van die NGK Somerstrand aangekla by die Mense Regte Kommissie omdat hy opgestaan het teen Ds Nelis Janse van Rensburg (NG kerk moderator) se uitlatings dat homoseksuele oriëntasie 'n gawe van God is. In reaksie hierop het André Bekker sy getuienis in ‘n ope brief aan Hennie gedeel: 


Hennie Pienaar, dit is gepas om hierdie skrywe aan jou te rig in die lig van Kerkbode, 2 Oktober 2018, se artikel Hou By Waardes Van Seisoen Van Menswaardigheid, Vra Predikante.

Jy noem mense graag homofobies. Daarom wil ek jou gerusstel dat ek nie 'n oorheersende en sinlose vrees vir homoseksuele het, en hulle verseker ook nie haat nie. Hoe kan ek, terwyl ek self was waar jy steeds tans is, en ek jou wêreld verstaan en ken. Die Heilige Gees het my oortuig dat die wêreld waarin jy jou steeds bevind téén God en Sy gebod is. Dit het my tot bekering gelei en laat wegdraai van die sonde. Deur God se herskeppingswerk het Hy my 'n nuwe hart en begeertes gegee.

Nie alleen het God my georiënteerdheid tot dieselfde geslag verander nie, maar ook my georiënteerdheid tot die ouderdomsgroep na wie toe ek aangetrokke was. Jy sien, ek was 'n homoseksuele pedofiel. En God het ook daardie komponent van my oriëntasie kom verander. Net soos jy, het ek nie hierdie homoseksuele-pedofiliese oriëntasie gekies nie. Jy verwys mos graag daarna dat ’n mens se oriëntasie jou kern identiteit is.

Uit diep ervaring kan ek met jou gesels. Ek het empatie met julle en uit liefde sal ek jou en andere aan Jesus wil voorstel. Dis 'n liefdesdaad om jou teen jou verdorwe toestand en die ewige dood te waarsku. Hoe kan my bekommernis oor jou ewige bestemming, 'n onrealisties vrees vir jou wees? Hoe kan dit haat wees? Jy het die aktivistiese sosio-politieke agenda se ideologie, taktieke en taalgebruik aanvaar maar, jou siel in die proses verkoop. Wat baat dit jou om die hele wêreld te win maar aan jou siel skade te ly? 

Vir lank het ek met die leuen geworstel, wat die samelewing mee geïndoktrineer word, dat 'n mens met jou spesifieke oriëntasie gebore word. Dit het daartoe gelei dat ek die navorsing begin bestudeer het. Groot was my verrassing toe ek ontdek dat biologiese oorsake nie deterministies van aard is nie. Ek wil aan jou die uitdaging stel om vir my die navorsingstuk te bring wat ONOMWONDE aantoon dat enige mens met sy spesifieke oriëntasie gebore word. Maar kom ek spaar jou die moeite. Jy sal dit nie vir my kan bring nie, aangesien dit nie bestaan nie.

Toe ek by die leuen van "so gebore en kan nie verander nie" verby kom, toe kon die Here met sy Herskeppingswerk begin. My identiteit het ek in Christus gevind en aan die opstandingskant van die kruis het lewe in oorvloed begin, en het ek gevind dat "die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus my vrygemaak het van die wet van die sonde en die dood." Solank ek wandel na die Gees volbring ek nie die werke van die vlees nie. Al die eer aan die Here.

Hennie, as "liefde is liefde" vir jou geld, kan jy vir my een goeie rede gee hoekom dit nie ook vir 'n homoseksuele-pedofiliese oriëntasie geld nie? Mag so ‘n persoon aan jou kerk behoort en sal hy deur jou aanvaar word of is jy homopedofobies?

Jy en Prof Jaun Nel reken daar is geen verband tussen homoseksualitiet en pedofilie nie. Nou verduidelik vir my wat gebeur dan in 'n homoseksuele-pedofiliese oriëntasie!? Het ek dit gekies? Was ek so gebore? Hoekom is jy selektief en is net jou eie spesifieke oriëntasie-samestelling aanvaarbaar en onder andere homoseksuele pedofilie nie? 

Jy weet hoe julle pro-gay persone (jy is mos bekend met jou mede-aktiviste soos Neels Jackson se standpunte) liefdeloos en onverdraagsaam is teenoor diegene wat as homoseksuele pedofiele identifiseer. Hulle is mos die "siese," die skuim van die aarde.

Hoe nou gemaak? Hulle bestaan en wat moet met hulle gebeur? Is hulle in jou kerk welkom. Sal jy net so vir húlle gayregte in die kerk veg tot dit ook gedekriminaliseer is en nie meer as 'n afwyking gesien word nie, of sal jy hulle soos melaatses behandel?

Hoe kan dit jou goedkeuring wegdra, as julle uitlatings hierdie spesifieke groepering homoseksuele mense seermaak en hulle tot selfmoord dryf, as julle hulle minag en nie respekteer nie, as julle hulle oordeel en liefdeloos teen hulle optree?

Uiteindelik moet julle erken dat Jesus na ons randfigure uitreik en wanneer ons Jesus ontmoet, sê Hy vir ons "daar is dan nou geen veroordeling meer vir die wat in Christus is nie. Gaan en sondig nie meer nie sodat iets ergers nie dalk met jou sal gebeur die."

Die randfigure gaan vóór julle deur die nou poort wat na die ewige lewe lei. Voorwaar is daar min wat dit vind. Die smal weg van kruis opneem en Christus te volg. Die weg waar ek niemand - selfs nie my afgod van "ek, my en myself" bokant die Here Jesus Christus mag liefhê nie. 

Groete
André Bekker

Dankie André vir hierdie kosbare getuienis van God se genade! Inderdaad kan God alle sondaars red en verander! Dis die groot waarheid wat die gay aktiviste ontken en so word die evangelie wat die krag van God is misken! 


Kom ons bid vir en ondersteun almal wat nog vir die waarheid staan in ons kerk. Dr. Chris van Wyk, mag die Gees jou die woorde gee wat nodig is, soos ons Here Jesus self beloof het! Ek het so pas gelees dat die Menseregtekommissie (MRK) sê daar is 'n “prima facie-oortreding” saak van haatspraak teen dr. Chris van Wyk. Dis waar SA nou al is!  Sterkte! Johannes