BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Familie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Familie. Wys alle plasings

Saterdag 27 April 2024

TOE EN NOU

 Die verganklikheid van die mens is 'n harde werklikheid... ons sien dit elke dag gebeur. Mense, geliefde mense word ouer, sterf en raak mettertyd buite bereik van 'n huidige generasie se geheue. Selfs foto's kan uiteindellik nie die uitwissing van dierbares uit ons geheues verhoed nie.

Ek het dit nou onlangs weer besef toe ek en my jongste spruit Natanie so 'n bietjie deur die Kaap, Suid Kaap en Oos Kaap getoer het.

Ons het ook so vinnig aangedoen op Heidelberg. Oupa Piet en ouma Marie de Wit het jare lank op die plaas Bloemendal geboer en met hulle aftrede hulle op Heidelberg kom vestig. In Fouriestraat, regoor die kerk, langs die spoorlyn.

Ek is in besit van 'n familiefoto wat nog voor hierdie statige ou huis geneem is. (Oupa en ouma de Wit is in die middel voor. Pa links agter met die swart pak, Ma regs voor met Maria op haar skoot en ek langs haar) Die grootmense is op enkele uitsonderings na vandag nie meer met ons nie. Die kinders is nou self ook al grootmense met hulle eie nageslag...


Ek en Natanie het nou weer by hierdie einste huis aangedoen. Dis nou 'n gastehuis. Die mense daar was baie vriendelik en het ons binnegenooi en bietjie rondgewys. Ek het hulle vertel, my oupa en ouma het hier gewoon. So baie het verander... Hulle weet natuurlik niks van die familie wat voorheen hier gewoon het nie...



Heidelberg is natuurlik ook die dorp waar Pa en Ma op 10 Februarie 1962 in die huwelik bevestig is. In die besonder indrukwekkende gebou van die NG Kerk.



En nou na soveel jare later...






Die hartseer oor die verganklikheid wil mens soms oorweldig. Maar as ons waarlik die blye evangelie van Jesus glo, dan kry mens natuurlik 'n nuwe perspektief. Dan juig ons oor die oorwinning van Jesus oor sonde, Satan, dood en hel.  Jesus se verlossingswerk het ONVERGANKLIKHEID weer 'n blye vooruitsig gemaak!

"Hy het ons verlos en geroep
met 'n heilige roeping –
nie op grond van ons dade nie,
maar op grond van sy eie besluit en genade.
Reeds van ewigheid af is dit in Christus Jesus aan ons geskenk,
en nou is dit geopenbaar
deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus,
wat die dood vernietig het,
en die lewe en die onverganklikheid
deur die evangelie aan die lig gebring het." (1 Timoteus 1:9,10)

Kliek ook op TOER


Donderdag 25 April 2024

Die Afkop Hond

 FAMILIE IS KOSBAAR...

Dis deel van die De Konings se familie oorleweringe. Pa het ons al daarvan vertel. Van die afkop hond. Tannie Miem wat as dogtertjie die afkop hond gesien en die stuipe gekry het...

Nou onlangs met my langverlof het ek ook daar in die Oos Kaap ‘n draai gemaak. Ek was baie jare laas daar en hier was nou ‘n geleentheid om darem weer ‘n bietjie familiebande op te tel en te versterk.

Vir ‘n week het ek en Natanie by my oudste neef Thomas oorgebly op Jeffreysbaai en is oorweldig deur die gasvryheid en ekstra moeite wat hy gedoen het om ons verblyf so aangenaam as moontlik te maak. (Baie dankie neef Thomas…waardeer!) Thomas  as oudste neef is  soort van die skakel en verbinding tussen die twee generasies. Hy weet en onthou dinge waarmee die jongeres nie so goed bekend is nie. Thomas is gelukkig ook ‘n goeie en luisterbare verteller. Familiestories. Ook spookstories. En dis nogal blykbaar volop hier in die Oos Kaap... So word die verhaal van die afkop hond toe ook weer afgestof.

Oupa Thom de Koning was baie lief vir sy honde. Een van hulle was ‘n Dalmatian, met die voorspelbare naam van Bontes. Bontes het op ‘n stadium verdwyn en daar is baie na hom gesoek, maar tevergeefs.

In daardie tyd gaan kuier oupa en ouma met die kinders by vriende aan die anderkant van die Gamtoos rivier. Collings mense. Oupa was veral ook lief om op hulle grond te gaan jag. Om by die Collings te kom moes die treinbrug oorgesteek word. Daar is toe lekker gekuier en seker ook geëet. Dis nou oupa, ouma en die oudste twee kinders, oom Boetie was die oudste, seker toe so ongeveer ses jaar oud en tannie Miem ‘n jaar of wat jonger. (Pa was toe ook moontlik al gebore en het die tog dan as baba meegemaak) Niemand kan presies die tyd en dus die ouderdomme onthou nie...

Hulle loop toe in die donker oor die treinbrug met ‘n lantern as lig. (Terloops, die treinbrug het klaarblyklik ook ‘n besondere storie aan hom. Dit was oorspronklik ‘n brug in die Vrystaat wat die toneel was van aksie tydens die Anglo-Boere Oorlog. Dis later van tyd verskuif na die Gamtoos. Die brug is vandag nog daar en die koeëlgate kan gesien word.) Op die brug gebeur dit toe... Die jong Miem roep verskrik: “Daar is Bontes... Maar Bontes het nie ‘n kop nie...”  Die presiese woorde sal niemand natuurlik nou meer weet nie. Nietemin ‘n angswekkende ervaring. Die ander op die brug sien egter niks...

Die volgende dag is daar weer na Bontes gesoek. Ook onder die brug. En ja... sy koplose lyf is opgespoor. Bontes moes ‘n onderonsie met ‘n trein gehad het, en het sleg daarvan afgekom...

Thomas het ons nou weer na die einste brug gevat. Dis net so ‘n entjie aan van waar oom Robert en oupa se suster Ant Johanna ‘n plaaswinkeltjie gehad het.


Thomas, my oudste neef


Die treinbrug oor die Gamtoos


Tannie Miem is nou op 93 jarige ouderdom, my oorlede Pa se enigste lewende sibbe. Nog vol energie en helder van verstand. Natuurlik ken sy die storie van die afkop hond. Ek het haar gevra. Maar sy self onthou niks van die gebeure nie, sy was te jonk.

Is die storie van die afkop hond waar? Ek weet nie. Moeilik om te glo dat iemand dit sommer uit die duim gesuig het. Maar ook moeilik om te verklaar...

Wat sou kon gebeur het?  Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat familie en familiegeskiedenis kosbaar is. En nog meer kosbaar as ons ook broers en susters in God se huisgesin kan wees. Mag God dit vir ons skenk!


Natanie (13) en tannie Miem (93)






Donderdag 14 Maart 2013

DIE MAN ONDER DIE BOOM

- getuienisgreep wat herinner aan Handelinge.

['n Verdere uittreksel uit die boek wat ek skryf oor my Pa wat verlede jaar oorlede is. Vir die eerste uittreksel, kliek op WAARLIK VRY - die laaste sigaret ]

As mens die verhaal van die Etiopiër op die wa in Handelinge 8 of Kornelius en Petrus in Handelinge 10 lees,  sien ons hoe die Here aan beide kante werk om ‘n afspraak te bewerkstellig. ‘n Engel het met Filippus gepraat en hom gestuur, maar die feit dat die Etiopiër juis toe besig was met die lees van Jesaja, was ook nie toevallig nie. Net so het die Here aan die een kant aan  Kornelius 'n opdrag gegee deur Sy engel, maar aan die ander kant werk Hy met Petrus deur die nagmerrielaken vol onrein diere om hom vir ‘n spesiale opdrag voor te berei.  Petrus het geweet dit is die Here wat hom, ‘n Jood, na ‘n heiden stuur.  Petrus moes maar net sy mond open en sê wie Christus is: “Van Hom getuig al die profete dat die wat in Hom glo bekering en vergifnis van sonde in Sy naam ontvang.”  Johan de Koning kon getuig van ‘n soortgelyke ervaring.

Maandagmiddag 6 Oktober 1954, net na sy terugkeer van  die wonderlike konferensie waar God met hom ontmoet het, stap Johan in Schoemanstraat, Arcadia oppad na die kantoor van die Aartappelraad om sy fiets wat daar gestoor was te gaan haal. Onder ‘n boom langs die sypaadjie gewaar hy ‘n  swartman. Meteens kom daar diep in sy binneste die gewaarwording : “Gaan praat met daardie man!” Sy innerlike reaksie was onmiddellik : “Wat, ek met ‘n kaffer gaan praat hier in die straat! Wat sal die mense sê?”  (Onthou, dit was nog apartheidsjare! Dit was die woord wat in sy gedagtes was.) Johan stap nog aan en toe hy regoor die man was, was die “stem” so duidelik dat hy geen twyfel gehad het dat dit die Here was wat met hom gepraat het nie.  Hy los maar sy argument van “wat sal die mense sê?” Johan het na die man gestap en gegroet. Hy was besig om te lees. “Wat lees jy?”, vra Johan.  “My Basie”, kom die eerbiedige antwoord, “Ek lees van Jesus.”  Nou was Johan nog meer bewus dat die Here in die saak is. “Maar ken jy die Here Jesus?”, vra Johan weer.   “Nee, Basie, maar ek wil Hom graag ken.”  Johan se vrees het nou in oorvloedige blydskap verander.

Johan het die man gevra om te wag sodat hy sy fiets kan gaan haal en uitgenooi om dan saam met hom na sy kamer te gaan. Hy was nou haastig. Die gebou se ingangshek waar sy fiets was, was gesluit. Byna desperaat pluk hy aan die hek en roep na die wag. Gelukkig was die wag daar en kon hy sy fiets kry. Toe Johan so ‘n halfuur later weer terug is, het die man onder die boom nog gewag.

Saam stap die twee na Johan se kamer. Hy het op sy bed gaan gesit, en die man so skuins teen sy kamermaat se bed.  Met geen ondervinding, maar darem kennis van verse soos  1 Johannes 1:7 en 9  het Johan die man gehelp.  Met oortuiging het die man gesê : “Ek glo”  en het hulle saam op hulle knieë gegaan om te bid. Dit was ‘n onvergeetlike hemelse ondervinding. Die volgende dag het Johan vir hom ‘n Bybel gekoop.

Lees ook PA WORD TAGTIG

Woensdag 01 Augustus 2012

BOESMANS TOT BEKERING


- terugblik op Tsumkwe, 1973.

Die deurbraak van die evangelie onder die Boesmans (San) op Tsumkwe was een van die hoogtepunte van my Pa se jarelange sendingwerk in die toenmalige Suidwes. Hy was destyds in diens van die Dorothea Sending toe hy daar ‘n evangelisasieveltog saam met ds. Ferdie Weich van die NG Kerk gehou het. In sy voorwoord tot die  boekie waarin Pa die gebeure vertel, het Oom Hans von Staden, die destydse leier en stigter van die Dorothea Sending onder andere as volg geskryf : “ Wanneer ons lees hoe God  Ds. Weich gelei het om Johan de Koning, ’n werker van die Dorothea Sending, uit te nooi om ’n evangelisasie veldtog onder die Boesmans te hou is dit asof ons, ons skielik êrens in die bladsye van die boek Handelinge bevind.  Dit is ook asof God sy seël geplaas het op die gees van eensgesindheid wat daar geheers het...Wanneer die heerlike oorwinning  te Tsumkwe verder bekend word, sal dit as ’n magtige aansporing dien vir elke ware sending poging dwarsdeur die wêreld.  Dit is ’n absolute oortuigende bewys daarvan dat Christus se groot opdrag vandag nog net so van toepassing is as wat dit op daardie eerste dissipels was Matt 28:19 ‘Gaan dan heen maak dissipels .... en kyk Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.’ ”

So ‘n tyd terug het my vrou, Jacolette hier in Tsumeb gemeente se ou notules en lêers rondgekrap. Tussen al die papiere was daar ook ‘n oorspronklike nuusbrief wat ds. Weich na die Tsumkwe veldtog van Augustus 1973  uitgestuur het. Ek plaas dit woordeliks. Dit neem die gedagtes ver terug...

KOM DEEL IN ONS VREUGDE
(Spesiale nuusbrief i.v.m. die veldtog onder die Boesmans op Tsumkwe)

‘n Tyd gelede het ek ‘n droom gehad. Ek het voor ons ou plaashuis op Drierivier in Namakwaland gestaan. Ek was bekommerd omdat dit al so lank nie gereën het nie. Hoër op teen die berge was die waterval waar die bergklofie tussen die berge deur afkom. Ek het opgekyk en tot my groot verbasing merk ek dat daar water by die waterval afkom. Toe ek hoër op kyk merk ek dat die reën vaalgrys tussen die berge neersif. Ek onthou die ou sanddammetjie wat ek in die bergklofie gemaak het. Dan staan ek langs die stroompie en skielik groei dit tot ‘n magtige stroom.

In hierdie dae het hierdie droom waar geword. Dinsdag 14 Augustus het mnr. Johan de Koning en ek met die veldtog begin. Smôrens het ons vir die werkers diens gehou. Voormiddag en namiddag het ons die krale besoek, die mense genooi om na die dienste te kom en boodskappies gebring. Groot was ons vreugde reeds die eerste aand toe ons ‘n pragtige opkoms gehad het. Die mense het met erns geluister. Elke aand was ook dít opnuut weer ‘n wonder van die Here in ons oë.  Verder was ons diep getref deur die erns waarmee die mense geluister het. Sal ons Donderdagaand ooit vergeet? Dit was so stil in die skuur dat jy ‘n speld kon hoor val.  Wanneer ‘n kindjie gehuil het, het die moeder opgestaan en buite gaan staan met die kindjie tot  hy weer stil is en dan weer ingekom. Doodstil het hulle opgestaan en geloop toe ons klaar was met die diens. Vanaf Donderdag oggend het twee ou manne wat albei die naam Bo het, gereeld gekom - oggend en aanddiens. Eers het net ‘n paar kinders in die oggend gekom, maar geleidelik het al meer van hulle na die oggenddiens ook gekom.

Sondagmôre het gekom. Die Here het díe môre ‘n besondere boodskap op Johan se hart gelê. Hy het as teks geneem, Jes 44:18, Sag 3:1-5, 2 Kor 4:3,4 en Hand 26:17,18. Dit gaan in hierdie gedeeltes oor die wyse waarop die duiwel die mens verblind en bind en met vuil klere bekleë terwyl die Here ons oë wil open, ons wil vrymaak en  met skoon klere wil bekleë. Johan het toe vir Bo (‘n jong man), geneem en hom voor laat staan. Hy het sy oë toegebind, sy hande vasgebind, sy arms en bene vasgebind, en hom vuil klere aangetrek. Toe het hy vir die mense gesê : "So sê die Woord van die Here, so verblind die Satan ons oë en so bind hy ons met die toue van sonde en lei ons na die verderf. Maar Christus wil ons oë oopmaak dat ons kan sien - sien hoe lyk ons en hoe het die Satan ons gebind."  Hy het toe die doek van Bo se oë afgehaal. Bo het afgekyk en net sy kop geskud. "Ja, so lyk ons maar as die Here nie ons oë open nie, weet ons nie hoe ons lyk nie. Maar Christus wil ons vrymaak." Een vir een het Johan die toue losgemaak en vir hom ‘n skoon wit kleed omgehang. Hierdie woord het diep ingegaan.

Sondagaand het die twee ou manne Bo en Bo, agter gebly en gesê hulle wil graag die pad van die Here Jesus loop. Stamelend het hulle gebid  - hulle eerste gebed - en die woorde telkens herhaal : "//’Eihha, wi mi." (Here, help my). Ja, hulle wil Jesus hê dat hulle ook kan vry word van die bande van Satan. Maandagaand het /Usce gekom, Dinsdagaand het sewentien seuns agter gebly. Woensdagaand het ‘n groot klomp seuns en dogters agter gebly. Dit was by hulle ‘n saak van erns : "Ons wil Jesus Christus hê, hier by ons hart. Ons wil nie meer die duiwel hê nie." Daar het ook ander mans en vrouens gekom. Byna al die vrouens van die twee ou Bo’s se kraal het gekom. O, hoe groot is die vreugde en blydskap wat algaande meer sigbaar geword het op die gesiggies van die kindertjies. Hulle het nou saans en smôrens gereeld gekom en altyd was die ogies en oortjies vasgevang deur die Woord. Elke aand het hulle gesing en sommer so diep in ‘n mens se hart ingekruip met die pragtige sang. Waar ons veral gebid het dat die mense ook die erns van die saak sal besef, was ons bly vir die toenemende sondebesef en sondebelydenis.

Tot Maandagaand het daar nog elke aand nuwes bygekom - nou reeds 100 van hulle. Enkeles het weer weggebly, maar by die meeste was dit ‘n saak van erns. Ons het nou bedags diegene besoek wat reeds gesê het dat hulle nou die pad van die Here wil loop. Ons het met die kindertjies alleen gesels om vir hulle te leer wat bekering is. En telkens weer staan mens verstom vir die werking van Gods Gees in die harte van mense.

En so deur die wonderwerkende krag van die  Almagtige is na byna twaalf jaar, ‘n gemeente van die Here oornag gebore. Vele het saam hieraan gebou en baie het hiervoor gebid, maar dis Gods genade wat ons hierdie vreugde laat smaak. En nou moet u nie ophou om te bid nie. Voeg net ‘n dank en loflied by u gebed, want die seën van die Here het ‘n magtige stroom geword.
                                                                                                   F.H.Weich


Baie jare later, in 1990 was ek na die voltooiing van my dienspligtydperk op Mangetti Duin vir ‘n tyd lank ook werksaam op Tsumkwe en omgewing. By ‘n kraal naby die bekende Holboom, het ‘n ou man my vertel : “Jou, pa, het my leer bid.” Wat ‘n wonderlike getuienis! Baie verandering en ellendes het deur die jare oor die Boesmans gespoel, daar was ook baie terugslae en teleurstellings, maar tot vandag toe gaan God se werk nog voort.  Die gemeente op Tsumkwe staan steeds. Kom ons bid vir hulle.


Johan de Koning (links) en ds. Weich op die agtergrond.


/Goma is in sy jong dae deur 'n buffel aangeval en het wonderbaarlik aan die dood ontkom. (Hierdie foto is in 1983 geneem)

Maandag 09 Julie 2012

PA WORD TAGTIG

- volhou en volhard.

Ons Pa (en oupa), Johan de Koning het verlede week, 7 Julie 2012  die ryp en geseënde ouderdom van tagtig jaar bereik. Dit was ons as kinders en kleinkinders se heuglike voorreg om dit saam met hom te vier in Walvisbaai.

Dis ‘n vol en avontuurlike lewe in diens van die Here wat hy nou agter die rug het. ‘n Tyd waarin hy op wonderbaarlike wyse kon beleef hoe God sy beloftes waar maak. By hierdie geleentheid het ek baie kortliks uit die geskiedenis van Kaleb, een van die twaalf verspieders, uit Numeri 14 en Josua 14 voorgelees.  Kaleb en Josua het destyds teen die meerderheid in, ‘n minderheidsverslag uitgebring ten gunste van die verowering van die land Kanaän, omdat hulle op God vertrou het en hulle nie laat afskrik het deur die krag van die vyand nie. Weens hierdie getrouheid aan God, het die Here aan Kaleb ‘n besondere belofte gemaak waarvan ons in Numeri 14:24 lees :

“Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om my te volg - hom sal ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.” (OAV)

God is getrou! Vyf en veertig jaar later kon Kaleb, wat toe al vyf en tagtig jaar oud was,  getuig van hierdie getrouheid en kon hy uiteindelik sy erfdeel, Hebron in besit neem. Die klem val in hierdie gedeelte op “volhou”. (sien Josua 14 vers 8,9,14) God maak sy beloftes waar. Hy is heeltemal instaat om dit te doen. Al wat Hy van ons vra is volhou en volharding. Hierdie volharding het ons ook in Pa se lewe gesien tydens sy lang loopbaan in diens van die evangelie in Suidwes-Afrika/Namibië. Volharding dra vrug!

Dit blyk weereens uit die onderstaande staaltjie uit die skatkis van sy ryk lewenservarings:

Aan die beginjare van sy bediening in die destydse Suidwes het hy dikwels die evangelie in Owamboland verkondig. Hy vertel hoe dit gekom het dat hy in Kwanyama begin preek het, en die seën wat daaruit gespruit het. (Effens verwerk)

Tydens een so ‘n veldtog het hy vir  Vilho Shihandja (een van sy medewerkers) gesê: “Hierdie keer gaan ek in Kwanyama preek.”  Vilho het hom  aangemoedig maar seker  nie geglo dit sal gebeur nie.

Pa vertel verder:

Ons het by Engela gemeente aangekom.  Die pastoor in bevel vra toe dat ek die evangeliste die Sondagaand moet toespreek.  Ek het so ‘n tuisgemaakte karavaan gehad; iets genoeg om enige man se rug seer te maak.  Jy kon net gebukkend in hom staan.  Byna verbrand ek my met die gasprimus. In elk geval, ek berei toe voor en sou uit Jesaja 6, waar dit gaan oor sy roeping, die Woord bring.  Dit was eers nadat my preek in Afrikaans klaar neer geskryf was, dat ek besluit om te probeer of ek nie die preek kan vertaal nie.  Met die hulp van die Engels-Kwanyama woordeboek vorder ek so ‘n derde van die preek toe ek Vilho hoor sê : “Meneer, ek dink dit is tyd dat ons gaan vir die diens.”

Dit was my  beurt om aan die woord te kom en soos gewoonlik stap ek en Vilho na vore.  “Lees asseblief vir my in Jesaja 6" vra ek.  Toe hy klaar gelees het begin ek: “Omujapuki, omujapuki, omujapuki Kalunga kethu omujapuki.”  Heilig, heilig,  heilig is ons Here” Vilho staan en ek gaan voort, menende dat ek die derde van die preek wat ek probeer vertaal het sou aflees.  My boek is egter toe, ek onthou wat ek geskryf het ...... en Vilho beweeg stilletjies agteruit en gaan sit.  Toe die vertaalde derde van die preek egter klaar is, besef ek die Here het my tot hier gehelp, ek kan nie nou vir Vilho roep om te help nie.  Toe ek amen sê, nadat ek die hele preek sonder notas, uit my kop vertaal het, was daar ‘n spontane toejuiging - my twee medewerkers was by my.  “Jy het geen fout gemaak nie, waar het jy die taal geleer?”  Ek was seker net so verbaas soos hulle.  Die Here het my mond geopen.

Nou was my twee medewerkers beslis.  “Ons tolk nie weer vir u nie. Jy kan nou goed  praat.”  Dit het harde werk beteken.  Elke oggend  moes ek vroeg begin in die moeilike karavaan, stiltetyd hou, preke voorberei en kos maak vir die dag.  Gelukkig was ons drie wat kon preek en gewoonlik was daar  by elke diens  ander mense teenwoordig.  Jy kon dieselfde boodskap weer bring.  So het ek later vyf preke gehad wat ek goed geoefen het.

By ‘n sekere gemeente is ‘n pastoor egter saam en nadat ek die eerste en tweede diens gepreek het, wou hy by elke diens hê ek moet weer preek.  My preke het opgeraak, maar elke keer vra hy vir Vilho dat ek ook weer moet preek.  Eers kon ek nie verstaan nie.  Ek word mos moeg.

Daardie nag slaap ek in my karavaan.  Ek was moeg.  Tog word ek vroeg wakker, steek die kers aan en hou stiltetyd.  Dit is nog donker, daar is ‘n klop aan my deur.  Ek maak oop en ‘n man kom in.  “My vriend, ek kom hulp soek, jy moet my help.”  Om as jy al opgewarm is in Kwanyana te praat gaan nog, maar so vroeg in die môre is ‘n ander storie.  Gelukkig is daar ‘n boekie in Ndonga, en met dit in my hand maak ek die pad van saligheid duidelik.  My hoorder sê hy verstaan, hy vra dat ek vir hom oor sy probleme bid.

Later die oggend het ons saam met die twee pastore Bybelstudie.  Ek sê toe vir Vilho van “Nikodemus” wat my in die nag besoek het.  “Vilho ek dink dit is die ou Pastoor, maar sy hoed het hy in my karavaan agter gelaat.”  “Meneer, ek dink dit is hy, maar goed ek sal uitvind, ek sal hom vra of dit sy hoed is.”

Vyftien jaar later deel ek te Leonardville in die suide by ‘n garage traktaatjies uit.  ‘n Jong vrou kom neem een.  Ek vra haar in Owambo of sy al vir Jesus ontmoet het.  So in die gesprek  vertel ek van ander - pastore, evangeliste ens, wat besef het, hulle het Jesus nodig.  Ek vertel toe ook van ‘n ou pastoor wat reg gemaak het met die Here, maar ek het gehoor hy het ‘n week later gesterf.  “Ja meneer, daardie ou pastoor was my vader.”  Sy het my geken en onthou; al het ek  haar nie geken nie. Hoe dankbaar was ek teenoor die Here, dat ek maar weer en weer gepreek het.  So het die ou pastoor te wete gekom dat ek genoeg van die taal ken om hom te kon help.

Inderdaad, volharding dra vrug! God is getrou!


Oupa (80 jaar) en die jongste kleinkind, Natanie (18 maande)

Die hele klomp bymekaar!

Vrydag 09 Desember 2011

MISSIE VAN 'N MELAATSE

- SOLOMON DE KONING.

Ek en my broer Jacobus is op ’n ontdekkingstog. Ons soek na die graf van my oupa se broer, Solomon de Koning hier aan die westekant van Pretoria. Vir ons is dit onbekende leeuwêreld. Ons het deur die Daspoorttonnel gekom en maar so soek-soek en vra-vra probeer uitvind waar die ou Westfort Melaatse Hospitaal is. Of liewers was, want dis blykbaar nou ‘n plakkerskamp. Ons ry op ’n ’n stil afgeleë teerpad, omsoom deur bloekombome. Jacobus bestuur. Ek mimiek ’n geweer in my hand. Grappies om die effense bekommernis te verwerk, want Pretoria is deesdae meer bekend vir misdaad as vir kultuur en rugby.

Ek weet nie baie van oom Solomon nie. Pa het al van hom gepraat. Die oom van hom wat aan melaatsheid gely  en hier in Westfort beland het. Pa self het hom nooit geken nie, want hy is jonk oorlede. As jongman, na sy bekering, het Pa hier kom kerk hou vir die melaatses en ook na oom Solomon se graf kom kyk. By ’n verpleegsuster het hy gehoor dat  hierdie oom van hom 'n kind van God  was. Sy ouma het dit op navraag bevestig. “Solomon was waarlik ’n Christen.”

So ’n tyd terug kry ek dit in my kop om bietjie meer uit te probeer vind oor oom Solomon. Ek google sy naam. En sowaar sy naam duik op in ‘n artikel in die Sunday Times van 26 Oktober 2008. Sean O’Toole beween die haglike toestand van Suid-Afrika se rusplekke vir die dooies, en ja, hy het sowaar ook by Westfort se verlate grafte ’n draai gemaak!

“First on my list of places to look, partly because it was just around the corner, was the scurvy little suburb of Danville, behind which lies the forgotten settlement of Westfort. A former leper colony, Westfort is equal parts ghost town and vibrant set for an apocalyptic B-grade horror. The tenuously healthy - squatters to you and me - now occupy the former hospital wards. The abandoned Catholic church is slowly being dismantled, brick by brick, for scrap.
I ask the local firewood salesman, a genuine Afrikaner hillbilly wearing a felt hat, unwashed face and blackened teeth, where Westfort's cemetery is. He quizzically sizes me up then points me in the direction of a thicket of blue-gum trees.
The headstones for Louis Henry Killian, died 1924, and Solomon de Koning, died 1934, lie forgotten amongst four or five dozen other abandoned graves, overgrown by grass and trees.”

Kan jy nou meer! Die spreekwoordelike toeval! Tussen al die grafstene kies hierdie onbekende Engelse joernalis twee om by die naam te noem, en een is my eie bloedfamilie, oom Solomon! Toe ek dus vir ’n kursus Pretoria toe moes gaan, besluit ek : “Ek moet oom Solomon se graf opspoor!”

Ons kom by die rooi baksteengeboue van Westfort en gaan die terrein binne. Vir hoeveel melaatses het hierdie hek en hierdie geboue eensaamheid, afsondering, doodloopstraat, verdoemenis gespel? Watter vrae het in hulle binneste gebrand by die eerste aanskouing van hulle nuwe tuiste? Hoe het hulle oor hulleself gedink? ’n Gemeenskap van gekwestes? Uitgesonder vir God se oordele? Wrede toevalligheid? Het oom Solomon hoegenaamd gewonder oor God se doel met hom? Was hy opstandig, hartseer, berustend? Het hy geweet hy sou hierdie plek nooit weer verlaat nie of het hy dalk gehoop op ’n wonderwerk? Dis tragies, maar blykbaar het hy nooit eens melaatsheid gehad nie. As beter diagnose destyds beskikbaar was, sou hy waarskynlik nooit hier beland het nie.

Ons doen navraag by van die nuwe gesonde inwoners van Westfort. Die grafte is hier buite. Ons stap so effens senuagtig tussen die bloekombome in. In hierdie boskasie is skuilplek vir baie skurke. Verwaarlosing en agteruitgang het oorgeneem. Die grafte lê verspreid tussen die bome en onkruid. Swygend vertel hulle van ’n eensame verloorstryd teen ’n wrede siekte. Dit vat ’n hele rukkie voor Jacobus die voorreg het om op oom Solomon se graf af te kom. Ons ekspedisie was suksesvol! Nuuskierig loop ek vinnig nader.

Dis met ’n mengsel van eerbied, hartseer maar ook ’n goeie stuk ontdekkersvreugde dat jy lees :

HIER RUS
ONS GELIEFDE
SOLOMON DE KONING
GEB . 21 MEI 1897
OORL. 30 JAN 1934
GESANG 182 VERS 2

Oom Solomon se graf is een van die eenvoudiges. ’n Grys leiklip kopsteen sonder tierlantyntjies. Net die basiese inligting. Sê dit iets van sy persoonlikheid, van sy eenvoudsbestaan? Dit maak in elk geval, die “toeval” nog net meer interessant. Sy graf is nie een van die mooistes nie, dis ook nie opvallend of aan die kant van die grafte waar mens dit maklik sou kon opmerk nie. Hoekom sou die joernalis se oog nou juis sy naam opvang?

Wat was oom Solomon se missie in die lewe? Dalk het hyself nie geweet en verstaan nie. Maar die Almagtige soewereine God het ook vir hom ’n plek gehad in sy groot Raadsplanne en die ontvouing van sy voorsienigheid. Het hy dalk gebid vir sy familie en hulle nageslag dat hulle die Here sou dien? Is die genadewerking van God in my eie lewe dalk ’n verhoring van daardie gebede?  Die ewigheid sal seker baie interessante antwoorde oplewer. Vir nou eers is God se Woord voldoende! Uit God se Woord kry ons die vertroostende versekering, dat ook vir Solomon de Koning, God alles ten goede laat meewerk het. (Romeine 8:28)

In God se woordeskat is daar nie ’n woord soos “toeval” nie! Die ontdekking van Oom Solomon se graf en sy lewe opsigself is ’n bevestiging van hierdie waarheid uit God se Woord! Mag hierdie waarheid ons troos en rigting gee in alle omstandighede!