BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Oorwinnaarstatus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Oorwinnaarstatus. Wys alle plasings

Vrydag 13 April 2018

OORWINNING

oor sonde begin by ‘n besef van wie ek as kind van God regtig is! 


Hoe oorwin ek sonde? Dis seker een van die kernvrae van elke ware kind van God. Dis een van die grootste kwessies waarmee die volgeling van Jesus worstel. Daagliks. (Ander mense gee nie regtig om nie, want God se wet en wil is nie vir hulle regtig belangrik nie.) 


Oorwinning begin as ek besef wie ek as kind van God regtig is. Anders gestel, as ek die volle waarheid van Paasfees ernstig opneem. En hoe ekself daarby inpas. Dis die resep van die Nuwe Testament. Nou wie is ek as kind van God? 



Ons vind hierdie lering onder andere* duidelik in Kolossense 3:1-5. Paulus herinner die kinders van God eeers aan hulle status (Aangesien) en van daaruit kom die opdragte tot drastiese en praktiese heiligmaking. (Daarom)

1.Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

2.Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,

3.want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

4.Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.


5.Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.


SAAM GESTERF EN OPGESTAAN 

Wat is nou die status van God se kind? Die kind van God is iemand wat in God se oë klaar gesterf het, die doodstraf reeds ondergaan het, maar ook tot 'n nuwe lewe opgewek is. Saam met Christus. 

Wanneer het dit gebeur? Dit het aan die kruis gebeur, toe Jesus gesterf het. Verlede tyd! (3) Vgl. Romeine 6:6-8! “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 
Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.” 

Kyk mooi wat hier staan : “Het gesterwe!” (nie – “moet sterwe “- nie) Ons is nou dood vir die sonde. Ons kan nie meer gestraf word vir ons sonde nie. Want ‘n dooie mens kan nie meer skuldig wees aan sonde nie! (Die regstelsel vervolg nie ‘n lyk nie! Lyke word nie hof toe gesleep en tronk toe gestuur nie!) Dit beteken ons is ook vry van die oorheersende mag van die sonde. 

Saam gesterf ook saam opgewek met Christus! 

Vir wie geld hierdie stelling? Dit word van alle Christene gesê. Hoe is dit moontlik? Christene is mense wat “in” Christus is. Wat dus met Jesus gebeur het, het met jou gebeur! Laat ons dit prakties probeer verstaan... Dink aan ‘n foto of boekmerk wat jy in ‘n boek plaas. Alles wat met die boek gebeur, gebeur outomaties ook met die foto of boekmerk. As jy die boek in die see gooi is die inhoud ook in die see. As jy die boek na ‘n ander kamer toe vat, dan gaan die inhoud, die foto of boekmerk ook saam met jou na die ander kamer... 

ADAM OF JESUS 

Daar is net twee moontlike posisies vir enige mens. (Dis die duidelike lering van Romeine hoofstuk 5) In Adam, of in Jesus. 

Is jy nog in Adam (dis die posisie waarin ons almal gebore word) dan is jy nog verlore en onder God se oordeel, maak nie saak hoe ordentlik, aangenaam, vroom of godsdienstig nie! 

Is jy in Jesus Christus, deur die geloof aan Hom verbind, dan is jy ‘n regverdige in God se oë, want die sondige “jy” het saam met Jesus gesterwe en ‘n nuwe “jy” het saam met Hom opgestaan. 

Wat is die implikasie van "in Christus" wees, om saam met Hom te gesterwe en saam opgestaan het? 

Die kind van God het ‘n totaal nuwe status, ‘n genadestatus. 

Ek leef nou onder die heerskappy van genade. “Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.” (Rom 6:14) Ons is totaal dood vir die heerskappy van sonde en die duiwel. (Vgl. Kol 1:13) “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.” Die sonde en Satan het geen mag meer oor ons nie! Ons is uit die gebied van die sonde en dus nie meer onder God se oordeel nie. 

WAT DAN NOU VAN DIE SONDE WAT EK STEEDS DOEN?

Nou sal iemand sê, “Wag, wag nou ‘n bietjie, dis teoreties baie mooi, maar ons sondig dan nog almal... hoor ek reg? Hoe moet ons dit verstaan?” Ek sukkel dan juis so baie met sonde... Ja, gister nog, netnou 'n rukie gelede nog...

Luister mooi. Paulus sê nêrens dat Christene sondeloos is nie, ook nêrens dat Christene nooit meer kan sondig nie. (Dit sou al die waarskuwings en raad van die Nuwe Testament oorbodig en sinloos maak) Hy sê wel dat ons uit die realm, die sfeer, die gebied, die ryk, die mag, die jurisdiksie van die sonde is en onder die genade is. Ons het hemelse status en tog het ons nog ‘n stryd met sonde. Hoe moet ons dit verstaan? 

Daar is ‘n groot verskil tussen om in ‘n posisie of status te wees en te besef dat jy in daardie posisie of status is. Daar is dikwels ‘n verskil tussen status en praktyk. Kom ons verduidelik dit met ‘n voorbeeld. Na die Amerikaanse burgeroorlog is alle slawe vrygestel.** Alle slawe het onmiddellik kragtens wetgewing hulle vryheid gekry. Dit het onmiddelik van krag geword. In die oë van die wet was daar nie meer iets soos ‘n slaaf nie. Maar nou kan mens jou indink, hoe sekere slawe dalk in afgeleë gebiede nie bewus was van die nuwe bevrydende wetgewing nie. Hulle was onkundig rondom hulle nuwe status as vry mense met die gevolg as hulle die baas se stem gehoor het, het hulle nog steeds gevrees en gebewe. Hulle het nog die lewe van 'n slaaf geleef met al die ellende en verknegting daaraan verbonde. Hulle wetlike en ware status was die van vry mense, maar dit sou vir baie nog dalk lank neem om dit te besef. Prakties gesproke het baie nog soos slawe gewerk en gely. Jy kan dus ervaringsgewys nog soos ‘n slaaf leef, terwyl jy wetlik wat status betref nie meer ‘n slaaf is nie. Die oplossing vir die voormalige slaaf is om te besef dat hy nie meer onder die ou wette van slawerny leef nie, dat hy nou vry is om ‘n nuwe leefstyl sonder vrees en verknegting te leef. Hy moet begin leef volgens sy nuwe status. 

Wanneer jy ‘n Christen word is jy iemand wat dood is vir die sonde, want wat die geestelike realm betref, die status in God se oë het jy saam met Christus gesterf. Met jou sondeskuld is daar vir eens en altyd aan die kruis afgereken. Jy is ook saam met Hom opgewek en het die status van ‘n regverdige. Die sondige Johannes, Koos, Anna... het vir eens en altyd gesterf, 'n nuwe mens het opgestaan. Maar ons besef dit nie altyd nie... 

GLO!

Ons uitdaging is nou om God se woord te glo, maak nie saak wat ons gevoelens en ervarings is nie! Soos Abram wat God se beloftes geglo het ten spyte van die sigbare feite. Ons moet dit besef! Romeine 6:11 "Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus./ (OAV)So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:11) 

HEERLIKE GEVOLGE 

Hoe raak die waarheid van saam gesterwe en saam opgewek prakties ons daaglikse stryd van heiligmaking? 

· Bevry van vrees (oor ons toekoms of posisie) kan ons nou met oorgawe volgens ons nuwe status leef. Juis omdat ons weet dat ons verlossing vas en seker is. (Dink aan akrobate in die sirkus wat hulle toertjies voluit en sonder vrees kan doen, juis omdat hulle weet daar is ‘n veiligheidsnet...) 

· Heiligmaking is nie iets wat passief ontvang word nie, maar wat voortdurend aktief nagejaag moet word! Ons het nou 'n verantwoordelikheid. Lees mooi wat Paulus sê :“Maak dood...”en dan noem hy ‘n lys dinge...(5) Ja, daar kan krisis momente, spesiale ondervindings, oomblikke van dieper oorgawe in ons lewens wees wat ons groot spronge vorentoe in heiligheid laat maak (soos byvoorbeeld die bevryding van ‘n slegte gewoonte) maar heiligmaking is ‘n voortdurende opdrag. (“Maak dood, lê af”) Raak ontslae van als wat nie by jou status pas nie, jy het dit nie nodig nie! Hierdie sondige leefstyl pas nie meer by jou nie. En voeg by (beklee jou met) dit wat by jou nuwe opstandingstatus, jou hemelse status pas. Dink weer aan die slaaf – hy is wetlik vry, maar hy moet nou stappe in werking stel om sy vryheid uit te leef! Dis sy verantwoordelikheid om sy vryheid te benut en anders as vootrheen te dink en te doen!

· Dit raak ook ons motivering om heilig te lewe – dis nie uit vrees, dis nie om iets te kry nie, dis nie om God se liefde te probeer wen nie, dis uit blye dankbaarheid vir die groot vaste en onveranderlike verlossing! Dink bietjie eerlik oor jou huidige situasie en leefstyl... Jou keuses op hierdie stadium van jou lewe, jou stokperdjies, jou manier van tyd bestee, jou geselskap, selfs jou eetgewoontes en kleredrag... pas dit by jou status as vrygespreekte kind van God? Weerspieël dit dankbaarheid vir sy onberekenbare genade? 

Jy wat nou aan Jesus behoort, jy het reeds saam met Christus gesterf en jy het reeds saam met Hom opgestaan. Die kind van God moet hierdie waarheid glo en besef! Dis die begin van ‘n oorwinningspad. Besef net eers mooi wie jy is volgens God se Woord! Besef wat het regtig by die kruis gebeur... Besef die heerlikheid van jou nuwe status! Besef water groot genade geskenk jy ontvang het en raak dankbaar, dankbaar met integriteit en oorgawe! Word al hoe meer wat jy reeds in Jesus is! Leef volgens jou status! 

*Lees ook Romeine hoofstuk 6 en Efesiers 2:4-6 

**Hierdie voorbeeld is wat Dr. Martyn Lloyd-Jones in sy bespreking van Romeine 6 gebruik.




Op Tsumeb was dit die afgelope tyd lekker nat. Ons geniet dit!
(foto - Jonette de Koning)



Donderdag 05 April 2018

HIPEROORWINNAARS!

- Die praktiese effek van Paasfees vir elkeen wat aan Jesus behoort. 


Ons het weer die afgelope tyd gekyk na die feite van Paasfees! Die vaste en sekere feite van Jesus se genoegsame kruisdood as volkome offer vir ons sondeskuld. Die heerlike feit van die liggaamlike historiese opstanding wat ‘n bewys is van sy oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel. God het Jesus se offer aanvaar en daarom kan die duiwel ons nie meer beskuldig of afpers weens ons sonde nie. 

Een van die heerlikste dele in die ganse Heilige Skrif wat hierdie waarheid onomstootlik duidelik stel is ROMEINE 8:31-39. 

Die kruis en opstanding van Jesus maak ons superoorwinnaars, eintlik letterlik “hiperoorwinnaars” soos Paulus dit in vers 37 stel. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” * Maak nie saak in watter omstandighede ons onsself bevind nie, die kind van God is triomfantlik, die kind van God kan nooit ‘n verloorder wees nie. Ja, ons word nie gevrywaar van slegte dinge, vervolging en swaarkry nie, maar al hierdie dinge kan ons nie onderkry nie en ons van ons hemelse kroon beroof nie! Ons styg uit bo alles omdat ons gedra word deur God se liefde! 

VIER VRAE

Paulus verduidelik vir ons die kind van God se onaantasbare oorwinnaarstatus deur vier retoriese vrae te vra. Dis retoriese vrae waarvan die veronderstelde antwoord, elke keer is : “Nee, niks, niemand nie…” en dan gee Paulus die rede vir die antwoord. Die rede sal jy sien kom in feite neer op die Paasgebeure – die kruis en opstanding van Jesus. Kom ons kyk kortliks na die vier vrae: 

EERSTENS (31) “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Die antwoord : Niemand nie! Wat is die rede vir hierdie vertroue? “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (32) Wel, as God so ver gegaan het om selfs sy eie Seun nie te spaar nie, maar ter wille van ons te offer, is dit net logies dat Hy vir ons als sal gee wat ons ook al mag nodig kan hê. (Hierdie woorde in die Grieks eggo die aangrypende gebeurtenis in Genesis 22:16, waar Abram nie sy seun wou spaar nie, maar bereid was om hom te offer) Paulus voer ‘n logiese argument, van die grote na die kleine. As Iemand bereid was om sy heel kosbaarste vir jou te gee, gaan hy tog nie ‘n probleem hê om iets minder belangriks vir jou te gee nie… 

TWEEDENS (33) “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.” Wie kan die uitverkorenes van God aankla? Let op, die benaming vir God se kinders – ons word uitverkorenes genoem, juis om te beklemtoon dat die feit dat ons aan God behoort, nie ‘n prestasie van onsself af is nie. God het ons gekies sonder dat ons dit verdien! Ons is begunstigdes van God, uit genade! As God dan self ons vrygespreek het, wie durf ons nog aankla? Ons staan sonder skuld voor God! God self het ons dan reeds kwytgeskeld en vrygespreek van alle skuld en blaam! 

DERDENS (34) “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Wie kan God se kinders veroordeel? Dis asof Paulus hier ‘n openlike uitdaging rig tot almal wat ons wil beskuldig en veroordeel… ander mense, alle aardse regters en kritici, ons eie gewete en ja die groot beskuldiger en aanklaer, Satan self! “Toe, toe, laat ons hoor, wat het julle te sê…” En weereens is die veronderstelde antwoord : Niemand nie, niemand kan God se kinders veroordeel nie! Hoekom nie? Ja, dis ‘n goeie vraag...Hoekom is Paulus so vol uitdagende sekerheid? Hy gee die redes. En let nou baie mooi op, dis baie belangrik – hierdie redes het niks met my eie goedheid of prestasies te doen nie! Kyk die argumente van Paulus : Christus het gesterf. Hoekom is dit so belangrik? Sy sterwe het my sondeskuld uitgewis en daarom kan niks en niemand my veroordeel nie! Maar dis nog nie al nie. Christus is uit die dood opgewek. Hoekom is dit so wonderlik? Dis die bewys dat God Jesus se offer as genoegsaam aanvaar het. Maar dis nog nie alles nie. Jesus is op hierdie oomblik besig om te pleit en in te tree vir God se kinders. Hy is ons lewende advokaat en Hy stel ons saak, op grond van sy versoeningswerk aan die kruis! Kan daar iets meer gerusstellend wees? 

Hier is die vaste fondasie van ‘n Christen se vertroue en sekerheid. Dis nie binne myself te vind nie, maar in Christus en sy werk! As ‘n skip in stormwater beland, help dit nie hy gooi ‘n anker uit in sy eie ruim nie, nee, die anker word na buite gegooi na die vaste seebodem... Ons gooi ons ankers uit op die vaste rotsbodem van Jesus se volmaakte offer!

Die kind van God kry sekerheid en vastigheid nie deur na binne te kyk, na jouself nie (is my geloof sterk genoeg, is my bekering eg genoeg…?), maar na die genoegsame en volmaakte werk van Jesus aan die kruis! 



VIERDENS (35) “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” Hier kom Paulus se redevoering en logika tot ‘n verbysterend heerlike klimaks! Is daar enigiets of iemand wat ons van hierdie liefde van Christus kan skei, kan beroof? NEE! NIKS! NIEMAND! Dan noem Paulus ‘n hele klomp slegte goed wat met God se kinders kan gebeur, en dit is erge dinge… Maar, ja al gebeur hierdie dinge met ons, verander dit niks van God se liefde nie. Hierdie dinge kan ons nie permanente skade berokken nie. Te midde van hierdie dinge bly ons triomfantlike oorwinnaars! “Hiperoorwinnars” soos ons reeds gesien het! En dan voer Paulus se heilige logika hom tot een van die mees verhewe en heerlike uitsprake in die ganse Heilige Skrif. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (38,39) Paulus sê met passievolle oortuiging : “Ek is absoluut seker dat niks, hoegenaamd niks ‘n verskil kan maak aan die spesiale liefde van God, soos dit deur Jesus aan die kruis vir ons bewys is nie! Kom wat wil, ek weet God het my lief, die Paasgebeure het dit bewys. Kom wat wil, God se liefde in Jesus sal my nooit as te nimmer in die steek laat nie en Hy sal my daarom veilig by my ewige bestemming uitbring!” 

VREUGDE! VREUGDE! VREUGDE!

Hier is oorvloedige rede vir vreugde, Paasfeesvreugde! Nou reeds! Deur die geloof beleef ons reeds nou te midde van allerlei druk hierdie blydskap. 

En weet verseker, weldra sal ons geloof oorgaan in aanskoue, wanneer die opgestane Jesus ons gaan kom haal om vir ewig by Hom te wees! 

*”meer as oorwinnaars” is die vertaling van die Griekse werkwoord υπερνικωμεν (upernikomen). νικωμεν sou beteken “ons oorwin”, maar nou staan daar υπερνικωμεν “ons hiperoorwin.”



Niks, maar niks kan ons skei van God se liefde nie....