BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Rykdom. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Rykdom. Wys alle plasings

Woensdag 14 Februarie 2024

BEKOMMERNISSE? WORD BEVRY!


Bekommernisse beroof, bedreig, belemmer... Ja bekommernisse beroof jou van vreugde, bedreig jou gesondheid, en die ergste... Bekommernisse belemmer jou ingang in die koninkryk van God.

Ja, inderdaad kan dit jou uit die ewige saligheid hou. In Lukas se weergawe van die GELYKENIS VAN  SAAIER noem Jesus drie soorte onkruid wat keer dat die saad van die Woord vrug dra – bekommernisse, rykdom en plesiere. (Lukas 8:14) So bekommernisse is nie maar sommer net ‘n by sakie waaroor ons maar kan spot nie...

Jesus hanteer die kwessie van bekommernisse in detail in  MATTEUS 6:19-33  (lees dit gerus in geheel deur om die hele vloei van Jesus se boodskap te begryp)

 Wat is bekommernisse? 

Dis die dinge wat veroorsaak dat angstigheid, vrees en paniek  ons beetpak. ‘n Pynigende gevreet aan jou binneste veral oor die toekoms. Dis mos juis toekoms vrese wat ons laat rondrol en laat wakker lê. Wat ons aandag van God  en sy koninkryk aftrek en ons fokus verskuif na onsself. Net eers ‘n bietjie duidelikheid – wat hier ter sprake is nie die normale besorgdheid en verantwoordelikheidsin wat normale menslike beplanning en optrede voorafgaan nie. Om op ‘n nugter wyse te besef ek skryf oor ‘n week ‘n wiskunde toets en te besef dis noodsaaklik dat ek betyds hard daarvoor begin leer, is nie ‘n sondige bekommernis nie. Anders gestel, vry wees van bekommernisse beteken nie traak-my-nie-agtigheid, luiheid en passiwiteit nie. Kommerlose vertroue in God beteken tog  nie ek sit op die stoep en wag dat brood uit die hemel val nie.  Jesus sê die Vader sorg vir die voëls, maar natuurlik is hierdie einste voëls kliphard op soek na hulle saad en wurmpies... 

Bekommernisse is daardie abnormale vrese en gedagtes wat veroorsaak dat jy nie met vreugde as kind van God kan leef nie.

 Bekommernisse is verkeerd! Jesus sê STOP daarmee. Kyk na vers 25,31,34 

“Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?”

““Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie.”

“Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

 

Stop met bekommernisse - dis verkeerd, dis wantroue in God se Vaderskap én dis boonop nuttelose dwaasheid. 

“Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg?” (27) Dit bring my nêrens! Jy baat niks by al jou bekommernisse nie. Bekommerd wees  is ‘n vermorsing van kosbare tyd en energie. Dis ‘n slegte advertensie vir Jesus en ‘n klad op die wese van Christenskap.

OORSAKE VAN VRETENDE BEKOMMERNISSE :

(Daar sou waarskynlik lank hieroor bespiegel kon word, maar hier word net twee sake genoem wat duidelik uit Jesus se woorde na vore kom.)

Verkeerde waardesisteem. Die inleiding tot hierdie gedeelte is baie belangrik en vorm eintlik die basis van als. “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel.” (19) “..skatte op aarde…” Ons moet nou baie versigtig wees vir verkeerde afleidings. Jesus verbied ons nie om te spaar of te werk nie. (Dis juis dinge wat die Woord aanmoedig) Dit gaan nie oor ‘n spesifieke afsnypunt van wat te veel geld of bates sou kon wees nie.  (Rykdom is ‘n uiters relatiewe begrip...) Dit gaan oor   ‘n lewenshouding wat die hele lewe beoordeel en evalueer i.t.v wat ek besit. Die siening dat hoe meer jy het, hoe meer suksesvol is jy... Dis opsigself nie verkeerd om ryk te wees nie, maar dis beslis verkeerd en DWAAS om nie ryk te wees by God nie.  (Vergelyk die gelykenis van die ryk dwaas in  Lukas 12. Sy probleem was nie die vol skure opsigself nie, maar die feit dat hy God nie geken en gedien het nie.)  Dit gaan oor ‘n verkeerde fokus – ‘n oog wat verkeerd na die lewe kyk. Hierdie waardesisteem wat alles meet in terme van aardse besit is onversoenbaar met 'n verhouding met die lewende God. 

'n Fokus op geld, maak egte Christenskap onmoontlik! 

Jesus leer duidelik : “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”  (24!)  


En die groot ironie-  ‘n Verknegting , ‘n slaaf wees van Mammon lei tot juis bekommernisse... ek meet my lewens waarde i.t.v besittings, ek moet dus altyd kompeteer met ander... ek "stress" myself dood om net by te hou en om indruk te maak! Die groot siekte van “Keep up with the Jones...”   “As hulle dit het moet ek dit ook kry...” Jy kan nie daardie nuwe motor se paaiemente op die lange duur bekostig nie, maar ek moet probeer byhou by my welaf vriende en so kweek ek vir myself bekommernisse en bring myself in die moeilikheid!  Ek meet my eie waarde en ander se waarde aan sigbare dinge. Ek het ‘n valse definisie van sukses... As my lewe draai om aardse bates gaan ek altyd in ‘n bekommerde toestand wees want hierdie goed wat my kwansuis moet gelukkig maak, word oud, stukkend en soos ons almal al agtergekom het, gesteel. Hierdie dinge waarop ek my lewensvreugde bou, word voortdurend bedreig deur peste en slytasie, vandale en diewe.  ‘n Gejaag na sigbare dinge is ‘n resep vir die kweek van bekommernisse.

Kleingeloof.  “As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges?” Dis opvallend dat Jesus die woord “kleingelowiges” in vers 30 gebruik. Nie “ongelowiges” nie. Hy praat hier met sy dissipels – hulle glo immers in Hom. Die gevaar is dat ons as sy dissipels ons geloof beperk. Ek  beperk my geloof tot my geestelike welsyn/redding, maar as dit by my gewone aardse lewensbestaan kom, dan vertrou ek God nie regtig nie. Ek vertrou die Here om my sonde te vergewe en my die ewige lewe te gee, maar as dit oor my daaglikse lewe gaan, wantrou ek God se liefde of vermoë om vir my te sorg en my te beskerm.  (Dis natuurlik direk in stryd met wat Jesus geleer het in die Onse Vader gebed – sy dissipels mag juis bid vir alledaagse behoeftes – daaglikse brood!) Hierdie beperkte onvolledige geloof en gebrekkige vertroue is die oorsaak van ongetemde bekommernisse wat ons lewens opvreet. Anders gestel – gewoonlik is bekommernisse ‘n simptoom van ‘n gebrekkige ongesonde geloof! Ons mag nie maar vrede maak met ‘n gedurige bekommernis nie – dis nie God se wil nie.

OPLOSSING : KRY SKATTE IN DIE HEMEL!

Begin by die kern van die probleem. Verskuif jou fokus en pas jou prioriteite aan. Hoe? Maak skatte in die hemel bymekaar! “Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie.” (20) Wat presies beteken dit?  “Maar soek eers die koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (33) ‘n Fokus op God se koninkryk en daarom ‘n bereidheid om volgens sy wil te leef. Kyk anders na die lewe. Ja ons is nog steeds op aarde en moet eet, drink en aantrek – en God weet dit ook, maar God se kinders het ‘n wyer visie as Elon Musk en Bill Gates – ons hart en gedagtes moet oorheers word deur God en sy koninkryk. Ons prioriteite, belangstellings en vreugdes sal verskil van die wêreld wat geld, plesier, geluk en roem najaag.


Ons moet hierdie gedeelte verstaan in die hele konteks van die Bergrede. Die Bergrede leer ons dat ware geluk slegs gevind word in die koninkryk van God. Om te weet ek behoort aan die koninkryk. Die Bergrede onderstreep die radikale verskille tussen God se kinders (burgers van sy koninkryk) en die mense wat hom nie ken nie. ‘n Lewe wat fokus op die koninkryk is ‘n lewe in afhanklikheid van God en Jesus – ek is afhanklik van Hom vir my geluk – nou en eendag, ek vertrou Hom vir al my behoeftes van siel en liggaam! Kyk weer na die wonderlike belofte in vers 33. Wat is die kern van God se wil? Om in Jesus te glo en sy opdragte te gehoorsaam. (Gaan lees die hele BERGREDE en kyk wat beveel Jesus.) En as ek waarlik in Jesus glo is God mos my eie Vader. Die Vader wat vir die voëls en die blomme sorg. Die Vader wat nog soveel te meer vir sy kinders wat gewas is in die bloed van Jesus sal voed, klee en bewaar. Ons word uitgedaag om God as Vader te vertrou. Hy is die volmaakte Vader en Hy weet presies wat ons nodig het. “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het.”  (32)

Nou wat moet ek doen as bekommernisse my skielik oorval? (Dit gebeur mos met ons almal)  Vertrou die Vader! Maar presies hoe?  Dis nie net Jesus wat oor bekommernisse praat nie, Paulus doen dit ook en hy is baie prakties. Filippense 4:6. "Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend." Vertroue op my Vader beteken dat ek eerlik my hart voor Hom sal uitstort! Dat ek my bekommernisse vir Hom sal gee en dat ek nie sal vergeet om Hom as goeie Vader te dank nie. Onthou die danksegging! Dis ‘n baie belangrike praktiese punt... anders gaan my gebede net my herinner aan al my bekommernisse en my meer angstig en depressief maak. 

Bekommernisse kom oor ons almal se pad. Kinders van God mag net nie dat dit ons lewens oorheers nie. Ons moet daarteen kies. Ons kies om anders na die wêreld te kyk, ons kies om ander waardes en vreugdes te hê, ons kies om ons Hemelse Vader te vertrou op alle vlakke van die lewe.

As jou lewensvisie en fokus is om aardse bates bymekaar te maak – het jy rede om bekommerd te wees, baie bekommerd... Maar as God se koninkryk jou fokus is en God se wil jou begeerte is - MAG JY NIE EN HOEF JY NIE BEKOMMERD WEES NIE, want jy het ‘n hemelse Vader wat NOU en EENDAG volmaak vir jou sorg! Luister na die volledige BOODSKAP


Kliek ook op KAN GOD REGTIG SORG?

Woensdag 01 Junie 2016

PROFIEL VAN ‘N DROSTER

[Ds. Erik van Zyl het onlangs ‘n boodskap in ons gemeente gebring oor Bittereinders en Drosters (ook genoem hensoppers of joiners). Dis natuurlik terme wat uit die hartseer geskiedenis van die Anglo Boere-oorlog uit kom. Die bittereinders is die ouens wat aangehou het met veg tot die einde toe, die drosters is die ouens wat tou opgegooi het en in sommige gevalle selfs by die vyand aangesluit het. Van toepassing gemaak op die Christelike stryd en wedloop is Bittereinders die mense wat Jesus as Verlosser aanvaar het en tot die einde volhard en vrugdra saam met Hom. (soos Paulus in 2 Tim 4:6-8) Drosters is mense wat eens op ‘n tyd die Here Jesus gevolg het, maar toe omgedraai het. (soos Demas wat die teenswoordige wêreld liefgekry het in 2 Tim 4:10) Gelukkig het ons in die Bybel ook voorbeelde van drosters wat weer betyds teruggekeer het, weer Bittereinders geword en Jesus getrou gevolg het. (soos Johannes Markus)]



Ek wil bietjie dieper ingaan op die vraag : 


Waarom word volgelinge van Jesus dan drosters? 

Wat veroorsaak dat mense omdraai van die geloofspad en moed opgee? Waarom sak mense uit in die Christelike wedloop?

In die gelykenis van die saaier (Lukas 8) gee Jesus self ‘n baie duidelike antwoord. Dis spesifiek die derde groep, die saad wat tussen die onkruid geval het wat vir ons duidelikheid gee oor drosters! In die eerste twee groepe gaan dit oor mense wat eintlik nooit regtig aan die gang gekom het nie, maar in die derde groep gaan dit oor plante wat goed gegroei het, maar geleidelik deur onkruid verstik is en nooit op die ou einde vrug gedra het nie.

DROS HET ‘N GELEIDELIKE AANLOOP.

“Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.” (Lukas 8:14)

Die kern gedagte is geleidelike stadige byna ongemerkte agteruitgang. “Gaandeweg.” Onkruid maak nie ‘n plant in een dag se tyd dood nie, die plant word net geleidelik verdring en versmoor... Geleidelike, stelselmatige agteruitgang... Dis die profiel van ‘n droster.

By ‘n droster vind mens ‘n geleidelike versmoring en afkoeling van liefde vir Jesus en sy kinders. ‘n Tanende en kwynende entoesiasme vir Jesus se Koninkryk en die werk van die Here. Die potensiële droster vind al meer verskonings om nie die byeenkomste van die heiliges by te woon nie; daar is net altyd iets belangriker... ‘n Al hoe groter geneigdheid om kompromie met sonde te maak... “Ag, dis darem nie so erg nie, ek doen dit net een keer, niemand doen skade op nie....” Verskonings, verskonings... 

Dis interessant dat Jesus die meeste klem lê op hierdie derde groep en drie konkrete dinge noem wat mense geleidelik doodwurg. Dit gaan dalk vir ons ongemaklik wees om hierdie dinge te hoor. Maar luister maar, want dalk lê Jesus sy vinger hier op ‘n seerplek in jou lewe wat dringend aandag moet kry...

BEKOMMERNISSE 

Ons spot partykeer so oor al ons sorge en bekommernisse, maar dis ‘n ernstige saak wat jou geestelike lewe kan vernietig, wat jou ‘n droster kan maak as jy dit nie reg hanteer nie. Die harde feite van die lewe is natuurlik dat almal van ons te make het met situasies wat dreig om bekommernis by ons te veroorsaak. Moeilikheid en bekommernis gaan oor ons pad kom, maar die vraag is hoe ons dit moet hanteer Jesus praat duidelik daaroor in Lukas 12:29-31. “Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.” Vertrou op God, God wat weet wat ons nodig het. Hy is immers ‘n Vader wat sorg. Ook Paulus het hieroor geskryf. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4:6.) Gebed, dankbaarheid en tevredenheid is die Christen se teenvoeter op bekommernisse! Petrus se raad kom op dieselfde neer. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7.)) Moenie in bekommernisse vasval nie, moenie dat vrees oor die toekoms jou fokus van God af wegvat nie. Hanteer dit biddend en met vertroue. Ja, bekommernisse is ‘n werklikheid, ons kan dit nie miskyk of ontken nie, maar God is ‘n groter werklikheid! Maak so ‘n realistiese som... sal die God wat vir die Israeliete in die woestyn gesorg het, wat vir Elia by die spruit Krit gesorg het, wat ons so liefgehad het dat Hy sy Seun vir ons gegee het, dan nie ook in alle opsigte vir ons volgens sy wil kan sorg nie?

RYKDOM 

Dis ‘n baie sensitiewe saak, maar vir Jesus baie belangrik. Teen geen ander ding het Jesus meer gewaarsku nie. Geen ander ding hou meer mense uit die hemel as rykdom nie. Rykdom is dié groot rede waarom krygsmanne van Jesus wegdros! Dis nie so eenvoudig om die gevaar van rykdom te definieer nie, want dit gaan nie noodwendig oor die grootte van jou bankbalans of die waarde van jou bates nie. Dit gaan daaroor dat geld en besittings geleidelik vir jou die belangrikste in die lewe geword het. Besit begin jou lewe bepaal. Ek meet myself aan wat ek het of nie het nie. Niemand wil maklik erken dat rykdom of ‘n liefde vir geld vir hom ‘n probleem geword het nie. So, hoe weet ek dat geld vir my ’n gevaar begin word? Hier is vier toetse wat jou kan help as jy eerlik wil weet : 

Rykdom raak vir my ‘n strik : 

  • As ek ander mense begin benadeel om meer geld te maak. (Dis veral my vrou en kinders wat eerste verwaarloos word, al gebruik ek die verskoning van "ek werk juis so hard om vir hulle 'n toekoms te bou...")
  • As ek my afsprake met God en sy gemeente mis ter wille van meer besigheid of invloed. ("Ons kon nie by die kerk wees nie, want ek het my vennote vir 'n jag gevat!")
  • As ek oneerlik begin raak om meer of vinniger geld te maak. 
  • As ek daarvan hou om my rykdom uit te stal. Ander mense moet sien watter model motor ek kan bekostig, my maats moet tog net raaksien dat ek die regte handelsmerk klere en tekkies dra! (Tieners, dis nou daai “brands”!) 

Hoor Paulus se waarskuwing in 1 Timoteus 6:6-11. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”

GENIETINGE 

Dit gaan hier oor hedonisme, die jaag na plesier as die hoogste doelwit van my lewe. My lewensdoel is om te soek hoeveel plesier ek daaruit kan kry. Natuurlik gee God vir ons baie dinge om te geniet, maar as genot my doelwit word, raak dit gevaarlik. As genot geleidelik die plek van God begin inneem is ek besig om ‘n droster te word. “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.” (2 Tim 3:4) As plesier my tyd steel wat ek aan God moet gee, as plesier my sag maak vir sonde, as plesier my aptyt vir God en sy Woord demp (my stokperdjies of ontspanning maak my minder lus vir God se Woord), is die onkruid van genietinge besig om my dood te wurg!

INTERESSANT: GAAN KYK MAAR, DIE REKLAMEWESE IS JUIS GEMIK OP DIE DINGE WAARTEEN JESUS SO ERNSTIG WAARSKU -  IN DIE MEERDERHEID ADVERTENSIES WORD DAAR GESINSPEEL OP ONS VRESE EN BEKOMMERNISSE OF ONS WORD AANGESPOOR EN VERLEI TOT DIE NAJAGING VAN GELD EN PLESIER AS DIE HOOGSTE VREUGDES IN HIERDIE LEWE!


Hierdie dinge is gevaarlik en ek moet daadwerklike stappe neem om hierdie onkruide uit te roei. As hierdie dinge aanwesig is in my lewe is dit ‘n aanduiding dat ek dalk besig is om ‘n droster te word! As bekommernisse my wil oorweldig moet ek doelbewus fokus op God se Vaderlike getrouheid en liefde, as rykdom vir my te belangrik word moet ek doelbewus fokus om skatte in die hemel bymekaar te maak (belê jou geld en lewe in die koninkryk) as genietinge my van die spoor af wil bring moet ek doelbewus my vreugde soek in God en sy werk!

LEEF DOELBEWUS IN DIE TEENOORGESTELDE RIGTING!

Mag God hierdie gelykenis van Jesus gebruik om ons aan te spoor tot volharding, nie tot ‘n “bitter einde” nie, maar inderdaad tot ‘n heerlike einde, die beloning wat wag op elkeen wat volhardend vrug gedra het!


[Hierdie indrukwekkende kremetart oos van Tsintsabis in die Grootfontein distrik is 'n pragtige voorbeeld van 'n "Bittereinder", as jy daaraan dink hoeveel droogtes en bedreiginge hy al getrotseer het om so groot te word!]