BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Moeilike tye. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Moeilike tye. Wys alle plasings

Vrydag 11 Januarie 2019

DEUR MOEILIKHEID

MET BLYDSKAP OP PAD NA 

VOLMAAKTHEID



Ons is nog nie klaar met die temas van voorspoed en seën nie. Ons het reeds twee belangrike dinge geleer oor geseëndheid : Elkeen IN Christus is ‘n geseënde. Die seën wat ons in Hom ontvang het is geestelike seëninge. (vergifnis, kindskap, die grootste seëning is dat die Heilige Gees in ons woon en ons ewige erfenis waarborg) Luister net weer na Efesiërs 1:3. * 

PROBLEEMVRYE LEWE?

Maar tog bly daar nou baie vrae in jou hart oor. "Ja, ek weet ek is ‘n geseënde in Christus, ek weet ek is vergewe, ek weet ek kan uitsien na die ewige heerlikheid. Maar wat van nou? Hoe raak my geseëndheid my alledaagse praktiese lewe?" (“Ag, Here ek dien U mos, U moet darem net sorg dat ek nie moeilikheid kry nie.”) Wat kan ons verwag van die lewe as geseëndes? 

Die brief van Jakobus kan ons baie help, dis 'n praktiese boek. Mens kan amper sê, Jakobus is die Spreuke van die Nuwe Testament. Kom ons kyk na Jakobus 1:2-8. Sommer met die intrapslag verstom hy ons…. Dit kom daarop neer : “Ag julleself gelukkig as julle baie moeilikheid kry!” (2) Het ons reg gehoor? Ja, ons het gehoor die seëninge is geestelike seëninge maar ons hoop tog maar op ‘n probleemvrye lewe wat rustig is en waar al ons planne sal uitwerk en alles sal goed gaan. Nou kom Jakobus en sê julle moet bly wees oor moeilikheid! Geseënde van God, jy kan moeilikheid verwag en meer nog, jy moet dit nie net verduur nie, jy moet daaroor bly wees! Regtig? JA! 

STANDVASTIGHEID EN VOLMAAKTHEID

Jakobus maak nie sommer net ‘n stelling in die wind nie, hy gee ‘n duidelike rede hiervoor. “want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (3,4) 

Moeilikheid is die pad na geestelike rypheid. Na volmaaktheid.** 

Maak Jakobus nie dalk ‘n fout nie? Kom ons kyk wat sê een van die ander NT skrywers, Paulus. Romeine 5:3-5

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Selfde storie! Moeilikheid en swaarkry kweek volharding en standvastigheid. Deur moeilikheid kom ons by ons einddoel uit. 

Wat is die volmaaktheid waartoe die volharding deur beproewing en toetse ons bring? Die NAB praat van geestelike rypheid, geestelike volwassenheid. Pasop om volmaaktheid te tegnies te verstaan en dan sommer maklik die verskoning te gebruik dat niemand in elk geval volmaak kan wees nie. 

Wat is dit? Dis ‘n lewe van wysheid. Goddelike wysheid. Wat is wysheid? Jakobus sê vir ons. Jakobus 3:13-18. 

“Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 

Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 

Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 

want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 

Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” 

God gebruik moeilikheid om jou ‘n volwasse lewe van wysheid te bring. Hy gáán dit doen. Hy doen dit met elkeen van sy kinders. 

WYSHEID EN GEBED

Hoe gebeur dit prakties? Hoe lei moeilikheid ons na volwassenheid en wysheid? Te midde van die moeilikheid moet ons BID! Moeilikheid, versoekings en beproewings en aanvegtinge dwing ons op ons knieë. “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.” (5:13a) Bid vir wysheid. Hier kry ons ‘n heerlike belofte. God gee wysheid aan diegene wat Hom vra. Onthou net weer wat is wysheid – Dis ‘n radikale nuwe lewenshouding. “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.” (3:17) 

Hier is net ‘n belangrike voorwaarde vir gebed. Geloof. Wat bedoel hy met geloof? Is dit hierdie spoggerige selfversekerdheid dat ek als sal kry waarvoor ek vra? Nee. Hy kontrasteer geloof met dubbelhartigheid. Die woord wat die NAB met "altyd aan die twyfel" vertaal is dubbelhartigdiyucoV, (letterlik dubbelsiel) Hoe lyk ‘n dubbelhartige persoon? "Ek sal die Here probeer en maar kyk of dit werk, ek sal godsdiens probeer maar as dit nie vir my die regte resultate lewe nie, dan los ek dit." Dubbelhartigheid is om al my opsies oop te hou. Ware geloof sê : "Here, ek vertrou op U al moet ek ook vergaan!" Die dubbelhartige persoon probeer orals inpas. Op twee stoele sit. Tussen die kerkmense praat ek asof ek die Here ken en ek gebruik die regte woorde… Tussen die wêreldlinge dan gebruik ek weer ‘n ander woordeskat… Dubbelhartigheid is die grootste enkele rede waarom mens nie geestelike vordering maak nie! 

Vir dubbelhartiges het Jakobus net een raad. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (4:8-10) *** 

Voorspoed en seën vir ‘n kind van God beteken nie ‘n probleemlose lewe nie, dis vol toetse en beproewings. Dis God se opvoeding om my geestelik volwasse te maak sodat ek met wysheid kan leef in hierdie wêreld. Hierdie wysheid kry ek as ek biddend God daarvoor vertrou met ‘n onverdeelde hart! 

Gaan lees Jakobus ‘n slag biddend deur. Hierdie eerste paragraaf is die inleiding en hy werk die temas wat hy hier aanraak verder in detail uit. Temas soos beproewings, wysheid, geloof, gebed en volharding. 

Kom ons sê dit weer :

Moeilikheid is deel van ‘n kind van God se lewe. Moeilikheid moet ons nie moedeloos maak nie. Dit moet ons bly maak, want dis God se pad vir ons na geestelike rypheid! Dis ‘n pad wat ons gelowig biddend moet stap! 



*Vir die bespreking van Efesiërs 1:3-14, kliek op GESEËNDES 

**Grieks - teleioV

*** “huigelaars” in die NAB is die vertaling van diyucoi ("dubbelhartiges" - OAV)

Hugenote monument, Franschoek.

Saterdag 18 Augustus 2018

GEEN KORTPAD

- Vergeet maar van kitsoplossings en maklike resepte vir heiligmaking en geestelike volwassenheid!



Ons mos hou almal maar van kortpaaie en kitsoplossings. Skoolkinders wens hulle kon net hulle handboeke onder die kopkussing sit en siedaar! Gierige grootmense val na al die jare nog steeds vir gou-ryk-word skemas... Hierdie drang na kortpaaie kry mens ook by ons as Christene ten opsigte van ons geestelike lewens. Ons soek na kitsoplossings vir ons stryd teen sonde en onvolmaaktheid, ons soek na kitsantwoorde vir sukses in evangelisasie, ons soek na suksesresepte vir gebed en maklike wenresepte vir kerkgroei. En daarom gebeur dit so dikwels dat net soos gierige mense maklik gevang word deur kitsrykword skemas ons as Christene maklik kan val vir allerhande geestelike resepte en foefies wat maklike vinnige oplossings bied. Maar, helaas...die einde is groot teleurstellings, skade en verwarring. (Al die mense wat by ‘n spesiale diensreeks “omgeval" het, se lewens daarna getuig nie juis van die vrugte van die Gees nie...) Veral as iets gewerk het vir ’n ander persoon of ’n ander gemeente dan wil ons dit sommer ook net vinnig by ons toepas. God werk egter anders - Ja, Hy werk kragtig en radikaal - maar nie met eenvormige kitsoplossings nie. Ja, Hy gee sommige mense wonderlike ervarings wat binne ’n oomblik ’n reuse verskil maak, maar selfs ’n besondere keerpunt ervaring is slegs maar net ’n deel van die pad wat God met sy kinders stap. God stap ’n pad met elkeen van ons. God gaan geduldig op weg met sy kerk. Hy werk deur langsame prosesse. Dis ’n feit - daar is baie bewyse vir hierdie beginsel. Mense word nie onmiddellik na hulle bekering hemel toe oorgeplaas nie. Die baie Nuwe Testamentiese vermanings oor sonde en stryd wys dat dit “normaal” is vir ’n Christen om te stry teen sondes en om met probleme te kampe te hê. 


God se werkinge met sy volk in die Ou Testament is ’n verdere bewys dat Hy tyd en prosesse gebruik om sy doelwitte te bereik.

Die verlossing uit Egipte en die daaropvolgende woestyntog en verowering van Kanaän is uitstekende voorbeelde. Daar is immers duidelike parallelle tussen ons verlossing en die redding uit Egipte, tussen ons heiligmaking en die woestyntog ens.

Deuteronomium 8:1-5 is ‘n uitstekende voorbeeld van Ou-Testamentiese lering wat vir ons wonderlike insig gee in God se werking met ons op die pad van heiligmaking. 

1."Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het.

2."Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.

3. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

4. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie.

5. Jy moet diep in jou hart weet: soos ‘n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

Moses is hier aan die woord. Hy spreek die volk toe in die woestynvlakte oos van die Jordaan.* Die oos Jordaangebied is nou reeds verower en nou moes hulle nog die Jordaan oorsteek om Kanaän te verower. In die eerste gedeelte van Deuteronomium gaan Moses se preke oor dit wat God gedoen het en nog sal doen. Spesifiek in hfst. 7-11 gaan dit oor lesse wat tydens die woestyntog geleer is. Die volk Israel het 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf. Dit kom rofweg daarop neer dat Israel veertig jaar geneem het om ’n tog te voltooi wat eintlik maar 11 dae sou kon duur.** Die rede vir die rondswerf was hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.....(behalwe natuurlik in die geval van Josua en Kaleb) Hier in 8:2-5 kry ons ’n opsomming van dit wat die Here vir hulle geleer het gedurende die lief en leed van veertig jaar:

1) God het hierdie pad gebruik om vir hulle nederigheid (2) te leer. (OAV - verootmoediging). Israel se hoogmoed en trots moes afgebreek word. Hulle moes leer dat hulle niks sonder God is of kan nie. (Vgl. 1:41-46)***   As kinders van God moet ons ons plek voor Hom ken - in nederigheid en gebrokenheid. Christene het gedurig nodig om dit te leer - ons het dit nie sommer vanself nie. Ons vroomheid is dikwels deurspek met hoogmoed en ’n hoe dunk van onsself. “Ek is gered en nou gaan ek die wêreld omkeer.” Ons moet onthou - God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. God gebruik baie metodes om ons nederigheid te leer, selfs ons sonde, mislukkings en foute. Die selfversekerde Petrus moes eers deur ‘n baie diep mislukking en teleurstelling gaan. Hy kan ook ander ellende en beproewinge gebruik. Soos die doring in die vlees” in Paulus se geval... Kind van God - God gaan vir my en jou nederigheid leer al kos dit wat! Ja, ons kry die opdrag om onsself te verneder onder sy hand, maar ons gehoorsaam dit nie juis dikwels nie en daarom gebruik Hy die toetse en beproewings op die harde “woestyn pad” van die geloof.

2) In tye van swaarkry en moeilikhede, en teleurstellings word, is Israel se gehoorsaamheid getoets.(2b) Ons werklike gesindheid teenoor God se wet en wil word geopenbaar as ons onder druk kom. Ons weet ons moet geduld hê as een van die vrugte van die Heilige Gees. Maar hoe sal ek ooit weet of ek geduldig is voordat ek vir ure in ’n ry moet staan en wag om dan nog verder te wag terwyl ‘n onbeholpe amptenaar ongewillig of onbevoeg is om my vinnig te help? God verwag vriendelikheid. Om tussen vriendelike mense se vertoef sal nooit ’n toets wees of ek vriendelikheid het nie - daarom het die Here jou dalk in ’n kantoor vol onvriendelike mense geplaas. Die groot eis van die wet is liefde - om te weet of daar liefde in jou hart is plaas die Here jou in ’n huis saam met ’n moeilike eggenoot of kinders. Op die moeilike woestynpad van die geloof word ons gelouter, word die verborge sondige geneigdheid van ons harte aan die lig gebring en ons gehoorsaamheid word deeglik getoets.

3) Tydens die woestyntog moes Israel afhanklikheid van en vertroue op God en sy beloftes te leer ken. (3) God het vir sy volk in ’n woestyn gesorg. Gevoed en geklee en beskerm. In ’n woestyn waar daar nie kos is nie het Hy vir hulle kos gegee. Hy het hulle van brood voorsien en van vleis voorsien. (Vgl. 2:7) Geloof in God en afhanklikheid van God is iets wat ons nie in boeke kan leer nie. Geloof in die lewende God word net deel van ons in die harde woestyn wêreld van krisisse, finansiële nood, die magteloosheid van ’n siekbed... Die ware aard van ons geloof kom aan die lig - is dit net mooi woorde en fyn uitgewerkte teorie? In die woestyn omstandighede waar mense nie meer kan help nie word ons gedwing om ons ten volle op God en sy beloftes te verlaat. “Niemand kan nou iets meer doen nie, Here net U alleen.” Ons moet ook leer dat alles eintlik om God self gaan, sy Woord en sy karakter en nie dit wat Hy vir ons gee nie! Hy is baie meer wonderlik en heerlik as dit wat HY vir ons gee. Ons moet Hom aanbid vir wie Hy is!

4) Israel is in die woestyn onderwerp aan onderrig en dissipline. (5) die woestyntog was ’n leerskool van vaderlike dissipline. Die lewe wat God van hulle verwag moes ingeoefen word. Hulle moes op die harde manier leer om sy wet te gehoorsaam en sy wil te doen. Op die harde manier moes hulle die gevolge van ongehoorsaamheid leer ken - dink maar aan die verhaal van die giftige slange. Hulle moes leer om God se opdragte ernstig op te neem, want hulle sou dit baie nodig kry in die verowering van Kanaän. As kinders van God moet ons dikwels op die harde manier leer om sy Woord en wil te gehoorsaam. Het dit al gebeur dat jy ’n ding doen of na ’n plek gaan en jy beleef so ‘n vae onrus? Jy weet dis verkeerd, maar dan doen jy dit steeds. En wat gebeur dan dikwels? Dit loop dit uit op ’n groot mislukking, hartseer of selfs skade! Dan besef mens die Here het die hele tyd deur sy Gees met my gepraat, maar ek wou nie hoor nie. Nou moet ek voel. Dis nie lekker nie, maar dit sal my leer om volgende keer meer sensitief te wees vir sy stem.

Elke kind van God is in ’n proses van voorbereiding. 

Voorbereiding vir die beloofde land, voorbereiding tot diensbaarheid. Partykeer verloop baie jare voordat Hy jou vir ‘n groot lewenstaak gebruik of wanneer Hy dink HY het jou nou genoeg aan ‘n bepaalde les laat leer. Dink maar aan die geskiedenis van Moses, Paulus , Jesus...

Kom ons aanvaar met opgewondenheid dat Hy besig is met ons, met my, jou in die spesifieke krisisse wat ons dalk nou mag beleef. 

Kom ons onderwerp ons met blymoedigheid aan sy dissipline. 

Kom ons wees wakker om te verstaan, wat Hy vir ons wil leer en wat Hy in ons wil verander. 

Kom ons sien sy liefde in alles raak. Wat jy dalk NOU beleef is nie lekker nie, maar weet dit is ‘n Liefdevolle Vader wat besig is met opvoeding!

*“In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab.” (Deuteronomium 1:1)

**“Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom.” (Deuteronomium 1:2)

*** Dit gaan hier oor die rampspoedige veldtog teen die Amoriete toe Israel teen hulle gaan veg het sonder dat die Here by hulle was! Israel moes die onderspit delf.


Oom Willie de Bruijne is die afgelope week oorlede... ook hy het 'n lang en harde pad gestap!

Vrydag 27 Julie 2018

VENSTERS IN DIE HEMEL?

JA, GOD SPESIALISEER IN DIE ONMOONTLIKE! 


HAGLIKE TOESTANDE! 

Dit was ‘n situasie van absolute ellende! Ons lees hiervan in 2 Konings 6 en 7. ‘n Skrikwekkende toestand in Samaria die hoofstad van ddie Noordryk! Hiperinflasie! Zimbabwe styl! “Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër. Daar het ‘n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van ‘n donkie naderhand byna ‘n kilogram silwer gekos het en ‘n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram. (6:24-25) [Dis nie seker of die skeppie duiwemis letterlik bedoel is en of dit ‘n bynaam vir een of ander minderwaardige kosbrousel was nie.] 

KANNIBALISME!

Die gevolge van die beleg was meer as net hongersnood. Dit was ‘n desperate toestand! 
“Toe die koning van Israel ‘n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het ‘n vrou uitgeroep: "Help my asseblief, U Majesteit!" 
Hy het geantwoord: "As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?" 
Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: "Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’ 
Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!" (26-29) Ondenkbaar afgryslike gevolge! 

ONGELOOF EN BLAAMVERSKUIWING

Hoe reageer die koning? “Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy ‘n roukleed onder sy ander klere aanhet. 
Hy het uitgeroep: "Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly." (30—31) Hy tree op soos ‘n swakkeling! In plaas van ‘n positiewe voorstel, in plaas van tot God bid, wil hy sy frustrasie op die onskuldige Elisa uithaal. Asof die hele penarie nou Eisa se skuld was...

EN GOD SE MAN? 

Wat maak Elisa? Elisa, die man van God, hy bly kalm en maak ‘n geloofsuitspraak. Nie sommer uit sy eie uit nie. God het met hom gepraat en 'n belofte gemaak! “Maar Elisa sê: "Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal ‘n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria." (7:1) Kos gaan weer volop en goedkoop wees! Dit kom daarop neer dat Elisa geglo het dat God die onmoontlike sou doen. In ‘n dag se tyd sou die hongersnood en lyding verby wees! Kom ons lees nou verder wat gebeur het…. (Lees 2 Konings 7:2-20) 

HOE REAGEER HULLE? 

Ons sien hoe verskillende mense op verskillende maniere in ‘n tyd van ernstige krisis reageer: 

Party raak so desperaat dat hulle hulle nugtere denke en menslikheid verloor. Hierdie vroue het kannibale geword! (In die moeilike sosio ekonomiese omstandighede wat ons nou beleef, kan ons verwag om dit ook te sien – selfsug, hardheid, ongevoeligheid, wreedheid…ja, selfs vorme van "kannibalisme" waar mense mekaar vernietig...) 

Sommige blameer ander, soek ‘n sondebok! Hy wil nou Elisa se kop laat afkap! (31) Nog erger,  die koning het sy begrip van God verloor, hy verwyt God. “Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: "Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!" (33) Hy pak die skuld op andere. Ons hoor dit so dikwels: “Waar was God? Hoe kon God sulke dinge toelaat!” So dikwels het God geen plek in mense se lewens en lewensbeskouing nie, maar as daar 'n krisis kom dan kry Hy skielik die skuld vvir alles...

Andere gaan nog verder en val in die diep put van ongeloof en spotterny. Hoor die koning se adjudant… “Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: "Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën." Elisa het geantwoord: "Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie." (7:2) 

Maar...Die gelowige soos Elisa glo in God wat spesialiseer in die onmoontlike! Hy kyk verby die sigbare omstandighede en sien ‘n almagtige God raak!  Hy bevind homself ook vasgekeer in hierdie gedoemde stad, maar hy glo in God se beloftes!

VIR DIE ALMAGTIGE GOD IS NIKS ONMOONTLIK NIE! HY KAN DIE HARDSTE SONDAAR RED! 

Geloof gaan oor God wat die onmoontlike doen. Juis ook as dit oor reddende geloof gaan. Dit raak ons direk as sondaars! Die verlossing van ‘n sondaar is menslik gesproke die grootste onmoontlikheid wat daar is. Die grootste wonderwerk denkbaar is as God ‘n rebelse sondaar, ‘n slaaf van die duiwel, genadig is, vergewe en bevry! 

Kom ons spring gou na die Nuwe Testament... Paulus gebruik Abraham as voorbeeld van reddende geloof in Romeine 4. Ook Abram het in die onmoontlike geglo, net omdat God dit beloof het! 

“Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: "So sal jou nageslag wees." 
Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 
Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 
Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 
Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.”  (Romeine 4:18-22) 

Ons word uitgedaag om in God te glo. God wat die onmoontlike gedoen het om Jesus uit die dood op te wek! 

Ons word uitgedaag om die onmoontlike te glo dat Jesus se sterwe genoeg was vir my oneindige groot sondeskuld! Miskien word jy vandag gekonfronteer deur al jou sonde en mislukkings van die verlede, 'n verlore toestand. Als lyk so hopeloos. Jy het soveel kerek probeer en soveel krer gefaal...  Glo in God wat die onmoontlike doen. Hy het dit reeds aan die kruis gedoen deur Jesus waar jou skuld uitgewis is! Dis afgehandel! Die volle skuld is betaal!

God doen die onmoontlike! Dis reeds aan die kruis gedoen! Hierdie boodskap is goeie nuus waaroor ons nie mag stilbly nie! Die melaatses is ‘n aangrypende voorbeeld!* 

Elisa se verhaal word vir ons geskryf, om ons te help glo. Ook Abraham se verhaal word spesifiek vir ons geskryf om ons te bring by geloof! 

“Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 
Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 
Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” (Romeine 4:22 - 25) 

Glo, stel jou vertrou op God wat die onmoontlike doen! Sien en proe vanoggend hier by die Nagmaal dat Hy die onmoontlike vir jou gedoen het deur die kruis en opstanding van Jesus! 


* Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: "Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan? 

As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!" 

Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie! 

Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en ‘n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: "Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val." 

in die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug. 

Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in ‘n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle ‘n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. 

Hulle sê toe vir mekaar: "Ons maak nie reg nie. Vandag is ‘n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning." 




Andrew Breytenbach (snr.) en Andrew Breytenbach (jnr.) by 'n ou platesspeler waarmee daar musiek gemaak is tydens ons Dankfeesete! Oom Andrew wat tans op Usakos woon is deel van die geskiedenis van die gemeente. Hy het jare gelede die elektriese bedrading van die kategese klaskamers gedoen. Andrew (jnr.) is tans die leierdiaken van die gemeente.

Vrydag 02 Februarie 2018

Brood en BROOD

- Dis 'n heerlike troos, maar pasop vir 'n misverstand!


Dis nie meer ‘n geheim nie – ons gaan moeilike tye tegemoet op finansiële en ekonomiese gebied. Al hoe meer mense kry dit swaar om kos op die tafel te sit. (En party gaan dalk selfs nie eers meer water in die krane as vanselfsprekend kan aanvaar nie...Ai, Kaapstad!) Mens kan sê daar is in sommige gevalle al broodsgebrek. Die wonder van die vermeerdering van die brode (Lees dit in Johannes hoofstuk 6) behoort vir ons ‘n groot troos te wees. Dis ‘n uiters belangrike wonderwerk wat Jesus gedoen het. (Terloops, hierdie is enigste wonderwerk wat deur al vier evangelies beskryf word.)

HY KAN SORG!

Dis ‘n groot gerusstelling om te weet dat die lewende Jesus in staat is om vir meer as vyfduisend mense kos te gee met net vyf broodjies en twee vissies. Hy kan die bietjie wat ons het en tot sy beskikking stel, baie maak. Hy voorsien in oorvloed. Almal het genoeg geëet, so veel as wat hulle wou hê! Merkwaardig, toe hulle die brokstukke op tel, was daar meer oor as waarmee hulle begin het. Twaalf mandjies vol! “Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het." (13) Die twaalf is natuurlik nie toevallig nie. Dis ‘n teken dat God deur Jesus vir sy volk kan sorg, die twaalf stamme van die volk Israel. Jesus sorg vir ons wat deur die geloof kinders van Abram geword het! Dis ‘n heerlike realiteit.

MISPLAASTE REAKSIE

Hoe reageer die mense toe op hierdie wonder? Hulle besef Jesus is die profeet, waarvan Moses al gepraat het, maar hulle verstaan nie regtig wat sy sending en doel is nie. Hulle wil Hom sommer met geweld koning maak, want hulle reken Hy sal materiële verligting en aardse bevryding (van die Romeine heerskappy) bring. Jesus laat Hom egter nie misbruik nie. Hy val nie vir ‘n valse vleiery nie. “Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.” (15) Dis egter nog nie die einde van die storie nie…

ONS WERKLIKE NOOD EN DIE WARE OPLOSSING!

Die wonder van die vermeerdering van die brood het ‘n baie belangrike nadraai en betekenis soos Johannes dit beskryf. Jesus het die skare verlaat en oor die see vertrek. Later in Kapernaum* praat Hy met die skare oor die betekenis van hierdie wonder. Jesus maak dan hierdie skerp uitspraak : “Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen." (26,27). 

Wat bedoel Hy? Natuurlik bedoel Hy nie dat mens nie moet werk nie. Die hele Bybel is duidelik dat ons moet werk vir ons kos. Paulus stel dit selfs so dat die wat nie wil werk nie, moet ook nie eet nie!** Nee, Jesus bestraf hulle oor hulle materialistiese siening van die Koninkryk van God! Hulle dink dat Jesus gekom het om die lewe vir hulle gemaklik en gerieflik te maak. Hulle het gedink Jesus gaan vir ons van kos voorsien en ons van die Romeinse oorheersing bevry. ‘n Misplaaste en selfgesentreerde verwagting van die Koninkryk. Die mense is opgewonde oor iemand wat brood kan verskaf, maar hulle besef nie dat hulle ‘n groter nood het nie!

Dis presies vandag die probleem. Mense klink dikwels opgewonde oor Jesus, maar hoekom? Jesus moet vir ons reën gee (en sommer Kaapstad se waterprobleme ook oplos), Jesus moet my gesond maak, Jesus moet al my finansiële probleme aanspreek…as Hy dit nie doen nie, is ons baie teleurgesteld. Hoor weer… “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee."  (27) Ons diepste nood is die voedsel wat nie vergaan nie, wat die ewige lewe gee. Ons diepste behoefte is om met God versoen te word! 

Die grootste gevaar is nie hongersnood nie, maar helse straf!


DIE BELANGRIKSTE VRAAG

Nadat Jesus hulle tereggewys het en vir hulle laat verstaan het dat hulle fokus en verwagtinge verkeerd is, vra hulle dan… "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" (28) Hulle verstaan nog nie eintlik waaroor dit gaan nie. Sonder dat hulle dit besef het is dit die grootste vraag van die mens, dis die grootste dilemma van die sondaar. Wat kan ek as sondige mens doen dit God tevrede met my sal wees? Hoe kan ek God tevrede stel? Hoe kan ek weet dat ek as regverdige die ewige lewe het? Dan kry ons die wonderlike en veelseggende antwoord van Jesus. “En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." (29) Wat God van jou vra is nie een of ander prestasie nie, maar eenvoudige geloof in Jesus! Dis genoeg. Dis die wil van God. Dis die enigste vereiste om deel te hê aan sy ewige koninkryk. 

Dit wat Jesus hier leer stem presies ooreen met Paulus se lering. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Romeine 3:28) “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1)

HY IS DIE WARE MANNA

Jesus self is die oplossing vir ons diepste nood, ons sonde nood. Jesus is groter as Moses. Jesus self is die finale Manna uit die hemel, Hyself is God se BROOD aan ons wat die lewe gee te midde van ‘n geestelike woestyn. Baie mense probeer Jesus misbruik. Baie verstaan nie waarom Hy gekom het nie. Baie het verkeerde verwagtinge oor Hom. Hulle verstaan nie hulle ware nood nie. Ons het ‘n groter behoefte aan BROOD as aan brood. Die wêreld se nood, (ryk en arm) is ‘n sonde nood, wat net deur Jesus aangespreek kan word. My en jou probleem is ‘n sonde probleem. Dis ‘n ewigheidsbedreigende probleem, want sonde versteur ons gemeenskap met God en met mekaar. Sonde bring skeiding en verwydering tussen mens en God en mens en mens. Sonde lei uiteindelik tot ewige dood en skeiding.

Ja, ons leef in moeilike tye! Ook in hierdie tye kan ons weet dat ons Here deur sy Gees by ons is en ons sal versorg. Jesus self het ons immers leer bid : ”Gee ons ons daaglikse brood” Maar onthou net altyd, Jesus het gekom om iets groter as kos, gesondheid, geld en gerief te gee – Hy het gekom om vir ons LEWE te gee. Ewige lewe. En wat is ewige lewe? “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” (Johannes 17:3)

KEN JY HOM? Het jy al BROOD gekry?

* In die sinagoge van Kapernaum het, waar baie mense aanwesig was wat die wonder beleef het, het Jesus verdere lering gegee. (59) Presies waar die sinagoge gesprek begin is nie duidelik nie. Volgens Carson kan dit al by vers 27 wees. Sien Don Carson se “The Gospel According to John”, p283

** 2 Tessalonisense 3:10 “Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie."

En Kaapstad? Mag die mense van Kaapstad besef, Jesus is ook self die Lewende Water en dat hulle Hom selfs nog meer nodig het as die water in die krane... Miskien wil Hy vir ons almal iets leer deur hierdie vreeslike krisis...

Donderdag 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους


Vrydag 22 Julie 2016

AS MY GELOOF NIE SO SUKSESVOL IS NIE...

- en die golwe groot raak en ek wil sink...



Van voor tot agter is die Bybel baie duidelik : REDDING KOM DEUR GELOOF ALLEEN! Ons lees al in Genesis 15:6 dat Abram geglo het – “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” God beskou Abram as ‘n regverdige omdat hy geglo het! Die hele Nuwe Testament leer ons , redding kom deur geloof in die Seun van God. “En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:11-13) Dis so onontbeerlik belangrik om te glo en die Bybelse begrip geloof te verstaan... 


PETRUS OP DIE WATER

Die verhaal van Petrus op die water in MATTEUS 14::22-36 gee ons kosbare insigte oor geloof...


  • Ware geloof gaan oor tot aksie. Ware geloof is nie ‘n mooi teorie nie, dis kennis ja, maar dis ook vertroue en dit gaan oor tot aksie. Dit maak ‘n keuse. Petrus ken vir Jesus (wie Hy is), Hy stel sy vertroue in Jesus en dan neem hy ‘n besluit, hy klim uit die skuit en begin na Jesus loop op die water... (natuurlik eers nadat Jesus hom die groen lig gegee het) Ons sien dieselfde beginsel by Abram. God maak beloftes aan hom. Hy glo die beloftes en dit bring hom tot aksie, hy trek... Het jy al Jesus vertrou? Jou ewige toekoms in sy hande geplaas? Ja, jy het al gehoor dat sy offer aan die kruis vir ons sondes volkome en genoeg was, maar het JY Hom al vertrou dat dit ook vir jou genoeg is, het jy Hom al begin volg as Here? ‘n Duidelike keuse gemaak?

  • Ware geloof is dikwels gemeng met angs en twyfel. Geloof is gewoonlik nie ‘n super suksesverhaal nie. Petrus kyk na die golwe en raak bang en benoud. En begin sink. Dink maar terug : Abram se geloof het ook by tye gewankel en dan het hy allerhande menslike planne gemaak... en tog het hy ‘n gelowige gebly. Daar is dikwels ‘n stryd tussen geloof en twyfel in die kind van God se hart. Moenie moed opgee as jy ‘n tyd van twyfel beleef en dink dat jy hoegenaamd nie ‘n kind van God kan wees as jy begin twyfel nie. Ware geloof word juis aangeval met vertwyfelinge. Ware geloof beleef konflik in ons binneste. (‘n Mens sou amper kon sê, dat iemand wie se geloof nog nooit onder druk en aanvegtinge gekom het nie, hoegenaamd nie geloof het nie.)

Wat laat jou twyfel? Wat is die golwe wat jou laat moed verloor? Daar kan baie moontlikhede wees... “My sonde is so groot, my mislukkings is so baie, ek het myself en my medegelowiges en die my Here teleurgestel ... My omstandighede is so moeilik en buite beheer... siekte, finansiële probleme, alles wat net wil skeefloop... Soms kan mens ‘n intellektuele twyfel beleef...hoe werk dit en hoe werk dat, hoe weet ek die Bybel is waar, het Jesus regtig OPGESTAAN uit die dood...?”* En dan kom daar twyfel en vrees in jou hart : “Kyk net, nee wat ek kan nie ‘n Christen wees nie, ‘n Christen kan mos nie so dink of so voel of so maak nie...Twyfel hoort mos nie by ‘n kind van God nie, so ek is seker nie God se kind nie.” Geliefde, die Woord wil jou vandag kom bemoedig. Gelowiges kan wel tye van twyfel beleef. Dis nie die einde van my geloofspad nie. Kyk na Jesus, kyk hoe gryp Hy Petrus vas, kyk hoe help HY hom weer in die skuit...

  • Ware geloof word nooit teleurgestel nie, al vertoon dit hoe swak. Die groot troos in hierdie gedeelte is dat Jesus nie die weifelende en sinkende Petrus aan sy lot oorgelaat het nie. Hy gryp die sopnat Petrus en help hom weer in die skuit. Ja, Jesus berispe vir Petrus oor sy klein geloof, maar Hy los hom nie laat hy vergaan nie. Jesus wil vir Petrus verder help en leer wat geloof is, maar Hy verwerp hom nie oor sy beperkte geloof nie. Gaan kyk maar weer na Abram se geskiedenis, daar is baie wel en weë, baie hartseer en beproewings, maar uiteindelik het al God se beloftes waar geword! 

Dis die heerlike boodskap : 

Dis nie die krag en die volmaaktheid van ons geloof nie, maar die krag en volmaaktheid van Jesus wat ons red!



  • Ware geloof fokus altyd op die persoon van Jesus. Die klimaks van die verhaal is nie Petrus nie, maar Jesus se reddende krag en Goddelike majesteit. Die held van die gebeure is ook nie Petrus nie, maar Jesus. As Jesus eintlik die storm stilmaak dan bring dit sy dissipels tot ‘n belydenis en erkenning : “"U is waarlik die Seun van God." (31) Kyk nou op hierdie oomblik weg van die golwe en bedink wie Jesus is. God het Hom as gewone mens na die wêreld gestuur, gebore uit ‘n jong maagd. God het Hom bekragtig met die Heilige Gees, Hy het wonders gedoen... Hy het gepreek... maar die belangrikste Hy is na die kruis gestuur, waar Hy ons volle skuld en straf gedra het. Die heerlike verlossing bewerk het... Dit word bevestig as Hy op die derde dag opstaan uit die dode en lewend aan sy dissipels verskyn. Brood en vis voor hulle oë eet... Hy vaar op na die hemel, gee vir ons as dissipels werk om te doen en beloof om weer terug te kom. Moenie dat die onstuimige see vol woelinge en geweld in jou lewe jou ontstel nie, maar stel jou vertroue in hierdie Jesus, kom lewe, kom dood... Hy alleen is ons Redder.

Kyk na Jesus en nie na die golwe nie!

* As jy met twyfelvrae worstel oor die Bybel waar is, kliek op HOE WEET EK?





Die Groot Omatako! Moet hom nie onderskat nie, hy het my amper gesink...


Daar's verwoede klippe, steiltes en doringbosse...


maar ek het darem ook bo uitgekom!(en dit weer af gemaak)

Maandag 01 Junie 2015

VERSTAAN JOU OMSTANDIGHEDE REG

- en herwin so jou blydskap as kind van God!


Dis geen geheim nie. Ook God se kinders word dikwels blootgestel aan swaarkry, teleurstellings, ongelukke en allerhande siektes, kwale en ellendes in hierdie lewe. Ja, soms uiters pynlike en onverklaarbare smart... As ons hierdie dinge nie reg verstaan nie, kan dit veroorsaak dat ons ons blydskap verloor en in moedelose swartgalligheid verval. En onthou, Satan is altyd baie gou by om sy eie verdorwe interpretasie aan jou ellende te gee... Hy koggel jou en probeer twyfel saai: “Is dit nou hoe ‘n God van liefde sy kinders behandel...?” Of dalk nog erger : “Sien jy het altyd gedink jy behoort aan God, maar hierdie ellende wys dat jy nie syne is nie...” HEBREËRS 12:5-11* is uiters belangrik as ons as kinders van God die moeilike omstandighede waarin ons ons dikwels bevind reg wil verstaan.

GOD SE REGTIGE EIE KINDERS

Die skrywer bemoedig hierdie kinders van God wat swaarkry: “Wag ’n bietjie julle interpreteer julle swaarkry verkeerd. Julle maak verkeerde gevolgtrekkings! Julle moet hierdie swaarkry in die regte perspektief sien. As julle die doel van hierdie toetse, teenstand en teleurstellings reg verstaan gaan dit juis rede wees vir blydskap en nie vir moedeloosheid nie. Hierdie toetse, teenstand en teleurstellings is ’n bewys dat julle werklik God se kinders is en dat Hy julle werklik liefhet.”

Kom dink bietjie saam met my : As daar stout kinders in die straat verby my stap, dissiplineer of tugtig ek hulle nie. Hoekom nie? Dis nie mý kinders nie. As my eie kinders leiding, opvoeding of straf nodig het gee ek wel dringend aandag aan die saak. Hoekom? Dis MY kinders en ek stel intens belang in hulle welsyn en vorming! Die feit dat God ingryp in ons lewens, ook deur swaarkry en teleusrstellings, bewys dus dat ons sy eie egte kinders is!

Geliefde jy moet besef, die probleme wat jy as kind van God ervaar is ’n bewys dat Hy besig is met ’n opvoedingsproses in jou lewe. Dit beteken ook nie noodwendig dat jy iets verkeerd gedoen het nie. Dit gaan oor bevordering en ontwikkeling van jou geestelike volwassenheid. Dis ‘n leerproses.

TWEE MANIERE VAN OPVOEDING

Ons weet mos daar is basies twee maniere hoe ons as ouers (en God ook) kinders opvoed : deur woorde/inligting, maar ook deur dissipline of straf. Ons weet ook woorde is selde genoegsaam en ander stappe is nodig om ‘n kind te vorm en op te voed. Net so in God se geval met ons. Die Woord alleen is selde voldoende.... God is dus genoodsaak om tugtiging in ons lewens te gebruik.

Die tugtiging, die toetse, teenstand en teleurstellings wat Hy oor ons lewens toelaat, is dus nie ’n teken dat Hy ons afgeskryf het nie! Nee, juis die teenoorgestelde, dis ’n bewys dat Hy intens besig is met ons. Kom ek vra jou : Is jy ’n kind van God? Ervaar jy op hierdie oomblik een of ander toets, teenstand of diepe teleurstelling? Dank God Hy is op hierdie oomblik werksaam in jou lewe! Moenie mismoedig word nie, Hy het ’n baie spesifieke doel met jou. Hy weet presies wat Hy jou deur hierdie swaarkry wil leer. (Natuurlik, alle mense beleef swaarkry, nie net Christene nie. Die verskil lê in die effek - swaarkry dryf ’n kind van God al nader na die Here , terwyl ’n onbekeerde wat swaarkry dikwels al hoe meer verhard en verbitter word.)

DIE GROOT DOELWIT

Wat is God se doelwit met sy kinders hier op aarde? Vers 10 - “sodat ons in sy heiligheid mag deel!” Dis 'n mondvol! God wil hê jy moet net so heilig soos Hy word. Dis hoekom Hy jou gered het. Dis sy ideaal vir sy kinders. Sê nou maar ’n sekere man is ’n beroemde jagter. Hy wil hê sy seun moet ook so word. Nou leer hy hom... deur woorde, maar ook deur swaarkry in die harde werklikheid. Hy vat hom saam veld toe dat hy kan leer om vas te byt en deur te druk, hy laat hom toe om foute te maak, te voel hoe dit is om mis te skiet en teleurgesteld te word. ... Ja, die jagters sal weet, hy laat jou die hele dag agter ‘n gekweste bok aanloop... so leer jy op die harde manier, kosbare lesse en tel ondervinding op wat op geen ander manier verkry kan word nie. God wil hê jy moet heilig word soos Hy! Hy weet watter metodes om te gebruik.

Kom ons raak nou sommer prakties. Deel van God se heiligheid is byvoorbeeld geduld. Nou sê God vir ons in Sy Woord om geduldig te wees. Maar wie gehoorsaam dit dadelik. So wat doen God? Hy bring jou in ’n slegte situasie, waarin jy gedwing word om geduld te beoefen....en hy sal aanhou totdat jy geduld geleer het. (Daardie lang ry in die bank, kinders wat jou geduld beproef, familie omstandighede wat jou tot die uiterste beproef...)

ONS REAKSIE

Wat moet ons reaksie wees in tye van tugtiging? Verdra! (7) Moenie in opstand kom teen die Here nie, laat Hy maar die pad met jou loop! Onderwerp jou aan sy tugtiging (9) “Here wat moet ek nou leer?” Sê : “Here ek buig voor U, verander my!”

Nou ja, hierdie tugtiging wat ons tans beleef is nie lekker nie. Dit laat ons huil! Jy kners op jou tande as die Here jou in daardie lang ry laat staan, jy wil huil oor jou moeilike familie of eggenoot, uitputtende werksomstandighede, vernederings, verontregting en baie ander dinge wat druk en skaaf. Jy is platgeslaan deur 'n ramp...  Voorwaar dit is nie lekker nie. Die Bybel is so realisties. Hy sê dit in vers 11. (Lees) Later het hierdie tugtiging egter heerlike positiewe gevolge. Vrede. ’n Diep innerlike blydskap omdat jy nou al meer in lyn leef met God se wil. Omdat jy ‘n dieper vlak van geestelike insig en volwassenheid bereik het.

ONTHOU NET : DIE HEMELSE VADER WAT ONS OPVOED IS ‘N LIEFDEVOLLE VADER! HY DOEN NIKS WAT NIE NODIG IS NIE EN OOK NIKS WAT ONS NIE SAL KAN HANTEER NIE.

Kind van God as jy regtig God se kind is kan jy maar tugtiging (opvoeding) te wagte wees. Jy gáán toetse, teenstand en teleurstellings beleef. Dis deel van die Christelike wedloop. Maar onthou dis daar met ’n heerlike doel : God wil jou heilig maak! Vir God is jou heiligmaking ’n prioriteit. Want ware heiligheid lei tot ewige ware blydskap!

Waak teen vier wanopvattings (vier valse stellings) :

1. ’n Kind van God se lewe is altyd lekker en sonder probleme. Nee! Nee, dis ‘n eensydige en valse beeld. Oral in die Nuwe Testament word God se kinders gewaarsku dat hulle stryd, beproewings en verdrukking te wagte kan wees. Baie Christene ken egter nie die Woord nie, en is nie voorbereid op moeilikheid nie.

2. As ek hard genoeg bid sal die Here my omstandighede verander. Nee! Hy wil JOU verander. Paulus se gebed dat die Here die doring in sy vlees moet wegneem is die klassieke voorbeeld. God het nie hierdie gebed beantwoord nie, maar hom wel verseker “My genade is vir jou genoeg...” (2 Korintiërs 12:8,9)

3. God se ideaal vir ons hier op aarde is rykdom, gerief en gesondheid. Nee! Verandering na Jesus se beeld is vir God eerste prioriteit. God wil ons vorm dat ons soos Jesus sal word. Ek moet optree soos Jesus in daardie moeilike huislike of werksomstandighede sou opgetree het! (Romeine 8:28-30) Hy wil ons geestelik herstel om in te pas by sy Koninkryk . 

4. As dit swaar gaan is dit omdat die Here my minder liefhet. Nee, juis is dit ’n bewys dat Hy vasberade is om jou nie te los nie, maar te verander. En Hy doen dit omdat Hy vir jou lief is en vir jou ewige welsyn omgee. Selfs al tugtig en dissiplineer Hy ons is dit uit liefde. Onthou weereens, die Hemelse Vader wat ons tugtig is ‘n volmaak liefdevolle Vader en nie ‘n wrede kindermishandelaar nie. 


PASOP VIR VERKEERDE GEVOLGTREKKINGS OMTRENT JOU HUIDIGE MOEILIKE TYE EN OMSTANDIGHEDE! Satan probeer jou mislei, moenie na sy influisteringe luister nie, maar kyk wat sê die WOORD.

*(Hebreërs 12:5)Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie,

(6) want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem."

(7) Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie?

(8)As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie.

(9) Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?

(10)Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

(11) Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

(12) Versterk daarom die slap hande en die lam knieë

(13) en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.


[Hoogwater, Walvisbaai strandmeer.]



Vrydag 06 Maart 2015

BLY BY DIE BYBEL

- en hou koers in moeilike tye!


Ons almal het al moeilike of swaar tye beleef. Ons beleef nou weer ‘n moeilike tyd met ‘n groot droogte. (kliek op DROOGTE) Natuurlik het elkeen sy eie idee wat moeilike tye behels... As daar finansiële druk is, as daar spanning by die werk is, vir sommige as dit eksamen tyd is, of as die meisie in wie jy belangstel, nie in jou belangstel nie... Paulus skryf ‘n brief aan die jongman Timoteus. Hy waarsku hom teen swaar tye, moeilike tye... Waaroor het hierdie moeilike tye gegaan? Wat was so swaar en sleg? Ons lees daarvan in 2 Timoteus 3:1ev “Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (2 Timoteus 3:1-5)

Dit kom daarop neer, mense sal al meer goddeloos en vals wees! ‘n Totaal verkeerde waardesisteem wat eerder op genot as God fokus! Mense sal nog lyk en praat soos Christene (deel wees van die kerk), maar daar sal geen krag in hulle lewens wees nie. Geen krag om heilig te lewe en sonde te oorwin nie.

Hierdie moeilike tye sal gevaarlik wees vir God se kinders. Hoekom?

Dis ‘n tyd van vervolging. “Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (11,12)

Dis ‘n tyd van valse lering, misleiding en afdwaling. “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.” (13) Ander mense sal self die pad byster raak maar ook ons probeer wegtrek van God se pad af en vir ons valse dinge in ons koppe inprent.(Kliek op ABEL)

Die moeilike tye beteken dat ons die gevaar loop om die hemelse prys mis te loop. Dit dreig om ons geestelik te laat verdwaal en koers te laat verloor. 

Nou gee Paulus praktiese raad aan Timoteus (en aan ons) hoe om seker te maak dat ons nie koers sal verloor nie. Advies oor hoe om veilig ons hemelse bestemming te bereik. Hy sê vir Timoteus, jy moet hou by wat jy geleer het, want jy weet mos by wie jy dit geleer het! Maar dan gaan Paulus verder. En sy groot raad is : Bly by die Bybel, wat jy al van kleins af ken! (Terloops ouers, hier is vir julle ‘n belangrike boodskap... Die fondasie van verlossing word reeds van jongs af gelê by jou kinders. Gereelde huisgodsdiens! Wee, die arme kinders wat dit moet ontbeer...)

Kom ons kyk vinnig na 2 Timoteus 3:14-17.

“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Hoekom is die Bybel so belangrik? 

Opsommend kan ons sê : Die Bybel gee vir ons die regte kennis/inligting, sodat ons in Jesus kan glo, sodat ons gered kan word. Die Bybel vertel van Jesus en net Hy kan ons verlos. Belangrik, die Bybel self red ons nie, maar vertel ons hoe ons deur Jesus gered kan word. (‘n Bybel op jou bedkassie gaan jou dus nie in die hemel bring nie.) Die groot punt wat Paulus maak is dat ons maar die Bybel kan glo, want dis deur God geïnspireer. God self het deur sy Gees in die harte van die Bybelskrywers gewerk sodat hulle vir ons die ware en suiwere boodskap oor Jesus kon neerskryf.* Hy onderstreep die kosbaarheid, belangrikheid en onmisbaarheid van die Woord – om dit te ken en natuurlik te gehoorsaam.

PRAKTIES

Dan raak Paulus baie prakties en verduidelik mooi waarmee die Bybel ons help.

Die Bybel onderrig (leer) ons die waarheid. Die Bybel is soos ‘n padteken of ‘n GPS. Die waarheid is die waarheid van Jesus. Oor sy kruis en sy opstanding en dat ons net deur Hom gered word en deur niemand anders nie.

Die Bybel bestry dwaling. Dwaling is al die valse leringe, al die misleiding wat ons hoor. Dis soos ‘n siekte. Paulus beskryf dwaling as ‘n vretende kanker! (2 Timoteus 2:17) Die Bybel is die regte medisyne, die regte inspuiting vir die siekte van valse lering. As jy moedeloos en deurmekaar raak deur mense se stories en leuens, gaan terug met ‘n kinderlike gemoed en verwagting na die Bybel en jy sal weer geestelik gesond word.

Die Bybel help ons om verkeerdhede reg stel. Die Bybel is soos ‘n stel "spanners" wat my geloofskarretjie weer aan die loop kry! Dit help ons om weer reg te dink, waar ons begin verkeerd dink het. Om weer opreg te glo en te volhard.

Die Bybel kweek by ons die regte lewenswyse. Die Bybel is soos ‘n “gym” waar ons geoefen word om gesond en reg te leef. Die Bybel oefen my om die regte leefstyl te hê, die regte keuse en besluite te maak. Die Bybel maak my sterk om die regte lewe te leef al sien en hoor ek elke dag ‘n klomp verkeerde dinge.

Die Bybel oefen ons om reg te dink en reg te doen! Leer en lewe!

Sonder die Bybel sal ons nie die moeilike tye van dwaling, afvalligheid en valsheid kan oorleef nie. Sonder die Bybel sal ons wegdwaal van God se pad en nie by ons hemelse bestemming aankom nie.

Positief gestel, die Bybel berei ons voor om ‘n lewe te leef wat God gelukkig maak. (17) Is jy ernstig om vir God te leef? Wel dan sal jy erns met die Bybel maak. Jy sal erns maak met kerk toe gaan, erns maak met stiltetyd, erns maak met gehoorsaamheid. Ons leef in moeilike tye, moenie moed verloor nie, maak net erns met die Woord van God!

BLY WEG VAN VERKEERDE MENSE EN BLY BY DIE BYBEL!

*Dis baie eenvoudig gestel, maar hierdie is nie die plek om ingewikkelde inspirasie teorieë te bespreek nie.


VRAAG : HOE MOET ONS DIE BYBEL LEES? DIE KORT ANTWOORD IS : MET JESUS AS VERTEKPUNT IN SY GEHEELKONTEKS. (Kliek op KONTEKS en ook op LUGFOTO)