BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Desember 2016

KINDERS VAN DIE STALBABA...

...VREEMDELINGE IN HIERDIE WÊRELD, MAAR JUIS DAAROM HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND!



Lukas 2:7 - “Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” 


Die betekenis is duidelik, daar was (is) nie plek vir Jesus in ons "beskawing" nie, Hy is ‘n buitestaander, vreemdeling, bywoner...

...en Sy volgelinge?

1 Petrus 2:11,12 - “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” 

Die afleiding is baie logies. Jesus se volgelinge is dus kinders van ‘n Stalbaba, hierdie Uitgeworpene vir wie daar nie eers as pasgeborene ‘n plek was nie... Ware kinders van God is mense wat ANDERS is... Ons lojaliteit lê by ‘n ander Koning en ‘n ander Vaderland en ons het ‘n ander leefstyl. Daarom is ons ook maar verworpenes en buitestaanders...

Kinders van God is mense wat deur hulle persoonlike geloof in Jesus en sy kosbare bloed, verlos is van hulle ou sondige bestaan en leefwyse en daarom nou ‘n ander leefwyse en leefstyl het. Daar is ‘n reuse kontras en verskil tussen ons manier van dink en doen en die wêreld waarin ons onsself bevind. Hierdie waarheid het Petrus reeds aan die begin van sy brief beklemtoon waar hy die kinders van God as “vreemdelinge” aanspreek. (1:1) Hier stel hy dit nog sterker as hy die Christene pertinent “vreemdelinge en bywoners noem.” Die kontras tussen God se uitverkore kinders en die wêreld waarin ons tydelik woon is seker geen tyd van die jaar duideliker as gedurende die komende feesseisoen en vakansietyd nie! Dis hierdie tyd van die jaar waarin ons so maklik versoek word om vrye teuels gee aan die uitlewing van ons bose begeertes. Christene leef nie veilig in ’n kweekhuis nie maar in ’n rowwe vyandige goddelose wêreld . Ons leef nie afgesonderd eenkant nie, maar onder die kritiese oë van ons medemense. Die ouens “watch” jou as jy al gesê het dat jy ’n Christen is! Ons dryf ook nie bo die wolke nie maar binne die normale maatskaplike en sosiale strukture van ons omgewing. Hoe gaan ons dit regkry om positief anders te wees (met blydskap) in ‘n stukkende vyandige wêreld?

Die eerste stap tot ’n regte lewensstyl is - Onthou wie jy is. Kind van God, hierdie wêreld met hierdie sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Deur die WEDERGEBOORTE is jy ‘n burger van ‘n ander koninkryk, jy is ‘n onderdaan van ‘n ander Koning!

Ja, jy is ‘n onderdaan van Koning Jesus wat reeds van sy geboorte af ‘n uitgestotene en verworpene was. 

En daarom is dit normaal as almal in hierdie wêreld nie van jou gaan hou nie. Dis normaal as jy uitgestoot, beledig en vervolg word. Samuel Rutherford, die Skotse Godsman het dit so treffend gestel : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.”

Hou vas aan jou nuwe identiteit as burger van God se koninkryk. Herinner jouself daaraan. Kom ons wees prakties – die advertensiewese maak ‘n geweldige appèl op ons almal – natuurlik om soveel moontlik geld uit ons te kry. Die advertensies wil ons vertel hoe lyk ‘n suksesvolle man, hoe lyk ‘n mooi vrou, hoe lyk en doen ‘n gelukkige mens - jy moet baie geld hê, jy moet uitlokkende klere dra, jy moet grootpraat en jou prestasies op Facebook uitbasuin... Dis dan wanneer jy vir jouself moet sê : “My geluk en vrede vind ek op ‘n ander manier as wat die reklame wêreld my wil wysmaak. Hierdie advertensies het eintlik niks met my te doen nie, want ek behoort nie aan hierdie verbygaande koninkryk nie, maar aan die ewige koninkryk!” Hierdie wêreld en sy bates en plesiere gaan verby... (lees 1 Joh 2:15-17.)

Die tweede stap is - Onthou jou van slegte begeertes. Dit lyk my Petrus aanvaar dit as vanselfsprekend dat ons met slegte begeertes gekonfronteer gaan word. Die vraag is net hoe gaan ons dit hanteer? Die Bybelse raad is deurgaans :

Vermy, bly weg van wat verkeerd is. 

Bly weg van verkeerde gewoontes, dinge wat slegte begeertes in jou wek..... Maak werk daarvan : bedenklike tydskrifte, “songs”, TV, ja ook verkeerde vriende... “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (2 Timoteus 2:22) Die OAV stel dit sterker – “vlug”. Jesus self was baie radikaal in sy raad teen verkeerde begeertes. "As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word." (Matteus 18:8,9) Baie belangrik- ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag. Ons kan egter verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (1 Petrus 4: 4,5)

Die derde stap is - Hou jou lewenswandel skoon en doen goeie werke. Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe is ten diepste goed. Gaan uit jou pad uit om goed te doen aan ander! (Titus 3:8) Op die ou end moet mense dit insien en erken. Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Dis ‘n feit, daar is so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid...

 Vriendelike heiligheid, nie dikbek heiligheid nie. Vreugdevolle heiligheid, nie ‘n droewige heiligheid nie. Positiewe heiligheid, nie ‘n heeldag geklae oor die regering, die ekonomie en al die slegte mense nie! 

Wys met jou ‘n lewe ‘n positiewe alternatief vir die wêreld met sy skynvreugdes, die ydele gejaag na wins, die verstikkende selfbejammering en selfsug. Ons blye heiligheid moet uitgestal word. Dis in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik!” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word en God op die oordeelsdag verheerlik.

Opsommend :

1.Laat ons voortdurend bewus wees van wie ons is - vreemdelinge en bywoners. Ons pas nie hier nie, ons hoort nie hier nie! Maar ons is wel voluit betrokke omdat dit God se wil is dat ek en jy nou hier moet wees!

2.Christene se getuienis sal effektief wees wanneer hierdie getuienis nie net woorde wees nie, maar goeie dade wat sigbaar is. Wat sien mense, wat hoor mense nou op hierdie tyd in jou lewe? Wat gaan hulle in hierdie feestyd van ons sien? Sal dit hulle bring tot verheerliking van God of sal dit hulle nog verder afstoot van God ?

3.Ons wen nie mense vir die waarheid deur te konformeer nie, maar juis deur anders te wees in alle opsigte. Die kerk het net aantrekkingskrag solank ons anders as die wêreld is. Solank ons ‘n alternatief verkondig en uitleef!

GAAN LEEF NOU HEERLIK ANDERS, POSITIEF VERSKILLEND AS 'N VOLGELING VAN DIE STALKIND!


Persoonlik - ons beoog om andere hierdie vakansie 'n draai te maak op Koppies in die Vrystaat waar ons 'n kort maar besondere tydjie in ons lewe kon deurbring... en ja, dis hoe Marisja en Jonette op 'n tyd gelyk het...



Donderdag 24 November 2016

MOENIE KANNIBALE WORD NIE!

- gebruik jou vryheid verantwoordelik in liefde.


’n Christen kannibaal - al van so iets gehoor? Dis eintlik ’n bietjie ondenkbaar - kannibalisme word meestal geassosieer met ruwe barbare wat in wilde ekstase om ‘n vuur dans in afwagting van ‘n grusame maaltyd van mensevlees, heidene wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Kannibalisme is egter ook ’n gevaar in die kerk van Jesus Christus. So lees ons in Galasiërs 5:15 – “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” Ja, en dit gebeur nogal dikwels - vra maar rond - hoeveel mense het juis seer gekry in die kerk, tussen God se kinders...

LEERSTELLINGS MOET LEI TOT ‘N NUWE LEEFSTYL

Vanaf Galasiërs 5:13 begin 'n nuwe afdeling van die hierdie brief van Paulus. Dis ‘n gevestigde patroon van Paulus in sy briewe dat hy eers die leerstellige basis behandel – naamlik redding deur geloof in Jesus en dan praktiese opdragte en vermanings oor hoe om hierdie redding uit te leef. In Galasiërs het Paulus weereens die redding deur die geloof in Jesus alleen beklemtoon teenoor die Judaïseerders wat geleer het dat die wet (spesifiek die besnydenis) ook nodig is vir redding. Paulus het beklemtoon - deur geloof in Jesus is julle volledig vrygespreek en vry van alle Mosaïese wetgewing van die Ou Verbond!

Maar nou moet hierdie leerstellige waarheid prakties neerslag vind in ons lewens. Leerstellings (waarhede) is nie ‘n doel opsigself nie, maar is die fondasie waarop die praktiese Christen lewenswyse gebou moet word. Dit wat jy regtig glo sal en moet 'n invloed hê op dit wat jy doen. 

Ons glo pragtige korrekte dinge, maar word dit gesien in ons lewens? 

Paulus praat nou direk met God se kinders.* Die vryheid van die gelowige is reeds duidelik deur Paulus verduidelik. “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.” (5:1) Dis Christus wat ons volledig vrygemaak het. Dis kosbaar! Moenie weer ‘n slaaf word nie...

VRYHEID IN VERANTWOORDELIKHEID

Die vryheid van God se kinders is 'n feit en 'n voorreg. Paulus herhaal weer die feit van die vryheid van God se kinders. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders;” (5:13) Hierdie vryheid bring egter ook verantwoordelikheid mee. Die vraag ontstaan nou- hoe lyk hierdie vryheid, wat is die praktiese gevolge, hoe moet hierdie verantwoordelikheid uitgeoefen word? Die regte gebruik en aanwending van hierdie vryheid word negatief en positief gestel. 

Negatief -13b - “gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie,” (OAV) “Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie.” (NAV) “Die "vlees" –verwys na die sondige menslike natuur, verdorwe aard van die mens. (vgl. Ef 2:3) Die woord wat hier met "aanleiding/geleentheid/verskoning"* vertaal word, beteken in die militêre sin die basis waarvan operasies uitgevoer word. Die beeld is hier van die sondige natuur wat die posisie van 'n vyandige opponent gebruik as 'n basis, vir sy aktiwiteite. Dit gaan hier oor 'n waarskuwing om nie vryheid te misbruik as verskoning (pretext) of geleentheid om toe te gee aan die wense van ons sondige natuur nie. Ons sondige menslike natuur is maar 'n kansvatter, as hy hoor van die vryheid in Christus wil hy dit misbruik. Dit mag nie - onder geen omstandighede nie! Dis hoegenaamd nie in lyn met die Christen betekenis van vryheid nie! 

Positief - 13c“maar dien mekaar in liefde”. Liefde is hier die manier hoe hulle mekaar moet dien. Liefde is hier die liefde tussen Christene. Interessant Paulus gebruik die woord dien** (letterlik - slawe wees) binne die konteks waar hy juis die vryheid van Christene beklemtoon. Dit onderstreep die feit dat hoe vry die gelowiges ook al mag wees, hulle behoort nie aan hulleself nie - die doel van hulle vryheid is onderlinge diens deur liefde. Deur hierdie paradoks word die ware aard van Christelike vryheid uitgedruk - nie soos die Grieke dit verstaan het(en dikwels ons) as dat ek die meester van my eie besluite is nie, maar vryheid vind uitdrukking in die kapasiteit om andere deur liefde te dien. 

LUTHER SÊ DIT SO TREFFEND

Martin Luther was lank ‘n slaaf van twyfel, vrese, van Roomse leerstellings, reëls en rituele en daarom was die vryheid wat die eenvoudige evangelie vir hom deur die geloof in Jesus gebring het, baie kosbaar.

Een van Luther se beroemdste geskrifte is getiteld OOR DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN, wat in 1520 verskyn het. Hierin maak hy ‘n merkwaardige paradoksale stelling : 

‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; 
‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan. 

In die midde van die felle stryd teen Rome en al die gevaar daaraan verbonde, lewer Luther ‘n lofwaardige getuienis oor die vryheid van God se kinders. Vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel, vry van allerhande kerklike rituele en ondraaglike laste - maar juis deur geloof in Christus verlos tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! Daarom is die vrygemaakte kind van God iemand wat nie in homself leef nie, maar in Christus en sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

Ons hemelse Pa het ons ‘n persent gegee – verniet, want dis ‘n geskenk... ons is vry, ons skuld niks daarop nie en hoef nie daarvoor te werk nie, maar uit dankbaarheid deel ons die geskenk vrywillig met ander. Dankbaarheid vir sy vrye guns lei tot diensbaarheid in liefde!

DIE FOKUS EN ESSENSIE VAN DIE WET

Paulus gee nou die rede waarom hy kan sê dat onderlinge diens deur liefde die doel en fokus punt van gelowiges se vryheid is. “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat**: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (5:14) Die “hele wet” verwys na die bedoeling van die wet as geheeleenheid wat vervul word in die een gebod. Hy verwys na Lev 19:18b wat sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die bedoeling hier is nie dat ons eers onsself moet liefhê voor ons ander kan liefhê nie,maar primêr dat ons ander moet liefhê met dieselfde spontaniteit en intensiteit as wat ons onsself liefhet. In die konteks hier is die naaste primêr, die mede-Christen. Die wet word vervul deur die liefde. Paulus kondenseer die wet as geheel in die een enkele gebod van die liefde.*** (liefde vir God natuurlik is nie uitgesluit nie, dis vanselfsprekend). 

In vers 15 verwys Paulus na onenigheid onder die Galasiërs, moontlik aangevuur deur geskille wat ontstaan het a.g.v. die Judaïseerders se leringe. Hulle word gewaarsku dat die gevolge hiervan selfvernietiging is. 

LAAT ONS OPSOM :

1. As mense wat deur Christus deur die evangelie vrygemaak is moet ons pasop vir twee gevare : terugkeer na slawerny van die wet aan die een kant en misbruik van ons vryheid aan die anderkant.

2. Vryheid van die wet beteken nie en is geen goedkeuring vir wetteloosheid en losbandigheid nie. Vryheid bring sy eie verpligting naamlik die korrekte gebruik van daardie vryheid. Radikale vrywillige liefde!


NIE BYT NIE, MAAR DIEN!

Die enigste sinvolle reaksie op ons kosbare verlossing en die vryheid wat Jesus ons gebring het is liefdesdiens. As ons die bevryding en vrede waarvan die Kersboodskap getuig regtig ontvang het, sal ons mekaar nie byt nie, maar mekaar begin dien. AMEN

Notas :

* Deur die beklemtoonde gebruik van "julle" tref Paulus 'n duidelike onderskeid tussen sy lesers en die agitators (die Judaïseerders) .

**“vervul” OAV

*** Drie opmerkings is van belang : 

1)Deur Christus se verlossing is gelowiges vry van die wet en dus onder geen verpligting om sy statute te onderhou nie.

2) God se wet bly egter 'n uitdrukking van Sy wil, wat vereis dat ons ons naaste liefhet soos onsself. 

3) Hieruit volg dat dit wat die wet as geheel van ons verwag, vervul word, aan voldoen word wanneer ons as medegelowiges mekaar in liefde dien. Deur lief te hê voldoen ons aan die diepste vereistes en bedoeling van die wet. Die wonder van die Nuwe Verbond is dat God se wette nou in ons harte geskryf is, nie in die vorm van reëls nie, maar in die vorm van ‘n begeerte om vrywillig lief te hê! Hierdie liefde is natuurlik nie bloot ‘n sentimentele gevoel nie, maar het duidelike etiese implikasies. (Kliek op Mauritius)

Saterdag 19 November 2016

"SY VRYE REG"

Ons het seker nou almal reeds kennis geneem van  die beswaar teen ds. Dirkie van der Spuy wat via DIE KERKBODE se digitale weergawe gevoer word. (kliek op VELDTOG TEEN VAN DER SPUY)

Die verblydende nuus is dat die voorsitter, onder voorsitter en algemene sekrataris van die moderamen 'n verklaring uitgereik het waarin gemeld word dat dit ds. Dirkie se "vrye reg" is om sy tevredenheid met die AS 2016 besluit in 'n e-pos aan sy gebedsondersteuningsgroep uit te spreek. Volgens die verklaring kan dit nie veroordeel word as 'n persoon bly is oor 'n besluit van die AS nie.

Ek is werklik dankbaar dat nugtere oordeel geseëvier het! Weereens 'n oorwinning vir die waarheid en liefde!


Dinsdag 15 November 2016

OP HULLE AGTERPOTE

- die liberales het hulle mes in vir Ds. Dirkie van der Spuy.

[Kom ons bid vir hom en ondersteun hom]

Dis nou reeds algemeen bekend dat die Buitengewone Algemene Sinode (BAS) van 2016 'n baie meer Skrifgetroue besluit oor die selfdegeslagkwessie geneem het as die AS 2015 wat aan praktiserende homseksuele predikante die groen lig gegee het. Die BAS 2016 besluite is baie versigtig  (myns insiens te vaag) verwoord, maar dit kom in wese wel neer op 'n omkering van AS 2015 se besluite en kan beslis as 'n oorwinning vir die evangelie beskou word. Ja, inderdaad kan ons die hand van die Here hierin sien, al moet ons besef dat die stryd om die hart en siel van die NG Kerk beslis nie verby is nie. Met die teologiese fakulteite as teelaardes vir liberalisme sou dit uiters kortsigtig wees om te dink dat die draers van die pro-gay agenda nou gaan stilbly en hulle by die BAS 2016 se besluite gaan neerlê. Dit het nou reeds duidelik geword in die aanvallende ope brief wat aanvanklik deur 172 persone onderteken is en gemik is teen ds. Dirkie van der Spuy van Moreleta Park NGK op grond van 'n e-pos wat hy kort na die BAS 2016 besluit uitgestuur het.

Intussen het die getal ondertekenaars aangegroei tot meer as 600. Natuurlik het elke persoon seker die vryheid om te teken wat hy wil, maar ek wonder net of dit nou eties korrek en normaal is dat 'n blad soos DIE KERKBODE as ywerige platform gebruik word om 'n lid van die moderatuur te beswadder? Dit lyk asof die redakteur baie entoesiasties meedoen, want die getal ondertekenaars word gereeld opgedateer... Neels , ek wonder of jy so 'n petisiebrief  teen die professore wat byvoorbeeld die liggaamlike opstanding van Jesus ontken het sou toelaat?

Onderaan is die brief wat ds. Dirkie in sy privaat hoedanigheid gestuur het. Oordeel maar self of hy iets verkeerds gedoen het. My siening is NEE. Is dit verkeerd om bly te wwes vir 'n oorwinning van die Woord? Wil die liberales wat wyd en syd hulle dwalinge verkondig nou aan 'n predikant kom voorskryf oor wat hy mag skryf en sê? (Die ironie is dat van die ondergetekendes self die allergruwelikste dwaalleer in die openbaar kwytgeraak het)

DS. VAN DER SPUY SE BRIEF

Broers en susters,

Hier is die besluit van vanmiddag.

Baie dankie vir julle gebede en ondersteuning.

Dit was ‘n geweldige stryd maar uiteindelik ‘n wonderlike oorwinning vir God en sy Woord.

Die Here het Moreletapark se besluit wat goedgekeur is deur die AS, gebruik om ‘n keerpunt in die besluite te bring en die hele koers van besluite in ‘n nuwe rigting te stuur.

2015 se ongelukkige besluite wat soveel stryd en ongelukkigheid veroorsaak het, is van die tafel af en met nuwe behoudende besluite vervang.

Dit was weereens vir my wonderlik om te sien hoe die Here self kom oorneem het en ‘n wonderwerk in Sy kerk kom doen het.

Sien ook: Die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode het hard en duidelik nee gesê vir enige seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die sinode het herbevestig “dat die huwelik deur God ingestel is as ‘n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ‘n vaste formele ▸▸▸ http://kerkbode.christians.co.za/2016/11/10/ng-kerk-se-nee-vir-gay-verhoudings/


Seënwense
Dirkie


OPE BRIEF VAN 172 (aan dr. Claassen die algemene sekretaris van die NGK)

Beste dr Claassen

Ons het met onsteltenis kennis geneem van ‘n e-pos wat direk na afloop van die Buitengewone Algemene Sinode deur ds Dirkie van der Spuy aan onder andere gemeenteleiers van die NG Gemeente Moreletapark gestuur is. (Die e-pos word by hierdie skrywe aangeheg).

Ons wil ten sterkste beswaar maak teen sowel die inhoud as die triomfantelike toon van sy skrywe.

Uit sy verwysing na die “geweldige stryd” en die “wonderlike oorwinning vir God en sy Woord” is dit duidelik dat dit hier oor veel meer gaan as persoonlike instemming met die besluit wat deur die sinode geneem is.

Die duidelike implikasie van sy woordkeuse is dat die standpunt van die persone wat tydens die vergadering in die minderheid gestem het, in stryd is met God en met sy Woord. Dit word bevestig deur die feit dat die uitslag van die besluitneming deur hom beskryf word as ‘n bewys dat “die Here self kom oorneem het en ‘n wonderwerk in Sy kerk kom doen het.”

Behalwe dat ons op ‘n baie diep vlak aanstoot neem aan hierdie kwalik bedekte beskuldiging van kettery en/of leerdwaling, dink ons ook dat dit uiters onverantwoordelik van ‘n persoon in ‘n leiersposisie in die NG Kerk is om hom op so manier uit te spreek – veral in hierdie tyd van groot spanning en dreigende skeuring in die kerk waarvoor ons almal lief is.

Ons is ook besorgd oor die verwysing in ds Van der Spuy se skrywe na “Moreletapark se besluit wat goedgekeur is deur die AS.” Dit wek die indruk dat daar ‘n versteekte agenda agter die verloop van die vergadering was, en dat die vergadering dus op ‘n onaanvaarbare wyse gemanipuleer is.

Dit is vir ons moeilik om te dink dat hy kan voortgaan om hierdie leiersrol in die moderatuur en in die moderamen te vervul sonder om die verdeeldheid wat daar reeds in die kerk is, verder te versterk.

Ons sal dit waardeer as daar dringend aan hierdie aangeleentheid aandag gegee kan word en hoop dat die optrede wat daaruit voorspruit, die vertroue in die leierskap van die Algemene Sinode sal herstel.

Groete in Christus




André Bartlett
Julian Müller
Ronell Bezuidenhout
Cecile Cilliers
Annemie Bosch
Nico van Rensburg
Wentzel van Huyssteen
Carike Noeth
Jan Viljoen
Benjan Knoetze
Tielman Roux
Jacobie M. Helena Visser
Eduard Enslin
Delene van Dyk
Riaan de Villiers
Ghisnene Muller
Hennie Pienaar (jr)
Deon Kitching
Johann Enslin
Johan Janse van Rensburg
Corneil Oberholzer
Johan Stander
Johan van der Merwe
Carin van Schalkwyk
Anje Zeeman
Elzanne van der Westhuizen
Jan Coetzer
Michelle Nieuwoudt-Boonzaaier
Nina Müller van Velden
Leon Forsmann
Willie Badenhorst
Renier Lourens
Felix Smith
Hennie Pienaar (sr)
Emma Pienaar
Pieter Visser
Samuel Heine
Lyn van Rooyen
Gideon van der Watt
Andries Erwee
Stefan de Klerk
Helgard Pretorius
Phillip Potgieter
Luané Buys McLachlan
Coenie Nolte
Johan Conradie
Lulani Vermeulen
Wynand du Plessis
Martin Lazenby
Charon Buchner Marais
Sunelle Stander Lays
Marlene Schader
JP Ellis
Christi Thirion
Gerhard Bothma
Alphonso Groenewald
Johan Vorster Beyer
Judith Kotzé
Douw G Willemse
Pieter Dorey
Hein Kotzé
Fanus Hansen
Izak Muller
Johan Janse van Rensburg
Schalk van Wyk
Auke Compaan
Johan Botha
Elize Morkel
Marietjie van Loggerenberg
Frans Klopper
Ben du Toit
Jacob Meiring
Jaco Botha
Bianca Botha
Tiana Bosman
Liezel van der Westhuizen
Erna van der Westhuizen
Annelet Slazus
Lidia Theron
Barend Nel
Esmarie Mare
Danie Veldsman
Chris McLachlan
Louis van Niekerk
Evert Knoesen
Etienne van Zyl
Elretha Bartlett
Andreas van Rooyen
Amanda Strydom
Marna Nel-Steyn
Aletta Ellis
Sanel Roux
Marilize Kalis
André Kalis
James Kirkpatrick
Gerda-Marié van Rooyen
Retief Müller
Johann Meylahn
Irma Nel
Jan Nel
Lou-Maré Denton
George Rauch
Linette Retief
Freddie van der Westhuizen
Wouter de Wet
Sias Botha
Etienne Pheiffer
Louis Jonker
Neels du Plooy
Julie Claassens
Charlene van der Walt
Michiel Strauss
Cobus Bester
Llewellyn Jackson
Werner Venter
Han Janse van Rensburg
Francois Claassens
Eureka Oosthuizen
Anton Bester
André Agenbag
Daniel D de Kock
Schalk W Naudé
Sara Fouche
Eulogia Murray
Attie Botha
Adriaan van der Wart
André Smuts
Charles Naudé
Colleen Naudé
Terence Cooke
Jana Dickason
Johan van den Heever
Dawfré Theron
Arno Meiring
Lieze Meiring
Frans du Plessis
Dirk Cilliers
Brando Smit
Piet Meiring
Dawid de Villiers
Gerda de Villiers
Cas Wepener
Dieter de Bruin
Nadia Marais
Marié Britz
Eugene Malan
Murray Coetzee
Gys Loubser
Johan van der Merwe
Ida Brink
Almatine Leene
FD Hugo
Anton Pienaar
Dewald Niemandt
André de Villiers
Antje du Plessis
Doret Niemandt
Charl Janse van Rensburg
Marius J Nel
Jeremy Punt
Laurie Gaum
Steyn Kleynhans
Braam le Roux
Robert Vosloo
Wiehahn Maritz
Michelle Marais
Jeanine Hepburn
André de Villiers
Aneleh Fourie le Roux*

My verdere kommentaar : Nou wonder ek maar net wat is fout as 'n predikant aan sy gemeente leiers 'n e-pos stuur waarin hy die Here dank vir 'n oorwinning van die waarheid oor die leuen? Die liberales (waaronder teologiese proffesore) verkondig  wyd en syd hulle teologiese voorkeure op sosiale media en in die pers... Het mens nie meer reg op eie opinie as dit indruis teen die vrysinnige teologie nie?  Hierdie lys name is meestal ou bekendes in die kringe van die liberale teologie, gay propaganda saak en saampraters in Jean Oosthuizen se Facebook en Twitterkoor... Ongelukkig is daar ook persone uit Namibië wat hierdie heksejag teen ds. Dirkie (voormalige predikant van die gemeente Pionierspark) blykbaar goedpraat. Voorwaar, alle Godvrugtiges sal vervolg word...  Kom ons ondersteun ds. Dirkie van der Spuy in die gebed en soos die Here ons mag lei.

*slegs die name van die aanvanlike groep word hier genoem

Vir die jongste verwikkeling (Vrydag 18 November) kliek op VRYE REG


Vrydag 11 November 2016

PRINS TRUMP

- Sal uiteindelik ook geen heil bring nie.



Die wêreld is steeds in ‘n toestand van ontnugtering, skok en verbasing. “Dit kan tog nie wees nie...” Ek kan my probeer indink dis seker soos daardie gevoel wat ek jare terug in Pretoria-Wes gehad het, toe my bakkie bykans voor my oë gesteel is. "Is dit als net ‘n nare droom?" Die selfversekerde Clinton met haar liberale feministiese aanhangers en groot geld Wallstreet ondersteuners het hulle gereed gemaak vir ‘n juig partytjie (Newsweek tydskrif het reeds ‘n oorwinningsuitgawe gepubliseer gehad), maar word toe gekonfronteer met die ondenkbare werklikheid van ‘n loesing. Kort tevore het die Amerikaanse pers gespekuleer dat Bush waarskynlik die laaste Republikeinse president was, maar nou is daar ‘n Demokratiese dermuitrygery oor wat verkeerd geloop het... (“Ja, julle moes nie so vir arme Bernie Sanders bevark het nie, julle moes nie so baie op minderhede gefokus het terwyl julle die wit werkersklas vergeet het nie, die Clinton elite is uit voeling met wat werklik in Amerika aan die gang is...”) Meningspeilers loop (weer) met rooi gesigte... (soos na die uitslag van die Brexit referendum) Wys jou net weer die beperkings van menslike wysheid en insig...

Maar daar is natuurlik ook miljoene Amerikaners vir wie dit die aangenaamste verrassing in jare was. (Miljoene het immers entoesiasties vir hom gestem)  En 'n groot deel van hierdie opgewondes is Christene, ook soms Christene in ander lande...


Behoort Christene baie opgewonde te wees en hoe opgewonde?

Net enkele perspektiewe vanuit 'n Bybelse oogpunt :

Temper maar bietjie die vreugde. In baie evangeliese kringe is daar groot blydskap dat Trump vir Clinton en haar liberale gespuis ‘n loesing gegee het. Ek moet eerlik wees, dit gee my ook ‘n plesier om te sien hoe ‘n "underdog" ‘n geveg wen. En dis nog ‘n groter lekkerte as die verloorders die polities korrekte liberale elite is. Tog meen ek dat ons as Christene hierdie lekkerkry gevoel oor ‘n Clintonverloor maar moet temper met nugtere en realistiese Bybelse denke. 

Beslis kan Trump moontlik ‘n positiewe invloed hê op kernbelangrike besluite soos die vul van vakatures in die Amerikaanse hooggeregshof. Daaroor moet ons bly wees. Beslis kan ons versigtig hoop dat Trump (veral onder die positiewe invloed van Mike Pence) ‘n rigting kan inslaan wat meer Christen vriendelik sou kon wees as wat Hillary sou doen...

maar... Pasop vir ‘n misplaaste euforie. (Onthou ook sommer maar weer vir Animal Farm...) Die waarskuwing van Psalm 146 is nou meer van pas as ooit tevore.

“Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. 
Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. 
Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, 
wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;" (Ps. 146:3-5)

Christene wie se vreugde nou geen perke ken nie, moet pasop vir dieselfde fout as wat die Obama ondersteuners ‘n klompie jare terug gemaak het. Hy was die kandidaat wat positiewe veranderings aan ‘n oorlogsmoeg Amerika beloof het... Hy het vroeg in sy termyn sommer al ‘n Nobelprys vir vrede ingepalm... Helaas, vandag is daar nog steeds geen vrede in die wêreld nie. Trump gaan onmoontlik nie al die probleme kan oplos en die veranderinge kan bewerkstellig wat hy beloof het nie. (Ek vermoed hyself weet dit reeds, trouens ek dink maar hy is bloot ‘n slim populis wat sy boodskap by sy gehoor aanpas om mag te verkry. Amerikaanse Zuma tipe as jy my vra...)

Trump se oorwinning onderstreep net die geestelike bankrotskap van die Amerikaanse samelewing. Die feit dat beide groot kandidate Trump en Hillary mense met bedenklike morele waardes is, laat jou wonder oor die stand van die Amerikaanse samelewing. Geld morele waardes glad nie meer as ‘n aanbeveling nie? Dit wys ook op die oppervlakkigheid van Amerikaanse Christenskap – beide partye se kandidate sou hulleself as Christene beskryf. Wat het geword van die begrip Christen? Dit laat mens ook wonder oor die onderskeidingsvermoë van baie sogenaamde “evangelicals” wat Trump opgehemel het. Om uit nood vir iemand te stem is een saak, maar om iemand met ‘n gruwelike morele rekord so aan te prys, grens aan ‘n die-keiser-se-klere tipe storie. Christene vir wie die waarheid saakmaak kan nie met entoesiasme daaraan deelneem nie.

Gelukkig het ons as Christene ons eie Prins!

Ons kan opnuut weer bevestig dat ons ons heil in Hom alleen vind en ons verwagting op Hom alleen stel. Hy maak nie leë beloftes nie, Hy het nie geraamtes in die kas nie, Hy soek nie die goedkoop eer van mense nie, maar doen die wil van sy Vader en dit tot ons ewige welsyn en voordeel! Oor Hom kan en moet ons onbeskaamd en onbeperk juig!

Vrydag 04 November 2016

NET EEN VRAAG…

- KEN JY GOD?


Ken jy God? Ken jy Hom regtig? Dis die belangrikste vraag in jou hele lewe. 
Waarvoor is ons geskape? Om God te ken. 
Wat is die grootste doelwit wat jy vir jouself kan stel? Om God te ken. 
Wat kan jou nooit verveel nie? Om God te ken. 
Wat is die beste ding in hierdie lewe, wat maak regtig saak, wat bring die grootste vreugde en vergenoegdheid? Om God te ken. 

Dis tog die duidelike implikasie van God se boodskap hier in Jeremia 9:23,24 wat lees : “So sê die Here: Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken. Ek is die Here. Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde, want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.”

NIKS BELANGRIKER

Jy kan slim wees (met ‘n Dux toekenning agter jou naam), sterk wees (ysterman of dalk die bes geboude ou in die gym), ryk wees, in alle opsigte suksesvol wees, maar as jy God nie waarlik ken nie, beteken dit als niks. Dan is jy soos die ryk dwaas in die gelykenis waarvan God gesê het, “so gaan dit met iemand wat nie ryk is by God nie.” 

Kom ons vra dit so: Wat is die lewe? Om God te ken. Wat is die ewige lewe? Om God te ken. 

In Johannes 17:3 sê Jesus self : “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” 

Dis duidelik : 

Om God te ken is vir nou en eendag die heel grootste en verhewe saak waarmee ek en jy kan besig wees!

WAT STAAN MY TE DOEN?

Begeer jy om God te ken? En hoe en waar gaan ons Hom regtig leer ken? 
Die eerste stap is sekerlik om eerlik te besef, dat ons Hom sleg ken, eintlik glad nie ken nie. Ja ons is dalk besig met godsdienstige dinge, maar ons ken Hom so sleg. Daarom is daar so min blydskap oor Hom, so min entoesiasme, so min liefde vir Hom. Soveel vrees, onsekerheid...

Nou wat beteken dit om God te ken, prakties? Is dit ‘n spesiale gevoel? Is die koue rillings wat langs my ruggraat afhardloop? Is dit soos ‘n soos hallusinasies of visioen? Moet ek ‘n stem hoor? Is dit ‘n diep intellektuele ervaring, ingewikkelde stellings wat ek moet kan verduidelik?

Kom ons begin hier... Wat beteken dit om ‘n ander persoon te ken? Wel, “ken” kan op verskillende vlakke wees, jy kan bloot van iemand gehoor het, jy kan iemand al vlugtig ontmoet het, jy kan iemand so van sien ken en af en toe ‘n paar woorde wissel, daar is baie grade van “ken”. Om God waarlik te ken is iets meer as om net van Hom te weet...

Om God te ken is om sy karakter te ken, Hom volkome te vertrou en in ‘n verhouding met Hom te staan, ‘n verhouding wat kosbaar, diep, innig, verhewe is bo enigiets anders op aarde. Om God te ken, die verhewe almagtige God, skepper van hemel en aarde, ver bo ons verstand en denke is natuurlik baie meer kompleks as om ‘n medemens te leer ken. 

Daar is ‘n groot afstand tussen ons en Hom: 

God is Gees; ons is net mense van vlees en bloed. 

God is onsigbaar en orals; ons is net beperkte mense met beperkte sintuie. 

God is ewig; ons is net tydelik.

God is heilig en volmaak; ons is sondig, boos en gebroke. 

Dis hier waar die groot probleem lê. Ons lees ook in Jeremia 9, God is ‘n God van liefde, reg en geregtigheid. Maar net verder aan lees ons : "Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf, of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is, of die woestynbewoners wat hulle koppe aan die kante kaal skeer, want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My". Hy is dus ook ‘n God wat straf. Hoe kan ons hierdie God leer ken en met Hom in ‘n verhouding staan, want ons liefdeloos, vol onreg en onregverdigheid. Gaan sy straf ons dan nie verteer nie?

Weereens : Hoe kan ons hierdie hoë verhewe en heilige God leer ken? Wel dis baie duidelik, ons is afhanklik van Hom dat Hy Homself aan ons openbaar. Hy moet as’t ware afdaal na ons. Hy moet sê : Hier is ek! Kom leer ken my!

HY KOM EERSTE NA ONS

Weet jy, dis wat God doen. Hy kom na ons en Hy kom na ‘n mens baie persoonlik. Hy kom knoop ‘n verhouding aan. Hy begin die verhouding deur eerste te praat. “Adam, waar is jy” 

Dis soos dit vandag nog gebeur. Die almagtige God kom op ‘n dag na jou as ‘n geringe, ellendige sondige mensie en begin met jou praat. Miskien was jy al jare lank deel van die kerk, miskien baie getrou met al jou godsdienstige pligte, miskien baie kennis van die Bybel en tog sonder ware kennis van God..., maar dan op ‘n dag begin iets in jou hart roer. God praat met jou deur die Woord en die Heilige Gees, ook deur die sakramente. Soos Hy met jou begin praat voel jy baie vuil en laag en klein. Jy besef ek is soos een van die Israeliete waarvan die Here hier praat – “onbesnede van hart” (25) Ek deel wel in die uiterlike verbondstekens – ek is gedoop en gebruik die Nagmaal, maar my hart is ver van God af! 

God die Heilige Gees praat met jou oor jou sonde, skuld, rebellie, dwaasheid, hardkoppigheid, oor ‘n lewe wat vermors is in diens van die duiwel... Jy begin sien jouself as hopeloos en hulpeloos. En tog ten spyte van dit alles vertel die Gees jou dat God jou Verlosser, Vriend en Vader wil wees. Dat Hy van jou ‘n verbondsgenoot, meer nog, ‘n kind wil maak.

Om God te ken behels dat ons begin ernstig luster na SY Woord soos die Heilige Gees dit vir ons duidelik maak en van toepassing maak in ons harte.

Ons SIEN God se karakter raak – vol liefde, reg en geregtigheid!
Ons AANVAAR God se uitnodiging tot oorgawe en vertroue. Ons ONDERWERP ons aan sy wense en gebooie.

Ons word bly oor Sy liefde wat Hy aan ons bewys het, dat Hy ons nadergetrek het as sy vriend, as sy kind.

DIT GAAN ALS OOR JESUS

Anders gestel, om God te ken is om erns met Jesus te maak. Hy is die fokus van die Woord, Hy is immers self die lewende WOORD! As ons ernstig na die Woord luister, hoor ons hoe die Woord ons van Jesus vertel en die Heilige Gees ons oë open om Jesus raak te sien.

Ons SIEN God se karakter raak in Jesus – Jesus het deur Sy lewe en sterwe vir ons gewys hoe lyk God se liefde en geregtigheid. Dink aan Saggeus, die Samaritaanse vrou, Levi die tollenaar...verhale vol van vergifnis en liefde... (kliek op JESUS WYS VIR ONS GOD

Die Gees maak my hart sag en ek AANVAAR God se uitnodiging, om in sy Seun Jesus te glo en alleenlik op Hom te vertrou.

Ek ONDERWERP my aan Jesus se opdragte. Ek begin ‘n lewe van dankbaarheid en blydskap leef omdat Jesus vir my aan die kruis prakties gewys het wat liefde is, my skuld uitgewis het en die skeiding tussen my en God weggeneem het.

Om God te ken en in ‘n verhouding met Hom te staan, gaan daaroor dat ek waarlik Jesus Christus deur die geloof ken. Dat ek in die geloof sal volhard... en in blydskap 'n gehoorsame lewe uit dankbaarheid sal lewe!

(Volgende keer meer oor die WONDERWERK wat nodig is om Jesus raak te sien en so God te leer ken)

[Erkenning aan J.I. Packer - KNOWING GOD]

Woensdag 02 November 2016

AFSLAG IN DIE VAGEVUUR?

- Martin Luther se aanval teen die onbybelse sisteem van aflate word ‘n kernmoment van die Protestantse Reformasie.


Vanaf 1516 het Luther reeds van die Schlosskirche in Wittenberg se preekstoel die gevare van die aflaatstelsel begin uitwys. Volgens hom het dit mense aangemoedig om te sondig en hulle weggehou van ‘n ware kennis van God. Dit was ‘n baie dapper standpunt van Luther, want die universiteit waaraan hy verbonde was het befondsing ontvang van die Sclosskirche uit aflate gekoppel aan die enorme relikwieë versameling van die kerk. Frederik die Keurvors van Sakse het hom beywer vir die uitbreiding van die kerk en universiteit se versameling relikwieë. Die kerk het toestemming van die pous gekry vir die reg van volkome kwytskelding van sonde aan diegene wat die relikwieë sou besigtig en die voorgeskrewe fooi sou betaal! Die 1 ste November, All Saints day was die dag van die proklamasie.

Die kerk in Wittenberg het alreeds in 1509 ‘n verstommende versameling van 5 005 stukke relikwieë gehad waarvan die besigtiging ‘n mens se tyd in die vagevuur met 1 443 jaar kon verminder! (Die vagevuur is die plek van pyniging waarheen gestorwe Katolieke volgens die kerk se lering gegaan het om eers boetedoening vir hulle sondes te doen voordat hulle in die hemel toegelaat sou word) Teen 1518 het die getal relikwieë aangegroei tot 17 443 stukke. Dit het na bewering ingesluit ‘n sluier waarop daar bloedspatsels van Jesus was, ‘n takkie van Moses se brandende bos en ‘n stukkie brood van die laaste Avondmaal. Dat mense deur sulke bedrog mislei kon word gaan mens se verstand te bonatuurlik te bowe, maar as mens sien watter snert mense vandag nog glo, moet ons seker nie te haastig wees met ons kritiek nie...

Net ietsie meer oor die aflaatstelsel. Dis gebou op die Roomse idee van goeie werke en oortollige goeie werke. Volgens die Roomse kerk het Christus, Maria en die heiliges sonder sonde geleef. Hulle goeie werke word as ‘n skat in die hemel bewaar. Die gewone Christen se goeie werke is nie so baie nie en eindig gevolglik met meer sonde as goeie werke en daarvoor moes die sondaar in die vagevuur (purgatory) gestraf word voordat hy gereed sou wees om in die hemel toegelaat te word. Deur aflate te koop en deur die mis te sê kon vriende en familie hulle geliefdes se tyd in die vagevuur verkort! Net deur pouslike goedkeuring kon die meriete van Christus en die heiliges oorgedra word aan lewendes en dooies. Hierdie konsep het klaarblyklik in die tyd van die Kruistogte ontstaan. Onnodig om te sê dat die Roomse kerk hierin ‘n reuse geleentheid gesien het om geld te maak uit bygelowige mense wat die Skrif nie geken het nie!

Luther wat op hierdie stadium reeds tydens sy sogenaamde Turmerlebnis die ware evangelie ontdek het, kon nie meer stilbly oor die aflaatstelsel nie. Hy het sy tyd om op te tree, baie goed gekies. Johannes Tetzel, ‘n uitstekende smous en Dominikaanse monnik was besig met ‘n groot veldtog om aflaatbriewe in Duitsland te verkoop en was nou net oorkant die rivier naby Wittenberg. Hy was baie suksesvol met sy gladde mond en het die mense verseker : “Wenn das Geld im Kasten klingt, die Seele aus dem Feuer springt” *

As mens besef wat die regte rede agter die entoesiastiese verkoop van die aflate was, laat dit jou met nog groter weersin in die skrikwekkende toestand van die kerk van destyds en nog groter bewondering vir Luther se mannemoed.

Albert van Brandenburg, ‘n edelman uit die ambisieuse Hohenzollern familie moes ‘n klomp geld uithaal om die aartsbiskop van Mainz te word! Ja, kerklike ampte is verkoop! Hiervoor het hy geld by die Fuggers, die ryk bankierfamilie van Augsburg geleen. Pous Leo X het hierin ‘n geleentheid vir groot geldmaak gesien om sy bouwerk van die St. Peters Basilika in Rome te befonds. Aangesien Albert op die ouderdom van 23 te jonk was om een bisdom te beklee, maar nou oor twee bisdomme was, het die pous 12 000 dukate geëis in plaas van die gebruiklike 10 000. Die verkoop van aflate sou die nodige geld kon genereer. Daar is ooreengekom dat die wins uit die verkope van die aflate om die helfte gedeel sou word tussen Albert en die pous. Met hierdie agtergrond kan mens nou beter verstaan waarom Luther party mense so bitterlik omgekrap het...

Op die vooraand van All Saints Day, op 31 Oktober 1517 het Luther 95 stellings teen die deur van die kerk in Wittenberg vasgekap. (Oor die presiese datum van hierdie gebeurtenis is daar nie altyd heeltemal duidelikheid nie.)** Dit was nie maar net ‘n oppervlakkige protes teen uitbuiting nie, maar ‘n aanval op die fondasies waarop hierdie bedenklike praktyk berus het. Hierin het hy onder andere gesê : “Die ware skat van die kerk is die mees heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God.” (62) Hy het ook die ware aard van die aflate ontbloot toe hy gesê het : “Die skatte van aflate is nette wat nou hengel vir die rykdom van mense” (66) Luther het ook ‘n bytende aanval op die pous se motiewe geloods. “ Waarom maak die pous nie die vagevuur leeg ter wille van heilige liefde nie as hy ‘n onbeperkte aantal verlos ter wille van blote geld vir ‘n basilika of vir sulke nietige redes?” (82) Luther se siniese aanval is baie duidelik, as die pous mos inderdaad die mag het om mense uit die vagevuur te verlos soos hy beweer, hoekom dit dan nie volledig doen op grond van die liefde nie, waarom probeer hy dan geld daaruit maak?

Dis duidelik, Luther het nou ‘n bom laat bars wat hom op ‘n pad van konfrontasie met die Roomse kerk geplaas het en die vonk was wat die Reformasie uiteindelik al sterker sou laat brand. Volgende jaar sal dit presies 500 jaar wees sedert hierdie gebeurtenis en het ons rede om fees te vier, maar ook weer te besin of ons vandag nou by die suiwer evangelie hou en nie ook maar stelselmatig in onskriftuurlike praktyke verval het nie.

*As die geld in die kassie klingel, spring die siel uit die vuur!

**Professor Reinhard Schwarz : Dass Luthers Thesen in Wittenberg angeschlagen wurden, ist gar nicht zu bezweifeln. Ob am 31. Oktober oder einige Tage später, ist nicht so wichtig. Viel wichtiger sind zwei andere Tatsachen.

Erstens: Am 31. Oktober 1517 hat Luther einen Brief an den Kirchenfürsten Kardinal Albrecht, Erzbischof von Magdeburg und Mainz, geschrieben. Er trug in Deutschland die Hauptverantwortung für die damals laufende Ablasskampagne. Dieser Brief ist sogar im Original erhalten. Ohne Scheu vor bischöflicher Autorität, die sich hinter der angeblichen apostolischen Sukzession der Bischöfe verschanzen konnte, fordert Luther in diesem Brief, dem er ein Druckexemplar seiner 95 Thesen beilegte, den Kirchenfürsten auf, in pastoraler Verantwortung für die Gläubigen mit dieser Ablassgeschichte schleunigst Schluss zu machen.

Das Datum dieses ungewöhnlichen Briefes gibt uns noch eindrücklicher als ein Wittenberger Thesenanschlag Anlass, den 31. Oktober als Reformationsgedenktag zu begehen.

Zweitens: Die 95 Thesen wurden schnell in Deutschland bekannt, weil sie Luther auch an auswärtige Universitätskollegen verschickt hat. Was die Zeitgenossen aufmerken ließ, war der Inhalt der Thesen. Der Inhalt hat bis heute nicht an Aktualität verloren.

Denn Luther kritisierte nicht nur jenen Ablass gegen Geldalmosen. Seine Kritik richtete sich letztlich gegen jede Art von Ablass, auch gegen die Formen, die noch heute in der römisch-katholischen Kirche mit päpstlichem Segen praktiziert werden, so zum Beispiel im Jahr 2000, als das sogenannte Römische Jubeljahr gefeiert wurde, oder wie im Jahr 2005 beim Kölner Weltjugendtag. Kirchlich registrierbare fromme Teilnahme an diesen Feierlichkeiten war Voraussetzung für den Empfang des Ablasses, und das heißt für den Empfang einer religiösen, kirchlich verbürgten Entlastung von Gottes zeitlichen Sündenstrafen, von denen der Gläubige sich zu diesem Zeitpunkt belastet fühlte.

Nach reformatorischem Verständnis jedoch wird dem Glaubenden durch das Evangelium ohne jede Vorleistung uneingeschränkte Vergebung zuteil. Er erfährt Versöhnung mit Gott.