BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Soekers na die Waarheid?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Soekers na die Waarheid?. Wys alle plasings

Saterdag 07 Januarie 2017

VYF PAAR SALOMON TEKKIES

in my kas baat niks in 2017 as Jesus nie in my lewe is nie!


‘n Nuwe jaar is ‘n opwindende geleentheid – nuwe kanse, nuwe uitdagings, nuwe avontuur… 

En tog, ‘n nuwe jaar wek ook maar vrese, angs en bekommernisse... dalk is daar besluite en berge op die pad waarvoor jy nou alreeds terugdeins, miskien nou reeds dinge op die horison wat vrees en onrus wek. Siekte, familietwiste, begrotings wat nie wil klop nie... Die grootste faktor wat vrees aanwakker is seker die onbekendheid van wat voorlê... Ons weet mos uit dure ondervinding daar kan baie hartseer dinge gebeur in die loop van ‘n jaar...

Nou wat sê Jesus vir ons aan die begin van ‘n onbekende  en onsekere jaar? Jesus praat hier in Johannes 14 met sy dissipels en dis duidelik dat hulle in ‘n toestand van onrustigheid en onsekerheid is. (Onthou dis kort voor sy kruisiging)

Maar nou is dit so wonderlik, Jesus kom hulle te hulp nie met oppervlakkige praatjies en mooiklinkende trooswoordjies nie, maar met grondige vertroostende waarheid. “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” (14:1) 

Dis ‘n duidelik opdrag om nie in vrees en angs te leef nie en ‘n duidelike opdrag om beide in God en in Jesus te glo! “Plaas julle vertroue in God en in MY,” sê Hy. En dan verduidelik Jesus verder waarom sy dissipels dit maar kan doen. God is nie suinig met sy genade nie - daar’s baie plek in die Vaderhuis. Meer nog Jesus gaan self plek voorberei vir hulle voorberei. Wees dus gerus, my vriende! Dit verwys na sy kruisdood waardeur Hy die pad na die Vaderhuis vir ons oopgemaak het. En Hy sal nie van sy mense vergeet nie, maar terugkom en sy mense kom haal. Wat ‘n wonderlike gerustellende troos as ons dit maar net glo!

Al hierdie verduidelikings is nog nie genoeg vir die pessimistiese Tomas nie. “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?" (5) Tomas se vraag gee dan aanleiding tot Jesus se kernagtige en kragtige uitspraak in vers 6.

“Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Dis ‘n ryk betekenisvolle stelling oor die volkome troos en bevryding van alle vrees wat volledig in Jesus self gevind word. 
  • As ek Jesus het, hoef ek nie te vrees nie, want dan is ek op die regte weg. 
  • As ek Jesus het, hoef ek nie te vrees nie, want dan ken ek die waarheid. 
  • As ek Jesus het, hoef ek nie te vrees nie, want dan het ek die lewe in sy volheid. 
  • Hyself is die volledige skakel met en toegang tot ons Almagtige en Liefdevolle Hemelse Vader!
Die teenpool van hierdie wonderlike stelling is natuurlik ook waar. (Laat ons bietjie ook die erns daarvan bedink)

SONDER Jesus durf jy nie die toekoms en ook nie 2017 ingaan nie.

  • Sonder Jesus is jy op die verkeerde weg en heeltemal van koers af. Ja, sonder Jesus is ek op ‘n verdwaalpad wat eindig in die hel, al het ek die nuutste GPS met die beste tegnologie, al verstaan ek die diepste teologie, en al het ek die beste opvoeding en geleerdheid.
  • Sonder Jesus ken jy nie die waarheid nie en is jy besig met ‘n leuen. Ja, sonder Jesus help al my kennis, my grade, my insigte en planne my niks nie, want ek mis die enigste vaste waarheid, die waarheid wat nooit kan verouder of vervaag nie, die waarheid van Goddelike redding deur Christus alleen.
  • Sonder Jesus mis jy die lewe nou en vir ewig. Ja, sonder Jesus help dit my niks dat ek 5 paar Solomon tekkies in my kas het en dat my Facebookbladsy al my prestasies, weelde en oorsese vakansies uitbasuin nie, want ek is ‘n ewige mislukking, ver weg van God en sy heerlikheid. Sonder Jesus is al my fiksheidsprogramme, aftreeplanne en beleggings waardeloos.

Wie Jesus nie het nie is nie op die regte pad nie, ken nie die waarheid nie, het nie die lewe nie! 

Daarom is net een saak belangrik hier aan die begin van 2017 - Is Jesus die middelpunt van my lewe? Glo ek in die Almagtige God, maar glo ek ook in Hom as die enigste weg tot God?

Alle nuwejaarsvoornemens is opsioneel... Daar is egter een lewensbelangrike, ewigheidsbelangrike beslissing wat ek nie mag uitstel nie. Dis die keuse vir Jesus self! Dis nie net ‘n eenmalige mondelingse keuse nie, dis ‘n keuse wat elke dag weer met my lewe gekies word. Dis waartoe die hele Johannes brief ons wil bring. Dis die doel van die brief. Reeds in sy inleiding sinspeel hy op die belangrikheid van ‘n keuse vir Jesus. “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (1:11,12) Byna aan die einde van die brief stel hy dit nog duideliker wat sy doelwit met hierdie evangelieskrywe is : “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (20:30,31)

Mag 2017 ‘n Jesusjaar vir jou wees. (en die res van ons lewe) En net so terloops, wat ook al in hierdie jaar gaan gebeur, dis nog een jaar nader aan Jesus se wederkoms. Dis nog ‘n jaar nader aan die vervulling van sy belofte : “Ek kom terug en sal julle na My toe neem.” (3) Hierdie belofte is ons lig in die donkerste omstandighede. Hierdie belofte is ons aansporing om elke dag voluit vir Hom te leef in die nuwe jaar!

Mag ons en ons kinders tog die allesoortreffende waarde van Jesus as die weg, waarheid en lewe besef! Die De Koning nefies en niggies het mekaar darem weer 'n slag gesien : Roedolf, Ruben, Natanie, Jonette, Anne-Karine, Suelize-Marie, Johan en Marisja.

Vrydag 08 April 2016

JESUS OF PILATUS?

- aan wie se kant is jy met betrekking tot die waarheidsvraag?

Jesus sê : "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."

Pilatus sê :  "Wat is waarheid?"

Jesus maak dit baie duidelik dat dit sy roeping is om van die waarheid te getuig. Hy impliseer dus baie duidelik dat daar iets soos waarheid is. Verder in die Johannes evangelie is dit duidelik dat hierdie waarheid geken kan word en ons sodoende kan bevry, dat God se Woord die waarheid is en dit Jesus self die beliggaming van die waarheid is! Waarheid staan volgens Jesus in duidelike kontras met die leuen. As iets nie waar is nie, is dit 'n leuen. (sien Joh 8:44)

Pilatus tree merkwaardig baie op soos die twyfelende post-modernis wat totaal onseker en skepties klink oor die konsep van waarheid.

Sommige “Christene” klink vandag meer soos volgelinge van Pilatus as dissipels van Jesus!

Lees self hoe die Johannes evangelie die konsep van waarheid hanteer:

(Joh 1:14)  Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

(Joh 1:17)  God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

(Joh 3:21)  Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."


(Joh 4:23)  Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.

(Joh 4:24)  God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid."

(Joh 5:33)  "Julle het ‘n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid.

(Joh 8:32)  en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak."

(Joh 8:40)  Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dit is nie wat Abraham gedoen het nie.

(Joh 8:44)  Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.

(Joh 8:45)  En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie.

(Joh 8:46)  Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie?

(Joh 9:24)  Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: "Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ‘n sondaar."

(Joh 14:6)  Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

(Joh 14:17)  naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

(Joh 15:26)  "Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig.

(Joh 16:7)  Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

(Joh 16:13)  Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.

(Joh 17:17)  Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.

(Joh 17:19)  en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

(Joh 18:37)  "Dan is jy tog wel ‘n koning?" vra Pilatus. "Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning," antwoord Jesus. "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."

(Joh 18:38)  "Wat is waarheid?" sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: "Ek vind geen skuld in hom nie.

(Joh 19:35)  Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. (Hier gaan die begrip waarheid baie duidelik oor sigbare verifieerbare getuienis, dis hoegenaamd nie ‘n wollerige begrip nie)

"Dankie Here Jesus dat ons die waarheid mag ken... lei ons deur U Gees om dit al duideliker te mag verstaan!"

Naskrif : Die teenstanders van die Bybel as normatiewe bron van waarheid is baie lief vir die Skulpvis argument. Kliek op SKULPVIS



Dinsdag 29 Oktober 2013

“SOEKERS NA DIE WAARHEID”

- behoort Christene hulleself so te beskryf?


Die brief van ds. Hector Jooste aan die Kerkbode, wat wyd gelees is, moet ons weer oor ‘n hele paar sake ernstig laat nadink en besin. Een daarvan (wat hy ook pragtig aanspreek) is die algemene segswyse (verskoning) onder sommige teoloë om na hulleself te verwys as : “SOEKERS NA DIE WAARHEID.”

Nou, op die oor af klink dit baie vroom en nederig. Nie een van ons weet of verstaan mos alles nie. Niemand van ons het al gearriveer nie. Is dit dan nie dalk gepas om so na onsself as “soekers” te verwys nie?

My opinie...