BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Boek van die Lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Boek van die Lewe. Wys alle plasings

Dinsdag 01 Desember 2015

BLYDSKAP OOR MY NAAM IN DIE BOEK...

-die grootste vreugdesfeit wat die vyand nie kan roof nie en selfs die westewind* nie kan wegwaai nie! 

Daar is baie dinge wat ons bly maak – goeie eksamenuitslae, finansiële voorspoed, gesondheid, reën (ja, veral reën as jy in Namibië woon), allerhande suksesse... Dis nie verkeerd nie, dis normaal om bly te wees oor hierdie dinge...Die probleem met hierdie blydskap is dat dit net so maklik as wat dit kom ook kan verdwyn... dit gaan nie altyd goed met die eksamenuitslae nie, daar is baie dinge wat finansiële voorspoed kan opvreet, gesondheid is iets wat oornag kan verdwyn, reën weet ons baie goed kom nie altyd wanneer ons dit wil hê nie, ons is nie altyd suksesvol nie... wat word dan van ons blydskap?

GOEIE TYDING VAN GROOT BLYDSKAP

En ons sou ook kon vra, wat het geword van die belofte wat saamgegaan het met Jesus se geboorte? Die belofte van blydskap wat die herders van Betlehem op daardie besondere nag gehoor het? “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2:10)

Groot blydskap! Is dit hoegenaamd waar? Hoe is dit waar en vir wie is dit waar? Wat dan van al die slegte dinge wat gebeur?

WEES REALISTIES EN KYK NA BLYDSKAP UIT 'N EWIGHEIDSOOGPUNT!

In Lukas 10:17-20 gee Jesus vir ons ‘n kosbare en belangrike perspektief op blydskap.

Die agtergrond is die uitsending van die sewentig dissipels. Hulle is op ‘n uitreiking gestuur met die opdrag om vir siekes te bid en die boodskap van die koninkryk te verkondig. (9) Dit was nie ‘n maklike opdrag nie. Jesus het vir hulle gesê, Hy stuur hulle soos skape onder wolwe. Hulle moes teenkanting en moeilikheid te wagte wees!

Dit blyk egter dat dit baie goed gegaan het met hierdie sendinguitreik. Die dissipels was vol blydskap met hulle terugkoms. “Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: "Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam." (17) Jesus beaam en erken hulle “sukses”. “Ja, dis goed so, julle is bevoorreg...”

Maar dan gee Hy ‘n belangrike perspektief, dis eintlik of Hy ‘n korreksie wil aanbring op hulle blydskap. “En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is." (20) “En tog...” Dis asof Hy sê: “Ja, dis goed om bly te wees oor julle sukses en gesag, maar blydskap gaan oor iets baie belangriker. Wees veral bly dat julle name in die hemel opgeskrywe is...”

BOEK VAN DIE LEWE

Uit die res van die Skrif weet ons dat daar ‘n boek van die Lewe is. Reeds in die Ou Testament kry ons hierdie begrip.

Moses verwys daarna as hy by God pleit vir die volk na die petalje van die goue kalf toe God die volk wou vernietig. “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” (Eks 32:32) Ons kry ook ‘n verwysing daarna in Daniël 12 :1 “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.”

Om opgeskrywe te wees in God se boek is dus ‘n aanduiding van God se guns, van redding, van ewige sekuriteit. In Openbaring kry ons die duidelikste verwysing na hierdie boek. (lees Openbaring 20:11-15) Wat ‘n geweldige, verbysterende toneel! Menigtes en menigtes van mense so ver soos die oog kan sien... Almal verskyn voor die groot wit troon! Dan word God se boeke oopgemaak en elkeen se lot finaal en ewige beslis. Ewige lewe of ewige dood. Ewige blydskap of ewige smart!

As jy weet dat jy opgeskryf is vir die ewige lewe, begin jou blydskap nou al. En dis die grootste blydskap van almal. Dis die punt wat Jesus wil maak.

Daar is net een blydskap wat blywend is en alles oortref. Dis die blydskap oor ons verlossing. Die westewind kan dit nie eers wegwaai nie... Op die ou end is ons ewige verlossing, ons name in die boek van die lewe, al wat saakmaak. Dis iets waarvoor die mens vandag blind is. Om jou naam geskryf te hê in die hemelse burgerskaplys oortref alle ander suksesse en genadegawes! Om te weet die verlossing van sonde is ook my deel is die grootste rede tot vreugde. Ons kan dit toets aan die engelboodskap by die geboorte van Jesus. “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (2:11) 

Die blydskap gaan oor die Verlosser en die verlossing wat Hy bring! Die verlossing van sonde, satan, dood en hel!

Hoe kan ek seker wees van my naam in die boek van die lewe? Hoe kan ek seker wees dat ek in hierdie vaste verlossing deel? Deur my volle vertroue op Jesus, die Saligmaker te stel! Deur weg te kyk van myself en op HOM en SY WERK te fokus! (Vir meer hieroor kliek op SEKERHEID)

GROOT VERRASSING

Kom na Hom toe in berou en geloof! En weet jy wat dan wag daar ‘n verrassing. Dan leer jy dat jou naam al van voor die ontstaan van die aarde al in sy boek geskryf is. Want God se genade is al van ewigheid vir sy kinders bedoel en staan onwankelbaar vas in God se onveranderlike raadsbesluite! (Sien Openbaring 13:8, 17:8 en vgl. met Efesiërs 1:4**)

Dis nie verkeerd om oor alledaagse seëninge, voorregte en suksesse bly te wees nie! Maar as jy nie deel aan blydskap oor jou ewige verlossing nie, het jy eintlik geen rede om bly te wees nie! Anders gestel : “Waar gaan jy die ewigheid deurbring?” ‘n Positiewe antwoord hierop is die essensie van ons blydskap, in die Kerstyd, maar ook enige ander tyd. AMEN

*Die westewind spel vir ons hier in Namibië net een ding : droogte!

** Efesiërs 1:4 (OAV) “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (lees eintlik die hele gedeelte van vers 3 tot 14)




Vrydag 06 September 2013

BASIS VIR BLYWENDE BLYDSKAP

- my naam in die Boek van die Lewe.

Wat maak jou regtig bly?  Daar is seker baie dinge .... goeie vleispryse, oorvloedige reën, as almal in die huis gesond is, suksesse op skool, romanse....daardie matriekafskeidrok... Ons lees in Lukas 10:17-20 van ’n groep dissipels wat vol blydskap teruggekom het van ’n sendinguitreik. Jesus het 72 dissipels twee-twee uitgestuur om te preek, siekes gesond te maak en duiwels uit te dryf. Nou lyk dit of hulle sending baie suksesvol was en hulle gesag selfs deur demone erken is, en hulle was uiteraard baie bly. (17) En daar was niks verkeerd mee nie, maar dan herinner Jesus hulle net aan ’n nog groter rede vir blydskap. Dis asof Jesus ‘n bietjie koue water op hulle uitbundigheid gooi om hulle ‘n dieper vaster waarheid te leer. (20) “...maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is."

Daar is een groot uitstaande feit wat die groot praktiese  bron of rede van blydskap in ons lewens moet wees :  

MY NAAM IS IN DIE BOEK VAN DIE LEWE!

As jou naam in die hemel opgeskryf is, dan beteken dit God ken jou, Jesus is jou Verlosser en jy is vir seker ’n  erfgenaam van die  Ewige Lewe. Die Bybel praat van ’n  Boek van God waarin name opgeskryf is. Reeds in die Ou Testament. Moses verwys daarna, as hy pleit vir die volk. (Eksodus 32:32. Sien ook Daniël 12:1) Hierdie boek bevat die name van die diegene wat gered is! Dis dié een plek waar dit regtig saakmaak dat my naam daarin staan. In Openbaring word hierdie boek genoem, die boek van die lewe. In Openbaring 20:11-15 kry ons ’n baie duidelike beskrywing van hoe belangrik hierdie boek is en hoe noodsaaklik dit is dat jou naam daarin moet staan.  Stel jouself voor ’n ontelbare skare mense, almal wat geleef het.... vergader voor die groot Wit Troon van God;  dan word die boeke oopgemaak, die name word afgelees, dis tyd vir die finale afrekening ...

Toe het ek ‘n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie.
Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.
Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het.
Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel.
As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Daar is een blydskap wat alle ander blydskappe laat verdof en in die skaduwee stel. Dis die blydskap van elkeen wat weet, my naam is in die boek van die lewe. Daar is baie vreugdes wat ons beleef, ook goeie vreugdes, waarmee niks fout is nie, maar hulle sal alles verby gaan. Dis kortstondig van aard. Daar is een vreugde wat tot in alle ewigheid sal voortduur - as my naam in die boek van die lewe is. Hier op aarde verskyn jou naam op baie plekke : doop- en lidmaat registers, huweliksregisters, diplomas, grade, bekers, trofeë... dis goed en wel, maar verskyn jou naam in die boek van die lewe? In daardie groot dag sal al die inskrywings van min betekenis wees. Net een ding maak saak : is jou naam in God se boek? Alle die mooi woorde op grafstene en gedenkmure sal betekenisloos wees, net een ding tel punte : is my naam in God se boek?    

Moenie die risiko loop vir die grootste teleurstelling denkbaar nie!  

Maak seker! Selfs hier op aarde veroorsaak dit groot teleurstelling as jou naam nie op ’n lys is waar jy dit verwag nie. (die lys van matriekuitslae, ‘n vliegtuig se  passasierslys ens.) Kan jy jou indink aan die skrikwekkende verbystering en ontnugtering van baie op daardie groot laaste dag?

Daar is een blydskap wat alle hartsere klein laat lyk. As my naam in die boek van die lewe staan, is ek ’n ewige wenner, al verloor ek ook alles hier op aarde:  my besittings, my vriende, my gesin,  my aansien, ja selfs ook my lewe.  (dis nie iets wat mens sommer ligtelik moet sê nie, maar maak bietjie seker of jy dit regtig kan sê...) Om my naam in die boek van die lewe te hê is alles. Dit maak my ’n geseënde al moet ek ook onreg of pyn verduur.

Hierdie woorde van Jesus dra ’n dubbele boodskap. ’n Boodskap vir die onbekeerdes en ’n boodskap vir sy kinders!

~ Vir die onbekeerde sê dit: Al jou blydskap wat jy nou beleef is tydelik en tevergeefs. Jy is bly oor al jou geld - daar kom ’n dag wanneer dit geen waarde sal hê nie. Watter vreugde kan geld en eiendom my bring as ek in die hel brand? Jy is bly oor al jou mag en invloed en belangrikheid - watter verskil gaan dit maak as jy ’n ewigheid sonder God ingaan?

~ Vir God se kinders sê dit : Ons ware blydskap lê in die sekerheid en vastigheid van ons verlossing. Ons vergeet dit so maklik en dan lei dit daartoe dat ons depressief en neerslagtig raak. Laat ons weer mooi dink wat hier gebeur het. Die dissipels is opgewonde en bly omdat hulle suksesvol was in die Here se werk, hulle het gevoel dat hulle darem iets positief bereik het. Hulle gesag is immers selfs deur die bose erken. Jesus sê as’t ware, ja dis goed, maar onthou daar is ’n baie groter rede om bly te wees...

Jy sien, ook as kind van God is ons suksesse, ons prestasies, ons nuttigheid, ons emosies wisselvallig! As ons ons blydskap daarop bou, gaan ons blydskap ook wisselvallig wees. Daar is egter een standvastige onwankelbare rede vir blydskap - die vastigheid van ons verlossing deur die bloed van Jesus m.a.w. die feit dat my naam in die boek van die lewe opgeskryf is op grond van sy soenverdienste aan die kruis. Dit bly waar, al... is ek nie altyd so suksesvol nie, is my omstandighede nie so aangenaam nie, voel ek nie so nuttig nie. Ja, al is my eie emosies onstabiel en stormagtig kan dit nie my naam uit die boek van die lewe wegneem nie. Kind van God onthou dit! Waarop kom dit neer? Die feit van die sekerheid van ons verlossing deur Jesus  op grond van sy genoegsame offer, moet voortdurend die bron van ’n onuitspreeklike blydskap in ons lewens wees - in alle omstandighede!  Nou reeds! Luister hoe pragtig stel 1 Petrus 1:8-9 dit : Hom (Jesus) het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Kind van God, mag jy vandag en vorentoe volkome blydskap beleef (al is dit met ‘n traan in die oog), omdat jy weet dat jou naam onuitwisbaar in die boek van die lewe geskryf is!