BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Geldinsameling. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geldinsameling. Wys alle plasings

Donderdag 03 Maart 2022

GAAN ONS LUISTER NA DIE GEES?

- dis 'n saak van erns! (maak jou Bybel oop)

Verlede jaar het ons, hier in die NGK Tsumeb (dolerend) vir sewe weke saam gekyk na die boodskap van die briewe aan die sewe gemeentes in OPENBARING 2,3. Hopelik het dit ons diep laat nadink. Hopelik gaan dit daartoe lei dat ons dinge anders gaan DOEN in ons gemeente. Ons gaan nou net so bietjie oorsigtelik kyk na die sewe briewe se kern punte.

Dis ’n saak van erns. Aan die einde van elke brief lees ons telkens - “Laat die wat ore het luister na wat die GEES aan die gemeentes sê” (2:29 ens) Baie insiggewend, die Heilige Gees praat met ons deur die Woord. Hierdie Woord wat ons in ons hande het, wat ons nou hoor! Dis die stem van die Heilige Gees van God! Dis nie maar ‘n menslike opinie nie. Wee, ons as ons dit ignoreer!

Wat is die boodskap wat Jesus deur die Woord en die Gees aan ons bring? Eerstens. Jesus weet als van ons... Dis 'n deurlopende waarheid en tema. 'n Refrein deur die briewe…“Ek ken julle...” Jesus weet van die goeie dinge, maar ook van die slegtes. Hy sien en weet wat mense nie sien en weet nie. Hy is immers die Oorwinnaar Verlosser wat tussen die staanlampe (gemeentes) wandel… ons is sy eiendom. Ons moet sy opinie en opdragte ernstig opvat.

Jesus prys sy gemeentes en moedig hulle aan. Die dinge wat uitstaan waarvan Hy hou kry ons byv 2:2,3; 2:13; 2:19. Belangrik -Jesus kyk anders as mense. Vir ‘n gemeente wat arm is, prys Hy dat hulle eintlik ryk is. 

Hoor wat skryf Hy vir Smirna- 2:9 Hulle besit ware evangelierykdom al is hulle materiaal maar sleg daaraan toe. Terloops, Hy raas met nie een gemeente oor hulle lidmaatsgetalle of hulle geld te min is nie! (Oeps,... is dit nie die eerste dinge waaroor ’n kerkraad bekommerd raak nie?) Aan die anderkant is die gemeente van Laodisea ryk, maar eintlik is hulle geestelik bankrot. 3:17,18 Die ergste is, hierdie geestelik bankrot gemeente besef dit nie eers nie, hulle is selfvoldaan en heeltemal gelukkig met hulle self. Weereens Jesus kyk anders as ons. Ons kry dit ook in die brief aan die gemeente van Filadelfia (3:8b) Dit lyk maar na ‘n swak en onbeduidende gemeentetjie, maar eintlik is hulle sterk en word hulle geprys vir hulle volharding.




Jesus vermaan en waarsku sy gemeentes baie ernstig. Dis soms baie kras en kru. (2:4,5) Hierdie gemeente van Efese het wonderlike volharding en liefde vir die waarheid betoon, maar hulle het afgekoel in hulle persoonlike liefde vir Jesus. Hulle het die regte dinge gedoen, maar daardie eerste opgewondenheid oor Jesus was nie meer daar nie! Gevolge… skrikwekkend! Een van die verwyte wat telkens na die gemeentes kom is dat hulle dwalinge en losbandige gedrag in hulle eie geledere toelaat. 

Let op – Jesus raas nie oor die boosheid en goddeloosheid wat rondom hulle in die wêreld aangaan nie, Hy betig hulle oor die slegte dinge wat binne die kerk toegelaat het. (2:14; 2:20) Die probleem is dat daar nie meer dissipline en tug binne die gemeentes toegepas word nie. Almal word maar toegelaat om te leef soos hulle wil. Is dit nie baie aktueel nie? Een van die ergste beskuldigings teen ‘n gemeente kry ons in die brief aan Sardis. (3:1b) ‘n Aktiewe gemeente met ‘n goeie naam, maar in Jesus se oë is hulle dood!

Belangrik. Wat is die doel van Jesus se waarskuwings en bestraffings? 

Jesus se motief is liefde en sy doelwit is bekering!  



(Ook wanneer ons dit nodig vind om ander aan te spreek moet dit ons motief en doelwit wees!) Hoor ons – mense binne die kerk word opgeroep tot BEKERING. Waaroor gaan hierdie bekering? Dit gaan oor ‘n terugkeer na Jesus self. Om Hom weer lief te hê, om kerk te wees uit liefde vir Hom. (2:4,5) Dis erg – ‘n gemeente wat steeds aktief is en by die waarheid staan, maar wat nie meer opgewonde oor Jesus is nie. Maar daar is nog erger toestande van verval- soos wat in Laodisea gebeur het - dat ‘n gemeente van Jesus in so ‘n toestand van selftevredenheid kan verval dat Jesus eintlik buite staan. Dink daaraan – ‘n gemeente van Jesus, maar daar is nie meer plek vir Hom nie. Jesus staan buite sy eie gemeente. En tog – Jesus het selfs hierdie gemeente nie afgeskryf nie, maar nooi hulle uit om weer die gemeenskap met Hom te herstel – 3:20. 




Terloops, in hierdie sewe briewe kom ‘n baie belangrike waarheid na vore – nêrens en nooit roep Jesus lidmate op om hulle van ‘n dooie of vervalle gemeente af te skei nie. Ja, jy hoor reg – nêrens nie! Die opsie van afskeiding van ‘n gemeente – en onthou in sommige van hierdie gemeentes soos Sardis en Laodisea het dit beroerd sleg gegaan – word nie eens as ‘n uiterste alternatief genoem nie! Nee, die gemeente word tot bekering en vernuwing opgeroep! Die probleme, sonde, doodsheid en louheid moet binne in die gemeente reggemaak word.

Waarom is bekering en volharding so belangrik? Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Telkens word daar die heerlikste Goddelike beloftes gemaak aan wie oorwin! (2:7b; 3:21) Ja, God se mense is in ‘n stryd betrokke. Daar is geen maklike pad na die nuwe Jerusalem nie. Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Daar is ‘n heerlike ewige beloning vir die oorwinnaars. Ons mag dit nie misloop nie. Daarom moet ons die boodskap van Jesus aan sy gemeentes ernstig opneem, ons bekeer van alles waarvan Hy nie hou nie en volhard te midde van versoekings en swaarkry. (3:11) 

Ons moet mooi luister en vinnig reageer… Dit het baie laat geword! Jesus se koms is naby. Gaan ons luister na die Gees…?

Maandag 30 Oktober 2017

ONAFSKEIDBARE TWEELING

- Gehoorsaam aan WOORD en GEES sal ons gedurig reformeer en getrou bly aan ons evangeliese roeping!



Jesus het die genoegsame losprys vir sondaars aan die kruis betaal. Daarna het Hy opgestaan uit die dood. Regtig. Histories. Liggaamlik. “Voel aan My.” Hy eet ‘n gebakte stuk vis voor hulle oë! Maar daarna doen Hy nog iets belangrik. Hy gee aan sy dissipels (aan sy kerk) :
  • ‘n Vaste verwysingspunt (Skrif)
  • ‘n Helder roepingsopdrag (Evangelieverkondiging deur getuienis)
  • ‘n Heerlike belofte (Heilige Gees)
Dis baie belangrik om raak te sien wat Jesus na sy opstanding doen en waarop Hy fokus in die kort tydjie tussen sy opstanding en hemelvaart. Ons lees hiervan in Lukas 24. Hy doen nie nuwe dramatiese wonders nie. Hy verwys sy dissipels (ons!) terug na die Skrifte! “Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is." Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (44,45) En Hy maak die belofte van die Gawe! Die Heilige Gees! “En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” (49)

WOORD EN GEES

Belangrik! Hier in die laaste hoofstuk van Lukas lees ons hoe lê Jesus die fondasie vir gesonde en doelgerigte kerk wees. Woord en Gees. Gehoorsaam aan die Woord en bekragtig deur die Gees kan ons ons evangeliese roeping vervul. Hierdie kern roeping is baie duidelik. Die verkondiging van bekering en vergifnis in Jesus se Naam. “Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (46,47) Mag ons dit sommer weer duidelik hoor : Die kerk se primêre fokus mag nooit selfoorlewing, geldinsameling, sosiale betrokkenheid of kultuurprojekte wees nie. Ons moet die verlossingsboodskap aan alle mense bring. Bekering en vergifnis van sonde. 

Maar terug by die fondasie van Woord en Gees. Dis hierdie fondasie wat as’t ware weer herontdek is tydens die Protestantse Reformasie. Die gesag van die Woord en die Gees. Die leiding van die Woord en die Gees. Bemagtiging deur Woord en Gees. 

Wat beteken dit prakties? Woord en Gees gaan saam. Die Woord is ons norm. Enigste norm. Sola Scriptura. Die Woord en die alleen sê vir ons wat is reg en verkeerd. Nie die Huisgenoot, Hollywood of die algemene opinie op straat nie. Die Woord is dus onmisbaar belangrik. Maar die Heilige Gees is net so onmisbaar. Die Heilige Gees maak vir ons die betekenis van die Woord oop en bekragtig ons om dit te gehoorsaam. Hy gebruik die Woord om ons te heilige, te verander, te vernuwe... Hy bewerk die gehoorsaamheid om die evangelie van Jesus uit te leef en te verkondig. 

Die resep vir volharding en roepingsvervulling is om tegelykertyd aan beide vas te hou – Woord en Gees.

Die kerke van die reformasie het natuurlik soos dit menslik is, telkens weggedwaal van hierdie beginsel. En dit gee in ons dag steeds aanleiding tot groot verwarring, gruwelike onkunde en dwaling!


  • Soms word die Woord oorbeklemtoon ten koste van die Gees. Dit gebeur wanner die Bybel op ‘n suiwer intellektuele tegniese manier benader word. Kraakdroë ortodoksie. Ons doen deeglike, maar koue eksegese. Ons formuleer als so mooi reg, daar is geen teologiese leerstellige haar uit sy plek nie… Die regte kolletjies op die “i” en die presiese strepies deur die “t”. Maar daar is geen gebrokenheid en berou oor sonde nie, geen ware bekering nie, geen gehoorsaamheid om Jesus se opdragte uit te voer nie. Daar is min opgewondenheid, min opoffering, min liefde. Byvoorbeeld ons formuleer so mooi dat Jesus die enigste Middelaar is, maar ons kom nie prakties by gebed uit nie, ons is nie regtig lief en toegewyd aan hierdie Middelaar nie, ons het geen passie en doen geen moeite om hierdie Middelaar aan ander te verkondig nie. Ek wil vir jou vra wat die Woord en die belydenisskrifte (wat opsommings is van die Woord) so goed ken: Hoor jy nog hoe die Gees deur die Woord met jou praat, oortuig Hy jou deur die Woord van sonde en dryf dit jou opnuut na uit na Jesus om Hom te omhels? Maak die evangelie ‘n verskil in jou liefdeslewe, besigheidslewe, ontspanningslewe? Lei die Heilige Gees jou in ‘n heilige lewe?
  • Soms word die Gees losgemaak van die Woord. Die Woord word effens opsy geskuif. Dit het ook by verskeie kere in die verlede gebeur en gebeur vandag nog baie. Dis wanneer mense redeneer : “Die Gees sal my lei en dis nie nodig om erns maak met die Woord nie. Dis ook nie nodig dat ek na ernstige prediking, na Woorduitleg luister nie.” Natuurlik sal diesulkes nooit openlik die Woord weggooi nie. Hulle sal nog steeds sê : “Ons glo die Bybel.” Maar wat gebeur? Hulle gebruik die Woord op die klank af, ruk tekste uit verband uit (“Spreek Lewe” teologie), maak nie erns met die konteks nie, jaag allerhande nuwighede na wat hoegenaamd nie in die Skrif voorkom nie – “salf huise met olie”. Daar word sommer links en reg beweer : “Die Here het vir my gesê…” Ja, daar is moontlik baie opgewondenheid, baie sentimentaliteit, baie lawaai, baie nuwe idees, maar ook ongelukkig baie verwarring! Maar ongelukkig min standvastigheid, min volharding, min integriteit en heiligheid en min waarheid! Ek wil vir jou wat die Woord afskeep vra: ”Waar anders as in die Woord gaan jy die suiwer wil van God hoor, hoe anders as deur omvattende Woordkennis gaan jy koershou in ‘n chaotiese wêreld, hoe anders gaan jy weerstand bied teen die daagliks propaganda van die Satan?”

VOORTDURENDE REFORMASIE

Altyddeur moet die kerk opnuut luister en opnuut gehoorsaam word aan die Woord en die Gees. Die kerk as geheel, maar ook ek en jy persoonlik. Ons het reformasie weer net so nodig soos vyf honderd jaar gelede. Is jy daarvoor bereid? Is jy bereid om die Woord en Gees te gehoorsaam en standpunt in te neem die oorweldigende materialisme, die Hollywood welluskultuur, die afgodiese sportwaansin en prestasiebeheptheid wat op ons eie voorstoep is…? Martin Luther het teen die hele wêreld opgestaan, omdat die Woord en Gees sy siel oorweldig het. Deur die Woord en Gees het hy vrede gevind vir sy geteisterde siel. Maar dit het vir hom ook baie moeilikheid besorg… Dit het hom in botsing gebring met ‘n afgedwaalde kerk en goddelose wêreld. Hy het die brandstapel net-net vrygespring...  (Kliek op LUTHER)

Is ek en jy bereid om opnuut die Woord en Gees te gehoorsaam en die spot en haat van mense te verduur? Dis die vraag wat elkeen vandag voor God moet antwoord! Dis die voorvereiste vir voortdurende reformasie. Dis so bitter nodig in ons dag...


Ons het op Sondag 29 Oktober 2017 die Reformasie feestelik gevier in 'n vol kerk. By die geleentheid het 'n nuwe lidmaat, Helena Boshoff ook belydenis van geloof afgelê. (en dit was boonop ook nog haar verjaarsdag!) Die Sondagskoolkinders het in 'n kort seremonie die 5 solas van die Reformasie aan 'n houtdeur vasgespyker.