BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 24 Desember 2013

MEER AS NET ‘N MENS

- maak dit saak of jy in die maagdelike geboorte glo?

In sekere kringe is daar ‘n al hoe meer sigbare en hoorbare eensydige beklemtoning van Jesus se mensheid, wat uiteindelik lei tot die totale verwerping van sy unieke Godheid. Dit blyk of die bewonderaars van Marcus Borg en die aanhangers van Andries van Aarde, Jesus maar min of meer beskou as ‘n besonder goeie mens met ‘n wye invloed... bloot ‘n rolmodel wat ‘n navolgenswaardige voorbeeld gestel het. Erger nog, so stil-stil en bykans ongemerk het hierdie verderflike invloed deurgesuur ook na die predikantekorps van ons kerke en het kernleerstellinge van die historiese Christelike geloof soos die maagdelike geboorte, die unieke plaasvervangende sterwe en die liggaamlike opstanding van Jesus in die slag gebly. Dan verstaan mens waarom die kerk so kragteloos is, sendingywer getaan het of dikwels waar dit nog funksioneer gereduseer is tot blote armoedeverligting. 



Is dit moontlik om vandag nog in so iets soos ‘n maagdelike geboorte (streng gesproke ‘n maagdelike konsepsie) te glo?
Maak dit saak of dit geglo of nie geglo word nie? Ongetwyfeld is die Paasgebeure (kruis, begrafnis en opstanding) die kerninhoud van die evangelie en die fokus van ons geloof. (1 Korintiërs 15:1-4) Tog praat die Matteus en Lukas evangelies baie duidelik oor die maagdelike geboorte! Die Johannes evangelie noem dit nie eksplisiet nie, maar die beklemtoning van Jesus se ewige Godheid pas perfek daarby in.

KAN EK IN DIE MAAGDELIKE GEBOORTE GLO?

Wel ja, dis moontlik en noodsaaklik as ek hoegenaamd in God en Sy Seun Jesus glo.

“Goed, maar is dit wat Matteus en Lukas bedoel het?”, sou iemand kon vra. Was die evangeliste nie dalk maar net ‘n bietjie onkundig omtrent die “feite van die lewe” nie. Die bekende en hoogaangeskrewe Nuwe Testamentikus NT Wright verwerp hierdie beswaar teen die maagdelike geboorte as volg :

"It will not do to say that we know the laws of nature and that Joseph, Mary, the early church and the evangelists did not. Mary and Joseph hadn't seen diagrams of Fallopian tubes, but that doesn't mean they didn't know where babies came from. Hence Mary's question to Gabriel (in Luke), and Joseph's determination to break the engagement (in Matthew)."

Lukas was buitendien ‘n dokter. Dis waar dat die mediese wetenskap intussen dramaties gevorder het, maar eerste eeuse mense het goed geweet dat seksuele omgang tot die kry van babas lei. Soos Wright uitwys, as Josef die skokkende nuus van Maria se swangerskap verneem, is dit nie onkunde oor die lewensfeite wat hom laat oorweeg om van haar te skei nie, maar juis sy kennis daarvan. Hy het die implikasies van haar onverwagse swangerskap baie goed begryp... 

Die algemene tendens onder liberale teoloë is dat die “maagdelike geboorte” van Jesus ‘n mite is wat by soortgelyke geboorteverhale van die heidene geleen is. Dit druis egter teen die hele aard van die evangelieskrywers se styl en bedoeling in. Iemand soos Lukas het immers deeglike navorsing gedoen. (Lukas 1:3) Die rol van getuies in die evengelieverhale is baie belangrik geag. Die wesentlike saak is egter : aanvaar ons God se Woord as die waarheid? As ons nie hiervan seker is nie, kan ons van niks seker wees nie, ook nie van die Verlosser nie en daarom ook nie van ons verlossing nie!

RYKE IMPLIKASIE VAN DIE MAAGDELIKE GEBOORTE

Wat sê Jesus se unieke geboorte sonder die betrokkenheid van ‘n aardse vader vir ons?

Uit al die miljoene en miljoene geboortes wat op aarde plaasgevind het, is Jesus s’n uniek, want Jesus self is inderdaad uniek in die absolute sin van die woord! Hy is meer as ‘n besondere profeet, meer as ‘n volmaak nederige leier, meer as ‘n universeel inspirerende karakter... Hy is die God-mens, Emmanuel, die eniggebore Seun van God, God self wat sigbaar vlees geword het! (Terloops, is hierdie waarhede dalk grootliks vergete en is dit die rede hoekom sommige in die afgelope tyd dit gewaag het om sulke lasterlike parallelle tussen Jesus en Mandela te trek?)

God in sy alwysheid het die geboorte van Jesus op volmaakte wyse laat gebeur om sy bedoelinge aan ons bekend te maak en sy ewige raadsplanne tot uitvoering te bring. Jesus is gebore soos ‘n gewone mens, uit ‘n vrou, maar as ewige Seun van God, sonder die normale biologiese rol van ‘n aardse vader. Daarom is dit duidelik :

JESUS IS WAARLIK MENS, MAAR OOK WAARLIK GOD!

Beide hierdie waarhede betreffende die wese van ons Verlosser is ononderhandelbaar belangrik. Beide is vir ons verlossing, nou en tot in ewigheid, onmisbaar kosbaar!

Jesus se ware mens-wees (Hy huil, Hy word moeg en honger...) gee ons die versekering dat Hy ons verstaan en as Hoëpriester met ons medelye kan hê, dat Hy in ons nood op hierdie vervloekte aarde kom “inklim” het, maar aan die ander kant dat Hy die volmaakte lewe as mens wat God van ons verwag het kom leef het in ons plek. Juis ook as mens het Hy die dood as straf op ons sonde kom “smaak” !

Jesus se ware God-wees maak van Hom (en Hom alleen) die volmaakte almagtige en sondelose (dankie Wolf) Verlosser! Net Hy as waarlik mens, maar ook waarlik God, kan tussen ons en God as Middelaar kom staan. (1 Timoteus 2:5) Die bevraagtekening van Jesus se bonatuurlike maagdelike geboorte saai twyfel oor die unieke Godheid van Jesus en wie op hierdie paadjie begin afwyk, bevind homself uiteindelik sonder ‘n Verlosser en sonder ‘n verlossing, verdwaal in ‘n ewige duisternis! Dit sal ons pas om weer in hierdie tyd van die jaar wanneer ons die menswording van God se Seun gedenk, Artikel 10 van die Nederlandse Geloofsbelydenis af te stof en saam te bely:

Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader, ewig saam met Hom, die heerlikheid (Heb 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word. Moses sê dat God die wêreld geskep het en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen 1:1 en Joh 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb 1:2 en Kol 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: "Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid" (Miga 5:1) en sê die apostel: "Hy is sonder begin van dae of lewenseinde" (Heb 7:3). Hy is dus ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.

Joh. 1:18,49 en 24; 1:14; Kol. 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh. 8:24; 10:30; 9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Fil. 2:11; 2 Kor. 5:19; Hand. 20; Ef. 3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb. 1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh. 5; Joh. 7, 14, 20; Op. 1-6; Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor. 10:9; Gal. 4:4; Miga 5:2; Kol. 1:15; Ps. 2:7,12; Heb. 13:8.

Hierdie belydenis rondom die unieke Goddelike natuur van ons heerlike Verlosser, is ‘n logiese uitvloeisel van dit wat ons so dikwels saam met die ganse kerk van Jesus op Sondae bely : "Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria...."

Geseënde Christusfees vir jou!

en so terloops, mag 'n Christen Kersfees vier? Kliek op
KNOPE IN DIE KERSKOUS

2 opmerkings:

  1. Ek glo dat die maagdelike geboorte is uiters belangrik is.

    Dis (bv. nes die kruisdood en opstanding) een van die essensiële kernwaarhede van die Evangelie. As dit more sonder twyfel bewys word Hy was nie maagdelik gebore was nie, is daar dan ook geen Evangelie meer nie.
    God het besluit om Christus wat die unieke God-mens was op so unieke manier die wêreld te laat inkom en Hy het dit ook so deur die profete eeue tevore laat aankondig.

    Christus moes op so wyse gebore word omdat Hy as sondelose Messias en Verlosser uiteindelik die mensdom se sonde en sondeskuld op Hom moes neem. Net 'n sondelose wese kon dit doen. As hy via die betrokkenheid van Josef of een of ander man 'n gewone menslike geboorte sou kom sou hy ook met die erfsonde besmet gewees het - en dus ook sondaar wees ... en dus dan nie in ons plek kon sterf nie.

    As Christus ‘n gewone mens en sondaar sou wees en dalk miskien nog die insig in God se verlossingsplan kon gehad het en 'n plaasvervangende kruis- of ander dood wou sterf sou God dit nie kon aanvaar tot vergewing van sondes nie. Dis ook net ‘n Goddelike wese wat die witwarm toorn en vloek van God re ons sonde(skuld) tydens die kruisiging kon dra. ‘n Gewone mens sou in die niet verdwyn.

    Maar nou sien ons Hy het wel daardie dood gesterf (waar ons sondeskuld aan Hom toegereken was) wat toe aanvaarbaar vir God was want Hy het die dood oorwin en is opgewek; en het ook opgevaar. Al hierdie aspekte toon Sy unieke aard en roeping en is ook bewys dat Hy die waarlik die Gesalfde Lam van God was om ons te kom red.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Wolf vir jou bydra, spesifiek tov die feit van Jesus se sondeloosheid - ek het dit sommer ingevoeg!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.