BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Heerlikheid - van Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heerlikheid - van Jesus. Wys alle plasings

Saterdag 19 Mei 2018

DIE ONVERNIETIGBARE VREUGDE VAN JESUS

- en Hy het bedoel dat ons in hierdie blydskap sal deel! 



Hoe belangrik is dit dat jou Verlosser nie sommer enigiemand nie, maar ‘n Verlosser vol vreugde moet wees? 


As ’n lewensredder jou uit ’n gevaarlike seestroom red en jou so ‘n wrede verdrinkingsdood spaar*, dan gee jy nie juis veel om of hy ‘n vreugdevolle of ‘n droefgeestige ou is nie. Dit maak tog nie saak wat sy gemoedstoestand is, terwyl jy weer jou familie op die strand omhels nie. Met die verlossing wat Jesus bewerk is dit egter anders gesteld. Jesus red ons nie vir ons familie nie, maar vir Homself. As Hy droefgeestig, depressief of neerslagtig sou wees, sou ons verlossing maar ’n droewige saak wees. Dit sou dan nie ’n heerlike verlossing wees nie. Christene sou ‘n klompie bedremmeldes met lang gesigte wees. 

Jesus self is ons groot beloning, niks minder nie. Verlossing is nie bloot net die vergifnis van sonde nie, maar in hoofsaak gemeenskap, saamwees met die lewende Jesus. Die ewige lewe is mos nie bloot ‘n lang lewe nie, maar om God en om sy Seun Jesus waarlik te ken! Innige gemeenskap! In Johannes 17:3 maak Jesus dit self baie duidelik : “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” As hierdie gemeenskap nie intens heerlik en volkome bevredigend is nie, dan het ons nie te doen met ’n groot verlossing nie. 

As Christus neerslagtig of vreugdeloos sou wees, dan sou die ewigheid een lang droewige sug en vervelige uitmergeling gewees het. 

Maar nou is dit juis wonderlik, die genade en heerlikheid van Jesus behels onder andere ook dat Hy altyd onvernietigbaar gelukkig is en sal wees. Sy genade, sy vrede, sy liefde sluit ook in dat Hy ons vreugde gee. Luister bietjie mooi na Jesus se woorde en drink dit in :“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11) 

Blydskap, volkome blydskap is Jesus se bedoeling vir ons wat aan Hom behoort! 

Dit sou nie volkome genade wees as Jesus bloot my blydskap sou vermeerder tot op die maksimum nie, en my dan so sou los in ’n blydskap wat nog ver benede sy vlak van blydskap is nie. Ons kapasiteit vir blydskap is mos beperk. So wat wonderlik is, is dat Jesus sy kapasiteit vir vreugde in my stort, sodat ek Hom kan geniet, met die vreugde van God. Dit is heerlikheid, dit is genade. Ons word nie net bly nie, nee, meer as dit, SY BLYDSKAP word deel van ons lewe! 

Daar is niks heerlik aan vreugdeloosheid en droefgeestigheid nie. Christus was daarom nooit droefgeestig en neerslagtig nie. Van ewigheid af was Hy die spieël van God se onpeilbare vreugde. Die Wysheid van God sê hierdie woorde in Spreuke 8:30 : “Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet.” Hierdie woorde gesien in die konteks van die hele Bybel, gaan oor Jesus, die ware Wysheid! (Kliek op WYSHEID) Die ewige Christus, was altyd in vreugde voor God. Hierdie feit van Jesus se oortreffende blydskap kom duidelik in die Nuwe Testament ter sprake. 

Kyk na twee voorbeelde: 

In Hebreërs 1:8-9 praat God met die Seun (nie met die engele nie) met hierdie verstommende woorde : “U troon, o God staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God , U onder groot vreugde tot koning gesalf bo u tydgenote.” Jesus is die gelukkigste wese in die heelal. Sy blydskap oortref al die engele blydskap in die hemel. (En ons weet die engele is baie gelukkig!) 

In Handelinge 2:25-31 interpreteer Petrus Psalm 16 as verwysend na Christus : “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel.....want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.....u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.” Die opgestane Jesus sal die somber skadu’s van die dood afskud en bly wees met die lig van God se blydskap. Die heerlikheid van Christus is sy oneindige, ewige onvernietigbare blydskap in die teenwoordigheid van God. 

EN SY LYDING? 

Maar wat dan van Jesus se smarte en lyding? Hoe pas dit in by sy vreugde? Net soos dit nie heerlikheid is om depressief te wees nie, is dit ook nie heerlik om ligsinnig oppervlakkig te wees nie. Die kortstondige joligheid op die dansvloer en die ononderdrukbare grondige blydskap wat mense selfs in ’n strafkamp kan ervaar is twee verskillende dinge. Die een is nietig tydelik, die ander diep triomfantelik. Kwaliteit blydskap, onvernietigbare vreugde! – dis die blydskap van Jesus! 

Vreugde is iets dieper as net die afwesigheid van hartseer. Daarom is dit nie ’n teenstrydigheid dat hierdie Man van onvernietigbare vreugde juis ook ’n “Man van lyding wat pyn geken het” was nie. (Jesaja 53:3) Self sê Jesus : “Ek voel doodsbenoud” (Matteus 26:38) Hierin lê ook ‘n stuk heerlikheid vir ons in opgesluit. Juis omdat Jesus hierdie hartseer en lyding moes deurgaan is Hy as ons Hoëpriester in staat om met ons medelye te hê. Hy was immers net soos ons getoets. (Hebreërs 4:14-15) Hy het die allervreeslikste versoekings beleef. Ook al die hartsere van menswees. Hy het gehuil saam met die wat gehuil het en was bly saam met dié wat bly was. Hy was honger, moeg, verlate, verraai, gegésel, gespot en gekruisig. Juis in hierdie konteks sien ons die onvernietigbare blydskap van Jesus! Sy blydskap was nie net ’n teoretiese saak nie, dit het bly staan in die harde werklikheid. Die hardste denkbare lyding. Deur die foltering van Getsemane en Golgota, is Jesus juis onderskraag deur hierdie onvernietigbare blydskap. “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins....” (Hebreërs 12:2) En wat was daardie alles onderhoudende blydskap? Dit was die vreugde om aanbid te word en eer te ontvang van hulle vir wie Hy gesterf het om sodat hulle kan deel in die vreugde van God. Die Goeie Herder verheug Hom oor een verlore skaap wat gevind word. Hoeveel te meer oor ontelbare leërmagte van verlostes! 

Is hier ’n les te leer oor hoe ons lyding moet verduur? Het jy al ooit raakgesien dat ons Jesus nie net moet navolg in sy lyding nie, maar ook in sy vreugde in lyding? Paulus stel dit so : “En julle het ons voorbeeld nagevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom.” (1 Tessalonisense 1:6) Dit was ’n vreugde in die Here te midde van vervolging wat in hierdie jong kerk sigbaar was. 

Hierdie is ’n Uitdaging vir ons! Sal ons lyding ter wille van die saak van Christus omhels? Nie vreugdeloosheid nie, maar lyding. Sal ons ag gee op die wekroep in Hebreërs 13:13 “Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het”? Wie deel in Jesus se lyding met vreugde, sal ewige vreugde sonder lyding beleef! 

EWIG BLY!

Elkeen wat reeds iets gesmaak het van die vreugde van Jesus, sal finaal eendag te hoor, “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf......Kom in en deel in my vreugde.” (Matteus 25:21) Dis ‘n aansporing vir ons. Ja, ons ewige tuiste is die stad van God en dis ’n stad van vreugde. En daardie vreugde is die onvernietigbare vreugde van Jesus Christus. 

Die Heilige Gees oortuig ons nou reeds van die vreugde van Jesus wat soveel meer is as die tydelike vreugde van die sonde en wêreld! Dis net as ek oortuig is van die vreugdevolle heerlikheid van Jesus dat ek die “lekkerte” van sonde die rug kan keer en Hom volg. Hierdie oortuiging laat elke ware kind van God volhard! 

*John Piper, Seeing and Savouring Jesus Christ. Hierdie is in wese ‘n weergawe van een van die hoofstukke in hierdie besondere boek.


"vreugde" - Hentiesbaai se noordduin

Donderdag 17 Julie 2014

SIEN EN SMAAK

- wie JESUS regtig is!

[Jare gelede het ‘n broer in Jesus, Armand Kruger vir my ‘n besondere boek persent gegee. Dit was “SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST” van John Piper. Dit handel oor die asemrowende, oneindige en veelsydige heerlikheid van Jesus. Jesus is regtig baie baie meer as wat enige een van ons besef... Hieronder is ‘n vertaling van een hoofstuk uit die boek. Skaf gerus vir jou hierdie boek aan.] 



DIE HARDE KANT VAN DIE SAAK 
- Die erns van Jesus Christus 

Die heerlikheid van Jesus Christus lê onder andere daarin dat Hy altyd uit pas is met die wêreld, maar juis daarom altyd relevant vir die wêreld is. As Hy netjies ingepas het sou Hy van min waarde gewees het. Die mens se poging om die Jesus van die Bybel “oor te maak” sodat Hy moet inpas by die gees van een geslag maak Hom juis swak in die volgende geslag. Dis beter om Jesus te laat wees wat Hy is, want dit is juis sy kant wat aanstoot gee wat ons die nodigste het. 

Wat veral aanstootlik is vir die moderne westerse sentiment is die harde, stomp en heftige vorm van Jesus se liefde. Mense wat dunvellig is sou dikwels seergemaak gevoel het deur Jesus se snydende tong. Mense wat liefde net met sagte vriendelike woorde assosieer sou herhaaldelik verontwaardig gewees het, deur die skerp, amper gewelddadige taal van die Here. 

Natuurlik was dit nie die enigste manier waarop Hy gepraat het nie. Ons het reeds gekyk na die soetheid van sy barmhartigheid, na sy geduld en vriendelikheid en vergiffenis. (Hoofstuk 10) Dis juis daarom dat sy harde woorde nie sommer afgemaak kan word as norsheid of uitbarstings van ’n humeur of ongevoelige vyandskap nie. Wat ons in die bytende taal van Jesus kry is ’n vorm van liefde wat juis gepas is in die werklike wêreld van korrupsie, dooie harte en die geweldige konsekwensies wat ons besluite inhou. As daar geen groot boosheid was nie, geen dowe harte en geen ewigheidskonsekwensies nie, dan sou die enigste gepaste vorm van liefde ’n sagte benadering en vriendelik woorde wees. So ’n wêreld sou in elk geval nie die Seun van God doodmaak en sy dissipels haat nie. Maar so ’n wêreld bestaan nie! 

Dis baie nodig vir ons om na die skokkende hardheid van Jesus se genade te luister. Dit het mense in sy eie tyd verwonderd laat staan. Selfs sy vyande het erken dat hy verstommend onverskillig was ten opsigte van andere se goedkeuring. (Jesus was m.a.w. geen “people’s pleaser” nie – vert.) Ons is geneig om oorbekommerd te wees oor wat andere van ons woorde dink. Jesus was nie so nie. “Meneer ons weet dat U in U prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak U die wil van God bekend” (Lukas 20:21) Toe die vyandige Fariseërs offisiere na Jesus stuur om hom te vang het hulle ongedane sake teruggekeer met die woorde : “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie” (Johannes 7:46) 

Dis die getuienis van elke generasie. Niemand het nog ooit soos hierdie Man gepraat nie. Dit was al die geval toe hy nog ’n seun in die tempel was : “Almal wat Hom gehoor het was verbaas oor sy insig en antwoorde” (Lukas 2:47) Toe Hy sy openbare optrede in die sinagoge in Nasaret begin het, het almal eers goed van Hom gepraat (Lukas 4:22), maar toe Hy eers onverskrokke teen die grein van hulle selfgesentreerde verwagtings ingaan (vers 24-27), was daardie selfde mense “woedend” (vers 28) en het probeer om Hom van ’n krans af te gooi. En uiteindelik aan die einde van sy bediening, het sy deurdringende antwoorde finaal die monde gestop van sy teenstanders, behalwe vir die uitroepe : “Kruisig Hom” Ons lees : “En niemand kon Hom ’n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.” 

Die toestand van die wêreld wat Jesus se koms noodsaaklik gemaak het, was so sleg, dat Jesus van skokkende taal moes gebruik maak om dit te beskryf. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4)Toe sy eie dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie, het Hy gesê : “Ongelowige geslag, hoe lank moet ek nog by julle wees?” (Markus 9:19) Toe Hy hulle geleer om te bid was sy woorde: “As julle wat sleg is.......” (Matteus 7:11) Jesus gaan van die veronderstelling uit dat hulle sleg is en sê dit dan ook reguit. 

Nie slegs het Jesus die wêreld as boos en owerspelig en ongelowig veroordeel nie, Hy het ook gesê dat almal geestelik dood is. Toe ’n dissipel vir Jesus gevra het of hy sy vader kan begrawe, was Jesus se skokkende woorde: “Volg My en laat die dooies hulle eie dooies begrawe” (Matteus 8:22) Die verskriklike situasie van lewende dooies verg geen onduidelike taal nie! Dieselfde ernstige woorde was nodig vir die Fariseërs. “Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte..” En ook : “Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” 

Hierdie doodsheid was Satanies, want die duiwel was van die begin af ’n mensemoordenaar. Jesus het die vroom ongelowiges die harnas ingejaag met hierdie beskuldiging : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Jesus se lydensweg, het Jesus omgedraai en om streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan! Jy is vir my ’n struikelblok....” (Matteus 16:23) Vir die mens se geestelike dood was daar net een oplossing : Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis. Enige poging om dit te verhinder was inderdaad demonies. Geen taal was te sterk om dit af te weer nie. 

Die toestand van die menslike hart sal lei tot die ewige straf vir hulle wat nie die genesing wat Christus gebring het wil aanvaar nie. Daarom het Jesus geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die hel te waarsku nie. Niemand in die Bybel het meer dikwels en meer skrikwekkend oor die hel gepraat as Jesus nie! “Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” (Matteus 13:49-50) Toe die dissipels Jesus probeer vaspen om meer presies te wees oor die plek van oordeel, het Hy eenvoudig geantwoord : “Waar aas lê daar sal aasvoëls ook bymekaarkom” (Lukas 17:37) Inderdaad is sommige werklikhede so vreesaanjaend, dat dit eerder met aanstootlike beelde geteken geword as presiese feite. 

Hel is volgens Jesus ’n plek waar “die wurm nie sterf nie en die vuur nie geblus word nie” (Markus 9:48) Dit is ’n plek van “buitenste duisternis” (Matteus 8:12; 22:13;25:30) Dit is die “ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is” (Matteus 25:41) Die vuur is “onblusbaar” (Markus 9:43) Dit is ’n “ewige straf” (Matteus 25:46) 

In die lig hiervan verduidelik Jesus met skrikwekkende logika dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5) 

Hieruit is die kru gevolgtrekking wat mens kan maak, dat die skrikwekkende ellendes in hierdie wêreld, hoe erg ook al, nie die grootste tragedie is nie. Baie groter is die tragedie om nie die hel te ontvlug, deur die weg van geloof en bekering nie. Jesus het op ’n blatante konkrete manier hierdie waarheid aan mense oorgedra wat vir die verkeerde dinge bang was. Byvoorbeeld, die klomp mense wat uiters ontsteld was oor die groep Galilese aanbidders, wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. Hulle het hierdie onreg aan Jesus meegedeel en moes waarskynlik stomgeslaan gewees het deur sy reaksie, toe Hy gesê het : “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs, omdat dit met hulle gebeur het? Nee sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!” (Lukas 13:2-3) Met ander woorde, in plaas daarvan dat julle verbaas moet wees wat sondige mense vergaan, wees verbaas dat julle nog nie vergaan het nie. 

Jesus sal vir ons die weg na die hemel aanwys, of ons dit nou kan vat of nie. (En of ons dit nou wil hoor of nie! – vert) “As jou regteroog jou laat struikel, hal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gewerp word.” Eerder verminking as veroordeling! So is dit wat betref ons eie veroordeling, hoeveel te meer wat betref die veroordeling van andere. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in my glo, van my afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. (Matteus 18:6) Dis beter dat jy in die see vergaan as dat jy iemand anders in die hel laat beland. 

Dit alles in ag genome is dit nie verrassend dat Jesus die ingaan in die Koninkryk as ’n daad van geweld beskryf nie. “Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die Koninkryk van die hemel vir homself ’n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.” (Matteus 11:12)* Dis ook nie verbasend dat Hy sê : “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry is min.” (Matteus 7:14) Die pad is smal en min bewandel dit. Daar is eerder baie wat na Jesus luister en moet sê : “Wat Hy nou is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee? ” (Johannes 6:60) 

Maar dis nie al nie. Jesus spel die smal pad nie net uit in terme van ‘n rein hand en oë nie, en ’n radikale verantwoordelikheid teenoor die kleintjies nie. Hy mik ook sy harde woorde op ons onregmatige toewyding aan familie, self en besittings. “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.” (Lukas 14:26) “wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.” (Johannes 12:25) Selfs liefde vir vroom ouers sal dikwels na haat lyk vir die wêreld, wanneer ons eers die Koninkryk soek.” En as ons ouers nie godvresend is nie, sal die einste geloof wat maak dat ons hulle verlossing soek, hulle teen ons laat draai. “Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.” (Matteus 10:35,36) Beteken dit dat mens jou familie verloor as jy Christus volg? Jesus antwoord dit op ’n verrassende wyse as Hy sê : “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.” (Matteus 12:50)

As dit dalk vir jou nie klink na die bediening van die Prins van Vrede nie, onthou net, sy doel is nie vrede met ongeloof en ongehoorsaamheid nie. Dis die vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. As die amnestie wat Jesus aanbied, van die hand gewys en verag word, is verdeeldheid onvermydelik - en Hy weet dit : “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid.” (Lukas 12:51) “Julle sal selfs deur julle ouers en broers en susters en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak.” (Lukas 21:16) “Ek het gekom om vuur op die aarde aan die brand te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!” (Lukas 12:49)

Wie kan na hierdie dinge luister? Wie kan dit verstaan? Wie kan bly wees oor hierdie woorde en nog steeds verstaan wat Hy bedoel as Hy sê : “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11) Jesus se antwoord is net so verrassend soos die woorde wat in die eerste plek tot die vraag aanleiding gegee het. Hy gee die antwoord met blydskap. “By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel : Ek prys U Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” (Lukas 10:21) Die nederiges, die leerbares, die gebrokenes, die onderdaniges, die eenvoudiges - hulle sal die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor. Hulle sal hoor en hulle harte sal brandend in hulle binneste word as Hy praat. (Lukas 24:32) Hulle sal nie aanstoot neem nie. Hulle sal juis moed skep uit die feit dat ten minste iemand die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser.