BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Nuwejaarsvoornemens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nuwejaarsvoornemens. Wys alle plasings

Woensdag 01 Januarie 2025

‘n Rowwe roete wat ek nog nooit gery het nie!


Die nuwe jaar lê soos ‘n onbekende pad voor ons, ‘n rowwe 4x4 roete wat ons nog nooit gery het nie... (En nie eens Nostradamus, Baba Vanga of Siener van Rensburg kan vir ons vertel wat gaan gebeur nie.) 




Die NUWE JAAR maak jou miskien baie opgewonde, maar dalk ook bang en vreesbevange....daar wag moontlik moeilike bulte, skerp draaie, vurk paaie wat my laat twyfel oor die regte rigting, vreugdes, verrassings, gevare, vol riviere van hartseer of teleurstellings, eensame vlaktes van worsteling en verlatenheid, maar gelukkig tog ook heerlike rusplekke en die aanmoediging van medereisigers... Maar bo alles, dis op hierdie pad wat die kind van God, uitroep – “Here, as U nie saamgaan nie, kan ek nie verder gaan nie!”  

Dit was natuurlik ook die hartskreet en versugting van Moses destyds op die trekpad na die beloofde land Kanaän geuiter het. (Eksodus 33:15 - jy kan gerus hierdie aangrypende hoofstuk biddend deurlees!) 




Vir Moses het dit egter oor baie meer gegaan dat God maar net ‘n veilige reis moes waarborg – Dit het gegaan oor die sin van die lewe self, die wese van ons bestaan as mense. Hoor wat sê Moses in vers 13 : “Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë, besef tog dat hierdie nasie u volk is.”
 

Miskien moet ons net vinnig terug gaan na die agtergrond van Moses se hartstogtelike gebed tot God. Op hierdie stadium het God reeds sy volk met ‘n kragtige hand uit die slawerny van Egipte verlos, die volk het reeds die wonders van God se beskerming en versorging ervaar... manna en kwartels. Hulle was nou by die berg Sinai waar God sy wet aan Moses bekend gemaak het- als so heerlik en wonderlik – maar daar is ook ‘n afgryslike donker kant – die volk met die kort geheue en die bose harte het ‘n goue kalf gemaak en afvallig geword. Ondankbaar, ongelowig, hardnekkig... 

Dit het God se toorn laat ontbrand, soveel so dat Hy die volk wou vernietig en ‘n nuwe volk uit Moses begin. (Eksodus 32:9,10) 




Dit het Moses diep ontstel en hy het vurig by God gepleit op grond van God se beloftes aan Abram, Isak en Jakob. En ja, God is ‘n Hoorder van gebed. Hy verhoor Moses se gebed en dan lees ons iets verbysterend – 32:14. Gebed het God se hart gedraai – moenie vir my vra om dit te probeer verduidelik nie, maar dis presies wat gebeur het! God besluit om nie meer die volk te vernietig nie! – in antwoord op gebed! 

Moet nooit ophou bid en smeek nie!

Maar dis nog nie die einde van die storie nie, God het wel besluit om nie die volk te vernietig nie – al het Hy hulle inderdaad swaar gestraf, maar Hy het gesê Hy gaan nie meer saam met hulle trek nie, Hy sal net ‘n engel saamstuur. En die rede waarom God nie saam  met hulle wou trek nie, was juis dat sy heiligheid hulle sou vernietig, want hulle was ‘n hardnekkige onheilige volk! En dis hier waar Moses opnuut weer by God gepleit het. (15) Moses weet dat hulle dit nie durf waag om verder te gaan as God se teenwoordigheid nie met hulle is nie!

Vriende, ek en jy kan nie, ons durf nie waag om sonder God ons lewensreis voltooi nie, ook nie die skof van hierdie jaar nie! En dit gaan nie bloot oor die Here se hulp en versorging in hierdie jaar nie – dit gaan oor die kern doel en sin van ons bestaan! Wat maak hierdie onbekende jaar sinvol en die moeite werd?  Waaroor gaan ons lewe hier op aarde?? 

Om God te ken! Dis die sin van my aardse bestaan! Als gaan oor Hom! 

Dit gaan daaroor om sy heerlikheid raak te sien. Dis die passievolle hartsbegeerte van Moses. (18!) Onthou, God alleen is oneindig, onuitputlik heerlik!



NUWEJAARSVOORNEMS? Jy weet, hier aan die begin van die jaar kan ons baie mooi doelwitte en ideale hê. Party is realisties, ander dalk naïef...maar daar is baie goeie dinge en doelwitte waarna mens kan streef. Ons het egter een, net een doelwit hier op aarde wat bo-alles belangrik is – om God te ken. Dis waarvoor ons op aarde geplaas is. Om God te ken en Hom te bewonder en ons in Hom te verlustig, ons vreugde en vrede in Hom te vind. Hy kan en sal jou nooit verveel nie... tot in alle ewigheid.

Dalk wonder jy nou- hoe kan ek God leer ken, hoe kan ek sy heerlikheid sien? Dit was ook vir Moses ‘n probleem. (20) 



Hierdie dilemma bring ons by die evangelie van ons Here Jesus Christus. Johannes skryf in sy proloog oor Jesus – die Woord wat mens (vleis) geword het – 14, 18!  




Moses moes na die tent van samekoms gaan (sien Eksodus 33:7-11) om die heerlikheid van die Here te ervaar en Hom te raadpleeg. Jesus, die Woord wat vlees geword het het onder ons kom woon, skryf Johannes. Die Griekse woord wat ons met "woon" vertaal beteken letterlik, "tent opslaan." Heerlik nê? 

Die heerlikheid van God word nou in Jesus openbaar! As ek Jesus as my Here aanvaar het, begin ek die heerlikheid van God ken en sien. In Jesus se wonders en optredes begin ek leer wie God is en hoe God is – ek leer ken sy waarheid en genade persoonlik. Dis veral wanneer die kruis gebeure vir my sin begin maak dat ek begin besef – hoe oneindig heilig God is, maar ook hoe oneindig genadig en barmhartig is. Saam met hierdie wonderlike God sien ek kans vir die nuwe jaar met al sy bulte en draaie. Saan met Hom is dit ‘n avontuur. Saam met Hom is dit nog steeds nie altyd maklik nie, want Hy plaas ons in ‘n leerskool – dikwels ‘n baie harde leerskool net soos die woestyn reis van die Israeliete, maar saam met Hom weet ek, ek is vir seker op pad na my ewige Vaderland, waar ek vir altyd my sal verlustig in die heerlikheid van God. Waar ek vir altyd Hom wat op die troon is en die Lam sal aanbid!

Mag ek en jy in gehoorsaamheid aan Jesus, God ons Vader baie diep leer ken in hierdie jaar! Kom ons weet God gaan saam met ons. Hy gaan saam met ons nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat Jesus ons Middelaar vir ons pleit. Moses het vir die volk gepleit en God het gehoor. Jesus pleit vir ons by die Vader!

Kliek : JESUS PLEIT VIR ONS BY DIE VADER

Woensdag 12 Januarie 2022

HET JY DIE MERK?

Ek gaan nie oor nuwejaarsvoornemens praat nie... ek wil net vir jou vra:


“Het jy die merk?” Gaan jy met die regte merk in die nuwe jaar in? Die kruisie op die voorkop wat tel? Die profeet Esegiël sien hoofstuk 9 ’n visioen van God se oordele oor Jerusalem. Dis ’n oordeel wat almal gaan tref...oud en jonk, man en vrou. Dis ook opvallend dat God se oordele by sy tempel, sy heiligdom begin het. Ja, dis dikwels so - in die aanbiddingsplekke, onder God se mense word die grootste gruwels aangetref! Die goddeloosheid het binne die tempel plaasgevind. Die konteks en agtergrond van die oordeelsaankondigings in Esegiël 9 God se oordeel weens die afskuwelikhede wat in Jerusalem aangaan wat breedvoering in hoofstuk 8 beskryf word.




Almal gaan geoordeel word behalwe diegene wat gemerk is! (6) 








DIE VRAAG

Die interessante en baie belangrike vraag is : Wie is die gemerktes wat die oordele van God sal vryspring? Wie gaan gered word? Waaroor gaan die merk van God?

DIE ANTWOORD

Ons vind die antwoord in vers vier.


 Dis almal wat sug en kla oor die ongeregtigheid. Dis met ander woorde die mense wat ontsteld, verontwaardig en hartseer is oor die sonde wat rondom hulle aangaan. Dis diegene wat nie met die sonde saamstem en kompromie maak nie. Dis diegene wat stroomop swem – en nie saam met die stroom afdryf nie!



God se ware kinders kan uitgeken word aan die feit dat sonde en die gevolge van sonde hulle ontstel, bekommerd maak, hartseer maak, met weersin en afgryse vervul. Sonde is ’n pyniging vir ’n regverdige! Die sonde in die samelewing kan nie ongesiens by God se kinders verbygaan nie. Dit raak ons elkeen wat Jesus liefhet.

Dis ‘n waarheid wat dwarsdeur die Skrif na vore kom. Kyk na 'n paar voorbeelde :

Psalm 119:53 “Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat U wet verlaat.”

Lot se siel word gepynig deur die goddeloosheid wat hy moet aanskou in Sodom. 
2 Petrus 2:7 “Terwyl hy (Lot) tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed.”

Ware kinders van God is ontsteld oor sonde, want....

Ons besef sonde tas God se eer aan. Dis opstand teen God, dis ’n vertrapping van sy goeie en heilige wette. Sonde beteken eintlik dat klein mensies hulle vuis wys vir die Almagtige God en Hom uittart. Skrikwekkend!

Ons weet dat dit Jesus se bittere smart en kosbare bloed gekos het om ons sondes te vergewe. Sonde is dus ’n belediging van Jesus se liefde en genade. Dis ’n gruwelike ondankbaarheid teenoor Jesus wat sy lewe vir ons gegee het. Dis vreeslik en afgryslik ondankbaar as mense onbeskaamd net aangaan met sonde!

Ons beleef en sien sonde is ’n verwoestende en verslawende mag. Dit veroorsaak soveel ellende en hartseer in huwelike, huisgesinne, gemeenskappe. Dit maak mense seer en nog erger dit skend God se beeld in die mens en maak dat ons erger as diere optree. Dis ‘n parasiet wat als besmet...als wat deur God goed en mooi gemaak is ly onder hierdie parasiet – huwelike, gesinne, menseverhoudings, besittings, geluk, vrede.... als word aangetas deur hierdie parasiet. Dis een aaklige toneel van verwoesting en ellende!

Ons weet sonde is gevaarlik want dit bring God se wraak oor mense en lei tot ’n ewige hel. Mense wat aanhou sondig en die plesier van sonde geniet is soos motte wat al nader aan ’n kersvlam vlieg. Die mense wat nou in sonde volhard en sonde geniet is op ’n glyplank wat sonder dat hulle besef eindig in ’n bodemlose afgrond van ewige duisternis en pyn. Onkundig en niksvermoedend is hulle op pad na ’n grusame bestemming!

Sonde keer dat ons ons skeppingsdoel bereik naamlik om Hom te eer en te loof en te prys. Sonde keer dat ons ‘n ware loflied met ons lippe en ons lewe tot God kan sing.

Ek as kind van God weet (en dis baie persoonlik) - hoe maklik ekself vir die leuens van die duiwel val en self kan struikel en sondig. En ek weet watter hartseer dit veroorsaak... Daar is NIKS goeds in sonde nie!

Dis waarom die profeet Jesaja so diep bedroef was oor sy eie sonde en sy volk se sonde. Nadat hy die heerlikheid van God gesien het roep hy uit : “Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is;” Jesaja 6:5

ONTSTELD?

Ontstel sonde jou nog? Maak dit jou hartseer en kwaad? As dit nie die geval is nie, moet jy ernstig selfondersoek doen of jy self al die genade van God aanvaar het. Of jy self al vergifnis en bevryding van sonde beleef het. Daar is niks mooi of positief in sonde nie! Ons durf dit nie ignoreer nie, ons durf nie daaroor grappe maak nie! Ons moet dit tog net nooit gewoond raak nie...

MERK VAN DIE DIER


Baie mense is bang vir die merk van die dier. Die eintlike vraag moet wees : "Het ek God se merk? God se merk is presies die teenoorgestelde as die merk van die dier. Die merk van die dier is kompromie- die 666 op die voorkop en op die hand - dink soos die wêreld, doen soos die wêreld. God se kinders wat sy merk dra is die wat NIE kompromie met sonde maak nie, maar daaroor treur, sug, ontsteld en verontwaardig is!

Ontstel sonde ons nog? Maak dit ons nog seer as God se wette vertrap word en sy liefde geminag word? Net ’n praktiese vraag... As sonde jou met afgryse vervul hoe kan jy dit geniet om daarna in die sepies te kyk? Hoe kan jy dit geniet op plekke soos die dansbaan en drinkpartytjies waar sonde uitgestal en gevier word? As ons nie ontsteld is oor sonde nie, is daar net een gebed wat ons moet bid : “O, God skep vir my ’n rein hart!” Psalm 51 Kom ons maak dit ons gebed vir die nuwe jaar! Mag ons die erns van sonde besef en daarvan bekeer. 

Kom ons vlug met ons sonde in berou na Jesus. Sodat Hy ons kan merk met die Heilige Gees... dan alleen is ons veilig teen die oordele van God!

Saterdag 07 Januarie 2017

VYF PAAR SALOMON TEKKIES

in my kas baat niks in 2017 as Jesus nie in my lewe is nie!


‘n Nuwe jaar is ‘n opwindende geleentheid – nuwe kanse, nuwe uitdagings, nuwe avontuur… 

En tog, ‘n nuwe jaar wek ook maar vrese, angs en bekommernisse... dalk is daar besluite en berge op die pad waarvoor jy nou alreeds terugdeins, miskien nou reeds dinge op die horison wat vrees en onrus wek. Siekte, familietwiste, begrotings wat nie wil klop nie... Die grootste faktor wat vrees aanwakker is seker die onbekendheid van wat voorlê... Ons weet mos uit dure ondervinding daar kan baie hartseer dinge gebeur in die loop van ‘n jaar...

Nou wat sê Jesus vir ons aan die begin van ‘n onbekende  en onsekere jaar? Jesus praat hier in Johannes 14 met sy dissipels en dis duidelik dat hulle in ‘n toestand van onrustigheid en onsekerheid is. (Onthou dis kort voor sy kruisiging)

Maar nou is dit so wonderlik, Jesus kom hulle te hulp nie met oppervlakkige praatjies en mooiklinkende trooswoordjies nie, maar met grondige vertroostende waarheid. “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” (14:1) 

Dis ‘n duidelik opdrag om nie in vrees en angs te leef nie en ‘n duidelike opdrag om beide in God en in Jesus te glo! “Plaas julle vertroue in God en in MY,” sê Hy. En dan verduidelik Jesus verder waarom sy dissipels dit maar kan doen. God is nie suinig met sy genade nie - daar’s baie plek in die Vaderhuis. Meer nog Jesus gaan self plek voorberei vir hulle voorberei. Wees dus gerus, my vriende! Dit verwys na sy kruisdood waardeur Hy die pad na die Vaderhuis vir ons oopgemaak het. En Hy sal nie van sy mense vergeet nie, maar terugkom en sy mense kom haal. Wat ‘n wonderlike gerustellende troos as ons dit maar net glo!

Al hierdie verduidelikings is nog nie genoeg vir die pessimistiese Tomas nie. “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?" (5) Tomas se vraag gee dan aanleiding tot Jesus se kernagtige en kragtige uitspraak in vers 6.

“Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Dis ‘n ryk betekenisvolle stelling oor die volkome troos en bevryding van alle vrees wat volledig in Jesus self gevind word. 
  • As ek Jesus het, hoef ek nie te vrees nie, want dan is ek op die regte weg. 
  • As ek Jesus het, hoef ek nie te vrees nie, want dan ken ek die waarheid. 
  • As ek Jesus het, hoef ek nie te vrees nie, want dan het ek die lewe in sy volheid. 
  • Hyself is die volledige skakel met en toegang tot ons Almagtige en Liefdevolle Hemelse Vader!
Die teenpool van hierdie wonderlike stelling is natuurlik ook waar. (Laat ons bietjie ook die erns daarvan bedink)

SONDER Jesus durf jy nie die toekoms en ook nie 2017 ingaan nie.

  • Sonder Jesus is jy op die verkeerde weg en heeltemal van koers af. Ja, sonder Jesus is ek op ‘n verdwaalpad wat eindig in die hel, al het ek die nuutste GPS met die beste tegnologie, al verstaan ek die diepste teologie, en al het ek die beste opvoeding en geleerdheid.
  • Sonder Jesus ken jy nie die waarheid nie en is jy besig met ‘n leuen. Ja, sonder Jesus help al my kennis, my grade, my insigte en planne my niks nie, want ek mis die enigste vaste waarheid, die waarheid wat nooit kan verouder of vervaag nie, die waarheid van Goddelike redding deur Christus alleen.
  • Sonder Jesus mis jy die lewe nou en vir ewig. Ja, sonder Jesus help dit my niks dat ek 5 paar Solomon tekkies in my kas het en dat my Facebookbladsy al my prestasies, weelde en oorsese vakansies uitbasuin nie, want ek is ‘n ewige mislukking, ver weg van God en sy heerlikheid. Sonder Jesus is al my fiksheidsprogramme, aftreeplanne en beleggings waardeloos.

Wie Jesus nie het nie is nie op die regte pad nie, ken nie die waarheid nie, het nie die lewe nie! 

Daarom is net een saak belangrik hier aan die begin van 2017 - Is Jesus die middelpunt van my lewe? Glo ek in die Almagtige God, maar glo ek ook in Hom as die enigste weg tot God?

Alle nuwejaarsvoornemens is opsioneel... Daar is egter een lewensbelangrike, ewigheidsbelangrike beslissing wat ek nie mag uitstel nie. Dis die keuse vir Jesus self! Dis nie net ‘n eenmalige mondelingse keuse nie, dis ‘n keuse wat elke dag weer met my lewe gekies word. Dis waartoe die hele Johannes brief ons wil bring. Dis die doel van die brief. Reeds in sy inleiding sinspeel hy op die belangrikheid van ‘n keuse vir Jesus. “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (1:11,12) Byna aan die einde van die brief stel hy dit nog duideliker wat sy doelwit met hierdie evangelieskrywe is : “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (20:30,31)

Mag 2017 ‘n Jesusjaar vir jou wees. (en die res van ons lewe) En net so terloops, wat ook al in hierdie jaar gaan gebeur, dis nog een jaar nader aan Jesus se wederkoms. Dis nog ‘n jaar nader aan die vervulling van sy belofte : “Ek kom terug en sal julle na My toe neem.” (3) Hierdie belofte is ons lig in die donkerste omstandighede. Hierdie belofte is ons aansporing om elke dag voluit vir Hom te leef in die nuwe jaar!

Mag ons en ons kinders tog die allesoortreffende waarde van Jesus as die weg, waarheid en lewe besef! Die De Koning nefies en niggies het mekaar darem weer 'n slag gesien : Roedolf, Ruben, Natanie, Jonette, Anne-Karine, Suelize-Marie, Johan en Marisja.

Donderdag 14 Januarie 2016

OFFER JOUSELF!

NIE ‘N LYSIE NIE, MAAR ‘N LEWENSRIGTING! 



[Die raad wat jy nie by jou “lifecoach” gaan hoor nie...]

Gelukkig lees ons nêrens in die Bybel dat ons ‘n lysie van nuwejaarsvoornemens moet opstel nie. Ons kry wel in die Skrif ‘n baie duidelike , maar radikale koersaanduiding vir die kind van God. Nie net vir die nuwe jaar nie, maar vir ons hele lewe. Dit kom neer op : OFFER JOUSELF!

Ons vind hierdie dringende opdrag in ROMEINE 12:1,2

"En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

Sjoe! Offer is nou nie juis ‘n term wat ons met ons lewensideale in verband bring nie.  "Offer jouself" is nie een van die temas van al hierdie motiveringsprekers en “lifecoaches” nie, maar dis die Bybelse ideaal en doelwit vir God se kinders. Om geoffer te word is nie juis ‘n lekker ding nie. Dink aan wat met ‘n offer dier gebeur – vasgebind op ’n altaar, keel afgesny en verbrand. Dis niks minder nie as ‘n volkome prysgawe van jouself...

VIR BEGENADIGDES

Radikaal, byna onwerklik. Amper absurd... Is dit regtig wat God van ons vra? Hoe moet ons dit verstaan? Vir die agtergrond van hierdie opdrag moet ons eers weer teruggaan na die eerste helfte van die Romeine brief wat eindig aan die einde van hoofstuk 11. Julle sal onthou hoe ons verlede keer besin het oor die doksologie in vers 33-36. (Kliek op DOKSOLOGIE) Paulus bars uit in verwondering en aanbidding voor God. Waarom? Hy word oorweldig deur die verbysterende, asemrowende, verstommende genade en wysheid van God wat hy beskryf het in die eerste deel van sy brief. Wat behels dit alles? God skenk vir ons in Jesus Christus volledige vryspraak uit genade, vrede met God, kindskap, ‘n ewige erfenis saam met Jesus. Hy gee verder die heerlike belofte van sy standhoudende liefde. (niks kan ons van hierdie liefde skei nie) Dis alles onverdiende guns en genade! Dis onbeskryflik en onbegryplik heerlik!

Die opdrag om jouself te offer maak net sin teen hierdie dramatiese agtergrondsfeit van die genade van God. Anders gesê, hierdie opdrag kom eksklusief net na mense wat God se genade reeds gesmaak het...en dus saam met Paulus wil uitjubel oor God se guns en goedheid! (Onthou hierdie dringende beroep geskied op grond van die groot ontferming van God.) In effek sê Paulus, omdat dit als waar is, is daar net een redelike reaksie, net een soort sinvolle godsdiens : GEE JOUSELF AS OFFER AAN GOD! Hier het ons die ideaal en ambisie van die begenadigdes!

HOE OFFER EK MYSELF?

Wat behels hierdie offer van jouself prakties? Dit gaan oor die beskikbaar stelling, eenkant sit en toewyding van jou hele menswees aan God. Letterlik staan die woord “liggaam” in die Griekse teks.* Toewyding is nie net ‘n geestelike saak nie, dit gaan oor konkreet prakties anders leef en anders doen. Paulus het eintlik reeds hierdie saak in Rom 6:13 aangeroer. “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”

In vers 2 word dit nou vir ons prakties verder ingevul wat dit beteken om jouself volkome aan God te offer of dan nou toe te wy. Dit word eers negatief en dan positief gestel.

Negatief. “moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie” Wees anders en doen anders! Breek met die gedragspatrone, die gewoontes, die leefstyl van die sondige sosiale en kulturele sisteem waarin julle julleself bevind. Die wêreld rondom ons het ‘n siening oor geld, oor mag , oor populariteit (in wees), oor sukses, oor seksualiteit, oor sekuriteit, oor vergelding... wat teen God se Woord en opdragte indruis. Die wêreld se siening is (en dit word in elke fliek wat jy kyk en byna elke liedjie wat jy luister gepropageer...) kry soveel geld as moontlik, probeer by almal in en gewild wees, jaag na sukses soos die glanstydskrifte vir ons voorskryf en die glansganse dit projekteer, leef losbandig met selfsugtige seksuele genot as hoogste ideaal, bou jou eie sekuriteit met geld, mag en invloed, kry almal terug wat jou leed aandoen en trap hulle in die grond in...

Ons wat genade ontvang het moet teen hierdie sienings en leefstyl kies. Ons moet daarmee breek. Dis ‘n baie ernstige saak, as ons kyk wat die apostel Johannes hieroor gesê het. “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie Die wêreldse dinge -alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit - kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) Die wêreld se sienings maak elke dag ‘n appèl op ons, dit nooi ons en roep ons om deel te wees, maar dis waar die offer van jouself inkom, breek daarmee, kies daarteen, dink en doen anders...

DIE WIL VAN GOD IS DIE NORM EN NIE DIE MODES EN OPINIES VAN DIE SAMELEWING NIE!

Positief. “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” Hier sien ons pragtig wat praktiese heiligmaking in ‘n Christen se lewe behels. Dis ‘n voortdurende proses van denkverandering. Ons doen mos soos ons dink, elke daad het sy oorsprong in 'n gedagte. Om anders as die wêreld te doen, moet ons leer om anders te dink... Ons breine moet herbedraad ("ge-rewire") word! Die ou sondige patrone moet afgeleer word en die nuwe Bybelse patroon aangeleer word!

Hier word nie ‘n eenmalige “second blessing” ** of krisiservaring voorgeskryf nie, maar God se kinders word eerder opgeroep tot ’n proses van konstante denkvernuwing en transformasie. Hierdie transformasie word in 2 Kor. 3:18b so beskryf... “...Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word." Dit gaan daaroor dat ons prakties in elke lewenssituasie en keuse ons sal onderwerp aan God se wil. Die wil van God en nie die modes of opinies van die wêreld nie, moet ons lewens reguleer. Die wil van God is nie ‘n geheim nie, ons hoef nie te wag vir ‘n stem of engel nie, dis wat God in sy Woord leer. Die kind van God onderwerp homself aan ‘n voortdurende leerproses om volmaak gehoorsaam te wees aan die Here. So ‘n kind van God het ‘n honger na die Woord, so ‘n kind van God het ‘n opregte begeerte om te verander en die Here te gehoorsaam, al kos dit wat... Ja, gehoorsaamheid aan God se wil en opdragte kan selfs fisies ons lewe kos hier op aarde.

Is jy ‘n begenadigde? Het jy besef dat jy ‘n rebel en verlore sondaar was, maar dat God jou heeltemal vergewe het en as sy kind aangeneem het? Dan is daar net een logiese reaksie van dankbaarheid... Juig oor die genade en gee jouself as ‘n lewende heilige offer aan God. Dis die verpligting waaronder ons as begenadigdes staan, maar dis veral ons vreugdevolle voorreg...***

Sterkte vir die offer in 2016!


*Moontlik beklemtoon hy dit omdat die Grieke die liggaam as minder belangrik beskou het en mense die gevolgtrekking gemaak het dat wat jy met jou liggaam doen, nie juis belangrik is nie. Die OAV lees as volg : ” Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


** “It is not the beggarly notion of second blessing that the apostle propounds but that of constant renewal, of metamorphosis in the seat of consciousness.” John Murray se kommentaar op Romeine, p114

*** Dis ook die voorwaarde vir "sukses" in Koninkryksterme. Sien Johannes 12:24,25!



[Die graf van Martin Rautanen en drie van sy kinders. Hierdie Finse pioniersendeling in Owamboland het die konsep van "offer jouself"  verstaan en prakties uitgeleef! Hierdie radikale gehoorsaamheid het egter tot heerlike vrug en ewigheidsvreugde gelei...]

Donderdag 07 Januarie 2016

‘N DOKSOLOGIE VIR DIE NUWE JAAR

- Sien God raak en begin Hom bewonder en prys!

Hoe moet ons ‘n nuwe jaar begin? Hoe moet ons na die toekoms kyk en waarop moet ons fokus?



Ons grootste probleem (nie net nou nie, maar oor die algemeen) is dat ons by onsself begin. Ons is so subjektief, so egosentries, so opgetrek met onsself. Selfs ook as ons hier in die kerk is, ja juis ook wanneer ons die Woord oopmaak of as ons bid is ons so dikwels gepreokkupeer met onsself. Hoe gaan my probleme opgelos word, hoe gaan my planne in werking gestel word, hoe gaan ek my hoogste ideale bereik? Hoe raak die droogte, Zuma en die swak Rand my sak? Weet jy, dis ‘n groot dwaasheid om op hierdie dinge te sit en broei! 

Hoe meer ek op my probleme fokus hoe groter word hulle. Jy sal weet, daar is probleme waarmee jy al jare worstel en jy kom niks verder nie. Jy bid miskien baie oor die probleme en dit help nie, al wat gebeur is jy herinner jouself net daaraan en dit maak jou dalk net meer depressief*. Of ons is geneig om altyd net planne te maak en uit te dink wat om onsself draai. Ook wat ons geestelike lewe betref, draai ons denke maar om onsself, my geloof, my getuienis, my rol in die kerk...Dit is natuurlik nie opsigself verkeerd nie, maar dis nie waar ons moet begin nie...

BEGIN BY GOD. WIE HY IS EN WAT HY DOEN!

Ons moet altyd by God begin. Dis waar die Bybel begin. "In die begin het God die hemel en aarde geskape." Dis waar Paulus ook sy brief aan die Romeine (en al sy ander briewe begin) By God... In sy aanhef tot die brief is hierdie klem al duidelik... “afgesonder vir die evangelie van God” (1:1) Moenie begin by jouself en jou behoeftes nie. Begin by God. Wie is Hy en wat het Hy gedoen en wat doen Hy nog steeds! Wees verwonderd oor God en jy sal uiteindelik ook verbaas wees oor die verskil wat Hy in jou lewe maak en hoe jou eie probleme al kleiner en minder belangrik raak!

HOE MEER EK GOD SE GROOTHEID EN GOEDHEID BESEF, HOE KLEINER KRIMP MY EIE PROBLEME!

Kom ons lees saam deur die Romeine brief en staan saam met Paulus verwonderd oor wat God doen... Sommer net so ‘n paar voorbeelde:

Dis God wat die evangelie geïnisieer en lankal deur die profete aangekondig het. “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig," (1:2)

God het julle lief en Hy skenk genade en vrede! “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (1:7)

In 1:16,17 raak Paulus lieries oor die evangelie , want dis die KRAG VAN GOD... Daarna egin hy met sy uiteensetting van die evangelie boodskap...

God stort sy heilige toorn (wraak) en regverdige oordeel uit oor die goddelose mensdom. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (1:18)

Maar dis juis ook God wat ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (2:4)

En dan nadat Paulus die sondigheid van beide heiden en Jood onderstreep het, kom hy by die groot tema van die brief, God wat vryspraak gee deur die geloof in sy Seun. Vryspraak beteken dat God ons as skuldige sondaars onskuldig verklaar! “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.” (3:21,22) 

So bewerk God self vrede tussen ons en Hom. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (5:1)

SIEN JY, GOD SPEEL DIE HOOFROL? DIT GAAN OOR SY MAGTIGE DADE EN GROOT LIEFDE!

Ook as Paulus die probleem van ons swaarkry en verdrukking aanspreek dan fokus hy op God wat met alles ‘n doel en plan het. (vrygespreekte kinders van Good is immers soos ons al almal agtergekom het nie, gevrywaar van verdrukking en ellende nie) En dit bring ons by die verbysterende heerlike uitspraak van 8:28-30! “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Ons hele verlossing word van voor tot agter beplan en suksesvol voltooi deur God! En God gebruik alles, ja ook droogte, Zuma, siekte of ongelukke... om ons by sy heerlike doel met ons uit te bring!

Dan kan Paulus nie anders nie as om die heerlike gevolgtrekking in vers 8:31-39 te maak nie! (lees dit in jou eie Bybel weer ‘n slag aandagtig)

GEHEIMENIS

Maar Paulus is nog nie klaar gepraat oor God nie. Die volgende saak wat hy aanspreek is die hele kwessie van Israel. Mense sou kon wonder of God se plan met Israel misluk het, want hulle het Jesus dan verwerp. Paulus gebruik hierdie saak om die onbeskryflike wysheid van God en sy soewereiniteit en sy weergalose genade te onderstreep. God gee sy genade soewerein aan wie Hy wil! (9:15-16) Dan verduidelik Paulus dat alles deel van God se plan was. Deurdat Israel die evangelie verwerp het, het die heidennasies nou ook ‘n kans gekry om deel van God se volk te word. So sal al God se uitverkorenes uiteindelik gered word! Dis ‘n groot geheimenis! “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het;” (11:25) Terloops, God se werkinge is ‘n geheimenis, en as jy ooit voel om God se planne en werkinge met jou te kritiseer, sit liewer jou vinger voor jou mond soos Job en swyg. Want wie kan God verstaan?

DOKSOLOGIE

En as Paulus so oor die grote God gepraat het, oor sy liefde en sy genade, oor sy heiligheid en sy oordele, oor sy ewige uitverkiesing en soewereiniteit, dan kan hy nie anders as om uit te bars in ‘n lofprysing (doksologie) nie!

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (11:33-36)

Dit gaan oor een heerlike saak – GOD IS REGTIG GOD, ver verhewe bo ons begrip en verstand. Ons kan Hom nie analiseer,ontleed of "uit figure" nie! Ons kan Hom nie verstaan nie, maar kan maar net sy grootheid, wysheid, almag, genade... bewonder en Hom aanbid! Hy is God, Hy het ons nie nodig nie, ons het Hom nodig! Hy skuld ons niks nie, en tog is sy genade onbeskryflik groot!

O, vriende, so dikwels verval ons in die vermetele dwaasheid om vir God te wil reghelp en raadgee... is dit nie totaal simpel nie? Ons nietige mense wil vir die Skepper van die oneindige heelal, vertel wat Hy moet doen... Ons sondige wesens wil kritiek lewer op die regverdigheid van die liefdevolle God wat sy Seun vir ons geoffer het...

God is die bron van alles, alles begin by Hom! God is die bewerker van alles, Hy voer sy planne uit en daarom sal niks en niemand Hom stuit nie! God self, sy eie heerlikheid is die doel van alles. Dis so duidelik ook van toepassing op ons verlossing : God het ons eerste uitgekies en ons verlossing beplan en sy Seun gestuur as soenoffer, Hy maak deur die Heilige Gees die verlossing 'n werklikheid in ons lewe deurdat Hy vir ons geloof en bekering skenk. Hierdie verlossing dien alles tot die eer en verheerliking van sy Heilige Naam, ja alles tot Hom!

Mag ons as mense ons nederige plek ken. Mag ons bevry word van die verknegting aan onsself! Die heelal draai nie om my nie, maar om God. En tog hierdie grote God is my genadig deur Jesus! Hy spreek skuldige nietige mense vry en maak hulle sy eie kinders en erfgename sodat ons Hom, Abba, Vader mag noem!

Wat is dus die beste manier om 2016 mee te begin? Fokus op God en loof Hom. Begin met ‘n doksologie. Begin sommer elke dag van jou lewe so! AMEN!

*Natuurlik mag ons ons probleme voor die Here in gebed bring. (Vgl. Filippense 4:6), maar gebede wat altyd net in die eerste plek oor myself en my behoeftes gaan, is nie in lyn met God se wil nie. Soos ons in die ONSE VADER geleer word moet gebed in die eerste plek op God se eer en koninkryk fokus. Selfsugtige gebede sonder dank aan God wat net altyd op my probleme en behoeftes fokus gaan my inderdaad depressief maak.


Saterdag 02 Januarie 2016

KOERSVAS IN DIE NUWE JAAR

- nie los voornemens nie, maar ‘n duidelike roeping en rigting!



Die Bybel praat nêrens van nuwejaarsvoornemens nie (gelukkig nie), so jy hoef nie so sleg te voel as jy nie so iets het nie of hulle binne die eerste week al vergeet het nie.


Die Woord gee egter ‘n duidelike roeping en rigting waarvolgens die kind van God sy hele lewe en dus ook die jaar 2016 behoort in te rig. Die apostel Paulus is ‘n handboekvoorbeeld van iemand wat hierdie roeping en rigting ernstig opgeneem en konkreet uitgeleef het.

Twee voorbeelde uit sy lewe kom by mens op. Dit sal jou as kind van God dalk baie goed doen om dit so ‘n bietjie te herkou voordat die nuwe jaar op dreef kom en ons die gevaar loop om maar net weer deur die maalkolk van verpligtinge en gebeure meegesleur te word.

Die een voorbeeld kom uit Paulus se brief aan die Filippense. Dis brief wat hy uit die tronk skryf. Wat dit so merkwaardig maak is dat jy tevergeefs na pessimisme en selfbejammering in hierdie brief soek. Inteendeel, gaan lees bietjie die kort briefie en kyk hoeveel keer kom die woord blydskap daarin voor... Hoe kry Paulus dit reg? Hy het geleef volgens ‘n duidelik doelwit en roeping sedert sy ontmoeting met Jesus op pad na Damaskus. Al sy vorige bates het vir hom onbelangrik en niksseggend geword en nou het hy een fokuspunt en ideaal : JESUS CHRISTUS!

Kyk hoe treffend stel hy dit: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (Filippense 3:10,11 NAB) 

Sy lewe draai om Christus (dit sê hy reeds in hoofstuk 1) tot so ‘n mate dat hy homself ten volle met Christus vereenselwig tot op die punt om ook in Jesus se lyding te deel. “Kom wat wil, ek wil net Jesus en sy krag beter leer ken en ondervind!”

Hierdie roeping van Paulus en die lewensrigting waarvoor hy gekies het, was nie maar net ‘n stuk filosofie op papier nie, maar was bepalend vir sy praktiese besluite en keuses. 

Ons kry ‘n pragtige voorbeeld hiervan in Handelinge 20. Paulus is besig met sy terugreis na Jerusalem na die voltooiing van sy derde sendingreis. Hy neem nou afskeid van die ouderlinge van Efese in ‘n aangrypende rede. Op hierdie stadium was dit duidelik dat groot moeilikheid en vervolging op Paulus in Jerusalem sou wag, soos dit inderdaad ook gebeur het. Paulus sê onder andere:

“En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 
Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap* my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (Handelinge 20:22-24 OAV)

Een ding tel vir Paulus en dis om sy bediening wat hy van Jesus ontvang het te volvoer. In die lig van dreigende gevaar gaan sit hy nie op ‘n hopie en kou angsbevange sy naels nie... Nee, een visie oorheers sy hele lewe, die opdrag wat Jesus hom gegee het, om te getuig vir die evangelie van God se genade. Hierdie roeping vervul hy met BLYDSKAP! Wat verder met hom gebeur is ‘n bysaak... Dit wou hy voluit doen sonder vrees. Hoekom moes hy vrees? As hy lewe beteken dit vrugbare arbeid en as hy dan wel moet sterwe, dan is dit net wins, want dan is hy waar hy volkome gelukkig kan wees, vir altyd by Jesus!

Elkeen wat genade ontvang het, is geroep om 'n getuie te wees van hierdie genade, maak nie saak op watse manier nie!

Uit al twee voorbeelde is dit duidelik dat 'n koersvaste roepingsbewustheid, gepaard gaan met vreugde en blydskap, ongeag die omstandighede!

KOERSVAS MET VREUGDE!

Ek dink dis geweldige bevrydend om hierdie lewensbeskouing te hê en opnuut ons aan die begin van hierdie jaar daartoe te verbind en onsself gedurig weer hiertoe op te skerp...

Mag ek jou ‘n koersvaste 2016 toewens, gekenmerk deur ‘n duidelik roeping en rigting... wat ook al met ons verder sou gebeur, sal ons Here ons voor krag gee...



* volgens Bisantynse teks