BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Noorde ring NG Kerk in Namibië. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Noorde ring NG Kerk in Namibië. Wys alle plasings

Woensdag 23 Augustus 2017

DOMINEE SOEKMAN

- ‘n bediening aan die “ander kant”


Helder klink die sang van Opuwa se koor in Otjiherero, Engels en Afrikaans. Gesigte wat straal van God se liefde. Ons is ‘n hele bonte verskeidenheid hier bymekaar in die nederige kerkgeboutjie van Kamanjab in die noordweste van ons pragtige land Namibië – Afrikaners, Himbas, Herero’s, maar ook Hai//om, Kxoe en !Xu. Die NGKN se Noordering het op Kamanjab vergader en op Sondag 20 Augustus 2017 kom ons bymekaar vir ‘n nagmaalsdiens. Dis egter meer as net ‘n gewone nagmaal, dis ook die geleentheid waartydens ds. Jacob Schoeman, een van die Kaokoland pioniers in die sendingwerk van die NGKN amptelik sy demissie ontvang, nadat hy reeds vroeër vanjaar afgetree het. Sy bedieningstyd het ook die gevaarlike jare van die Bosoorlog ingesluit.


[Ds. Schoeman het onder andere van hierdie "SPOOK" gebruik gemaak tydens die oorlog, want landmyne was 'n wesentlike gevaar.]

Ds. Schoeman (in Kaokoland ook soms genoem ds. Soekman) lewer ‘n besondere preek met die tema afkomstig uit Markus 4:35 waar Jesus vir sy dissipels sê : "Laat ons oorvaar na die ander kant.” Jesus het tot op hierdie stadium ‘n suksesvolle bediening in die Joodse gebied wes van die See van Galilea gehad, maar nou gaan Hy na die heidense gebied oos van die meer. Van hierdie kant na die ander kant… Aan die ander kant het heiden nasies gewoon wat met varke geboer het… Hierdie eerste besoek lewer nie veel op nie. Slegs een man word aangeraak, maar dis ‘n besondere bekeerling, die besetene van Gadara wat bevry is! Later keer Jesus weer terug na hierdie gebied en het sy bediening ‘n groot impak. (Markus 8) Ons word geroep om grense oor te steek na mense wat anders lyk en doen en dink as ons. Wanneer ons na die “anderkant” gaan is Jesus met ons! Ds. Schoeman vertel so tussen deur van hoe die Here hulle gelei en beskerm het, ja ook deur die tyd van die oorlog. Hy beklemtoon dat hyself nie veel gedoen het nie, maar eintlik maar net ‘n getuie was van dit wat God vermag het. ‘n Pragtige voorbeeld van uitreik na die “ander kant” was hulle toenadering tot die sinkretistiese Oruuano kerk, wat die voorvadergeeste en heilige vuur (okoruwo) akkommodeer. Toe die bekende Oruuano profeet Kanambunga (Katjovikuapa) tot sterwe kom is ds. Schoeman gevra om ‘n boodskap te lewer. Die Here het Deuteronomium 18 op sy hart gelê waaruit hy die bedroefde mense kon vertel dat die groot profeet wat deur God belowe is gekom het, Jesus Christus! Dit het daartoe gelei dat biskop Kamburona versoek het dat sy mense opleiding moes ontvang. Dit het toe gebeur by die Windhoek Teologiese Seminarie (waarby my vader ook betrokke was) en later NETS.

Ja, die vertelling oor Kaokoland en die werk daar raak my ook op ‘n persoonlike vlak. My vader, Johan de Koning was op ‘n tyd ‘n dosent by Orumana in Kaokoland nog voor ds. Schoeman se koms na hierdie gebied en het ook vir baie jare nou saam met hom gewerk. Dit het my later ook bygeval dat ds. Schoeman die preek gelewer het op Pa se “aftree” geleentheid te Meersig gemeente in Walvisbaai op 21 September 2003. As jong man kon ek ook iets beleef van ds. Schoeman se toewyding en omstandighede toe ek en van my studente vriende soos Charl van Niekerk, Sas Conradie, Pierre van der Merwe en Christo Heiberg saam met hom in Kaokoland gewerk het.

Dit was vir my lekker om op Kamanjab deel te wees van die NG Kerk. Onder andere was dit heerlik om van ds. Erik van Zyl, ds. Schoeman se opvolger te hoor van die wonders wat God tans nog in Kaokoland doen. Ek is lief vir hierdie NG Kerk, die kerk wat ten spyte van baie foute die ware evangelie van die verlossing van sondaars deur Jesus Christus verkondig het sodat ons weer op ‘n Sondagoggend op Kamanjab die vrug daarvan kon sien.

Dr. Jan Woest het vir ons tydens die ringsitting prontuit gesê : “Die NG Kerk is ernstig siek.” Ek stem heelhartig saam. Maar hierdie kerk kan weer gesond word as sy haar tot die Here bekeer en weer haar eerste liefde begin uitleef. Sy sal gesond word as sy weer die waarheid tot redding aanneem en die dwaling verwerp wat ongelukkig tans openlik geduld en selfs gepropageer word. Sy sal gesond word as sy ophou luister na mense, die humanistiese agenda en die postmodernistiese tydsgees van relativisme, maar eerder eerlik vra : “Wat wil God hê moet ons doen?” Sy sal herstel en vernuwing ondervind as ons ophou om filosofies oor God te praat en meer met Hom praat en onsself voor Hom verootmoedig. By God is alle dinge moontlik! Hy kan ons ook opnuut bekragtig met sy Gees om duskant en anderkant die Blye Boodskap uit te dra!


[NG Sendelinge in die ou Suidwes. Ds. Schoeman is voor heel links.]



[Ds. Jacob Schoeman op Kamanjab tydens die ontvangs van sy demissie.]


[Ek saam met twee Kaokoland veterane, di. Sarel Visser en Jason Ngambue.]


[Koorlede van Opuwa in Kamanjab se kerkgebou.]


[Op pad na Kamanjab op die Otavi-Outjo grondpad, haal my mede afgevaardigde van Tsumeb, Andries Gous eers iets uit om die innerlike mee te versterk.]

Woensdag 12 Augustus 2015

ATHANASIUS TOER NA TSUMKWE

- vir ‘n besondere ringsitting!

[Ek deel net graag ‘n paar persoonlike indrukke. Onderstaande is nie ‘n amptelike en volledige verslag van die ringsitting en besluite nie.]

Die dapper kerkvader Athanasius sou seker nooit kon droom dat dié belydenisskrif (wat later aan sy naam gekoppel sou word*) met die waarheid van die Drie-eenheid as sentrale tema, op die afgeleë Tsumkwe in die noord ooste van Namibië onder bespreking sou kom nie. Dis egter presies wat gebeur het met die onlangse sitting van die Noorde ring van die NG Kerk in Namibië. Hierdie ring is in meer as een opsig baie uniek! Geografies is dit seker die grootste ring in die NG Kerk. Dit strek vanaf die seekus van die dood in die weste dwarsoor die wye noorde van Namibië tot aan die Kwando rivier (Caprivistrook) en die Botswana grens in die ooste. Ons ring sprei haar vlerke vanaf die Angolagrens in die noorde en so ver suid om die dorpe Omaruru en Otjiwarongo en omliggende gebiede in te sluit. Die kulturele verskeidenheid is net so verstommend – benewens Afrikaans wat as voertaal gebruik is, het ons ook gebede in Herero, Luchazi, !Kung en Nama/Damara gehoor tydens ons ringsitting. In die ringsgebied as sodanig word daar natuurlik nog ‘n groot verskeidenheid ander tale gepraat.

DIE WARE EN GEMEENSKAPLIKE GELOOF

Nog meer merkwaardig - te midde van hierdie verskeidenheid word ons saamgebind deur ons gemeenskaplike geloof in die unieke Drie-enige God waarvan Athanasius so duidelik en kragtig getuig het teen die dwaalleraar Arius. Ds. Hector Jooste van Otjiwarongo het die bespreking oor die belydenis van Athanasius gefasiliteer en ek wil my verstout om te sê dat hierdie belydenisskrif eintlik baie radikaal die dwalinge van die tydsgees aanspreek. Athanasius laat die post moderniste in hulle relatiwistiese pap verstik as hy ‘n duidelike verband stel tussen leerstellige waarheid en saligheid! Elkeen kan dus nie maar sommer glo soos hy wil en hy voel nie, nee die waarheid moet geglo word!

1. Vir elkeen wat salig wil word, is dit voor alle dinge nodige dat hy die algemene geloof hou; 2. Maar elkeen wat dit nie geheel en al en ongeskonde bewaar nie, sal sonder twyfel ewig verlore gaan. Die algemene geloof is: 3. Dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer,.... 40. Dit dan is die algemene geloof : as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig word nie. [numering is die van die belydenisskrif]

Die sogenaamde “Progressiewe Christene” word ook deur die belydenisskrif van Athanasius voor stok gekry. Mag die ouens (ook in ons kerk) wat luidkeels verkondig dat oordeel en hel nie bestaan nie tog besef dat hulle sienings direk indruis teen hierdie belydenisskrif wat ons beweer om te onderskryf.

35. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens één in Christus: 36. wat gely het om ons saligheid ontwil, ter helle neergedaal het, op die derde dag weer opgestaan het uit die dode, 37. opgevaar het na die hemel, aan die regterhand van die Vader sit en vandaar sal kom om hulle wat nog lewe én hulle wat alreeds gesterf het te oordeel; 38. by wie se koms alle mense weer sal opstaan wat die liggaam betref en rekenskap sal gee van hulle eie werke; 39. hulle wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar hulle wat kwaad gedoen het, in die ewige vuur. 

Natuurlik, wanneer ons oor die heerlikheid van die Drie-enige God praat mag ons nooit vashaak by ons gebrekkige formulerings van iets (Iemand) wat ver bo ons vuurmaakplek is nie. Nee, die wonder van hierdie Drie-enige God is dat Hy in ‘n verhouding met ons staan! In hierdie verhouding moet ons Hom met gehoorsaamheid en liefde dien volgens die waarheid van die Woord!

ETIESE KWESSIES

Dis verblydend dat die Noorde ring as uitvloeisel van ‘n beskrywingspunt deur die gemeente Tsumeb sterk standpunt ingeneem het teen Die Kerkbode betreffende die saak van sogenaamde “gay huwelike”. Die beskrywingspunt het nogals robuuste debat uitgelok en heelwat meningsverskille het na vore gekom. Die volgende besluite is na ‘n stemming aanvaar:

8.1.1. Die Ring neem met skok en hartseer kennis dat DIE KERKBODE die instelling van die huwelik as ‘n verbintenis tussen een man en een vrou aangetas het deur die artikel “Op soek na safe spaces” te plaas.

8.1.2. Die Ring versoek DIE KERKBODE om onvoorwaardelik verskoning te vra vir die artikel “Op soek na safe spaces” in DIE KERKBODE van 22 Januarie 2015.

8.1.3. Die Ring pleit by DIE KERKBODE om Bybelse waardes en norme te handhaaf en nie deur die tydsgees op sleeptou geneem te word nie. 

(uit Notule, ringsitting van die Noorde ring 2015)

Baie in dieselfde trant is daar na aanleiding van ‘n beskrywingspunt van die gemeente Otjiwarongo die volgende besluit geneem :

8.4.1 Die Ring van die Noorde spreek hiermee sy diepe kommer uit oor die onlangse uitlatings van prof. Nelus Niemandt rakende gays in die kerk, en meer in die besonder gay predikante in die NG Kerk wat toegelaat moet word om met hulle lewensmaats in die “huwelik” te tree. Hierdie vergoeiliking van ‘n sondige lewenswyse is totaal strydig met die mees basiese beginsels van die evangelie van Jesus Christus. 

8.4.2 Die Ring herbevestig dat die ring in haar gesprek oor gays staan by die bestaande besluite van die Algemene Sinode. **

(uit Notule, ringsitting van die Noorde ring 2015)

NAGMAAL EN BROEDERSKAP


Dit sou ‘n totaal verkeerde indruk wees as jy dink dat ons net oor sake wat ons ontstel gedebatteer het. Ons het by mekaar gehoor wat in die onderskeie gemeentes aangaan en vir mekaar gebid. So is dit lekker om te hoor en te sien hoe ‘n gemeente soos Verre Noord na ‘n baie onstuimige tyd, die verlede begrawe, weer opgestaan het en positief voortgaan onder leiding van Gerhard Enslin wat bereid is om te help ten spyte van sy normale werksverpligtinge. Daar is ook saam nagmaal gevier Saterdagaand waartydens die plaaslike leraars van Tsumkwe voorgevat het. Sondag het van die ringslede ‘n aantal gemeentes se eredienste in die Boesmanland gebied bygewoon. Ek en Hannes Grobbelaar was by die diens op Mangetti Duin waar ons besonder hartlik ontvang is. (Ek was destyds vir ‘n kort tyd tydens my militêre diensplig hier betrokke en natuurlik bring dit herinneringe terug...)

Maar ook tydens informele gesels en lekker saameet is daar bande gesmee en verstewig. ‘n Mens raak opgewonde oor hoe die Here gelowiges by ‘n gemeente voeg, soos Theuns van der Merwe van Otjiwarongo kon getuig. Ek vind uit dat N!aice wat werksaam is by Aasvoëlnes, ‘n broerskind is van ou Oza vir wie ek leer ken het toe ek jare gelede dikwels by Pespeka diens gehou het. Wie sou ooit kon raai dat Hendrik van Zyl so ‘n slag met olifante het dat hulle hom telkens gedweë gehoorsaam? Is dit nou Hendrik “The Elephant Whisperer” of dalk eerder “The Elephant Shouter”? En dan, vir my amper die hoogtepunt... Die lekker saamgesels De Wet Mouton (Otavi)... En dan ook met Lukas Coetzer (Outjo) en Lucas Janse van Vuuren (Wes Caprivi) die Sondagoggend vroeg. Broers, julle verhale het my diep geraak. Ons het regtig so baie om met mekaar te deel. Die wonderlike pad wat God in sy groot genade en geduld met mense stap is net verbysterend heerlik...




Gerrie Cwi en Leviet Kxao (/Kotsakei), is leraars van Tsumkwe gemeente.













Hannes Grobbelaar van Tsumeb luister baie fyn...



Hendrik van Zyl het opgetree as voorsitter van die Ringsvergadering.




Jason Ngambue, die Hererosprekende leraar van Kamanjab/Opuwa
Lukas Coetzer van Outjo sorg dat Hector Jooste van Otjiwarongo genoeg pap kry...









Is dit nou gryskoppe, ringkoppe of pankoppe?






Dirk de Vos van Grootfontein is wel een van hulle...

Carl Bredenhann en Gerhard Enslin van Verre Noord (in Wamboland) kon vir ons goeie nuus bring oor 'n gemeente wat positief vorentoe gaan...


Ons eet saam in 'n tent.
 Nicolene Enslin was een van die dames wat gesorg het dat ons nie hongerly nie.



Isaac Chameia (heel links) is die tentmakerleraar van Mangetti Duin.

*Die Geloofsbelydenis van Athanasius is waarskynlik nie deur Athanasius opgestel nie. Dit stam moontlik omstreeks 500 uit Spanje of Suid- Frankryk. 
** Met 8.4.2 het ek persoonlik ietwat ongemak, want die huidige besluite van die Algemene Sinode is vir my te vaag.