BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 26 Julie 2013

TUTU EN DIE HOMOFOBIESE HEMEL

- wil hy aan God voorskryf oor reg en verkeerd?




Dit klink of Desmond Tutu hom bo God wil stel, as mens lees dat NUUS24 berig :

Die Suid-Afrikaanse vredesikoon dr. Desmond Tutu het Vrydag gesê hy sal eerder hel toe gaan as om 'n homofobiese God te aanbid.

"Ek weier om na 'n homofobiese hemel te gaan. Nee, ek gaan nie jammer sê nie, ek bedoel ek sal eerder na 'n ander plek gaan," het die emeritus-aartsbiskop by die bekendstelling van 'n gay-gelykheidsheidsveldtog van die Verenigde Nasies in Kaapstad gesê.

"Ek sal nie 'n God aanbid wat homofobies is nie en dit is hoe sterk ek hieroor voel," het hy gesê.

Die doel van die "Free and Equal"-veldtog is om bewusmaking te skep oor geweld en diskriminasie teen homoseksuele mense.

Tutu het ook die stryd teen homofobiese vooroordeel vergelyk met die stryd teen apartheid.

"Ek is netso passievol oor dié veldtog soos ek oor apartheid was. Vir my is dit op dieselfde vlak," het die 81-jarige Tutu gesê.

Die VN se top-amptenaar oor menseregte, Navi Pillay, het gesê gay-verhoudings is onwettig in meer as 'n derde van die lande regoor die wêreld en strafbaar met die dood in vyf lande.

Wat probeer Tutu sê?

Dis nie presies duidelik wat Tutu met ‘n “homofobiese God” en “homofobiese vooroordeel” bedoel nie. As hy daarmee wil sê dat sekere mense ‘n “god” geskep het, wat dit sou goedkeur dat ons homoseksuele mense haat en verag, is ek dit natuurlik honderd persent met hom eens. Jesus het ons duidelik geleer om almal, ook ons vyande lief te hê, en as Christen moet ek selfs my afgodsdienaarbure (Moslems, Hindoes of voorvadergeesaanbidders...) lief hê en op so ‘n manier teenoor hulle optree dat hulle oortuig kan raak van die waarheid van die evangelie. Dit lyk dus vir my vanselfsprekend dat God se kinders ook aan alle gebrokenes, geskeides, losbandiges en ja, ook aan homoseksuele mense liefde moet bewys, sonder om hulle sonde goed te keur of goed te praat! Hierin is Jesus se houding teen sondaars vir ons die volmaakte voorbeeld. Hy het geen kompromie met sonde gemaak nie, maar kon met egte bewoënheid alle sondaars konfronteer en die water van die lewe vir hulle aanbied. (Dink Samaritaanse vrou, Saggeus...)

As Tutu egter bedoel dat God “homofobies” deur Bybelgetroue Christene verstaan word, as ons vanuit die Skrif leer dat homoseksualiteit indruis teen God se bedoeling met die mens en ‘n uitvloeisel is van die mens se weiering om God as God te eer en te dank (Romeine 1:18ev), dan moet die bejaarde kerkman beslis vriendelik gewaarsku word dat hy met vuur speel. (Wie is ‘n mens om aan God voor te skryf?) Ongelukkig vermoed ek dat dit juis is wat hy bedoel, want hy neem deel aan ‘n aksie van die VN wat nou nie juis bekend is vir eerbiedige onderwerping aan God en sy Woord nie. So gesien is die voormalige aartsbiskop se uitlatings om die minste te sê, uiters arrogant en (vir homself), ewigheidsgevaarlik! God se Woord is baie duidelik. Sy bedoeling vir die mens ten opsigte van die uitlewing van sy Godgeskape seksualiteit, is ‘n lewenslange huweliksverbintenis tussen een man en een vrou! Alles wat hiervan afwyk in 'n sondegeskende wêreld...egskeiding, saamwonery, losbandigheid, prostitusie... en alle vorme van homoseksuele gedrag is teen sy wil en daarom sonde! Gelukkig is daar vergifnis en bevryding ook vir almal wat hulle hieraan skuldig gemaak het... 

Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 
En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God. (1 Korintiërs 6:9-11)

Met hierdie gewasde kinders van God moet ons ‘n pad in liefde saamloop (die pad van heiligmaking), ongeag wat hulle stryd en versoekings nog mag wees... Dis natuurlik iets heel anders as om homoseksuele gedrag te probeer regverdig...

Tutu klink nie of hy in die openbaar wil standpunt inneem vir God se Woord nie, maar eerder of hy op die Wa klim van die gevaarlike gay agenda aktiviste... kliek op GAY AGENDA.  Inderdaad lyk dit of Tutu hom bo die Woord (en dus bo God, want die Bybel is God se Woord)) wil stel omdat hy na wat berig word ook sou gesê het : "Net omdat iets in die Bybel staan, is dit nie noodwendig waar nie. "  (Die Burger)

Vir meer oor hierdie kwessie : Is als in die Bybel waar en normatief, want waarom eet ons kreef al verbied die Woord dit mos? Kliek op AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES

2 opmerkings:

  1. Amen!! Tutu is maar vir my n tipiese voorbeeld van n valse profeet, wat so ingesluk is deur sy eie gewildsheidsleer dat hy enige
    Uitspraak wat hy maak relavant wil laat wees om die wereld tevrede te stel. Hy is deesdae vir my soos n kat op n warm plaat.
    Groet Dave

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Dave, mag God ons genade gee om nie mense nie, maar Sy Woord eerste te stel!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.