BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ukraïne. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ukraïne. Wys alle plasings

Vrydag 05 September 2014

GROOT BENOUDHEID

- maar geen bekering tot God.


Dinge gaan nogals rof die afgelope tyd op ons planeet aarde. Dis asof ‘n groot klomp onheil hulleself sommer so gelyktydig aangemeld het. Wêreldleiers skarrel benoud rond, hou vergaderings en berade en reik verklarings, dreigemente en oproepe om hulp uit. Die een oproep wat nodig is : “Bekeer julle tot God” word egter nêrens in die mond van groot leiers gehoor nie, en selfs in die geledere van die kerk het dit skaars geword!

Dink sommer so vinnig oor die wêreldtoneel waarin ons ons tans bevind. Die stryd en slinkse magspel in die ooste van Ukraïne, nadat Rusland op blatante wyse die Krim skiereiland helder oordag geannekseer het, lees amper soos ‘n denkbeeldige oorlogsverhaal! Hierdie onnodige geweld (waarin ook medegelowiges hulle lewens verloor het*) veroorsaak die grootste rimpelings en angstigheid in Europa en NAVO geledere sedert die einde van die Koue Oorlog, wat nie regtig raad het met Putin se taktiek nie. (Daar is darem nou planne aangekondig vir ‘n snelreaksiemag...) Mens moet pasop vir oorreaksie, maar hierdie man se optrede laat mens onwillekeurig terugdink aan Hitler se kat en muis speletjies in aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog... die res is geskiedenis...

Humanitêr gesproke is die wrede voortslepende burgeroorlog in Sirië (tans al 42 maande aan die gang) waar minstens 200 000 mense hulle lewens verloor het, nog ‘n groter kopseer. Ook hier het wêreldleiers soos Obama geen raad nie, want hulle bevind hulle tussen die duiwel en die diep blou see. Die opkoms van die radikale groep IS wat ‘n Islamitiese Kalifaat beoog in die Midde Ooste het alles nog verder gekompliseer. As Amerika te sterk teen IS optree help hulle indirek vir Assad van Sirië. Tree hulle nie op teen IS nie word hierdie uiters wrede terreurgroep al sterker en kan die hele Irak in duie stort en dit sal baie sleg wees vir Amerikaanse belange en prestige. Daar is nou wel ‘n skietstaking bereik tussen Israel en die Hamasbeheerde Gaza, maar dit beteken nie die einde van die probleme in hierdie streek nie. Hamas is na die onlangse geweld nog meer gewild en Israel se planne om nog Palestynse grond in die Wesbank af te neem voorspel niks goeds vir die lang termyn vooruitsigte op vrede in hierdie streek nie.

Dis nie net in die Midde Ooste waar radikale Islamitiese groepe groot menslike lyding en ontwrigting veroorsaak nie. Verder aan is dit alles behalwe rustig in plekke soos Afganistan en Pakistan, al haal dit nie elke dag die nuus nie. Ook Afrika is in die Islamitiese visier. In Nigerië lyk dit asof die regering geen raad weet met Boko Haram (nog ‘n Islamitiese terreurgroep) se brutale geweld nie. Na die skokkende ontvoering van 200 skoolmeisies en ‘n groot internasionale bohaai, gaan hulle steeds van erg na erger met hulle uitdagende aanvalle. Islamitiese groepe het ook ‘n vinger in die geweld in Mali, Libië , Somalië wat onder andere weer ‘n effek het op sekuriteit in ‘n land soos Kenia.

Islamitiese geweld is natuurlik nie die enigste ramp wat Afrika teister nie. Die Ebola virus het al meer as 1900 lewens in Wes –Afrika geëis en die einde is nog nie in sig nie. Behalwe vir lewensverlies het hierdie epidemie ook ekonomiese gevolge wat ‘n arm streek kwalik kan bekostig.

Orals en elke dag sterf mense in onnatuurlike omstandighede. Drie kort opeenvolgende vliegrampe (waaronder twee vliegtuie van Air Malaysia) is maar net van die meer opvallendes. Moord, oproer, geweld, maar ook natuurrampe en ongelukke laat mense daagliks in die ewigheid afstort... Die ellendes van korrupsie, misdaad en roekelose en onbevoegde regerings teister die mensdom...

IS JY VERBAAS?

Moet ons verbaas wees oor al hierdie woelinge en ellendes? As Christene moet ons dit eintlik te wagte wees. Onheile “meld hulleself” nie toevallig aan nie, dis die uitgieting van die toorn van ‘n heilige God in aksie. Openbaring skets mos vir ons God se oordele oor ‘n goddelose wêreld op treffend beskrywende wyse. "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!" (Openbaring 16:1) Ek probeer nie bepaalde gebeure in seker tekste in Openbaring inlees nie, maar die oorhoofse feit wat hier gestel word is dat God se oordele die aarde tref (getref het en nog sal tref) – nou reeds, voor die finale oordeel! Wat vir my egter die opvallende is, die verharde harte van ‘n geteisterde mensdom, wat steeds weier om hulle te bekeer! Inteendeel die lastering teen God word net al hoe erger! Die Woord draai geen doekies om nie:

“Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.” (Openbaring 16:9)

“...Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (Openbaring 16:9)

“Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was.” (Openbaring 16:21)

Hierdie patroon van onbekeerlikheid en volharding in die sonde word alreeds in Openbaring 9 vir ons voorgehou.

“Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie . Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.” (Openbaring 9:20,21)

Dis die prentjie wat ek in die hedendaagse nuus sien. ‘n Wêreld wat kreunend en vloekend gebuk gaan onder die regverdige oordele van God, maar wat steeds weier om God se genade in Jesus te aanvaar en hulle van hulle boosheid te bekeer. Inteendeel, die allerverskriklikste boosheid word nog steeds met passie omhels... Mag ons bewaar word van onbekeerlike harte...

En laat ons dit duidelik vir mekaar sê : “Rampe in ‘n bepaalde deel van die wêreld beteken nie noodwendig dat sekere mense meer skuldig is voor God as andere nie. Hierdie ellendes is ‘n algemene waarskuwing aan almal om betyds te bekeer en die vrugte van bekering te dra.” (Kliek op DIE BOODSKAP VAN RAMPE EN MISDAAD)

En ja, kinders van God ly dikwels ook saam met die goddeloses onder die uitstorting van God se oordele, al hoef ons nooit te twyfel aan sy liefde en sy heerlike finale doelwit met ons nie. As daar oorlog of hongersnood, onstabiliteit en geweld in ‘n gebied is, ly almal tog saam. Is dit vir jou ‘n vreemde gedagte? Wel, dink maar aan die God se getroue profeet, Jeremia. Die feit dat hy die waarheid in gehoorsaamheid, onverdun aan ‘n vyandige volk in moeilike omstandighede verkondig het, het hom nie gevrywaar van alle gevolge van die einste oordele van God wat hy moes aankondig nie... Te midde van chaos, ellende en uiterste woelinge kan God se kinders egter weet dat die God weet wat Hy doen en ten volle in beheer is! Ja, dis juis GOD wat oordele voltrek (nie Satan of toeval nie) en daarmee sy almag en heerskappy binne die gang van die geskiedenis demonstreer! Hierdie wete bring vir ons groot rus en vrede, selfs al moet ons ook swaarkry. Wat ‘n opwindende tyd om ons geloof in ‘n soewereine God te bely en te leef!

*Four martyred in Ukraine

The evangelical community in Eastern Ukraine has been targeted for persecution, as they are considered enemies by pro-Russian separatists. 

Four young FEBC (Far East Broadcasting Company) volunteers who were recently captured by separatists were brutally beaten to death simply for being Christians, according to an FEBC report last week. “These men volunteered for FEBC with zeal, passionately helping to spread the gospel throughout Ukraine,” said the organisation. “We are deeply saddened and shocked.” 

Weeks prior to the tragedy, FEBC’s Eastern Ukrainian broadcast tower in Slavyansk, for months has been in the middle of the fighting between pro-Russian separatists and the Ukrainian central government, was shot down and completely destroyed. 

While FEBC is still broadcasting in Western Ukraine and reaching millions there, they are now looking for a new location to resume broadcasting to Eastern Ukraine, “doing everything we can to give hope to people in a seemingly hopeless situation….” [ASSIST NEWS SERVICE, 7 Aug.] (oorgeneem uit Feldmuis. Miskien kan iemand in Ukraïne meer inligting gee?)



Internasionaal word die mensdom gewurg deur "omstandighede"...
[telefoonpaal wat deur die sand verswelg word naby Luderitz]